Christus se Hoëpriesterlike bede bepaal vandag ons kerklike optrede – en dit alles tot verheerliking van God!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Pretoria
Datum: 
2022-05-29
Teks: 
Johannes 17
Preek Inhoud: 

Broers en susters, jonk en oud,

Wat doen mense wanneer hulle besig is om dood te gaan? Wanneer hulle weet dat hulle sterwe baie naby gekom het? Hulle neem afskeid van geliefdes, nie waar nie? ‘n Sterwende pa roep sy kinders bymekaar, vertel vir hulle hoe lief hy vir hulle is, vra vir hulle om mooi na hulle ma te kyk, en roep hulle op om die Here te bly dien; hy roep daarna sy vrou by hom, verklaar vir ‘n laaste maal sy ewige liefde aan haar, vra dalk om vergewing vir enige onreg wat hy haar aangedoen het, en roep haar op om voluit aan te gaan met die lewe wanneer hy nie meer daar is nie. In sy afskeidswoorde laat hierdie pa aan sy geliefdes ‘n soort geestelike testament na. ‘n Testament, ‘n nalatenskap, maar dan nie meetbaar in fisiese dinge soos huise en karre en polisse, soos wat ons gewoond is nie. Maar geestelik – die diepste boodskap wat hy vir hulle lewens wil saamgee!

Nou, iets soortgelyks sien ons verskeie sterwende persone in die Skrif doen. Dink aan Jakob se afskeidswoorde in Genesis 49, Moses se afskeidswoorde in Deuteronomium 34, Josua s’n in Josua 24, Dawid s’n in 2 Samuel 23, en Paulus se afskeidswoorde in sy tweede brief aan Timotheus. Ook in die kerkgeskiedenis vind ons bekende afskeidsredes – dink, byvoorbeeld, aan Johannes Calvyn se afskeidswoorde op sy sterfbed aan die ouderlinge van Geneve.

 

Net so het ook Jesus, by sy naderende dood, afskeid van sy geliefdes geneem – en van Johannes ontvang ons in hoofstukke 13-17 van sy evangelie ‘n uitgebreide verslag van hierdie afskeid. Ja, Jesus het geweet “dat sy uur gekom het” (Joh. 13:1), en daarom neem Hy op hierdie Donderdagaand voor Goeie Vrydag die tyd om vir sy dissipels ‘n geestlike testament na te laat. Hy begin in hoofstuk 13 deur ‘n afskeidsdaad: Hy was sy dissipels se voete. En daaruit vloei dan in die res van hoofstuk 13 en in hoofstuk 14 ‘n aantal afskeidsredes. Dít gebeur alles tydens die maaltyd, toe hulle saam in die feessaal was. In hoofstuk 14:31 vertrek hulle uit die feessaal (“staan op, laat ons hiervandaan weggaan”), maar tydens die nagtelike wandeling wat daarop volg – deur die sentrum van Jerusalem, via die tempelplein, oppad na die tuin van Getsemane (sien Joh. 18:1) – gaan Jesus voort met sy afskeidswoorde (hoofstukke 15 en 16). En hierdie afskeid vind sy hoogtepunt in hoofstuk 17 met ‘n baie diep en intense afskeidsgebed – Jesus se laaste woorde voor sy arrestasie (Joh. 18:2 e.v.). In hierdie afskeidsgebed – wat in die kerkgeskiedenis ook as die Hoëpriesterlike gebed bekend geword het – doen Jesus verslag van sy werk, en bid Hy vir die toekoms van sy kerk. En ons wil vandag probeer peil wát presies Jesus in sy geestelike testament vir sy kerk voor oë gehad het. Want daaruit kan ons aflei wat vir ons, wanneer ons nadink oor ons kerk-wees hier en nou, belangrik behoort te wees. Uit sy gebed – wat sekerlik deur die Vader verhoor is, omdat Jesus sy opdrag volbring het – kan ons leer wat óns bede en wat óns optrede as kerk behoort te wees.

Tema: Christus se Hoëpriesterlike bede bepaal vandag ons kerklike optrede – en dit alles tot verheerliking van God!

