Wat Dawid se val in sonde ons leer

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2022-02-13
Teks: 
2 Samuël 11:27b-12:1a
Preek Inhoud: 

Preek: 2 Samuël 11:27b-12:1a

 

In hierdie Bybelgeskiedenis leer ons hoe skielik en onverwags ‘n gelowige, selfs ‘n diep gelowige, in sonde kan val.

Ek dink die mense rondom Dawid kon hulle ore nie glo toe dit uitkom wat hy gedoen het nie.

Net so is dit vandag nog, en mag God dit verhoed.

Maar dit is pynlik wanneer ons hoor dat ‘n medegelowige, dalk selfs ‘n ampsdraer, diep in sonde geval het.

En vir die wêreld is dit ‘n rede om leedvermaak te hê.

Maar ons leer ook uit hierdie geskiedenis hoeveel moeite die HERE doen om sondaars weer terug op sy regte weë te kry.

 

Tema: Die geskiedenis van Dawid se val in sonde leer ons:

1 dat algemene moraliteit geen beskerming bied nie

2 dat persoonlike geloof geen beskerming bied nie

3 dat die HERE alleen beskerming bied teen die sonde

 

1 Algemene moraliteit

Met algemene moraliteit bedoel ek daar dat sekere standaarde in die samelewing heers.

As ‘n samelewing sterk beïnvloed is deur die Christendom, kan mens sê dat daar ‘n globale Christelike moraliteit in die samelewing heers, al is dit miskien oorwegend net aan die oppervlakte.

In Westerse lande was daar in die verlede ‘n redelike sterk Christelike moraal.

Die landswette het dit vir mense nie maklik gemaak om te skei nie.

Om ongetroud saam te woon, daaroor het mense gefrons.

Sondag is as rusdag beskou, en volgens wet moes winkels gesluit wees.

So kan daar verskillende voorbeelde genoem word.

Deesdae sien ons dat die Christelike moraal in Westerse lande al hoe meer verdwyn.

 

Nou in Dawid se tyd was daar ook ‘n algemene moraliteit in die land.

Nie dat dit altyd so was in Israel nie.

Ons kan dink aan die donker Rigtertyd, toe elkeen gedoen het wat goed was in sy oë.

Die mees skokkende dinge het in helder daglig plaasgevind, soos groepsverkragtings, mans wat meisies steel om hulle vrou te word, die uitmoor van hele dorpe, ensovoorts.

Daardie donker Rigtertyd het God sy dank egter tot ‘n einde gekom.

Dit het gebeur in die tyd van Samuel, die laaste rigter, toe ‘n periode van wydverbreide reformasie op gang gekom het.

Samuël het die volk teruggelei na die paaie van die HERE.

Hierdie reformasie het ‘n dip gevang tydens die regering van koning Saul, veral rigting die einde van sy lewe.

Maar toe Dawid aan bewind kom, het hy die reformasie wat Samuel begin het, kragtig voortgesit.

Dit was sigbaar aan verskillende dinge wat hy as koning gedoen het, waaronder die herstel van die openbare erediens, en ook die opheffing van die algemene moraal in die land.

Daardie moraal was uiteraard gebaseer op die HERE se wette.

Dinge soos wat in die Rigtertyd gebeur het, kon op swaar strawwe reken.

En ook die publieke opinie het geswaai, sodat die mense oor die algemeen begin dink het in lyn met die HERE se wet.

Dit wat daarteen ingegaan het, is afgekeur, as onaanvaarbaar beskou.

Of dit diefstal was, moord, sabbatsontheiliging, egskeiding, of owerspel.

En, soos u uself kan voorstel, hierdie publieke opinie, hierdie heersende moraal, het ‘n gesonde drumpel gevorm, wat help voorkom het dat mense in sonde val.

 

Maar, en dit is die punt, hierdie algemene moraal kan nie die sonde voorkom nie.

Dink vir ‘n oomblik terug, veral die ouer mense, toe daar dekades gelede nog in ‘n mate ‘n Christelike moraal in Suid-Afrika geheers het.

Ook toe kon dit nie voorkom dat mense owerspel gepleeg het nie, al was dit in die publieke opinie afgekeur.

Net so was die geval in Dawid se tyd.

Hoewel daar ‘n sterk moraal ontwikkel het, gebaseer op die Bybel, waaraan hy sterk meegewerk het om dit in sy land te vestig, kon daardie moraal egter nie keer dat Dawid self in die sonde geval het, waaroor ons in hierdie Bybelhoofstukke lees nie.

