Wie die Heilige Gees is en wat Hy doen

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2022-03-13
Teks: 
Heidelbergse Kategismus Sondag 20
Preek Inhoud: 

Vanaand handel die preek oor die Heilige Gees.

Verlede week het die preek oor Christus gehandel.

Oor sy heerlikheid aan God se regterhand, en wat die waarde daarvan vir ons is.

En as waarde, as nut, word dan genoem, is dat Hy sy Heilige Gees oor ons uitstort.

Ons het verlede week ook aandag geskenk aan hoe die Gees werk.

Sy werk word met die wind vergelyk.

As ‘n sterk wind waai, staan alle bome skeef en groei in dieselfde rigting.

So waai daar ook, figuurlik gesproke, winde deur die samelewing.

‘n Gees van ontevredenheid byvoorbeeld, of ‘n gees van materialisme, ensovoorts.

Maar die Gees van Christus is ook aktief.

Hy waai as ‘t ware deur die wêreld, en in elke land is die gevolg van sy werk dat mense ‘n nuwe lewe kry, wedergebore word, dat daar kerke kom, dat mense begin lewe tot eer van God.

 

Vanaand kyk ons, aan die hand van Sondag 20, verder na die Heilige Gees.

 

Tema: Wie die Heilige Gees is en wat Hy doen.

 

In hierdie preek vra ek ‘n aantal vrae.

Kom ons begin by die eerste vraag:

 

1 Is die Heilige Gees ook God?

Daar is mense wat dit ontken.

Hulle beweer dat die Gees net ‘n krag van God is, net ‘n eienskap van God.

As ons egter kyk na wat daar in die Bybel oor Hom staan, is duidelik dat Hy ‘n aparte Persoon is.

Net soos die Vader en die Seun, word daar ook na Hom as ‘n selfstandige Persoon verwys.

Saam is hulle God.

God Drieënig.

Dus die Heilige Gees is God.

Op bevel van Jesus word ons ook gedoop in die naam van God die Heilige Gees – Mattheüs 28:19.

Sou die Here Jesus ons laat doop het in die naam van iemand wat nie God is nie?

 

Daar is nog Bybeltekste wat uitwys dat die Gees God is.

Petrus sê byvoorbeeld vir Ananias in Handelinge 5:

“waarom het die Satan jou hart vervul om vir die Heilige Gees te lieg? ... Jy het nie vir mense gelieg nie, maar vir God.” (Hand 5:3-4)

Verder lees ons in Genesis dat die Heilige Gees ook al betrokke was by die skepping van die wêreld.

En in Psalm 139 sing ons dat die Gees alomteenwoordig is – ‘n Goddelike eienskap.

Die Gees is God.

 

Tog het die Gees ‘n ander funksie in die Drieëenheid as die Vader en die Seun.

Woorde wat in die Bybel gebruik word om die werk van die Gees aan te dui, is byvoorbeeld:

Trooster, Raadsman en Leermeester.

Ook is Hy die een wat nuut maak, wat reinig.

Broer en suster, is die Gees vir jou ‘n Trooster, die Trooster by uitstek?

Is Hy jou Raadsman?

Is Hy jou Leermeester?

Maak Hy jou lewe nuut?

 

Dit bring ons by die tweede vraag:

 

2) Waarom word Hy eintlik heilige Gees genoem?

In die Bybel beteken die woord heilig: afgesonder van die sonde en toegewy aan God.

Heilig wil dus sê: so ver as moontlik verwyderd van die sonde.

Daarom heet Hy Heilige Gees.

Want sy werk is om mense te reinig.

Wanneer Hy in jou lewe kom, gaan die sonde by die deur uit.

Sy werk is om jou lewe te reinig.

Om jou ook heilig te maak, dit wil sê afgesonder van die sonde, en volledig toegewy aan God.

Jy kan daarom ook die Heilige Gees bedroef, as jy byvoorbeeld meer geheg is aan die sonde in jou lewe as aan sy reinigende werking.

Broer, suster, dink bietjie na, in watter geval het jy die afgelope week die Heilige Gees bedroef?

Was daar ‘n voorval toe jy liewer vir die sonde gekies het as vir sy reinigende werking?

 

Dit bring ons by die derde vraag.

 

3) Hoe werk die Heilige Gees?

Die Heilige Gees verlig ons.

Van nature is ‘n mens se lewe gehul in duisternis.

Uit ‘n mens se hart kom geen lig voort nie, maar duisternis, onreinheid, sê Jesus in Markus 7 (Mar 7:20-23).

Ons sing in Psalm 119 dat God se Woord die enigste lig is.

God se Woord word ook genoem die instrument, of die swaard van die Gees.

Hoe werk die Gees.

