Eenheid met Christus is gebaseer op God se beloftes, nie op die wet nie

Predikant: 
Ds J Bruintjes
Gemeente: 
Kaapstad
Datum: 
2017-09-03
Teks: 
Galasiërs 3: 15 - 25
Preek Inhoud: 

Geliefde gemeente,

‘n Vrou het gesterf en volgens haar testament is al haar besittings toe aan ‘n Christelike universiteit bemaak.  Die vrou se kinders, wat in ‘n ander gedeelte van die land gewoon het, was verbaas toe hulle ontdek dat hulle nie in die testament van hulle ma benoem was nie.  Alhoewel, verbaas is eintlik sagkens gestel; hulle was buite hulself.  En hulle besluit om die testament in die hof te beveg. 

Maar op die ou einde het hulle die hofsaak verloor, en daarmee saam ook die kans om nog hoegenaamd iets te erf.  Daar was niks wat hulle kon doen om die testament te verander nie.  Die wet het gesê dat ‘n testament nie verander kon word nie.

Net so is die erflating wat ons as kinders van God ontvang, gebasseer op ‘n testament wat nie verander kan word nie, verseël in die bloed van Christus.  Ek preek aan u die Woord van God onder die tema:

Verbondenheid met, en eenheid in, Christus is gebaseer op God se beloftes, nie op die wet nie:

  1. Die belofte staan bo en is belangriker as die wet
  2. Die wet wys na die belofte

Die belofte staan bo en is belangriker as die wet

Vers 15:  “Broeders, ek spreek menslikerwys: selfs ‘n mens se testament wat bekragtig is, maak niemand tot niet of voeg daaraan toe nie.”

Let op:  Paulus noem hulle hier broeders. Hy het hulle onverstandig en betower genoem, en het verraai, verstom en hopeloos gevoel a.g.v. hulle optrede.  En tog was hulle nog steeds sy broers. 

Soms kan familie die vreemdste dinge doen, maar tog bly hulle nog steeds familie.  Jy het hulle nog steeds lief.  En dit is ‘n goeie manier om ‘n bespreking te begin oor hoe ons die familie van God is

Hy begin met ‘n voorbeeld uit die alledaagse lewe.  Paulus dink heel waarskynlik aan die ou Griekse wet, wat gesê het dat ‘n laaste testament nie meer herroep, afgeskaf of verander kan word as dit eers vasgelê en amptelik geregistreer is nie.  As dit eers by die amptelike owerheid vasgestel en vasgelê is, kon hierdie dokument nie meer verander word nie.

As dit die geval is tussen mense, dan soveel te meer met en by God.

Niks in die skepping kan enigiets byvoeg of wegneem van die beloftes van God nie.  Die beloftes waarvan hy hier praat, is die beloftes wat Hy aan Abraham en sy nageslag gemaak het.  Dat Hy die land Kanaän, wat Hy hom sou wys, as erflating sou gee, en dat al die nasies deur hom geseën sal word.  Die wet, wat daarna gekom het, kon nie die beloftes wat God aan Abraham gemaak het, tot niet maak nie.  Ook kon dit niks daarby voeg nie.  Die beloftes was ‘n heenwysing na, en het alles te doen gehad, met Jesus Christus – Hy was die een wat ons status as erfgename van God vasgemaak het.  Dit is die punt wat Paulus maak in die volgende vers.  Die verbondsbelofte is nie met ‘n groep mense aangegaan nie, maar met een enkele persoon.  En wie ook al in Hom geglo het, het ook in sy erflating gedeel.  Ja, Jesus Christus deel alles wat Hy het, met ons.  En alles behoort aan Hom.  Soos ons lees in 1 Korinthiërs 3:  “ alles behoort aan julle, of dit Paulus is, of Apollos, of Cèfas, of die wêreld, of lewe, of dood, of teenwoordige, of toekomstige dinge – alles behoort aan julle; maar julle behoort aan Christus, en Christus aan God.”

Dit is alles in Christus, soos wat ons lees in vers 16:  “Nou is aan Abraham die beloftes toegesê en aan sy saad. Hy sê nie: En aan die sade, asof dit op baie sien nie, maar op een: En aan jou saad, dit is Christus.”  “Saad” is hier ‘n kollektiewe selfstandige naamwoord, amper soos vir familie.  ‘n Familie dui op baie, maar is tog enkelvoudig.  Net so kan “saad” op baie dui, maar is tog ‘n enkelvoudige selfstandige naamwoord.  En Paulus sê dat, toe die Heilige Gees daardie beloftes enkele duisende jare gelede aan Abraham gemaak het, Hy Jesus Christus bedoel het.  Dit was ‘n belofte aan Christus, dat deur Hom alle nasies geseën sal word, en dat almal wat in Hom glo, die land van ewige rus sal beërwe.  ‘n Nuwe en volmaakte skepping, met mense herskep na die beeld van Christus.  Hierdie beloftes is lank voor die wet gegee, en die wet het nie enigiets daaraan toegevoeg of daarvan weggeneem nie.

In vers 17 som hy op wat hy probeer sê, naamlik:  “Maar ek sê dít: die wet wat vierhonderd-en-dertig jaar later gekom het, maak die verbond wat deur God in Christus vantevore bekragtig is, nie kragteloos om die belofte tot niet te maak nie.”  Dit is waarop ek probeer wys.  Dit is my punt.  Luister mooi.  Die wet het glad nie die beloftes wat aan Abraham gemaak is, vervang of weggedoen nie.  Die verbondsbelofte was alreeds daar, dit is alreeds gemaak, en niks sou dit kon keer nie.  Dus, indien jy dalk dink dat jy die beloftes van God deur middel van die wet kan verkry, dan is jy heeltemal verkeerd.  En dan mis jy die punt met 430 jaar.  Dan is dit nodig dat jy teruggaan na die beloftes wat aan Abraham gemaak is, en met sy Saad, wat Christus is.  In Hom is die beloftes vervul.

Die woord “belofte” is hier die sleutelwoord.  Dit word altesaam 8 keer in die laaste verse van hierdie hoofstuk gebruik.  In die beloftes sê God:  “Ek sal dit doen.  Ek sal dit doen.  Ek sal dit doen”.  Maar die wet van Moses sê:  “Jy moet dit doen.  Jy moet dit doen.  Jy moet dit doen”. 

Op hierdie manier is Jesus die vervulling van die belofte, asook van die wet, want Hy het dit gedoen.  ‘n Belofte moet geglo word.  ‘n Wet moet gehoorsaam word.  ‘n Belofte is God se plan, God se genade, God se inisiatief.  Die wet is die mens se plig, die mens se werk, die mens se verantwoordelikheid.  Paulus gebruik die woord “belofte” i.p.v. “verbond”, heel waarskynlik a.g.v. die feit dat die woord “verbond” ‘n gelaaide betekenis gehad het in daardie tyd – van belofte en verpligting.  Soms dink ons ook so.   Gedeeltelik omdat ons baie gou die idee van belofte en verpligting verkeerd verstaan.  Paulus waarsku ons dat ons daarvan seker moet maak ons verstaan dat die belofte groter prioriteit het as die wet.  Ons moet versigtig wees om nie die wet op ‘n te hoë voetstuk te plaas nie.  Dit is nie die kern of middelpunt van God se bedoeling vir hierdie wêreld nie.  Dit het slegs ‘n byfunksie, ‘n tydelike funksie.  Moenie dink:  God doen dit, en ek doen dat, en dan is alles goed nie.  God doen alles, en ons is deel van sy werk.  Dit wat belowe is, sal nooit verkry word deur gehoorsaamheid aan die wet nie.

Soos ons in vers 18 lees:  “Want as die erfenis uit die wet is, dan is dit nie meer uit die belofte nie.  Maar God het dit aan Abraham deur ‘n belofte genadiglik geskenk.”  Dit is die een of die ander.  As dit deur die wet verkry word, dan kan dit nie deur die belofte verkry word nie.  Die erfenis was die land in die Ou Testament, wat dui op die nuwe skepping in die Nuwe Testament, waarvan Christus die eerste vrug is.  Daar is geen menslike kriteria wat kan maak dat jy deelkry aan daardie nuwe skepping nie. Slegs geloof in Christus.  Dit is waarom Paulus aan die einde van hierdie brief sê dat die besnydenis of onbesnedenheid niks beteken nie.  Wat saak maak, is ‘n nuwe skepping.  En daardie nuwe skepping word gevind in Christus.

Die wet sê dat jy God se genade kan verdien.  Maar ‘n belofte kan nie verdien word nie.  Die enigste manier om ‘n belofte te verkry of ontvang, is om dit te glo, om te vertrou.  As iemand belowe om aan my ‘n huis ter waarde van tienmiljoen Rand in die duurste area van Kaapstad te gee, is daar niks wat ek kan doen om daardie belofte vervul te kry nie.  Ek kan slegs kies om daardie belofte te glo of nie.  Ek kan dalk wel probeer om my eie huis te verkry in geval my ryk vriend nie sy belofte nakom nie, maar ek kan nie self sy belofte aan my tot vervulling laat kom nie.  Net so is dit ook met God se beloftes.  Slegs God kan hulle vervul.  En ons kan kies om Hom te glo of nie.  Ons kan selfs probeer om ‘n patetiese aardse koninkrykie te vestig, in geval God se beloftes nie tot stand sou kom nie.  Maar ons kan God nie forseer om dit aan ons te gee nie.  Ons sal dit deur geloof moet aanvaar.

Hier is ‘n praktiese punt waarvan ons dikwels vergeet:  God handel met ons volgens die beloftes, en nie volgens ons dade nie.  Saligmaking berus nie in die wet wat ons verbreek nie, maar dit berus in die beloftes wat God nie kan breek nie.  Sy beloftes kan nie teruggeneem of tot niet gemaak word nie.  Hulle staan vir altyd vas.  Ons saligmaking is nie ‘n kommersiële transaksie nie, dit is nie ‘n soort ooreenkoms wat jy met God aangaan nie.  Dit is ‘n belofte wat God aan jou maak. 

Van watter nut is die Wet dan?

Paulus gaan voort deur die stel van ‘n baie logiese vraag, wat, vermoed ek, die meeste mense op hierdie punt in die brief hom- of haarself afvra, naamlik:  “Wat beteken die wet dan?”  As alles wat God aan ons skenk, deur die belofte aan ons gegee word, waarom dan die wet?  As dit alles geskenk word deur die belofte aan Abraham, hoekom het God dan ooit die moeite gedoen om die wet te gee?  Hoekom het Hy dan ooit die tien gebooie en al die ander wette en reëls gegee?  Wel, gaan Paulus verder in vers 19“Dit is bygevoeg weens die oortredinge, totdat die saad aan wie die belofte gedoen is, sou kom;”

Dit is bygevoeg weens die oortredinge.  Wat op aarde beteken dit?  Die wet is bygevoeg, sodat God vir ons kon aantoon dat ons oortreders is.  Die woord wat hier gebruik word, beteken die oortreding van ‘n spesfieke wet.

Daar is twee maniere waarop kinders in die moeilikheid kom.  Op ‘n baie jong ouderdom kom hulle in die moeilikheid vanweë dit wat hulle nog nie weet nie.  Dus, vanweë onkunde.  Toe my kind nog klein was, het sy nie besef dat water nie oor ‘n selfoon gegooi behoort te word nie; maar ook toe het ek gesê: “Nee, dit mag nie.”  Maar namate sy ouer word, beland sy in die moeilikheid oor dit wat sy wel weet.  Ons het haar ‘n reël gegee, maar tog oortree sy dit.  Albei is sonde, maar vir Paulus is die laaste voorbeeld ‘n oortreding.  Dit is ongehoorsaamheid vanweë die feit dat jy daar ‘n besef is dat dit teen die reëls is.

En vir Paulus – daar was geen “oortredings” vanaf Adam tot by Moses nie, want daar was geen spesifieke wet nie.  Dit was die sogenaamde “baba- of peuter-stadium” van God se kinders.  Toe hulle die wet van Moses ontvang het, het hulle oortree vanweë dit wat hulle geweet het.  Dit het hulle skuld vergroot.  Die wet lê ons sonde bloot vir presies dit wat dit is.  Die wet maak nie die sonde beter nie, inteendeel, dit maak die sonde erger, omdat ons spesifieke reëls oortree.  Romeine 3:20 : “aangesien uit die werke van die wet geen vlees voor Hom geregverdig sal word nie, want deur die wet is die kennis van sonde.”  In die woorde van Luther:  ”die hoof- en werklike doel van die wet is om vir die mens aan te toon: sy sonde, blindheid, ellende, boosheid, onkunde, haat en minagting van God, dood, hel, verdoemenis en verdiende toorn van God.”

En weet jy wat?  Dis ‘n goeie ding.  Ja, u hoor reg, ek het gesê: ‘n goeie ding – want dis soos die oprit om op die snelweg van die Evangelie te kom.  Met daardie spieël van die wet sien ons hoe nodig ons Jesus het.  Die wet wys ons die behoefte aan die belofte.  Maar die wet was nooit bedoel om ons in staat te stel om in die regte verhouding met ons Skepper te leef nie.  In werklikheid was die wet ver van God af, want dit is deur engele gegee, aan ‘n tussenganger, ‘n middelaar, nl. Moses.  Daar was ‘n hele klomp bemiddeling ter sprake toe God die Wet gegee het. En geen bemiddeling nie toe God die belofte gegee het.

Soos ons aan die einde van vers 19 en in vers 20 lees:  ”en dit is deur engele beskik deur tussenkoms van ‘n middelaar.  En die middelaar is nie net vir een nie;  maar God is een.”  Die belofte het direk van God af gekom, maar nie die wet nie.  Stefanus sê in Handelinge 7:53 :  “die wet is deur die beskikking van engele ontvang”.  En ook in Hebreërs 2:2 staan daar:  “die woord deur engele gespreek.”  Die Jode was trots op hierdie feit, maar Paulus sê dit dui daarop dat die wet ondergeskik is aan die belofte.  Die belofte is deur God self gemaak op grond van sy eie ewige wil.  Die wet het deur Moses, die middelaar gekom.  Die belofte het reguit uit die hemel gekom, van God af.  Vir die wet was ‘n middelaar nodig, want sondaars kan nie voor God verskyn nie.  Maar deur die belofte het God tot die mens gekom.  Die wet is bemiddel.

Dus die wet is bygevoeg nie om ons nader aan God te bring nie, maar om aan ons te wys hoe ver ons van God verwyder was.  Die wet was daar om aan ons die diep kloof te wys wat daar tussen ons en God was.  ‘n Kloof so wyd en so groot dat daar nie ‘n enkele manier was om dit te oorbrug nie.  Die wet het aan ons gewys dat ons verdoem was, dat daar werklik geen hoop vir ons was nie.  Ons was onder die regverdige toorn van God.  Dit is wat die wet gedoen het.  Die wet is die rede vir die Evangelie.

Dan vra Paulus die volgende logiese vraag aangaande die wet in vers 21“Is die wet dan teen die beloftes van God?”  Op hierdie stadium lyk dit na ‘n baie redelike vraag, en daarom is sy antwoord ietwat van ‘n verrassing.  “Nee, stellig nie!”  Glad nie!  Soos hy verder verduidelik:  “Want as daar ‘n wet gegee was wat krag het om lewend te maak, dan sou die geregtigheid werklik uit die wet wees.”  U sien, sou daar ‘n wet wees wat ons volmaak kon gehoorsaam, dan sou ons geregverdig wees vanweë die wet en dan sou ons daardeur die lewe kon hê.  As die wet die lewe kon skenk, was daar nie meer ‘n behoefte aan die belofte nie.  Die Jode het gedink dat die wet lewe kon gee.  In ‘n ou Joodse boek het hierdie woorde gestaan – “baie wette, baie lewe.”  Of: “as hy onderrig uit die Torah ontvang het, dan het hy vir homself die ewige lewe verkry.” 

Maar ons is almal ongehoorsaam – onder die wet is ons almal onder die doodsvonnis.  En die dood is een van daardie dinge wat niemand wil hê nie.

Die wet was egter nooit die probleem – maar ons is die probleem.  Dis nie lewe-gewend nie, vanweë ons, maar dit laat die sonde toeneem, vanweë ons.  Ons sondig – die wet maak dit net erger – maar in ‘n sekere sin dwing dit ons ook om genesing te soek.  Dit is amper soos chemoterapie.  Want wanneer chemoterapie gebruik word, gee dit nie lewe nie, dit vernietig eintlik gesonde weefsel sowel as die kanker.  Gedurende die behandeling begin die pasiënt slegter voel.  Maar dit is noodsaaklik vir die pasiënt se langtermyn gesondheid.  Op dieselfde manier is die wet die behandeling wat ons slegter laat voel, sodat ons genesing in Christus kan vind. 

Die wet kan dus nie lewe gee nie en dit kom nie direk van God af nie.  Dit het ‘n tydelike rol gehad in die geskiedenis van God se verlossingswerk.  Dus, wat doen dit dan?  Vers 22“Maar die Skrif het alles ingesluit onder die sonde, sodat die belofte uit die geloof in Jesus Christus aan die gelowiges gegee kon word.”  Die hele wêreld was ‘n gevangene van die sonde – “Hulle het almal afgewyk, saam het hulle ontaard.  Daar is niemand wat goed doen nie, daar is selfs nie een nie.” (Rom. 3:12).  Die wet kan ons nie regverdig maak voor God nie, maar dit kan ons na die geloof dryf.  Geloof wat wel regverdig maak.  Deur die verklaring te maak dat niemand regverdig is nie, dat ons almal gevanges is van die sonde, bewerk die wet ‘n waardevolle diens aan die hele mensdom.  Dit skreeu dit uit!  ONS HET ‘N REDDER NODIG!!!  Ons het ons vasgeloop.  Ons is gevange.  Ons het iemand nodig wat tussen God en ons instaan en die verdoemenis kan stuit. 

Daarom was ons deur die wet gevangenes van die sonde, “sodat die belofte uit die geloof in Jesus Christus aan die gelowiges gegee kon word.”  Dit het die menslike sonde helder en duidelik gemaak en onbetwisbaar as oortreding aangetoon;  op hierdie manier het dit die mens, oor die verlossend-historiese tydlyn, na Jesus Christus gedryf.

Paulus sluit af met twee voorbeelde van hoe die wet na Christus lei.  Vers 23:  “Maar voordat die geloof gekom het, is ons onder die wet in bewaring gehou, ingesluit met die oog op die geloof wat geopenbaar sou word.”  Ek weet nie of jy al ooit by ‘n hoë sekuriteitsgevangenis was nie.  Jy word soontoe gestuur wanneer jy lewenslange tronkstraf opgelê word.  Die wet is soos ‘n hoë sekuriteitsgevangenis wat ons tot lewenslange tronkstraf vonnis.  Die gevangenis dien ook as ‘n beskerming – beide vir ons eie beswil, en vir die beswil van ander. 

So het die wet wag gehou, en elke moontlikheid om te ontsnap, dopgehou.  Die wet het die gebooie daargestel, soos wagte rondom ‘n gevangenis.  En alhoewel hulle keer op keer probeer het om te ontsnap, het die ysterband nie meegegee nie.  Maar die dag van geloof kom nader – selfs noudat die lig in die duister skyn, en hy hoor die woorde van Jesus:  “jou sondes is vergewe, gaan in vrede.”  Daar is ‘n man wat die krag van die wet verbreek – die krag wat verdoem – want Hy is vir jou verdoem.  Jy hoor die woorde en jy is vry, met geen lewenslange vonnis oor jou nie. 

Paulus gebruik ‘n ander voorbeeld in verse 24 & 25:  “Die wet was dus ons tugmeester na Christus toe, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof.  Maar nou dat die geloof gekom het, is ons nie meer onder ‘n tugmeester nie.”  Die wet was soos iemand wat ‘n kind opgevoed het, en hom gedissiplineer het.  Hy het die kinders vertel wat om te doen en hulle gestraf as hulle dit nie gedoen het nie.  Die kinders het nie altyd van die wet gehou nie, net soos tieners nie daarvan hou om vergesel te word as hulle die eerste keer uitgaan nie.  Maar die wet het God se kinders voorberei vir volwassenheid.  En soos elke voog of ouer het die wet homself uit sy funksie uitgewerk.  As die kind volwasse word, het hy/sy later nie meer toesig nodig nie. 

So sien ons dat die wet nie net ‘n funksie in die heilsgeskiedenis het nie, maar ook op ‘n persoonlike vlak.  Die wet is steeds belangrik omdat dit sonde aantoon as sonde.  Sonder die wet sou ons soos moraliste gedink het dat ons dit kan doen, of soos relativiste gedink het dat God nie omgee dat daar gesondig word nie.

Soos een kommentator sê:  “Relativiste is gewoontlik nie-godsdienstig, of hulle verkies wat genoem word “liberale” godsdiens.  Oppervlakkig gesien is hierdie mense gelukkiger en meer tolerant as moraliste of godsdienstige mense.  Alhoewel hulle dalk hoogs idealisties is in terme van die menslike maatskappy, glo hulle dat almal vir hulself moet bepaal wat reg en verkeerd is.  Hulle is nie oortuig daarvan dat God regverdig is en sondaars straf nie.  Hulle mag dalk baie oor God se liefde praat, maar omdat hulle hulself nie as sondaars sien nie, beteken God se liefde niks vir hulle nie.  Maar die wet wys juis dat sy liefde groot waarde het.  Die konsep van God se liefde in die Evangelie is baie ryker, dieper en ingrypender as wat relativiste dink.”

Maar die Evangelie staan teenoor moralisme:  die standpunt dat jy aanvaarbaar is deur wat jy vermag.  Moraliste is dikwels baie godsdienstig.  En as hulle is, dan is hulle godsdiens taamlik konserwatief en vol reëls.  Teenoor die liefdes-God van die relativiste, beskou die moraliste vir God as baie heilig en regverdig.  Hierdie standpunt lei òf tot a) self-haat (want jy kan nooit die standaarde bereik nie) òf tot b) opgeblasenheid (want jy dink juis dat jy alle standaarde bereik).  Dit is ironies om te besef dat minderwaardigheid en hoogmoedigheid dieselfde wortel het.  Maar die depressiewe moralis verstaan nie die Evangelie nie en die self-opgeblaasde moralis verstaan nie die diepte van die wet nie.

Sien julle hoe die Evangelie ons weghou van moralisme sowel as van relativisme.  God  se regverdigheid en liefde is verenig aan die kruis.  En deur ons oë daarop gefokus te hou, sal dit ons weghou van die moralistiese afgrond en van die relativistiese moeras.  Laat die wet dus sy werk doen deur jou te dwing om na Christus te kyk.  Soos een kommentator dit uitdruk:  “Eers as die wet ons gewond en verslaan het, sal ons erken dat net die Evangelie ons wonde kan heel.  Eers as die wet ons gearresteer en gevange geneem het, sal ons ons tot Christus wend om ons vry te maak.  Eers as die wet ons verdoem en doodgemaak het, sal ons na Christus roep vir regverdigheid en lewe.  Eers as die wet ons tot wanhoop in onsself gedryf het, sal ons in Jesus glo.  Eers as die wet ons verneder het tot die hel, sal ons ons tot die Evangelie wend om die hemel te beërwe.”  Soos Paulus sê in Romeine 7:24 :  “Ek, ellendige mens!  Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood?  Ek dank God deur Jesus Christus, onse Here!”

AMEN.