Wees gewaarsku: Dit gaan hier om die Evangelie!

Predikant: 
Ds J Bruintjes
Gemeente: 
Kaapstad
Datum: 
2017-07-23
Teks: 
Galasiërs 1:6-9
Preek Inhoud: 

Gemeente van Jesus Christus,

’n Predikant het die kerk lief, omdat hy Jesus Christus liefhet en weet dat Christus vir die kerk gesterf het. Vrye Gereformeerde Kerk van Kaapstad, julle is kosbaar en van onskatbare waarde. Dit is nie omdat julle so vriendelik of verwelkomend is, of omdat julle die sending ondersteun, of omdat julle só ’n sterk jeug het, of omdat julle só ’n wonderlike laerskool het nie. Julle is kosbaar en liefde waardig, omdat Jesus Christus sy lewe vir julle gegee het. Julle is gekoop met God se eie bloed.

En daar is niks in die hele heelal só kosbaar soos Jesus Christus se bloed nie. God het julle afgesonder. Jy is die eiendom van God, wat jou uit hierdie wêreld geroep het deur en in die genade van Christus. In Hom is ons vergewe, geroepe tot die ewige lewe. Die taak van die kerk se leiers is om hierdie pad ywerig te bewaak, sodat die kerk nie afdwaal nie, maar juis die oproep van God in Christus op hul lewens duidelik sal hoor. Dit is die enigste manier om die kerk lief te hê.

Dit is eers met hierdie agtergrond in gedagte dat Paulus se woorde in die begin van Galasiёrs werklik sin maak. Sy woede en frustrasie wat wys in die taal wat hy gebruik, is gegrond in sy omgee vir die kerk. Dominee Paulus sal alles in sy vermoë doen om seker te maak dat hulle te alle tye in die genade van Christus bly. Want slegs in die realiteit van die genade van Christus sal hulle floreer, liefde vind, groei en ’n helder lig wees vir die gemeenskap.

Vers 6-9 kom dus uit die hart van ’n herder wat die mense wat hy gelei het, sowel as die kerke wat hy geplant het, liefhet. Hy moet met hulle daaroor praat dat hulle die evangelie wat aan hulle verkondig is, verlaat het. Ek weet nie of daar iemand in jou lewe is wat sy of haar rug op God draai nie, maar daardie persoon het dringend nodigm dat jy met hom of haar praat. Maar as dit dalk jy self is, bid ek dat jy mag insien dat hierdie woorde uit ‘n hart kom wat jou belange op die hart dra.

Wees gewaarsku: Dit gaan hier om die Evangelie!

  1. Die kerk dwaal af van die evangelie as gevolg van valse leraars
  2. Valse leraars word onder God se oordeel geplaas

Die kerk dwaal af van die evangelie ...

Hy sê in vers 6: “Ek verwonder my dat julle so gou afvallig word van hom wat julle deur die genade van Christus geroep het, na ’n ander evangelie toe!”

Jy hoor die kreet uit Paulus se hart: “HOEKOM?! Hoe kan dit gebeur? Besef julle waarmee julle besig is, gemeente? Ek kan myself net voorstel hoe Paulus die nuus van die kerke gekry het en dadelik, sonder om enige tyd te mors, na sy kantoor of tent gehardloop het en onmiddellik ’n pen en papier gegryp het. Hy het ook dadelik begin by die belangrike gedeelte... Paulus ’n apostel (vers 1) – Hier is ’n opsomming van die evangelie in 5 verse – en dan in vers 6: “EK VERWONDER MY!” Anders as die ander boeke wat Paulus al geskryf het, is daar nie nou tyd vir gebede, lofprysing of dankie sê nie. Selfs vir die kerk van Korinte het hy uitgebreid dankie gesê, en in daardie kerk het sommiges geslaap met hul skoonmoeder, was daar lidmate wat nie die nagmaal met respek gebruik het nie, en boonop was hul eredienste ’n deurmekaarspul! En Paulus sê aan die begin van die boek: “Ek sê voortdurend vir God dankie vir julle, omdat julle met Christus Jesus verenig is, met genade oorlaai.”

