Nadat Christus dit vir ons terugverdien het, herstel die Vader ons as profeet, priester en koning, en die Heilige Gees rus ons toe vir hierdie groot ampstaak

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2021-12-05
Teks: 
Heidelbergse Kategismus Sondag 12
Preek Inhoud: 

Verlede week is daar in die oggenderediens nuwe ampsdraers bevestig.

Ek het toe in die prediking, nav Psalm 134, veral stilgestaan by die spesiale amp, die feit dat Christus spesiale ampsdraers in sy gemeente aanstel – diakens, ouderlinge en predikante.

In vandag se preek, nav Sondag 12, gaan ons veral kyk na die amp van alle gelowiges.

Dit is ‘n amp wat net so belangrik is.

Dit is ‘n amp wat omvangryk is in sy taakomskrywing.

Dit is ‘n amp wat ons nou al in hierdie lewe beklee, maar ook in die toekomstige sal beklee.

Dit is ‘n drievoudige amp – profeet, priester en koning.

 

Tema: Nadat Christus dit vir ons terugverdien het, herstel die Vader ons as profeet, priester en koning, en die Heilige Gees rus ons toe vir hierdie groot ampstaak

 

Gemeente, in hierdie deel van die Kategismus word die name van God behandel.

Name soos Vader, Almagtige, Skepper, Jesus, Christus, Here, Heilige Gees.

Al hierdie name is ewe belangrik, en mag almal deur ons met vrymoedigheid maar ook met eerbied gebruik word.

Deur die loop van die jare sien mens dat dit ‘n tendens is dat verskillende Christene voorkeure vir verskillende name van God ontwikkel.

So het Charismatiese kerkgroeperings voorkeur om baie na die Gees te verwys.

Liberale Christene, wat meen dat Christus nie die enige weg na God is nie, onderbeklemtoon Christus en praat baie net oor God.

En onder ons kan soms ‘n voorkeur ontstaan vir die naam Christus, dat dit die belangrikste naam van God is om telkens te noem.

As ons byvoorbeeld in die straat verby ‘n poster ry waarop staan: “SA turn back to God!” – is jy bly daarmee, of dink jy by jouself: eintlik moes daar nog meer gestaan het, eintlik moes Christus se naam ook genoem gewees het?

Gemeente, laat ons die versoeking weerstaan om ook so eensydig te word, en soos die Kategismus doen, eweveel waarde te heg aan al die name van God, en almal vrymoedig, dankbaar en eerbiedig gebruik.

 

Nou die naam Christus, waarna ons vandag kyk, is oorspronklik ‘n titel.

Dit is ‘n titel wat ons ook ontvang het.

Christus is die Gesalfde, die Aangestelde, en ons is ook gesalfdes.

Aangestel in ‘n drievoudige amp.

Ons drievoudige amp – profeet, priester en koning – staan in die lig, nie net van die hede nie, maar ook van die toekoms.

Openbaring 1, wat ons gelees het, is die begin van ‘n Bybelboek wat veral oor die toekoms handel.

Tog het hierdie drievoudige amp ook met die verlede en hede te make.

In wese is dit hierdie drievoudige amp wat Adam en Eva in die paradys verloor het.

Hulle en hulle nageslag is geskape om God te dien en van harte lief te hê, om sy Naam op aarde te loof en te bely, en om namens Hom oor alle geskape dinge te regeer.

Hierdie amp het die mensheid deur sy opstand verloor, dit is van hom afgevat.

Slegs uit genade het God egter die plan op Homself geneem om die mens te herstel.

Hy het sy verbond gesluit met ‘n uitverkore volkie, en hulle deur sy beskerming en genade herstel as ‘n koninklike priestervolk (Ex 19:6).

En sy plan het uitgeloop op die stuur van sy eie Seun na die aarde.

Dit is danksy dit wat met Christus in die verlede gebeur het, danksy sy versoeningswerk op aarde en sy troonsbestyging in die hemel, hoekom ons nou in hierdie drie ampte mag staan.

Ons mag na Hom genoem word – Christene.

Toe Christus destyds na die aarde gekom het, het Hy hierdie drievoudige amp op sy skouers geneem.

Hy is gesalf met die Heilige Gees.

Soos ampsdraers in die Ou Testament gesalf is met lekkerruikolie – simbool van die feit dat God hulle in staat gestel het om hulle amp te kon uitvoer.

