Die blye boodskap dat God Jesus as Verlosser verwek het

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Pretoria en Maranata
Datum: 
2021-12-26
Teks: 
Handelinge 13:23
Preek Inhoud: 

Preek: Handelinge 13:23

 

In die Kerstyd word daar nie so dikwels uit die boek Handelinge gepreek nie.

Soos ek gister genoem het, is die woord Kers afgelei van Christus.

In Engels is dit duideliker: Christmas kom van Christ.

Christusfees, dit is wat ons spesiaal in hierdie tyd vier.

Dit is ‘n tyd van vreugde, waarby ons stilstaan hoe God se Seun as mens na die aarde gekom het, sy unieke wonderbaarlike geboorte, die begin van sy taak as Middelaar.

In die boek Handelinge lees ons dikwels oor die vreugde wat daar gekom het in elke dorp waar die Evangelie van Christus aangekom het.

Daardie vreugde in Christus deel ons.

Elke jaar weer ervaar ons hierdie blydskap tydens Kersfees.

Meer nog, as gelowiges ervaar ons die blydskap elke Sondag van die jaar, as ons Christus se Woord, die heerlike bediening van sy versoening, ontvang.

 

Kom ons staan vanoggend weer stil by die Kersboodskap, soos dit ook uit die boek Handelinge kom.

 

Tema: Die blye boodskap dat God Jesus as Verlosser verwek het

1 Blydskap in Antiochië

2 Aanstoot in Antiochië

 

1 Blydskap in Antiochië

Om en by die jaar 44 het die Kersboodskap die eerste keer in Antiochië aangekom.

Dit is die Antiochië in Klein-Asië, teenwoordig geleë in die middel van Turkye.

Paulus en Barnabas het op hulle eerste sendingsreis daar verbygekom.

So het Kersfees, die Christusfees, in Antiochië aangekom.

Soos ek in gister se preek genoem het, skryf Lukas in Handelinge nie net oor waarheen die apostels gereis het nie, maar hy skryf ook dikwels die preke op van die apostels.

Soms slaan Lukas oor om Paulus se prediking op te skryf, byvoorbeeld al die plekke waar hy op Cyprus was en gepreek het, die begin van die sendingsreis.

Maar hier in  Antiochië skenk hy uitgebreid daaraan aandag.

 

Ons kan aanneem dat Lukas hier slegs ‘n opsomming van Paulus se preek neergeskryf het.

Wel is dit ‘n akkurate weergawe van Paulus se boodskap aan die mense in Antiochië.

Paulus se preek was waarskynlik heelwat langer.

Dink aan die keer toe Paulus tot middernag gepreek het, die laaste Sondag wat hy in Troas was (Hand 20:7).

 

En wat weer opval, is dat Paulus in hierdie preek nie uitgebreid stilstaan by die geboorte van Christus nie, maar dat hy begin deur veral fokus op Christus se lyde, kruisiging en opstanding.

En omdat hy sy preek in die sinagoge hou, bestee hy baie tyd om aan die Jode te verduidelik hoe God se beloftes uit die Ou Testament in Christus vervul is.

Juis vir hulle is Jesus die antwoord!

Want as hulle eerlik is, sal hulle moet erken dat hulle as Jode nie self aan die eis van die wet van Moses kan voldoen nie.

As hulle eerlik is, moet hulle erken dat hulle deur onderhouding van die Torah nie op eie krag geregverdig kan word nie.

Ja juis as Jode moes hulle geweet het dat hulle totaal op hulle God aangewese was, om vir hulle redding te bewerk.

 

En daardie redding het God nou gebring, Paulus se blye boodskap!

Juis deur ‘n Verlosser te verwek.

Broers en susters, ook in hierdie preek van Paulus, net soos in gister se preke van Petrus, vind ons die woord verwek terug.

Sien ons teks, vers 23.

In Grieks is dit hier ‘n ander woord, maar dit word ook met verwek vertaal.

Dieselfde woord gebruik Paulus ook in die vorige vers, al is dit in ons Bybelvertaling anders vertaal:

Hy het Dawid vir hulle “verhef” as koning.

Mens kan ook vertaal: Hy het Dawid vir hulle verwek as koning.

In beide gevalle, by Dawid en Jesus, verwys hierdie woord verwek na die unieke besturing van God, sy vas beplande optrede om ‘n uitredder aan sy volk te skenk.

Lukas gebruik dieselfde woord, verwek, ook in sy Evangelie, Lukas 3:8, waar daar staan:

God het mag “om uit hierdie klippe kinders vir Abraham te verwek.”

‘n Woord wat duidelik na wonderbaarlike daad verwys, bomenslike kragte.

