Christus bring sy apostel in Rome, as teken vir wat nog gaan volg

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Pretoria en Maranata
Datum: 
2022-01-02
Teks: 
Handelinge 28:14b
Preek Inhoud: 

Preek: Handelinge 28:14b

 

Op die eerste Sondag van die nuwe jaar mag ons as gemeentes weer bymekaarkom.

Ons kyk vooruit en wonder wat hierdie jaar vir ons as gemeentes gaan bring.

Verlede jaar het ons as gemeentes wel en wee ervaar.

Daar is kinders gebore, ander is oorlede.

Daar het lidmate onttrek, daar het ook nuwe lidmate aangesluit.

Waarmee gaan ons besig wees in die jaar 2022?

Waarop moet ons fokus?

Wat verwag die HERE van ons in hierdie nuwe jaar?

Die gemeentelike lewe sal tradisioneel voortgaan.

Elke Sondag eredienste.

Die kerkkalender vir 2022 het ons laasjaar al ontvang.

Daarop sien ons hoe die kerklike jaar min of meer gaan lyk – DV!

Maar gaan ons veral meedryf met die stroom, dit doen wat van ons verwag word om te doen;

of gaan ons heel bewus elke erediens, elke kerklike geleentheid opsoek, meemaak en benut?

Wat is die doel van ons gemeente-wees?

Wat is die doel van ons eie lewe, en al die dinge wat ons hierdie jaar hoop om gedoen te kry?

 

Geliefde gemeente, kom ons kry weer perspektief op ons doel as gemeente, en ook die doel van jou eie lewe.

Ons mag hierdie perspektief kry uit die Woordverkondiging, vanaand uit die laaste hoofstuk van Handelinge.

Ons teks is ‘n enkele sinnetjie wat tog ‘n ryke boodskap vir ons het.

Kom ons probeer die skatkis van hierdie Bybelvers te ontgin.

 

Tema: Christus bring sy apostel in Rome, as teken vir wat nog gaan volg

 

In die laaste hoofstuk van sy boek beskryf Lukas die skeepsreis van Paulus vanaf die eiland Malta (waar hulle as gevolg van ‘n storm gestrand het) na Italië en uiteindelik na Rome toe.

In Rome het Paulus, al was hy in huisarres, tog die geleentheid gekry om die Evangelie te verkondig.

Soos gewoonlik het hy eers na die Jode uitgereik, maar daarna ook sy blik op die heidene gerig.

 

Ons teks lui: “... en so het ons na Rome gegaan”

Die English Standard Version vertaal: “And so we came to Rome.”

Die 2020-vertaling vertaal: “En uiteindelik het ons Rome bereik.”

Die Griekse woordjie wat met “so” vertaal is, kan ook vertaal word met: aldus, of: op hierdie wyse.

Hierdie woordjie kan vooruitwys, of terugverwys.

Eerstens wys dit vooruit na hoe die broeders uit Rome Paulus vol vreugde tegemoet gekom het tot by die Appiusmark, ongeveer halfpad tussen Puteoli en Rome.

Paulus se aankoms in Rome was skynbaar ‘n hoogtepunt, ‘n baie belangrike gebeurtenis, as die broeders bereid was om hom tegemoet te reis vir meer as 50 km.

Al was Paulus ‘n gevangene, tog word hy byna as ‘n keiser verwelkom.

 

En dan, tweedens, verwys die woord “so” ook terug na die lang reis na Rome, wat nie sonder ontberings was nie.

Dink aan die verskriklike storm waarin hulle tereg gekom het en die dramatiese skipbreuk, dink aan hoe Paulus deur ‘n slang gepik is op die eiland Malta, toe die plaaslike inwoners gedink het hy is ‘n misdadiger wat, al het hy die skipbreuk oorleef, nou sal sterf en sy welverdiende straf ontvang.

Agter dit alles sien ons hoe Satan gepoog het om te verhoed dat Paulus in Rome aankom.

Tog het Paulus al hierdie ontberinge wonderbaarlik oorleef.

In ons teks slaak Lukas as ‘t ware ‘n sug van verligting:

En toe, so, op hierdie wyse, of soos die 2020-vertaling vertaal: uiteindelik het ons Rome bereik.

Paulus se wens gaan in vervulling.

 

Gemeente, ons teks, hierdie sinnetjie kan as die hoogtepunt van die boek Handelinge beskou word.

Die boek Handelinge het begin met Jesus se opdrag aan die apostels:

“julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en Samaria en tot aan die uiterste van die aarde.” (Hand 1:8)

In Handelinge sien ons hoe die apostels gehoorsaam hierdie opdrag begin uitvoer het.

