Dit is ter wille van Vryheid dat ons vry is

Predikant: 
Ds J Bruintjes
Gemeente: 
Kaapstad
Datum: 
2017-10-22
Teks: 
Galasiërs 5: 1 - 12
Preek Inhoud: 

Vir die afgelope 8 weke het ons gekyk na wat God in Christus vir ons gedoen het.  Dit was ’n ongelooflike reis van die een seёning op die ander, en ons het nuwe hoogtes bereik.  Vandag sal ons kyk na die resultaat van al hierdie seёninge.  Wat beteken hierdie seёninge en hoe kan dit plek vind in ons alledaagse lewe?

Dit begin by die inaseming van die vryheid wat ons in Christus het.  In Christus het alle diepste menslike vrese hul krag verloor om ons tot slawe te maak.  Ons sonde, die duiwel en hierdie wêreld se wens is om ons tot slawe te maak; hulle wens om ons onwaardig te maak.  Daar is ’n wettige stryd om eienaarskap van elke siel hier teenwoordig.  En elke siel se saak sal na die Hooggeregshof van die heelal geneem word.  Die regter sal, vir almal wat hul geloof in Christus gestel het, sê: “Jy is vry!”  “My kettings is weg, ek is vrygemaak, my God, my Verlosser het my losgekoop, en sy barmhartigheid, oneindige liefde en ongelooflike genade stroom soos ‘n vloed oor my!”  Christus het vir ons gelewe en gesterwe sodat ons vry kan word van onsself en vir ander mag lewe.

Dit is ter wille van Vryheid dat ons vry is.

  1. Moenie na slawerny terugkeer nie
  2. Verwyder hulle wat jou na slawerny lei
  1. Moenie na slawerny terugkeer nie

Om te verhoed dat ons nie terugkeer na slawerny nie, moet ons die vryheid eers aangryp.  Soos vers 1 sê: “Staan dan vas in die vryheid waarmee Christus ons vrygemaak het...”  Laat dit in jou hart weerklink. Ons dink dat ons vryheid die weg baan na iets anders, iets wat ons mag doen.  Maar daar is ’n manier waarop vryheid die doel van die evangelie is.  Dit is ter wille van vryheid dat Christus ons vrygemaak het. Hy het deel geword van ons lewe, ons van alle bande bevry en ons vrygemaak.  Hy is die groot Bevryder! Die Bybel sê dat ons in Hom vry is van die vloek van die wet, vry van die vloek van Adam, vry van geestelike dood, vry van die vrees vir die dood, vry van verdoemenis, vry van die krag van die sonde, vry van die mag van Satan; en ons is vry om alles wat Christus vir ons gekoop het, te erf.  Vul jou hart, jou longe en jou verstand hiermee.  Geniet dit.  Gryp dit aan.  Bewaar dit.

“Staan dan vas ... en laat julle nie weer onder die juk van diensbaarheid bring nie.”  Ons moet ons vryheid bewaar!  Ons het vyande tot die vryheid, vreemde sowel as inheemse vyande.  Ons moet die kragte van buite teenstaan – “Staan vas!”  En ons moet na onsself kyk, sodat ons nie terugkeer na slawerny nie.  Slawe neig daarna om die wêreldbeskouing en mentaliteit van slawerny aan te neem.  Dink aan die Israeliete wat vir 400 jaar lank in Egipte was, waarna God hulle bevry het.  En wat doen die Israeliete in die woestyn? “Regtig?  Julle moes stene maak sonder strooi!”

Ons het nog so ’n voorbeeld, naamlik Harriet Tubman, ’n Amerikaanse slavin wat weggehardloop het en ook ander gehelp het om te vlug.  Sy is die Moses van haar mense genoem. Sy het die sogenaamde “Underground Railroad” begin, waardeur sy duisende slawe gered het.  Gedurende hierdie tydperk het sy dikwels gesien hoedat sommige slawe te bang was om na vryheid te vlug, of wou terugkeer na slawerny as dinge moeilik geraak het.  Tubman het vertel van ’n man wat daaraan gedink het om terug te keer na slawerny.  Die moraliteit was laag, dit was gevaarlik en die kos het begin min raak.  Dit is belangrik om te weet dat Tubman ’n wapen by haar gedra het.  Daar word gesê dat sy die pistool op die man gerig en vir hom gesê het: “Jy gaan na die vryheid of jy sterf.”  ’n Paar dae later het die man saam met al die ander in Kanada aangekom.

