2021 was ‘n bewys van die Here se lankmoedigheid

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Pretoria en Maranata
Datum: 
2021-12-31
Teks: 
2 Petrus 3:9
Preek Inhoud: 

Preek: 2 Petrus 3:9

 

Die afgelope jaar het die lewe voortgegaan.

Daar is kinders gebore, daar het mense gesterf.

Daar het mense getrou, daar het mense geskei.

Daar het kinders met skool begin, daar het mense met skool klaargemaak.

Maar tog, as daar een ding is wat die Covid-pandemie die wêreld geleer het, is dat alles nie altyd dieselfde sal bly nie.

Dit is die lewenshouding van die mensheid – ons leef op aarde en alles sal altyd dieselfde bly.

In Petrus se tyd was daar ook al sulke mense wat hierdie oppervlakkige lewenshouding gehad het.

Hulle pluk die dag, geniet die lewe, met as argument dat alles tog dieselfde bly, en dat hulle aan niemand verantwoording verskuldig is oor hoe hulle lewe nie.

En, wat nog meer verontrustend is, daar was juis ook Christene wat hierdie houding gehad het.

Hulle het skepties begin raak oor Christus se sogenaamde belofte, dat Hy sou terugkom.

 

Tema: 2021 was ‘n bewys van die Here se lankmoedigheid

1) Die werklikheid van katastrofes

2) Die betroubaarheid van die belofte

 

1) Die werklikheid van katastrofes

Petrus het hierdie tweede brief waarskynlik rigting die einde van sy lewe geskryf, dit was dus al enkele dekades na Jesus se hemelvaart.

Vir ons klink dit amper onmoontlik, want dit gaan hier oor mense wat Jesus waarskynlik nog self op aarde gesien het, of wat mense geken het wat Jesus gesien het.

Desnieteenstaande was dit toe ook al so, dat sommiges, enkele dekades later, al begin skepties raak het oor sy wederkoms.

Maar juis omdat die gelowiges hierdie traak-my-nie-agtige houding aangeneem het, het Petrus genoodsaak gevoel om nog ‘n brief aan hulle te skryf.

So het die Heilige Gees gesorg dat hierdie belangrike onderwys oor die eindtyd aan die Skrif toegevoeg is.

Hierdie brief van Petrus het ‘n vermanende, ‘n waarskuwende karakter; dit is ook aanmoedigend – ‘n oproep om te volhard in vertroue op Christus se belofte.

Onthou dit wat die profete geprofeteer het oor die toekoms.

Onthou die opdrag van die Here, julle Verlosser, naamlik om wakker te bly, julle lampe brandende te hou.

Dit is ‘n opdrag wat julle via die apostels ontvang het, en dit is betroubaar.

Staan vas teenoor die spotters.

Spotters is mense wat sinies geword het, wat openlik die belofte van die wederkoms begin betwyfel het.

En soos dit dikwels gaan, twyfel aan die belofte, verdraaiing van Christus se woorde, afdwaling, dit het so dikwels se make met mense se lewensstyl.

As mense se lewensstyl wêreldgelykvormig word, dan soek hulle verskonings.

Petrus skryf, hierdie spotters wandel, hulle lewe, volgens hulle eie begeerlikhede.

Wat vir hulle lekker is, dit doen hulle, maak nie saak of dit teen die Here se wil ingaan nie.

En dan begin hulle hulleself verdedig deur ander te beskuldig.

 

Is dit nie vandag nog net so nie?

As iemand in sy lewe afdwaal van wat die Here beveel, dan is aanval mos die beste verdediging.

Kerkmense moenie dink hulle is beter nie.

Die kerkmense is onbarmhartig, hulle dink hulle is sonder sonde.

Die kerkmense sonder hulleself af, hulle dink hulle is beter as ander.

Die dominee of ouderling het te min empatie, dis hulle wat die vrede versteur.

En gemeente, een stappie verder is dan, soos hierdie spotters in 2 Petrus 3 doen, om ook vir die Here te begin beskuldig.