Toe die begeerte na die sonde onstuitbaar in Dawid begin brand, was die drumpel van die moraal nie hoog genoeg om hom te keer nie.

En wat nog erger is, die aanwesigheid van daardie moraal het selfs daartoe gelei dat hy nog meer sondes gedoen het as wat hy aanvanklik wou gedoen het.

Die feit dat die moraal dit as verkeerd beskou het om owerspel te pleeg, het, toe Dawid dit gedoen het, hom genoodsaak om sy sonde weg te steek.

As daar geen moraal was nie, as Dawid ‘n heidense koning was, dan sou hy dalk net vir Batseba as sy vrou gevat het, en niemand sou dit as verkeerd beskou het nie, dit was mos ‘n koning se reg, en Uria, Batseba se man, sou maar net moes sluk.

Maar volgens God se Woord is selfs die koning aan sy wette onderworpe.

Dus, noudat Dawid in sonde geval het, het hy vanweë die heersende moraal die druk ervaar om sy sonde weg te steek.

Dit het daartoe gelei dat hy nog meer sondige planne beraam het.

‘n Slinkse plan om die indruk te wek dat die baba wat op koms was, Uria se eie kind was.

En toe dit nie werk nie, het hy as koning die skandelike ding gedoen om een van sy onderdane bewus dronk te voer.

En toe dit nie die gewensde uitwerking gehad het nie, die lae plan om Uria om die lewe te bring, waarin hy toe geslaag het.

 

Wat ons hieruit leer is dat algemene moraliteit nie kan voorkom dat ‘n gelowige, selfs ‘n diep gelowige, in sonde val nie.

As jy in die kerk opgroei, maar jy het nie ‘n opregte geloofsband met die HERE nie, as jy die regte lewe lei, net omdat jou ouers dit van jou verwag, of die algemene opinie in die kerk, dan staan jy in wese onbeskermd teenoor die verleiding van die sonde.

Satan sien dit, en hy sal ‘n aanslag teen jou beraam, en jy gaan in sonde val, en as jy nie ‘n lewe uit vergewing lei nie, gaan jy probeer om jou sonde toe te smeer.

En in ons hedendaagse situasie, waar daar ‘n al hoe grote verskil is tussen die heersende moraal in die kerk en die in die samelewing, kan dit daartoe lei dat jy gaan kies om jou uit die kerk te onttrek, om weg te kom onder hierdie moraal, hierdie groepsdruk uit, sodat jy daarbuite kan aangaan om die soort lewe te lei waarin jy geval het, sonder om deur mense om jou heen gekonfronteer te word.

En miskien stel jy dit nog op prys om wel ‘n kerklid te wees, maar dan gaan kies jy vir jou ‘n kerk waar die heersende moraal nie so streng is nie, waar mense wat owerspel pleeg, nie lastig geval word nie, waar mense wat die Sondag ontheilig, nie aangespreek word nie, ensovoorts ensovoorts.

 

Geliefde gemeente, ek vat die eerste punt saam.

Moraal is ‘n seën, dit is die vrug van reformasie in ‘n samelewing.

Maar moraal verhoed nie ‘n mens om te sondig nie, selfs nie ‘n gelowige nie.

Ons sondige geaardheid is te sterk.

Die moraal het invloed, dit het krag, maar sy krag is baie beperk.

Ons hoop om volgende week nagmaal te vier.

Daarom vir u die oproep, leef die goeie lewe nie net omdat die mense om jou heen dit van jou verwag nie.

Gaan na Christus, bely jou sondes, vind jou krag in Hom.

Slegs deur die krag van sy Gees wat in jou werk, sal jy berou kan kry oor jou sondes, en sal jy die verleiding van die sonde kan weerstaan.

 

(Tema: Die geskiedenis van Dawid se val in sonde leer ons:

1 dat algemene moraliteit geen beskerming bied nie

2 dat persoonlike geloof geen beskerming bied nie

3 dat die HERE alleen beskerming bied teen die sonde)

 

2 Persoonlike geloof

Soos ek alreeds genoem het, Dawid was ‘n diep gelowige mens.

Dink net aan die Psalms wat hy gedig het, diep gelowige liedere.

Ek dink mens kan veilig sê dat sy band met die HERE sterker was as enige een van ons s’n.

Dink byvoorbeeld aan Psalm 17:

“My treë hou vas aan u spoor” (Ps 17:3 berymd)

Daar is selfs Psalms waarin Dawid uitgebreid sy onskuld teenoor die HERE betuig.

