Jy lewe omdat die Woord van God moet groei en toeneem

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2022-01-23
Teks: 
Handelinge 12:24
Preek Inhoud: 

Preek: Handelinge 12:24

 

Tema: Jy lewe omdat die Woord van God moet groei en toeneem.

In ons land sit ons met baie vrae, veral wat betref die politiek.

Deur die eeue was ons land se politiek dikwels nie stabiel nie.

‘n Land waarin die politiek eentonig is, is eintlik ‘n begeerlike land.

In ons land is dit beslis nie so nie, ‘never a dull moment’, soos hulle in Engels sê.

Mens wonder soms, hoekom laat die Here dit toe dat daar sulke onkapabele, sulke onbekwame leiers in die regering kom, landelik maar ook plaaslik, en soms ronduit krimineel.

Hoekom het God dit toegelaat dat Zuma president van ons land kon word, en daar soveel geld gesteel kon word deur hom en sy trawante?

Dit lyk of president Ramaphosa beter is, maar die burger het skepties geraak oor die politiek.

Dit wil voorkom of elke politikus, elke president, êrens geraamtes in die kas het.

Die ouer generasie verlang miskien terug na vroeër, toe presidente dalk beter was.

Maar, inmiddels weet ons ook dat in die vorige politieke bedeling die media gesensureerd was, en ons net goeie dinge gehoor het oor die destydse presidente.

Ook toe was daar geraamtes in die kas.

Daar is ‘n grappie wat lui: Hoe weet jy ‘n politikus jok?

Antwoord: Hy beweeg sy mond, oftewel: Hy praat.

 

Nou is hierdie nie net die situasie in ons land nie.

Mens wonder soms hoekom ‘n groot land soos Amerika nie beter presidente kan voortbring nie.

Daar is soveel bekwame mense in Amerika.

Hoekom moet manne soos ons die afgelope tyd gesien het, aan bewind kom?

En so kan daar nog talle voorbeelde wêreldwyd gesien word.

Goeie, bekwame, en veral, Godvresende politici, is so skaars so hoendertande.

 

En gemeente, destyds in die Bybelse tyd was dit ook al so.

In die gedeelte wat ons gelees het, kom Jakobus en Petrus in aanraking met die regeerder van die land – koning Herodes.

Erger nog, hulle word direk slagoffer van sy beleid.

Lukas beskryf vir ons wat gebeur het.

En wat so mooi in sy beskrywing is, is dat hy aantoon dat hoewel Godvresende mense afwesig was in die owerheid, God nie afwesig was nie.

Hoewel die owerheid openlik teen die gemeente van Christus gediskrimineer het, het God nie magteloos teenoor hulle beleid gestaan nie.

Inteendeel, hulle was slegs skepsels wat God se raad uitgevoer het.

 

Nou kry ons nie volledige insae in God se raad nie.

Dit het ook gegeld vir die gelowiges destyds.

Dit gelowiges in Jerusalem het voor ‘n raaisel te staan gekom.

Een van hulle leiers, die ouderling Jakobus, Johannes se broer, word deur Herodes om die lewe gebring.

Dit gebeur baie bewus.

Koning Herodes was daarop uit om, soos daar in vers 1 staan, die gemeente kwaad aan te doen.

 

Wie was hierdie koning Herodes?

Hy het bekend gestaan as Herodes Agrippa die Eerste.

Hy moet onderskei word van Agrippa die Tweede, oor wie ons aan die einde van Handelinge lees.

Hierdie Herodes Aprippa die Eerste was ‘n kleinseun van Herodes die Grote, wat sover ons weet aan bewind was toe Jesus gebore is.

Godsdienstig gesien het Herodes Agrippa aan die kant van die Fariseërs gestaan, hoewel dit waarskynlik nie ‘n godsdienstige keuse, maar ‘n strategiese keuse was.

Van die verskillende Joodse leiers het die konserwatiewe Fariseërs die meeste invloed op die volk gehad.

En soos ons in hoofstuk 12 sien, het Herodes sy godsdienstige ywer probeer bewys deur vervolgingsaksies.