Of dalk eers nog bietjie minder direk, om vraagtekens te plaas by die Here se Woord.

Christus se belofte het hulle anders begin interpreteer.

Ook vandag gebeur dit, as mense die evangelie van Christus se opstanding en wederkoms anders interpreteer.

Christus sou nie fisies uit die graf opgestaan het nie, Hy sou net in sy dissipels se harte opgestaan het.

Christus sal nie fisies na die aarde terugkom nie, ons moet dit anders interpreteer.

So word Christus se belofte, sy Woord, bevraagteken, en soos ek genoem het, het dit te make met die feit dat mense anders begin lewe het, dat hulle aangepas het by die wêreldse lewenstyl.

Of miskien het hulle kinders of kleinkinders afvallig geraak, en probeer hulle die verdedig.

Het jy dit al ervaar, dat mense in jou kring dit doen – dalk kollegas of familie?

Het jy dit al self gedoen?

Neem jy daardie neiging by jouself waar?

Om ander te begin beskuldig, en om dit wat belowe is te begin bevraagteken, juis in ‘n tyd wat jy besig is om af te dwaal, nie naby die Here lewe nie, juis as gevolg van die feit dat jou lewe op daardie stadium nie meer naby die Here is nie?

 

Petrus skud hierdie mense, die dwalende gemeentes, wakker.

En die Heilige Gees gee dan ‘n argument uit die verlede, ‘n bewys dat dinge nie altyd dieselfde was, en ook nie altyd dieselfde sal bly nie.

Die spotters vergeet naamlik moedswillig, willens en wetens, die geskiedenis van die sondvloed.

Ja dit is geskiedenis, dit het regtig gebeur!

Die toenmalige wêreld het totaal van gedaante verander.

Daar het ‘n ramp plaasgevind wat sy merk gelaat het op die res van die toekoms.

Daardie watervloed het alles weggevaag wat die mensheid voor daardie ramp opgebou het.

Ons weet eintlik niks meer van die tyd voor die sondvloed nie.

Daar was moontlik groot antieke beskawings.

Alles is weggevaag.

Oorblyfsels van hierdie katastrofe sien ons vermoedelik nog as ons bodemondersoek doen, aardlae wat die werklikheid van ‘n natuurramp in die verlede aanwys, skelette van onbekende diere, massas bome wat met grond bedolwe is en versteen het.

Verder vind ons ou oorlewerings onder verskeie volke wat verwys na die sondvloed.

En Petrus verwys uiteraard na God se Woord in Genesis.

Daarin leer ons dat hierdie sondvloed ‘n straf van God was op die mense van daardie tyd wat ook volgens hulle eie begeerlikhede geleef het.

Ook toe was God geduldig.

Vandat Hy die straf aangekondig het aan Noag, het dit nog honderd-en-twintig jaar geduur (Gen 6:3).

Meer as ‘n eeu waarin Noag, die prediker geregtigheid – soos Petrus hom in hoofstuk 2 noem – die mense indringend gewaarsku het.

En net soos Noag, is Petrus nou in sy dae ‘n prediker van geregtigheid.

Ook hy beklemtoon dat God geduldig met hulle is, lankmoedig, dit wil sê stadig tot toorn (Ex 34:6) en dat dit juis ‘n aansporing moet wees om hulle te bekeer.

 

Maar die geskiedenis van die sondvloed leer wel dat katastrofes ‘n werklikheid is.

Katastrofes waarmee God die sondige mensheid besoek.

Katastrofes wat die aansien van hierdie aarde permanent verander.

Soos wat tydens ‘n toneelstuk die dekor verander word, so het dit ook met hierdie wêreld gebeur en sal dit weer gebeur.

Met die sondvloed is die doek van die voormalige wêreld opgerol.

En, sê Jesus, in die toekoms sal hemel en aarde verbygaan.

Dit sal soos ‘n doek, soos ‘n boekrol, opgerol word.

Groot dinge staan ons te wagte, alles sal nie altyd dieselfde bly nie!

 

Begin vorige eeu was daar die Spaanse griep.

