Vertel aan die jeug die roemryke dade van die HERE

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2022-03-20
Teks: 
Psalm 78:1-8
Preek Inhoud: 

Preek: Psalm 78:1-8

 

Ons behandel hierdie jaar die tema onderrig en laat onderrig.

In Psalm 78 roep die HERE die ouer generasie op om die roemryke dade, sy wonders, te vertel aan die jeug.

Hulle mag nie stilbly daaroor nie.

Hulle mag dit nie verberg nie.

Hulle moet daaroor vertel.

Met spreuke en raaisels, sê vers 2.

Spreuke en raaisels was vertelvorms in daardie tyd om op ‘n boeiende manier die verlede te behandel.

 

Psalm 78 openbaar ook die doel van dit alles.

Die doel is tweeledig.

Eerstens – vers 7 – sodat die nuwe geslag hulle vertroue op God kan stel, sy dade nie vergeet nie, sy gebooie bewaar.

En tweedens – vers 8 – sodat die nuwe geslag nie word soos hulle vaders nie.

Want hulle vaders was koppig en wederstrewig, met ‘n onvaste hart en ‘n ontrou gees.

As gelowiges oor die verlede praat, is daar altyd baie selfverootmoediging.

Psalm 78 is ‘n konkrete voorbeeld van die bekende spreuk uit Prediker:

“Moenie sê nie: Hoe kom dit dat die vorige dae beter was as die teenswoordige? want nie uit wysheid vra jy hierna nie.” (Pred 7:10)

Ons almal, jonk en oud –praat klein oor onsself, en praat groot oor Christus.

 

Ek wil in hierdie preek hierdie twee redes wat Asaf noem, in omgekeerde volgorde behandel.

Daarmee wil ek nie die indruk skep dat die eerste rede, die eerste doel, minder belangrik is nie.

Inteendeel.

My motivering is dat ek dit tweede gaan behandel, om my preek op ‘n hoogtepunt af te sluit.

 

Tema: Vertel aan die jeug die roemryke dade van die HERE

1 Klaagtoon

2 Jubeltoon

 

1 Klaagtoon

Ons eerste punt, dit is die tweede doel wat Asaf noem hoekom ouers oor die verlede moet vertel.

En dit is nogal beskamend.

Want Psalm 78 vertel ons nie oor heldedade van die Israeliete nie.

Dit streel nie hulle nasionale bewussyn nie.

Dit verheerlik nie volkshelde nie.

Van nasionalisme is geen sprake nie.

Dit is wêrelds om die voorbeeld van die vaders tot wet te verhef.

Dit is Bybels om te besef dat hulle koppig, wederstrewig, onvas en ontrou was.

Die doel van vertel oor die verlede is dat die jeug nie word soos hulle vaders nie.

Asaf illustreer dit met ‘n paar voorbeelde uit die verlede.

Hy skryf dit uiteraard, in opdrag van die Gees, vir die mense, oud en jonk, van sy tyd, sodat hulle sal aanhou om te vertel, van oud op jonk.

 

Die grootste deel van die Psalm vertel Asaf oor God se wonders met die uittog uit Egipte:

die see wat Hy geklief het;

die waters wat soos mure weerskante gestaan het;

die wolkkolom bedags en vuurkolom snags;

die rotse wat Hy gekloof het in die woestyn, dat hulle oorvloedig kon drink.

Tog was die volk kleingelowig.

Hulle was skepties in die woestyn.

Sal God vir ons ‘n tafel kan dek in die woestyn?

Die volk het hulleself beklaag.

Hulle het terugverlang na die vleispotte van Egipte, en die vis uit die Nylrivier, en die komkommers en die waatlemoene, die prei en uie en knoffel van Egipte (Num 11:5).

Hulle het nog maar net van Sinaï af verder begin trek, toe murmureer hulle al.

Hulle het nie gewag of die HERE ‘n plan sal maak om hulle te voed nie, hulle was by voorbaat skepties.