So het hy geywer vir die guns van die volk.

En deur veral die Christelike leiers te teiken, het hy geprobeer om die kerk in Judea nog verder te verstrooi.

 

Soos dit so dikwels gebeur in die politiek, moet regeerders se beleid en optrede verklaar word uit hulle eie belange.

So was dit dus ook by hierdie koning Herodes.

Die feit dat hy die gemeente geteiken het, het te make gehad met sy eie magsposisie, sy aansien onder die meerderheid van die volk.

 

In Handelinge 11 kan ons lees hoe daar ‘n kollekte in Antiochië gehou is ten bate van die gemeente in Jerusalem.

Barnabas en Paulus is gevra om die hulpgeld na Jerusalem te neem.

Dit was in reaksie op die profesie van Agabus oor die hongersnood.

Die broederskap in Jerusalem is hard getref deur die hongersnood, maar danksy die profesie en die hulpgeld kon hulle betyds daarop voorberei.

Soos ons ook vandag weet word armer mense altyd harder getref as daar ‘n hongersnood of ‘n ekonomiese insinking is.

Die gemeente in Jerusalem was verarm as gevolg van die vervolging wat hulle getref het.

Die Jode het die Christene geteiken.

Hulle is byvoorbeeld gediskrimineer in die handel.

Soos ons ook in Handelinge lees, het heelwat gemeentelede daarom gevlug uit Jerusalem.

Die gemeente is in ‘n groot mate verstrooi.

En daardie deel wat agtergebly het, het verarm.

Met die hongersnood het hulle situasie net nog moeiliker geraak.

Die finansiële skenking uit Antiochië het die gemeente in staat gestel om betyds graan in te koop, voordat die pryse tydens die voedselskaarste sou begin styg.

Graan was in tye van skaarste vir die gewone man onbetaalbaar.

Hierdie hongersnood was ‘n strop, ook vir die regering.

En skynbaar wou Herodes in hierdie omstandighede ‘n sondebok soek.

Hy het een gevind in die Christene.

Daar het ‘n klopjag gevolg op die kerklike leiers.

Tussen hakies, gemeente, van latere Christenvervolgings, byvoorbeeld in die Romeinse Ryk, is dit ook bekend dat hulle deurgaans in tye van rampe en nasionale nood plaasgevind het.

Soos die kerkvader Tertullianus later sou skryf:

Elke ramp wat die staat tref, elke onheil wat oor die volk kom, elke keer kry die Christene die skuld.

Die Romeinse skrywer Tacitus vertel hoe keiser Nero by die brand wat Rome in puin gelê het in 64nC, die Christene bewus tot sondebokke gemaak het.

En dit terwyl daar gerugte rondgegaan het dat hy self die brand aangesteek het, omdat hy ontslae wou raak van die krottewyke in sy stad.

Rondom hierdie hongersnood het groot politieke kragte dus ‘n rol gespeel.

 

Dit wil voorkom asof Herodes in sy opset geslaag het.

Jakobus is gevange geneem en met die swaard omgebring.

En toe Herodes sien dat die Jode in hulle noppies hieroor was, het hy voortgegaan.

Hy het ‘n tweede leier laat arresteer.

Hierdie arrestasie het plaasgevind op ‘n godsdienstig gesproke strategiese oomblik.

Tydens die dae van die ongesuurde brode – sien vers 3.

Hierdie opmerking benadruk dat Herodus probeer het om op die godsdienstige gevoelens van die Jode in te speel.

Herodes het dit ook met die nodige publisiteit gedoen.

Hy het ‘n spektakel daarvan gemaak.

Hy het naamlik vier groepe van vier soldate gebruik om Petrus in hegtenis te neem en te bewaak.

Bloot om indruk te maak op die volk en Joodse leiers.

‘n Waterdigte bewaking wat eintlik net gebruik is vir terroriste.

Dit het die opwinding by die volk net nog groter gemaak.

Maar, aan die ander kant natuurlik, dit het die ontsnapping ook des te indrukwekkender gemaak.

 

Daar is dus nou twee kragtevelde.

