Die verhoogde Christus laat sy Woord op aarde toeneem

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2022-06-05
Teks: 
Handelinge 6:7; 12:24; 13:49; 19:20
Preek Inhoud: 

Preek: Handelinge 6:7; 12:24; 13:49; 19:20

 

Op Pinksterdag het Christus sy belofte nagekom en die Heilige Gees uitgestort.

Hy het die apostels in staat gestel om in allerlei tale te praat.

Danksy hierdie talewonder kon hulle direk op pad gaan om die Evangelie te verkondig.

So het Christus sy Woord laat toeneem op aarde, vanuit Jerusalem, na Judea en Samaria, en tot aan die uiterste van die aarde.

 

Tema: Die verhoogde Christus laat sy Woord op aarde toeneem

1 Toename deur reorganisasie

2 Toename deur verandering van eksterne faktore

3 Toename deur die antitese te handhaaf

4 Toename deur bekerings

 

Ons is geneig om te dink dat slegs die laaste punt met die uitbreiding van die kerk te make het: dat daar bekerings plaasvind.

Maar daar is ander dinge wat Christus laat plaasvind wat net so ‘n groot impak het op die toename van sy Woord, en op die uitbreiding van die kerk.

 

1 Toename deur reorganisasie

Handelinge 6:7: “En die woord van God het toegeneem, en die getal van die dissipels het in Jerusalem baie vermeerder, en ‘n groot menigte van priesters het gehoorsaam geword aan die geloof.”

Hierdie toename was die gevolg van ‘n reoganisasie in die eerste kerk in Jerusalem.

Dit was nog nie lank na Pinkster nie.

Die apostels is volstoom aan die werk en die kerk groei.

Drie duisend mense op Pinksterdag, en ons kan aanneem in die weke daarna nog vele meer.

 

Maar groei bring ook nuwe omstandighede.

Daar was te veel mense vir die apostels om te bearbei.

Terwyl die eerste opdrag van Jesus aan hulle was om apostels te wees, dit is uitgesondenes, om uit te gaan en die Evangelie te preek.

Nie net in Jerusalem nie, maar ook in Judea en Samaria en tot aan die eindes van die aarde.

Maar alles het vir hulle te veel geword.

In Handelinge 6 leees ons dat die Griekssprekende Jode begin kla het omdat hulle weduwees oor die hoof gesien is.

Die apostels moes rondspring om by almal uit te kom.

Daar was die gevaar dat die toename van die Woord momentum sou verloor.

Vandaar dat die apostels besluit, gelei deur die Gees, tot ‘n reorganisasie.

So sien ons hoe Christus vir sy gemeente sorg.

In oorleg met die gemeente word daar besluit om sewe diakens aan te stel.

Hierdeur kon die apostels weer by hulle kerntaak uitkom.

En hierdie reorganisasie het nie sonder gevolge gebly nie.

Ons teks sê: “En die woord van God het toegeneem”, en die getal van die dissipels het in Jerusalem baie vermeerder.”

Selfs “’n groot menigte van priesters het gehoorsaam geword aan die geloof.”

Ons lees gou oor hierdie opmerkings heen, maar dit was die positiewe gevolge van die instelling van die diakenamp.

Dink net, ‘n groot menigte priesters!

Hulle wat gewoond was om by die tempel diens te doen.

Hulle wat meegemaak het wat Jesus by die tempel alles gesê en gedoen het.

‘n Groot menigte.

Nie net 1 of 2, nie net 10 of 20 nie, nee, ‘n groot menigte priesters!

Ons kan aanneem dat hulle hierna hul werk verloor het.

Dit het hulle egter nie gekeer om nou die Messias te begin volg en by sy gemeente aan te sluit nie.

 

Reorganisasie ...

Deur die jare het dit al meer as een keer plaasgevind op die sendingsveld, in die sendingskommissie.

En daar was voorbeelde waar dit sigbaar gelei het tot toename van die Woord op die sendingsveld, meer momentum.