Baie van ons sou vandag die kerk in Korinthe veroordeel, en meen dat die kerk van Galasiё op die regte pad was. Die kerk van Galasiёrs het nie sulke probleme nie. Aan die buitekant het hulle meer ordelik en gereformeerd gelyk. As daar ooit ’n tradisionele kerk was, dan was dit hierdie een! Hulle het al die pad terug gegaan na die tradisies van Moses! Die probleem is dat hulle te midde van hul ywer om tradisies te behou, verby die feit gekyk het dat al hierdie tradisies reeds vervul is deur Jesus Christus. Hy was die profetiese vervulling van al die Ou Testamentiese wette en profete!

Maar in Korinte was die evangelie self nie op die spel nie. In Galásiё was die hart van die evangelie wel self in gevaar. Hulle het nie meer verstaan wat genade beteken nie. Gemeente van Kaapstad, my broers en susters – ons moet seker maak dat ons weet wat die evangelie is.

Maar voordat ons dit doen, laat ons eers vasstel wat dit NIE is nie. Die Evangelie is nie ’n beter lewe vir nou nie. In elk geval nie in die wêreldse betekenis van die woord, dat jy dan rykdom sal ervaar, of altyd gelukkig en gesond sal wees nie. Dit gaan nie oor die versterking van jou selfvertroue of selfagting nie. Die evangelie is nie dat God goed oor ons voel, en ons daarom help nie. Die evangelie is nie dat jy hemel toe sal gaan, en dat in die hemel alles oukei sal wees nie. Alhoewel dit tog so sal wees.

Die evangelie is nie dat jy elke Sondag minstens twee keer na ’n gereformeerde kerk toe moet gaan, katkisasie toe moet gaan, jou Bybel moet lees en probeer om ’n goeie hardwerkende lewe te leef om gered te word nie. Maar wat as iemand vra: “maar hoef ek self niks te doen nie?” Daardie vraag laat my dink aan ‘n storie wat ‘n predikant eendag vertel het. In een van sy preke praat hy oor ‘n man wat een Sondagaand opgestaan het om sy getuienis te lewer. Blykbaar het hy baie klem geplaas op die groot genade van God, want na die tyd het ‘n vriend na hom toe gekom en kommentaar gelewer: “jy het baie gesê oor God se deel van jou redding. Hoekom het jy nie oor jou eie deel gepraat nie?” Die man het ‘n oomblik stilgebly en gesê: “Ek is jammer, maar my deel was om so hard ek kon van God weg te hardloop. Ek het aangehou weghardloop tot Hy my uiteindelik ingehaal het.”

Dit is die evangelie: God doen alles. Hy doen dit in Jesus Christus. Deur geloof in Hom mag jy liefde, vergewing, en lewe ontvang. Jy word verlos, geregverdig, versoen en verheerlik. Ons het alles aan God te danke. Ons was dood as dit kom by die kleinste stukkie regverdiging uit ons eie werke. Dooie mense kan niks doen nie. As jy dink dat dit 99,9 persent God is wat dit doen, en jy wat 0,1 persent doen, dan het jy die evangelie verdraai en is dit nie meer die evangelie nie! Genade en wet sluit mekaar uit as ‘n middel tot regverdigmaking. Sien julle dit – mens kan nie altwee hê nie. En dit is ’n pragtige ding. Want as dit van my sou afhang, selfs net ’n bietjie, sou dit onmoontlik wees om in die vrede en vryheid te lewe soos wat Paulus dit later in sy brief verduidelik.

Dis is alleenlik en slegs die werk van God soos ons gesien het in verse 1-5. Ons sien in hierdie verse geen menslike inisiatief nie. Zilch. Nada. Niks. Nul. Dit is alles uit genade, en dit word alles in Christus gevind.

