Geloofsopvoeding van hart tot hart, van oggend tot aand

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2022-03-06
Teks: 
Deuteronomium 6:6-7
Preek Inhoud: 

Preek: Deuteronomium 6:6-7

 

Môre sal daar hier in Pretoria weer baie vroue vroeg opstaan, sodat hulle deur die besige verkeer heen betyds by hulle werk kan aankom.

En oppad werk toe sal hulle by die dagopvang verby ry om hulle kind af te laai.

Of, soos dit deesdae heet, Graad dubbel 0, of trippel 0, of selfs Graad 0000.

Aan die einde van die dag, laat middag of vroeg aand, sal sy dan weer haar kind gaan optel by die dagopvang, waar dit die hele dag deurgebring het.

Op pad huis toe sal sy nog gou by die winkel stop, om iets te koop om die aand te eet.

Moeg en afgemat sal sy by die huis aankom, geen energie om na die kind se seurstemmetjie te luister nie.

Na ‘n uur of twee sal sy haar kind bed toe vat, om daarna nog ‘n rukkie TV of sosiale media te kyk, en dan self ook maar in te kruip, omdat die volgende dag dieselfde haar weer te wagte staan.

 

Gemeente, dit is hoe die meeste kinders in Suid-Afrika opgroei.

Die meeste kinders in ons land groei by hulle ma op, sonder hulle pa, terwyl die ma voldag buitenshuis werk.

En vir daardie kinders wie se pa en ma bymekaar is, geld in die meeste gevalle ook dieselfde.

Ook hulle word opgevoed deur ‘n dagsorg, of ‘n naskool, of deur ‘n bediende.

Geen wonder die ouers se invloed op die vorming van hulle kinders is beperk.

Ja, hulle kies die dagsorg en skool wat by hulle lewensvisie pas, maar vir die res moet ander vir die meeste ure van die week hulle kinders opvoed.

 

Nou is dit ‘n feit dat enkelouers in ons land nie altyd veel van ‘n keuse het nie.

As hulle gelukkig is, is daar ‘n ouma by die huis wat die kind kan opvoed, maar ook dit is nie vanselfsprekend nie.

 

Tema: Geloofsopvoeding van hart tot hart, van oggend tot aand

 

Dit kom dan ook nie as ‘n verrassing as ek die konklusie trek dat die manier hoe verreweg die meeste kinders in ons land opgevoed word, haaks staan op dit wat ons in vandag se teks lees nie.

Die gevolge is ook orals rondom ons sigbaar.

Kinders wat op die strate opgroei.

Kinders wat verslaaf raak aan sosiale media of aan dwelms.

Kinders wat heeltemal die spoor byster raak.

Of, oënskynlik minder erg, kinders wat net soos hulle ouers word: suksesvol in hulle beroep, materieel welaf, maar weinig tyd vir dit wat werklik saakmaak.

En êrens tussen al die drukte deur gebeur dit vroeër of later dat kerkgang, kerklidmaatskap, en uiteindelik ook die geloof in God by die agterdeur uit verdwyn.

Hulle Skepper, hulle Verlosser, en die diens aan Hom word steeds minder belangrik.

Hulle ken Hom nouliks meer, omdat daar nie tyd is om Bybel te lees nie.

Laat staan dat daar nog sprake daarvan is dat hulle Hom met hulle hele hart liefhet, soos ons teks sê.

 

As gemeente behandel ons hierdie jaar die tema Onderrig en laat onderrig.

Beide.

Jy kan jou kind nie net laat onderrig nie.

Self jou kind onderrig, self jou kind opvoed, dit staan op die eerste plek.

En as daar een ding uit ons teks duidelik is, is dit dat dit tyd vat.

Die feit dat ouers min, maar wel kwaliteit-tyd aan hulle kinders bestee, is eintlik ‘n drogredenasie.

Natuurlik moet jy die tyd met jou kinders goed bestee, en nie net by wyse van spreke die hele tyd voor die TV lê nie, al is dit nie verkeerd om soms saam ‘n sportwedstryd te kyk nie.

Maar ons teks maak oorgenoeg duidelik dat opvoeding tyd vereis.

En as ouer moet jy dit nie al sugtende doen, met die gevolg dat kinders die heeltyd die gevoel kry dat hulle ‘n oorlas is nie.

Die kinders moet merk dat dit vir hulle ouers ‘n groot vreugde is om saam met hulle te wees.

Goeie opvoeding begin daarmee dat jy as ouer die regte houding het.

Vers 5 van ons teks spreek dit aan:

Jy, jy as ouer, moet die HERE jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag.

As dit so is, dan val die res van jou lewe ook in plek.

Laat die HERE jou hoogste vreugde wees.

Waar die hart van vol is, loop die mond van oor.

Dit is die begin van ‘n goeie opvoeding.

Om vir jou kind te laat blyk dat in jou hart daar liefde vir die HERE is.

Liefde vir sy skepping.

Dankbaarheid, omdat Hy sy Seun Christus gestuur het om die verbond te herstel.

Dankbaarheid dat daar in Jesus se naam dat vergifnis van sondes is, en ewige lewe.

In Christus is daar ‘n antwoord op die dood.

Om aan jou kinders te leer dat mense moet doodgaan, dit is een van die moeilikste dinge om te doen.

Maar in Christus kry ons die krag om dit te doen, omdat Hy die dood oorwin het.

Dit is die geloof waaraan ons as ouers vashou.

 

Geloofsoordrag gebeur nie net met woorde nie.

Kinders is fyn waarnemers.

Hulle sien baie meer van hulle ouers as wat die ouers besef.

Kinders voel onmiddelik aan wanneer die atmosfeer gespanne is.

Daarvoor is woorde nie nodig nie.

Kinders sien hoe ouers hulle beste beentjie voorsit as daar gaste, familie of vriende kom.

Kinders sien ook hoe hulle ouers is, as niemand anders daar is nie.

As ouer voed jy jou kinders op met jou hele lewensstyl.

En vir ‘n gelowige ouer begin dit dus by ‘n hartlike liefde vir die HERE jou God.

Daaruit vloei voort dat jy aan jou kinders vertel wie die HERE is en hoe goed Hy is en wat sy wil is.

 

Ons het nounet die 10 gebooie uit hoofstuk 5 gelees.

Moses, wat aan die einde van sy lewe gekom het, hou die HERE se wil nog een keer aan die volk voor.

Hy herinner hulle daaraan.

Vandaar dat ons die 10 gebooie hier vir ‘n tweede keer in die Bybel vind, omdat Moses dit weer by die volk wil inprent.

Dit is hoe die HERE gedien wil word.

En wat opval in Deuteronomium is hoe Moses beklemtoon dat die volk dit van harte moet doen.

Dit moet nie net ‘n uiterlike plig wees, wat met dwang opgelê word nie.

Die liefde vir die HERE en sy gebooie moet in hulle harte wees.

En dit is nie moeilik nie.

Want Hy het sy volk uit die slawerny van Egipte bevry.

Dit is waarmee God sy wet begin:

Ek is die HERE jou God wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het (Deut 5:6).

Dit is ook waarmee ouers hulle geloofsopvoeding begin.

Met die dankbare besef dat hulle kinders ook uit slawerny bevry is, en so deur Christus in ‘n bevoorregte omgewing geplaas is.

Met die dankbare besef dat die HERE se gebooie goed is.

Daaruit spreek sy liefde, sy besorgdheid oor ons.

In vers 20 beklemtoon die HERE dat juis die blydskap oor sy bevryding die botoon in die opvoeding moet voer:

“As jou seun jou later vra en sê: Wat beteken die getuienisse en de insettinge en die verordeninge wat die HERE onse God julle beveel het? Dan moet jy aan jou seun sê: Ons was slawe van Farao in Egipte; maar die HERE het ons deur ‘n sterke hand uit Egipte uitgelei. En die HERE het groot en onheilbrengende tekens en wonders voor ons oë in Egipte aan Farao en sy hele huis gedoen.” (sien ook Ex 13:14)

In die sentrum van geloofsopvoeding staan wat die HERE gedoen het, die verwondering en blydskap daaroor!

Kinders moenie by hulle ouers waarneem dat hulle kla oor die HERE se wette nie.