Teen die agtergrond van die wonderdade met die uittog, beskryf Asaf dit as ongehoord.

In reaksie daarop het God twee dinge gedoen.

Hy het ‘n vuur gestuur, wat ‘n deel van die laer in as gelê het.

Hy het hulle daarmee goed skrikgemaak.

Maar Hy was ook genadig deur manna op hulle te laat reën.

Soos Asaf sê, Hy het hulle volop padkos gestuur.

Met die ooste- en suidewind het Hy ook swerms en swerms voëls oor hulle laat vlieg.

Waar die kwartels vandaan gekom het en waarheen hulle op pad was, noem Asaf nie.

Wat wel bekend is, is dat tot op vandag kwartels nog steeds migreer, byvoorbeeld vanuit Afrika rigting Noord-Europa.

God het hulle vliegroete reg oor sy volk gestuur.

Dus, ten spyte van gekla, het God tog goed vir sy volk bly sorg.

 

Natuurlik was die volk toe opgelug en bly, en hulle het gretig die kans aangegryp om hulle mae vol te kry.

Maar as daar dankbaarheid was, was dit net van korte duur.

Asaf sê, die kos was nog in hulle mond, toe het hulle al weer verder gesondig.

Toe hulle primêre behoeftes bevredig was, het hulle nie in dankbaarheid sy wette nagekom nie.

Inteendeel, hulle was van hulle kant nie trou in die verbond nie.

Hulle het hulle tong gebruik om vir Hom te lieg.

Gemeente, as die Here julle mae gevul het, lei dit tot ‘n dankbare lewe in diens van die Hom?

 

Asaf wys vervolgens daarop dat God se strawwe in die woestyn noodsaaklik was.

Dit het ten doel gehad dat hulle weer na Hom sou vra, sou terugkom na Hom, Hom weer sou soek.

Dat hulle daaraan sou dink dat God tog hulle rots is, die Allerhoogste hulle verlosser.

Maar as dit hulle enigsins tot besinning gebring het, was dit maar van korte duur.

Hulle het God opnuut versoek, weer gekrenk.

Nie teruggedink aan die buitengewone wondertekens in Egipte nie.

Asaf noem die wondertekens:

  • die riviere wat in bloed verander het;
  • die steekvlieë;
  • die paddas;
  • die sprinkane;
  • die hael;
  • die pes
  • en veral: die dood van die eersgeborenes.

Telkens kom hierdie patroon terug in Psalm 78:

Die HERE doen wondertekens, maar die volk is vinnig om dit te vergeet; daarna bring die HERE swaar tye oor sy kinders, en gedrewe deur die nood keer sy kinders weer terug na Hom.

 

Hierdie patroon herhaal homself ook wanneer die volk hulle in die beloofde land gevestig het.

Daar het hulle hulle Verbondsgod geterg deur te offer op die hoogtes aan afgode, aan afgodsbeelde, erken Asaf.

Dit het daartoe gelei dat die HERE die tabernakel in Silo prysgegee het.

Toe die Israeliete God se ark – die ark word in vers 61 sy sterkte genoem – toe hulle dit saamgevat het na die stryd teen die Filistyne, het God toegelaat dat die ark in die hande van die teëstanders beland.

En daar is swaar verliese gely ...

 

Gemeente, word daar in hierdie Psalm iets positiefs oor die volk gesê?

Daar word genoem dat in reaksie op sy straf hulle weer na Hom gevra het, na Hom teruggekom het, Dat hulle God gesoek het – al was dit maar tydelik.

Maar dit op sig was ook net genade.

Want as die HERE nie sou getugtig het nie, sou hulle nie weer na Hom gesoek het nie.

 

Gemeente, so ‘n somber preek, so negatief, waar is die vertroosting?

Psalm 78 staan ook in God se Woord.

Psalm 78 is nie soetsappig nie, maar in sekere sin ‘n bitter appel.

