God verwek die Here Jesus Christus

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Pretoria en Maranata
Datum: 
2021-12-25
Teks: 
Handelinge 2:30 & 3:22
Preek Inhoud: 

Preek: Handelinge 2:30 & 3:22

 

In die Nuwe Testament lees ons eintlik min oor Jesus se geboorte.

Veral as mens dit vergelyk met wat alles oor sy kruisiging en opstanding geskryf is.

As mens sou beweer dat dit ‘n verhouding van 1% tot 99% is, sou dit volgens my nie oordrewe wees nie.

In daardie opsig is dit opmerksaam dat ons deesdae so baie aandag aan Kersfees skenk, en dat Paasfees dikwels minder aandag trek.

Nie dat dit verkeerd is dat ons Kersfees vier nie, behalwe dat ons dit op die verkeerde datum doen.

Die regte datum lê waarskynlik rond die 1e November, rondom die herfstyd in Israel toe die Loofhuttefees gevier is.

Die naam Kersfees is egter wel ‘n mooi naam.

Kers is etimologies afgelei van Kristus – Christus.

In Engels hoor mens dit nog duideliker: Christmas, Christ – mas.

 

Maar soos gesê, oor sy geboorte lees ons in verhouding nie veel in die Bybel nie.

Naas die twee bekende gedeeltes in Mattheüs 1 & 2 en Lukas 1 & 2, is daar net nog een of twee eksplisiete verwysing na Jesus se geboorte in die Nuwe Testament, naamlik Galasiers 4:4: “Maar toe die volheid van die tyd gekom het, het God sy Seun uitgestuur, gebore uit ‘n vrou, gebore onder die wet”, en Johannes 1:14 “die Woord het vlees geword”.

 

Wel kan ons sê dat die geboortegeskiedenis van ons Messias ten grondslag lê aan die res van die hele Nuwe Testament, en dat die Nuwe Testament nie sou kon bestaan sonder hierdie fondament nie.

Implisiete verwysings na sy wonderbaarlike geboorte is daarom aanwesig op verskillende plekke in die Nuwe Testament.

Ook in Handelinge 2:30 en 3:22.

Ons teks is ook ‘n voorbeeld daarvan.

 

Tema: God verwek die Here Jesus Christus as:

1) Ons ewige Koning

2) Ons hoogste Profeet

 

1) Ons ewige Koning

Voordat ons hierdie tekste van digby gaan bekyk, net nog in die algemeen iets oor die boek Handelinge.

In hierdie boek lees ons van al die plekke waarheen die apostels, in besonder Petrus en Paulus, gereis het.

Maar nie net dit nie.

Ons lees ook veral wat hulle gepreek het, daar waarheen hulle gegaan het.

Na Jesus se eie preke in die Evangelies, is hierdie die vroegste preke wat ons het.

En ook vir hierdie preke geld dat die fokus vir meer as 99% val op Christus se lyding, kruisiging en opstanding.

Aan Christus se geboorte word nie eksplisiet aandag geskenk nie.

Maar weer eens, tog staan die apostels se preke wel in die konteks van sy unieke geboorte.

Beide verse van ons teks kom uit ‘n preek van Petrus.

Die eerste uit sy Pinksterdagpreek.

Die tweede uit ‘n preek wat hy by die tempel gehou het, nadat ‘n kreupel man genees is.

 

In beide verse van ons teks vind ons die woord verwek.

In beide gevalle preek Petrus vir die Jode.

En belangrik, in beide gevalle is God die Vader die onderwerp.

In beide gevalle verwys Petrus na die Ou Testament, dat die Verbondsgod van die Jode ‘n belofte uit die verlede vervul het, toe Hy vir Jesus verwek het.

 

Nou in die Griekse grondteks het die woord verwek ‘n spesifieke betekenis.

By die ontstaan van ‘n baba verwys dit spesifiek na die manlike rol.

Die woord word verder in die Nuwe Testament ook gebruik as iemand uit die dood opgewek word.

In beide gevalle verwys dit dus na iets wonderliks wat gebeur.

Waar in die Ou Testament hierdie woord al verwys het na die feit dat God iets buitengewoons sal doen, wat nie ‘n mens kan doen nie, byvoorbeeld om ‘n betroubare profeet te verwek, het daar in die Nuwe Testament ‘n baie spesifieke konnotasie bygekom, as hierdie woord gebruik is.

