Christus stel die sakrament van brood en wyn in vir die nuwe bedeling

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2022-06-12
Teks: 
Heidelbergse Kategismus Sondag 28-30
Preek Inhoud: 

Die viering van die nagmaal is altyd ‘n feestelike en troosvolle gebeurtenis, op pad na die wederkoms van Christus.

Die witgedekte tafel voor in die kerk roep baie gevoelens op.

Dit is nie altyd gevoelens van blydskap nie.

Sommiges sien daarteen op, omdat ons herinner word aan ons sondige gewoontes, waarmee ons sukkel om te breek.

Hulle neem die waarskuwing ernstig op dat huigelaars en die wat hulle nie tot God bekeer nie, ‘n veroordeling oor hulleself drink (HK v/a 81).

Ander benader die nagmaal weer oppervlakkig, en kan die opmerking beswaarlik onderdruk: is dit nou alweer nagmaal?

Hierdie opmerking kan van onverskilligheid getuig, dat hierdie mense nie werklik ‘n afkeer van hulleself het vanweë hulle sondes nie, soos die Kategismus dit verwoord (v/a 81).

Kortom, as mense het ons verskillende gevoelens by die wit gedekte tafel.

Sommiges van ons is intens gefokus op die diepe innerlike vreugde, beseffende wat Christus vir ons gedoen het, dit waarvan die fees ‘n teken is.

Hulle ervaar die nagmaal as ‘n pragtige geleentheid wat hulle aanspoor en in staat stel om hulle geloof hoe langer hoe meer te versterk en hulle lewe te verbeter.

Ander ervaar dit eerder as ‘n somber gewoonte, omdat almal so ernstig lyk.

Hoe moet ons as gemeente die viering van die nagmaal aan die witgedekte tafel benader?

In hierdie deel van die Kategismus word die nagmaal uitvoerig behandel, en dit help ons om terug te gaan na die Woord en antwoorde op ons vrae te vind.

 

Tema: Jesus Christus stel, aan die vooraand van sy soenoffer, die sakrament van brood en wyn in vir die nuwe bedeling

1 Hierdie sakrament is ‘n gedagtenismaaltyd

2 Hierdie sakrament is ‘n gemeenskapsmaaltyd

3 Hierdie sakrament is ‘n verwagtingsvolle maaltyd

 

1 Hierdie sakrament is ‘n gedagtenismaaltyd

Christus se laaste maaltyd met sy dissipels voor sy sterwe was nie soos al die vorige maaltye nie, nie eers soos daardie kere in die verlede wat Hy met hulle die Paasfees gevier het nie.

Dit sien ons uit die feit hoe sorgvuldig die Heiland dit voorberei het.

Hy het opdrag gegee dat sy dissipels die noodsaaklike reëlings moes tref.

Ons het daaroor in die Lukasevangelie gelees.

Tydens die maatlyd, wat Hy daardie aand met sy dissipels gehou het, het dit veral gegaan oor ‘n spesifieke moment.

Dit was toe die Here Jesus spesiaal die woord geneem en spesifiek die brood en wyn uitgesonder het as spesiale tekens vir die toekoms, spesiale tekens om aan sy Middelaarswerk te herinner.

 

Ja, die nagmaal is ‘n gedagtenismaaltyd.

In v/a 77 noem die Kategismus enkele Bybeltekste, waarin ons lees hoe hierdie sakrament ingestel het.

Die eerste drie evangeliste skryf hieroor, elkeen vanuit sy eie oogpunt.

So gee die Heilige Gees ons drie perspektiewe op hierdie unieke gebeurtenis, daardie nag toe Hy verraai is (1 Korinthiërs 11).

Sowel by die evangeliste as by Paulus val die klem op Jesus se woord: Doen dit tot my gedagtenis.

Die Here Jesus wil dat ons nooit vergeet wie Hy is en wat Hy vir ons gedoen het nie.

Daarom stel Hy die nagmaal in.

Dit het gebeur tydens die laaste viering van die paasmaaltyd.

Die paasmaaltyd was deel van die Joodse pasgaviering.

By die breek van die brood het Jesus spesiaal die woord geneem.

Die brood het Hy voortaan as teken gemaak van sy liggaam.

Die feit dat Hy dit breek, en die voorganger tot vandag toe gewoond is om die brood sigbaar te breek, simboliseer dat sy liggaam gebreek sou word.

Ook word duidelik gemaak dat elke dissipel ‘n gedeelte afbreek van een brood – simboliek dat hulle almal bymekaar hoort.

Dit is ‘n gemeenskapsmaaltyd – ons kom in die tweede punt daarop terug.

Net soos almal letterlik van die dieselfde brood eet, so eet ons almal geestelik van dieselfde brood, dit is Christus.

 

Daarna het Jesus ook by die beker van danksegging die woord geneem.

