Hou vas aan Christus, die Hoof van die liggaam

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2022-01-16
Teks: 
Kolossense 2:19
Preek Inhoud: 

Preek: Kolossense 2:19

 

‘n Mens se liggaam is indrukwekkend ontwerp.

Neem net, as voorbeeld, jou knie of jou enkel.

Dit is ‘n komplekse samevoeging van been, kraakbeen, spiere, ligamente, senuwees, are, en noem maar op.

As alles harmonieus saamwerk, funksioneer die knie of die enkel soos dit bedoel is.

Dit kan in verskillende rigtings buig, dit kan gewig dra, dit kan loop, spring, en hardloop.

Op staptogte dra knieë en enkels die stapper met sy rugsak oor berge en deur riviere, oor rotse en klippe.

En atlete se knieë en enkels dra hulle oor die wenstreep, sorg dat hulle ver kan spring, hoog kan spring, oor hekkies kan spring.

En dit is nog maar twee dele van die menslike liggaam.

Daar is ook skouers, elmboë, polse wat atlete in staat stel om spies te gooi, gewig te gooi.

Maar o wee as jy ‘n spier skeur, of ‘n ligament, of jy beseer jou gewrig ...!

Dan kom jy gou agter dat een liggaamsdeel die hele funksionering van die res van die liggaam beïnvloed.

Wie sy ligament geskeur het, kan dalk nog loop, hink-e-pink eerder, maar daar is swelling en pyn, en moenie probeer hardloop of spring nie.

En as dit nie aandag kry nie, bly dit ‘n swak plek in jou knie of enkel, wat op den duur die hele liggaamsdeel gaan beskadig, ook die ander lidmate, omdat hulle nou werk moet oorneem waarvoor hulle nie bedoel is nie.

 

Hierdie feite oor die menslike liggaam, hoe indrukwekkend dit ontwerp is en hoe dit funksioneer, maar ook wat alles fout kan gaan, van hierdie feite is ons deesdae goed op die hoogte.

Daar is dokters, chirurge, ortopete, en nog soveel ander spesialiste wat kan help as ons êrens ‘n besering of slytasie of siekte opgedoen het.

En alhoewel die mense in die apostel Paulus se tyd nog lank nie al hierdie mediese kennis en vaardighede gehad het, wat deur die loop van die eeue geakkumuleer het nie, het hulle tog ook al ‘n goeie basiese begrip gehad van die menslike liggaam, en in elk geval van die feit dat elke orgaan, spier, ledemaat of ligament ‘n spesiale funksie gehad het, en dit ten bate van die liggaam as geheel.

Die liggaam is nie ‘n toevallige sameraapsel van lidmate, wat elkeen uit is op sy eie voordeel nie.

Die liggaam funksioneer as ‘n harmonieuse geheel, waar elke lidmaat se funksie ontwerp is om die hele liggaam ten goede te kom.

Wat dit betref is daar dan ook nie ‘n meer toepaslike beeld om die gemeente van Christus mee te beskryf nie.

‘n Beeld wat die werklikheid van sy gemeente beskryf, maar ‘n beeld wat ook funksioneer as ‘n oproep, ‘n appèl, hoe dit behoort te funksioneer.

 

Tema: Hou vas aan Christus, die Hoof van die liggaam

  • Funksionering van die liggaam
  • Funksionering van die Hoof

 

1. Funksionering van die liggaam

Daar is twee woorde in ons teks wat dui op spesifieke liggaamsdele.

In ons vertaling is dit: gewrigte en verbindinge.

In die 2020-vertaling is vertaal: gewrigte en spiere.

In die Engelse ESV-vertaling staan daar: joints and ligaments.

Die twee Griekse woorde is sinonieme en het min of meer dieselfde betekenis.

Naamlik: dit wat iets saambind, en dan spesifiek in mediese terme: ligamente, of gewrigte, of al die onderdele wat saam die gewrig vorm.

Sonder die ligamente, sonder die spiere, sonder die bene, die knieskyf, die kraakbeen, sou die gewrig nie werk nie.

Die twee dele van die liggaam sou dan doelloos aan mekaar hang sonder dat dit iets kon doen.

Maar al daardie onderdele maak die gewrig funksioneel, of dit die knie is, enkel, skouer, pols, watter gewrig ook al.

En dit is dan nog slegs die voorbeeld van gewrigte.

Hoeveel ander komplekse stelsel is daar nie in die liggaam nie.

Dink aan die bloedsomloop, die hart en longe.

Dink aan die senustelsel.

En al hierdie stelsels is op ‘n manier weer geïnterkonnekteer, en sou sonder mekaar nie optimaal kon funksioneer nie.

 

Nou, gemeente, hierdie hele skitterende werklikheid van die menselike liggaam kan net so op die gemeente toegepas word.

