Christus troos in hierdie lewe met die werklikheid van die opstanding en ewige lewe

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2022-04-03
Teks: 
Heidelbergse Kategismus Sondag 22
Preek Inhoud: 

Nie alle blombolle wat mens in die grond plant, sal opkom nie.

Daar is goeie en slegte blombolle.

Dit is ‘n teleurstelling as die lente aanbreek en daar het niks opgekom nie.

In daardie geval, as jy die bolle goed geplant het in die herfs, het jy waarskynlik slegte kwaliteit bolle gekoop.

Hulle is nêrens voor geskik as om weggegooi te word nie.

 

Nie alle mense wat sterf, staan op in ‘n nuwe lewe nie.

Nie almal wat in die graf gelê word, het onverganklike saad in hulle nie.

Maar daar is wel hulle wat in ‘n nuwe lewe sal opstaan.

Hulle rus in die Here.

Hulle wat, toe hulle nog in hierdie eerste lewe was, ewigheidswaarde vir hulle lewens ontvang het.

Hulle wat die onverganklike saad van die Evangelie aangeneem het.

Deur die krag van Jesus Christus sal hulle opgewek word.

 

Tema: Christus troos in hierdie lewe met die werklikheid van die opstanding en ewige lewe

1 Sowel liggaam en siel het verlossing nodig

2 Wat daar met die siel gebeur na sterwe

3 Wat daar met die liggaam gebeur na sterwe

 

1 Sowel liggaam en siel het verlossing nodig

Die Kategismus deel in hierdie Sondag die mens op in ‘n liggaam en ‘n siel.

Is dit wel korrek?

Is dit in ooreenstemming met die Bybelse mensbeeld?

En is die opvatting dat liggaam en siel met jou dood geskei word, wel korrek?

Gemeente, kom ons kyk eerstens na wat die Bybel in hierdie verband oor die mens sê.

 

Ons lees in Mattheüs 10:28:

“moenie vrees vir die wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie; maar vrees Hom liewer wat die siel sowel as die liggaam kan verderwe in die hel.”
Jesus het dit vir sy dissipels gesê om hulle te troos.

Hulle hoef nie bang te wees nie, aangesien hulle deur God beskerm word.

Uit hierdie vers is duidelik dat daar tussen ‘n liggaam en ‘n siel onderskei word.

 

Nou is dit belangrik dat ons die woordjie siel nie verkeerd verstaan nie.

In die verlede het dit al dikwels gebeur dat hierdie woord gevul is met dieselfde betekenis as wat dit in die Griekse filosofie gehad het.

In die ou Griekse filosofie is oor die siel as iets goddeliks gedink.

Iets wat nie sondig is nie, maar wat vasgekluister is in ‘n sondige liggaam.

Maar so word die woord siel in die Bybel nie bedoel nie.

As ons die woord siel hier in Mattheüs lees, word dus nie iets bedoel wat sonder sonde is nie.

Inteendeel, Jesus waarsku dat ook die siel in die hel tereg kan kom.

Met siel bedoel Jesus jou lewe, jou persoon, daardie deel van jouself wat jou liggaam verlaat by jou sterwe.

Hierna verwys Jesus ook as Hy in Mattheüs 16:26 sê:

“Want wat baat dit 'n mens as hy die hele wêreld win, maar aan sy siel skade ly? Of wat sal 'n mens gee as losprys vir sy siel?”

Mens kan ook vertaal:

“Wat sal dit ’n mens dan baat as hy die hele wêreld as wins bekom, maar sy lewe verloor? Of wat sal ‘n mens gee as losprys vir sy lewe?” (2020-Vertaling)

Hy kan eerder ‘n skat opbou in die hemel.

 

Die siel van die mens is dus net so sondig as sy liggaam.

Die siel van ‘n mens is nie goddelik nie.

‘n Mens se siel is net so goed deur God geskape as sy liggaam.

Die siel van ‘n mens kan dus nie sonder die verlossingswerk van Christus nie.

