Laat die Gees van Christus die asem wees wat Jesus se liefde in jou lewe inblaas.

Predikant: 
Ds J Bruintjes
Gemeente: 
Kaapstad
Datum: 
2017-10-29
Teks: 
Galasiërs 5: 13 - 25
Preek Inhoud: 

Vyfhonderd jaar gelede het die Reformasie begin.  Dit is ‘n stryd wat gestry is slegs vir genade, slegs deur geloof, slegs in Christus, slegs op grond van die Skrif, slegs vir die heerlikheid van God.  En as jy steeds ná ‘n hele reeks preke oor Galasiërs nie seker is hoeveel dit beteken nie, dan het ek beslis nie my werk goed gedoen nie.  Miskien kan ek dit vandag regstel en vir jou wys hoe dit in die lewe van elke dag werk.  Die Reformasie het die kerk van mensgemaakte reëls bevry en die kerk weer na Christus laat kyk, om aan die Christen die algehele vryheid te toon wat in Hom gevind kan word en die lewe wat uit Hom voortvloei. Nie ‘n lewe van vrees vir die veroordeling soos die Katolieke Kerk geleer het nie.  Nie ‘n lewe van mededinging om te sien wie kan die meeste meriete verdien om in die hemel te kom nie, maar ‘n lewe waar al die meriete van Christus reeds joune is.  Nie ‘n lewe van gebede tot almal behalwe Christus nie, omdat Hy die skrikwekkende regter sou wees wat jou sou veroordeel nie.  Nie ‘n lewe waarin jy jou pad na die hemel oopkoop nie.  Maar ‘n lewe van vryheid in Christus.  ‘n Lewe waarin alles aan jou gegee is, sodat jy dit alles kan weggee.  ‘n Lewe wat deur Christus bemagtig is en wat gemeenskappe van lewe, eenheid en liefde skep.  ‘n Lewe, eenheid en liefde wat gevul is met die teenwoordigheid van sy Gees.

“Want julle is tot vryheid geroep, broeders.”  Jy is gekies en gekoop met die bloed van die Seun.  God het na die slawemark van die sonde en die dood gegaan en jou naam geroep.  Hy het gesê: “Ek sal vir jou vryheid betaal.  Ek het die kettings van sonde wat jou gebind het, gebreek; Ek het die vrees vir die dood wat oor jou gehang het, gebreek.  Stap uit in die sonskyn.  Stap uit hierdie tronk uit en geniet die vryheid van ‘n heel nuwe wêreld.”  “Gebruik net nie julle vryheid as ‘n aanleiding vir die vlees nie.”  “Stap deur die deur van vryheid en moenie jouself in slawerny laat insleep nie.  As ‘n sonde verbykom en jou in diens wil neem, sê nee.  Want Ek het jou nie vrygemaak sodat jy soos ‘n gevangene of soos ‘n slaaf sal leef nie; Ek het jou vrygemaak sodat jy vry kan wees in My.  Ek is nou jou meester en soos Ek jou gedien het, so moet jy nou ander in liefde dien.”

“Dien mekaar deur die liefde.”  Of beter selfs, “wees slawe vir mekaar in liefde.”  Drie jaar nadat die Reformasie begin het, het Luther Die Vryheid van die Christen geskryf.  Indien jy dit nog nooit gelees het nie, doen dit!  Dit is wonderlik.  Dit begin só: “ ’n Christen is geheel en al ‘n vry man, meester van alles, onderdanig aan niemand. ‘n Christen is geheel en al ‘n pligsgetroue man, dienskneg van almal, onderdanig aan almal.”  ‘n Mens sal dink dit is teenoorgesteldes van mekaar.  Maar nie in Christus nie. Plaas jouself in diens van ander en sê: “Alles wat ek het, is joune.  Ek wil vir jou sorg, jou ondersteun en jou naam grootmaak.”  Kan jy jou indink hoe dit sal wees as elkeen van ons dit vir mekaar gewens het? Nie omdat ek moet nie – maar omdat ek lief is vir jou, soos Jesus die Messias my liefgehad het. Dien mekaar in liefde.