As een lidmaat buite aksie raak, moet sy of haar funksie deur ‘n ander oorgeneem word, wat die nodige las op die ander se skouers plaas, omdat daardie persoon die betrokke funksie nie so goed kan uitoefen as die lidmaat wat Christus daarvoor geskik gemaak het nie.

En op den duur veroorsaak dit dat die gemeente mank begin loop, soos ‘n knie waarvan ‘n ligament afgeskeur het.

Ook is daar in die liggaam verskillende stelsels, verskillende groepe lidmate, wat fokus op gespesialiseerde diensbetoon.

Daar is die ouderlinge en diakens, daar is die praktiese kommissies soos die MSK en die finansiële kommissie, dan is daar gemeente-opbou, musiek-, en ouerkommissies.

Al hierdie groepe funksioneer op ‘n manier selfstandig, maar is tog weer verbind met die ander groepe of kommissies.

En vir elkeen geld dat hulle doel is die opbou en optimale funksionering van die gemeente as geheel.

Elke kommissie streef nie sy eie belang na nie, maar die van die gemeente as geheel.

 

Destyds in Kolosse was daar mense met ‘n vleeslike gesindheid, mense wat opgeblase was – vers 18.

Nou dit beslis negatiewe dinge wat oor hierdie mense gesê word, maar wat word presies bedoel?

Die 2020-vertaling is bietjie duideliker: “As gevolg van sy sondige aard, dink hy sonder rede baie van homself ...”

Hierdie selfgesentreerde houding het uit spesfieke dinge geblyk, destyds, in Kolosse.

Daar was verskillende dinge wat op die spits gedryf is, dinge soos engeleverering, besnydenis, voedsel en drank – eet van varkvleis byvoorbeeld, onderhouding van feeste, nuwe mane, sabbatte en gaan so voort.

En uiteindelik het dit nie oor die dinge self gegaan nie, maar oor daardie mense se houding.

Hulle het selfgesentreerd geraak, hulle het te veel van hulleself probeer dink, en so het hulle losgeraak van hulle Hoof Christus, en so ook van sy gemeente.

 

As individue in die gemeente, of kommissies in die gemeente, baie van hulleself begin dink, dan bou hulle nie meer nie, dan is hulle nie meer diensbaar nie.

En die kern van die probleem is dan, soos ons aan die begin van ons teks lees: Dan hou hulle nie meer vas aan die Hoof nie.

Want vir wie te veel van homself dink, raak Christus op die agtergrond.

Enigiets wat nie vir Christus gedoen word nie, bou nie op nie, maar breek af.

In jou persoonlike lewe, maar ook in die gemeentelike lewe.

 

En dit is waarna ons in die tweede plek gaan kyk.

Want waar Christus uit beeld verdwyn, waar dinge nie meer in afhanklikheid van Hom gedoen word nie en as liefdediens vir sy liggaam nie, daar begin dinge uit mekaar te val.

Dan hou die liggaam op om harmonies te funksioneer.

Mag God in sy genade ons bewaar vir so ‘n scenario in die nuwe jaar, waar mense teen mense opstaan, waar ons nie meer almal saam kniel vir Christus nie.

Hy is die Hoof van die liggaam, slegs in Hom is daar ‘n toekoms vir ons.

 

(Tema: Hou vas aan Christus, die Hoof van die liggaam

  • Funksionering van die liggaam)

 

2. Funksionering van die Hoof

Die feit dat Christus Hoof is, is ‘n motief wat ons steeds in die Kolossensebrief terugvind.

Hy is Hoof oor alle geskape dinge, die hele kosmos (1:16).

Hy is Hoof oor alle owerhede en magte (2:10).

En Hy is Hoof oor sy gemeente (ons teks).

Christus, ons Hoof, is grammaties ook die onderwerp van die teks.

Dit sluit weer pragtig aan by die metafoor van die liggaam.

Die kop, die hoof van die liggaam.

In die hoof is die oë, wat kyk waarheen die liggaam moet beweeg.

In die hoof is die mond, wat die liggaam voed.

Ensovoorts.

 

Paulus gebruik twee werkwoorde, wat vertel wat die Hoof vir die liggaam doen.

Eerstens: Hy ondersteun.

Uit die Hoof ontvang die hele liggaam ondersteuning.

Ja aan die einde van die dag steun die liggaam nie op die voete, of enkels, of knieë of bene nie, maar op die Hoof.

Die oorspronklike betekenis van die Griekse woord is hier: om alles beskikbaar te stel wat nodig is om in iemand se behoeftes te voorsien.

Die hoof bied ondersteuning, sorg dat in al die liggaam se behoeftes voorsien word.