Maar tog is dit deel van geloofsopvoeding.

Verootmoediging oor die menselike kant van die verlede.

Nie net verontwaardiging oor die heidene nie, maar ook verootmoediging oor God se eie kinders.

 

Broers en susters, en dan spreek ek veral die ouer generasie aan.

Is dit hoe julle met julle kinders en kleinkinders oor die verlede praat?

In lyn met die spreuk uit Prediker: “Moenie sê nie: Hoe kom dit dat die vorige dae beter was as die teenswoordige? want nie uit wysheid vra jy hierna nie.” (Pred 7:10)

Vroeër was dinge nie beter as vandag nie.

Dit geld vir ander kerkverbande.

Maar dit geld ook vir die kerkverband waarin u opgegroei het.

Hoeveel hardkoppigheid, wederstrewigheid, onvastheid, was daar nie!

Was daar dan vroeër niks beter nie?

Was daar nie – byvoorbeeld – groot offervaardigheid vir die kerk nie, byvoorbeeld vir die kerkbou?

Was daar nie baie meer ‘n kultuur om trou kerk toe te kom, en trou die Bybelstudieverenigings, en trou die gemeentevergaderings by te woon nie?

Was daar nie ‘n baie meer lojale ondersteuning van Gereformeerde onderwys nie?

Was daar nie – en so kan daar dalk nog meer voorbeelde genoem word.

Maar, geliefde ouer broer en suster, Psalm 78 leer jou, dat as jy oor die verlede praat met jou nageslag, die toon, die botoon van dit wat jy vertel, verootmoediging moet wees.

Aan die einde van die gesprek moet jou kinders of kleinkinders, nie die gevoel hê: sjoe, maar my oupa of ouma is ‘n sterk gelowige, sjoe maar hulle was goeie mense, sjoe vroeër het dinge in die kerk en in die gesinne darem klop disselboom gegaan nie ...

Aan die einde van die gesprek moet jou kinders of kleinkinders huis toe gaan met die indruk: Eintlik is my oupa en ouma net soos ek.

Dinge was vroeër ook nie maklik nie.

Dit is eintlik net genade dat my oupa en ouma by die kerk gebly het.

Dit is groot genade dat hulle nou nog die Here dien.

 

En jonger generasie, jongmense, as julle hierdie goed oor die verlede hoor, moenie dink:

OK, ons oupas en oumas en ook ons ouers het aangejaag in die verlede, maar ons sal dit beter doen!

As julle eendag oud is, gaan julle op dieselfde manier oor julle eie verlede moet praat.

Elkeen van ons se lewe getuig van hardkoppigheid, wederstrewigheid, onvastheid en ontrou.

Dit is net die lig van Christus se genade en die vuur van sy Gees se werking, waaroor daar gejubel kan word.

 

Nou hierdie verootmoediging, hierdie nederige houding oor die verlede, beteken egter nie dat ons die verlede afskryf nie.

As vrygemaaktes kan ons maklik deurslaan na die ander uiterste, en dit gebeur inderdaad ook, dat alles in die verlede net sleg was, dat ons ons skaam oor die verlede, dat die vrygemaakte kerk glad nie mog bestaan het nie, dat ons so gou moontlik van ons verlede moet ontslae raak en vergeet, dat die gesamentlike herdenking van die verlede, 50 of 70 of 100 jaar later, eintlik ‘n onding is ...

Hierdie houding is ook nie reg nie.

Dit getuig van ondankbaarheid oor die verlede.

En Psalm 78 roep ons juis op om wel oor die verlede te praat.

En om juis dit te gebruik in die opvoeding van ons jeug.

Want juis in die verlede sien ons hoe die HERE wel aktief was.

En hoe Hy wonders gedoen het, juis ook in die lewens van uit hulleself baie sondige mense.

 

En dit is waarna ons nou in die tweede punt van hierdie preek gaan kyk.