Nou was dit so dat daar tydens die pasgaviering van die Jode vier bekers was.

Oftewel, vier momente waarop daar wyn geskink is.

Mens sou dit kon vergelyk met wanneer vandag op ‘n huweliksfees vier keer ‘n heildronk ingestel word.

By elke heildronk word dan aan spesifieke mense gedink.

Hierdie beker van danksegging was by die Jode die derde beker.

Dit is ook wel genoem die beker van vreugde, waartydens die mense aan ‘n spesifieke gebeurtenis gedink het, en dit met vreugde daarvoor.

Op hierdie oomblik neem Jesus spesiaal die woord, om die wyn, spesifiek hierdie beker van danksegging, hierdie vreugdebeker, teken te maak van sy bloed wat sal vloei.

Sowel die brood as hierdie beker verwys dus na die offer van sy lewe wat Hy die volgende dag sou bring.

Jesus koppel ‘n nuwe betekenis aan die pasgafees.

Die nagmaal word letterlik gebore uit die pasga.

Soos deur die eeue die lammetjies geslag is, word Christus nou as die groot, die finale Lam geslag.

Die pasgaviering was die maaltyd waartydens God se bevryding van sy volk uit die slawerny van Egipte herdenk en gevier is.

Herdenking is meer as om net daaraan te dink.

Dit is om dit as ‘t ware opnuut te beleef.

Om opnuut onder die indruk te kom van die wonder wat God toe gewerk het.

Nou wys Jesus sy dissipels daarop dat daar weer ‘n wonder gaan gebeur, wat nog veel groter sal wees as die verlossing uit Egipte.

Dit word die wonder wat in die toekoms herdenk moet word.

Die wonder wat in die nuwe verbond herdenk sal word, tot op die dag van sy wederkoms.

 

Net soos die doop is die nagmaal ‘n teken en ‘n versekering.

Teken: iets word sigbaar uitgebeeld.

Brood en wyn is ‘n sigbare illustrasie van wat op Golgota gebeur het.

As jy dit eet en drink, mag jy seker wees dat sy versoenende offer ook vir jou geld.

Aan hierdie mooi dinge dink ons met die viering.

Ons herdenk.

Ons doen dit nie net as ons aan tafel sit nie.

Soms is mens bietjie op jou senuwees as jy vorentoe kom, as jy daar sit.

Maar ook in die res van die erediens, byvoorbeeld met die voorlees van die formulier, herdenk ons hoe ingrypend Christus ons lewens verander het.

En dit geld ook vir die dooplidmate, al kom hulle nog nie na die tafel toe nie, hulle vier wel saam.

Kinders bly nie tuis as dit ‘n Nagmaalsondag is nie.

Of laat ek dit positief sê: Kinders mag ook saamkom na hierdie fees toe!

Hulle hoef nie tuis te bly nie!

Ook hulle gedenk al – op hulle vlak – wie die Here Jesus is en wat Hy vir hulle doen.

So herdenk ons almal saam.

En elkeen wat vanweë sy sondes ‘n afkeer van homself het, wat die erns van sy sonde besef, sal uitsien na die nagmaal, sal nie die gedagte hê: aggenee, nou Sondag is dit alweer nagmaal nie.

 

2 Hierdie sakrament is ‘n gemeenskapsmaaltyd

Hierdie aspek kom ook in die Kategismus aan die orde, veral v/a 76.

Dit is nie net ‘n gedagtenismaaltyd nie.

Ons dink nie net met ‘n gelowige hart terug aan wat Christus vir ons gedoen het nie.

In die viering kom die lewende Here Jesus self na jou toe.

In brood en wyn deel Hy Homself met jou, sy lewe gee Hy aan jou.

Hy gee Homself aan jou, en jy vertrou in geloof jouself aan Hom toe.

Dit is die eintlike doel van die sakrament.

Hy in jou en jy in Hom.

Ons word deur die Heilige Gees, wat sowel in Christus as in ons woon, met mekaar verbind.

Deur die Gees, wat die geloof werk.

Daar ontstaan ‘n verbindtenis.

V/a 76 wys daarop dat howel Christus liggaamlik in die hemel is, dit nie beteken dat Hy ver weg is nie.

Hy is juis ook by ons, deur sy Heilige Gees.

Hy is self die Gasheer aan tafel.

As ons nagmaal vier, dink ons dus nie net terug aan Jesus soos wat Hy gehang het aan die kruis op Golgota nie, maar ons ontmoet die lewende Here!

Jesus Christus, wat alle mag het in hemel en op aarde.

Hy wat beloof het: Kyk, Ek is met julle, alle dae, tot aan die voleinding van die wêreld.

Daarom is die nagmaal ‘n gemeenskapsmaaltyd – verbindtenis met ons Hoof, Christus.