Hulle het begin preek en tekens en wonders verrig in Jerusalem.

Ook het die Heilige Gees hulle gelei in die res van Judea in, en ook tot in Samaria, daardie mense wat deur die Jode as afvallig beskou is, buite die verbond.

En toe duidelik word dat die Heilige Gees ook bekerings onder heidene gewerk het – dink aan Cornelius, en dink aan dit wat in Antiochië gebeur het, daar waar die tweede gemeente gestig is – het die apostels ook na die heidene begin uitreik.

Lukas gaan vervolgens daartoe oor om Paulus se sendingsreise te beskryf.

Paulus en Barnabas het daarmee begin toe hulle na Cyprus gevaar het, die eiland waarvan Barnabas afkomstig was.

Daarna het hulle na Klein-Asië gegaan, dis waar Paulus vandaan gekom het.

En stadig maar seker het die sirkel al wyer geword.

Die weste en noordweste van Klein-Asië het gevolg, daarna Macedonië, en Griekeland ...

En dan eindig Lukas sy boek deur te vertel dat Paulus in Rome aangekom het.

Soos ek genoem het, dit is die hoogtepunt waarmee Handelinge eindig.

 

Waarom was Rome so belangrik, en dat Paulus daar aangekom het?

Wel, soos ons weet, Rome was die hoofstad van die Romeinse Ryk.

Hierdie ryk was ‘n enorme groot gebied.

In elk geval al die lande rondom die Middellandse See, maar nie net dit nie.

Dit het ver na die noorde uitgebrei tot in gebiede wat vandag bekend staan as Frankryk, België, dele van Duitsland en Nederland.

Ook die onderste helfte van Engeland was deel van die ryk.

Ook het ‘n groot aantal gebiede rondom die Swartsee aan die ryk behoort.

Na die ooste het die ryk uitgebrei na gebiede wat ons vandag ken as Sirië en Arabië.

Na die suide die lande in Noord-Afrika, Egipte en noem maar op.

As hoofstad het Rome al hierdie lande, al hierdie volke, al hierdie ontelbare mense, verteenwoordig.

Daarom is die afsluiting van die boek Handelinge tegelyk ‘n begin.

Lukas eindig sy boek met nuwe perspektiewe.

Alle weë lei na Rome, sê die ou spreekwoord.

Wel, as dit so is, kan mens dus in omgekeerde rigting ook orals heen reis, na die noorde, ooste, suide en weste, oor land en oor see.

Handelinge eindig op ‘n hoogtepunt.

Na talle ontberings laat Christus Paulus aankom in die hoofstad van die Romeinse Ryk.

Dis soos wanneer jy die top van ‘n berg bereik het, en as jy jou oë opslaan, sien jy op die horison nog veel hoër berge wat wag.

Ons weet van Paulus se intensie, wat hy ‘n keer uitgespreek het, dat hy ook nog na Spanje wou gaan, dus nog verder na die weste wou reis.

Of dit gerealiseer het, weet ons nie seker nie.

Seker is wel dat die apostels in alle rigtings uitbeweeg het.

Volgens oorlewering het ander apostels na die ooste gereis, en selfs tot aan die weskus van Indië gekom.

Maar al weet ons nie presies tot hoe ver die apostels gekom het nie, feit is dat na hulle dood nuwe evangeliedienaars nog verder gereis het.

In daardie dae het die mense in die Romeinse Ryk geweet dat daar nog volke was verder na die noorde, die sogenaamde barbare.

Hulle het geweet van die groot beskawings na die ooste, al het hulle nie geweet hoe ver dit ooswaarts gestrek het nie.

Van beskawings soos die van Japan was hulle nog nie bewus nie.

Hulle het ook geweet van Afrika, en dat dit suidwaards strek en bewoon is deur mense, maar hoe ver suidwaarts het hulle ook nie geweet nie.

En, van die Amerikaanse kontinente het hulle nog niks geweet nie.

Tog staan die laaste hoofstuk van Handelinge, die feit dat Paulus in Rome aangekom het, simbool vir die feit dat die Evangelie onstuitbaar begin beweeg het, in opmars was na die eindes van die aarde.

Vanaf die sewe heuwels van Rome het as ‘t ware die volgende bergpieke op die horison gewink.

 

Broer en susters, ons staan aan die begin van ‘n nuwe jaar.

In sekere sin kan die verloop van die geskiedenis ook gesien word as die beklimming van ‘n berg.

Die reis deur die geskiedenis gaan oor berge en deur dale en vlaktes.

Met ‘n jaarwisseling staan mens as ‘t ware op die top van ‘n heuwel, en kyk ons vooruit.

Wat wag daar vir ons?

Watter berge wag daar om te beklim in die nuwe jaar, tree vir tree?

Wel, soos ons in Oujaarsaand se preek gehoor het, die geskiedenis beweeg wel na ‘n punt toe.

Al voel dit vir ons of die Here die belofte vertraag (2 Petr 3:9), is dit nie so nie.

God lei die geskiedenis van die aarde na ‘n spesifieke punt, die wederkoms van Christus.

Heel die geskiedenis is heilsgeskiedenis.

Elke nuwe jaar is genadetyd, waarin God geleentheid skenk vir mense om na Hom terug te keer.

Maar, soos ons ook Oujaar uit 2 Petrus 3 gehoor het, alles bly nie dieselfde soos dit was al van die skepping af nie.

Soos daar in die verlede ‘n sondvloed plaasgevind het, wat die aarde totaal verander het, so wag daar nog ‘n katastrofe vir die aarde – die oordeelsdag.

Paulus het vir die Atheners byvoorbeeld oor hierdie dag ingelig met die volgende oproep: “God het dan die tye van onkunde oorgesien en verkondig nou aan al die mense oral dat hulle hul moet bekeer, omdat Hy ‘n dag bepaal het waarop Hy die wêreld in geregtigheid sal oordeel deur ‘n Man wat Hy aangestel het, en Hy het hiervan aan almal sekerheid gegee deur Hom uit die dode op te wek.”  (Hand 17:30-31)

Op daardie dag sal die genadetyd verby wees vir almal wat hulle nie tot Christus bekeer het nie.

Maar hulle wat wel hulle tot Christus bekeer het, vir hulle sal dit ‘n dag van ongekende blydskap wees, as hulle hulle Saligmaker op die wolke sien terugkom.

Wanneer daardie dag aanbreek, weet ons nie, wanneer die geskiedenis daardie bergpiek bereik, dit is nog onsigbaar aan die horison.

Maar ons weet dit kom.

 

Nou is ons nie apostels soos Petrus en Paulus was nie.

Ons word nie uitgestuur om te reis tot aan die eindes van die aarde nie.

Die gelowiges wat destyds tot bekering gekom het onder die apostels se prediking, van hulle is ook nie verwag om sendingsreise te onderneem net soos die apostels nie.

Wel het hulle lewens, as gelowiges, ‘n reis geword met ‘n duidelike bestemming: die verwagting van Christus se wederkoms.

En as daardie belofte – Christus se terugkoms – in hulle lewe nog nie in vervulling gaan nie, was daar die uitsien na wanneer hulle Christus sou ontmoet op hulle sterfdag.

Al het al die bekeerdes dus nie ook op sendingsreise vertrek nie, het die aard en die doel van hulle lewens wel verander met hulle bekering.

Voortaan het hulle vir Christus gelewe.

Voortaan het hulle lewens ‘n leesbare brief geword van die Evangelie.

Met woord en daad het hulle in hul alledaagse lewe van Hom getuig, daar in hulle omgewing, aan familie, dorpsgenote ensovoorts.

Die gemeentes in Efese, Smirna, Laodicea, Philippi, Kolosse, Korinthe en noem maar op het nie net gegroei onder die prediking van die apostels nie.

Toe die apostels aangereis het, is oudstes aangestel wat gesorg het dat die prediking onder die heidene voortgaan, en dat die bekeerdes bly leef volgens die Evangelie.

Die gelowiges het ook ander na die gemeente toegelei, deur hulle woord en wandel.

 

Vandag is daar nog steeds sendelinge wat letterlik in die voetspore van die apostels verder gaan, in die sin dat hulle tot aan die eindes van die aarde reis met die Evangelie.

En dan moet ons nie net dink aan ver afgeleë eilande nie, maar ook aan die stede van die 21ste eeu, waar miljoene mense woon, wat ook dreig om verlore te gaan.

Al is hulle wêreldburgers in die sin dat hulle toegang tot die internet het en dus – teoreties gesproke – die Bybel gratis kan download asook derduisende preke en boeke en potgooie oor die Bybel, tog bekeer hulle hulle nie tot Christus nie en bly hulle voortleef in geestelike duisternis.

Evangelisasie, sending oor internet is in sekere sin ‘n teenstrydigheid.

Die internet kan ‘n kragtige hulpmiddel wees by sending en evangelisasie, maar dit is nie dit self nie.

Want ook vandag nog steeds geld dat die Heilige Gees deur die lewende, persoonlike verkondiging van die Evangelie, mense tot bekering en geloof in Christus bring.

Nie net deur predikante en sendelinge nie, maar ook in die amp van elke gelowige, wanneer ons in woord en wandel ‘n Christelike, ‘n hoopvolle lewe lei.

Paulus en die ander apostels se lewens het nie meer aan homself behoort nie.

Hy moes gaan waar Christus hom gestuur het.

Maar, gemeente, dit geld nie net vir apostels en sendelinge nie.

Ook jou lewe behoort nie aan jouself nie.

Ook jy moet die lewe leef wat Christus vir jou voorbestem het.

Vra na sy wil in jou lewe!

 

Juis dit is ons opdrag vir die nuwe jaar, as ons voortreis na die jongste dag.

Dien die Here trou volgens sy wil met woord en daad in jou lewe, wees ‘n lig op ‘n berg.

Bestee 2022 in diens van Hom.

Dit is Hy wat hierdie jaar aan jou skenk.

Studeer, werk, ontspan van harte, omdat jy dit vir die Here doen.

Kom trou kerk toe, wapen jouself teen die aanslae van die Satan, sodat jou lewensreis op koers bly.

Beskerm jouself, jou geliefdes, jou geloofsgenote, en ook die skepping, teen die sonde en die nare gevolge daarvan.

Bly getuig in woord en wandel, sodat die wat die Here op jou lewenspad plaas, ook uit die duisternis na die lig gelok word.

 

Christus het sy apostel in Rome gebring, as teken vir wat nog sou volg.

Toe Lukas sy laaste hoofstuk van Handelinge afsluit met wat hy as ‘n hoogtepunt in Paulus se sendingsreise beskou het, naamlik dat hy in Rome aangekom het, toe het Lukas nog nie ‘n idee gehad van die suidpunt van Afrika nie.

Maar Christus wel.

Toe Hy die opdrag gegee het om na die uiterste van die aarde te gaan, het Hy ons en ons land ook al in gedagte gehad.

Vandag woon ons as getuies van Christus in hierdie land.

En ons vernaamste bede vir 2022 is die laaste woorde van die boek Handelinge.

Dat net soos Paulus in Rome, dit ons gegee mag word om te kan getuig aangaande die Here Jesus Christus met volle vrymoedigheid sonder enige verhindering.

Die predikante en sendelinge in hulle dagtaak, maar ook elkeen van ons in ons dagtaak, met woord en daad.

En mag die Here gee dat dit so mag wees dat aan die einde van 2022 daar nog mense tot geloof en bekering gekom het in die Here Jesus Christus, en toegevoeg is tot sy kerk, hier in Pretoria, en ook in ons land, en ook in alle lande van die wêreld.

Dan sal 2022 nie ‘n verlore, ‘n vergeefse jaar wees nie, maar ‘n genadejaar wat sy doel sal dien, waarvoor God dit bestem het.

 

Amen.

 

Vrae na aanleiding van die preek:

Skriflesing: Handeling 1:1-11 & Handelinge 28

Teks: Handelinge 28:14b

Om hierdie preek te verwerk en uit elke aspek daarvan te leer, volg hier ‘n paar vrae. Die antwoord kan in die preek gevind word, en sommige vrae vereis ook persoonlike oordenking.

  1. Op watter hoogtepunt eindig die boek Handelinge? Wat is die simboliese betekenis daarvan?
  2. Hoe kan ons die laaste hoofstuk van Handelinge sien as die begin van wat nog sal volg?
  3. Watter voordeel het dit vir die verspreiding van die Evangelie ingehou, dat alle weë na Rome gelei het?
  4. Probeer om ‘n goeie voorneme vir die nuwe jaar te kry, spesifiek wat betref die uitstraling van die Evangelie in jou persoonlike woord en wandel?
  5. Probeer ‘n goeie voorneme vir ons as gemeente te verwoord, wat betref ons gesamentlike uitstraling van die Evangelie.
  6. Wat is die Here se doel, as Hy nog ‘n jaar aan die geskiedenis gaan toevoeg?

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 96:2,7

Gebed

Skriflesing: Handelinge 1:1-11

Ps 46:6

Skriflesing: Handelinge 28

Sb 45:1,3,10,11

Teks: Handelinge 28:14b

Preek

Ps 67:1,2

Gebed

Apostoliese Geloofsbelydenis (sing)

Kollekte

Sb 24:6,7

Seën