“U het my hart getoets ... U vind niks nie” (Ps 17:3)

Of Psalm 26: “Doen aan my reg, o HERE, wat ék wandel in my opregtheid en vertrou op die HERE sonder om te wankel ... Ek was my hande in onskuld” (Ps 26:1,6)

En nie net het hy in sy eie lewe die HERE se gebooie toegepas nie, hy het ook as koning gedurig die volk opgeroep om opreg in die HERE se weë te wandel.

Psalm 34: “Kom kinders, hoor na my! Die HEER se vrees wil ek jul leer” (Ps 34:6 berymd)

Dawid was ‘n voorbeeld vir sy gesin en vir die volk.

 

Maar, en dit is die tragiese wat ons uit hierdie geskiedenis leer.

Ook Dawid se persoonlike geloof was nie sterk genoeg om hom teen die sonde te beskerm nie.

Ja, persoonlike geloof is ‘n kragtige wapen teen die sonde, sonder twyfel.

Ons lees in Efesiërs 6:16: “neem die skild van die geloof op waarmee julle al die vurige pyle van die Bose sal kan uitblus.”

Die geloof wat die Heilige Gees deur die Woord in ons werk, is ‘n gedugte skild.

Vuurpyle het die vermoë gehad om skilde aan die brand te steek, en dan was hulle van geen nut meer nie.

Die skild van die geloof kan selfs brandpyle keer.

So ja, veel meer nog as die algemene moraal vorm persoonlike geloof ‘n baie hoë drumpel om die sonde uit ons lewe te hou.

Geloof is ‘n geweldig kosbare geskenk van Christus, wat Hy deur sy Gees in ons werk.

Dit maak ons lewe op aarde net soveel veiliger.

Dit beskerm ons lewe teen groot gevare, en nie net ons s’n nie, maar ook van die mense om ons heen.

 

Maar, al is die drumpel van die geloof wat ons van die sonde skei, hoe hoog, weer eens:

As die begeerte na die sonde onstuitbaar begin brand, is selfs daardie drumpel nie hoog genoeg nie.

Dit is wat ons so duidelik by Dawid sien.

Die sondepyl dring deur die geloofskild, dit verwond Dawid baie diep, en nie net vir hom nie, ook vir die mense om hom heen – dink aan Batseba, dink aan Uria, dink aan die baba wat sterf.

Dawid, die man wat so ‘n diep vertroue op die HERE gehad het, soos uit sy Psalms blyk.

“Hy is 'n skild van keurmetaal vir almal wat op Hom vertrou.” (Ps 18:14 berymd)

“Die vors vertrou in vred’ en stryd op God se alvermoë” (Ps 21:5 berymd).

En Psalm 23: “Al gaan ek ook in ‘n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf die vertroos my.”

Maar toe Dawid die deur van sy lewe oopmaak vir die sonde, en dit kom soos ‘n vloedgolf binne, toe wou Dawid nie dat God met hom is nie.

Hy wou nie aan God dink nie.

Eers nadat die HERE self aksie onderneem het, en Natan na hom gestuur het, en hy tot berou gekom het, lees ons dat hy weer die aangesig van God gesoek het (2 Sam 12:16).

 

Dit bring ons by die derde punt

 

(Tema: Die geskiedenis van Dawid se val in sonde leer ons:

1 dat algemene moraliteit geen beskerming bied nie

2 dat persoonlike geloof geen beskerming bied nie

3 dat die HERE alleen beskerming bied teen die sonde)

 

3 Die HERE alleen

Al het Dawid die HERE ver van hom af weggestoot in hierdie tyd, het die HERE nie van hom weggegaan nie.

Sy stok en staf het nog by Dawid gebly.

En dit is die wonder van genade wat ons teks ons leer.

Terwyl die sonde vir Dawid al hoe dieper insluk en hy al hoe verder afgly, en geen moraliteit en ook nie sy persoonlike geloof meer houvas bied nie, steek die HERE wel sy hand uit.

Sy herderstaf is nog lank genoeg.

Ons moenie die feit dat die HERE vir sy profeet Natan gestuur het, verkeerd verstaan nie.

Dis nie dat die HERE vir Dawid wou ‘name and shame’ – soos hulle in Engels sê – nie.

Die HERE is nie uit vergelding besig nie.

Dit is enkel genade, dat God hierdie moeite doen.

Hy draai nie sy rug op Dawid nie.

 

Dawid het in Psalm 16 gesing:

“Bewaar my tog, o God, op wie 'k vertrou!