Maar in die tweede plek is dit ook ‘n verbindtenis met jou broers en susters.

Lede van een liggaam, daarop het die een brood al gewys, waarvan elkeen ‘n stukkie kry.

Ook hierdie aspek is wesenlik vir die viering van die nagmaal.

Dit is ‘n maaltyd, waarin alle moontlike verskillende mense saam rondom dieselfde tafel sit en saam deel in dieselfde Lewensbrood.

Aan die nagmaalstafel kyk ons dus nie net boontoe nie, maar ons kyk ook vir mekaar.

Ons hoop en bid, dat elkeen daar sal wees, ook daardie broer en suster wat ons die laaste tyd gemis het.

Ons besef dat Christus ons aan mekaar skenk, en daarom sorg ons vir mekaar.

Belangstelling vir mekaar se geloof, vrae, verdriet en vreugde.

Net soos wanneer ons tuis aan tafel sit, ons nie net daarom gefokus moet wees om ons eie maag volg te kry nie, maar om die kos met mekaar te deel, en mekaar te ontmoet, na mekaar te luister, so ook aan die nagmaal, ja des te meer aan die nagmaal.

In die Nuwe Testament sien ons dat die viering van die nagmaal gekombineer is met ‘n gewone maaltyd.

Dink aan die bekende gedeelte uit 1 Korinthiërs 11.

So kan ons dit ook doen, byvoorbeeld met ‘n gemeente-ete.

So kry ons geleentheid om werklik met mekaar te praat, om belang te stel.

So kom die aspek van onderlinge verbondenheid tot sy reg – dat dit ‘n gemeenskapsmaaltyd is.

Dit is so belangrik in hierdie indiwidualistiese tyd waarin ons lewe.

Die gemeente van Christus mag nie soos los sand wees nie.

Omdat dit een brood is, is ons, hoe baie ook, een liggaam.

Die apostel Paulus het die kerk in Korinthe bestraf as gevolg van hulle indiwidualistiese neigings.

Hoewel hulle ‘n gesamentlike maaltyd gehad het, was daar tog groepsvorming, ook tydens die maaltyd.

Is dit nie by ons ook ‘n gevaar, as ons ‘n gemeente-ete het, dat elkeen met sy eie familie in ‘n kringetjie gaan sit nie?

Dit is nie die bedoeling van ‘n nagmaal, dit is ook nie die bedoeling van ‘n gemeente-ete, dat elkeen maar net weer by sy eie familie gaan sit, of by die vriende waarmee hulle in elk geval dikwels kuier nie.

Dit was die gevaar in Korinthe.

Die rykes het bymekaar gesit, met die gevolg dat die armes hongerig gebly het.

Daar was selfs groepies waar hulle dronk geraak het.

In hierdie verband sê Paulus: Wie eet en drink, eet en drink tot sy eie oordeel, as hy die liggaam nie onderskei nie.

Die liggaam onderskei, dit wil sê dat jy goed besef hoe die liggaam lyk – die liggaam van Christus.

As mense die liggaam van Christus sou saamstel, die kerk, dan sou ons waarskynlik sommiges uitgelos het, terwyl Christus hulle juis wel by sy liggaam inlyf.

Gelukkig stel mense nie die kerk saam nie, maar Christus vergader sy gemeente.

Die mense in Korinthe, en dit geld ook vir ons, behoort ons dan ook dienooreenkomstig te gedra.

Die liggaam onderskei, dit beteken dat jy nie jou rug draai op iemand anders wat ook lid van die kerk is nie.

En daarvoor moet jy eers jou eie ek kruisig.

Slegs so word jy ‘n lewende en gesonde lidmaat in Christus se gemeente, wat ook in staat is om die liggaam te onderskei.

Broer, suster, onderskei jy die liggaam van Christus?

Of stel jy, wat dalk die hand is, nie belang in die voete van die liggaam nie?

Dit werk nie so nie, die liggaam is een.

Wie elke dag sy eie ek kruisig, kry ook die krag om oor die drumpel te kom en elke gemeentelid met belangstelling te benader.

 

3 Hierdie sakrament is ‘n verwagtingsvolle maaltyd

Verkondig die dood van die Here, totdat Hy kom.

Hiertoe roep Paulus ons op in 1 Korinthiërs 11.

Elke nagmaalsviering vernuwe hierdie verwagting, maak ons hoop op die wederkoms weer lewendig.

Nou is die koningskap van Christus nog verborge, in die sin dat die ongelowiges dit nie sien nie, dit nie wil sien nie.

Hulle sluit hulle oë vir sy heerskappy oor die wêreld.

Maar wie in geloof na hierdie wêreld kyk, sien hoe Christus besig is om te regeer.

Christus wat op die hemelse troon sit.

En so sien ons met ons geloofsoë ook vir Christus, wat in die gedaante van brood en wyn na ons toekom.

