Goddelike wysheid vir menslike harte!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Pretoria
Datum: 
2022-02-13
Teks: 
Spreuke 4:23
Verwysing: 
Leer en laat leer 5
Preek Inhoud: 

Broers en susters,

“Volg maar net jou hart!” Dit is die belydenis van die wêreld om ons heen, ‘n byna onaantasbare waarheid in die stories wat ons lees, die films waarna ons kyk, en die liedjies waarna ons luister. “Volg maar net jou hart!” In wese is dit die oortuiging dat jou hart ‘n kompas is, ‘n betroubare kompas, wat jou na jou bestemming toe sal lei; ‘n betroubare gids wat jou na ware geluk sal lei, as jy maar net die moed het om te volg. En as jy nie jou hart volg nie, dan (só beweer hierdie waarheid) is jy nie getrou aan jouself nie, dan verloën jy jouself – dan is jy nie die outentieke ‘jy’ nie. Dit, gemeente, is die waarheid waarby die meeste mense vandag lewe – en ook onder ons steek hierdie gedagte van tyd tot tyd sy kop uit. En hoekom nie? Dit klink dan so mooi: volg net jou hart! Hoe durf iemand om hierdie waarheid te bevraagteken?! Maar as ‘n mens hierdie belydenis afbreek na sy basiese beginsel, dan sê dit baie eenvoudig: doen wat jý wil! Dit klink dalk effens onvriendelik, maar dis in feite wat dit is.

Maar, broers en susters, ons harte is nie ontwerp om gevolg te word nie; inteendeel, ons harte is oorspronklik gemaak om te volg – meer spesifiek, om Christus te volg. Ons harte is nie gemaak om gode te wees waarin ons glo nie; nee, ons harte is gemaak om in God te glo! As ons van ons harte gode maak en van hulle verwag om ons te lei, dan is die gevolge ongetwyfeld selfgesentreerde, egoïstiese ellende, en uiteindelik die ewige verdoemenis. Ons harte kan ons nie red nie – want dít wat fout is met ons harte is die hart van ons probleem. Maar as ons harte op God gerig word – soos wat hulle ontwerp is om te doen (dink aan Augustinus se bekende uitspraak: “ons harte is rusteloos totdat hulle rus vind in U”) – dan verlos God ons en werk Hy in ons harte uitbundige blydskap! Daarom, gemeente, moenie in jou hart glo nie; rig jou hart in geloof op God. Moenie jou hart volg nie; volg Jesus Christus! Die Here Jesus het in Johannes 14:1 immers nie gesê: “Laat julle harte nie ontsteld word nie; glo maar net in julle harte!” Nee, Hy het gesê: “Laat julle harte nie ontsteld word nie; glo in God, glo ook in My.”

Nou, wanneer die Spreukedigter oor die hart praat, dan bou hy voort op hierdie basis. Spreuke ken nie die hedendaagse volg-jou-hart boodskap nie. Spreuke spreek op ‘n ander manier tot ons harte. En daarna wil ons vanaand luister. Die tema vir die preek is:

Tema: Goddelike wysheid vir menslike harte!

  1. Bewaak en rig
  2. Ontdek en versterk

 

1. Die hart – wanneer ons oor die hart dink, dan kom daar by ons dikwels een van twee gedagtes op. Die hart is vir ons óf daardie fisiese orgaan – ongeveer so groot soos ‘n mens se vuis – wat bloed deur ons liggame pomp, óf dit is vir ons die setel van menslike gevoelens en emosies, dikwels met ‘n romantiese konnotasie. Maar die Bybel praat baie anders oor die hart. Die Bybel praat eintlik selde, indien ooit, oor die hart in die eerste betekenis – as ‘n fisiese orgaan. En wat die tweede betekenis betref, het die Bybel ‘n baie voller en dieper verstaan. In die Bybel is die hart die sentrum van ons bestaan; dit is as’t ware die beheerkamer van ons lewens. En dan gaan dit nie net oor ons emosies nie – om die waarheid te sê, in die Bybel is die niere die eintlike setel van die emosies (dink aan Ps. 16, wat ons saam gesing het). Nee, by die hart gaan dit oor ‘n kombinasie van ons emosies, ons verstand én ons wil. Die hart is daardie plek – die beheerkamer, soos wat ek gesê het – waar die mens, met behulp van sowel die rede as die emosies, besluite maak. Nou, van daardie sentrum sê Spreuke nie: “volg jou hart” nie! Inteendeel, Spreuke sê iets heeltemal anders...

Spreuke sê in die eerste plek: bewáák jou hart! Spreuke 4:23: “Bewaak jou hart meer as enige iets wat bewaar moet word, want daaruit is die oorspronge van die lewe.” En in die tweede plek sê Spreuke: ríg jou hart! Hoofstuk 23:19: “Hoor, my seun, en word wys, en rig jou hart reguit op die weg.” Bewaak en rig – nie volg nie! Wat hierdie twee tekste vir ons wys, is dat daar binne-in ons harte ‘n tweerigting-verkeer plaasvind. Die hart is enersyds ‘n opvangsentrum – daar is allerhande dinge (goed én kwaad) wat van buite-af op ons harte afkom, dinge wat wil inkom, dinge wat hulleself hier in ons harte wil kom nestel. Maar andersyds is die hart ook ‘n uitvalsbasis – daar is woorde en dade wat vanuit ons binneste buitentoe gaan. Opvangsentrum én uitvalsbasis. Nou, hierdie hart, met sy inkomende en uitgaande verkeer, moet bewaak en gerig word. Dit beteken: ons harte moet goed bestuur word, sodat gevaarlike indringers nie van buite-af inkom nie, en sodat verkeerde woorde of aksies nie van binne-af uitgaan nie.

Ag, hoe ken die Spreukedigter nie ons harte nie, broers en susters! In teenstelling tot so baie humanistiese beraders en sielkundiges wat vir jou sê dat jou hart nie die probleem is nie (maar dat die probleem buite jou lê), sê die Spreukedigter presies die teenoorgestelde. Die Spreukedigter sê: die probleem lê nie buite jou nie, die probleem lê binne-in jou. Die probleem is jou hart! Jy laat dinge van buite-af toe wat jy nie moet toelaat nie én jy laat woorde of dade van binne-af uitgaan wat nie moet uitgaan nie. Die probleem lê hier – in die hart! Dis wat bewaak en gerig moet word!

 

En hoe doen ons dit? Wel, die Spreukeboek leer dit vir ons keer op keer op keer – deur jou hart te vul met wysheid, met die onderrig en die gebooie van die Here, soos wat dit na ons toe kom deur ons ouers, deur ons onderwysers, deur die ampsdraers, deur die ouer en wyser broers en susters in die gemeente. Dit is presies waartoe die Spreukedigter die leerling in hoofstuk 4:20-21 oproep; kort voordat hy in vers 23 sê “bewaak jou hart”, is daar die oproep: “My seun, luister na wat ek sê, neig jou oor tot my woorde, laat hulle nie wyk uit jou oë nie, bewaar hulle binne-in jou hart.” Bewaar die wyse woorde binne-in jou hart – want só bewaak jy jou hart!