Kyk na Jesus Christus dan sal jy die evangelie sien! Die goeie nuus is ’n historiese realiteit in Christus van regverdigheid (jy is vergewe), ’n teenwoordige realiteit in Christus van heiligmaking (ek sal jou heilig maak), en ’n toekomstige realiteit in Christus van verheerliking (nuwe skepping). Daar is moontlik geen twee meer belangrike woorde in die Skrif as “in Christus” (en Christo) nie.

 Gemeente van Christus, ek weet ek sê dit elke week, maar moet dit nie waag om julle oё van Hom af te haal nie. Die oomblik dat Christus se dood, opstanding en hemelvaart nie meer die middelpunt van ons teologie is nie dan het die genade al sy betekenis verloor. Regdeur die Nuwe testament is genade verbind aan Christus, en jy sal dit in hierdie boek ook sien. Daar is geen ander Jesus, geen ander genade, geen ander evangelie as Jesus wat die genade van God geopenbaar het aan die kruis nie. Dit is die enigste evangelie. Dit is die goeie nuus. Dit is hoekom hy in vers 7 sê : “daar is geen ander evangelie nie.” Hulle het hulle rug gedraai op die enigste Goeie Nuus in die hele wêreld. Waarom? Ons lees in vers 7: “ dat daar sommige mense is wat julle in die war bring en die evangelie van Christus wil verdraai.”

Kort nadat Paulus hulle verlaat het, het daar mense hulle kom deurmekaar maak en die evangelie verdraai. En tot Paulus se groot skok, het die kerke na hulle geluister.

Hy het nog maar pas sy reis deur Galasiё voltooi en dit was ’n reuse sukses. Hier is ’n paar uittreksels van die gebeure: In Antiochiё “het baie van die Jode en die godsdienstige Jodegenote Paulus en Bárnabas gevolg ... En toe die heidene dit hoor, was hulle bly; en hulle het die woord van die Here geprys; en ... die woord van die Here is deur die hele land verbrei.” In Ikonium het hulle “so gespreek dat ’n groot menigte Jode sowel as Grieke gelowig geword het.” In Listre was hulle soos gode verwelkom. Toe in Derbe :“hulle aan daardie stad die evangelie verkondig en ’n aantal dissipels gemaak.” Dit was nogals ’n reis gewees. Jy kan selfs sê dat dit een van die mees suksesvolle sendingsreise in die geskiedenis van die Christendom was. Dit is waarom dit so verbasend is dat die kerk so kort daarna al die evangelie weggegee het. ’n Waarskuwing vir die kerk van alle tye om altyd in die genade van God te bly. Dit het hulle net ’n paar jaar gevat voordat hulle “afvallig word van hom wat julle deur die genade van Christus geroep het.”

In plaas daarvan om te luister na die roeping van God in Christus, het hulle begin luister na ander leraars wat na hulle gekom het en die evangelie begin verdraai het. Toe Paulus na hulle gekom het, het hierdie mense hul ore en harte oopgemaak vir die stem van God, en hulle het die pad van verlossing begin stap. Maar dit was nie lank voordat hulle hul harte en ore oopgemaak het vir ander stemme nie. Hierdie stemme het die stem van genade begin oordonder, en gou kon hulle God se stem nie meer hoor bo-oor al die lawaai van die valse leraars nie.

In hierdie verwarring was die Galasiёrs besig om afvallig te word. Hulle het aan God gesê: Ons het U nie meer nodig nie. Ons is bly dat Jesus Christus gekom het, ons glo dat Hy die Messias is, en dat Hy aan ons die verlossing gebring het, maar noudat ons gered is, het ons U nie meer regtig nodig nie... Ons het die Ou Testament om op terug te val. Gemeente van Christus, ek hoop julle sien die arrogansie.

As ons enige menslike standaarde sou opstel vir regverdigheid, het ons die evangelie tekort gedoen. Ek hoop julle sien hoe maklik dit gebeur. En ek praat ook met my eie hart. Ek het grootgeword in ’n goeie Christelike huis, ek voel dat as ek net op dié pad bly, sal ek gered word. Maar dit wat ek doen kan my nie red nie! Sien julle die gevaar?