Deur die werking van sy Gees ervaar ons sy aanwesigheid.

En die nagmaal wys ons daarop dat sy liggaamlike wederkoms ook steeds nader kom.

Aan Hom behoort alle heerskappy, en sy dag is in aankoms.

En so bid ons dringend aan die nagmaal:

Verleen ons u genade, dat ons blymoedig ons kruis op ons neem, onsself verloën en ons Heiland bely. Leer ons om in alle droefheid ons hoof omhoog te hou, en ons Here Jesus Christus uit die hemel te verwag, wanneer Hy as Bruidegom kom en die bruilofsmaal kan aanbreek.

Die Jode het destyds die gewoonte gehad, nadat hulle in Jerusalem bymekaar gekom het vir die pasga, as hulle weer huistoe gaan, om vir mekaar te sê:

Tot volgende jaar in Jerusalem!

Hulle het uit alle hoeke van die land na Jerusalem gekom, en het mekaar maar een keer per jaar gesien, en dit tydens Pasga in Jerusalem.

Net so wek die viering van die nagmaal die verwagting: tot die volgende keer.

Maar dan verkieslik: tot die volgende keer in die koninkryk van Christus!

Mag dit die laaste keer wees wat ons sonder Jesus moet vier, sonder dat Hy weer liggaamlik aanwesig is.

Dink net hoe mooi sal dit wees as dit regtig al naby was.

Verwag jy Hom ook, verlang jy ook na Hom, broer, suster?

Sien jy jou eie ellende raak?

Sien jy die ellende in hierdie wêreld raak?

Nie net die ellende van die armstes van die armes nie, maar ook die ellende van die rykes van hierdie wêreld?

Hoe hulle net so goed, ondanks al hulle rykdom, verlore sal gaan?

Kom jy elke dag weer tot hierdie besef, dat sonder Christus se wederkoms daar geen hoop vir hierdie aarde is nie?

Mens wonder soms, sal hierdie aarde nog ‘n eeu kan oorleef?

As dit aan die mensdom lê, sal hulle nie in die tussentyd reeds hierdie aarde asook hulleself met atoombomme vernietig het nie?

Gelukkig glo ons in ‘n voorsienige God, maar van die mens kan ons niks goeds verwag nie.

Maranata, kom Here Jesus, ja kom gou!

Kom tot ons in die lewende verkondiging van die Woord, elke Sondag.

Kom tot ons in die gedaante van brood en wyn, elke Nagmaalsondag.

Kom tot ons in die lewende water, elke keer as die doop bedien word.

Maar Here Jesus, kom veral liggaamlik terug na ons op die wolke van die hemel, op die jongste dag.

Dat ons liggaam gelykvormig kan word aan u verheerlikte liggaam.

Dat ons lewe volledig vernuwe sal word volgens u beeld.

Dat u liggaam, u kerk, voltallig sal wees, ‘n skare wat niemand kan tel nie.

En dat hulle, die sagmoediges (Matt 5:5), ‘n nuut herskape aarde mag beërf, waarop daar nie meer sonde en dood en oorlog en siekte sal wees nie.

Kom Here Jesus, ja kom gou.

 

Amen.

 

Vrae na aanleiding van die preek:

Skriflesing: Lukas 22:7-38

Preek nav Heidelbergse Kategismus Sondag 28-30

Om hierdie preek te verwerk en verder daaruit te leer, volg hier ‘n paar vrae. Die antwoord kan in die preek gevind word, en sommige vrae vereis ook persoonlike oordenking.

  1. Hoeveel bekers was daar tydens die pasgaviering? Hoeveelste beker het Jesus gebruik om die nagmaal in te stel, en wat is dit genoem?
  2. Hoekom het die Here Jesus juis tydens die pasgamaaltyd die nagmaal ingestel?
  3. Die Skrif roep ons op om die liggaam van die Here te onderskei. Hoe kan ons dit konkreet in ons gemeente doen?
  4. Betrap jy jouself soms op die gedagte: aggenee, Sondag is dit alweer nagmaal ... Wat het jy nodig om meer na die nagmaal uit te sien?
  5. Hoe is dit moontlik dat die gemeente as ‘n hegte eenheid funksioneer?
  6. Bid hierdie week vir die wederkoms van die Here Jesus.

 

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 105:1,2

Gebed

Skriflesing: Lukas 22:7-38

Ps 51:1

Teks: Nav Heidelbergse Kategismus sondag 28-30

Preek

Ps 30:1,2,3,5

Bevestigingsformulier vir ouderlinge

Bevestiging ouerling

Opdrag aan alle ouderlinge

Opdrag aan gemeente

Ps 134:4

Gebed

Apostoliese Geloofsbelydenis

Kollekte

Ps 111:1-3

Seën