Liefde.  Hierdie een klein woordjie – liefde – vang die kern van die hele wet vas.  Soos hy sê in vers 14: “Die hele wet word vervul in een woord (of gebod), naamlik: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” Hier is ‘n eenwoord-opsomming van die wet en die profete.  Een woord wat die helfte van die Bybel opsom.  God is Liefde.  Dit kan opgesom word in een sin en tog kan dit nie opgeskryf word in al die boeke wat al ooit geskryf is nie.  Liefde.  Dit was vergestalt in die een daad van Jesus aan die kruis, en dit sal ‘n ewigheid duur vir sy kinders om dit uit te leef.  Liefde.  Hierdie liefde is niks minder nie as die hemelse liefde van God wat gevind kan word in Geesvervulde kinders van God nie, wat gemeenskappe herskep.

Laat die Gees van Christus die asem wees wat Jesus se liefde in jou lewe inblaas.

  1. Maak die sondige natuur dood
  2. Leef deur die Gees

 

Maak die sondige natuur dood

Die sondige natuur of die “vlees” is die vyand van liefde.  Hy haat dit wanneer jy jouself in diens van ander stel. Wanneer jy hulle liefhet en vir hulle sorg net soveel soos wat jy jouself liefhet, jouself voed en jouself klee.  Die sondige natuur sien jou altyd in kompetisie met diegene rondom jou.  En wanneer jy kompeteer, wil jy hê hulle moet misluk, of ten minste nie so goed vaar soos jy nie.

Die Galasiërs het mekaar met hul woorde en dade so te sê lewendig verslind.  Paulus waarsku hulle: “Maar as julle mekaar byt en opeet, pas op dat julle nie die een deur die ander verteer word nie.” Hulle het mekaar aan die keel beetgekry soos ‘n klomp wilde diere.  Eers het hulle hul prooi gebyt en daarna het hulle dit geëet.  Maar op die ou end was dit nie die prooi wat doodgemaak is nie, maar hulle self.

Dit is soos ‘n dwelm… hoe meer jy dit neem, hoe meer sal dit jou stadig van binne af doodmaak.  Jy mag dalk tydelik sterker voel, maar die ‘goeie gevoel’ sal nie hou nie.  Satan sal probeer om jou te verlei met sy dwelms van mag, geld en invloed.  En dit sal jou goed laat voel, maar glo my, die hoogtepunt sal nie hou nie.  Dit sal jou op die ou end net vernietig, omdat hierdie dwelms in die hel self vervaardig is.  Die enigste teenmiddel vir ‘n dwelm wat uit die hel kom, is die een wat uit die hoogte van die hemel kom – die Gees van Christus.

Paulus sê in vers 16: “Maar ek sê: Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie.”  Dit is puik beradingsadvies.  Wanneer jy probeer om dwelmgebruik te staak, is die ergste ding wat jy kan doen om heeltyd te dink aan die manier waarop jy dit gaan staak.  Wat jy nodig het, is afleiding, iets of iemand wat jou oë van die sondige natuur kan wegneem.  Dit is wat die Gees van Christus doen; Hy draai ons oë weg van die sondige natuur en skep nuwe begeertes in ons.  In Christus kan ons nuwe, alternatiewe modelle van bestaan in gemeenskappe vestig, gevorm deur die Gees van Christus.

Dit sal geensins maklik wees om die monster te beveg nie.  Dit is ‘n oorlog, ‘n stryd om die siel van die mensdom.  Vir elkeen van julle se siel.  Jy sal uitgelok word om teen ‘n frustrerende kollega uit te vaar eerder as om geduld te toon.  Daarna sal jy in die versoeking kom om dit aan ‘n gebrek aan slaap toe te skryf.  Jy sal verlei word om te dink dat jy meer geld nodig het, nie meer van Christus nie.  Jy sal verlei word om so besig te wees dat jy nie tyd het vir jou gesin of vriende nie, en as jy wel het, dan het jy beslis nie tyd vir God nie.  En so kan ek aangaan.