Hy gebruik die Woord.

Die Gees het daarvoor gesorg dat die Bybel tot stand gekom het.

Daarom word die Gees die Leermeester van die kerk genoem.

Maar daar is nog meer.

Deur sy onderrig in die Bybel maak die Gees ons bekwaam om ons dagtaak tot God se eer te kan verrig.

So het die Gees vir Saul bekwaam gemaak om sy taak as koning te verrig.

Maar toe Saul ongehoorsaam geword het aan die Woord van die Here, het die Gees van hom gewyk.

Wie God se Woord ignoreer, blus die werk van die Gees.

Die Gees het ook aan Dawid die bekwaamheid geskenk om koning te kan wees.

En Dawid was op ‘n sekere oomblik van sy lewe, wetende wat met sy voorganger Saul gebeur het, baie bevrees.

Want toe Dawid sy magsposisie as koning misbruik het om Batseba vir homself te vat, het hy gevrees dat die Gees ook van hom weggeneem sou word, omdat Hy God se Woord willens en wetens oortree het.

Daar was egter by hom berou, en die Gees het nie van hom gewyk nie.

Uit genade het die Gees weer ‘n rein hart in hom geskep – sien Psalm 51:12.

Die Gees het ook aan Simson die moed gegee om die volk Israel teen die Filistyne te beskerm.

Die Heilige Gees het ook vir Johannes die Doper bekwaam gemaak.

En meeste van almal het die Gees vir Jesus bekwaam gemaak vir sy Messiastaak.

Christus is deur die Gees toegerus in sy stryd teen die duiwel in die woestyn – Lukas 4.

Jesus het gepreek en wonders gedoen deur die Heilige Gees.

En dit was uit krag van die Gees wat Hy uit die dood opgestaan en na die hemel opgevaar het.

Deur sy Middelaarswerk het Hy ook vir ons die lewendmakende Gees verwerf.

Vanaf Pinkster werk die Gees nou ook in die lewe van hulle wat deur Christus gekoop is.

 

Die belofte in Johannes 16 het uitgekom: Deur sy Gees lei Christus ons in die hele waarheid (Joh 16:13).

En die keersyde hiervan is, dat ons onsself dan deur die Gees laat lei, as ons trou bly aan die waarheid wat die Gees deur apostels en profete laat opskryf het.

Die instrument van die Gees is dus die Bybel, dit is die waarheid.

En dit geld ook vir die Ou Testament.

As die Ou Testament in die Hebreërbrief aangehaal word, staan daar: “soos die Heilige Gees spreek” (Hebr 3:7).

Dit was die Gees wat profete en apostels bekwaam gemaak het om God se Woord te boek te stel.

Die Skrif is daarom die stem van die Gees, Ou en Nuwe Testament.

Dit leer ons ook uit 2 Timotheüs 3:16.

Hier staan letterlik in die Grieks:

Heel die Skrif is deur God ingeblaas.

Blaas – dink weer terug aan die wind wat waai – dit dui op die werk van die Gees.

So het die Gees in mense gewerk, so het deur sy inspirasie die Bybel tot stand gekom.

 

Tot sover, gemeente, die vraag:

Hoe werk die Heilige Gees?

Die Gees het daarvoor gesorg dat die Bybel tot stand gekom het.

Broer, suster, as jy wonder of die Gees in jou werk, of jou lewe Geesvervuld is, maak elke dag die Bybel oop.

Leef van harte daaruit, dan is jy Geesvervuld!

 

Dit bring ons by die volgende vraag:

 

4) Het ek ook die sogenaamde salwing van die Gees ontvang?

Wel, gemeente, Sondag 20 is hier baie duidelik:

Die Gees is ook aan my gegee.

Wie is hierdie my eintlik?

My, dit is dieselfde persoon wat ook in Sondag 1 aan die woord is.

Wat is my enigste troos in lewe en in sterwe?

Antwoord: Dat ek in lewe en sterwe die eiendom van Jesus Christus is.

Wie sy eiendom is, ontvang ook sy Gees.

Is jy sy eiendom, broer, suster?

Ja!

Dan het jy ook die salwing van die Heilige Gees.

 

Nou wat beteken dit om die salwing van die Gees te hê?

Ook hier moet ons let op die werkwyse van die Gees.

Die Heilige Gees werk naamlik met sy swaard, sy Woord.

Daarmee sny hy ons los van sondes, van verkeerde gewoontes, van verslawings, van verkeerde vriendskappe, noem maar op.

En daarmee bring Hy ons ook by die gemeenskap van die heiliges.

Hier, in Christus se kerk, klink die oproep, soos in 2 Korinthiërs 7 staan: “laat ons ons van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig, en laat ons die heiligmaking in die vrees van God volbring.” (2 Kor 7:1)

Christus skenk sy Gees om ons heilig te maak.

Hierdie heiligmaking is onmisbaar.

Sonder heiligmaking sal niemand die Here sien nie – Hebreërs 12:14.

Net kerklid wees is nie waarborg dat jy in die hemel kom, dat jy die Here sal sien nie.

As kerklid moet jy jou lewe toewy, laat heilig deur wat die Gees in die Skrif jou leer.

Wie wat dit betref slaplê, bedroef die Gees, blus die Gees, werk selfs teen die Gees in.

Steeds bly die Woord die vernaamste werktuig, waardeur die Gees mense se lewens verander.

 

Maar het die Gees dan nie ook ander metodes nie?

Ja, die Gees het nog baie ander metodes.

God se Gees is in beheer van alles.

Hy kan mense tref met ‘n siekte.

Of Hy kan mense wonderbaarlik genees.

Hy kan ‘n oorlog laat begin.

Hy kan ‘n oorlog laat ophou.

Hy kan regerings en tiranne tot ‘n val bring.

Hy kan hulle aan die mag bring.

Hy kan ‘n uitmergelende droogte bring.

Hy kan verkwikkende reën bring.

Ensovoorts, ensovoorts.

Tog bly die Woord sy primêre instrument.

 

Die geskiedenis leer naamlik dat ongelowige mense nie in God begin glo het omdat hulle byvoorbeeld genees is van ‘n ernstige siekte, of omdat hulle ‘n natuurramp oorleef het, of omdat hulle ‘n oorlog meegemaak het nie.

Slegs die Woord van God maak mense se oë oop.

Ja, rampe of genesings of wat ook al kan in mense die soeke wakker maak na God en sy wil.

Maar slegs die Woord dring deur tot in die diepste skuilhoeke van die hart, om die mens van sy ellende te oortuig.

Slegs die Woord is as swaard van die Gees skerp genoeg om mense tot stilstand te bring, tot ommekeer, tot bekering, en hulle te laat breek met die sonde.

In die Bybel kom Christus na ‘n opstandige mensheid.

Hy kom tot ons in die gewaad van die Evangelie.

Wie die Evangelie omhels, omhels Christus self – Christus wat nou op die troon in die hemel sit.

Wie sy lewe inrig volgens die Woord, lei daarom ‘n Geeslike lewe, en kry – soos Sondag 20 sê – meer en meer deel kry aan Christus en sy weldade.

Dit beteken: Die Heilige Gees bring ons deur die Bybel nie net tot geloof nie, maar Hy maak ons ook dankbaar.

Nou wil ons niks anders meer doen as net om ons Heiland te behaag.

Regverdigmaking en heiligmaking.

Ons is nie net vry verklaar van sondeskuld nie, maar ons word ook vrygemaak van die sondemag.

Die Heilige Gees werk nie net in ons ‘n teoretiese begrip van wie God is nie.

Maar Hy maak ons ander mense.

Hy reinig ons hart en lewe.

Hy maak ons vry van die slawerny van die sonde.

So bepaal die geloof jou hele bestaan.

So is jou lewe gesalf met die Gees.

 

Dit bring ons by die volgende vraag:

5) Kan iemand die geloof van jou afvat? Kan jy jou geloof verloor?

Die geloof bepaal jou hele bestaan.

Jy glo met hoof, hart en hande.

Iemand het al ‘n keer vir my gevra:

Sê nou maar wetenskaplikes ontdek die plek in jou brein waar jou geloof sit.

Sal hulle dan in die toekoms jou geloof kan wegvat, deur by wyse van spreke daardie deel van jou brein uit te sny, of te de-aktiveer?

Broers en susters, u verstaan hopelik dat hierdie voorstelling berus op ‘n ernstige verskraling van die geloof.

Soos ek nounet gesê het: Ons glo met hoof en hart en hande.

Geloof is nie net iets in jou geheuge, in jou brein nie.

Jy glo met jou hele wese.

Jy is ‘n gelowige met jou hele liggaam en siel.

‘n Gelowige dien die Here met sy hoof, ja, maar ook met al sy sintuie, en al sy ledemate, en sy voete, en sy hande, en noem maar op.

Wie dus iemand se geloof by hom sou wou afvat, sal dit nie met ‘n enkele mediese ingreep regkry nie.

Moenie u laat bangmaak met science fiction tipe praatjies nie.

Wie iemand se geloof sal wil afvat, sal die hele persoon moet doodmaak.

En selfs dan sal hy nie slaag nie.

Want wat verseker Christus ons?