Terselfdertyd kan ons nie sê dat ons organisasie vlekkeloos is nie.

Deur al die jare se sendingswerk leer mens steeds uit jou foute.

Maar behalwe vir die sending, is reorganisasie ook vir ons gemeente aktueel.

Reorganisasie gebeur nie net terwille van verandering nie.

Ons sou ook die woord reformasie kan gebruik.

Daar is verskillende aspekte in ons kerklike lewe wat kan verbeter.

Die afgelope jare was ons nie baie aktief in evangelisasiewerk nie.

Dit is mooi dat die evangelisasiekommissie met nuwe energie weer inisiatiewe aanpak.

Laat dit ons almal aanspoor, laat ons van harte daaraan deelneem!

 

2 Toename deur verandering van eksterne faktore

In Handelinge 12:24 lees ons weer die woorde: Maar die woord van God het gegroei en toegeneem.

In hierdie hoofstuk handel dit oor koning Herodes.

Die Satan het hom ingetrek in ‘n komplot om die kerk in Jerusalem te dwarsboom.

Vers 1: “Omtrent daardie tyd het koning Herodes sy hande geslaan aan sommige uit die gemeente om hulle kwaad aan te doen.”

Met name die leiers.

Ons lees hoe hy Jakobus met die swaard om die lewe gebring het.

Hoe hy vervolgens Petrus in hegtenis geneem het.

Maar Petrus vermoor hy nie dadelik nie.

Hy wil self meer munt slaan uit hierdie moord.

Hy los hom in die tronk tot Paasfees.

Dan wou hy hom met veel vertoon om die lewe bring, sodat die Jode dit kan sien.

Dit sou sy reputasie onder die Jode verhoog.

 

Maar dan sien ons hoe Christus vanaf sy hemelse troon ingryp.

‘n Engel bevry Petrus uit die gevangenis.

Hy laat nie toe dat Herodes nog langer sy bruid lastig val nie.

Hierdie bedorwe koning, wat homself as goddelik laat vereer, wat so gesteld is op sy mag en aansien, hy is sy amp nie meer waardig nie.

Christus gryp in.

Ons lees in hierdie hoofstuk dat die oomblik toe Herodes se roem ‘n toppunt bereik, toe die mense hom as ‘n god begin vereer, dat juis toe Christus ingegryp het.

Hy stuur ‘n engel wat hom soos ‘n weerligstraal tref.

Omdat – vers 23 – hierdie koning nie die eer aan God gee nie.

En, skryf Lukas in vers 23, die uiteinde van hierdie blinkende vors was dat die wurms hom verteer het.

 

En dan, direk na hierdie gruwelike opmerking oor die wurms, lees ons Lukas se gevolgtrekking:

“Maar die woord van God het gegroei en toegeneem.”

Toename dus deurdat Christus ingryp en die eksterne omstandighede verander.

Christus het Herodes, die koning, onttroon, Hy het hom uit die weg geruim, Hy het sy lewe weggeneem.

En so skep Christus nuwe kanse vir sy kerk.

So bevry Hy sy gemeente in Jerusalem van die politieke speletjies van ‘n willekeurige vors.

So sorg Hy dat die leiers van die kerk nie langer lastig geval word nie.

Hulle kon weer sonder angs in Jerusalem hulle werk doen.

En die gevolge het nie agterweë gebly nie.

Nee, die Woord van God het gegroei en toegeneem!

 

In hierdie gebeure het Christus sy gemeente geleer om na Hom op te kyk.

Om nie op te hou bid as die eksterne omstandighede swaar geword het nie.

En, as Christus dan optree, om dit ook raak te sien, en Hom daarvoor te dank!

Gemeente, ook vandag is dit vir ons die uitdaging dat ons met geloofsoë leer kyk na wat God besig is om te doen.

‘n Aantal dekades gelede het die ystergordyn geval.