Galasiёrs 5 is Paulus se evangelie-wapen wat ons na vryheid dryf, selfs wanneer ons harte na slawerny wil terugkeer. Moenie eers vir een oomblik daaraan dink om terug te keer na slawerny nie.  Paulus sê aan ander om te doen wat hy in hoofstuk 2:5 gedoen het: “het ons nie ’n enkele oomblik toegegee nie.”  Moenie toegee aan hulle wat jou tot slaaf maak nie, of hulle nou wettiese Christene is of gode van hierdie tyd, geld, seks, gewildheid.

Vers 2:  “Kyk, ek, Paulus, sê vir julle dat as julle jul laat besny, Christus vir julle tot geen nut sal wees nie.”  Skryf dit neer, en wees verseker hiervan, ek, die apostel Paulus – dié een wat deur God gestuur is, volgens vers 1 van hierdie boek, ek wat spreek met die gesag van die opgestane Christus –  ek sê vir julle dat, as julle die besnydenis beskou as ’n simbool van waardigheid voor God, dan sal Christus tot geen nut vir julle wees nie.  Geen – daar is geen menslike kriteria wat jou aanvaarbaar sal maak nie. Die besnydenis maak jou ’n slaaf van gehoorsaamheid aan die wet, en dit is die verwerping van die volmaakte werk van Christus.  Dit is die boeie wat jou terug na die tronk sal lei.  Kerke het dit regdeur die geskiedenis probeer doen. Jy móét dit doen, jy móét só aantrek, jy mag net hierdie liedere sing as jy ’n Christen is.  Hierdie jaar vier ons die vryheid in Christus.  Iets wat die Reformasie vir die kerk teruggewen het.  Menslike tradisies maak slawe van ons; slegs Christus is die Bevryder!  Dit is die groot uitdaging: Christus is vir jou alles, of Hy is niks.  Christus alleen, geloof alleen, die Skrif alleen – dit is vryheid.

As ons ons pad buite Christus soek, dan sal die rekening vir ons sondes kry, en daar sal ‘n groot vet 0 langs Christus se Naam staan.  En waarheen gaan ons as Christus niks beteken nie?  Ek en jy sal hoofsaaklik in die skuld-kolom staan, in die rooi.  Daar is nie eers ’n gelyke balans nie.  Ons is vir God gemaak na Sy beeld, en ons het Hom verwerp, ons rug op Hom gedraai en Hom gehaat, op die mees sedelose manier moontlik.  Daardie perfekte regverdige, ewige, alwetende, en alomteenwoordige Skepper van hemel en aarde moet dit straf.  En Hy het dit ook gedoen, in Christus; andersins sal Hy dit eendag doen op die laaste dag vir dié wat op die wet wil vertrou.

Want soos ons lees in vers 3:  “En ek betuig dit weer aan elke mens wat hom laat besny, dat hy onder verpligting is om die hele wet te onderhou.”  Hier sê hy “weer,” omdat hy herhaal dit wat hy in hoofstuk 3:12 gesê het:  “Die man wat hierdie dinge doen, sal daardeur lewe.”  Die besnydenis was ’n teken van die verbond met Moses.  Die Israeliete was onder die wet in slawerny – hulle kon nie daarvan ontsnap nie.  Dit het hulle veroordeel.  Die ou verbond berei voor vir die nuwe een, kondig dit aan, verwag dit.  Maar om jouself toe te wy aan die gehoorsaamheid en lewe onder daardie verbond, is soos om aan te kondig dat die nuwe verbond in Jesus onvoldoende is – nie goed genoeg nie. En so verwerp jy Christus, die geskenk van genade.

Hy maak dit duidelik in vers 4:  “Julle wat geregverdig wil wees deur die wet, is losgemaak van Christus; julle het van die genade verval.”  As jy deur die wet geregverdig word, dan onthoof jy jouself van die liggaam, die liggaam van Christus, wat die Hoof is, deur Wie alle dinge lewe.  Deur onder die wet te lewe is soos om uit die vliegtuig, genaamd die genade in Christus, te spring, 9000 meter bo die grond, sonder ’n valskerm.  En laat ek jou een ding sê:  daardie val weg van die genade af sal seermaak.  Genade is dat die vliegtuig jou huis toe sal dra; spring jy uit, dan is jy op jou eie.  Die wet van gravitasie sal jou inhaal.  Op dieselfde manier sal die wet, as jy uit die genade-vliegtuig spring, jou inhaal en jou veroordeel. 