Hierdie beeld is duidelik soos daglig, toegepas op Christus se verhouding tot sy gemeente.

As Hoof voorsien Hy in al die behoeftes, sodat die gemeente kan bestaan.

Soos voedsel deur die mond gaan en die hele liggaam voed, tot die kleintoontjie toe, so voed Christus sy kerk met sy Woord, sy voedsel, ja deur sy Gees, sodat alle lidmate lewend, gesond, ja kragtig in die Gees bly.

 

En dan as tweede werkwoord van dit wat die Hoof doen, staan daar: saamverbind.

Die Hoof bind saam, bring saam, verenig.

Nou hoe dit fisies werk met die menslike liggaam is miskien nie so duidelik nie, maar die beeldspraak is wel.

Dit is die Hoof, Christus, wat al die lede saambring, en dan ook sorg dat hulle nie los sand is nie, maar verenig, stewig verbind word.

Ons kan hier ook dink aan ‘n ander beeldspraak in die Nuwe Testament:

Christus bou die kerk as ‘n stewige huis, wat wel saamgevoeg is, waarvan Hy die fondament is.

Dit is wat Christus doen.

So funksioneer Hy as die Hoof.

 

En dit alles gebeur met ‘n doel.

Dit is waarmee ons teks afsluit.

Die liggaam funksioneer nie net ter wille van om te funksioneer nie.

Nee dit groei om groot te word, volwasse te word.

Hierdie groei kom nie uit die liggaam self nie.

Dit is ‘n Goddelike groei, sê ons teks.

Mens kan ook vertaal: met groeikrag wat van God kom.

Christus het ‘n doel met sy gemeente.

Hy lei hulle na die volmaaktheid toe.

Deur sy Gees laat Hy pragtige vrugte ryp word, daarvan lees ons in die volgende hoofstuk, as Paulus skryf dat die Kolossense hulle moet beklee met ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid, lankmoedigheid.

As daar in ons teks staan: groot word, dui dit op volmaak word.

Dit is Christus se doel.

Dit laat ons aan nog ‘n beeld uit die Nuwe Testament dink.

Christus berei sy bruid voor, dat sy volmaak se lyk, uiterlik en innerlik, gereed vir die bruilof, die dag as Hy terugkom.

Groei hou dus in: toename in die onderlinge omgang van gelowiges, toename in onderlinge diensbetoon, toename daarin om jou unieke funksie in die liggaam al hoe beter uit te voer, ten bate van die hele liggaam.

Dit is, in kort, groei in kwaliteit.

Maar daarnaas is daar ook groei in kwantiteit.

Dat die gemeente in aantal groei.

Hoewel dit nie die hooffokus in ons teks is nie, is dit nie uitgesluit nie.

Kwaliteit en kwantiteit gaan saam, die een lei tot die ander, en vice versa.

Ook dit was Christus se opdrag aan die gemeente in Kolosse, om sy lig te laat skyn.

Ook dit is ‘n opdrag vir ons, Maranata, in 2022.

Laat ons opnuut besin en tyd bestee aan die werf van lidmate, want dit is Christus se opdrag aan ons in ‘n wêreld wat dreig om verlore te gaan.

 

Christus het met ‘n pragtige werk in Kolosse begin.

Dit is ook die pragtige werk waarmee Christus in Maranata besig is.

Nou is die werklikheid van die gemeentelike lewe nie altyd so volmaak nie.

Pleks van ‘n Geestelike gesindheid – wat beteken dat jy jou laat lei deur die Hoof – is daar soms ‘n vleeslike gesindheid – waar jy te veel van jouself begin dink.

As die liggaam egter nie die Hoof volg nie, dan funksioneer die liggaam nie.

Dan sterf die liggaam, of dan doen die liggaam snaakse dinge.

‘n Liggaam wat ‘n versteurde konneksie met die Hoof het, sal byvoorbeeld spastiese bewegings begin maak.

Ongekontroleerde bewegings.

Dit is hoe die kerk van Christus lyk as sy nie die instruksies van haar Hoof volg nie.

Bly daarom verbonde aan julle Hoof.

Volg julle Hoof, volg Christus, skryf Paulus aan die Kolossense.

Die ware kerk leef volgens die instruksies van haar Hoof Christus.

Die ware kerk funksioneer soos ‘n gesonde atletiese liggaam, sê Paulus.

Daar is nie ledemate, of organe, wat kraak of protesteer nie.

Die liggaam bly jonk en verouder nie.

Die hele liggaam reageer direk, soepel en kragtig op elke instruksie, aangestuur deur die Hoof.

Die hele liggaam, stewig saamgevoeg deur gewrigte, ligamente, spiere ensomeer.

Die liggaam van Christus bly gesond en jonk.

Dit verouder nie.