Die Spaanse griep het meer dooies geëis as die Eerste Wêreldoorlog, kort daarvoor.

Dit was ‘n wêreldwye katastrofe.

Tussen hakies, die Spaanse griep het nie in Spanje ontstaan nie, maar is daar die eerste keer geïdentifiseer.

Net soos Omikron die eerste keer in Suid-Afrika geïdentifiseer is, maar daarom nie noodwendig hier ontstaan het nie.

Nou het ons die Covid-pandemie, ook ‘n katastrofe, al is dit tot dusver lank nie so erg soos die Spaanse griep van die vorige eeu nie.

Maar mag dit tog die mensheid tot besinning bring, dat alles nie altyd dieselfde sal bly nie.

Die Bybel leer ons dat God se strawwe die geskiedenis diepgaand beïnvloed.

Dit is voorbodes, wat die besef wakker hou dat die oordeelsdag op koms is.

Die huidige wêreldorde is voorbestem vir vuur, skryf Petrus.

‘n Vuur wat die goddeloses sal vernietig.

Hierdie is harde taal, maar dit is nie ‘n leë dreigement nie.

Die geskiedenis van die sondvloed bewys dit.

Toe is die goddeloses ook vernietig.

Op die oordeelsdag sal die vuur van God se straf alles ontbloot.

Die aarde en die goddelose werke wat daarop verrig is, sal verbrand word.

Die aarde sal met vuur gereinig word van alle bederf en verrotting van die sondige mensheid.

Die elemente, skryf Petrus, sal brand en vergaan.

Met die woord elemente dui Petrus op die bestanddele van die hemele, naamlik die son, maan en sterre.

Ja die oordeelsdag sal nog veel groter wees as die sondvloed, nie net die aarde is betrokke nie, selfs die hemelliggame.

 

Gemeente, leef julle met die besef dat katastrofes kan plaasvind?

Mense wat jou geld belê, maak dikwels vir jou ‘n projeksie hoe jou geld gaan presteer in die toekoms, en dit op basis van prestasies in die verlede.

Daardie verlede gaan egter nooit baie lank terug nie.

Hou jy rekening met die besef dat jou lewe in die toekoms nie net volgens beplan sal verloop nie, maar dat ‘n katastrofe jou pad kan kruis?

God se Woord leer ons dat katastrofes ‘n werklikheid is, dit is tekens van die tye, voorbodes vir die groot katastrofe op die oordeelsdag, soos dit hier in 2 Petrus beskryf word.

 

(Tema: 2021 was ‘n bewys van die Here se lankmoedigheid

1) Die werklikheid van katastrofes)

 

2) Die betroubaarheid van die belofte

Wees daarom gewaarsku, skryf Petrus aan hierdie gelowiges wat sinies begin raak het.

Keer terug na die belofte.

Ja, die Here talm nog, maar moenie dit verkeerd interpreteer nie.

Beskou die lankmoedigheid van ons Here as ‘n geleentheid tot verlossing.

Vir julle, en vir alle mense wat nog gebore sal word.

In die uitleg van ons teks is daar verskillende verklarings.

Dit gaan dan oor die vraag: Oor wie is die Here lankmoedig?

Is dit teenoor die lesers van die brief?

Of is dit teenoor almal wat tot die ewige lewe uitverkies is?

Of is dit teenoor die hele wêreld?

Vind ons in ons teks ‘n soort heilsuniversalisme?

Ek dink Johannes Calvyn maak tereg die opmerking by hierdie teks, dat ons moet onderskei tussen God se geopenbaarde en sy verborge wil.

God se geopenbaarde wil is dat Hy die wêreld so lief gehad het, dat Hy sy eie Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê (Joh 3:16).

Hierdie Evangelie gaan uit oor die lengte en breedte van die wêreld, en dit roep elke mens, elke individu op om in Christus te glo.

Maar daar is ook God se verborge wil.

En dit is die feit dat Hy ‘n groot aantal uit die mensheid uitgekies het tot die ewige lewe, maar ons weet nie wanneer hierdie getal vol is nie.

Nou ons teks kan ons uitlê in die lig van beide God se geopenbaarde en verborge wil.

Ons teks dui op heel God se raadsplan.

Ja, Hy is geduldig sodat die getal van die uitverkores vol word.

Maar dit doen Hy in die middelike weg, naamlik dat die Evangelie verkondig word.

Oor die lengte en breedte van die aarde, in elke eeu, klink die oproep tot bekering, die welgemeende aanbod van die heil.

Ja natuurlik is God geduldig oor die hele aarde, die hele mensheid!

En as die oordeelsdag aanbreek, is daar geen siel op aarde wat sal kan beweer dat hy God se genade-aanbod nie ontvang het nie.

Ja die Here se geduld sal dan ‘n verswarende omstandigheid wees in hulle vonnis.

 

So, geliefdes, die Here se uitstel is nie afstel nie.

Sy beplanning is nog op koers.

As ‘n mens iets uitstel, is dit dikwels as gevolg van gemaksugtigheid, of dalk as gevolg van gebrek aan moed, faalangs.

By God is dit nie die geval nie.

Sy uitstel is onderdeel van sy raadsplan.

Hy gee geleentheid tot bekering vir ‘n opstandige mensheid.

As dit vir ons langer duur – want vir ons is duisend jaar nie soos een dag nie – dan mag ons nie maar net agteroor gaan sit en wag nie.

Nog minder mag ons verlang dat dit nog ‘n rukkie langer sal duur.

Hier en daar is daar ‘n bejaarde onder ons, wat al baie oud is, en wat verlang om by die Here te wees.

Maar dalk dink die meeste van ons die Here moet eerder nog bietjie wag, sodat ons nog die dinge gedoen kan kry in ons lewe wat ons graag wil doen.

Ek wil nog my eerste motor koop, ek wil nog die wêreld sien, ek wil nog trou, ek wil nog kinders kry, ek wil nog van my kleinkinders geniet ... noem maar op.

Die Here se geduld mag nie ‘n verskoning wees om hierdie houding te hê nie.

As die Here se geduld as doel het om geleentheid te gee vir almal om tot bekering te kom, laat ons die ekstra tyd dan dan juis hiervoor benut.

God se geduld het as doel om die heilsgeskiedenis te voltooi.

Dit is die doel van die wêreldgeskiedenis.

Dit is die dekor waarbinne mense die geleentheid ontvang om tot bekering te kom.

Laat ons daarom hierdie genadetyd gebruik met die oog op hierdie doel.

In die eerste plek die tyd uitbuit vir ons eie voortgaande bekering, van dag tot dag.

En tweedens om ander op te roep tot bekering.

Hoeveel mense is daar nie op aarde nie wat dreig om verlore te gaan?

Is jy besorgd oor hulle lot?

Pleks van dat jy wêreldgelykvormig raak, moet jy juis hierdie mense oproep:

Kom en doen soos ons!

Dien Christus, word deel van sy gemeente, want hier vind jy ware blydskap.

Hier vind jy die ewige lewe!

Hier is verlossing, sodat jy sal kan standhou deur die vuur van die oordeelsdag heen.

Want die kerk is Christus se werk.

Soos die ark destyds die enigste veilige heenkome was deur die katastrofe van die sondvloed heen, so is dit vandag die kerk van Christus.

Die kerk is die ark van die nuwe verbond.

 

2021 was ‘n bewys van God se lankmoedigheid.

Nou staan 2022 voor die deur.

As dit in God se geduldige raad bestaan, sal 2022 ook 365 dae hê, tensy Christus terugkom.

Ook in 2022 sal die wêreld voortboender, oppad na sy ondergang.

Mog bestaande oorloë ophou, is dit onafwendbaar dat nuwe oorloë sal opvlam.

Want die mensheid bly sondig.

Ook die egoïsme van die mensheid sal in 2022 voortduur, met alle gevolge vir die aarde.

Wêreldleiers en opiniemakers sal aanhou om mense om te koop met hulle mooi beloftes.

