Die Evangelie van genade word weerspieël in die lewe van 'n Christen en in die Bybel

Predikant: 
Ds J Bruintjes
Gemeente: 
Kaapstad
Datum: 
2017-08-27
Teks: 
Galasiërs 3: 1 - 14
Preek Inhoud: 

Geliefde gemeente, onthou u nog dat ons gepraat het oor hoe vers 1-6 van Galasiërs uit ‘n hart van liefde kom.  Wel, hier raak Paulus ‘n bietjie meer gefrustreerd met sy skape wat probeer om oor die hek, uit die weiveld van Christus, te spring.

Hoewel vandag se teks op ‘n harde manier praat, kom hierdie hardheid vanuit dieselfde liefde en kommer as wanneer jy jou kind van ‘n besige straat sou gryp.  As jy jou kind van die straat af gryp, sê jy nie:  “Jong, jy is so vinnig.  Ek het nooit gedink jy gaan van my af weghardloop in die rigting van die besige pad nie.”  Wat gaan jy wel sê?  “Is jy mal?!”  Kom kyk na hierdie dooie eekhorinkie.  Kyk daarna. Weet jy hoe maklik dit jy kon gewees het?  Moenie in die pad hardloop nie.”  Reg?  Is dit nie wat jy sou gedoen het nie?  Met die meeste van ons het so-iets dalk nie gebeur nie, maar glo my, jou hart sal vinniger klop en jou stemtoon sal verhoog.  Hoekom?  Omdat jy lief is vir hulle.

Dis dus harde woorde.  Jy kan nie daaraan verbykom nie, maar tog hulle is liefdevol.  Die teenoorgestelde van liefde is nie altyd haat nie, maar in ons kultuur is dit meesal onverskilligheid.  Laat hulle doen wat hulle wil en ek sal doen wat ek wil.  Maar dit is nie liefde nie…  liefde is altyd aktief. Dis nie: “moenie aan ander doen wat hulle miskien aan jou sou gedoen het nie”, maar eerder: doen aan ander soos jy wil hulle aan jou moet doen!  Liefde is aktief en Paulus het hulle lief as hy vra dat hulle bewus moet word van hulself en van die Skrif.

Die Evangelie van Genade word weerspieël in die lewe van ‘n Christen en in die Bybel:

  1. In die lewe van ‘n Christen
  2. In die Bybel

 

In die lewe van ‘n Christen

Paulus begin in vers 1:o, Onverstandige Galasiërs, wie het julle betower om die waarheid nie gehoorsaam te wees nie, julle voor wie se oë Jesus Christus afgeskilder is as onder julle gekruisig?” Dit is asof ‘n gladdebek duiwel julle betower het!  Deur my prediking kon julle duidelik sien hoe Christus vir julle aan die kruis gehang het!  Ek het dit in die openbaar aan julle vertel.  Ek het dit nie weggesteek nie.  Ek het dit van die dakke verkondig!  Christus as die gekruisigde! Dit was so duidelik, dit was asof julle dit met julle eie oë gesien het!  Hy was vervloek en in die openbaar tot skande gemaak.  Moenie maak asof hy dit verniet gedoen het nie.  Dit is dwaas.  Daar is nie ‘n ander woord om dit te beskryf nie.

Jy sien, hulle het Jesus nie eintlik as die gekruisigde gesien nie, maar hulle het wel op die evangelie gereageer.  Die evangelie waarop hulle gereageer het was, in elke opsig – geskiedkundig, filosofies, en met die heilige geskrifte – op so ‘n wyse aangebied dat die toppunt, die ding wat alles bymekaar hou, die gekruisigde Christus was.

Paulus sê in vers 2:  “Dit alleen wil ek van julle weet: het julle die Gees ontvang uit die werke van die wet of uit die prediking van die geloof?”  Die kern van die vraag kom hierop neer:  Waar was jy toe Christus jou gevind het?  Wat was jy toe God jou gered het?  Het God met jou ‘n ooreenkoms gemaak en gesê:  “Broer, suster, as jy hierdie ding doen, dan sal ek jou red deur Jesus Christus.”  NEE!  Natuurlik nie!  God sê nie:  “Wel, ek sal jou graag as my kind wil hê, maar eerlikwaar, jy is nie goed genoeg nie. Jy sal ‘n paar goed moet verander – hou op om die f-woord te gebruik, of al daardie Afrikaanse woorde wat jy die heeltyd gebruik.  Hou op om seksueel te sondig.  En los die partytjies soos waaraan jy so gewoond was.  Dan sal ek terugkom om te bepaal of jy my waardig is.”  Dit is nie wat God doen nie.  Hy het bloot net vir my en vir jou gered.  In ‘n oomblik.  Party van ons kan nie ‘n spesifieke dag onthou nie, maar weet dat die Bybel duidelik is op hierdie punt.  “Toe ons nog sondaars was, het Christus vir ons gesterf (Romeine 5:8).”  Waar was jy toe God jou gered het?