Aan die een kant koning Herodes wat van plan is om dieselfde met Petrus te doen as wat hy met Jakobus gedoen het.

En aan die ander kant die gemeente wat intens vir Petrus gebid het.

En – daarop vestig Lukas as skrywer van Handelinge ons aandag – eintlik was dit ‘n kragmeting op kosmiese skaal.

 

Herodes, die Jode, ‘n hongersnood ... verskillende geopolitieke faktore wat ‘n direkte invloed op die eerste gemeente gehad het.

Sou Jakobus van dit alles bewus gewees het, toe hy gesterf het?

Sou Petrus van alles bewus gewees het?

Net soos destyds, is dit vandag ook so dat ons lewens beïnvloed word deur allerlei faktore.

Dink net aan die Covid-pandemie en watter invloed dit op baie van ons se persoonlike lewens gehad het en nog steeds het.

Daar is geopolitieke faktore wat ons lewens diepgaand beïnvloed.

Daar is mense wat Suid-Afrika verlaat om elders te gaan werk, omdat die ekonomie tans so swak is, omdat daar so baie spanning en probleme in die land is.

Daar is bejaardes wie se kinders en kleinkinders ver weg in die buiteland woon.

Daar is ook mense, ook gemeentelede, wie se sterwe direk verband hou met al die faktore rondom ons, waarop ons so weinig invloed het – die pandemie, of die misdaad, en noem maar op.

Al wou ons ook hoe graag, ons het nie die hef van ons lewe in eie hande nie.

Dit kan ons frustreer, wanhopig maak, woedend maak, watter emosie ook al.

Dit kan ook veroorsaak dat ons met die vinger na God wys.

Hoekom laat Hy al hierdie dinge toe?

 

Dieselfde vrae het destyds waarskynlik ook geleef.

Hoekom het God toegelaat dat Jakobus gewelddadig – met die swaard – omgebring word?

Die gemeente in Jerusalem kon hom nie mis nie, veral nie in daardie swaar tye nie.

En wat dit dan nog gekompliseerder maak: Hoekom moes Jakobus sterf, maar is Petrus wonderbaarlik gered?

As God Petrus op so ‘n wonderbaarlike manier uit ‘n waterdigte beveiliging kon bevry, as God – soos Petrus bely – sy engel gestuur het om hom te red uit die hand van Herodes en die Joodse volk, hoekom kon God nie dieselfde met Jakobus gedoen het nie?

Was Petrus ‘n beter gelowige as Jakobus?

Was hy meer onmisbaar vir die kerk?

Of was dit dalk andersom, soos mense vandag sê: Die mooiste blomme word eerste gepluk.

Was dit so dat Jakobus al reg was vir die hemel, en Petrus nog nie?

Op al hierdie vrae kry ons nie ‘n antwoord nie.

Die Here besluit.

Hy lei alles in sy wyse raad.

En as ons Hom daarin vertrou, vind ons juis in daardie vertroue rus te midde van ‘n onstuimige en onverklaarbare lewe.

Net soos Petrus en die gemeente destyds in Jerusalem.

Hulle was ‘n biddende gemeente.

Toe Petrus in die tronk was, het ‘n aanhoudende gebed tot God vir hom opgegaan.

Daaruit het hulle vertroue gespreek.

Hulle was nie opstandig nie.

Hulle het nie geredeneer: Hoekom het God dit toegelaat dat Jakobus vermoor word?

As God soiets kan toelaat, hoe kan ‘n mens Hom vertrou?

Kyk wat Hy nou weer toegelaat het – Petrus in die gevangenis.

Nee wat, dit help nie om vir Hom te bid nie.

So het die gemeente nie geredeneer nie.

Nederig het hulle volhard in gebed, in vertroue op Hom wat alles bestuur.

 

Hulle gebed was ook nie ‘n soort hefboom, om God te beheer nie.

Dit is wat deesdae in die sogenaamde welvaartsteologie gebeur.

‘Name it and claim it’ – lui die gesegde.

Die gebed van ‘n gelowige kan alles by God regkry.

Wel, Handelinge 12 wys dat ons nie met ‘n voorspoedsevangelie te make het nie.