Dit is ‘n stryd om ewigheid – ewige dood of ewige lewe.  Alles wat die Gees is, is alles wat die vlees nie is nie.  Dit staan teenoor mekaar.  Twee volledige teenoorgesteldes.  Soos swart en wit.  “Want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees teen die vlees; en hulle staan teenoor mekaar, sodat julle nie kan doen wat julle wil nie.”  Het enigeen van julle dit al ervaar?  Ek weet ek het.  Doen wat ek nie wil doen nie, en is dan later baie spyt daaroor en dink: “Wat het ek gedoen!  Ek is so ‘n idioot!”  Dít is die sondige natuur.  Dit is sterk en magtig.  Moet dit nie onderskat nie.  Ek dink hierdie liedjie van Johnny Cash vang dit goed vas (The Beast in Me, vry vertaal):

“Die ondier in my

Is ingehok deur dun en breekbare tralies

Bedags is hy rusteloos

En snags gaan hy tekere teen die sterre

God, help die ondier in my

 

Soms wil hy my flous –

Hy is net ‘n teddiebeer

En verdwyn selfs op die een of ander manier in die lug

En dit is wanneer ek moet pasop

Vir die ondier in my wat almal ken

Hulle het hom in my klere gesien

Duidelik onduidelik:

Is dit New York of Nuwejaar

God, help die ondier in my.”

Die ONDIER kan enigiets wees – dwelms, seks, woede, geweld, iets waaraan jy ‘n broertjie dood het, ens. In hierdie liedjie verwys dit hoofsaaklik na die SONDE wat in ons almal woon.  Die lied verduidelik hoe ons beheer oor die sonde dikwels swak is en dat die geringste gebeurtenis in ons lewe aanleiding kan gee tot sonde.  (“Hy is ingehok deur dun en breekbare tralies.”)

Die sondige natuur met sy twee bondgenote, die wêreld en Satan, probeer om jou te oortuig dat wat jy nou wil doen, nie regtig gevaarlik is nie.  Selfs lewensgevaarlik.  

“Soms wil hy my flous – hy is ‘n teddiebeer

En verdwyn selfs op die een of ander manier in die lug

En dit is wanneer ek moet pasop

Vir die ondier in my”

Die enigste manier waarop ons hierdie ondier kan verslaan, is as ons God aan ons kant het.  “God, help die ondier in my.”  Sodra die Gees in jou hart kom woon, is jy ‘n nuwe mens, en is daardie sondige natuur slegs geklee in “jou klere”.  Hy gee voor hy is jy!  Maar dit is nie wie jy is nie!  Die ondier is die nekslag toegedien vir almal wat in Christus glo, en jy is vrygelaat om daardie ondier uit te honger.  Hoe doen jy dit? Deur in pas met die Gees te stap.

Paulus sê in vers 18: “Maar as julle deur die Gees gelei word, dan is julle nie onder die wet nie.”  Die wet het nie mag gehad om die sondige natuur te breek nie – ons het dit oor en oor in die Ou Testament gesien.  Die wet het die Israeliete geoordeel, maar dit kon hulle nie verander nie.  Die mens het iets meer nodig gehad, iets anders.  Dit is waar Christus ingetree het en die werk vir ons gedoen het, en toe daardie werk in ons gewerk het deur sy Gees.

In die volgende paar verse verduidelik Paulus hoe om die ondier te herken: “En die werke van die vlees is openbaar, naamlik owerspel, hoerery, onreinheid, ongebondenheid; afgodery, towery, vyandskap, twis, jaloersheid, toornigheid, naywer, tweedrag, partyskap; afguns, moord, dronkenskap, brassery en dergelike dinge.”  Ons kan nie nou na dit alles in besonderhede kyk nie, maar as ons na hierdie lys kyk, kan ons sien dat daar in 2000 jaar daar nie eintlik baie verander het nie.  Wie ook al gesê het die Bybel is nie meer relevant nie, moet na hierdie sondes kyk, en na die wêreld rondom hulle.  Die wêreld is nie net vol van hierdie dade nie; sommige hiervan word selfs opgehemel!  Dit is die pad van die dood.