Paulus vervolg in vers 3:  “Is julle so onverstandig?  Nadat julle met die Gees begin het, eindig julle nou met die vlees?” Die basis van die vraag hier is:  “Hoe het jy volwasse geraak in die geloof?  Hoe het jy gegroei van waar God jou gevind het?”  Kom ons wees eerlik.  Geestelike groei gebeur nooit regtig so vinnig as wat ons dit wil hê nie.  As ons eerlik met mekaar is, die meeste van ons weet nie eers dat ons groei as ons groei nie.  Die meeste van ons voel amper die hele tyd staties.  En dan kyk ons sommige dae terug en kom agter dat God in ons gewerk het en dat ons meer volwasse is.

Dit is amper soos om ‘n kind te sien opgroei.  Jy kan hulle heeldag sit en dophou en niks gebeur nie.  En dan eendag kom hulle die vertrek binne en lyk ‘n bietjie langer.  So is dit met Christelike volwassenheid. Dis stadig, opdraand, en in die meeste van ons nooit ‘n vinnige proses nie.  Maar met God se genade moet dit vir ‘n Christen moontlik wees om terug te kan kyk op die laaste tien jaar en te sê:  “Ja, ek groei.”  Ons kan dit sien in die onverwagte oomblikke, wanneer ons agterkom dat ons anders reageer op situasies as wat ons jare gelede gedoen het.  Wanneer jy jouself meer sien bid en die Bybel meer begin liefkry.  Alles God se werk; die punt is dus: as jy nie gered is deur die wet nie en die wet jou nie gehelp het om so ver te groei nie, hoekom wil jy daarnatoe terugkeer.

As jy nie geloof in Jesus Christus het nie en jy luister na die Tien Gebooie, dan sal jy nêrens kom voor God nie.  Die Tien Gebooie bring jou nie ‘n tree nader aan God nie.  Geloof in Christus doen.  Dis nie die Tien Gebooie of die wet wat jou help groei nie – dit was jou eenheid met Christus deur die Gees wat jou help groei in gehoorsaamheid.  As God jou dus gered het toe jy nog ‘n sondaar was, en Hy jou gebring het waar jy is deur die eenheid met Hom deur die Gees, hoekom gaan jy terug om op menslike probeerslae staat te maak?  Al jou lyding vir Christus sal verniet wees!

Vers 4:  “Het julle verniet so baie gely? As dit maar verniet was!”  Jy sien, as jy teruggaan na die wet, dan het Christus se dood geen waarde vir jou nie.  Jy verlaat die pad van die kruis as jy hierdie pad volg. Ons hoef nie ver te gaan om te sien watter vervolging hierdie kerke verduur het nie. Lees maar net die boek Handelinge: in elke stad waar hy uitermate sukses geniet het, het hy ook baie vervolging ondergaan – dikwels deur die hande van die Jode.

Volgelinge van Christus sal swaarkry in hul lewe ervaar.  Maar luister na my…  as jy geloof in Christus het, dan het jou lyding betekenis in hierdie lewe.  Elke traan, elke seerkry, elke belediging dra gewig in die ewige lewe.  As jy op die weg van die evangelie is, dan het lyding en vervolging betekenis.  Buite die spore van die evangelie beteken lyding slegs dat jy kry wat jy verdien.  Jesus Christus leer ons heeltemal anders oor vervolging as wat die wêreld om jou, of selfs die kerk, jou somtyds leer.  Hy sê: “geseënd is jy wanneer ander jou vervolg…  verheug jou en wees verblyd.”

Ons bekommer ons deesdae so baie daaroor om die boodskap aantreklik te maak en om nie vervolg te word vir wat ons glo nie.  Ons wil nie gesien word as hiper-spirituele mense nie.  Ons wil nie as ‘n vreemde wese beskou word nie.  Ons wil dit aanvaarbaar maak.  Ons wil Jesus op ‘n beter en nuwer manier aanbied.  Ons hoef egter nie doelbewus ongewoon op te tree nie...  ons kan nog steeds ons naaste liefhê, maar ons moet nie evangeliese waarhede aanpas om dit meer aantreklik te maak nie.  As Jesus alles is, dan sal ek en jy ly om ons lewe vir Hom te gee, om ‘n verhouding met Hom te hê.  te wees.  Om tot Paulus se punt te kom…  Lyding in Christus het betekenis – maar buiten Christus is ons lyding tevergeefs!  En dan kom ons by die laaste vraag.