 

(Tema: Vertel aan die jeug die roemryke dade van die HERE

1 Klaagtoon)

 

2 Jubeltoon

Daar staan sulke mooi dinge oor die HERE in Psalm 78.

Asaf raak nie daaroor uitgepraat nie.

En die episode uit die verlede wat dan veral aandag kry, is die uittog uit Egipte.

Dit is opvallend hoeveel keer in die Bybel daaraan teruggedink word.

Nie net Psalm 78 nie, verskeie ander Psalms doen dit ook.

Selfs tot in die Nuwe Testament vind ons die geskiedenis van die uittog weer terug.

Dink aan die preke in Handelinge – Stefanus se preek (Hand 7) en Paulus se preek (Hand 13).

Die uittog uit Egipte, God se wonders en tekens toe het ‘n onuitwisbare indruk agtergelaat.

Aan elke nuwe generasie is dit oorvertel, in geure en kleure, soos hier in Psalm 78.

Uit sy wonderdade blyk duidelik hoe Hy is.

Asaf noem ‘n aantal van sy indrukwekkende karaktereienskappe:

Hy is barmhartig.

Hy versoen die ongeregtigheid, Hy neem selfs daartoe die inisiatief.

Al straf en tugtig Hy, Hy verdelg nie.

Dikwels wend Hy sy toorn af.

Hy laat sy woede nie ten volle ontwaak nie.

Hy hou daarmee rekening dat ons vlees is, maar net ‘n asemteug op aarde.

Hy lei sy volk soos skape, Hy hou hulle bymekaar as ‘n kudde.

Hy lei sy kinders veilig.

Sonder vrees kan hulle deur ‘n see trek.

Hy sorg dat daar ‘n plek op aarde vir hulle is om te woon, om gelukkig te kan wees.

 

Geliefdes, wie sal nie na so ‘n God wil toehardloop nie?

Wie sal nie so ‘n God met sulke eienskappe wil omarm nie?

As jy gesondig het, kan jy na Hom terugkom, wetende dat Hy jou nie sal afstoot nie.

As jy omring word deur gevaar, kan jy op Hom staatmaak, soos die volk deur die Skelfsee.

Vir die alledaagse lewe kan jy op Hom vertrou, dat Hy vir jou ‘n plekkie op aarde sal gee om te woon.

 

En dan eindig Asaf sy Psalm deur te spring na die tyd van Dawid.

Want na die donker Rigtertyd, en nadat die volk op die knieë gebring is deur die Filistyne, het God soos ‘n held opgestaan.

Dit was sigbaar, eerstens deurdat Hy op die berg Sion sy heiligdom gevestig het.

En tweedens deur Dawid aan te stel.

Dawid het nie toevallig koning geword nie, God het hom gaan haal van die skaapkrale af, agter die lammerooie weg, sê Psalm 78.

God het ‘n spesiale doel met hom gehad.

En tydens sy koningskap het Hy pragtige tye vir sy volk gebring.

Dawid was vir God ‘n man na sy hart.

Weer eens, nie omdat Dawid sonder sonde was, beter as ons ander mense nie.

Maar die HERE het aan hom ‘n opregte hart gegee.

En so het Dawid ‘n verstandige koning geword.

Die volk het God se seën tasbaar ervaar tydens sy heerskappy.

 

Psalm 78 eindig hier, by Dawid.

As Nuwetestamentiese kerk kan ons die geskiedenis verder invul.

Ons weet dat Dawid ‘n voorafskaduwing was van sy nasaat, Jesus Christus.

God se belofte dat Dawid se dinastie ewig op die troon sou sit, daarmee het God na sy eie Seun Christus verwys.

Waar die uittog uit Egipte die hoogtepunt was in die geskiedenis van die verbondsvolk in die Ou Testament, so is Christus se koms na die aarde, sy middelaarswerk, sy oorwinning van die dood, en sy hemelvaart, die hoogtepunt van die Nuwe Testament.