Dit was rede om God te dank, want daar het nuwe kanse gekom vir die Evangelie in die oosbloklande.

Tans lyk dit of ‘n nuwe ystergordyn besig is om opgerig te word.

Lande kom teenoor mekaar te staan, lande staan sterk verdeeld teenoor mekaar.

Rusland, Wit-Rusland aan die een kant.

Oekraïne, Pole, Roemenië, Moldawië aan die ander kant.

Ook die klassiek Westerse lande spreek hulle duidelik uit.

En tot op hede neutrale lande, Finland en Swede, neem duidelik posisie in.

Hulle wil deel van die Navo word.

Wat gaan hierdie nuwe geopolitiese werklikheid vir die kerk van Christus beteken?

Sy kerk in die Sovjetlande, sy kerk in die Weste, sy kerk in China?

Laat ons aanhou, soos die gemeente destyds toe Petrus in die gevangenis was, laat ons aanhou bid dat Christus sal sorg dat die Woord bly toeneem.

Putin en Biden is in sy hand.

Hy regeer die geskiedenis.

 

Ook in Suid-Afrika was daar ‘n groot politieke omwenteling, twintig jaar gelede.

Dit het ongetwyfeld ook ‘n invloed gehad op die sending waarby ons betrokke mag wees.

Tans verkeer ons in nuwe omstandighede.

In verskillende opsigte begin Suid-Afrika word soos ander Afrikalande.

Ons kan dikwels ons eksterne omstandighede nie verander nie.

Ons voel van tyd tot tyd magteloos in ons land.

Maar laat ons nie kleingelowig raak nie.

Daar is ‘n groot Held wat aan ons sy staan!

Die wesenlike vraag wat ons steeds moet vra is:

Is daar geleenthede dat die Woord van Christus kan toeneem?

Laat ons steeds, ook vandag, ons troos uit hierdie Bybelteks haal.

Dit is Christus wat konings en presidente aanstel.

En wanneer hulle sy kerk lastig val, sal Hy op sy tyd hulle van hulle trone afstoot.

Desnoods op so ‘n radikale wyse as wat by Herodes gebeur het.

Want Christus waak oor sy bruid!

 

3 Toename deur die handhawing van die antitese

Handelinge 13:49: “En die woord van die Here is deur die hele land verbrei.”

Ook hierdie teks is die gevolg van ‘n spesifieke gebeurtenis.

Barnabas en Paulus bevind hulle hier naamlik in die stad Antiochië, in Pisidië.

En soos dit hulle gewoonte was, het hulle in elke nuwe stad waar hulle aangekom het, eers die sinagoge opgesoek.

Hier, in Antiochië, het Paulus ook die geleentheid gekry om op die sabbatdag in die sinagoge voor te gaan.

Ongetwyfeld is daar in daardie gebou deur die jare heen al verskeie kere vir die koms van die Messias gebid.

Maar nou mag vir die eerste keer in hierdie gebou die naam van die Messias klink wat God gestuur het.

Dit is Jesus, Hy is die Messias, Hy is die Christus!

Hy het nou gekom!

God het sy belofte vervul!

Paulus preek Christus in sy volle krag.

Dawid het ontslaap – vers 36 – hy is by sy vaders weggelê en het verderwing gesien.

Maar Hy wat deur God opgewek is, het geen verderwing gesien nie.

Laat dit dan aan julle bekend wees, broeders, dat deur Hom vergifnis van sondes aan julle verkondig word.

Dat elkeen wat glo, deur Hom geregverdig word!

Maar, soos Jesus self in Israel meegemaak het, dat die verkondiging van die goeie nuus nie net positiewe reaksie teweeg gebring het nie, so ook hier.

Daar was nie net hartlike aanvaarding nie, daar was ook pertinente afwysing.

En dieselfde maak Paulus hier in die sinagoge van Antiochië ook mee.

‘n Leerling staan nie bo sy Meester nie.