Gee God jou sy Gees en laat Hy wonders deur jou werk omdat jy die wet onderhou of omdat jy glo wat jy gehoor het?  God bewerk nie wonders omdat ons dinge doen nie, maar God bewerk wonders omdat ons glo dat God regtig is Wie Hy sê Hy is.  En omdat Hy gedoen het wat Hy gesê het Hy sal doen, weet ons dat enigiets wat ons van Hom vra, nie groter sal wees as wat Hy alreeds gegee het nie. Partykeer gebeur daar nie groot dinge in ‘n kerk nie, nie omdat mense dit eintlik nie meer glo nie, maar hulle is te veel geïndoktrineer deur die religie van naturalisme en materialisme.  Ons het nodig om doodeenvoudig net te glo.

Kyk terug op jou lewe, kyk terug op die lewe van die kerk, en laat ek julle ‘n paar vrae vra.  Ons gaan ‘n bietjie selfondersoek doen.  Is ons waar ons is as gevolg van wat ons gedoen het, of as gevolg van wat God gedoen het?  Persoonlik en as ‘n kerk.  Ek is nie seker van julle nie, maar ek weet dat ek is waar ek is alleenlik deur genade.  En as ons terugkyk na die geskiedenis van hierdie kerk en van die kerk die afgelope tweeduisend jaar, dink ek ons kan dieselfde bely.  Die lewe van die kerk en die Christen se lewe is ‘n testament vir Christus in ons, en ons in Christus. So moenie probeer om na die wet terug te keer nie!  Kyk net na die Bybel!

 

Die Boodskap van Genade in die Bybel

“Kyk na Abraham: Hy het in God geglo, en dit is hom tot geregtigheid gereken.”  “Laat ek Abraham as voorbeeld gebruik vir wat ek hier sê,” sê Paulus.  Abraham was een van daardie mense wat geglo het omdat hy gehoor het.  Hy was ‘n Christen voordat daar Christene was.  Hy het geloof gehad.  God het gesê:  “Neem jou vrou, neem jou goed, ons gaan na ‘n nuwe plek.”  Abraham: “Waar?”  God: “Ek sal jou sê wanneer ons daar aankom.”  En hy het gegaan.  God het na hom gekom toe hy reeds in sy negentigerjare was en gesê: “jy sal ‘n seun kry.”  En hy het Hom geglo.  Heelwat jare later beveel God hom: “Gaan, offer jou seun.”  As jy nuut is hier, hy offer hom nie, dus hoef jy nie weg te vlug nie. God verskaf eintlik ‘n offer wat Jesus Christus voorafskadu.  Abraham was gered omdat hy geglo het. Dis dit.

Hoor nou – Abraham is gered 430 jaar voor die Tien Gebooie en die res van die Tora.  Dink daaroor na. In hierdie kerk lê ons baie klem op die Tien Gebooie, en daar is goeie redes daarvoor.  Maar mense is op die Christelike manier gered lank voordat die Tien Gebooie of die res van die wet bestaan het!  God het hom aanskou as regverdig deur geloof alleen in wat sou kom – die Lam, geoffer vir die sondes van die wêreld.

“Verstaan dan,” vervolg Paulus in vers 7, “dat hulle wat glo, kinders van Abraham is.”  Dit is hulle wat glo, wat kinders is.  Die Jode het gedink hulle is gered omdat hulle etniese Jode was, hulle was etnies God se kinders.  ‘n Manier hoe dit in ons kultuur vandag na vore sou kon kom is dat jy ‘n Christen is omdat jou ouers dit is.  Jou ouers se geloof het nie invloed op jou geloof nie. Dit is deur geloof alleen dat jy voor Hom staan en slegs deur wat Hy gedoen het.

Dit is hoekom ek vir die afgelope 5 weke by julle gepleit het, julle gesmeek het om julle oë nie op julself te rig nie, maar op Jesus.  Hou op om na jouself te kyk of jy dit nog wel goed doen of nie.  Kyk na Jesus wat uitstekend aan God se verwagtings voldoen.  As jy geloof in Hom het, dan is jy ‘n seun van Abraham. Baie van julle sal hierdie liedjie miskien ken:

“Vader Abraham had baie seuns,

Baie seuns had Vader Abraham,

Ek is een van hul, en so is jy

So kom ons prys die Heer,

Regterarm, linkervoet…”

As jy die bewegings wil leer, vra my later).  Nog een keer:  Wie is Abraham se kinders?  Hulle wat glo in die lewe, sterwe en opstanding van Jesus Christus.  Dit is die evangelie – en Abraham het dit verstaan.