En, soos ons in gister se preek gesien het, is hierdie uitdrukking – om te verwek – ‘n uitdrukking wat die apostels bewus gebruik het.

Daarin het al die wonderbaarlike gebeurtenisse rond Christus se geboorte geëcho.

Gebeurtenisse wat slegs deur God verrig kon word.

Dit het daarin deurgeklink.

Ons kan aanneem dat Paulus ook daaroor gepreek het, miskien nie direk nie, maar later, vir die wat Paulus en Barnabas gevolg het (vers 43).

Hulle was nuuskierig en wou meer weet.

Waar kom hierdie Jesus vandaan?

U sê wel dat God het Hom as Verlosser verwek het ... maar wat bedoel u daarmee?

So kon Paulus aan hulle die volledige lewensverhaal van Christus op aarde vertel, ook hoe Hy op hierdie aarde gekom het.

 

Dus, net om te benadruk, in hulle prediking het die apostels telkens met die belangrikste van Jesus se missie op aarde begin – die diepte- en tegelyk hoogtepunt van sy aardse bediening – sy kruisiging en opstanding – en wat die betekenis daarvan was – hoe dit die blye boodskap vir ‘n wêreld in sonde oud was.

Opstanding uit die dood was ‘n dwaasheid vir die Grieke, en ook vir sommige Jode, soos die Sadduseërs, wat deur die heersende wêreldbeskouing beïnvloed was en nie in die opstanding geglo het nie.

Ander Jode, soos die Fariseërs, het wel in die opstanding van die liggaam geglo.

Maar vir hulle was die Evangelie van Jesus Christus ‘n aanstoot, veral die feit dat dit ook vir die heidene bedoel was, en dat in Christus die skeidsmuur tussen Jood en Griek afgebreek sou word.

‘n Dwaasheid en ‘n aanstoot.

Dit het ook gegeld vir die Kersevangelie, oor Christus se ontvangenis en geboorte.

Vir die Jode was dit ‘n aanstoot, dat Christus se ontvangenis sou gewees het sonder toedoen van ‘n man, verwek deur die Heilige Gees, en dat die boodskap daarvan is dat Hy dus ook God is.

Dit was vir hulle ‘n aanstoot, ronduit Godslastering.

Maar in Antiochië was daar ook die wat tot inkeer gekom het.

Nie omdat hulle die wonderbaarlike gebeurtenisse van Christus se lewe op aarde, van begin tot end, verstaan het nie.

Maar omdat hulle, soos Lukas skryf, verordineer was tot die ewige lewe (vers 48).

En hulle was, nota bene, die heidene!

En, staan daar, hulle was bly.

Hulle het die woord van die Here geprys!

So het die Christusfees in Antiochië gekom.

Ja daar was groot blydskap in Antiochië!

 

En net soos in Antiochië, het die Christusfees ook in baie ander stede aangekom, tydens die sendingsreise, maar ook het dit voortgegaan nadat die apostels oorlede is.

Geliefde gemeente, die Christusfees het ook in Pretoria gekom.

Dit is al weer meer as een en ‘n halwe eeu gelede.

Ook ons vier die Christusfees!

Kom ons dank God daarvoor!

Kom ons gaan voort om die Christusfees te vier, ook hier in Pretoria, vir solank as ons lewe, of totdat Christus se wederkoms aanbreek.

 

(Tema: Die blye boodskap dat God Jesus as Verlosser verwek het

1 Blydskap in Antiochië)

 

2 Aanstoot in Antiochië

Maar, soos dit vandag is, was daar toe ook al aanstoot.

Nie almal het die Christusfees saamgevier nie.

Nie net die onverskillige heidene wat nie belanggestel het nie.

Maar ook Jode, hulle wat al God se beloftes uit die Ou Testament geken het.

Hulle het selfs nydig geword.

Hulle het die aansienlike, die vernaamste mense van die stad opgehits teen Paulus en Barnabas.

Die gevolg was ‘n vervolging teen Paulus en Barnabas.

Die mense het hulle selfs buite hulle gebied verdryf!

Desnieteenstaande het dit die blydskap in Christus, die Christusfees, nie gedemp nie.

Lukas eindig sy beskrywing van die gebeure in Antiochië met die opmerking dat die dissipels vervul is met blydskap en met die Heilige Gees.

Die dissipels – dis hulle wat in Antiochië tot geloof gekom het – en opmerklik was dit veral mense van heidense afkoms.

Ja die Evangelie is nie gestuit deur hierdie insident nie.

Ons lees dat Paulus en Barnabas, nadat hulle uit die stad weggejaag is, die stof van hul voete afgeskud en na die volgende stad, Ikonium, gegaan het.

