Christene is slawe van God, en verslaaf aan niks en niemand anders nie

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Pretoria
Datum: 
2022-05-15
Teks: 
Romeine 6:17-19
Preek Inhoud: 

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Jy besef opnuut: ‘Ons het ‘n yslike probleem!’, wanneer dit uitkom dat jong seuns op ons Gereformeerde skole pornografie via hulle selfone aan mekaar versprei, en wanneer jy agterkom dat ons kinders nie meer vir ‘n oomblik sonder hulle selfone (en die gepaardgaande sosiale media) kan klaarkom nie. En nie net is dit húlle probleem nie – dis óns probleem! Dis óns probleem – in die eerste plek omdat hulle óns kinders is, wat deur die Here aan ons toevertrou is; en in die tweede plek (en nie minder belangrik nie) omdat baie van ons self ook met hierdie probleem worstel. En daarom het die Gereformeerde skool Dirk Postma met die predikante in die Moot-omgewing saamgespan om opnuut bewustheid oor hierdie probleem te kweek. Afgelope Woensdagaand was daar ‘n aantal lesings oor die onderwerp by Dirk Postma; in die afgelope week het die predikante in die katkisasie-klasse daaraan aandag geskenk; en vandag word – in al die Gereformeerde kerke in die Moot – die Woordverkondiging hieraan gewy.

Gaan dit dus ‘n preek oor pornografie en selfone wees? Nee, gemeente, ons moet baie dieper as dit delf. As ons net by pornografie en selfone bly, dan ontaard dit baie maklik in moralisme – doen dit, moenie dat doen nie. Nee, ons moet by die hart uitkom, by ons lojaliteite. En van daaruit sal ons dan ook iets oor hierdie onderwerpe kan en moet sê.

Tema: Christene is slawe van God, en verslaaf aan niks en niemand anders nie!

 

Ek het ons Skrifgedeelte vir vanmôre uit die 2020-vertaling voorgelees – doelbewus. Nie omdat ek sê dat dit ‘n beter vertaling as die Ou Vertaling is, of dat ons dit sonder oponthoud moet invoer nie. Nee, ek het dit gedoen omdat die 2020-vertaling van Romeine 6 iets uitbring wat die Ou Vertaling – en die meeste ander vertalings – helaas nie doen nie. Dit gaan oor die Griekse woord ‘doulos’, wat ons onder ander in verse 16, 17, 18 en 20 van Romeine 6 teëkom – hoe moet ons hierdie woord ‘doulos’ vertaal? Daar is eintlik net een manier om hierdie woord, wat meer as 130 keer in die Nuwe Testament voorkom, te vertaal: en dit is met die Afrikaanse woord ‘slaaf’. By ‘doulos’ gaan dit sonder uitsondering oor iemand wat dien – nie uit vrye keuse nie, maar omdat hy moet, of hy nou daarvan hou of nie! Dit gaan oor iemand wat totaal onderworpe is aan ‘n ander se wil, aan die wil van die eienaar; hy is volledig afhanklik van daardie eienaar. Dít is wat die woord ‘doulos’ beteken – slaaf.  

En dit is tog iets anders as ‘n ‘dienskneg’, soos wat die Ou Vertaling eintlik deurgaans vertaal. Vir ‘dienskneg’ is daar ten minste ses ander Griekse woorde wat gebruik kan word – woorde wat baie meer die vrywillige karakter van die kneg se diens aandui; ‘n dienskneg is iemand wat in diens geneem word en wat werk vir ‘n loon, maar wat ook self kan besluit om op te hou. Maar vir ‘slaaf’ is daar net hierdie een woord – ‘doulos’. Nou, dit is so dat die Ou Vertaling wel by uitsondering met ‘slaaf’ sal vertaal, maar dit is eintlik net in gevalle waar dit oor die konkrete praktyk van slawerny gaan. Byvoorbeeld in 1 Korinthiërs 7:21, waar ons lees: “Is jy as slaaf geroep, laat dit jou nie kwel nie; maar as jy ook vry kan word, maak daar des te meer gebruik van” – dit gaan hier dus oor iemand wat in die werklike lewe ‘n slaaf was. Of wanneer Paulus praat oor die slaaf Onesimus, in sy kort briefie aan Filémon. Maar meer as honderd ander kere vertaal die Ou Vertaling ‘doulos’ met ‘dienskneg’, veral wanneer dit gaan oor die gelowiges se verhouding tot God.