 

Ek wil sommer met hierdie laaste begin, want dit is die sentrale tema van Jesus se gebed, die rooi draad wat reg deur sy gebed loop: heerlikheid of verheerliking (in Grieks ‘doksa’ = heerlikheid, eer, glorie). Agt keer vind ons hierdie gedagte in Johannes 17! Vers 1: “Verheerlik u Seun, sodat u Seun U ook kan verheerlik” (hoor u, twee keer ‘verheerlik’) – dit is eintlik ‘n verstommende versoek van die Here Jesus. Immers, God sê verskeie kere in die Ou Testament dat Hy sy eer / sy heerlikheid aan niemand anders gee nie (Jes. 42:8, 48:11). En dink aan wat ons gesing het uit Psalm 115: “Nie aan ons, o HERE, nie aan ons nie, maar aan u Naam gee eer.” Dus, wanneer Jesus vra: “verheerlik u Seun”, dan wys dit dat Hy daarop aanspraak maak dat Hy self God is! En as Seun het Hy reg om hierdie bede tot sy Vader te bid, want (vers 4): “Ek het U verheerlik op die aarde. Die werk wat U My gegee het om te doen, het Ek volbring.” Dus, deur sy werk op aarde het die Seun die Vader verheerlik – en daarom vra Hy (nogmaals) in vers 5: “Verheerlik My by Uself met die heerlikheid wat Ek by U gehad het voordat die wêreld was.” Dus, die Seun het van ewigheid af Goddelike heerlikheid gehad; met sy menswording het Hy vir ‘n kort rukkie hierdie heerlikheid verberg en daarop gefokus om deur sy werk die Váder te verheerlik; en noudat Hy daardie werk voltooi het, eis Hy die Goddelike heerlikheid weer terug. Vyf keer in hierdie eerste vyf verse vind ons die gebed om heerlikheid en verheerliking.

Die sesde keer is in vers 10: “En alles wat myne is, is uwe; en wat uwe is, is myne; en Ek is in hulle verheerlik.” Weereens vind ons hier die Goddelike gelykstelling tussen die Vader en die Seun: wat myne is, is uwe; en wat uwe is, is myne. Dus, alles wat die Vader s’n is, is Jesus Christus s’n; en alles wat Jesus Christus s’n is, is die Vader s’n – hulle het alles gemeenskaplik! Insluitende die dissipels – ook die dissipels is die gemeenskaplike eiendom van die Vader en die Seun. En wanneer hulle kort hierna as getroue leerlinge die onderrig van die Here Jesus die wêreld gaan indra, dan sal sy Naam daardeur verheerlik word: “Ek is in hulle verheerlik”, sê Jesus aan die einde van vers 10

Die sewende keer dat ons ‘heerlikheid’ vind, is in vers 22: “Ek het hulle die heerlikheid gegee wat U My gegee het, sodat hulle een kan wees, net soos Ons een is.” Die kring van dissipels – en daardeur ook die hele kerk – mag iets van die heerlikheid van haar Heer dra en weerspieël. Wanneer die kerk werklik één is in hart en siel, dan word God daardeur verheerlik!

En die laaste keer is in vers 24: “Vader, Ek wil dat waar Ek is, hulle wat U My gegee het, ook saam met My sal wees, sodat hulle my heerlikheid kan aanskou...” Dít is Jesus se grootste wens – dat sy kerk eendag sy heerlikheid kan sien! Ja, so nou en dan kon ‘n mens sy heerlikheid sien terwyl Hy op aarde was – so nou en dan, soos toe Hy die water in wyn verander het, toe het Hy sy heerlikheid geopenbaar (Joh. 2:11); so nou en dan, soos toe Hy op die berg met Moses en Elia gepraat het, toe kon Petrus en Johannes en Jakobus sy heerlikheid sien (Mt. 17). Maar dikwels was sy heerlikheid verborge en beperk tot ‘n klein kringetjie. Wat Jesus die graagste wil hê, is dat al die gelowiges hulle Heer sal sien soos wat Hy werklik is: in volle glorie!

 

Gemeente, dit is ten diepste waaroor Jesus se gebed gaan: die verheerliking van God die Vader én God die Seun! Deur wie? Deur die kerk! Dit is ten diepste waarvoor Jesus in Johannes 17 bid: “Laat ons Naam geheilig word!” En dit is hoekom Hy sy kerk leer bid het: “Laat u Naam geheilig word!” Voor enige iets anders wat ons as kerk uit Jesus se gebed kan leer (en waarna ons net hierna gaan kyk), moet ons dít voor oë hou: ons doel / die rede vir ons bestaan as kerk is nie om te groei en groot te word nie, ons doel is nie om te evangeliseer en sending te dryf nie, ons doel is nie om indrukwekkende projekte op te sit nie, ons doel is nie om mooi te sing nie, ons doel is nie om ‘n hegte gemeenskap te vorm nie, ons doel is nie om gasvry te wees nie, ons doel is nie om die Skrif en die belydenis te verdedig nie. Ons doel as kerk – die rede waarom hierdie gemeente bestaan – is om God te verheerlik! As ons dít maar net nooit vergeet nie, broers en susters. As ons maar net nooit vergeet hoekom ons op Sondae hier saamkom nie, hoekom jy ná die diens gaan koffie en tee skink nie, hoekom ons saam Bybelstudie doen nie, hoekom ons as amsdraers doen wat ons doen nie, hoekom ons mekaar vir ete nooi nie, hoekom ons vir mekaar ‘n bord kos maak nie, hoekom ons op die orrel begelei nie, hoekom ons tydens die diens die klein kinders of die karre oppas nie. Vergeet dit nooit nie: eer aan God! Dis waarvoor God my gemaak het, dis waarvoor God sy kerk geformeer het: ek lewe om te loof, ons lewe om te loof! Mag hierdie rooi draad van Johannes 17 ons hele kerklike lewe begelei!

En ons moet goed verstaan hoe teen-kultureel dit is, selfs in die hedendaagse Christendom. Selfs in die hedendaagse Christendom word geloof en kerk so dikwels beskou as iets wat vir my is. Geloof en kerk moet nuttig wees vir my, vir ons. Ja, natuurlik gaan dit oor God en Christus, maar ten diepste gaan dit oor my, oor my vervulling. Daar sit iets van ‘n nuttigheidsbeginsel, ‘n bruikbaarheidsbeginsel in die postmoderne Christendom. En jy kan vir jouself uitwerk wat die effek hiervan is op mense se geloof en op die optrede van die kerk – as, byvoorbeeld, die eredienste altyd en oral nuttig en bruikbaar moet wees vir my as lidmaat, wat doen ek as ek voel dat dit nie meer daardie doel bereik nie? Wel, dan gaan ek êrens anders heen, dan gaan soek ek ‘n predikant wie se preke wel nuttig en bruikbaar vir my is, dan vind ek ‘n gemeente wat wel in my behoeftes voorsien. En as die eredienste nuttig en bruikbaar moet wees vir elke aanwesige persoon (selfs vir die klein kinders én vir die besoeker wat skaars iets van die Here weet), ja, dan moet die eredienste natuurlik aangebied word op die vlak van die laagste gemene deler. En as Bybeltaal ‘n struikelblok vir besoekers is, en as die sing van die Psalms verwydering werk vir 21ste-eeuse mense, en as preke van ‘n halfuur nie meer bevatlik is in ‘n digitale era nie... – jy verstaan waarnatoe dit gaan? As kerk-wees gefokus is op die méns wat ons bedien, en nie meer op die Gód wat ons dien nie, dan verval ons in die nuttigheidsbeginsel, en dan handhaaf ons nie meer die verheerlikingsbeginsel nie! Dan het ons die diepste rede vir ons bestaan verloën, ook al doen ons origens wonderlike werk!

Mag die verheerlikingsbeginsel nooit uit hierdie gemeente wyk nie! En natuurlik moet die preke wat gelewer word, en die liedere wat ons sing, en die taal wat ons gebruik, en die projekte wat ons onderneem, en alle ander dinge wat ons as gemeente doen – natuurlik moet dit nuttig en bruikbaar wees. Maar die verheerlikingsbeginsel stel grense aan die nuttigheidsbeginsel. Voor enige iets anders, geld die vraag: Here, hoe kan ék, hoe kan óns U verheerlik? Hoe word U geëer? En binne daardie kader kry die res hulle plek.  

Ek herinner u net weer aan die tema: Christus se Hoëpriesterlike bede bepaal vandag ons kerklike optrede – en dit alles tot verheerliking van God! Die verheerliking het ons reeds uitvoerig behandel. Kom ons kyk nou kortliks in vyf punte hoe Christus se Hoëpriesterlike bede ons kerklike optrede bepaal...

 

1. In die eerste plek wil Christus se gebed ons bring tot kennis van God en van Christus – want sonder daardie kennis kan niemand God verheerlik nie! Vers 3: “En dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het.” Hier vind ons dus ‘n essensiële lewensvoorwaarde vir die kerk, ‘n voorwaarde waarsonder die kerk nie kan lewe nie: kennis van die unieke, waaragtige God, en van die Een wat Hy gestuur het, Jesus Christus. En hierdie laaste is belangrik, want – so leer Jesus ons self in Mattheus 11:27 – “niemand ken die Vader nie, behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun dit wil openbaar.” Dus, dit is deur kennis van Jesus Christus en van sy werk dat ons die Vader kan ken – en daarin lê vir ons die ewige lewe.

Daarom sal ons vir die toekoms van ons gemeente groot erns moet maak met ware kennis van God en Christus – deur die onderrig in die huise en gesinne, deur die Gereformeerde onderwys, deur ons gesamentlike Bybelstudies, deur die katkisasies. Ons gaan tyd moet maak vir hierdie vorms van onderrig en toerusting. As jy daarom nie tans by ‘n Bybelstudie aangesluit is nie, doen dan die moeite om dit wel te doen – veral die jongmanne, hulle wat so besig is by die werk en in die jong gesinne, sal hieraan aandag moet gee. En dan hoef die vorm nie noodwendig te wees soos dit altyd was nie – die ou formaat van inleidings en notules is sonder twyfel bespreekbaar, maar die beginsel bly dat die kennis van God en van Christus lewegewend is! Kennis – dit is nie net iets vir die kop nie. Nee, dit begin by die Woord, en dit dring diep deur tot hoof, hart en hande. Dit is die eerste waaroor ons as gemeente sal moet nadink vir die toekoms...

 

2. In die tweede plek wil Christus se gebed die gelowiges en die kerk bring tot ware eenheid. Immers, in sondige verdeeldheid kan die kerk nie haar Here verheerlik nie; slegs in eenheid kan dit gebeur! Vers 11: “Heilige Vader, bewaar in u Naam die wat U My gegee het, sodat hulle een kan wees net soos Ons.” Hierdie bede in vers 11 het spesifiek betrekking op die dissipels daar rondom die Here Jesus. Maar dit gaan wyer wanneer Jesus later in sy gebed bid vir die eenheid van almal wat, volgens vers 20, deur die apostels se prediking in sy Naam sal begin glo (dit verwys dus na die hele kerk). En dan bid Jesus in vers 23: “Ek in hulle en U in my, sodat hulle volkome een kan wees...” As ons mooi na verse 11 en 23 luister, dan hoor ons dat die eenheid waarvoor die Here Jesus bid, gewortel is in die eenheid van God self. Die eenheid van Vader en Seun is die grond vir ons eenheid met mekaar. Dit is slegs in sy Naam dat ons eenheid vind!

Dit gaan dus oor gelóófseenheid, broers en susters – ek en jy is nie een omdat ons noodwendig sulke goeie vriende is of noodwendig altyd so goed met mekaar oor die weg kom nie. Ons eenheid lê in die feit dat ons saam glo in God as ons Vader en in Jesus Christus as ons Verlosser. En so moet ons ook na mekaar kan kyk en oor mekaar dink! Hy of sy is nie in die eerste plek ‘n Groninger of ‘n Amsterdammer of ‘n Afrikaner – met al die eienaardighede wat daarmee saam kom nie. Hy of sy het nie in die eerste plek hierdie of daardie eienaardige karaktertrek of gewoontes nie. Nee, hy en sy is Christene; hy is deur die geloof my broeder, sy is deur die geloof my suster. Daarin lê ons eenheid, daarin lê ons verbondenheid – hier, binne die gemeente.

En dit is op dieselfde manier dat ons ook sal moet soek en streef na eenheid met die swart gemeentes in die kerkverband. En dit is op dieselfde manier dat ons alles sal moet insit vir die eenheid met ons broeders en susters in die Gereformeerde Kerke, en met ander kerke wat getrou by die Skrif wil lewe. Vir die toekoms van die gemeente gaan ons baie konkreet oor hierdie eenheid moet nadink.

 

3. In die derde plek wil die Here Jesus se gebed ons bewaar van die Bose. Wanneer Jesus sy gebed bid, staan Hy op die punt om sy werk te voltooi en na die Vader in die hemel terug te gaan (hemelvaart). Maar dan bid Hy nie dat sy volgelinge óók uit die wêreld na die hemel geneem kan word nie; nee, Hy bid juis dat hulle in hierdie wêreld die goeie stryd sal bly stry. Vers 15: “Ek bid nie dat U hulle uit die wêreld wegneem nie, maar dat U hulle van die Bose bewaar.” Ja, die wêreld waarin ons lewe, is die magsgebied van die Bose; ons lewe as gelowiges op vyandige terrein. En daarom moet ons gereed wees daarvoor dat die wêreld ons gaan haat (vers 14) – juis omdat ons, net soos ons Heer, nie van hierdie wêreld is nie (vers 16).

Gemeente, ons gaan vir die langtermyn moet nadink wat dit beteken om in die 21ste eeu in hierdie wêreld te wees, maar nie van hierdie wêreld nie. Wat is daarom die bedreigings wat hierdie wêreld – en maak dit meer konkreet: die Moot, Pretoria, Suid-Afrika – vir ons inhou? En dit is nie dieselfde bedreigings as 70 jaar gelede toe die VGK hier in Suid-Afrika ontstaan het nie. Nee, ons gaan die bedreigings van 2022 en verder die hoof moet kan bied. Hoe manifesteer die Bose homself vandag – hier en nou? Wat is vandag se gevare? Hoe word die Skrif vandag aangeval? Ons gaan daarom moet nadink oor dinge soos gender en seksualiteit, oor die rol van sosiale media, oor die postmoderne gees, oor Black Lives Matter, oor moderne hermeneutiek, oor hedendaagse sielkunde, oor omgewingsbewaring. Dit is die dinge wat vandag op ons afkom, dit is hoe die Bose homself vandag manifesteer.  

En ons word opgeroep om te midde van die uitdagings van vandag by die waarheid te lewe, by die Woord: “Heilig hulle in u waarheid; u woord is die waarheid” (vers 17). Heilig-wees, afgesonder vir die Here en sy diens – ons gaan saam hieroor moet nadink, broers en susters. Heilig-wees – dat ons nie maar net ‘n uiterlike godsdiens beoefen, terwyl ons harte intussen aan ‘n wêreldse lewenstyl verkoop is nie. Hoe doen ons dit? Hoe help ons mekaar daarin? Wat is die gevare waarop ons bedag moet wees? Vir die toekoms van die gemeente gaan dit van die grootste belang wees.

 

4. In die vierde plek word ons deur Jesus se gebed in die wêreld ingestuur: “Soos U My gestuur het in die wêreld, het Ek ook hulle in die wêreld gestuur” (vers 18). Ja, ons is gestuurdes – apostels (want dit is wat die Griekse woord apostel beteken: gestuurde). Dit verwys natuurlik heel eerste na die dissipels rondom Jesus, maar uiteindelik is elke gelowige ‘n gestuurde. Dís waarvoor ons geheilig is, afgesonder is (vers 19). Ons is nie afgesonder om in ons hoekie te gaan sit nie – lekker saam in óns kerk, in óns gemaksone, gemaklik en bekend. Dit is nie waarvoor Jesus Homself, volgens die eerste deel van vers 19, geheilig het nie. Nee, Jesus het Homself geheilig, sy hele lewe gewy aan sy taak, sodat Hy ook sy geheiligdes kan stuur: “Gaan dan heen, maak dissipels van alle nasies...” (Mt. 28).