As daar iets moet gebeur, dan gebeur dit.

Doeltreffend, sonder aarseling, gehoorsaam aan die Hoof.

Sowel buigsaam asook standvastig.

Sowel aanpasbaar asook prinsipieel.

Christus deel die instruksies uit, sy Woord is die rigsnoer.

 

Broers en susters, is ons so ‘n liggaam van Christus?

Hoe lyk ons?

Lyk ons soos die liggaam van ‘n gesonde, geoefende atleet?

Of op die liggaam van ‘n ou man, wat stadig in aksie kom, wat kreun en steun elke keer as hy moet opstaan.

As daar ietsie ekstra van ons gevra word as die gebruiklike, die tradisionele, kreun en steun ons?

Om meer betrokke te raak by die sending?

Om ‘n rol te speel by ‘n Bybelstudievereniging?

Om deel te wees van ‘n kommissie?

‘n Vakansiedag te bestee aan ‘n vroue- of mannesaamtrek ...?

 

Om verbonde te wees aan die Hoof, persoonlik en gesamenlik as gemeente, is nie ‘n straf nie.

Dit is ‘n geweldige rykdom.

Dit is nie gevangeskap nie, dit bring vryheid.

Paulus druk die Kollosense op die hart:

Julle het juis julle vryheid ontvang in Christus.

Moenie jou daarvan laat afbring nie!

Moenie jouself deur mense laat meesleep nie.

Moenie jou laat meesleep deur hulle wysheid, deur hulle bedrieërye nie.

Moenie jouself laat lei aan die eise van die wêreld nie.

 

Broer, suster, toe jy geloofsbelydenis afgelê het, verlede jaar of miskien al sestig jaar gelede, het jy belowe om jou gawes gewillig en met vreugde tot nut en saligheid van die ander lede en tot uitbouing van die koninkryk van God aan te wend (5e vraag Openbare Geloofsbelydenis).

Mag ek jou, aan die begin van 2022, weer daaraan herinner!

Gee jou gawes, jou talente, in die gemeente.

Nie net omdat as jy sou lyf wegsteek, die ander lidmate swaarder sal moet dra nie, soos ‘n ligament wat buite aksie raak, veroorsaak dat die ander onderdele van die gewrig oorbelas word met dinge waarvoor hulle nie geskape is nie.

Ja ook daarvoor, dat jy nie ‘n las vir ander sal wees nie.

Maar nie net dit nie, maar eerstens omdat jy dit vir Christus doen.

Omdat Hy jou met sy kosbare bloed gekoop het en uit alle heerskappy van die duiwel verlos het.

Omdat jy nou van harte gewillig en bereid is om voortaan vir Hom te lewe.

 

Christus is Hoof.

Hy is Hoof oor die kosmos.

Hy is Hoof oor alle owerheid en mag.

Hy is Hoof oor sy gemeente.

En juis in sy gemeente word sy hoofskap erken, word Hy gehoorsaam, word Hy gedien.

Hou vas aan Christus, die Hoof van die liggaam.

Leef onder jou Hoof Christus, dan leef jy in vryheid!

Paulus sluit sy brief af met ‘n pragtige oproep.

En laat hierdie ook vir u as gemeente die oproep wees vir 2022:

 

“Laat die woord van Christus ryklik in julle woon in alle wysheid. Leer en vermaan mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere, en sing in julle hart met dankbaarheid tot eer van die Here. En wat julle ook al doen in woord of in daad, doen alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom.” (Kol 3:16-17)

 

Amen.

 

Vrae na aanleiding van die preek:

Skriflesing: Efesiërs 4:1-16 & Kolossense 2:4-23

Teks: Kolossense 2:19

Om hierdie preek te verwerk en uit elke aspek daarvan te leer, volg hier ‘n paar vrae. Die antwoord kan in die preek gevind word, en sommige vrae vereis ook persoonlike oordenking.

  1. Is daar ‘n ledemaat of orgaan in jou liggaam wat nie meer goed werk nie? Watter effek het dit op die res van jou liggaam?
  2. Oor watter dinge is Christus die Hoof volgens die Kolossensebrief?
  3. Watter twee dinge doen Christus, volgens die teks, as Hoof vir sy gemeente?
  4. Wat word in die teks bedoel met “goddelike groei”?
  5. Watter funksie gee Christus jou tans tot opbou van sy gemeente?
  6. Watter voornemens het jy om hierdie jaar te doen vir Christus se gemeente?

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 122:1

Wet

Ps 19:7

Gebed

Skriflesing: Efesiërs 4:1-16 & Kolossense 2:4-23

Ps 122:2

Teks: Kolossense 2:19

Preek

Ps 118:4,11

Gebed

Kollekte

Sb 24:5-7

Seën