Die eerste gemeente het geweldige groot terugslae beleef, maar terselfdertyd nie aan God se voorsienige leiding getwyfel nie.

En Lukas het die geskiedenis ook so beskryf.

Vanuit die besef waarmee Christus besig was.

Ons teks maak dit baie duidelik: “Maar die woord van God het gegroei en toegeneem.”

Hiermee word nie bedoel dat die woord van God, die Bybel, dikker geword het nie.

Hiermee word bedoel dat die Evangelie al hoe meer bekendheid verwerf het, en dat al hoe meer mense tot geloof gekom het in die Evangelie.

Die Satan se pogings om die veldbrand van die Evangelie te blus, het nie geslaag nie.

Al die dramatiese gebeurtenisse van hierdie hoofstuk staan in die lig van wat Lukas aan die einde skryf – in ons teks.

Christus is besig om sy Evangelie bekend te maak, in Jerusalem, Judea, Samaria en tot die uiterstes van die aarde.

En wat Satan ook uitspook, hy gaan dit nie kan keer nie.

Ons teks sê: Die woord van het gegroei en toegeneem.

Gegroei en toegeneem – hierdie twee woorde is sinonieme.

Tog het elkeen ‘n meerwaarde.

Die Grieks vir die eerste woord beteken soiets as: groei, sterker word, groter respek verwerf.

En die Grieks vir die tweede woord dui veral op die toename in aantalle.

Beide betekenisnuanses word elders in Handelinge ook deur Lukas vermeld.

Dink aan die respek wat ontstaan het vir die gemeente, na die dood van Ananias en Saffira.

En die groei in aantalle – daarvan is die boek Handelinge uiteraard vol.

Die prediking van die apostels het resultaat gehad.

Ja daar was teenslae, groot beproewings, diep verdriet.

Maar die Evangelie was sterker as die teenstand.

Christus was in beheer.

Lukas sien dit veral ook in wat daar toe uiteindelik met koning Herodes gebeur het.

 

Herodes het nie aan God die eer gegee nie.

Hy is deur wurms verteer en het sy laaste asem uitgeblaas.

Maar Petrus en die gemeente in Jerusalem het verder gegaan.

Hulle was weer veilig.

Want hulle het by Christus geskuil.

Ja ook Jakobus, wat ‘n martelaar geword het soos Stefanus, was veilig by Christus.

Salig, welgeluksalig.

Maar Herodes se aksies het die prediking nie lamgelê nie, inteendeel.

Ons teks volg direk op die geskiedenis van dit wat met Herodes gebeur het, hoe hy aan die einde van sy lewe gekom het, hoe die Here ‘n engel gestuur het om hom te laat sterf.

Ons teks begin met die woordjie: maar.

Dus, ten spyte van teenslae, ten spyte van die moeilike tyd onder koning Herodes Agrippa die Eerste, is die Evangelie nie gestuit nie.

Vyandskap en vervolging stuit nie die uitbreiding van die Evangelie nie.

Daarvoor het Christus gesorg.

In die gedeelte wat volg op ons teks, begin selfs Paulus en Barnabas se eerste sendingsreis – nuwe stede en duisende nuwe mense gaan bereik word.

 

Ons weet dat Christus op die troon sit.

En hoewel ons waarom-vrae oorhou, is ons nie wanhopig nie.

Net so min as die vroeë gemeente in Jerusalem wanhopig was.

Hulle het gebid, hulle het kontak gemaak met Christus in die hemel.

Dinge het reggekom.

Vir wat betref Petrus.

Hy is uit die gevangenis bevry.

Nie vir wat betref Jakobus nie.

Jakobus het ‘n martelaar geword.

Die gemeente kon dit nie verklaar nie.

Maar in geloof het hulle omhoog gekyk.

Christus sorg vir sy skape, in lewe en in sterwe.

Hy gee vir ons die geloof om moed te hou, in alle omstandighede.

Om die chaos van die wêreldgeskiedenis te dui.

Om die tekens van die tye raak te sien.