 

Vanwaar hierdie moeite om ‘doulos’ eenvoudig met ‘slaaf’ te vertaal? Dis nie heeltemal duidelik nie, broers en susters – dalk het dit te make met die baie negatiewe klank wat hierdie woord in die laaste tweehonderd jaar gekry het. Slawehandel en slawerny, wat amptelik in die eerste helfte van die 19de eeu afgeskaf is, is voorwaar ‘n donker hoofstuk uit ons geskiedenis – soveel lewens wat verwoes is, soveel verskriklike onreg wat gepleeg is, soveel onmenslikheid. Dit is daarom nie aangenaam en dit voel nie heeltemal gepas om ons verhouding met God daarmee te assosieer nie. Mens kan iets daarvan verstaan, nie waar nie? Maar dink jy dat dit aangenaam of gepas was in Paulus se dae? Dink jy dat dit gepas was om in ‘n maatskappy waarin daar rofweg 10-12 miljoen slawe was, te verkondig dat gelowiges slawe van Jesus Christus is? En onthou dan met watter maarskappy ons destyds te make gehad het: onthou dat vir Grieke en Romeine vryheid die toppunt van die lewe was. Persoonlike waardigheid is gevind in vryheid – slawerny was presies die teenoorgestelde hiervan. Slawe het geen vryheid gehad nie, geen regte nie, geen besittings nie; hulle kon geen toevlug tot die howe neem nie, hulle kon geen getuienis in ‘n hofsaak gee nie, hulle het geen burgerskap gehad nie. Hulle kon nie doen wat hulle wou nie, hulle het geen keuses gehad nie, hulle kon nie in die leër dien nie. As hulle weggehardloop het, is hulle opgespoor en gegesel; dikwels is hulle in die openbaar gekruisig as ‘n demonstrasie aan die ander slawe van wat met drosters gebeur. Hulle was totaal afhanklik van die een wat hulle besit het. Nêrens in die Griekse godsdienstige literatuur – en daar was baie godsdienstige literatuur, dink maar net aan die groot hoeveelheid godebeelde wat Paulus in Athene raakgeloop het, selfs ‘n beeld vir die onbekende god – nêrens in al hierdie godsdienstige literatuur vind ons dat die woord ‘doulos’ gebruik word om die verhouding van ‘n aanbidder teenoor sy god te beskryf nie. Hulle het eerder ‘philos’ gebruik – vriende! Hulle was vriende van hulle gode, nie slawe nie – nee, dit was te afstootlik vir hulle!

 

Dus, om in so ‘n wêreld in te kom met die boodskap: “jy moet ‘n slaaf van Christus word”, het dit eintlik menslik-gesproke onmoontlik gemaak om tot geloof te kom. En tog skram die Nuwe Testamentiese skrywers nie hiervan weg nie. Paulus noem homself ‘n slaaf van Jesus Christus – Romeine 1:1 en Filippense 1:1. Jakobus (die halfbroer van Jesus) noem homself ‘n slaaf van God en van ons Here Jesus Christus – Jakobus 1:1 [dis hierdie einste Jakobus wat vervolgens in hoofstuk 4 van sy brief oproep: “Kom nou, julle wat sê: Vandag of môre sal ons na dié en dié stad gaan en daar een jaar deurbring en handel drywe en wins maak – julle wat nie eens weet wat môre sal gebeur nie... In plaas dat julle sê: As die Here wil en ons lewe, dan sal ons dit of dat doen” – dít, gemeente, is slawe-taal!]. Vervolgens Judas, ‘n ander halfbroer van Jesus – hy noem homself ook ‘n slaaf van Jesus Christus (Jud. 1:1). Petrus noem homself ‘n apostel en slaaf van Jesus Christus (2 Pet. 1:1).