Maar deur die genade van God wat in Jesus Christus gevind word, word ons huis toe geneem, omdat ons in Christus is, die geskenk van genade, “want ons verwag deur die Gees uit die geloof die geregtigheid waarop ons hoop.” (vers 5).  Ons vryheid wat ons deur die geloof in Christus vind, word uitgedruk deur ’n verlangende afwagting.  Geloof lei daartoe dat ons verlangend hoop op die einde van die stryd teen die sonde.  Daardie vliegtuig waarin ons is, wat die genade van Christus genoem word, sal ons eendag huis toe bring.  Dit sal veilig land.

Ons wag vir daardie ewige, fisiese tuiste van geregtigheid, ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde: met geen sonde – geen veroordeling.  Ons bely elke week: “Ek glo in die opstanding van die liggaam en ’n ewige lewe. AMEN.”  Geloof lei daartoe dat ons verlangend in afwagting is, soos ’n kind wat vir sy 4de verjaarsdag wag.  Dit is wanneer hulle ongelooflik opgewonde raak oor hul verjaarsdag, en die dae begin aftel tot daardie dag.  Hulle weet vir seker dat dit op pad is, en hulle is gretig en opgewonde.  Dit is hoe ons moet wees as ons na die wêreld kyk en die hoop sien wat ons in Christus het.

Is jy opgewonde?!  Ek is.  Wel, nie eintlik ek nie, maar Christus in my.  Soos Paulus sê: “want ons verwag deur die Gees uit die geloof.”  Deur sy Gees kan ek nie wag vir daardie dag wanneer die stryd met die sonde verby is nie.  Maar tot daardie dag kom, sal ek in Christus veg in die krag van die Gees teen die sonde, teen ongeregtigheid, teen die verkeerde; ek sal vorentoe kyk, en aan Christus vashou.  En aan die einde van ons wedloop sal ons erken dat daar niks is wat ons gedoen het wat ons waardig sou maak om hierdie belofte te ontvang nie.  Alles is as gevolg van wat Hy vir ons gedoen het.  O, die prag van die woorde: “IN CHRISTUS!”

Vers 6:  “Want in Jesus Christus het nòg die besnydenis nòg die onbesnedenheid enige krag.”  Met Paulus se sterk fokus in hierdie boek op die besnydenis, kan ‘n mens dink dat die kerk in die ander rigting beweeg en nie besny nie, omdat hulle dink dit sal beter wees.  Paulus keer dit baie vinnig.  Beide is irrelevant.  Albei groepe was onder ’n vorm van slawerny.

Die enigste ding wat waarde het, is die liefde van Christus wat deur ons vloei as gevolg van geloof, of soos Paulus sê:  “die geloof wat deur die liefde werk.”  En nou bly: “Geloof, hoop, liefde – hierdie drie; maar die grootste hiervan is die liefde.”  Hier sien ons weer dié drie in hierdie twee verse.  Want óns verwag deur die Gees uit die geloof die geregtigheid waarop ons hoop.  En hierdie geloof werk deur die liefde.  Geloof sonder werke is dood.  Geloof sonder liefde is dood.  Geloof het ’n gesig, daardie gesig is liefde.  Daar is hierdie ou liedjie: “All you need is love” (Ek dink dit is ’n Beatles-liedjie).  Maar dit is nie heeltemal waar nie; Paulus sê hier: “Al wat van belang is, is Geloof wat deur die liefde tot dade oorgaan” (Afrikaanse 1983- vertaling).  Jy het liefde nodig wat gevind word binne die grense van geloof in Christus.  In die volgende paar weke sal ons kyk na hoe hierdie liefde lyk.  Maar voordat ons daarna kyk, moet ons die kanker eers verwyder, voordat ons die pad van herstel wil stap.

  1. Verwyder hulle wat jou na slawerny lei

Vers 7 sê:  “Julle het goed geloop: wie het julle verhinder om die waarheid gehoorsaam te wees?” Ek dink Paulus was mal oor sport, want hy gebruik so baie vergelykings met sport, veral draf.  Ek weet dat hier ’n hele paar drawwers is.  Paulusbeskou die lewe van geloof in Christus as ’n wedloop.  En wat ‘n goeie begin het die kerk van Galasiё nie gehad nie!  Hulle het sterk gehardloop en het goed gelyk.  ’n Mens dink aan die bekende toneel uit die film Chariots of Fire, wanneer Eric Liddel, die groot Skotse atleet en sendeling, sê: “When I run, I feel his pleasure.”  Die Galasiёrs het ook daardie vreugde geken om vry in Christus te hardloop.  Van die oomblik af toe die skoot geklap het, het hulle goed gehardloop.