En ons sal as gemeente moet nadink hoe ons dit reeds doen en hoe ons dit in die toekoms behoort te doen. Wat beteken dit dat ons as gemeente deel is van die apostoliese kerk – dat ons gebou is op die fondament van die apostels, ja, maar ook dat ons gestuurdes (apostels) in hierdie wêreld is? Of kom ons maak dit meer konkreet: dat ons gestuurdes hier in die Moot en in Pretoria is – wat beteken dit? Hoe kan ons saam hieraan vorm gee? Hoe kan elkeen in die gemeente toegerus word om as gestuurde in hierdie wêreld te staan? Wat beteken evangelisasie vandag? Wat beteken sending vandag? Hoe doen ons dit individueel, hoe doen ons dit gesamentlik? Belangrike vrae!

 

5. En in die vyfde plek word ons deur Jesus se gebed geroep om sy liefde te ervaar én te weerspieël. Vers 23: “dat die wêreld kan weet dat U My gestuur het, en hulle liefgehad het net soos U My liefgehad het.” Die Vader se liefde vir sy Seun vind uiting in die Seun se liefde vir die gelowiges. En dít sodat (vers 26) “die liefde waarmee U My liefgehad het, in hulle kan wees, en Ek in hulle.” Jesus se goddelike liefde in ons – hoe gebeur dit? Hoe word ons vol van sy liefde? Wel, deur voortdurend te hoor (in die Woordverkondiging) en te sien (in die sakramente) hoe onpeilbaar-diep sy liefde vir ons is, en te weet dat niks ons van daardie liefde kan skei nie (Rom. 8). En vervolgens mag ons daardie liefde gaan uitleef.

En vir die toekoms sal ons as gemeente moet nadink wat dit beteken om Christus se liefde in ons te hê en uit te leef. Ons gaan moet nadink oor hoe die liefde in die gemeente funksioneer, en of elke lidmaat in daardie liefde deel. Hoe lyk die onderlinge sorg? Die sorg vir die weduwees, die wewenaars, die alleenstaandes? Hoe lyk die sorg vir die armes en die dakloses in ons omgewing? Is ons liefde na binne en na buite van harte? Pas dit by ons omgewing, pas dit by ons tyd? Hoe maak ons ruimte vir die gesamentlike sowel as die individuele liefdesbetoon? Dit is alles vrae waaroor ons sal moet nadink.

-----------------------

Gemeente, daar is sekerlik meer in Johannes 17 wat ons sou kon uithaal, maar hier het ons na my mening die belangrikste elemente: 1) Ken God en sy Seun, Jesus Christus; 2) ervaar en beoefen die eenheid in Christus; 3) weerstaan die Bose en die wêreld deur ‘n heilige lewe; 4) dra die getuienis uit in die wêreld; en 5) ervaar en weerspieël Christus se liefde. Dit is binne hierdie raamwerk dat die kerkraad saam met die gemeente wil nadink oor ons kerk-wees in die komende jare. Dink en bid saam met ons hieroor na. Kyk eerlik in die spieël van God se Woord; kyk eerlik na ons gemeentelike lewe. Baie van wat ons in Johannes 17 teëkom, gebeur alreeds; baie ook nog nie. Kom ons wees eerlik daaroor met mekaar. En laat ons biddend en in rus hieroor besin. Biddend: “Laat u Naam hier geheilig word.” Smekend: “Laat u Koninkryk hier in ons midde kom.” Verlangend vir hierdie gemeente: “Laat u wil hier geskied.” Maar altyd met die groot doel voor oë: “Want aan U behoort die Koninkryk, en die krag, en die heerlikheid (ja, die eer en die glorie), tot in ewigheid.”

Amen

 

Liturgie: 

Votum en Seëngroet: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het.

Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus, deur die kragtige werking van die Heilige Gees. Amen.

Sing Ps. 47:1 en 2 

Wetslesing

Sing Ps. 145:1, 4, 12

Gebed

Lees: Johannes 17

Sing Ps. 115:1 en 9

Preek

Sing Onse Vader, gevolg deur gebed

Sing Ps. 48:1-3 & Ps. 87:1-2

Kollekte

Slotsang Ps. 48:4-5 & Ps. 87:3-5

Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen