Gee jou hoogste liefde vir Jesus

Predikant: 
Ds DM Boersma
Gemeente: 
Pretoria
Datum: 
2022-01-02
Teks: 
Matthéüs 2: 17-18
Preek Inhoud: 

Inleiding:

Koning Herodes het alle seuntjies van jonger as twee jaar in Betlehem en die dorpe in die omgewing vermoor. 10, 20, 30 gesinne in die klein stad is getroumatiseer. Natan, Dawid, Esegiël, Levi, en nog baie ander vrolike seuntjies is skielik dood.

Dis ’n groot verdriet, vir die ouers, elkeen van hulle! En vir die stadjie Betlehem.
Probeer dink dat alle kinders van 1-10 jarige ouderdom in julle gemeente op dieselfde dag sterf. Dit is ’n ongelooflike hartseer. Die ouers en ons almal sal getroumatiseer wees!
Vir die res van ons lewens sal ons hulle onthou. Elke jaar sal ons die datum voel nader kom. Elke jaar kom die pyn terug as daar weer ’n gru-herdenking is wat ons die trouma weer sal laat beleef.
Vir dekades sal ons hele gemeente daaraan herinner word: geen spelende kinders meer nie, geen Sondagskool nie, vir altyd sal ons hierdie ouderdomsgroep in ons gemeente mis. Dink jou in!

(pouse)

Nou begin ons iets voel van die kindermoorde in Betlehem. Voel jy die pyn?

Wat het díe gruweldaad veroorsaak? En hoe het die mense daarop gereageer?
Kom ons luister hoe die goeie nuus van Jesus tog hier klink.

Gee jou hoogste liefde vir Jesus.

1    Betlehem se pyn

•    Hoe sou die ouers van Betlehem reageer?

Ek vermoed hulle het die magiërs geblameer: ‘Hoekom was dit nodig dat hulle gekom het?! Hoekom het hulle vir Herodes loop vertel dat hulle die koning van die Jode gesoek het? Ons lewens was al klaar moeilik genoeg onder die wrede koning! Hoekom? Hoekom?’

•    Die aanhaling van Matthéüs maak dit nie beter nie

Die aanhaling van Matthéüs oor Ragel en haar kinders maak dit nie beter nie. Dit klink amper asof kinders moes sterwe omdat daar ’n profesie vervul moes word. Was dít nou nodig sodat Jesus na Egipte kon gaan? Kon dit nie op ’n ander manier gebeur het nie? Is dit kinderlewens werd?
Is die profesie ’n tipe van noodlot wat toevallig die stad Betlehem getref het?

2    Ragel: troos geweier (Genesis 35)

•    Ragel: die geliefde vrou

Ragel was Jakob se gunsteling vrou. Hy het twee vrouens gehad, omdat sy skoonpa hom om die bos gelei het. Eers gee hy skelms sy oudste dogter vir Jakob, en dan laat hy hom nog 7 jaar werk vir die vrou wie hy eintlik wou gehad het.
Vir die res van haar lewe was Lea tweede keuse, ongewens.
Ja, Ragel was Jakob se gunstelingvrou.
Maar sy kon geen kinders kry nie.
Dit was pynlik, hartseer vir haar en haar man Jakob.
Ragel kon dit nie hanteer nie. Sy het vir Jakob oplaas gesê: ‘Gee vir my kinders!’
Ek kan die diep emosie verstaan. Die frustrasie dat jy nie kinders kan kry nie, en jy kan niks daaraan verander nie.

Maar daar het iets in haar houding gekort. Sy het haar kinderloosheid as ’n persoonlike nederlaag gesien. Vir haar het haar eer op die spel gestaan.
Sy het besluit sy kon sonder kinders nooit gelukkig wees nie. 
En sy was jaloers dat Lea wel kinders gehad het. 
Lea was met Ragel in kompetisie vir die liefde en agting van hulle man, Jakob.
Die stryd met Lea het in ’n persoonlike vendetta ontaard. Jy kan dit hoor in die name van hul kinders (insluitend die byvroue Bilha en Silpa): ‘Ek het oorwin!’ ‘Ha, nou is dit my beurt. Ek het gewen!’

Toe Ragel eindelik self ’n seun gebaar het, het sy hom Josef genoem: ‘ek soek nog!’
Tenslotte kry sy haar tweede seun. En dis ook die laaste een, want sy sterf in die kraambed. Daarom noem sy haar seun ‘Ben-oni’: kind van verdriet.

Sy voel haar lewe is ’n mislukking. Nou hét sy twee seuns en nou kan sy hulle nie meer geniet nie! Haar lewe is verby. 
Ragel het nie in geloof gekyk en op God vertrou nie. Die naam wat sy vir haar seun gee, wys dat dit alles oor haar gaan: haar eer, haar verdriet. 
Sy wil nie getroos word nie, want sy het alles verloor waarvoor sy geveg het.

Die verdriet en intense teleurstelling van Ragel dreig om haar seun se lewe te vergal. Maar Jakob steek ’n stokkie daarvoor: hy verander sy naam in ‘Benjamin’. = seun van my geluk – presies die teenoorgestelde van treurkind.
Hy benader dit vanuit Gods belofte, en is dankbaar dat God vir hom 12 seuns gegee het, die 12 stamme wat die basis vir die volk Israel geword het.

3    Ballingskap: troos verwerp (Jeremia 31)

Die naam van Ragel kom terug in Jeremia 31:15
So sê die Here: ’n Stem word gehoor in Rama, geklaag, bitter geween; Ragel ween oor haar kinders; sy weier om getroos te word oor haar kinders, omdat hulle daar nie is nie.

Ons aandag verskuif nou na ’n ander plek in Juda: Rama. Dit was ’n stad in die grondgebied van Benjamin – dus die nageslag van … Ragel.
Die profeet Jeremia trek ’n verbindingslyn tussen Gen35 en Jer31: die kinders van Ragel, die Benjaminiete word uitgemoor deur die Babiloniërs. Hulle weermag het Jerusalem ingeneem en versamel die gevangenes in Rama. Vandaaruit word hulle op transport geplaas, om ballinge in Babilon te word.

•    Betlehem was ’n tipe van deurgangskonsentrasiekamp

In WO2 het die Nazisoldate baie Nederlandse Jode vernietigingskampe  toe gestuur om hulle uit te wis. Kamp Westerbork was die versamelpunt, vandaaruit is hulle na Auschwitz en Sobibor vervoer.

So was Betlehem die versamelplek vir die Babiloniese ballingskap: die Jode is daar bymekaar gedryf, om vandaaruit na Babilon afgevoer te word.

Rama was dus ’n troumatiese plek! Soos vee is hulle bymekaar gedryf en afgevoer. Hulle is van hulle waardigheid gestrip, almal was bang en het magteloos gevoel. Nou is die verby met die Joodse nasie, het hulle gevoel. Daar was net ’n onseker en dreigende toekoms. En daar was soveel persoonlike leed en pyn. Pa’s en ma’s het mekaar en hul kinders uit die oog verloor. Almal ken wel iemand wat dood is, en mense wat te swak was, is daar gelos en het gesterwe. 

Dis Rama. Rama = trouma.

•    Belofte: julle sal terugkeer!

Maar God plaas Rama skielik in ’n heel ander lig.
Hy stuur vir Jeremia met ’n geweldige belofte: julle sal terugkeer!

Sy woorde klink amper surrealisties, ongeloofwaardig:
“Die Here het Jakob losgekoop en hom verlos uit die hand van hom wat sterker was as hy.
[12]  En hulle sal kom en op die hoogte van Sion jubel en toestroom na die seëninge van die Here, na die koring en die mos en die olie en na die jong skape en beeste; en hulle siel sal wees soos ’n welbesproeide tuin, en hulle sal verder nie meer kwyn nie. (Jer31,11-12)

Daarmee saam moet Jeremia vir hulle ’n nuwe boodskap gee:
[16]  So sê die Here: Bedwing jou stem van geween en jou oë van trane; want daar is loon vir jou arbeid, spreek die Here; en hulle sal uit die land van die vyand terugkom.
[17]  Ja, daar is verwagting vir jou nakomelinge, spreek die Here; en die kinders sal terugkom na hulle grondgebied. (…)
[20]  Is Efraim vir My ’n dierbare seun of ’n troetelkind? Want so dikwels as Ek teen hom spreek, dink Ek nog altyd aan hom; daarom is my ingewande oor hom in beroering; Ek sal My sekerlik oor hom ontferm, spreek die Here.

Dis verrassend!
Die sondige volk het die straf oor hulle afgeroep het met hulle langtermyn afgodery, hulle opstand teen God. God beloof by hulle vertrek na Babilon dat hy hom weer oor hulle sal ontferm!

God maak dus ’n deur oop na die toekoms. Daar is ’n toekoms vir die kinders van Ragel!

•    Troos verwerp

Daar is bitter geween in Rama: (v. 15)
Ragel ween oor haar kinders; sy weier om getroos te word oor haar kinders, omdat hulle daar nie is nie.

Hulle wil nie na die troosryke belofte luister nie. Hulle maak hul ore toe, so getroumatiseer is hulle deur die pyn en verlies, deur die ondergang van die volk.
Die pyn, die trouma is té erg – hulle wil nie die troos van Jeremia hoor nie!
Nee, vir hulle was dit te laat. Die verlies van hulle drome, hulle toekoms, hulle vryheid, was die laaste druppel in die emmer.
Nes Ragel het hulle vasgeklou aan hul kinders en hul eie toekomsdrome, en die troos van God verwerp.

Verstaanbaar vir ons, mense: dat die verdriet oor die verlies van hulle kinders, ouers, volksgenote só groot was dat dit vir hulle alles was.
Maar tog, vir gelowiges was dit sonde om in die verdriet vas te kyk en nie op te kyk na God nie. Om die troos van sy ontferming, van die vergewing wat hy vryelik uit genade aanbied, te verwerp.

In daardie situasie het die keuse om te huil of om getroos te word, ’n keuse geword tussen ongeloof en geloof.
Wat jy ook al verloor het as ’n straf op jou sondes, of as ’n gevolg van die sondeval van die menslike geslag en die vloek wat God oor die skepping gelê het - Wat jy ook al verloor het, is dit meer wêrd as die genadige ontferming van God, wat ’n nuwe begin met jou, met sy volk wil maak?

4    Betlehem: die prys van verwerping

Wat het in Betlehem gebeur?
Die jong seuntjies is op ’n wrede manier almal op dieselfde dag vermoor. 20 of 30 jong kinders het nie meer opgegroei en grootgeword nie. Twee klaskamers in die skool is vir die helfte leeg, daar net nog dogtertjies.

Is die verlies van hul kinders Jesus se skuld?
Het Betlehem onder die woede van Herodes deurgeloop, omdat Jesus net betyds ontsnap het en veilig in Egipte was?

So sou die mense van Betlehem dit geinterpreteer het: ‘Ons het ons kinders verloor – vanweë Jesus! Wat dit nou nodig gewees?’

Op die agtergrond moet ons in die eerste plek die stryd tussen lig en duisternis raaksien.
Herodes is ’n instrument van Satan, wat die redder van die wêreld wil uitroei. Die kindermoorde in Betlehem is ’n aanslag op Jesus, die koning van alle Jode. 
Nie net Betlehem staan op die spel nie, nee, dit is ’n bedreiging van die hele Joodse volk, en van die hele skepping! Saam met Jesus lê die redding van die hele wêreld in die weegskaal.

Omdat Matteus die verbindingslyne met Ragel en Rama trek, en dit Gods Woord is, weet ons dat die geween in Betlehem ’n uitdrukking van ongeloof was.

Betlehem is die geboorteplek van Jesus.
Engele het verskyn en die langverwagte koms van die Messias aangekondig.
Herders het dit bly aanvaar, gaan kyk, die redder aangetref, en die nuus dadelik bekendgemaak.
Betlehem het die evangelie van die geboorte van Jesus gehoor.
En hulle het niks daarmee gedoen nie.

Toe kom die magiërs, eers na Jerusalem, en vervolgens kom hulle aan in Betlehem.
Weer lees ons dat die bevolking van Betlehem hom nie aanvaar het nie.
Hulle kon die baba gaan sien het, tenminste gaan uitvind het of die berigte waar was.
Hulle kon hom eer bewys het.
Maar ons lees nie dat ook maar enigiemand uit Betlehem dit gedoen het nie.
Hulle stel nie belang nie. Hulle reageer nie.

Ja, totdat hulle hulself ’n speelbal in die stryd tussen Satan en Jesus voel. Hulle betaal die prys vir die aanslag van die Satan op Jesus se lewe.

Matteus trek ’n lyn deur die geskiedenis: van Ragel se verdriet na die trouma van die ballingskap, na die trouma van die ouers van die jong seuntjies van Betlehem.

Waar sal die ouers van Betlehem hulle troos en hoop soek?
Sal hulle vaskyk in hul verdriet, en verwyte vir Jesus maak?
Of sal hulle besef dat God besig is om in hul midde iets nuuts te doen, om Betlehem én die volk én die hele wêreld te red deur hierdie baba wat gebore is?
Besef hulle, dat hierdie teenstand, verwerping van Jesus ook in hulle hart woon? Dat hulle die redder nodig het?

Wat kies hulle?
Ag, die hartseer neem net toe: in hulle verlies gaan hulle nie na Jesus toe nie.
Nes Ragel en die mense van Rama, weier hulle om getroos te word.
Hulle klou vas aan hulle verdriet en verlies, en kies nie om die nuwe wêreld van Jesus met oop arms te ontvang nie.

5    Beslissing: wie/wat is jou hoogste liefde?

Hierdie is ’n taai Bybelgedeelte. Is daar ’n goeie boodskap wat ons hier kan hoor? 
Wat is die goeie nuus vir die Joodse volk, vir die hele wêreld, en vir ons?

Ek dink daar is ’n diep waarheid vir alle mense.
Wat is jou en my hoogste liefde?
Waaraan het jy jou hart verpand, waarop het jy jou sinne gesit?
En as jy dit verloor, is jou lewe dan nie meer die moeite wêrd nie?
Of soek jy dan jou troos en geluk by Christus?

Hierdie tref ons diep in ons hart. 
God praat van ons diepste lojaliteite: dit wat ons met ons harte koester, dit wat ons lewens betekenis gee en die moeite wêrd maak.
Wat is dit vir jou en my?

Ragel, Rama, Betlehem: drie maal hoor ons van mense wat God se troos afwys omdat hulle liefde vir die geliefdes wat hulle verloor het, groter was as hulle liefde vir God.

Is jy bereid om alles aan Christus toe te vertrou en alles in sy hande te plaas, en hom die volledige beheer te gee oor jou liggaam, jou gesondheid, jou tyd en energie, jou diepste drome, jou geliefdes, alles?
‘Here, maak daarmee wat u wil. Gebruik my in u plan. Ek is met huid en haar u eiendom. Ek het alles van u ontvang, en ek lê dit in u hande.’

Herken jy wat Jesus gesê het vir die mense wat hom wou volg:
As iemand na My toe kom en hy haat nie sy vader en moeder en vrou en kinders en broers en susters, ja, selfs ook sy eie lewe nie, kan hy my dissipel nie wees nie. (Luk14,26)

Is jy bereid om alles te verloor om Christus te wen?
Sal jy ook in hierdie nuwe jaar jou geloof bely deur te sê: ‘Heer Jesus, ek behoort aan u toe. U is vir my genoeg.’

Dis nie maklik nie.
Ons mag dit nie simplifiseer nie, deur met ’n paar penstreke ’n standpunt in te neem om vervolgens met ons daaglikse lewe aan te gaan. 
Maar dis nie God se bedoeling nie!

Ons moet bewus word van die teenstand in ons eie hart.
Ons vaste patrone, ons kerklike tradisies, ons standpunte gee vir ons ’n bepaalde veiligheid. Daarom ‘default’ ons steeds weer daarnatoe. Wat sê ons vir mekaar om mekaar te troos? Verwerk ons die pyn saam met God, of val ons terug op bekende formules?
Daar word dikwels gewys op die noodsaak om kerk toe te gaan, verenigings by te woon, by te dra aan die kerk, ens. Dis die sigbare kant van ons lewe, en dit betref net wat ons gesamentlik doen.
Hier praat Christus met ons diepste innerlik: ons hart, waaruit al die begeertes, waardes en planne voortkom wat ons in die nuwe jaar sal dryf. Sal jy dit aan Christus toewy? Dit is die bron van ons dade, wat in die komende jaar sigbaar sal word.

Paulus het agtergekom dat dit die keuse was wat hy moes maak ten opsigte van sy afstamming en sy vertroue op sy eie bydraes.
In hierdie hoofstuk (Matthéüs 2) word ons met ons neuse op die onmisbaarheid van Christus gedruk.
Hy, persoonlik, is die kosbaarste skat wat ons ooit kan ontvang.
Wie is op aarde gelyk aan Christus?
In rou, pyn en teleurstelling moet ons leer om met ons hart te sê:
“Here, daar is niemand soos U, en daar is geen God behalwe U nie, volgens alles wat ons met ons ore gehoor het.” (1Kron17,20)
“Wie het ek buiten U in die hemel? Buiten U begeer ek ook niks op die aarde nie.
Al beswyk my vlees en my hart—God is die rots van my hart en my deel tot in ewigheid.”
(Ps73,25–26)

Jesus se liefde is dieper, sy ontferming is groter as die liefde van enige mens vir wie ons lief is.
Hy het sy lewe vir ons gegee toe ons nog sondaars was.
Sy koninkryk is allesomvattend, hy sorg vir almal wat hom volg.
Hy verdien ons hele hart en ons volledige toewyding, omdat hy ons gered het toe ons nog sondaars was.

•    Jesus het gekom! Hy is Gods antwoord

Lyding, teenslag en pyn kan jou bitter maak. Dalk dra jy / u pyn in jou hart saam: sondes is teen jou begaan wat jou lewe diepgaand verander het, soos ontrou in die huwelik, leuens en bedrog. As jy dit nie by Christus bring nie, en kan sy genade jou hart nie vergewend maak nie, en maak dit jou bitter. Dit word ’n valkuil, nie net in verhoudings met mense nie, maar ook in jou verhouding met God.

Daar is mense wat sê: vanweë hierdie trouma, vanweë die pyn wat my getref het, kan ek nie meer in ’n God glo nie.
Gelowiges sal dit nie gou so sê nie, maar jy kan in dieselfde slaggat van bitterheid trap as jy God verwyte maak dat hy lyding of verlies nie in jou lewe voorkom het nie.

Die geboorte van God se Seun het alles verander.
Die wêreld is nie buite beheer nie. God is nie onbetrokke en bly nie afsydig in die lyding en onreg wat gebeur, en in die stryd tussen lig en duisternis nie.
Nee, hy het die wêreld só liefgehad dat hy sy enigste Seun gestuur het. Hy is die bewys van sy liefde – vir die skepping, en ook vir ons!

Jesus is die antwoord op lyding en onreg, op dood, radeloosheid en pyn. 
Hy versoen mense met God, hy herstel alles en maak die lewe weer mooi.
Kom na hom toe, omhels Jesus in geloof, want sy hart is vol ontferming. Dan sal jy vandag reeds troos en vrede van hom ontvang. Deur sy genade kan jy vergewe en die bitterheid wat in jou hart mag wees, wegdoen.
Vir die toekoms gee God ’n kosbare belofte: ek bevry jou lewe van die graf, van die duisternis, van die sinneloosheid. As jy verdriet en droefheid in jou hart het, laat jou troos met sy belofte: “Ek maak alle dinge nuut!”

Vertrou daarom op Gods belofte: ‘Ek sal al die trane van jou oë afvee.’
Hy sal alles herstel en diep, blywende vreugde bring in die plek van onderdrukking, lyding, kinderloosheid, siekte en dood, stukkende drome en ontwrigte lewens.
Jesus se bloed is so kragtig dat dit die skuld van die sonde wegneem.
Sy ontferming is so diep dat selfs die gevolge en die pyn in die nuwe koninkryk vergete sal wees. 
Hy breng reg, geregtigheid en vrede.
Glo dit en en jy sal lewe.

Amen

Liturgie: 

Sing: Ps 62: 5-8

Sing: Ps 125: 1-3,7

Lees: Matthéüs 2 + Genesis 30: 1-24 + Genesis 35:9-20

Sing: Ps 145: 10-12

Lees: Jeremia 31: 10-25;

Preek: Matthéüs 2: 17-18

Sing: Ps 126

Sing: Skrifberyming 9:4-6