Maar ewe skielik was daar iemand anders op die baan, en in plaas daarvan om saam met hulle te hardloop, het hulle die hardlopers van die baan af gehardloop. Hierdie mense het die Galasiёrs gekeer om “die waarheid te gehoorsaam.”  Die waarheid hier is die waarheid van die Evangelie waaroor Paulus praat in hoofstuk 2:5 – dit is die waarheid van Koning Jesus, wat ons vrygemaak het, deur sy dood en opstanding. Hy wat nie oordeel volgens rykdom, etnisiteit of wêreldse mag nie, maar wat die hart oordeel en in genade heers.

En hierdie waarheid moet gehoorsaam word – moet uitgeleef word.  Die Galasiёrs het opgehou om dit te doen; hulle was meer bekommerd oor die mensgemaakte reёls en as gevolg hiervan was hulle bekommerd oor wat die mense daarvan sou dink.  Hulle het nie vry en roekeloos vir hul koning gelewe nie. Hulle het nie na die toekoms van die kerk gekyk nie; hulle het daarna gekyk om aan hul identiteit vas te hou – en het dan met enigiemand gestry wat daardie identiteit bedreig het.

Die waarheid van hierdie valse leraars het natuurlik nie van God gekom nie, soos hy sê in vers 8:  “Hierdie oortuiging kom nie van Hom wat julle roep nie.”  God het jou nie geroep om ’n slaaf van die wet te word nie, of enige ander mensgemaakte reёl wat die kerk jou dalk mag oplê nie – dit is ter wille van vryheid dat God jou vrygemaak het!  Onthou dit!  Lewe op hierdie manier.  Leef vrymoedig en geheel en al vir Jesus die Koning!

Omdat dit slegs ’n effense verdraaiing van die waarheid of net een valse leraar verg, sê vers 9:  “’n Bietjie suurdeeg maak die hele deeg suur.”  Sommiges mag dalk nie dink dat dit ’n belangrike saak is nie; dit was net ’n klein snit in die voorhuid!  Sny dit net en maak seker dat alles reg is tussen jou en God.  Dit verg net een klein sonde wat ongesiens insluip, en kort voor lank is die hele liggaam besmet.  Los een kankeragtige seer agter en dit besmet die hele liggaam.

Dit herinner ons aan 1 Korinthiёrs 5:6, waar die kerk grootgepraat het oor die feit dat hulle iemand aanvaar het wat op seksuele gebied gesondig het, en hy sê: “Weet julle nie dat ’n bietjie suurdeeg die hele deeg suur maak nie?”  Soos dit daar gegaan het oor sake van gedrag, gaan dit hier oor sake van die leer.  Dit is ’n sterk waarskuwing aan die kerk om sterk te staan teen beide die lewe en die leer, want Satan sal die kleinste geleenthede gebruik.  Luister na sy Woord en wees op jou hoede om te kan onderskei tussen die sis van die slang en die fluistering van God.  Ek is dankbaar vir die ouderlinge in die kerk wat die belofte gemaak het om na hul eie lewe en die leer te kyk en om ook getroue herders van die gemeente te wees. En vir almal wat in Christus glo, is daar nooit enige twyfel dat God sy kerk sal bewaar nie.

Soos ons in vers 10 lees:  “Ek vertrou van julle in die Here dat julle nie anders sal dink nie; maar die een wat julle in die war bring, sal die oordeel dra, wie dit ook mag wees.”  Ek hou hiervan – hier is ’n fantastiese pastoor aan die werk, besig om die leraars van die valse leer te skei van die kerk self, en dit word met chirurgiese presisie gedoen.  Hy waarsku die kerk, net soos ’n dokter, hoe gevaarlik so ’n klein wond is en hoe dit hulle almal kan besmet.  Dan heg hy die evangeliese pleister van sekerheid vas deur te sê: “Ek vertrou van julle in die Here dat julle nie anders sal dink nie.”  Sy vertroue is nie in die kerk of hoe goed hulle is nie, sy vertroue is in die Here – dat God sy eie kinders sal beskerm en lei.  Dit is elke pastoor se vertroue wanneer hy die kudde van Christus lei.  Dit is my vertroue dat God julle sal lei op die pad van die Evangelie. 

En dan sê hy: “Die een wat julle in die war bring, sal die oordeel dra, wie dit ook mag wees.”  Versekering vir die heiliges, en afrekening en oordeel vir die wolwe in skaapsklere.  God sal jou vind, Hy ken jou hart, en jy sal die straf betaal.  Met chirurgiese presisie skei Hy die swart kolle in die kerk van die kerk self. Moenie hoop verloor nie. Die dag sal kom wanneer elke valse leraar geoordeel sal word vir elke valse woord. God se Woord sal die eerste sê hê.  Intussen wens Paulus dat, indien die valse leraars wil voortgaan met hul onderwysing, dat hulle die hele ding sny.

Soos hy sê in vers 12:  “Ag, as die wat julle opstandig maak, hulleself tog maar ook wou vermink!” Blykbaar was Paulus ook ’n bietjie omgekrap.  Sny dan die hele ding af as jy dink dat dit so ’n belangrike saak is.  Ons lees in Deuteronomium 23:1 dat: “Iemand wie se geslagsorgane verbrysel is of iemand wat ontman is, mag nie lid van die gemeente van die Here wees nie.”  Paulus sê eintlik dat deur die besnydenis en die terugkering na die wet sny jy jouself van die kerk af.  So ‘n ernstige saak is dit.  Geliefdes, as julle dink dat enigiets buiten Christus julle kan red, dreig die gevaar om afgesny te word van die kerk.  Hou vas aan Christus, asem die vryheid in wat Hy vir ons gewen het.  Hierdie tipe teologie van eksklusiwiteit is beledigend en sal beproef word deur vervolging.  Maar waarheid van nature staan alleen.  Daar is miljoene leuens vir elke waarheid. En die Vader van die waarheid sal die kinders van die leuens vervolg.

Vers 11:  “Broers, as ek nog verkondig dat ’n mens besny moet word, waarom word ek dan nog vervolg?  Dan is die kruis as struikelblok mos uit die weg geruim.”  Thomas Jefferson het gesê:  “Ek verkies vryheid bo vredevolle slawerny.”  Waarom was Paulus steeds geslaan, vervolg en gevange geneem orals waarnatoe hy gegaan het?  Want hy was in die stryd vir vryheid.  Vryheid in Christus.

Die besnydenis staan vir die geloof in menslike prestasie, van wat die mens kan doen deur sy eie goeie dade; Christus staan vir die geloof in Goddelike prestasie, van wat God gedoen het deur die werk van Christus.  Die besnydenis beteken: wet, werke, gebondenheid.  Christus beteken: genade, geloof, vryheid. Elke mens moet kies.  Die een ding wat onmoontlik is, is wat die Galasiёrs gekies het, naamlik om die besnydenis en Christus bymekaar te voeg en altwee te hê.

Dus: sal dit jou eie werk wees of die kruis, wet of genade, werke of geloof?  Dit kom dikwels neer op die volgende: Wil jy deur mense gesien word, wil jy voorgee en aan almal wys hoe jy altyd die regte ding doen; of is jy gewillig om jouself te verneder en jou sonde te bely, omdat daar vryheid in Christus is?  Wil jy gewild of getrou wees?

Die kruis staar jou in die gesig en sê dat niks wat jy doen, jou waardig voor God kan maak nie.  En terselfdertyd sê dit: Ek sal jou waardig maak.  Moenie beledig voel as ek sê dat jy niks verdien nie. In werklikheid, dit is deur jou lewe te verloor dat jy dit sal vind.  Sien jy dit?  Hy wat nie alles opgee ter wille van My nie, is My nie werd nie.  Dit is deur ons lewe te verloor dat ons dit weer sal vind.  Jesus het dit oor en oor gesê toe Hy hier was, en Hy het dit uitgeleef, alles opgegee, Homself tot niks gemaak.

Sal jy die pad na die kruis saam met my stap, broer en suster?  Ons wil Christenskap hê sonder die kruis. Daar is nie so-iets nie.  Ons moet op die bebloede kruis van Golgata vertrou vir ons volkome verlossing. Almal hou van die valse evangelie. Jy kry ’n groot applous van die wêreld as jy ’n valse evangelie verkondig, maar Paulus bly staan by die kruis, die simbool van ‘n grusame dood, die simbool van die afsterwe van onsself.  Want dit was net daar by die kruis waar die skuld vir ons betaal is om ons vry te maak.  Die kerk sal nie terugstaan nie.  Nie vandag nie.  Nooit nie!

Amen.