In hierdie lys val die klem op hoe om NIE in ‘n verhouding met God en jou naaste te lewe nie.  Hierdie lys toon waaroor Paulus bekommerd was in die Galasiese kerke.  Hy het geleef in ‘n samelewing waar selfbemarking, wedywer en openbare mededinging in die alledaagse lewe normaal was.  Dit het alles gegaan oor persoonlike eer, hoe ver jy op die gewildheidsleer gevorder het.  Soos Cicero, ‘n politikus wat in daardie tyd geleef het, gesê het: “Van nature smag ons na eer, en wanneer ons eers ‘n glimps daarvan gekry het – net ‘n klein deeltjie van die glans – is daar niks wat ons nie bereid is om te verdra en te verduur om dit te verkry nie.”  Is dit nie hoe ons kultuur ook is nie?  Die kultuur wat sê jy moet bekend wees om erken te word.  Om deur mense raakgesien te word.

Geliefde gemeente, waarvoor leef jy?  Waar is jy op jou reis?  Is jy nog steeds op reis vir jouself?  In jou werk vir jouself?  In die kerk vir jouself?  In jou gesin vir jouself?  Lewe jy vir die vlees?  Paulus se waarskuwing is sterk in vers 21: “Soos ek al vroeër gesê het, dat die wat sulke dinge doen, die koninkryk van God nie sal beërwe nie.”  Met ander woorde, as jy vir die wêreld leef, behoort die erfenis nie aan jou nie.  Jy is nie ‘n seun of ‘n dogter as jy so leef nie.  Die werkwoord ‘leef’ dui op gewoonte-optrede, nie ‘n fout af en toe nie.  Hy praat nie oor ‘n Christen wat soms struikel nie; hy praat oor diegene wat deur sonde beheer word.  Diegene wat in sonde verhard het.  Diegene wat eerder leef om gewild te wees as om ander te dien.

Die vlees verteenwoordig alles van die mens wat nie deur die Gees verander is nie.  Geliefdes, dit sluit lewe onder die wet in.  Of enige vorm van wettisisme.  Mensgemaakte maniere van redding kon nie lewe skep nie, weens die mag van die sonde. Broers en susters, slegs in die Gees van Christus kan ons ‘n alternatiewe model van bestaan skep.

 

Leef deur die Gees

Deur die mag van Christus se dood en opstanding het Hy ‘n nuwe, skeppende energie in gelowiges losgemaak, ‘n kenmerk van sosiale verbintenis genaamd liefde.  Nie meer onder die ou wette van Moses nie, maar in die eerste plek toegewy aan Christus se ooreenstemmende liefde.  Dit wat Paulus beskryf as die weg van die evangelie, is 'n integrale deel van die goeie nuus.  Dit is goeie nuus vir almal van ons, want deur die Gees kan ons ons naaste liefhê ongeag hoe uiteenlopend hulle is; ons kan saam met hulle eet ongeag hoe verskillend hulle is.  Jy kan nie die eerste hoofstukke van Galasiërs van hierdie skei nie. As jy glo, dan SAL jy soos hierdie leef.  Indien nie, dan het jy nooit werklik geglo nie. Een van die primêre dinge wat uit Christus se werk voortgespruit het, is nuwe gemeenskappe wat anders is as wat hierdie wêreld ooit geken het – verenig in Christus.