Die dood van Herodes was vir Lukas ‘n duidelike teken dat Christus regeer.

Hy stel maghebbers aan.

Maar Hy onttroon hulle ook.

 

Gemeente, ons behoort onsself te oefen om ook so na alles te kyk.

Die wêreldgeskiedenis.

Die politiek.

Ook jou eie lewe.

Probeer om die tekens van die tye raak te sien.

Tekens waaruit duidelik blyk dat Christus regeer.

Dat Hy werk rigting die jongste dag.

As jy hiervoor oog kry, kry jou lewe perspektief, en raak jy rustig in jou lewe, ook in moeilike omstandighede.

Ja, begin jy selfs die werk van die engele raak te sien.

Dit gee mens moed en uithouvermoë, om na teenslae weer verder te gaan.

Omdat ons weet dat die goeie stryd nie verlore is nie, maar dat in Christus die oorwinning reeds behaal is.

 

Ja Christus omring jou vandag nog steeds met dieselfde mate van beveiliging as toe die gemeente in Jerusalem.

Christus gee sy instruksies, en die engele tree op, ter wille van sy uitverkorenes.

21 eeue later is ons die opvolgers van die gemeente in Jerusalem, en geniet ons nog steeds dieselfde mate van beskerming deur Christus, vanaf sy hemelse troon.

 

Ons lewe staan net soos die lewe van die gelowiges destyds, in die lig van die Woord van God, wat besig is om te groei en toe te neem.

Die beskerming van ons lewe staan ook in daardie lig.

Ons vyande is nie soseer hulle, hetsy in die politiek of in watter posisie ook al, wat ons besittings bedreig nie, maar hulle wat die gemeente van Christus en die gelowiges teiken.

Die lewensduur wat ons van God op aarde ontvang, of dit lank of kort is, staan ook in die lig van die uitbreiding van sy Woord.

God gee ons die lewe op aarde om ambassadeurs van die Evangelie te wees, in woord en daad, om getuies van Christus te wees.

Dit is ons taak op aarde.

Jy lewe omdat die Woord van God moet groei en toeneem.

Eerstens moet dit groei en toeneem in jou eie lewe, sodat jy steeds verder na die volmaaktheid groei, gereedgemaak word vir die ewige lewe.

Tweedens moet jou lewe ‘n getuienis wees in woord en daad, sodat die Evangelie ook ander bereik.

God gee ons nie die lewe op aarde om die dag te pluk in materiële welvaart en liggaamlike gesondheid totdat ons 100 word nie.

Daarom, broer en suster, hou steeds jou oog op Christus se doel met jou lewe.

Dit is wat jou die ware geluk gee, in tye van voorspoed en teëspoed, en die vrede wat alle verstand te bowe gaan, wetende dat jy ‘n erfgenaam van die ewige lewe is.

 

Amen.

 

Vrae na aanleiding van die preek:

Skriflesing: Handelinge 12:1-24

Teks: Handelinge 12:24

Om hierdie preek te verwerk en uit elke aspek daarvan te leer, volg hier ‘n paar vrae. Die antwoord kan in die preek gevind word, en sommige vrae vereis ook persoonlike oordenking.

  1. Watter motief het koning Herodes gehad toe hy Jakobus om die lewe laat bring het, en ook van plan was om dit met Petrus te doen?
  2. Hoekom het Herodes met die Fariseërs gesimpatiseer?
  3. Waaruit blyk dit in Handelinge 12 dat die gebed nie ‘n hefboom is om enigiets van God te ontvang nie?
  4. Wat word in Handelinge 12:24 bedoel met die woorde “gegroei” en “toegeneem”?
  5. Kan jy tekens noem waaruit duidelik blyk dat Christus ook vandag regeer?
  6. Wat is die uiteindelike doel van jou lewe op aarde?

 

Liturgie: 

Votum: Ps 121:1

Seën

Ps 18:14

Wet

Ps 119:19,33

Gebed

Skriflesing: Handelinge 12:1-24

Ps 2:1,2

Teks: Handelinge 12:24

Preek

Ps 56:1

Gebed

Kollekte

Ps 138:2,4

Seën