Dit is nie die evangelie van “As ek maar net al hierdie dinge doen, dan sal ek hemel toe gaan” nie. NEE!! Al hierdie dinge wat jy doen, sal jou nie ’n plek in die hemel verseker nie. Maar jy hoef ook nie by die hemel uit te kom nie, want die hemel het aarde toegekom. Dit is Jesus Christus wat die hemel na die aarde gebring het en ons doen al hierdie dinge omdat ons die vrug dra van die ewige lewe, nie omdat ons die ewige lewe wil verkry nie. Die oomblik dat ons dit omdraai, verloor genade sy betekenis – en dan neem ons ’n gedeelte van die dood van die Seun van God weg, so asof ons iets by sy werk kan byvoeg, of waarde by sy bloed kan toevoeg. En ‘n vloek rus op enige predikant of ouderling wat dit anders leer. Dit bring ons by die tweede punt.

Valse leraars word onder God se oordeel geplaas

Hierdie valse lering het die kerk van Galasië binnegedring deur leraars wat heel waarskynlik in die naam van Christus gekom het. Hierdie onderrig was ingebring deur (vers 7) “sommige mense... wat julle in die war bring en die evangelie van Christus wil verdraai.” Hierdie mense het die Galasiёrs deurmekaar gemaak. Waar eers die vrede van Christus geheers het, heers nou verwarring. Nuwe Joodse sendelinge het ná Paulus na die Galasiёrs gekom om sy werk voort te sit, maar hulle het nog vereistes by die verlossing gevoeg.

Hierdie Joodse sendelinge het waarskynlik ook dieselfde terme gebruik. Hulle het geglo dat Jesus die Messias was, die Seun van God, die gekose een van Israel – hul Verlosser. Maar hierdie Christelike Joodse sendelinge het na Galasiё gekom om Paulus se evangelie te verbeter of te korrigeer. Dit was nie asof hulle iets heeltemal anders verkondig het soos Buddisme nie; hulle wou net hier ietsie byvoeg, daar iets sistematiseer en tradisionaliseer. En siedaar! Daar is die ware evangelie, sê hulle.

Maar Paulus sê jy kan niks bevoeg by Christus nie. As jy Hom eenkant skuif, het jy ’n ander evangelie. Hierdie mense het nie met hemde rondgestap waarop staan: “Gee my ’n drukkie. Ek is ’n valse profeet.” nie. Sien jy, soms is die gevaarlikste leraars die wat ’n ander Christus verkondig, maar hom steeds Jesus noem. Daarom word die ouderlinge en leiers geroep om waaksaam te wees vir die kudde.

En as jy nog steeds nie seker is van die erns van hierdie probleem wat Paulus noem nie, dan sal die volgende paar verse definitief sekerheid gee. Hy sê in vers 8: “Maar al sou een van ons of selfs ’n engel uit die hemel aan julle ’n evangelie verkondig wat in stryd is met die evangelie wat ons aan julle verkondig het – die vloek van God sal hom tref!” Ons ewige lot is afhanklik hiervan. Dit is geen wonder dat Paulus ’n vloek uitspreek oor hulle wat mense van Jesus Christus probeer weglei nie. Dit maak nie saak wie dit is nie. Selfs as was dit ’n engel van die hemel – as die aartsengel Migael na jou toe sou kom en ’n ander evangelie sou verkondig, laat hy dan deur God se vloek getref word!

Hy het nie omgegee het wie die verkondiging doen nie, want dit gaan nie oor die mens nie, maar oor die boodskap wat hulle verkondig. Daar was te veel op die spel om hierdie saak op ’n speelse manier of grappenderwys te hanteer. Paulus weet dat daar slegs verdoeming is buite die goeie nuus van Christus, daarom sal hy enigiemand vervloek wie se leringe ander mense vervloek. ’n Massamoord moet gestop word, en dit is wat mense doen wat ’n ander evangelie verkondig. Die taal van Openbaring word hier ge-eggo: “As iemand iets hieraan byvoeg, sal God vir hom die plae byvoeg waarvan in hierdie boek geskrywe is; en as iemand een van die woorde van hierdie profetiese boek wegneem, sal God sy deel aan die boom van die lewe en aan die heilige stad wegneem waarvan in hierdie boek geskrywe is.” Kerk van Jesus Christus, weet wat jy glo. En hou julle ore gedraai na die evangeliese simfonie sodat die glorieryke musiek van daardie simfonie enige leraar sal laat verdrink wat ’n ander evangelie verkondig. Jou lewe kan hiervan afhang.