Ek skuil by U, my toevlug in die lewe.” (Ps 16:3 berymd)

Wel, feit was, Dawid het nie meer op God vertrou nie.

Dawid het nie meer by Hom geskuil nie.

Dit het die HERE egter nie gekeer nie om tog na sy kind om te sien en oor hom te ontferm nie.

In sy verbondstrou stap Hy die ekstra myl, al het Dawid die verbond met sy optrede verbreek.

Ja, Natan het vermaan, ernstig vermaan.

Maar vermaan is genade.

Ja, die HERE het gestraf, nie ‘n milde straf nie.

Maar die straf was ook genade.

Broer, suster, as ampsdraers op huisbesoek kom, en hulle vermaan, is dit genade.

Dit is die HERE se genadige bemoeienis.

 

Dis nie vir ‘n ampsdraer maklik om te vermaan nie.

Liewers bly hy stil en bewaar die liewe vrede.

Vir Natan was dit ook nie maklik om hierdie opdrag uit te voer nie.

As Dawid in staat was om vir Uria te vermoor, wat sou gebeur het as hy hom vir Natan vererg het?

Natan het goed nagedink hoe hy Dawid moes benader.

Hoe hy Dawid so ver kon kry om te erken dat hy gesondig het, en om dit te bely.

Natan het van ‘n gelykenis gebruik gemaak.

Ek weet seker dat die Heilige Gees hom gelei het om hierdie verhaal te vertel.

En nog sekerder is dat die Heilige Gees toe berou in Dawid se hart bewerk het.

Dawid het dit later erken, toe hy in Psalm 51 gepleit het:

“Skep vir my ‘n rein hart, o God, en gee opnuut in die binneste van my ‘n vaste gees.” (vers 12)

Hy vra dit vir die HERE, want hy kan dit nie self nie.

En dit was nie Dawid se eie diepe spiritualiteit wat hom laat bely het:

“My sonde het ek U bekend gemaak, en my ongeregtigheid het ek nie bedek nie.”- Psalm 32:5.

As die HERE nie Dawid by hierdie punt gebring het nie, sou Dawid uit krag van sy geloof nooit dit gesê het nie.

 

Gemeente, ons kom hier in die derde punt by die kern van die Evangelie, soos dit uit die teks spreek.

Die ding wat Dawid gedoen het, was verkeerd in die oë van die HERE.

Dis ‘n sterk woord word hier gebruik: Dit was verwerplik.

Die HERE sien ons ellende, ons opstand, al ons sonde, en dit vertoorn Hom verskriklik.

Tereg.

Maar daarby laat die HERE dit nie.

Hy self, uit soewereine liefde, neem stappe tot herstel.

Konkreet in Dawid se geval, die HERE het Natan na Dawid gestuur.

Die twee sinne in ons teks is nou aan mekaar gekoppel.

In ons Bybel begin ‘n nuwe hoofstuk in die middel van die teks.

Dit is egter ‘n kunsmatige verdeling.

In die oorspronklike teks is daar nie hoofstukke nie.

Die beskrywing van hierdie geskiedenis loop deur.

Die tweede sin begin met die woord “Daarom ...” – ‘n direkte gevolg dus op wat in die vorige sin gesê is.

Menslik gesproke sou mens verwag dat hier iets anders moes staan.

Na die vorige sin: “die ding wat Dawid gedoen het, was verkeerd in die oë van die HERE”, sou ons iets verwag soos:

Daarom het die HERE gesê: Ek wil niks meer met Dawid te doen hê nie.

Maar nee, dit staan nie daar nie.

Natan was ‘n geskenk uit die hemel, al het hy Dawid aangespreek met woorde wat soos ‘n donderslag geklink het:

“U is die man!”

Hoe ‘n troue God het Dawid nie gehad nie!

God wou juis nou baie naby aan Dawid wees!

 

Natan staan daarom simbool vir die HERE se aanwesigheid, dat Hy nog steeds by Dawid was.

En, gemeente, nog veel meer as Natan is die Here Jesus Christus die bewys dat God met ons is – Immanuël.

En aan die einde van die dag is dit net Hy, Hy alleen, wat ons kan red van die sonde.

Geen moraal, geen persoonlike geloof, hoe opreg ook, gaan ons in die hemel bring nie.

Slegs en alleen Hy.

Dawid het uit skande geleer dat hyself tot niks in staat is nie.

En ons leer uit hierdie geskiedenis dat dit ook met ons, elkeen van ons, kan gebeur.

Daar is geen waarborg dat jou eie geloof, of die moraal in ons gemeente, jou gaan beskerm teen ‘n erge val in sonde nie.

 

Die Dordtse Leerreëls skryf heel toepaslik, ook in verband met die voorbeeld van Dawid:

“Tog word die bekeerdes ... deur die begeerlikhede van die sondige natuur verlei ... Daarom moet hulle voortdurend waak en bid om nie in versoekings gelei te word nie. As hulle dit nie doen nie, kan hulle deur hulle sondige natuur, die wêreld en Satan tot swaar en gruwelike sondes verlei word. Soms word hulle ook inderdaad, onder die regverdige toelating van God, daartoe verlei. Die droewige val van Dawid, Petrus en ander heiliges wat vir ons in die heilige Skrif beskryf is, bewys dit.” (DL hfst 5 par 4)

 

Gemeente, volgende week Sondag mag ons weer nagmaal vier, die eerste keer in 2022.

Die feit dat die nagmaal weer gevier gaan word is op sig ‘n bewys dat God self aksie onderneem, dat Hy elke keer na ons toe kom met sy Seun Jesus Christus.

Net soos by Dawid destyds, maak die HERE dit self weer moontlik dat daar berou kan wees en vergifnis.

Gryp hierdie geleentheid aan, broer, suster.

Moenie na die nagmaal kom omdat jy verplig voel, omdat jy bang is vir wat ander mense gaan dink as jy nie kom nie.

Dan haak jy vas op die vlak van die moraal.

Moet ook nie nagmaal toe kom omdat jy dink: Ek is inderdaad ernstig met my geloof.

Ek lees en bid elke dag, ek is kerklik betrokke, en en en.

Dan haak jy vas deur op jouself te let.

Maar kom na die nagmaal, slegs met die oë gefokus op ons Here Jesus Christus.

Hy is die enigste Een wat ons sondes kan vergewe.

En Hy is ook die enigste Een wat ons kan ophelp, as ons in sonde geval het.

En Hy is ook die enigste Een wat ons voortaan kan beskerm teen die sonde en die verskriklike gevolge daarvan, deur die werking van die Heilige Gees in ons lewe.

Daar is nie ‘n waarborg jy en ek gaan nie weer in sonde val, dalk in die oë van mense baie erge sonde, voordat ons lewe verby is nie.

Maar die Gees lei ons wel op die pad van heiligmaking, sodat ons steeds minder diep val.

En as ons tog nog val, verstoot die Vader sy verlore kind nie.

Dawid het dit des te meer besef, na hierdie laagtepunt in sy lewe.

Die woorde van sy eie Psalm het toe soveel meer diepte gekry:

“Hy sal nie altoos twis teen ons ontrou nie,

Of ewiglik die toorn teen ons behou nie, -

Want wie kan dra Gods eewge gramskap – wie?

Hy sal met ons nie na ons sondes handel,

Ons nie vergeld die boosheid van ons wandel;

Hy straf ons, maar na al ons sondes nie.” (Ps 103:5 berymd)

 

Amen.

 

Vrae na aanleiding van die preek:

Skriflesing: 2 Samuël 11:1 - 12:15a

Teks: 2 Samuël 11:27b-12:1a

Om hierdie preek te verwerk en uit elke aspek daarvan te leer, volg hier ‘n paar vrae. Die antwoord kan in die preek gevind word, en sommige vrae vereis ook persoonlike oordenking.

  1. Hoe het die algemene moraal in Dawid se tyd verskil van die moraal in die Rigtertyd?
  2. Is daar dinge in ons samelewing wat daarop dui dat daar in sekere mate ‘n Christelike moraal heers?
  3. Die Psalmboek gee ons diep insae in Dawid se persoonlike geloof. Hoekom het dit hom nie gekeer om al hierdie sondes te pleeg nie?
  4. Uit watter konkrete gebeurtenis het geblyk dat die HERE vir Dawid genadig was?
  5. Het jy al ‘n beplande vakansie geskuif om die nagmaal te kan bywoon? Vir watter rede het jy dit gedoen?
  6. Wanneer is jy geregtig om nagmaal te vier?

 

 

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 17:3,4

Wet

Ps 23:2 (2e beryming)

Gebed

Skriflesing: 2 Samuël 11:1 - 12:15a

Ps 18:14

Teks: 2 Samuël 11:27b-12:1a

Preek

Ps 51:1,2,4,6,8

Gebed

Kollekte

Ps 103:5,7,9

Seën