Dit is nie-mededingende gemeenskappe, beskik deur ‘n nuwe soort waarde, waardigheid in Christus, wat wys wat Christus vir die wêreld gedoen het.  Ons het lief, maar nie op grond van sosiale status, simbool, geld, etnisiteit, geslag, skoonheid, ens. nie.   Wat Paulus hierna beskryf, is die verwoording van die Goeie Nuus.  Jy sien, die goeie nuus is nutteloos, oneffektief en sinneloos tensy dit gebeur in gemeenskappe wie se gedrag hul uniekheid toon.

Jy is weergebore deur die Gees.  Nuwe geboorte beteken nuwe lewe.  Nuwe lewe beteken ‘n nuwe manier van leef.  Hierdie nuwe manier van leef is bemagtig deur die Gees.  ‘n Lewe van wandel saam met en deur Christus.  Ons moet ons lewens vul met nuwe doelwitte, nuwe betekenisse en nuwe maniere van interaksie wanneer ons Christene word.  Hierdie manier van leef word uiteengesit in verse 22-23: “Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.  Teen sulke dinge is die wet nie.”  As ons hierdie maar net so gou kon uitleef soos wat ons dit kan memoriseer!  Ons ken dit alles, het heel waarskynlik al preke hieroor gehoor.  Maar om dit uit te leef?!  Here, help ons!  Woon in ons met u Gees!  Ons het U nodig! Dit wat die wet nie kan doen nie, kan God alleen doen.

Verbeel jou jy sien twee appelbome in die verte.  Albei lyk pragtig en is vol appels.  Soos jy nader kom, sien jy die eerste boom is vol vrugte wat lewe van die boom gekry het, maar die tweede boom is vol appels wat netjies aan die boom vasgebind is om die idee te gee dat dit ‘n gesonde appelboom is.  Elke appel is presies so geplaas dat dit soos enige normale appel lyk.  Ons kan almal sien hoe nutteloos dít in ‘n vrugteboord is.  Maar sien ons ook dat ‘n namaaksel van ‘n geestelike boom nutteloos is?   Jy kan nie hierdie vrugte voortbring deur harder te werk of meer toegewyd te wees nie.  Dit sal gou duidelik word dat dit nie vrugte is wat deur die Gees gekweek is en vas is aan die lewegewende stam van Jesus Christus nie.  Die vrug van die Gees kom uit in aanbidding en kom tot uiting in nuutgeskepte gemeenskappe.

Die hoogste doel van ons bestaan in Christus is nie selfkennis of persoonlike perfeksie nie – dit is deel daarvan – maar ‘n gemeenskap wat gevorm is deur ‘n gedragspatroon wat voortspruit uit die vrug van die Gees.  Omraam deur ‘n Westerse wêreldbeskouing, is ons geneig om spiritualiteit te verstaan as ‘n private aktiwiteit tussen ons en God.  Maar die Bybel openbaar die vrug van die Gees as iets wat deur verhoudings geopenbaar word.  Ons wandel deur die Gees wanneer ons ons naaste liefhet soos onsself.  Ons wandel deur die Gees wanneer ons goedheid bewys aan die vriende wat ons in die steek gelaat het. Ons wandel deur die Gees wanneer ons geduldig is met ons kinders.  Spiritualiteit steek nooit lyf weg nie. ‘n Lewende geloof is ‘n sosiale geloof, ‘n geloof wat bind.  Dit is nie ‘n persoonlike, individuele ding wat ons glo nie; ons glo dat alle dinge onder die heerskappy van Christus moet kom.  Jou hart, jou daaglikse werk, jou gesin, jou kerk, jou stad, jou land, die ekonomie, die regering.  Christus is Here van dit alles, en hier in die kerk is die uitdrukking van Christus se heerskappy op aarde.