“moenie vrees vir die wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie; maar vrees Hom liewer wat die siel sowel as die liggaam kan verderwe in die hel ... Wees dan nie bevrees nie: julle is meer werd as baie mossies.” (Matt 10:26-31)

Dit is ’n groot troos.

Die Trooster, Hy wat in ons woon, Hy gee dit vir ons.

Die Trooster is sterker as enige ander mag.

As God vir ons is, wie kan teen ons wees?

As die Gees in jou woon, kan niemand jou geloof afvat nie.

Niemand is sterker as die Heilige Gees nie.

 

Ons kom nou by die laaste vraag:

 

6) Wat is eintlik sonde teen die Heilige Gees?

Ek dink ons kan die beste hierop antwoord deur na ’n voorbeeld uit die Bybel te kyk.

Stefanus, vlak voordat hy gestenig is, het die volk van God gewaarsku dat hulle hulle skuldig maak aan hierdie sonde.

Baie Fariseërs en Skrifgeleerdes het naamlik met hul eie ore die prediking van sowel Johannes die Doper as Jesus gehoor.

Hulle met hul eie oë die wonders gesien wat Jesus verrig het.

Tog het hulle teen Hom gedraai.

Hulle het geweier om te erken dat die Gees van God op Hom rus.

Hulle het selfs die wonders wat Jesus gedoen het, aan Beëlsebul toegeskryf, dit is aan Satan, pleks van aan die Gees van God.

Dit was ronduit laster.

Om bewus onwaarheid te praat teen die getuienis van die Gees in.

Wie so vir Christus verwerp, sy Woord, sy wonders, sondig teen die Gees.

 

In die Skrif leer ons ’n vergewingsgesinde God ken, juis danksy Christus.

Maar wie dit nie wil hoor nie, waar sal hy dan redding uit die ewige dood ontvang?

Watter weg na die ewige lewe bly daar oor, as Christus se Woord aan die kant geskuif word?

Dit is dus sonde teen die Gees.

Om die Woord, wat die Gees tot stand laat kom het, wat getuig van Christus en die weg tot saligheid, om dit aan die kant te skuif.

Daarmee plaas jy jou eie saligheid op die spel.

 

Geliefde gemeente, julle het almal die Heilige Gees ontvang.

En Hy plaas Christus se Woord in jou lewe.

Buig vir sy Woord.

Laat dit jou lewe beheers.

Dan is daar by jou geen enkele sprake van sonde teen die Gees nie, dan hoef jy geensins daaroor wakker te lê nie.

Van sy kant is daar geen twyfel: Hy sal altyd by jou bly.

 

Geliefde gemeente, ons het in hierdie preek aandag geskenk aan wie die Heilige Gees is en wat Hy doen.

Ons het verskillende vrae behandel:

Is die Heilige Gees ook God?

Ja, Hy is!

Waarom word Hy Heilige Gees genoem?

Hoe werk Hy?

Hoe werk Hy in my?

Hoe ontvang ek die salwing van die Gees?

Kan iemand die geloof by my afvat?

En, wat is sonde teen die Heilige Gees?

Al hierdie vrae kon ons uit die Skrif beantwoord, met sekerheid.

So het die Gees ook deur die prediking van sy Woord weer sekerheid, oortuiging, troos en dankbaarheid in ons harte gewerk.

 

Kom ons bely nou, in ons amenlied, dat ons glo in die Heilige Gees, en ook wat ons glo oor sy wonderlike werk in ons lewens.

 

Amen.

 

Vrae na aanleiding van die preek:

Skriflesing: Johannes 16:1-15 & Handelinge 5:26-42

Teks: Preek nav Heidelbergse Kategismus Sondag 20

Om hierdie preek te verwerk en verder daaruit te leer, volg hier ‘n paar vrae. Die antwoord kan in die preek gevind word, en sommige vrae vereis ook persoonlike oordenking.

  1. Noem ‘n Bybelvers waaruit duidelik blyk dat die Heilige Gees ook God is.
  2. Wat beteken die woord heilig? Hoe maak die Heilige Gees jou lewe heilig?
  3. Kan die Heilige Gees deur ‘n spesiale gebeurtenis in jou lewe werk?
  4. Wat beteken dit dat die hele Skrif deur God ingegee (ingeblaas) is? (2 Tim 3:16)
  5. Was jy al bang dat jy jou geloof gaan verloor? Hoekom?
  6. Hoe het die Fariseërs teen die Heilige Gees gesondig?

 

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 119:26,39

Gebed

Skriflesing: Johannes 16:1-15 & Handelinge 5:26-42

Ps 143:8

Teks: Nav Heidelbergse Kategismus Sondag 20

Preek

Sb 27:4,5

Gebed

Geloofsbelydenis van Nicea

Ps 139:1,2

Kollekte

Ps 139:3,4,5

Seën