Sonder die krag van Christus gaan ‘n mens, met liggaam en siel, ewig verlore.

 

2 Wat daar met die siel gebeur na sterwe

Ons kom nou by ‘n volgende punt.

Wat gebeur daar met ‘n mens, spesifiek met sy siel, as hy sterf?

Die Kategismus verwoord dit as volg:

My siel word na hierdie lewe dadelik tot Christus, sy Hoof, opgeneem.

Dit is dus nie so dat, as iemand sterf, daar niks as net ‘n oorskot oorbly nie.

Dit word ook wel die sogenaamde sieleslaap genoem, dat daar geen bewussyn is tussen sterwe en opstanding nie.

As iemand sterf, vind daar iets wesenliks plaas.

Wie aan Christus behoort, word deur Hom onmiddelik tuisgebring.

Wie nie aan Christus behoort nie, se siel gaan verlore.

 

Dit is ook nie so dat daar ‘n vaevuur is, soos die Roomse kerk beweer.

Deur die sogenaamde vaevuur word die beslissende moment uitgestel.

Volgens die Skrif is die beslissende moment egter wanneer jy sterf.

Op daardie oomblik gaan sommiges hemel toe, en ander hel toe.

 

In Lukas 23 lees ons dat Christus vir die misdadiger wat langs Hom aan die kruis hang, sê:

“Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die Paradys wees.”

Dus nie na ‘n korter of langer reinigingsperiode in die vaevuur nie.

Tussen hakies, die woord vaevuur is afgelei van die woord vee.

Dit dui op skoonmaak, reinig.

Maar, sê Jesus, vandag sal sowel Hy as die rower, hoewel oorlede, tog nie by die goddeloses wees nie, maar by die gelowige ontslapenes, op dieselfde plek waar Abraham ook is, soos ons kan lees in die gelykenis in Lukas 16.

 

In Lukas 16:22-23 vertel Jesus in ‘n gelykenis:

“En toe die bedelaar sterf, is hy deur die engele weggedra na die boesem van Abraham. En die ryk man het ook gesterwe en is begrawe. En toe hy in die doderyk sy oë ophef, terwyl hy in smarte was, sien hy Abraham van ver af en Lasarus aan sy boesem.”
By hulle sterwe het die beslissing dus geval vir die sowel die bedelaar as die ryk man, en dit was ‘n onomkeerbare beslissing.

Die bedelaar was in die hemel, en die ryk man het gebly daar waar hy was, daar was geen moontlikheid meer vir hom om oor te skuif nie.

 

Soms word die vraag gevra:

Is mens nie baie hard en ongevoelig as jy nie vir ‘n gestorwene bid nie?

Is dit nie onbarmhartig as daar nie nog ‘n kans na die dood is nie?

Almal onder ons wat ‘n geliefde aan die dood afgestaan het, voel soms daardie behoefte ...

Om te bid vir ‘n oorlede kind, eggenoot, of wie ook al.

Roomse mens verwyt Protestante dat hulle hard is, omdat hulle nie vir die gestorwenes bid nie.

Maar gemeente, nêrens in die Bybel vind ons ‘n verwysing na ‘n sogenaamde vaevuur nie.

Nêrens in die Bybel vind ons die opdrag om vir die oorlede mense te bid nie.

Om vir ‘n oorledene te bid, impliseer dat jy te min van Christus dink.

Want Christus se werk is volmaak, en elkeen wat in vertroue daarop sterf, sal salig word.

Daaraan hoef ons nie te twyfel nie.

Ons mag seker weet dat iemand op sy sterfdag bevry word van die sonde, van alle ellende en gebrokenheid van hierdie wêreld.

En dat iemand aankom by God in die hemelse saligheid.

In die vroë kerk het Christene daarom die gewoonte gehad om iemand se sterfdag te herdenk soos ‘n verjaarsdag.

 

Daar is nog baie tekste in die Bybel wat ons van hierdie heilsfeit verseker.

Dink aan Openbaring 14:13, waar die apostel Johannes skryf:

“Skryf – salig is van nou af die dode wat in die Here sterwe. Ja, sê die Gees, sodat hulle kan rus van hul arbeid, en hulle werke volg met hulle.”

Direk nadat ons gesterf het, mag ons by God kom.

In 2 Korinthiërs 5:1 lees ons:

“Want ons weet dat as ons aardse tentwoning afgebreek word, ons 'n gebou het van God, 'n huis nie met hande gemaak nie, ewig, in die hemele.“

In hierdie vertroue mag ons sing in Psalm 73:

“U sal my voortlei deur u raad, o God, my Hulp, my toeverlaat; en na die dag van aardse stryd, my opneem in u heerlikheid.” (vers 10 berymd)

Hierin hoor ons die waarheid wat die Kategismus verwoord as: dat my siel na hierdie lewe dadelik tot Christus, sy Hoof, opgeneem sal word.

 

3 Wat daar met die liggaam gebeur na sterwe

Maar daar is nog meer.

In Sondag 22 staan: dat my liggaam met my siel weer verenig sal word, en aan die heerlike liggaam van Christus gelykvormig sal word.

Nie alle blombolle kom in die lente op nie.

Slegs hulle van kwaliteit.

Kwaliteit en nie-kwaliteit bolle kan nie altyd van die buitekant onderskei word nie.

Ook kwaliteitbolle is lelik.

En net soos ‘n lelike bol wat in die grond begrawe is, opkom as ‘n pragtige blom, so sal mense ook opstaan met ‘n skitterende nuwe lewe.

Nie vergelykbaar met die dooie lyk wat in die graf neergedaal het nie.

Dit sal gebeur met alle mense aan wie Christus lewenskwaliteit geskenk het.

Daardie mense wat die onverganklike saad van die Evangelie in hulle lewens gekoester het.

Want dit is slegs deur die krag van Christus wat die opstanding uit die dood ‘n werklikheid sal word.

Sonder Christus sal dit nie gebeur nie.

Hy en slegs Hy kan dit moontlik maak.

Hy het God se heilsplan op aarde gewaarborg met sy eie dood en opstanding.

En Hy sal dit ook in die toekoms in vervulling laat gaan vir almal wat aan Hom behoort.

 

Hierdie heilsplan is al bekend van die tyd van die Ou Testament af.

Ook in die Ou Testament vind ons reeds die vaste geloof in die opstanding uit die dood.

Hoewel niemand die Messias toe al by name geken het nie, het hulle wel vertrou dat God in staat is om die dooies weer lewend te maak.

God, wat beloof het dat Hy alle skuld wat die dood as straf noodsaaklik gemaak het, sal wegneem.

God wat beloof het dat die sonde op aarde en die gevolge daarvan soos sigbaar in oorlog en siekte en dood, nie die laaste woord sal hê nie.

Dink maar aan wat ons in Jesaja 26:19 lees: “U dode sal herlewe, my lyke sal opstaan. Waak op en jubel, julle wat in die stof woon!”

En ook uit die Ou Testament weet ons al dat God skeiding sal bring tussen gelowig en ongelowig.

Dink aan wat die Here vir Daniël sê in hoofstuk 12:2

“En baie van die wat in die stof van die aarde slaap, sal ontwaak, sommige tot die ewige lewe en sommige tot groot smaadheid, vir ewig afgryslik.”

En God het aan Daniël die troosryke verskering gegee dat hy sou opstaan tot die ewige lewe:

“En jy, gaan heen na die einde; en jy sal rus en weer opstaan tot jou bestemming aan die einde van die dae.” (Dan 12:13)

 

Deur die krag van Christus word ons opgewek, hulle wat God gekies het uit ou en nuwe verbond.

Op Christus kan ons vas vertrou.

By Hom mag ons skuil, tot die laaste dag.

Soos Job bely het in Job 19:25-26: “Maar ek, ek weet: My Verlosser leef; en Hy sal as laaste oor die stof opstaan. En nadat hulle so my vel afgeskeur het, sal ek nogtans uit my vlees God aanskou”.

En soos Martha getuig het oor Lasarus, Johannes 11:24 “Ek weet dat hy sal opstaan in die opstanding in die laaste dag.”

Wie glo in die krag van Christus, sal nie teleurgestel word nie.

Hy is die opstanding en die lewe.

Wie in Hom glo, sal lewe al het hy ook gesterwe.

Elkeen wat lewe en in Hom glo, sal nooit sterwe tot in ewigheid nie.

Broer, suster, glo jy dit? (Joh 11:25-26)

 

So troos Christus, met sy Evangelie, ons in hierdie lewe.

Hy troos ons met die toekomstige werklikheid van die opstanding en die ewige lewe.

 

Die woorde in die Kategismusantwoord is ontleen aan Filippense 3:21, waar Paulus skryf:

Christus sal ons vernederde liggaam van gedaante verander, “om gelykvormig te word aan sy verheerlikte liggaam volgens die werking waardeur Hy ook alles aan Homself kan onderwerp.”

Jesus het baie duidelik die Sadduseërs wat nie in die liggaamlike opstanding geglo het weerspreek, met sy woorde in Mattheüs 22:29 “Julle dwaal, omdat julle die Skrifte nie ken nie en ook nie die krag van God nie.”

Ja geliefde gemeente, glo net in die krag van God, wat Hy in Christus aan die lig gebring het.

 

Die Kategismus vra:

Watter troos gee die opstanding van die liggaam, en die ewige lewe, aan jou?

Die woordjie troos impliseer dat daar ook sprake is van verdriet.

Dit is inderdaad so.

Die Bybel beskryf die dood nie met mooi woorde, asof die dood nie so erg is en eintlik by die lewe hoort nie.

Die dood is afskuwelik en bly vir elke mens, ook vir ’n gelowige, die laaste vyand.

Soos Paulus skryf in 1 Korinthiërs 15:43

“daar word gesaai in oneer”.

Wie in die herfs blombolle in die grond begrawe, kry niks te sien nie.

Voorlopig sien ons ook niks meer nie.

Mens moet maar net wag en hoop op die lente.

So is ’n begrafnis ook verdrietig, en met ons gewone oë sien ons geen tekens van hoop nie.

Maar met ons geloofsoë kyk ons deur ons trane heen en sien uit na die jongste dag.

Dan sal die dood finaal verswelg word in die oorwinning.

Dit is dus heeltemal verstaanbaar, as jy as gelowige huiwer vir die dood.

Die dood bly ’n vyand.

Maar gelukkig het ons, hoeveel ons ook bewe van angs en verdriet, tog ’n houvas aan Jesus Christus.

 

In die gemeente van Korinthe was daar lidmate wat aan die werklikheid van die opstanding van die liggaam getwyfel het.

In die Griekse denke van daardie tyd was dit inderdaad ’n groot struikelblok.

Dat jou siel ewig sou voortleef, dit kon hulle verstaan.

Maar dat die liggaam, die omhulsel van die siel, ook sou opstaan tot ’n ewige lewe, dit was vir hulle onaanvaarbaar.

Dink maar aan Paulus se ervaring by die Areopagus in Athene.

Toe hy met hulle oor ’n ‘nuwe’ God gepraat het, was hulle bereid om te luister.

Maar toe hy oor die opstanding van die dooies begin praat, het sommiges hom gespot (Hand 17:32).

Want volgens hulle was die liggaam die kerker van die siel, iets wat nie terug behoort te kom nie.

Dis beter as dit in die graf bly.

As Christene verwerp ons hierdie opvatting.

Want dit toon minagting vir God se goeie skepping.

Sowel liggaam en siel is geskape.

Die Bybel beskryf die siel nie as goddelik nie, maar ook nie die liggaam as verwerplik nie.

Maar sommige gemeentelede in Korinthe was beïnvloed deur die wêreld.

Kan dooie liggame weer opstaan?

Wat is die nut daarvan?

Vir Paulus was dit nie moeilik om hierdie dinge te beantwoord nie.

Hy hoef slegs na Christus te wys het.

Het Christus dan nie liggaamlik opgestaan nie?

God is in staat om ’n dooie liggaam op te wek.

 

Ja, ons as mense is uit onsself kleingelowig.

Ons word deur die wêreld om ons heen beïnvloed.

Die liggaamlike opstanding uit die dood bly deur alle eeue heen vir die wêreld ongeloofwaardig.

Jesus vermaan ons, net soos die Sadduseërs detyds:

“Julle dwaal, omdat julle die Skrifte nie ken nie en ook nie die krag van God nie.” (Matt 22:29)

 

Ons vier volgende week weer nagmaal.

Kom in geloof nagmaal toe, geloof in die krag van God, gemeente!

Ons vier volgende week nagmaal, altans die van ons wat nog in hierdie lewe is.

Vandag kan elkeen van ons se laaste dag wees.

En al dink ons nie elke dag daaraan nie, as gelowiges leef ons wel met die vaste hoop dat as daardie dag aanbreek en ek begrawe moet word, ek nie onkant gevang sal wees nie, maar dat ook my vlees sal rus in hoop (Ps 16:9).

En my siel sal dadelik by my Heiland wees.

 

En gemeente, moenie bang wees dat alles daar vreemd gaan wees en jy nie tuis sal voel nie.

Inteendeel, as jy hier, in God se huis op aarde, in Christus se gemeente, tuis voel, sal jy in die hemel ook tuis voel.

Dit sal werklik voel dat jy tuis kom.

Jy laat uiteraard geliefdes agter, maar dit wil nie sê dat jy na ’n vreemde plek toe gaan nie.

En as jy tog onrustig oor dit alles voel, sing dan Psalm 16.

Bring jou twyfels vir die Here.

Vind rus en vertroosting by Hom:

“Bewaar my tog, o God, op wie ‘k vertrou! Ek skuil by U, my toevlug in die lewe.” (vers 1 berymd)

“My erfdeel is die HEER, my vreugdebeker,

My lot is in sy hand vir ewig seker.” (vers 2 berymd)

“’n Yd’le vrees beklem my nou nie meer ...

Ook sal my vlees, as hier my stryd gestry is,

Nog veilig woon, omdat die HEER naby is.” (vers 4 berymd)

“U sal my siel nie oorgee in die dood,

My pad buig op langs skone heuwelrye.

U sal nie toelaat dat u gunsgenoot

Verderwing sien in donker doodsvalleie.

By U is ewig vreugd’ en volle vrede,

En in u hand ’n snoer van lieflikhede.” (vers 5 berymd)

Amen.

 

Vrae na aanleiding van die preek:

Skriflesing: Lukas 16:19-31 & 1 Korinthiërs 15:1-20

Preek nav Heidelbergse Kategismus Sondag 22

Om hierdie preek te verwerk en verder daaruit te leer, volg hier ‘n paar vrae. Die antwoord kan in die preek gevind word, en sommige vrae vereis ook persoonlike oordenking.

  1. Kan menswees onderskei word in ‘n liggaam en ‘n siel?
  2. Is die menslike siel ook sondig?
  3. Wanneer val die beslissing of iemand hemel of hel toe gaan?
  4. Maak dit sin om vir oorlede mense te bid?
  5. Hoekom kies Christene vir ‘n begrafnis, en nie vir ‘n verassing nie?
  6. Noem ‘n gebeurtenis toe jy baie konkreet ervaar het hoe Christus jou troos met die belofte van saligheid en opstanding van die liggaam?

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 91:5

Gebed

Skriflesing: Lukas 16:19-31

Ps 91:8

Skriflesing: 1 Korinthiërs 15:1-20

Sb 39:4,5

Teks: Nav Heidelbergse Kategismus Sondag 22

Preek

Ps 16:1,2,4,5

Gebed

Apostoliese Geloofsbelydenis

Sb 27:5

Kollekte

Ps 73:10,11

Seën