Altans, tot op hede.

Ons sien uit na nog meer, na die glorieryke dag as Christus sal terugkom.

 

So as Asaf die jeug in ons teks oproep om hulle vertroue op God te stel en sy dade nie te vergeet nie, is daar soveel rede om dit te doen.

En geliefdes, as ons ons jeug oproep om hulle vertroue op God te stel en sy dade nie te vergeet nie, is daar net nog soveel meer rede om dit te doen!

Daar is niemand beter om op te vertrou nie.

Niemand beter as ons God, soos ons Hom nog beter ken vanuit die Nuwe Testament, ons Drieënige God, Vader, Seun en Heilige Gees.

 

So kan ek hierdie preek afsluit in ‘n jubeltoon.

Psalm 78 leer ons lesse uit die geskiedenis, lesse van verootmoediging.

Dit het ons in die eerste punt gesien.

Nie net Israel van destyds moes hulle verootmoedig nie.

Ook ons, ons as ou mense, het net soveel rede om onsself te verootmoedig.

Verootmoediging, dit is die toon van ons stem as ons met die jeug praat.

 

Moenie jou troos by jouself vind nie.

Moenie jou troos by jou ouers of by die voorgeslag vind nie.

Ons troos is in ons troue Verbondsgod.

Vind jou troos in Hom.

Huil uit by Hom.

Ervaar hoe Hy kan troos, hoe Hy sal troos.

En as jy met die jeug praat – dit het ons in die tweede punt gesien – praat groot oor Hom.

Oor Hom kan ons jubel.

Ons praat skuldbewus oor onsself, ons praat vol trots en ontsag en bewondering oor ons God, ons Vader deur ons Heiland en Saligmaker Jesus Christus.

Dit is ons rykste troos, dat ons aan Hom mag behoort in lewe en in sterwe.

En in sy verbond het God ons kinders en kleinkinders ook sy eiendom gemaak.

En ons getuig dat dit die beste is wat met hulle lewens kon gebeur.

En ons roep hulle op om elke keer weer na Hom terug te keer, net soos ons as oueres dit al soveel keer in ons lewe moes doen.

Want Hy is barmhartig, vergewingsgesind, bereid om te versoen, en al straf en tugtig Hy, Hy verdelg nie, Hy hou rekening met ons swakheid, beseffende dat ons net ‘n asemteug is, en Hy laat wei ons soos 'n herder; Hy sal die lammers in sy arm vergader en aan sy bors dra; die lammerooie sal Hy saggies lei (Jes 40:11).

Ja ons almal, jonk en oud, is sy lammerooie, wat Hy aan sy bors dra en saggies lei.

Amen.

 

Vrae na aanleiding van die preek:

Skriflesing: Psalm 78

Teks: Psalm 78:1-8

Om hierdie preek te verwerk volg hier ‘n paar vrae. Die antwoord kan in die preek gevind word, en sommige vrae vereis ook persoonlike oordenking.

  1. Watter voorbeeld uit die verlede, wat Asaf vertel, neem die grootste deel van die Psalm in beslag?
  2. Wat leer Psalm 78 ons oor die gevaar van nasionalisme?
  3. Waaroor moet ons in die verlede kla, en waaroor moet ons jubel?
  4. Hoe kan ons die laaste drie verse van Psalm 78 op Christus toepas?
  5. Hoe is Psalm 78 ‘n illustrasie van wat die Here in Prediker 7:10 ons leer?
  6. Het jy al met jou oupa of ouma oor die verlede gepraat? Wat het hulle vertel?
  7. Watter troos bied Psalm 78 jou?

 

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 78:1,2

Wet

Ps 119:4

Gebed

Skriflesing: Psalm 78

Ps 78:3,4

Teks: Psalm 78:1-8

Preek

Ps 78:7-11

Gebed

Kollekte

Ps 78:13,14,25

Seën