Want as Petrus hierdie woord gebruik in sy twee preke, en as Lukas – die skrywer van Handelinge – dit so opskryf vir die Nuwe Testamentiese kerk, klink daarin inderdaad die unieke geskiedenis van Jesus se geboorte in deur.

Lukas het self oor Jesus se geboorte berig aan die begin van sy eerste boek, die Evangelie volgens Lukas.

Dink aan die engel se woorde aan Maria, toe sy vra: “Hoe kan dit wees aangesien ek geen man het nie? En die engel antwoord en sê vir haar: Die Heilige Gees sal oor jou kom en die krag van die Allerhoogste sal jou oorskadu. Daarom ook sal die Heilige wat gebore word, Seun van God genoem word.” (Luk 1:34-35)

Verwek verwys daarom na die unieke ingrype van God.

Jesus kom direk van God af.

Geen man was betrokke by sy verwekking nie.

Ja, Jesus is gebore in die geslagslyn van Dawid.

Josef was die afstammeling van koning Dawid.

Maar Josef het hom nie verwek nie.

“wat in haar verwek is, is uit die Heilige Gees”, soos die engel aan Josef gesê het (Matt 1:20).

En dan voeg Mattheüs nog daaraan toe om alle misverstand weg te neem:

“en hy het haar nie beken totdat sy haar eersgebore Seun gebaar het nie” (Matt 1:25).

 

Wat dit betref het die woord verwek in die Nuwe Testament ‘n nog dieper en ryker betekenis as wat die gelowiges in die Ou Testament kon besef het.

Dit mag Petrus aan die Jode verduidelik.

In sy preke verwys Petrus na die Ou Testament.

Die Ou Testamentiese beloftes waarna Petrus in sy preke verwys, gaan daaroor dat God gesalfdes, amsdraers, vir sy volk sou verwek.

Eerstens, in sy Pinksterpreek verwys Petrus na Psalm 132, waar die HERE aan Dawid gesweer het:

“Van die vrug van jou liggaam sal Ek laat sit op jou troon.” (Ps 132:11).

Vrug van jou liggaam was ‘n vaste uitdrukking in Hebreeus wat nasaat beteken het, afstammeling.

God belowe dat Dawid se nasate ook koning sou word, en selfs dat hulle vir ewig op die troon sou sit (Ps 132:12).

Nou soos ons weet uit die Ou Testament was hierdie belofte voorwaardelik, soos eie is aan die verbond.

Want toe Dawid se nageslag afvallig geword het, het God die troon van hulle weggeneem.

Maar hierdie belofte in Psalm 132 is wel volmaak vervul in Christus, toe Hy op die troon plaasgeneem het, en dit vir ewig.

Dus soos ons nou sit hier in die kerk, bevind ons ons onder die ewige regering van Christus.

Wat ‘n gerusstelling om te weet!

 

Gemeente, net nog ‘n enkele opmerking oor Petrus se aanhaling van hierdie Psalm.

Die van julle wat vanoggend dalk die nuwe Bybelvertaling (die 2020-vertaling) saamgevat het kerk toe, vir julle sou dit miskien opgeval het dat daarin ‘n aantal woorde van vers 30 nie staan nie.

In die 2020-vertaling is ons teks korter.

Die volgende woorde is uitgelaat: “wat die vlees betref, die Christus sou verwek”.

Nou hierdie is ‘n kwessie van teksoorlewering, ook wel genoem tekskritiek.

Kom ek probeer dit kortliks verduidelik, dis dalk bietjie ingewikkeld.

Dit is naamlik so dat in ‘n aantal van die ou Griekse manuskripte wat gebruik is vir die 2020-vertaling, hierdie woorde nie staan nie.

Die 2020-vertaling het gebruik gemaak van ‘n aantal baie ou Griekse manuskripte.

Vir die wat belangstel, onder andere die Codex Sinaïticus, Vaticanus en Alexandrinus.

Daarenteen het die 1953-vertaling van ander manuskripte gebruik gemaak, waarin hierdie woorde wel staan.

Die vraag kom op ons af: wat is nou die regte Bybelteks?

Moet hierdie paar woorde daarin staan of moet hulle uitgelaat word?

Kom ek noem een argument.

In die tekskritiek is dit gebruiklik om aan te neem dat die minder logiese teks, wat vir ons minder sin maak, dat dit gewoonlik die oudste en korrekte teks is.

As ‘n vers naamlik vir ‘n vroeëre oorskrywer van die Bybel nie sin gemaak het nie, het dit soms gebeur dat so ‘n persoon die teks verander het om wel sin te maak.

Nou die feit dat in vers 30 ook die volgende woorde uit Psalm 132 aangehaal word, naamlik die woorde “wat die vlees betref”, klink op sig onlogies, teenstrydig met wat ons verder in die Nuwe Testament lees, naamlik dat Jesus nie na die vlees ‘n afstammeling van Dawid was nie.

Dus moontlik dat daardie oorskrywer hierdie woorde weggelaat het, om misverstand te voorkom.

Maar, die uitgangspunt in tekskritiek is dan om die minder logiese teks as die mees betroubare te beskou.

Want die kans ‘n groter dat ‘n oorskrywer ‘n minder logiese teks sou verander, as dat ‘n oorskrywer ‘n teks wat op sig duidelik is en sin maak, sou verander.

En dit sou dus beteken dat die Griekse grondteks wat vir die ou vertaling, die 1953-vertaling, gebruik is, die korrekte een is.

Dit wil egter nie sê dat ons op basis van hierdie teks nou moet beweer dat Jesus geneties van Dawid afgestam het, en dat Hy eintlik Josef se biologiese kind was nie.

Want Lukas wat Handelinge geskryf het, was ook die skrywer van die Lukasevangelie, waarin hy eksplisiet opgeskryf het dat Jesus uit die Heilige Gees verwek is.

Wat beteken dat Petrus met hierdie aanhaling nie kon bedoel het dat Jesus biologies van Dawid afstam nie, maar dat Hy wel die wettige troonopvolger van Dawid is; en dat in Hom Psalm 132 tot vervulling kom, naamlik dat Hy vir ewig op die troon sal sit.

Tot sover enkele opmerkings oor die teksoorlewering van ons teks.

Tot sover die vervulling van Psalm 132 in Christus.

God het Jesus verwek as ons ewige Koning.

Dit is die vervulling van hierdie Psalm, dit is die werklikheid vandag.

Die geboorte van die Kind wat ons vandag vier, is tans ewige Koning op die hemelse troon.

Broer, suster, laat hierdie besef vir jou in die nuwe jaar lewendig wees.

Dit gaan jou rustig maak, veral in ons land waarin so baie dinge op regeringsvlak skeef loop.

Christus lei met vaste hand die geskiedenis, ook ons land se wel en wee.

 

Ons kom nou by die tweede punt:

 

(Tema: God verwek die Here Jesus Chrsitus as:

1) Ons ewige Koning )

 

2) Ons hoogste Profeet

Petrus verwys na nog ‘n teks uit die Ou Testament.

Ons kyk nou na hoofstuk 3:22.

In sy preek by die tempel, Handelinge 3, verwys hy na Deuteronomium 18:15, waar Moses namens die HERE aan die volk belowe:

“’n Profeet uit jou midde, uit jou broers, soos ek is, sal die HERE jou God vir jou verwek; na Hom moet julle luister”.

Ook verduidelik die HERE aan sy volk hoe hulle ware en valse profete kon onderskei.

So moeilik was dit nie.

Want ‘n ware profeet se woorde sal altyd uitkom.

Dink byvoorbeeld aan die profeet Elia.

Toe die weduwee van Sarfat se seun gesterf het, het Elia die Naam van die HERE aangeroep.

En die HERE het hom verhoor en die seun het weer lewendig geword (1 Kon 17).

Ook het Elia die Naam van die HERE aangeroep, en die HERE het vuur gestuur om die deurdrenkte altaar aan die brand te steek (1 Kon 18).

So kon die volk sien dat Elia ‘n profeet van die lewende God was, dat hy ‘n ware profeet was.

 

Nou op presies dieselfde manier kon die volk kontroleer of Jesus ‘n Profeet van God was.

In Naam van die Verbondsgod van Israel het Jesus op aarde gepreek.

Jesus het beweer dat Hy deur God as Profeet gestuur is, dat Hy namens Hom praat.

En Hy het dit bewys met die wondertekens wat Hy gedoen het.

Dit wat Hy gesê het, het uitgekom.

Hy het siekes beveel om gesond te word, en dit het gebeur.

Hy het storms beveel om stil te word, en dit het gebeur.

Hy het selfs dooies opgewek.

Dit was helder soos daglig dat Jesus ‘n Profeet was, ‘n ware Profeet.

Ja waarlik, Hy is deur God self verwek, soos beloof in Deuteronomium 18.

 

En so het die woord verwek in die Nuwe Testament ‘n nog soveel dieper en ryker betekenis gekry.

Voortaan dink ons by hierdie woord juis aan die unieke wyse waarop Hy in hierdie wêreld gekom het.

In teenstelling tot alle vorige profete – al was hulle ware profete – in teenstelling tot hulle is Hy nie in sonde ontvang en gebore nie.

Alle profete in die Ou Testament is deur God verwek.

Maar toe die Allerhoogste vir Jesus verwek het, was dit tog totaal anders.

Die feite rondom sy ontvangenis en geboorte bewys daarom dat Hy die aarde se hoogste Profeet en Leraar is.

Soos ons in die Heidelbergse Kategismus bely: Hy het “aan ons die verborge raad en wil van God aangaande ons verlossing ten volle bekend gemaak” (HK v/a 31).

Daarom sit ons nou, gemeente, op Kersdag, hier in die kerk, om sy Woord te hoor.

As grootste Profeet bly sy woorde ewig relevant, ewig ‘n lig op ons lewenspad.

Ook op Kersfees 2021.

 

Christus se unieke koms na die aarde staan nie los van sy latere lewe nie.

In sy ontvangenis en geboorte kom sy unieke lewensdoel al na vore.

As ons vandag Kersfees vier, lees en herdenk ons sy geboortegeskiedenis in die lig van alles wat Hy later gedoen het.

Ons vier Kersfees, beseffende dat dit die begin was van die Blye Boodskap, die beste nuus vir die sondige mensheid en vir hierdie stukkende aarde, wat Hy as Profeet gebring het.

Op unieke wyse is Hy as mens deur die hemselse Vader verwek, sodat Hy in staat was om sy Middelaarswerk op aarde te verrig.

Op unieke wyse is Hy na die aarde gestuur, sodat vanaf die begin die bewyse duidelik sou wees dat Hy nie maar net nog ‘n gebrekkige profeet sou wees nie, maar ons hoogste Profeet en Leraar.

 

Vandag, op Kersfees, herdenk ons dit wat destyds in Betlehem gebeur het.

Ons dink terug aan hoe die herders voor die krip gekniel het.

Ons dink terug met verwondering aan die wyse manne, wat voor hierdie Kind gekniel het en Hom met koninklike geskenke vereer het.

Met pragtige kersliedere roep ons mekaar op om ook voor die krip te kniel.

          Kom alle getroues, vrolik en vol vreugde,

          O kom in die gees nou na Betlehem!

          Loof daardie Kindjie tot ons heil gebore –

          Kom buig daar in aanbidding,

          Kom buig daar in aanbidding,

          Kom buig daar in aanbidding,

          Voor Jesus, die HEER.

 

Wat beteken dit om voor die Kind te Betlehem gebore te buig?

Broers en susters, dit is woorde wat ons baie hoor in hierdie feestyd.

Baie mense sing dit, meegevoer deur die feesstemming.

Maar, broers en susters, ons teks leer ons hoe om hierdie woorde nie net oppervlakkig te sing nie, sonder inhoud, dat hulle hol klink.

Ons het in hierdie preek stilgestaan by die feit dat Jesus se unieke geboorte alles te make het met sy verdere lewe, sy unieke taak op aarde.

God het Hom naamlik verwek om ewig op die troon te sit – Handelinge 2:30.

God het Hom ook verwek as ‘n profeet, ja as hoogste Profeet en Leraar – Handelinge 3:22, waarna vervolgens die oproep klink: “na Hom moet julle luister volgens alles wat Hy met julle sal spreek. En elke siel wat nie na dié profeet luister nie, sal uit die volk uitgeroei word.”

Om te kniel voor die Kind in die krip, beteken dus om respek te betoon en jou te onderwerp aan die wettige nasaat van Dawid, wat vir ewig op die troon sal sit.

Om te kniel voor die Kind in die krip, beteken om gehoorsaam te wees aan elke woord wat hierdie Profeet gespreek het, om eerbiedig te luister en dit te doen.

As ons Kersfees vier, oppervlakking, sonder om te besef dat hierdie Kind ons ewige Koning is wat die diepste respek verdien; en as ons Kersfees vier, sonder om elke woord in sy Woord, die Bybel, te gehoorsaam, sonder om te luister en dit te doen, dan sal Kersfees eendag teen ons getuig.

Dan sal Christus op die oordeelsdag sê: Julle het my geboorte gevier, en julle het uit volle bors gesing:

          “Kom, lofsing die HERE; Hy is onse Koning.”

Maar waar het die gehoorsaamheid aan My gebly die res van die jaar?

Hoekom het julle my Woord nie elke dag van die jaar oopgemaak nie?

En dan sal mense hulleself probeer verdedig deur te sê:

Ons het elke jaar Kersfees gevier, ons het u geboorte herdenk, ons het voor u krip gekniel, ons het kersliedere gesin.

Maar Hy wat op die troon sit, sal dan sê: “Ek ken julle nie waar julle vandaan is nie. Gaan weg van My, al julle werkers van die ongeregtigheid! Daar sal geween wees en gekners van die tande ...” (Matt 13:27-28)

365 dae per jaar eis Christus gehoorsaamheid aan Hom en sy Woord.

Geliefde broers en susters, laat dit dan ook ons voorneme wees op hierdie Kersdag.

Laat ons van ons kant die verbond vernuwe.

God het sy verbond in stand gehou, Hy het sy beloftes volmaak vervul deur sy Seun as mens te verwek.

So het Hy die verbond herstel.

Uit louter genade klink die blye Evangelie van redding, waarmee Jesus na die aarde gekom het – dink aan die betekenis van sy Naam aan Hom reeds by se geboorte gegee.

Laat sy heerlike en almagtige Naam vandag jou hart vol dankbaarheid laat stroom, jou hande sterk maak om elke dag van die jaar in sy diens te staan, jou knieë gewillig maak om elke dag te kniel, ja te bewe voor sy Woord.

Want sy Woord het die boodskap van ewige lewe, ook vir jou.

Dawid het gesterf en is begrawe en hy is nog steeds in die graf.

Maar hierdie Seun van Dawid, die Christus, is opgewek.

Hy is aan die regterhand van God verhoog.

Skuil by Hom.

Verheerlik sy Naam – die Kind van Betlehem, die Nakomeling van Dawid, die Middelaar, die Owerste oor die Konings van die aarde, die Alfa en die Omega, en watter heerlike naam die Bybel ook verder aan Hom gee.

Al daardie heerlike Name mag vandag klink.

Ja, Hy is die Kind te Betlehem gebore.

Maar Hy is ook soveel meer!

Hy is ons wonderbare Raadsman, ons getroue Getuie, ons Hoëpriester, ons sterke God, ons ewige Koning, ons Vors van vrede.

Amen.

 

Vrae na aanleiding van die preek:

Skriflesing: Mattheüs 1:18-25 & Lukas 1:26-38; Handelinge 2:24-36 & 3:17-26

Teks: Handelinge 2:30 & 3:22

Om hierdie preek te verwerk en uit elke aspek daarvan te leer, volg hier ‘n paar vrae. Die antwoord kan in die preek gevind word, en sommige vrae vereis ook persoonlike oordenking.

  1. Watter betekenis het die woord “verwek” in die twee tekste?
  2. Hoekom is dit meer waarskynlik dat die 1953-vertaling die meer korrekte teks het van Handelinge 2:30?
  3. Hoe is Psalm 132:11 in Christus vervul?
  4. Hoe is Deuteronomium 18:15 in Christus vervul?
  5. Wat beteken die volgende name van Jesus vir jou lewe? Hoogste Profeet en Leraar, Getroue Getuie, Wonderbare Raadsman, Alfa en Omega, Ewige Koning, Vors van Vrede.
  6. Hoe kan ons vandag vier as ‘n ware Christusfees?

 

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Sb 3:1,2

Gebed

Skriflesing: Mattheüs 1:18-25 & Lukas 1:26-38

Sb 5:1,2

Skriflesing: Handelinge 2:24-36 & 3:17-26

Ps 132:1,10,11

Teks: Handelinge 2:30 & 3:22

Preek

Sb 1:3-6

Gebed

Geloofsbelydenis: Sb 27:1-5

Kollekte

Ps 2:5,6

Seën