Nou, wanneer ‘n mens praat van Paulus en Petrus, en Jakobus en Judas – ja, dan praat jy van die voormanne van die kerk, die leiers! En hulle noem hulleself sonder skroom ‘slawe’ van Christus. En as daardie naam vir die leiers geld, dan geld dit uiteindelik vir elkeen wat in Jesus Christus glo. Elke gelowige is ‘n slaaf van Christus – vandag alreeds! En – opmerklik! – so sal dit bly! Want ook in die nuwe Jerusalem, waar die troon van God en van die Lam sal wees, ook daar sal sy ‘slawe’ Hom dien (Op. 22:3). Dis wat ons is, broers en susters: slawe van God en van Christus! As ons Christus as Heer (kurios) bely, dan bely ons terselfdertyd onsself as sy slawe – hierdie is twee kante van dieselfde muntstuk. Immers, as daar ‘n heer (‘n kurios) is, dan is daar ‘n slaaf (‘n doulos); en as daar ‘n slaaf is, dan is daar ‘n heer. Jy noem jouself nie ‘n heer as jy geen slawe het nie, en jy is nie ‘n slaaf as jy geen heer het nie.

Christus is ons Heer – Hy het ons gekoop op die slawemark van hierdie wêreld, Hy het vir ons betaal. Baie duur: “julle weet dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud losgekoop is uit julle ydele lewenswandel ... nie, maar deur die kosbare bloed van Christus” (so leer Petrus in 1 Pet. 1:18-19). En so bely ons dit ook in Sondag 1 van die Heidelbergse Kategismus: “Ek behóórt met liggaam en siel, in lewe en in sterwe, aan my getroue Verlosser, Jesus Christus. Hy het met sy kosbare bloed vir al my sondes ten volle betaal en my uit alle heerskappy van die duiwel verlos.” Ek behoort aan Christus – ek is sy eiendom; Hy is my Heer – ek is sy slaaf. Dis so ‘n ander boodskap as die boodskap wat die hedendaagse Christendom aan ons voorhou. Die hedendaagse Christendom gebruik nie die taal van slawerny nie, dit gebruik die taal van vryheid en selfverwesenliking. Dit gaan oor bevryding; dit gaan oor gesondheid en voorspoed en welvaart, dit gaan daaroor om vervulling van jou drome te vind, om jou selfuitgedagte doel in die lewe te vind. God wil hê, só sê die hedendaagse Christendom, dat jy elke ambisie moet kan vervul, elke begeerte, elke hoop, elke droom. Jy moet wees wie jy wil wees! Maar dít is nie die taal van die Skrif nie, broers en susters – die Skrif hou aan ons voor dat ‘n Christen ‘n slaaf is! Meer as honderdmaal! Ek sê nie dat dit die enigste beeld is wat die Skrif van die Christen gee nie – daar is vir seker ook ander beeld: die Christen is ‘n kind, die Christen is ‘n vriend, die Christen is ‘n vertroueling van Christus. O ja! Maar met meer as ‘n honderd verwysings mag ons die slaaf-wees van die Christen nie verwaarloos nie.

 

Nou dít, broers en susters, is ten diepste waaroor ons Skrifgedeelte gaan, en dít is hoekom ek dit uit die 2020-vertaling gelees het. Want in hierdie vertaling – in teenstelling tot die Ou Vertaling en die meeste ander vertalings – word ‘doulos’ konsekwent met ‘slaaf’ vertaal: “... as julle julleself vir iemand beskikbaar stel om hom as slawe te gehoorsaam, dan is julle slawe van die persoon aan wie julle gehoorsaam is. Julle is óf slawe van die sonde, wat tot die dood lei, óf slawe van gehoorsaamheid, wat lei tot geregtigheid” (Rom. 6:16). Ja, daar het ons die twee opsies – slaaf van die sonde, of slaaf van gehoorsaamheid. Daar is geen ander – derde – moontlikheid nie.

Óf ons is slawe van die sonde – en dit lei onvermydelik tot verwoestende ver-slawing! Ons sien hoe Paulus hierdie einste woord ‘verslawing’ (wat ‘n afleiding van die Griekse woord doulos is) op drie plekke in sy briewe gebruik – in 1 Timotheus 3:8 en in Titus 2:3, waar dit beide kere gaan oor verslawing aan wyn, en dan ook nog in Titus 3:3, waar hy herinner aan die vroeëre heidense lewenswandel: “... ons was ook vroeër onverstandig, ongehoorsaam, op ‘n dwaalweg, verslaaf  (ver-doulos) aan allerhande begeerlikhede en singenot; ons het in boosheid en afguns gelewe; ons was haatlik en het mekaar gehaat.” Verslaaf aan die sonde! Inderdaad, dit is wanneer ons slawe van die sonde is dat ons, volgens Romeine 6:13, ons ledemate as wapens van ongeregtigheid tot beskikking van die sonde stel – weereens ‘n pragtige vertaling. Wanneer ons aan die begeerlikhede van die sonde toegee en dit uitleef, wanneer ons sonde doen, dan doen ons dit met ons ledemate – ons arms, ons bene, ons oë, ons mond. Ons stel dus fisies ons liggaamsdele ter beskikking van die sonde. Dit is deur middel van ons oë dat ons na verkeerde dinge kyk; dit is deur middel van ons vingers dat ons verkeerde dinge op Google intik. Die sonde kry dus kans om in ons lewens sy gang te gaan met die middele (die ledemate) wat óns ter beskikking stel. En só, gemeente, word ons liggaamsdele die wapens in die hand van die sonde waarmee ons skade aan onsself en ander mense aanrig. Elke keer wanneer jy jou liggaamsdele – jou arms en jou bene, jou oë en jou mond – laat beheers deur die begeerlikhede van die sonde, dan gee jy vir hom wat hy nodig het om die sonde tot uitvoering te bring, dan staan jy in sy diens, dan dien jy sý afskuwelike doel, naamlik om stukkend te maak en seer te maak. Dan stel ons, volgens vers 19, ons ledemate in diens van onreinheid en losbandigheid; en volgens vers 21 is die uiteinde daarvan die dood.

Óf (en dit is die enigste ander opsie) ons is slawe van gehoorsaamheid. “Aan God die dank (sê Paulus in Romeine 6:17) dat julle wel slawe van die sonde was, maar van harte gehoorsaam geword het aan die vorm van leer waaraan julle onderwerp is.” Hierdie laaste woorde is effens moeilik, maar dit verwys baie eenvoudig na die feit dat die slaaf, wanneer hy deur ‘n nuwe heer oorgekoop is, daardie nuwe heer se merkteken (in die vertaling staan die woord ‘vorm’) begin dra het. Ons wat nou onder die Heer Christus staan, nadat Hy ons losgekoop het van die satan, ons dra nou sy merkteken – en daardie merkteken, sê vers 17, is die leer, die doktrine – die leer van die evangelie. Die evangelie – dis die merkteken waaraan ons uitgeken kan word, net soos wat enige slaaf in die Romeinse ryk aan sy eienaar se merkteken uitgeken kon word. Ons word as Christene uitgeken aan die leer van die evangelie! En, sê Paulus, ons het nou gehoorsaam geword aan daardie merkteken; ons het gehoorsaam geword aan die evangelie. Nou stel ons nie meer ons ledemate – ons oë en ons vingers en ons bene – as wapens tot beskikking van die sonde nie, maar nou stel ons ons ledemate as wapens van geregtigheid tot beskikking van God (Rom. 6:13); nou stel ons ons ledemate in diens van die geregtigheid om heilig te lewe (Rom. 6:19); nou lewer ons die vrug van heiligmaking, waarvan die uiteinde is die ewige lewe in Christus Jesus ons Here (Rom. 6:22-23).

 

Sien u, broers en susters, hoe hierdie twee lynreg teenoor mekaar staan: ÓF slaaf van die sonde, ÓF slaaf van gehoorsaamheid. OF-OF, nie EN-EN nie! Julle kan nie twee here dien nie, sê Jesus in Mattheus 6:24. Wie in Jesus Christus glo, het Hom – en Hom alleen! – as Heer. En wie Jesus as Heer in sy lewe het, is aan Hom ver-slaaf. Dit is hierdie werklikheid wat ons moet help om enige ander verslawing in ons lewe te deurbreek; dit is die enigste werklikheid wat ons kan help om ander verslawings te oorkom. En ek weet, dit is nie altyd eenvoudig nie, dit kos geweldige (soms lewenslange) stryd. Mense wat verslaaf is aan alkohol, of dwelms, of sigarette, of ‘n vorm van medikasie, of wat verslaaf is aan ‘games’ of sosiale media of dobbelary of pornografie – hulle weet hoe moeilik dit is; hulle ken die verleiding, die terugval, die weer-opstaan. Dit kan só swaar wees! Maar hier lê die enigste werklike uitkoms: ek is ‘n slaaf van een Heer, en sy Naam is Jesus Christus; ek dra sy merkteken, ek luister net na Hom.

En dit is ook die beginsel wat geld wanneer dit gaan oor die gebruik van ons slimfone. Wat ‘n pragtige stukkie tegnologie het ons nie in hierdie toestelle van ons Heer ontvang nie; wat ‘n skeppingsgawe het ons Heer nie vir ons hierin gegee nie – Hy sê goedgunstiglik vir sy slawe: julle mag ook so ‘n toestel hê, julle mag dit ook gebruik. Laat ons asseblief nie maak asof die toestel die probleem is nie, dat in die toestel die sonde lê nie. Nee, ‘n mooi skeppingsgawe! Maar kan ek dit nou maar gebruik soos wat ek wil? Soveel as wat ek wil? Nee, want ek is mos Christus se slaaf – my lewe, my tyd, my ledemate behoort aan Hom. As slaaf staan ek in sy diens, gereed om te reageer wanneer Hy roep, wanneer Hy stuur, wanneer Hy beveel. My arms en my bene, my mond en my oë – alles vir Hom. My hárt vir Hom, soos wat Calvyn so pragtig in sy lyfspreuk geformuleer het, en soos wat die Gereformeerde Laerskool Johannes Calvyn dit oorgeneem het: “My hart bied ek vir U aan, o Here, bereidwillig en opreg” (prompte et sincere).

 

Dit beteken, gemeente, dat my tyd nie my eie is nie. My tyd staan in die diens van my Heer. Maar as dit so is, dan het ons almal iets om oor na te dink – want hoeveel tyd spandeer ons op hierdie toestel? Hoeveel tyd per dag? Ja, die goed het deesdae allerhande moontlikhede waarmee jy kan sien hoeveel tyd jy per dag op hom spandeer – wys jou net, selfs die wêreld wat hierdie toestelle maak, ag dit wys om die tyd wat ons daarop spandeer, te monitor. Kyk bietjie na jou eie skermtyd – 2 ure, 6 ure, 8 ure per dag? As dit so baie is, waar is dan nog die tyd vir jou Heer? Het Hy, in al hierdie tyd, nie dalk geroep om iets vir Hom te doen nie? Kyk bietjie waar hierdie toestelle is wanneer julle eet (aan tafel) – is hulle daar reg langs julle? Waar lê hierdie toestelle wanneer julle gaan slaap – op die bedkassie langs jou, met al die kennigsgewingsgeluide aan om jou te waarsku as daar ‘n nuwe boodskap ingekom het? Tyd, gemeente – my tyd behoort aan my Heer, nie aan my slimfoon nie.

Maar behalwe die tyd wat ek daarop spandeer, wát kyk ek daarop? Waarna luister ek? Is dit dinge waaroor my Heer bly sal wees wanneer Hy my sien? Is dit dinge wat spreek van sy verlossingswerk uit die bande van die satan? Of kyk ek nog steeds na dinge wat herinner aan my ou lewe, toe ek nog ‘n ellendige slaaf van die satan was? Waarvan getuig die dinge waarna jy kyk: van jou begeerte om jou nuwe Heer te dien, of van jou hunkering na jou vorige baas, hy wat jou onderdruk en seergemaak en doodgemaak het?

 

Broeders en susters, in die laaste 20, 30 jaar het daar iets in ons sakke beland – letterlik in ons broeksakke – wat ons nog nie reg leer hanteer het nie. Ek dink die meeste van ons sal dit erken. Hierdie toestelle het ons oorval, en ons moet eerlik wees: ons het nog nie mooi uitgewerk hoe om dit te gebruik op ‘n manier wat pas by slawe van Christus nie. En dit het tyd geword dat ons meer radikaal – baie meer radikaal as wat ons tot dusver gedoen het – ons lojaliteit teenoor Heer Christus begin uitvoer wanneer dit kom by die gebruik van hierdie stukkie tegnologie. En dit begin deur eenvoudig teenoor Hom te bely: “Heer, ons is u slawe (U het ons vrygekoop met u bloed!), maar op hierdie terrein is ons helaas dikwels verslaaf aan die sonde. Heer, wees ons genadig en maak ons lojaal teenoor U alleen!” En vervolgens moet ons daardie lojaliteit ook laat blyk in gehoorsaamheid – deur ons ledemate te stel in diens van die geregtigheid. En as ons sukkel, dan moet ons in ons huise en gesinne baie duidelike afsprake maak: eers ‘n foon op hierdie leeftyd; soveel tyd per dag, op Sondae selfs minder; hierdie progammatjie gaan ons opsit om te keer dat ons op verkeerde webwerwe gaan; geen selfone tydens die ete nie, nie speletjies wat openlike geweld voorstaan nie, ensovoorts, ensovoorts. As ons dit nie gaan doen nie, gaan ons onsself en ons kinders verloor aan ‘n bose verslawing – en dit is nie ‘n verslawing waarvoor ons noodwendig in ‘n kliniek sal opeindig nie, maar dit is net so ernstig soos enige ander vorm van verslawing wat wel opname in ‘n kliniek vereis.

Kom ons maak weer erns met ons belydenis: in lewe en in sterwe, na liggaam en siel, is ek eiendom van Jesus Christus. Hy het duur vir my betaal – sy lewe was die prys. Ek is nou sy slaaf. En om sy slaaf te wees is ‘n beter vorm van slawerny as wat iemand ooit gedink het moontlik is, want hierdie Heer maak van ons seuns en dogters en gee aan ons die regte van seuns en dogters. Hy neem ons aan in sy gesin, Hy noem ons mede-erfgename van die ewige lewe, Hy gee aan ons die hemel om saam met Hom in ewigheid te regeer – in onbeperkte vreugde en heerlikheid. Wie wil nie ‘n slaaf onder so ‘n Heer wees nie? Mag dit ons verlange wees, en mag dit uitwerking vind in ons opregte gehoorsaamheid aan Hom.

Amen

Liturgie: 

Votum en Seëngroet: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus, deur die kragtige werking van die Heilige Gees. Amen.

Sing Skr. 2:2 en 3

Wetslesing

Sing Ps. 143:1, 2, 10

Gebed

Lees:   Romeine 6:12-23 (2020-vertaling)

Sing Ps. 123:1

Preek

Amenlied Ps. 89:6

Gebed

Kollekte

Slotsang Ps. 116:9 en 10

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen. / Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen