Vryheid of slawerny: 'n argument uit die Skrif

Predikant: 
Ds J Bruintjes
Gemeente: 
Kaapstad
Datum: 
2017-10-08
Teks: 
Galasiërs 4: 21 - 31
Preek Inhoud: 

Baie mense beskou die Christendom as ʼn godsdiens wat ‘n mens tot slawerny verdoem. My antwoord hierop is: “Wel, ja, dit is, en joune is ook.”  Maar daar is ʼn slawerny wat tot vryheid lei,  en daar is ʼn vryheid wat tot slawerny lei.  In ons Westerse kultuur draai dit alles rondom keuses.  Jy kan kies wie jy wil wees, wat jy wil doen.  Jy moet die reg hê om jou lewensmaat te kies en watter geslag jou lewensmaat moet wees.  Jy moet die keuse hê om te doen wat jy wil, wanneer jy wil, hoe jy dit wil doen.  Jy het selfs die keuse om jou eie identiteit te kies.  Die waarheid van jou biologiese geslag maak nie saak nie.  Jy kan nie kies uit die etikette, LGBTQ en verder nie.

Iemand wat in die sewentigerjare ‘n Christen geword het, was deel van die hippie-lewenstyl – geen reëls nie.  “Ons het gekies om te doen net wat ons wou,” het hy gesê.  “Ons het gevat wat ons wou hê en dan agtergekom dat ons nie meer wou hê wat ons gevat het nie.”  Ek gaan eerlik wees: Christenskap gaan nie vir jou sê om te doen wat jy wil nie, Christenskap is ‘n identiteit wat in Christus gevind word.  Christenskap sal vir jou sê wat die betekenis van jou lewe is, waarom ons hier is, waarheen ons op pad is, en wat ons doel is. Christenskap is ‘n identiteit wat nie in onsself gevind word nie, maar buite onsself.  Dit word nie gevind in moets en moenies nie, maar is gebore uit ‘n lewendmakende Gees.

Vryheid of slawerny – ‘n argument uit die Skrif

  1. Geskiedkundige situasies
  2. Figuurlike Interpretasie
  3. Praktiese Toepassing

 

Geskiedkundige situasies

Vandag kom ons by een van die moeilikste tekste in Galasiërs.  Paulus begin deur te sê: “Julle wat onder die wet wil wees, sê vir my, luister julle nie na die wet nie?”  Het julle almal jul Bybels gelees? Weet julle ooit wat die wet sê?

Sommige mense haal dinge uit die Bybel wat niemand anders raaksien nie.  Philo, ‘n Joodse geleerde wat omtrent dieselfde tyd geleef het, het so-iets gedoen met die patriarge.  Hy sê Abraham is ‘n simbool van wysheid of eerbaarheid wat deur onderrig verkry is, Isak is ‘n simbool van wysheid wat van nature verkry is en Jakob het dit deur die praktyk gekry.  En dit sluit aan by die basiese drie boustene van die Griekse onderwys.  Ek weet nie van jou nie, maar as ek die hoofstuk na Genesis 10 lees, is daardie dinge eenvoudig nie daar nie.  Maar dit is nie die geval met Paulus se argument hier nie.  Dit is nie ‘n geval van swak eksegese nie.  Paulus sê dit wat hy hier sien, is voor-die-hand-liggend.  Kom ons kyk dus na wat dit was.

Vers 22-23 sê: “Want daar is geskrywe dat Abraham twee seuns gehad het, een uit die slavin en een uit die vrye.  Maar die een uit die slavin is gebore na die vlees, en die ander een uit die vrye deur die belofte.”  Dus kom ons gaan terug na Genesis en herinner onsself aan die verhaal.  God het ‘n belofte gemaak dat Hy ‘n groot nasie uit Abraham sou maak, maar die tyd was besig om aan te stap, so ook sy vrou se biologiese klok.  As hulle na hulself in die woestynwater gestaar het, kon hulle die grys hare en die plooie sien.

En so moeilik soos wat onvrugbaarheid vir ‘n man is, sovvel te moeiliker is dit gewoonlik vir ‘n vrou. Jaar na jaar het Sara vir ‘n baba gebid, maar dit het nooit gekom nie.  Uiteindelik, uit bitterheid, frustrasie en desperaatheid, lees ons dat sy in Genesis 16:2 sê: “Jy weet, die HERE het my nie toegelaat om moeder te word nie.  Gaan tog in by my slavin; miskien sal ek uit haar gebou word.”  Die slavin – ‘n Egiptiese vrou genaamd Hagar – het swanger geword en aan ‘n seun geboorte geskenk, Ismael.

Maar God het nie sy beloftes vergeet nie.  Hy werk nie op daardie manier nie.  Nooit nie.  Soos ons in Genesis 17:16 lees: "En Ek sal haar seën en jou uit haar ook ‘n seun gee; ja, Ek sal haar seën, sodat sy tot nasies sal word.”  As gevolg van God se belofte, teen alle verwagtinge in, het Sara op die ouderdom van 90 jaar aan ‘n seun geboorte geskenk, en hom Isak genoem.

Daar was ooreenkomste tussen die twee.  Beide was seuns van Abraham, beide is besny.  Maar daar was ook skreiende verskille.  Hulle het twee verskillende wetlike statusse geërf.  Ismael se ma was ‘n slavin, dus is hy as ‘n slaaf gebore.  Isak, aan die ander kant, is vry gebore, die erfgenaam van ‘n vrye vrou.  Die ander groot verskil was die manier waarop hulle gebore is. Ismael is letterlik gebore, “volgens die vlees”.  Dit beteken dat Ismael op die gewone manier deur menslike toedoen gekom het.

Isak egter is gebore “volgens die belofte, of volgens die Gees”.  Isak se geboorte was die resultaat van Goddelike ingryping.  In Genesis 18:11-12 lees ons: “Maar Abraham en Sara was oud, ver op hulle dae; dit het met Sara nie meer volgens die reël van die vroue gegaan nie (m.a.w. sy het deur die menopouse gegaan).  En Sara het by haarself gelag en gedink:  Sal ek wellus hê nadat ek oud geword het en my heer oud is?”

Die antwoord?  JA!  God het aan hulle die kind gegee wat Hy belowe het, soos ons in Hebreërs 11:11 lees:  “Deur die geloof het Sara self ook krag ontvang om bevrug te word; en toe sy oor die leeftyd was, het sy gebaar, omdat sy Hom getrou geag het wat dit beloof het.”

Dus, om hierdie eerste gedeelte af te sluit, sien ons dat dit hier gaan om meer as twee broers wat nie met mekaar oor die weg kom nie.  Toe Abraham vir Hagar swanger gemaak het, het hy onder die veronderstelling gewerk dat God diegene help wat hulself help.  Hy het probeer om die seën eerder te neem as om dit te ontvang.  Ons het eerder gehoor dat dit nie moontlik is om iemand te dwing om ‘n belofte te maak nie.

Van die begin af was daar dus ‘n geestelike verskil tussen die seuns, die een seun is natuurlik gebore, die ander deur die belofte.  Die een het deur die woord gekom, die ander deur geloof.  Die een was ‘n slaaf, die ander een was vry.  So verteenwoordig hulle die twee benaderings tot godsdiens wat ons dwarsdeur hierdie boek gesien het.  Wet teenoor genade, vlees teenoor Gees, selfstandigheid of Goddelike afhanklikheid.  En dit bring ons by die tweede punt.

 

Figuurlike interpretasie

Tot sover maak alles nog sin: twee vroue – een vry, een ‘n slavin; twee seuns – die een gebore vir die slavin op die gewone manier, die ander gebore vir ‘n vrye vrou op ‘n uitsonderlike wyse.  Nou gaan Paulus verder in vers 24: “Dit is sinnebeelde”.  Hy sê hierdat die pare iets meer voorstel.  Jy sien, die hele Bybel is geskiedenis met ‘n teologiese betekenis.  Daar is ‘n doel met die geskiedenis wat God ons in die Skrif gee.  Hy skryf nie net iets in hierdie boek sodat ons weet wat duisende jare gelede gebeur het nie.  Op elke bladsy van die Bybel kan ons vra: wat doen God hier, wat sê God hier, en hoe wys dit na Christus?

Paulus vervolg in vers 24: “Want dié vroue staan vir twee verbonde: een, van die berg Sinai afkomstig, wat vir die slawerny kinders baar – dit is Hagar.”  Onthou dat hy in Galasiërs 3 en 4 gesê het dat die wet soos ‘n meester was wat hulle gevange gehou het totdat die geloof geopenbaar word.  Hulle het in slawerny onder “die basiese beginsels van hierdie wêreld” gelewe.  Hulle het onder die wet gelewe. Ons het in hoofstukke 2-4 herhaaldelik gesien hoe die wet ʼn wag is, iets wat ons onder slawerny plaas.  En op hierdie manier is die berg Sinai, waar die wet gegee is, ʼn prentjie van die slavin,  Hagar.

Gewoonlik wanneer jy aan ʼn Ou-Testamentiese Jood vra hoe ʼn mens regverdig is, of gered word, sal hulle antwoord deur te sê: “deur die wet te gehoorsaam.”  En dan vra jy: “Maar wat van Abraham?”, en dan sal hulle antwoord deur Genesis 26:5 aan te haal: “omdat Abraham na my stem geluister en my ordening, my gebooie, my insettinge en my wette onderhou het.”  Hulle sal sê dat dit seker deur ‘n spesiale openbaring geopenbaar is.  Hulle het begin om die wet te verhoog deur die hele Bybel deur die lens van die wet te lees.  Dit het alles gegaan oor hoe jy op die wet reageer.  Ons kan dit ook met ʼn bepaalde leerstelling doen.  Lees die hele Bybel deur die lens van dit wat ons prioritiseer as die belangrikste en sorg dat alles rondom dit pas.

Wat die Jode vergeet het, was dat die wet herhaaldelik gewys het dat dit nie werk nie!  Teen die einde van die wet is selfs Moses, die wetgewer, nie toegelaat om die Beloofde Land in Deuteronomium binne te gaan nie.  Ja, die wet is goed, maar nie kragtig nie.  Goed, maar nie transformerend nie.  Profeties, maar nie in staat om die mensehart te verander nie.

Vers 25 som vir ons as volg op:  “want Hagar staan vir die berg Sinai in Arabië en kom ooreen met die teenswoordige Jerusalem en is met haar kinders saam in slawerny.”  Soort bring soort voort.  Jou familie bepaal wie jy is.  As jy ʼn seun van die aardse Jerusalem, ʼn seun van  Hagar, ʼn seun van die Sinai-verbond is, dan is jy in slawerny.  Dit maak nie ʼn verskil of jy ʼn ongelowige of ʼn wettiese Christen is nie – Paulus plaas hulle in presies dieselfde kamp.  Sien jy dit raak? Die heidene wat God nie geken het nie, is in dieselfde kamp as die Jode wat sê dat hulle in die Messias, in Jesus, glo, maar terselfdertyd God deur middel van die wet tevrede wil stel.  Paulus sê dat almal van hulle aan die aardse Jerusalem behoort.

Maar ‘n volgeling van Christus is ‘n kind van Abraham wat deur die geloof “uitsien na die stad wat fondamente het, waarvan God die boumeester en oprigter is.”  Die huidige stad Jerusalem is deur mense gebou – die punt is dat NIKS wat deur mense gebou word, behoue sal bly nie, tensy God daar aan die werk is.  God is die Een wat besig is om ‘n nuwe Jerusalem te bou wat uit die hemel sal kom. Ons sien hierdie prentjie van die twee Jerusalems deurgaans in die Ou Testament ook.  Ek en my vrou het sopas Jeremia klaar gelees, en daar het ons die prentjie van die aardse Jerusalem, vol sonde, vuilheid en ongehoorsaamheid gesien: die Jerusalem wat verwoes, vervloek sal word.

Maar in ander dele van die Ou Testament sien ons weer prente van ‘n verheerlike, perfekte Jerusalem.  Die belofte van die ander Jerusalem is so ongelooflik – lees die Psalms of gaan kyk na die einde van Esegiël.  En moenie vergeet van die laaste paar hoofstukke van Openbaring nie!  Daar is profesieë wat vir ons onbegryplik is.  En dit  is waar God is.  Geliefdes, julle behoort nie tot die aardse Jerusalem wat deur mensehande gebou is nie, julle behoort tot die Jerusalem waarvan God die boumeester en oprigter is.  Soos vers 26 lui: “Maar Jerusalem daarbo is vry; en dit is die moeder van ons almal.”  Onthou vryheid.  Jy is vry om weer vir God te leef!  Nie omdat jy moet nie, maar omdat jy so graag wil!  Dus: wees bly!!!!  Wees verheug!

Vers 27:  “Want daar is geskrywe:  Verbly jou, onvrugbare wat nie baar nie; breek uit en roep, jy wat geen barensnood het nie, want die kinders van die eensame is meer as van haar wat ‘n man het.”  Hierdie aanhaling kom uit Jesaja 54.  Daar praat hy oor die Nuwe Jerusalem – wat ooreenstem met die vrou wat onvrugbaar was, Sara.  Maar ons weet dat, as gevolg van die beloftes van God, dat deur Sara die belofte wat aan Sara gemaak is en uiteindelik tot Christus gemaak is, miljoene deur die hekke van daardie ewige stad wat deur God ontwerp is, sal stroom.  Dit alles van ʼn vrou wat eens nie ‘n enkele kind kon kry nie.

Sien julle hierdie groot verhaal in die Skrif, veral die Ou Testament, wat besig is om vorm te kry?  Dit is so belangrik dat, wanneer ons die Ou Testament lees, ons hierdie groot narratiewe kan raaksien. Hierdie temas van slawerny en vryheid, van belofte en verbond, van tempel en offers, die betekenis van Jerusalem, die land, en die mense.  Die verstaan van hierdie basiese konsepte sal die heerlikheid van die Ou Testament vir jou ontsluit.  Paulus wys ons juis nou een geval.

Ewe skielik kry hierdie doodnormale verhale van elke dag nuwe betekenis in die lig van Christus en sy werk.  Hulle word lewendig – en Paulus wys ons hierdie verhale van ewige evangeliese betekenis.  Christus is die sleutel wat beide geskiedenis en Skrif ontsluit.  Want die hele geskiedenis, ja, die hele werklikheid, het sy oorsprong in die unieke besondere gebeurtenis van sy dood en opstanding.  Dit is die goeie nuus wat Paulus heen en weer deur die geskiedenis hoor eggo.  Daar is eggo’s van die evangelie in die geskiedenis van Israel.  Wel, wat doen ons nou hiermee, watter dinge vloei onder andere hieruit voort?  Paulus vertel dit vir ons.

 

Praktiese toepassing

Eerstens lees ons in vers 28: “Maar ons, broeders, is soos Isak, kinders van die belofte.”  Julle is kinders van die belofte.  Dit beteken: wees afhanklik van die beloftes van God.  Gaan soek dit in die Skrif – onderstreep dit.  God is getrou – maak nie saak hoe dinge vanuit ʼn menslike perspektief mag lyk nie.  Bly, soos Abraham, hoop, selfs wanneer daar nie meer hoop is nie.  Al wat nodig is om ʼn kind van die belofte te wees, is om daardie belofte te glo.  Staan as kinders van die belofte, rig jou oë op Hom – jou siel se beloning, totdat die wedloop voltooi is en die werk volbring is.  Wandel in geloof en nie in wat gesien word nie.

En weet dat hierdie standpunt jou in ʼn vuurlinie sal plaas. Jy sal as gevolg daarvan vervolg word.  Weer eens grond Paulus dit op geskiedenis, in vers 29: “maar soos destyds hy wat na die vlees gebore is, hom wat na die Gees was, vervolg het, so is dit nou ook.” Glo my, om te erken dat jy niks het nie, en dat jy swak, stukkend is en heeltemal van Jesus afhanklik is, is nie iets wat hierdie wêreld waardeer nie.  Ons harte wil soos God wees, hulle wil nie God dien nie.  Net soos dit was met Ismael en Isak, so was dit in Galasiërs.  Die seuns van Hagar, van die Sinai-verbond, was steeds besig om die seuns van die belofte te vervolg.  

Maarten Luther sê: “Wanneer iemand nie die vervolging van die seuns van Ismael wil deurstaan nie, kan hy nie daarop aanspraak maak om homself ʼn Christen noem nie.”  Ons dink dikwels dat die vervolging van buite af kom, maar dit kan ook van binne af kom.  Om die waarheid te sê, dit was die mense wat hulself Christene genoem het, maar wat op die werke gefokus het, wat verdeeldheid veroorsaak het, en twis!  Vervolging, verdeeldheid kom vanuit die kerk, gewoonlik meer dikwels as nie.  Wanneer dit wel van binne af kom, kom dit weer van twee kampe af. Die een sê dat jy te liefdevol is, dat jy harder moet wees.  Die ander sê dat jy te hard is.

En dikwels sal ʼn evangelie-gesentreerde persoon dit van albei kante af kry.  Kyk na die kerk in Galasië. Wat het vir die Galasiërs verander vandat Paulus na hulle gekom en die evangelie aan hulle verkondig het?  dit is hulle siening van die evangelie.  ‘n Vorm van wettisisme het ingekruip.  ‘n Sisteem wat floreer op persoonlike prestasie, persoonlike verhewenheid, en ongelukkig, op die vertrapping van ander.  Dit het genade, barmhartigheid en nederigheid meedoënloos platgedruk.  Wettisisme glo dat die prys verkry word deur persoonlike inspanning en beskou enige een wat in die pad van die prys staan, nie as iemand om te dien nie, maar as ʼn hindernis wat verwyder moet word.

ʼn Tydjie gelede, op ʼn groot inkopie-dag in die Verenigde State, het winkelgangers die werkers by Walmart wat in hulle pad was, vertrap.  Een Walmart-werknemer is tydens die selfsugtige stormloop stukkend getrap.  Dit is hoe wettisisme optree.  Dit is ʼn mededingende omgewing.  Ons tree op asof daar net ʼn beperkte aantal plekke vir ons beskikbaar is, en dus moet ons ander uitsny, byt en verslind in die nastrewing van ons prys.  Ons mense kan verkeerdelik dink dat die kompetisie tussen ons en ander mense is, dus stel ons reëls op en breek ander af; oordeel en bedrieg mekaar.  Dit is wettisisme.

Maar aan die ander kant sal jy dit ook kry wanneer jy sonde sonde noem.  Hulle sal sê dat hy of sy veroordelend is.  Maar vir die een wat in die evangelie glo, is dit moontlik om staande te bly, terwyl hy sonde sonde noem sonder om verooordelend te wees, want hy weet dat hy self ‘n sondaar is wat deur genade alleen gered is.

Wat ons moet doen is om seker te maak dat daar ‘n vurige liefde vir Christus is, en so veel as moontlik op te staan teen enige vorm van slawerny wanneer dit by die evangelie kom.  Jy kan nie die evangelie, of genade, vasbind of verklein deur menslike regulasies by te voeg nie.  Ons moet enige behoefte om dit te doen, uitroei.  Soos Paulus sê in vers 30: “Maar wat sê die Skrif?  Werp die slavin en haar seun uit, want nooit mag die seun van die slavin saam met die seun van die vrye erwe nie.” Dit is nie so ‘n subtiele manier om te sê dat die valse Joodse leraars uit die stad geskop moet word. In hierdie kerk is ons vry, en ons is graag passievol oor die vryheid wat ons in Christus het.  laat ons sorg dat dit so bly.

Ten slotte net ‘n paar dinge:

Die vryheid van slawerny waarvan Paulus hier praat, is vryheid van die wet, of enige iets anders godsdienstig of nie-godsdienstig wat dien as die basis van ons aanvaarding voor God.  Dit sluit in Bybelstudie, of om soos ‘n Fariseër op te tree deur na die persoon aan die oorkant van die vertrek te kyk en te dink: “Dankie tog dat ek nie soos daardie persoon is nie, of dat my familie nie soos daardie familie lyk nie.”  Die tipe denkwyse het geen plek hier nie.  Ons beskou almal beter as onsself.

Dit is anders as hoe baie mense in die westerse wêreld dink aan vryheid, waar vryheid ʼn selfgekose of selfgeboude identiteit is sodat jy jou eie oorspronklike lewenstyl kan vasstel.  Dit is belangrik om te sien dat hierdie tipe keuses die mees vulgêre en strawwende slawerny van alles is, en dit verdoem ons.  Nee, die vryheid in Christus, die vryheid van die nuwe Jerusalem, is ʼn transformerende vryheid wat ons harte laat brand wanneer ons die woorde van die opgestane Christus hoor. En dit laat ons hunker na ʼn nuwe heer en meester.  Die evangelie is vryheid, want dit is ʼn geseënde slawerny.  Hierdie gedagte word die beste in een van die ou gesange saamgevat:

Neem my gevange, Here,

En dan sal ek vry wees.

Dwing my om my swaard neer te lê,

En ek sal ‘n oorwinnaar wees.

Ek sink weg in die lewe se bedreigings

As ek op my eie bly staan;

Hou my gevange in u arms,

En dan sal my hand sterk wees.

 

My hart is swak en arm

Totdat hy sy meester vind;

Dit het geen vaste oorsprong van werke nie,

Dit verander soos die wind.

Dit kan nie vry beweeg nie

Totdat u dit met ‘n ketting getem het;

Verslaaf dit met u weergalose liefde,

En dan sal dit vir ewig heers.

 

My krag is vaag en min

Totdat ek geleer het om te dien;

Dit het nie die nodige vuur om te gloei nie,

Dit het nie die nodige aansporing nie.

Dit kan nie die wêreld regeer

Todat dit nie gedryf word nie;

Sy vlag kan skaars wapper

Wanneer u van die hemel af asem gee.

 

My wil is nie my eie nie

Totdat u dit u eie gemaak het;

As dit ‘n heerser se troon sou bereik,

Sou dit sy kroon moes opgee.

Dit staan slegs regop

Te midde van die woeste storm,

Wanneer dit op u hart gesteun het,

En in U lewe gevind het. 

 

Mag hierdie kerk vir ewig vry wees.  Amen.