Toe die sinagoge uit was, het baie van die Jode en die godsdienstige Jodegenote Paulus en Barnabas gevolg.

Die het hulle toegespreek en hulle probeer beweeg om in die genade van God te bly.

En op die volgende sabbat het byna die hele stad saamgekom om die Woord van God te hoor.

Maar – nou kom dit – toe die Jode die skare sien, is hulle met nydigheid vervul en het met lasterlike woorde weerspreek wat deur Paulus gesê is.

Teenstand dus, jaloesie, mense wat in hulle eer gekrenk is.

Dit het Paulus hier meegemaak.

Wat was Paulus se reaksie hierop?

Was Paulus uit die veld geslaan?

Was sy reaksie: Verskoon ons asseblief mense, ons is so jammer, ons het dinge dalk te kru gesê ...

Moenie ons kwalik neem nie, ons wou nie julle gevoelens kwets nie ...

Ons wou julle tradisies en eerbiedwaardige gewoontes nie kritiseer nie.

Ons was nie op die hoogte van julle gevoelighede nie ...

 

Was dit Paulus se reaksie?

Gemeente, allermins.

Vers 46: Maar Paulus en Barnabas het vryuit gespreek en gesê:

“Dit was noodsaaklik dat die woord aan julle eers verkondig moes word. Aangesien julle dit egter verwerp en julleself die ewige lewe nie waardig ag nie – kyk, ons wend ons tot die heidene.”

En dan lees ons oor die groot blydskap by die heidene in reaksie op hierdie besluit.

Hulle merk dat hulle nie slegs meer ‘n tweederangse plek inneem nie.

En dit het ‘n effek.

Ons teks sê dan: “en die woord van die Here is deur die hele land verbrei.” (vers 49)

Kortliks dus:

Paulus en Barnabas bring die Evangelie in Antiochië.

Die leiding van die sinagoge verset hulle daarteen.

Paulus en Barnabas trek die konsekwensie:

Hulle skud die stof van hulle voete, en hulle gaan verder waar Christus wel vir hulle deure oopmaak.

Hulle gooi nie bietjie water by die wyn nie.

Christus word verkondig, sy vergewing, sy oproep tot bekering, sy oproep aan alle nasies.

Die antitese bly gehandhaaf, en juis daardeur word die Woord van die Here deur die hele land verbrei.

As die apostels sou begin onderhandel het met die Jode, sou hulle die weg na die heidene versper het.

 

Mag die Here ons steeds gehoorsaamheid aan sy Woord gee, dat ons nie na regs of na links afwyk nie.

Dat ons ons nie laat lei deur gevoelighede van mense, verwagtinge van mense, tradisies van mense nie, maar deur die Evangelie alleen!

Dat ons met oop oë deur die lewe gaan, en raaksien as Christus deure oopmaak.

Laat dit nie ons tradisies wees wat ons dan keer om na daardie mense uit te reik nie.

Laat ons agter Christus aangaan.

As Hy ‘n deur sluit, nie teen beter wete aanhou klop nie.

As Hy op ‘n onverwagte plek ‘n deur oopmaak, agter Hom aan verder gaan.

Ons hoef nie die gunstige omstandighede te skep vir die Evangelie nie.

Dit help nie om die antitese van die Evangelie af te swak nie.

Die Woord sal self sy weg vind, dit sal nie leeg tot Christus terugkeer nie, ons hoef dit net te bring.

 

4 Toename deur ‘n opsienbarende gebeurtenis

In Handelinge 19 word beskryf hoe verskeie mense in die stad Efese hulle geld verdien het met towenary.

Mense wat met allerhande towerkunste mag oor die bevolking uitgeoefen het.

Maar met die koms van Paulus word hulle ontmasker.

Die Gees van Christus breek hulle verlammende invloed op die samelewing.

Noudat daar ‘n sterker mag is, hoef die mense nie meer onderdanig aan die towenaars te wees nie.

Hulle sien met irritasie dat hulle houtgreep op die samelewing begin verdwyn.

Baie van die wat gelowig geword het, het belydenis kom doen en hulle dade bekend gemaak.

Verskeie van hulle wat met towery omgegaan het, het die boeke bymekaar gemaak en voor almal verbrand.

Die waarde daarvan is bereken en bevind dat dit vyftigduisend silwerstukke was – die ekwivalent van – verduidelik die 2020-vertaling in ‘n voetnoot – van meer as 150 jaarsalarisse!

‘n Astronomiese bedrag dus.

En dan kom ons teks weer as konklusie:

“So het die woord van die Here met krag gegroei en sterk geword.”

 

Gemeente, soortgelyke opsienbare gebeurtenisse kan ook vertel word uit die sendingsgeskiedenis in Afrika.

Hoe toordokters tot bekering gekom het, hoe hulle hulle dolosse en goeters publiek verbrand het.

Ons sien hoe sangoma’s hulle houtgreep op die samelewing begin kwytraak.

Miljoene mense in Afrika kies om liewers Christen te wees, al is dit nog hoe oppervlakkig.

Hierin sien ons Christus se werk.

Sy Gees gaan uit oor die lengte en breedte van Afrika, en sy Woord keer nie leeg tot Hom terug nie.

 

Ons vier vandag Pinksterdag.

Die tekste het gekom uit die Pinksterboek by uitstek: die boek Handelinge.

Ons het na vier voorbeelde gekyk, hoe Christus sy Woord op aarde laat toeneem: reorganisasie, verandering van eksterne faktore, handhawing van die antitese, en opsienbarende bekerings.

Laat dit duidelik wees, Christus gebruik nog meer middele.

Duisende meer.

Die Skrif oefen net ons oë om dit te leer raaksien.

In geloof sien ons hoe Christus aan die werk is op aarde!

Gemeente, broers en susters, namens Christus roep ek u op:

Gaan met oop oë die toekoms in.

Mag Hy die toekoms van sy kerk ryklik seën, ook ons gemeente, ook die sendingskerke wat geplant is hier rondom Pretoria.

In verskillende tale klink die Evangelie in hierdie land.

Ja soos die apostels destyds allerlei tale kon praat, so het Christus vandag ‘n veelvoud aan dienaars wat in al die verskillende tale elke Sondag die Evangelie verkondig, ook op hierdie Pinkstersondag.

Ons bid: Gee HERE, dat u Woord nie leeg tot u terugkeer nie, maar ook in ons lewens en in ons land ryke vrug dra!

 

Amen.

 

Vrae na aanleiding van die preek:

Skriflesing: Handelinge 6:1-7 & 12:21-24 & 13:42-52 & 19:11-20

Teks: Handelinge 6:7; 12:24; 13:49; 19:20

Om hierdie preek te verwerk en verder daaruit te leer, volg hier ‘n paar vrae. Die antwoord kan in die preek gevind word, en sommige vrae vereis ook persoonlike oordenking.

  1. Hoe het die Woord toegeneem deur reorganisasie?
  2. Hoe het die Woord toegeneem deur verandering van eksterna faktore?
  3. Hoe het die Woord toegeneem deur die handhawing van die antitese?
  4. Hoe het die Woord toegeneem deur ‘n opsienbarende gebeurtenis?
  5. Wat beteken dit dat die Woord van die Here nie leeg tot Hom sal terugkeer nie?
  6. Hoe is jy by evangelisasie betrokke?

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Sb 13:1-5

Gebed

Skriflesing: Handelinge 6:1-7 & 12:21-24

Ps 40:3,4

Skriflesing: Handelinge 13:42-52 & 19:11-20

Ps 33:5

Teks: Handelinge 6:7; 12:24; 13:49; 19:20

Preek

Ps 138:1,2

Gebed

Apostoliese Geloofsbelydenis

Sb 13:6-9

Kollekte

Sb 34:1,2

Seën