Paulus sê in verse 8 & 9:  “En die Skrif wat vooruit gesien het dat God die heidene uit die geloof sou regverdig, het vooraf aan Abraham die evangelie verkondig met die woorde: In jou sal al die volke geseën word.  Sodat die wat uit die geloof is, geseën word saam met die gelowige Abraham.”  Die wet is ‘n diagnose.  Dit sê vir jou dat jy siek is.  Die geskenk vir die mensdom is nie die wet nie, maar Jesus Christus.  Die goeie nuus het alreeds die rondte gedoen 430 jaar voordat die wet selfs bestaan het.

God regverdig ons deur geloof:  Een van die maklikste leringe om te vergeet.  As jy soos ek is, dan word jy gefrustreerd wanneer jy voel dat jy nie iets bereik het nie.  Wanneer my vrou my vir ete roep, moet ek kan voel dat ek vordering gemaak het.  As ek nie voel dat ek vordering gemaak het nie, dan word ek gefrustreerd.  Dit kan dan voel soos ‘n dag wat gemors is, selfs al is dit nie.

Wel, wat gebeur is dat daardie selfde gevoel homself heg aan my verhouding met God.  Dit is baie makliker vir my om te DOEN as om te WEES.  Dink jy ook so?  As ek GOED besig is, dan kan dit vir my voel of God baie lief is vir my.  Natuurlik weet ek van beter, maar in my hart voel dit vir my of God dan meer tevrede met my is.  Dan, by die gaan van my gedagtes, dan voel dit dat, wanneer ek nie so goed besig is nie, nie so gedissiplineerd nie, nie so akkuraat nie, dan sal Hy wel nie so tevrede wees nie.  Ek is seker dat daar meer van ons is wat so voel.  Maar gemeente: Hy het dit alles GEDOEN.  Deur geloof in Christus het Hy jou gered.  Dit is klaar gedoen!

Was dit omdat Abraham iets gedoen het dat hy as geregverdig gereken word?  Glad nie!  In werklikheid het hy ‘n klomp slegte dinge gedoen, soos om vir ander te lieg dat sy vrou sy suster was.  As dit afgehang het van wat hy gedoen het, sou selfs die beroemde Joodse patriarg, Abraham, onder die vloek geval het, omdat selfs hy nie alles in die wet kon nakom nie!

Soos vers 10 sê:  “Want almal wat uit die werke van die wet is, is onder die vloek; want daar is geskrywe:  Vervloek is elkeen wat nie bly in alles wat geskryf is in die boek van die wet om dit te doen nie.”  As jy die pad van die wet wil loop – dan moet jy dit alles nakom – volmaak.  Volmaak, anders is jy onder die vloek.  Let op: Die wet: Die Tora = is hier in teenstelling tot die geloof.  En die vloek in teenstelling tot die geregtigheid.  Dis òf die wet òf geloof.  Dit is òf ‘n volmaakte geregtigheid òf ‘n vloek.  Dit bots met ons Westerse gedagtegang waar ons selfgemaakte mense is.  As jy wil probeer – gaan voort – maar jy sal nie in staat wees om voor God te staan nie.

Vers 11:  “En dat niemand deur die wet by God geregverdig word nie, is duidelik; want die regverdige sal uit die geloof lewe.  Maar die wet is nie uit die geloof nie” – inteendeel – “maar die mens wat hierdie dinge doen, sal daardeur lewe.”  Die wet en geloof gaan nie saam nie...  in werklikheid is dit die teenoorgestelde – dit is hoekom hy sê: “inteendeel!”  Jy sien, die wet is gegrond op DOEN.  “Maar die mens wat hierdie dinge doen, sal daardeur lewe.”  Geloof is om iets in Christus te wees.  Geloof is om ‘n nuwe mens te wees.  Om onder die wet te lewe, is om te probeer om ‘n nuwe mens te wees.

Geliefde gemeente van onse Here Jesus Christus, lewe in Hom sal jou verder neem as wat die wet ooit kan doen.  Die wet was gegee deur Moses, deur Jesus Christus het genade en vrede gekom. Christelike volwassenheid kom deur geloof – ‘n deurentydse lewende verbinding met Jesus Christus.  Hoe beter ons Hom leer ken, hoe meer sal Hy vir ons beteken.  En hoe meer wil ons in Hom lewe.

Selfs die beste heiliges bely aan die einde van hul lewe dat Jesus die enigste weg was!  Kyk net na Paulus: hy was in die derde hemel, hy het Jesus gesien, en aan die einde van sy lewe sê hy: ek is die slegste van alle sondaars!  Ek wil dit uitroep: moenie so hard op jouself wees nie.   Maar dit is wat geloof in Jesus doen, dit is 'n volkome verwerping van verlossing of groei deur menslike inspanning.  Hy sê aan die einde van sy lewe:  “Ek wil Christus leer ken en die krag van sy opstanding!”  Dit is ‘n man wat Jesus ontmoet het!  Daar is meer om te weet, meer om aan vas te hou.  Daar is nie ‘n denkbeeld van ‘n volmaakte heilige aan hierdie kant van die hemel nie.  Geloof in Christus beteken dat ons aan die einde van ons wedloop sal kom en in die arms van Jesus Christus sal val.  Die regverdige lewe deur die geloof.

Dank aan God wat vers 13 laat sê:  “Christus het ons losgekoop van die vloek van die wet deur vir ons ‘n vloek te word – want daar is geskrywe: Vervloek is elkeen wat aan ‘n hout hang.”  Die woorde in die begin van die teks kom terug: “Voor julle oë was Jesus Christus duidelik afgebeeld as gekruisigde!” Hy was vervloek!  Dink jy rêrig Hy het daar gehang en die vloek tevergeefs gedra – moet dan nie so lewe nie.

“Sodat die seën van Abraham na die heidene kan kom in Christus Jesus, en dat ons die belofte van die Gees deur die geloof kan ontvang.”  Die seën van Abraham het nie na ons gekom deur die wet of deur die Jode nie, maar deur Jesus Christus!  Sodat ons die Gees mag ontvang.  Die Gees van Christus wat ons met Hom een laat word, wat ons die motivering gee om met die Gees in pas te loop.  Iets waaroor ons later meer sal praat.  Dus: hoe kan ons verseker dat ons nie weer terugval in die strik van om op ons eie werke staat te maak nie?

Eerstens: Lees jou Bybel.  Die Bybel is vol van karakters wat deur die geloof gered is.  Hulle het baie foute gehad, hulle het ver van die genade geval, en tog het God hulle gered deur Jesus Christus.  Die hele Bybel wys na een Persoon, die manier waarop jou hele na een Persoon behoort te wys.

Tweedens: Hou moed.  Ek is nie naïef nie.  In hierdie vertrek is daar wettige verslawings en wettige probleme.  Hier is alkohol.  Hier is dwelms.  Hier is losbandigheid.  Hier is ontrouheid in die huwelik.  Ek kan aangaan en aangaan.  Hier is ‘n paar lewens wat totaal verwoes is.  Maar luister gerus.  Selfbejammering sal jou vernietig.  Dit sal die lewe uit jou suig.  Dus dit wat jy moet hoor, is dit: vanuit die evangelie is daar geen sonde, geen verslawing wat kragtiger is as die kruis van Christus nie.  Hou moed.  Hou steeds moed.  Moenie sê: “Dit werk nie vir my nie,” as jy nog nooit werklik probeer het nie.

Dus, jy het nodig om jou sondes te bely en hulp te kry.  Jy sê: “Wel, ek dink ek kan dit oorkom.”  Wel, ek dink jy het ‘n paar jaar se geskiedenis wat sê dat jy nie kan nie.  As jy dit net kan loslaat, op God vertrou, en vertrou die verbondsgemeenskap van geloof om saam met jou te loop, dan mag vryheid verkry word.  Om geheime skreeuend en teenstribbelend in die lig te bring deur middel van belydenis dat jy gesond mag word, is die mees angsaanjaende dog bevrydende ding wat jy ooit kan doen.  Geloof in Christus doen dit...  dit bevry jou om te bely en aan te beweeg, om die pad van die evangelie te stap terwyl jy groei in geloof, hoop en liefde.  Sommiges is dalk so ver weg, en luister nie na die evangelie nie, omdat jy glo jy kan nie vergewe word nie en jy sit vas in al die dinge.  Jy sit nie vas nie.  Jy kan vergewe word.  Moenie die waarde van my Redder se bloed onderskat nie.  Leef in Hom.  Deur geloof; kom ons doen dit!  

Amen.