As gelowiges weet ons beter.

Oor die mensheid is ons uiters pessimisties.

Tog is ons nie doemdenkers nie.

Want ons verwag, ons weet verseker, dat nuwe hemele en ‘n nuwe aarde sal kom, waar geregtigheid sal woon.

 

Geliefde gemeente, sien die tekens van die tye.

Hou vas aan die belofte.

Dank die Here vir sy lankmoedigheid, sy geduld.

Hou julle lampe brandende, want die Bruidegom kom, al is dit eers middernag.

Duisend jaar is vir Hom soos ‘n dag, en een dag soos duisend jaar.

Moenie jou tydsbegrip aan Hom opdring nie, moenie sy ontsaglike grootheid uit die oog verloor nie.

Buig jou hoof, beseffende dat Hy self die tyd skep.

En as Hy ‘n nuwe jaar gee, laat ons ook daardie jaar benut om vlekkeloos en onberispelik voor Hom bevind te mag word in vrede.

Is dit hoe Christus u as gemeente by sy wederkoms sal aantref?

‘n Vlekkelose bruid, wat nie volgespat is met moddervlekke van die wêreld nie?

‘n Onberispelike maagd, wat nie met die sondige wêreld saamgeslaap het nie?

‘n Gemeente waarin daar vrede heers, die vrede van Bo?

 

Petrus sluit sy brief af met ‘n pragtige aanmoediging (ek lees dit uit die 2020-vertaling):

“Julle dan, geliefdes, aangesien julle hierdie dinge vooruit weet” (dis die dinge waaroor Petrus in sy brief geskryf het, die werklikheid van die toekomstige oordeelsdag, maar ook die belofte van verlossing), dan skryf Petrus: “wees op julle hoede om nie deur die dwaling van beginsellose mense meegesleur te word, en so julle eie standvastigheid te verloor nie. Sorg dat julle aanhou groei in die genade en kennis van ons Here en Verlosser, Jesus Christus.” (vers 17-18)

‘n Mooier oproep kan ek nie vir u saamgee vir die nuwe jaar nie.

Groei in die genade en kennis van die Here Jesus Christus.

Gaan met Christus in 2022, gaan met sy Woord, dan sal julle nie julle standvastigheid verloor nie.

Dan sal julle die blydskap bly ervaar wat alle verstand te bowe gaan, al bring 2022 ook weer pandemies, oorloë, en wat beproewings of katastrofes ook al.

Ons is seker van die Bruidegom se wederkoms, in Hom staan ons verlossing en ewige lewe vas.

“Aan Hom behoort die heerlikheid, nou en ook tot op die dag van die ewigheid.”

 

Amen.

 

Vrae na aanleiding van die preek:

Skriflesing: 2 Petrus 3

Teks: 2 Petrus 3:9

Om hierdie preek te verwerk en uit elke aspek daarvan te leer, volg hier ‘n paar vrae. Die antwoord kan in die preek gevind word, en sommige vrae vereis ook persoonlike oordenking.

  1. Dink ‘n bietjie na oor hoe ingrypend die katastrofe van die sondvloed was.
  2. Hoe is dit moontlik dat mense wat Jesus dalk persoonlik op aarde geken het, begin twyfel het aan sy wederkoms?
  3. Watter katastrofe het jy al in jou lewe meegemaak?
  4. Wat het jy al gehoor oor die katastrofe van die Tweede Wêreldoorlog wat die ouer gemeentelede nog beleef het?
  5. Watter mense in jou gemeente het die afgelope jaar gesterf? Watter mense is gebore?
  6. Het jy goeie voornemens vir die nuwe jaar? Hou daardie voornemens rekening met die oordeelsdag en Christus se wederkoms?

 

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 90:1,2

Gebed

Skriflesing: 2 Petrus 3

Ps 36:2

Teks: 2 Petrus 3:9

Preek

Ps 66:4,8,9

Gebed

Geloofsbelydenis: NGB art. 37

Ps 68:1,3

Kollekte

Ps 68:9

Seën