Die Christen moet anders as die wêreld lyk.  Paulus sê in vers 24: “Die wat aan Christus behoort, het die vlees met sy hartstogte en begeerlikhede gekruisig.”  Gekruisig!  Tereggestel, sê Paulus op die mees dramatiese manier waaraan ek kan dink.  Dit het gebeur, maar dit beteken nie die sonde is weg nie… daardie ellendeling gaan moeilik dood.  Maar dit beter beteken dat hy benoud begin raak, want jy is gevul met sy aartsvyand, die Gees!  En die Gees haat sonde!  Hoe ernstig hanteer jy sonde in jou lewe? En moenie my wysmaak jy het nie sonde wat erg genoeg is dat dit voor die voet uitgeroei moet word nie.  Ons sukkel almal saam in hierdie stryd.  Elkeen in hierdie gebou sondig.  Die vraag is of jy dit HAAT, want gewoonlik doen ons nie dinge wat ons HAAT nie.

Miskien is ‘n ander vraag beter:  Hoe vurig is jy daaroor om in pas met die Gees te probeer wandel?  Is jou treë in pas met die rigting wat God met die kerk inslaan?  “As ons deur die Gees lewe, laat ons ook deur die Gees wandel.”  Dit is soos ‘n militêre mars waar elkeen op presies dieselfde maat marsjeer – die bene gaan almal saam op en af, die arms swaai soos een.  So marsjeer die kerk op die maat van die Gees. Die maat verenig die kerk sodat ons soos een man stap.  Een liggaam van Christus.

Vervolgens ‘n paar dinge wat ons vandag kan saamneem:

Eerstens, indien dit nog nie ingesink het nie, hier is dit in eenvoudige Afrikaans: ‘n Christen is anders as die wêreld.  ‘n Christen-gemeenskap is ‘n kontras-gemeenskap.  Dit is nie toevallig dat ons kultuur begin lyk soos wat dit lyk nie, met sy musiek, rolprente en TV.  Jou omgewing maak wie jy is. En ons is almal produkte van hierdie wêreld, tensy ons van Bo gebore is en daarbo kan uitstyg.  Ek sê nie dit is verkeerd om na hierdie musiek te luister nie, of na ‘n film te kyk nie, maar weet waarna jy luister, weet wat dit is om ‘n Christelike wêreldbeskouing te hê en die wêreldbeskouing van vandag te krities te beoordeel.  Nie om daarteen uit te vaar nie, maar om ‘n invloed te wees ten geode, vir verandering in hierdie wêreld. Om die sout en die lig te wees. Hoe anders sal jy ‘n intelligente gesprek kan voer en die Christelike perspektief kan deel?

Tweedens, dit vereis dissipline.  Dit vereis dat jy oopkop bly.  Leef bewustelik.  Dink oor wat jy doen en waarom jy dit doen.  Dit sal gebed vereis.  Die vrug word nie net soos ‘n groot Kersgeskenk in jou arms gedruk nie; die vrug van die Gees kom deur ‘n gewoontevormende leefstyl.  Gebed is een van daardie gewoontes wat jou hele uitkyk op die lewe kan verander.  Neem byvoorbeeld die verkeer, wat erg is hier. Wat daarvan as jy, eerder as om ‘n vuis in die lug te bal of om gefrustreerd te raak, bid vir die mense in die motors om jou?  Of eerder as om jou voet ongeduldig te tik terwyl jy in die supermark wag, jy stilweg bid vir diegene om jou?  Wat daarvan as ons begin om die plekke waarheen ons gaan, met gebed te vul: die Spar, Frans Conradie, die N1, Checkers, die winkelsentrum.  Eerstens sal dit makliker wees om vriendelik, liefdevol, saggeaard en selfbeheersd met hierdie mense om te gaan, en tweedens werk God deur gebed. Ons lewensverandering is deur genade, net soos ons redding deur genade is. Kom ons hanteer dit so, nie deur harder te probeer nie, maar deur op Christus staat te maak.

Ons kan nie goed doen tensy ons hemels ingestel en Geesvervuld is nie.   Slegs daar vind ons die bron van genade, wat oorvloei vir onverdienstelike sondaars soos jy en ek, wat ons uitnooi om in te spring en deel te neem aan die ewige lofprysing van ons Skepper, Verlosser en Helper.

Amen.