Gelowige ouers laat aan hulle kinders blyk dat die HERE se wette sin maak, en dat al struikel ook hulle, dat hulle tog graag daarvolgens wil lewe.

Omdat hulle besef dat die HERE se liefde en sorg uit sy wette na vore kom, omdat ouers leef vanuit die besef dat hulle bevry is deur Christus, en daarom graag uit dankbaarheid na sy wil lewe.

 

Psalm 78 sing: Die roemryke dade van die HERE sal ouers nie vir hulle kinders verberg nie.

Sy mag en die wonders wat Hy gedoen het.

En dan vertel die res van die Psalm in geure en kleure hoe God sy volk uit Egipte bevry het.

Die Psalmis, Asaf, verswyg ook nie dat God se volk dikwels ongehoorsaam en kleingelowig was nie.

En des te meer is daarom die verwondering oor hoe goed en geduldig die HERE met sy kinders was.

“Hy is barmhartig, Hy versoen die ongeregtigheid en verdelg nie, en dikwels wend Hy sy toorn af en wek nie al sy grimmigheid op nie. En Hy het daaraan gedink dat hulle vlees was, ‘n wind wat weggaan en nie terugkom nie.” – Psalm 78:38-39.

En net soos Asaf, mag verbondsouers vandag nog steeds die HERE se roemryke dade aan hulle kinders vertel.

Die wonder dat Hy sy Seun laat mens word het, om ons sondes op Hom te neem en dit te versoen.

Die wonder dat Hy uit die graf opgestaan en die dood oorwin het.

Die blye boodskap dat vir wie in Hom glo, die dood net ‘n deurgang na die ewige lewe sal wees.

Die feit dat ons Here Jesus Christus nou op die troon in die hemel sit en heers oor alle dinge, en spesiale sorg aan sy gemeente bestee.

En so mag ouers benadruk hoe ryk bevoorreg hulle en hulle kinders is, om in hierdie posisie op aarde te wees, om lidmate van sy gemeente te mag wees, van sy verbondsvolk.

 

Ons teks sê vervolgens dat ouers al hierdie dinge hulle kinders moet inskerp.

Inskerp is ‘n sterk woord.

Die Hebreeuse woord kan vertaal word met: oor en oor vertel; herhaal.

Dit is iets wat elke dag terugkom.

Nie net op Sondag nie, maar elke dag gaan die Bybel oop.

En nie net elke dag met boekevat nie, maar deurlopend.

Soos ons teks sê: As jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan.

Vroeër was die huise klein, en as mense tuis was, was hulle almal in dieselfde kamer.

Deesdae is huise groot, elkeen het sy eie kamer.

En hoe dikwels gebeur dit nie dat elke gesinslid hom- of haarself in sy kamer terugtrek, en daar met sy eie dinge besig is, of dit op sy selfoon is, of wat ook al.

As jy in jou huis sit, dit beteken hier om fisies saam te wees.

Om sinvolle, opbouende gesprekke te voer oor dinge wat saakmaak.

As ouer het jy die verantwoordelikheid om die gespreksonderwerp te stuur en soms te verander, sodat gesprekke nie net oppervlakkig bly, of nog erger, dat daar heeltyd geredekawel word nie, maar dat die atmosfeer en gesprekke positief en opbouend is.

 

Maar nie net tuis vind die geloofsopvoeding plaas nie.

Ook as jy op pad is.

Vroeër het die mense lang afstande te voet afgelê.

Dit was ideale geleenthede om langs mekaar te stap en met mekaar te praat.

Al wandelende deur die velde kon die ouer sy kind wys op die skeppingsprag.

Al wandelende was jy ook blootgestel aan die elemente van son en wind en reën, waarin God se hand sigbaar is.

En soos vandag, was dit vroeër ook so dat jy nie die enigste weggebruiker was nie.

Al wandelende het jy en jou kind ook verby die goddeloses gekom.

Kinders sien dinge raak, en dit is ouers se taak om hulle kinders te help om sin te maak uit dit wat hulle sien.

Waarsku vir die slegte dinge, maar ook hulle leer om die goeie en mooi dinge raak te sien.

 

Vandag loop ons nie meer lang ente met ons kinders saam nie.

Maar ook in die motorvoertuig is daar gulde geleenthede.

Deesdae is motors tjoepstil van binne, daar is nie veel enjingeraas nie, en jy kan maklik met jou kinders praat.

Toe ons klein was, het my boetie en ek altyd agter die agterste bank in die kattebak gesit, bo op die enjin van die VW kewer.

En as my pa homself wou verstaanbaar maak, moes hy skreeu.

Vandag is dit nie meer so nie.

Wat vandag wel kan gebeur, is dat die radio die hele tyd aanstaan, wat ook nie bevorderlik is nie.

Ouers, koop die tyd uit, gebruik jou tyd nuttig, ook as jy op pad is.

 

Ons teks noem nog twee situasies: as jy gaan lê en as jy opstaan.

Hierdie woorde dui oorspronklik op die vaste oggend- en aandgebed, waarvan die kinders nie uitgesluit is nie, maar aktief in betrek is.

Gelowige ouers leer hulle kinders om te bid voordat hulle gaan slaap.

En as die gesin die volgende dag opstaan, is dit ‘n prioriteit dat die dag begin word met die Bybel en gebed.

God se seën en beskerming word oor die nuwe dag afgebid.

Laat die kinders agterkom dat dit vir die ouers wesenlik is, dat hulle daarsonder nie die dag sal deurkom nie.

Dit hou in dat jy nie so laat opstaan dat jy nie vir jou kinders ontbyt kan gee, laat staan met hulle kan lees en bid nie.

En so staan heel die dag, vandat jy opstaan totdat jy gaan lê, in diens van die HERE.

En dit mag jy aan jou kinders oordra, in woord en met jou voorbeeld.

En as jy die HERE liefhet, sal jou kinders sien dat jy graag so lewe, dat dit vir jou nie ‘n las of net tradisie is nie.

En so gebruik Christus jou as ouer om jou kind na Hom toe te lei.

Dat jou kind sy Skepper en Verlosser leer ken.

Dat jou kind sy wil leer ken, en ook innerlik leer insien dat sy wil die beste pad deur die lewe is.

Wat ‘n pragtige taak vir jou as ouer!

As die HERE in Jeremia 31 sê: “Ek gee my wet in hulle binneste en skrywe dit op hulle hart”, dan mag jy as ouer die griffel wees wat God gebruik om dit op jou kind se hart te skryf.

Sodat eendag, as jou kind groot geword het, hy of sy die HERE van harte sal liefhê, en sy wet in sy hart geskryf sal wees, en dan self ook die keuse sal maak om graag in sy weë verder te wil lewe.

 

Amen.

 

Vrae na aanleiding van die preek:

Skriflesing: Deuteronomium 6

Teks: Deuteronomium 6:6-7

Om hierdie preek te verwerk en verder daaruit te leer, volg hier ‘n paar vrae. Die antwoord kan in die preek gevind word, en sommige vrae vereis ook persoonlike oordenking.

  1. Hoekom word die 10 gebooie in Deuteronomium herhaal?
  2. Wat is die kern van die 10 gebooie volgens Deut 6:5?
  3. Wat bedoel die HERE as Hy sê dat die woorde wat Hy beveel in ons hart moet wees?
  4. Watter tydstip van die dag ervaar jy as ouer as die geskikste om ‘n goeie gesprek met jou kinders te voer? Oupas en oumas en ander gemeentelede kan ook aan ‘n tydstip dink wanneer hulle met die jeug ‘n gesprek voer.
  5. Vir die ouers: Watter plan kan jy as ouer maak om meer met jou kind oor die dade van die Here te praat?
  6. Vir die kinders: Watter vraag wou jy nog aan jou ouers gevra het oor die Here?

 

Liturgie: 

Votum (Ps 121:1)

Seën

Ps 78:1

Wet

Ps 103:6,7

Gebed

Skriflesing: Deuteronomium 6

Ps 78:2,3,4

Teks: Deuteronomium 6:6-7

Preek

Ps 34:1,6,8

Gebed

Kollekte

Ps 128:3,4

Seën