Paulus is ernstig oor hierdie vloek wat hy op die valse leraars lê. Maar net vir ingeval iemand gedink het dat hy dalk ’n grap gemaak het, herhaal vers 9 hierdie vloek: “Soos ek vantevore gesê het, sê ek ook nou weer: As iemand aan julle ’n evangelie verkondig wat in stryd is met die evangelie wat julle ontvang het – die vloek van God sal hom tref!

Die eerste keer praat Paulus op ’n hipotetiese wyse: “Maar al sou een van ons.” Die volgende stelling is een wat aanvaar word as die waarheid. Hulle is besig om ’n ander evangelie te verkondig - en hulle is onder ’n vloek.

Geliefde kerk van Christus, ek hoop dat julle nie hierdie woorde as haatspraak of as vyandig ervaar nie. Dit is eenvoudig die waarheid dat mense wat die evangelie van Christus verlaat het, nie danksegging kan betoon nie. Dit is hartverskeurend en hartseer – en daar is so baie leraars wat die kudde van Christus aflei.

Hierdie was nie gerig op individuele kerklidmate nie, maar op die leraars! Wolwe in skaapsklere – hierdie is mense wat sterk woorde in die Skrif van Jesus en sy dissipels ontvang het. Hoekom? Want hy het sy skape lief. Passievol. En hy sal hulle passievol verdedig en die sterkste moontlike taal daarvoor gebruik om teen enigiemand wat die vrede van Christus wil wegneem, in te gaan. Daar is een evangelie, een realiteit, dit maak nie saak wat die wêreld jou wil laat glo nie. Ek weet dit voel dalk nie altyd so nie, maar die lewe is nooit méér ég as wanneer jy dit leef in die teenwoordigheid van die opgewekte Christus nie. Hierdie mense het niks minder gedoen as om die realiteit te verdraai nie. En Paulus was nie van plan om toe te laat dat dit gebeur nie. Op geen manier nie! Hy gebruik van die sterkste taal wat in die Skrif staan, om sy geliefde kerk te laat verstaan hoe ernstig hy is. En sedert hy hierdie vers geskryf het, het baie predikante hul kudde met hierdie vers gewaarsku. Nie om hulle hard te slaan nie, maar om vir hulle te wys dat genade slegs in Christus gevind word.

Dit is nie toevallig dat hierdie verse amper die meeste kere aangehaal is tydens die reformasie nie. Mense wat hul alleen op die evangelie beroep, alleen in Christus leef, sal met oortuiging spreek wanneer hulle sien dat mense mislei word.

Sover as dit ons aangaan: moet asseblief nie die evangelie verlaat nie. Moenie wegloop van jou Verlosser nie. En ek praat met elke hart wat vandag hier is. Asseblief, moet dit nie doen nie. En as jy iemand ken wat besig is om weg te loop – toon liefde aan daardie persoon en smeek hulle om nie te luister na die stemme in hul kop nie, maar na die stem van die waarheid. O, as ons mense sal liefhê met die liefde wat aan ons gewys word. En as jy vandag hier is vir die eerste keer, hoop ek dat hierdie preek jou nie sal afskrik nie, maar dat jy sal weet dat ons jou hier lief genoeg sal hê om die waarheid te praat. Daar is baie goed waaroor ons kan saamstem om te verskil – maar die een ding waaroor nie gedebateer kan word nie, is die evangelie van genade alleen, deur geloof alleen, op die fondament van Christus alleen.

Rus in die genade van Christus. Hierdie Jesus is ’n volkome Verlossser.

Dus kom na Hom terwyl die ewige poorte van die stad nog oop is.

Amen.