Die Spreukedigter het ‘n aantal baie sprekende beelde waarmee hy hierdie oproep beklemtoon. Dink aan wat ons lees in die eerste verse van Spreuke 7: “My seun, onderhou my woorde en bewaar my gebooie by jou ... bind hulle aan jou vingers, skryf hulle op die tafel van jou hart.” Skryf – letterlik staan daar: graveer! Graveer God se gebooie, sy wysheid, sy onderrig op jou hart. Maak dit deel van die basiese struktuur van jou lewe, maak dit ‘n permanente onderdeel van jou karakter. En dit word aangevul met nog ‘n ander beeld, waarvan ons onder andere lees in hoofstuk 6:20-21: “Bewaar, my seun, die gebod van jou vader, en verwerp die onderwysing van jou moeder nie; bind dit gedurigdeur op jou hart, hang dit om jou hals.” Bind dit op jou hart – dis is nie heeltemal duidelik hoe mens dit fisies moet doen nie, maar ek dink die tweede deel van hierdie spreuk kan ons help: hang dit om jou hals. Dit gaan hier waarskynlik oor ‘n ketting, ‘n halssnoer, wat jy om jou nek bind, wat jy om jou hals hang, en wat op dié manier teen jou hart lê. Dus, dit wat op jou hart gegraveer is, moet ook uitkom, dit moet sigbaar word, dit moet uitgeleef word!

In hierdie twee beelde sien ons die tweerigting-verkeer wat eie is aan die hart. Aan die een kant: maak seker dat dit wat jou hart binnekom, slegs die wysheid en die gebooie en die onderrig van die Here is. Laat hierdie wysheid en gebooie en onderrig die sentrum van jou lewe bepaal, laat dit jou beheerkamer oorneem. Graveer dit op die tafel van jou hart! En vervolgens: laat dit dan, soos ‘n mooi hanger om jou nek, jou lewe versier. Rig jou hart op wat goed en mooi en vir die Here aangenaam is!

 

Is dit nie opmerklik om te sien hoe goed ons dikwels ons eiendomme onderhou nie? Ons kar of ons huis, of ons tuin – ons versorg dit, ons beveilig dit. Daardie nuwe foon – ons pas dit so sorgvuldig op. Maar hoeveel tyd en moeite spandeer ons aan hartsbewaking? Volgens Spreuke 4:23 moet hartsbewaking eintlik bo-aan ons prioriteitslys staan: “Bewaak jou hart meer as alles wat bewaar moet word...” Meer as die onderhoud aan jou huis, meer as die beveiliging van jou erf, meer as die koestering van jou nuwe kar of selfoon. Die hart – dit moet bo alles bewaak en gerig word. Maar, helaas, dikwels kry dit ‘n plekkie onder-aan ons prioriteitslys. Dalk is dit omdat ons so goed daarin geword het om ‘n mooi front voor te hou, die blink kan bo te hou. Dalk het ons soveel vaardighede ontwikkel om mense met ‘n mooi buitekant te beïndruk – die tuin is netjies, my alarmsisteem werk klokslag, my klere is onkreukbaar en die kar blink – dat ons reken dat ons aan hartsbewaking nie baie tyd hoef te spandeer nie. Daar is tog niemand wat ooit daar kom nie...

Maar onthou dan, broers en susters: ons staan met ons harte nie in die eerste plek voor mense nie. Daar is baie in ons harte wat ons kan wegsteek vir die mense om ons heen; dis nie so moeilik om die blink kan bo te hou voor die mense nie. Maar ons staan uiteindelik voor die Here – en daar is niks wat jy vir hom kan wegsteek nie. Telkemale beklemtoon die Spreukedigter hierdie werklikheid. “Die doderyk en die plek van vertering lê oop voor die HERE, hoeveel te meer die harte van die mensekinders” (Spr. 15:11) – die Here kyk tot in die hel... hoekom sou Hy nie in jou hart kan kyk nie? En behalwe dat Hy daarin kan kyk, Hy toets dit ook: “Die smeltkroes is vir die silwer en die oond vir die goud, maar die Here toets die harte” (Spr. 17:3), en “elke weg van ‘n mens is reg in sy oë, maar die HERE toets die harte” (Spr. 21:2). Jy kan dalk mense flous, jy kan dalk vir mense ‘n mooi uiterlike voorhou, maar nie vir die Here nie: “As jy sê: Kyk, ons het dit nie geweet nie! – sal Hy wat die harte toets, dit nie merk nie? En Hy wat let op jou siel, Hy kom dit te wete” (Spr. 24:12). Die verskonings wat jy gebruik om mense om die bos te lei (“ek het nie geweet nie”), gaan jou met die Here nêrens bring nie.

Gemeente, dit is die rede hoekom ons soveel erns moet maak met ons harte – om ons harte te bewaak teen die verkeerde wat wil inkom, om ons harte te rig op die goeie wat uitgaan. Want uiteindelik val die beslissing oor ons lewens nie hier op aarde nie; dit val in die hemel. Ons kan mekaar hier in die kerk ‘n mooi buitekant voorhou, en jy kan dit jou lewe lank volhou. Ag, was sy nie ‘n geliefde suster nie – sy het soveel gawes gehad, sy het soveel vir mense gedoen. Was hy nie ‘n gerespekteerde ouderling nie – so trou, so wys, so ‘n mooi voorbeeld. ‘n Pragtige huldeblyk op ‘n begrafnis. Maar dit is nie waar die beslissing val nie. Die Hére toets, die Hére ondersoek, die Hére weet. Maak daarom groot erns met hartsbewaking – vul jou hart met die wysheid van die Here. Rig jou hart op alles wat goed en reg voor Hom is. Want dan is jou hart veilig.

 

2. Dit laat mens nogal wonder: hoekom is dit so dat ons harte so geslote is vir mekaar? Dat ons vir mekaar ‘n mooi buitekant wys, maar so min van hierbinne? Natuurlik weet ons dat die hart die mees persoonlike ruimte in die mens is, die mees intieme plek. Dit is die plek waar ons blydskap gesetel is. Dit is waar ons bekommernisse leef. Dit is waar die hartseer sy plek het, ook al lag ons dalk uiterlik, want ja, “ook onder gelag kan die hart pyn ly...” (Spr. 14:13). Die hart is die sentrum van ons lewens – maar dis ‘n sentrum waarin ons nie baie mense toelaat nie. Hierbinne – is dit nie baie dikwels die mees geslote deel van ons menswees nie? Dié deel wat ons verkieslik vir ander verbode hou nie? Weereens vat die Spreukedigter dit so raak, wanneer hy sê: “die hart ken sy eie verdriet, en in sy blydskap kan ‘n ander hom nie meng nie” (Spr. 14:10). So dikwels leef ons hierbinne met ons eie emosies, dra ons ons eie pyn, beleef ons die vreugdes op ons eie. En om ander daarin toe te laat? Om vir ander te wys wat werklik hierbinne aangaan? Nie maklik nie.

 

Maar, gemeente, die Spreukedigter lê juis dit as ‘n uitdaging aan ons voor – die uitdaging om mekaar se harte te ontdek – hier in die kerk, onder broers en susters, maar ook in die breër samelewing. Ten spyte van die feit dat ons (mense) nie, soos die Here, in mekaar se harte kan lees nie; ten spyte van die feit dat ons nie mekaar se harte kan toets nie, en dat die ander se hart vir die grootste deel vir ons verborge bly, sê die Spreukedigter nogtans vir ons: Kom, kyk of julle mekaar se harte kan ontdek! En regdeur die Spreukeboek vind ons riglyne oor hoe ons dit moet doen.

“Hy wat antwoord gee voordat hy gehoor het, vir hom sal dit ‘n sotheid en ‘n skande wees” – so lees ons in Spreuke 18:13. Om die ander se hart te ontdek, begin eenvoudig deur te luister. Dis eintlik beskamend dat dit vir ons gesê moet word, want dit is dan so basies. En tog sukkel ons skynbaar hiermee. Ons sukkel om eenvoudig na die ander een te luister. Ons sukkel om die regte vrae te stel sodat die ander een aan die praat kom – vrae wat deurdring tot die ander se siel, vrae wat die hart van die ander ontsluit. Ons dink so vinnig: o, dis seker wat hy bedoel... en ons het ons advies al gereed. Of: o, daar kom hy weer met sy stories. En ons staan reg met ons antwoord! Maar ons vat nie die tyd om deur te vra, diep in te dring in die ander se hart – om sodoende te verstaan wat hy of sy bedoel nie. Dus, laat ons hiermee begin, broers en susters: luister na mekaar, vra vrae op grond van wat jy gehoor het, kyk die ander in die oë, en dring so deur tot die ander se hart. En dit geld in besonder vir die ampsdraers – jy kan nie maar net met jou verhaal by die lidmaat kom as jy nie die moeite gedoen het om stil te word en te luister nie.