Dit het hulle gedoen in navolging van Christus se opdrag, wat Lukas in hoofstuk 9 van sy Evangelie opgeteken het: “almal wat julle nie ontvang nie – as julle van daardie stad weggaan, skud selfs die stof van julle voete af, tot ‘n getuienis teen hulle.” (Luk 9:5)

Ja die verwerping van die Evangelie deur sommiges het nie as ‘n verrassing gekom nie.

Dit is selfs al in die Ou Testament voorspel, soos Paulus in sy preek aangedui het.

Christus stuur hulle nie net na die Jode nie, wel eerste, maar ook na die heidene.

Want die belofte van Jesaja 49 is in Jesus vervul:

“Ek het U ‘n lig van die nasies gemaak, sodat U tot redding sal wees tot aan die einde van die aarde.” (Hand 13:47)

 

Ook vir vandag leer ons hieruit, broers en susters.

Die Evangelie word nie gekeer nie, dit gaan verder, van stad tot stad, van land tot land, tot aan die einde van die aarde.

En laat ons nie pessimisties word, as dalk juis in ons stad, in ons kultuur, in ons beskawing, mense aanstoot neem aan die Naam van die Christus nie.

Die Kersevangelie sal voortgaan die toekoms in, soos nou al vir 20 eeue.

Christus is die Lig van die wêreld, tot aan die einde van die aarde, ja ook tot aan die einde van die tyd.

 

Geliefde gemeente, ook ons vier die Christusfees.

Maar ook in ons tyd is daar baie wat dit nie saamvier nie.

En dan dink ek nie net aan mense soos Moslims, Hindoes, en Boeddhiste nie.

Ek dink ook aan mense in voormalig Christelike lande, veral in die Westerse wêreld, maar wat Christus se Naam verloën.

Mense wat Christus se Naam ken, wat selfs nog Kersfees vier, in die sin dat dit vir hulle ‘n vakansiedag is, dat hulle ‘n feesmaal hou saam met hulle familie, dat hulle geskenke aan mekaar gee, maar Christus se Naam staan nie meer sentraal nie, dit is nie meer ‘n blydskap in Christus nie, dit is nie meer ‘n Christusfees nie.

Kersfees het ‘n tradisie geword, net soos ander tradisionele feeste, soos Sinter Klaas, Halloween, en so meer.

Die fees is nog daar, maar die Naam waaroor dit gaan, is nie meer daar nie.

In die sekulêre samelewing waarin ons leef, is daar selfs ‘n bewuste poging om die Godsdienstige, die Christelike element uit die fees te verwyder.

Om mekaar ‘n geseënde Kersfees toe te wens, ‘n blessed Christmas, word nou vervang met uitdrukkings soos ‘Seasonal Greetings’.

 

Soos ek gesê het, hierdie bewuste poging om die fees en die Naam van Christus van mekaar te skei, is nie net iets van ons tyd nie.

In alle eeue was die vier van die Christusfees al ‘n omstrede saak.

Ook destyds in Antiochië.

Want terwyl die dissipels bly was en die Here geprys het, het die Jode moeite gedoen om die naam van Christus uit hulle stad te verwyder.

Hulle wou nie aanvaar dat Jesus deur die God van Israel verwek is nie.

Hulle het die Messias verwerp.

Hulle het dit as ‘n aanstoot gesien, hierdie boodskap van Paulus, dat die koms van Jesus die vervulling van die belofte was.

Dat God juis hierdie Man in die eerste plek vir hulle, vir Israel, volgens die Outestamentiese belofte, verwek het.

Want dit is waarop Paulus juis in sy prediking fokus.

Dat die Ou Testament die heilshistorie beskryf van die Christus, dat hierdie heilige Boek oor hierdie einste Man handel, wat Paulus verkondig!

Hy begin sy preek met die bekende geskiedenis, oor Egipte, die intog in Kanaän, Samuël, Saul, tot en met Dawid.

Dawid is deur God self verhef as koning, nadat Saul teleurgestel het.

Dit was ‘n direkte ingrype van God, om sy volk te beskerm.

En vandaar spring Paulus na Christus, wat dus net so ‘n direkte ingrype van God is.

Paulus se preek is nie net ‘n verhaal oor die Jode se vaderlandse geskiedenis nie.

Dit is die uiteensetting van die geskiedenis van die heil, die redding deur God beloof.

En juis in Christus word God se beloftes aan Dawid vervul.

Dit is uit Dawid se nageslag wat God die Verlosser verwek het.

Die Engel het vir Maria gesê: “Die Here God sal aan Hom die troon van sy vader Dawid gee” (Luk 1:32).

Die Jode moet dus nie dink dat Jesus uit die bloute verskyn het, dat Hy maar net ‘n eksentrieke figuur was waarmee Paulus dweep nie.

Inteendeel, dit is Hy wat hulle Verbondsgod al vir eeue lank beloof het!

 

Ook verwys Paulus in sy prediking na Johannes die Doper, die grootste profeet van die Jode.

Dit is bekend dat Johannes die Doper ook onder die Jode in die Diaspora welbekend was (bv Hand 19).

Paulus wys ook in sy preek uit dat Johannes die Doper juis Christus se voorloper was.

Toe Johannes gesê het: die een wat na my kom – ek is nie eens waardig om die skoen van sy voete los te maak nie – toe het Johannes op hierdie Man gedoel!

Paulus maak duidelik dat Johannes hiermee Jesus Christus bedoel het.

Maar al hierdie dinge was vir die Jode van Anitochië ‘n aanstoot.

Hulle wou nie aanvaar dat hierdie Jesus wat Paulus preek die Messias is nie.

Sy Naam wou hulle nie meer in hulle dorp hoor nie.

 

Dus, die mense wat deesdae nie meer Christus se heerlike Naam met Kersfees wil noem nie, hulle staan in die lang ry van mense wat deur die eeue die Messias verloën het, aanstoot aan Hom geneem het.

Dit is hartseer.

Dit was hartseer om te sien hoe die meerderheid Jode hulle rug gedraai het op die Messias, al is Hy deur hulle eie Verbondsgod gestuur.

Dit het Paulus, wat self Jood was, slapelose nagte besorg, om die minste te sê (Rom 9v).

Net so is dit in ons tyd intens hartseer om te sien hoe ‘n beskawing wat soveel aan die Bybel te danke het, weggly in ongeïntereseerdheid in Christus en sy Woord, soms selfs in irritasie, verset teen en verwerping van die Messias.

Dit is ons beskawing, waarin ons lewe.

Ons ervaar die antitese, die verskil tussen geloof en ongeloof, juis ook met Kersfees.

Ons voel self ook die suigkrag hiervan, want dit spreek ons ou mens aan, wat self op die troon wil sit, wat die heerskappy van Christus wil verwerp, wat sy Woord nie wil gehoorsaam nie.

Maar wat ‘n voorreg dat ons vandag in die kerk mag sit, waar Christus se Woord juis ons lewe binnekom!

Die Kersevangelie, wat ons bly maak, wat die hart van klip verwyder en aan ons ‘n hart van vlees gee.

Die Kersevangelie, wat die liefde van God in ons lewe binnebring.

So word ons, net soos die dissipels destyds in Antiochië, danksy die Woordverkondiging vervul met die die Heilige Gees.

So kry die blydskap en liefde van God ‘n plek in ons lewe, en aangevuur deur die Gees neem ons dit in geloof aan.

Ja “so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.” (Joh 3:16)

Dit is die Kersevangelie.

Kom ons neem hierdie Kersevangelie in dankbaarheid aan, as ons ons amenlied sing:

          “Ek wil die hoogste Heer

          Met blye roemtaal eer,

          My Redder en Bewaker ...

          Barmhartigheid verleen

          Hy deur geslagte heen

          Aan wie in Godsvrees lewe. (Sb 1:1,3)

Amen.

 

Vrae na aanleiding van die preek:

Skriflesing: Handelinge 13:13-52

Teks: Handelinge 13:23

Om hierdie preek te verwerk en uit elke aspek daarvan te leer, volg hier ‘n paar vrae. Die antwoord kan in die preek gevind word, en sommige vrae vereis ook persoonlike oordenking.

  1. Wie het Paulus en Barnabas op hulle eerste sendingsreis uitgestuur?
  2. Hoekom het Paulus sy preek in Antiochië begin met ‘n uitgebreide vertelling van wat in die Ou Testament gebeur het?
  3. Noem ‘n voorbeeld uit die Lukasevangelie waar die woord verwek dui op die bomenslike krag van God.
  4. Hoekom is dit so belangrik om in ons kultuur mense juis ‘n geseënde Kersfees te bly toewens?
  5. Kan kersbome, ‘vader kersfees’, geskenkies en so meer bydra aan die vier van Kersfees as Christusfees?
  6. Noem ‘n voorbeeld hoe Christus jou wil gebruik om sy Naam meer in Pretoria te laat skitter.

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 118:11,12

Wet

Ps 16:4,5 

Gebed

Skriflesing: Handelinge 13:13-52

Ps 132:11 & Ps 2:4 

Teks: Handelinge 13:23

Preek

Sb 1:1,3

Gebed

Kollekte

Ps 89:12,14,17

Seën