En dan, wat doen jy dan met dit wat jy gehoor het? Ag, lê hier nie maar die hoofrede hoekom ons harte soms so geslote vir mekaar is nie? Die bekommernis dat die ander verder sal vertel wat ek vir hom gesê het? Die vrees dat hy my gaan veroordeel as ek iets van my hart met hom deel? Hoe wys kom die Spreukeboek ons dan nie te hulp nie. “Die verstandelose verag sy naaste, maar ‘n verstandige man bly stil. Die wat met kwaadsprekery omgaan, maak ‘n geheim openbaar, maar hy wat betroubaar is van gees, bedek ‘n saak” (Spr. 11:12-13). Betroubaar – dan is dit wat die ander in vertroue met my deel, veilig by my. Dan lê dit nie ‘n week later die hele kerkplein vol nie. Ons moet nie verwag dat ons mekaar se harte sal ontdek as ons in hierdie opsig onwys en onbetroubaar is nie. Maar hoe mooi om jou hart te mag oopmaak by ‘n broeder of ‘n suster waar jy veilig voel.

En dan, ja eers dan, kan jy versigtig spreek. Want “die hart van die regverdige dink na om te antwoord, maar die mond van die goddelose laat slegte dinge uitborrel” (Spr. 15:28). Eers wanneer jy (volgens Spreuke 12:25) baie goed na die bekommernis van die hart geluister het, eers dan kan jy ‘n vriendelike woord spreek om daardie hart op te vrolik. En hoe goed is dan ‘n woord op sy tyd (Spr. 15:23, 25:11-12) – dis soos goue appels op versierde silwerborde. En ‘n wyse bestraffer by ‘n oor wat luister, is soos ‘n goue ring en ‘n goue sieraad. Ja, woorde word dan soos juweliersware – dit sier jou, en dit versterk en bemoedig die ander.

 

Slegs op hierdie manier, gemeente, gaan ons harte vir mekaar oop. En dan ontdek ek dat ek met my hart en my geheim nie alleen op die wêreld is nie. Buiten dat my hart oop staan voor die Here, mag ek dit ook oopstel vir my broeder of suster in die Here. Laat ons onsself daarom nie byvoorbaat pantser nie; laat ons nie by voorbaat geslote wees teenoor mekaar nie. Kom ons ontdek mekaar se harte deur te luister en uit te vra; kom ons gee mekaar ons harte deur die dinge te deel wat ons besig hou. En uiteraard gaan ons dit nie almal teenoor almal doen nie, maar daar is vir elkeen in die gemeente iemand anders met wie sy of haar hart kan resoneer. Vind mekaar. Laat almal wat Hom soek, nou saam hul hart verenig tot sy eer, en hul verlustig in die Heer (Ps. 105:2 ber.).

Amen

Liturgie: 

Votum en Seëngroet: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus, deur die kragtige werking van die Heilige Gees. Amen.

Sing Ps. 139:6-8 (wysheid in vers 8)

Gebed

Nagmaalsbediening

  • Lees formulier 2
  • Sing Ps. 103:1 en 2
  • Bediening
  • Sing Ps. 103:3-5

Lees:    Spreuke 4:20-27

            Spreuke 23:12-19

Sing Ps. 16:3 en 4 (hart en niere)

Teks: Spreuke 4:23 & 23:19

Preek

Amenlied Ps. 105:2

Gebed

Kollekte

Slotsang Ps. 139:1 en 12

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.