Die olie was simbool van die Heilige Gees.

Dit was Hy wat die ampsdraers aangevuur het om hulle taak trou te kon verrig.

Net so is Christus gesalf, egter nie met olie nie, maar met die Heilige Gees self (Matt 3:16).

Die effek daarvan was duidelik sigbaar tydens sy aardse bediening.

Hy het – soos die Kategismus dit verwoord – as Profeet God se verborge raad en wil aangaande ons verlossing volledig bekend gemaak.

Die gelowiges in die Ou Testament het die belofte gehad dat daar verlossing op koms was.

Christus het deur sy profete geopenbaar hoe daardie verlossing sou plaasvind.

Hy was persoonlik die Een wat dit gebring het.

 

Dit het alles te make gehad met sy tweede amp – Hoëpriester.

Net soos die hoëpriesters van die Ou Testament het Hy geoffer.

Maar die offer wat Hy gebring het was soveel kragtiger as alle voorgaande offers.

Hyself was die offer.

So het die Vader deur sy Seun verlossing op aarde gebring.

En noudat Jesus weer in die hemel is, is Hy nog steeds Hoëpriester.

Die Kategismus verwys byvoorbeeld daarna dat Hy daar sy hoëpriesterlike taak uitvoer, naamlik om vir ons te bid, voorbidding te doen, vir ons in te tree, ja te sorg dat versoening uitgedeel word op daaglikse basis aan elkeen wat in sy Naam op die Vader se deur klop.

 

En dan sy derde amp – Koning – het Hy op aarde uitgevoer deur veral oorlog te voer.

Sy stryd was nie teen vlees en bloed nie, maar teen die bose geeste in die lug (Ef 6:12).

Teen die duiwel en sy afvallige engele.

Dit is hulle wat verantwoordelik is vir alle ellende op aarde.

Christus het die ellende by die oorsprong aangepak, om dit met wortel en tak te kan uitroei – Hy het oorlog verklaar teen die duiwel en sy magte.

En Hy het oorwin.

Noudat Christus op die hemelse troon is, is Hy nog steeds Koning.

Behalwe vir oorlog voer, heers Hy nou ook.

Spesifiek regeer Hy sy kerk met sy Gees en Woord.

Die Woord is as ‘t ware die septer waarmee Hy vir sy kerk die regte rigting wys.

Dit is nogal iets om te besef – as jy die Bybel in jou hand het, het jy Christus se septer.

Nie dat jy dit beheer nie, nee, dit beheer jou.

Dit wys die rigting wat jy moet gaan in die lewe.

Juis deur sy Woord – die instrument waarmee sy Gees in jou werk – beskerm en bewaar Hy jou by die verlossing.

Daarom dat daar in die Woord self so sterk gewaarsku word teen minagting van dit wat in die Woord staan.

Laat ons nie die Woord aanpas in ons eie rigting nie, laat die Woord ons aanpas, ons lei, ons lewenswyse bepaal.

Ook as dit inhou dat ons die smal pad op aarde moet loop.

Dit is onderdeel van ons profetetaak.

Christus se profete is nie op hierdie sondige aarde geëerd nie, dit is nie waarop ons uit moet wees nie.

Maar wie opkyk na Hom, ontvang alles wat hy of sy nodig het om ook jou skoene vol te staan, in jou drievoudige amp hier op aarde.

 

Ons het vanaand die pragtige seën gelees uit die begin van die boek Openbaring.

Deur hierdie seën word ons in staat gestel om ons drievoudige amp te kan uitoefen.

In hierdie seën klink deur hoe Christus self sy taak gedoen het.

As Profeet is Hy die getroue Getuie – op aarde en nou in die hemel.

As Priester is Hy die eersgeborene uit die dode.

Hy het as Hoëpriester Homself in die dood geoffer, en toe het Hy as Koning die dood oorwin.

En nou heers Hy as Owerste oor die konings van die aarde!

 

Hy, wat Profeet, Hoëpriester en Koning is, stel ons deur hierdie seën in staat om ook ons drievoudige amp uit te voer.

Ons ontvang die seën van God Drieënig.

Net soos die ander kere in die Nuwe Testament (bv. 2 Kor 13:13), word ons hier geseën deur al drie Persone.

Die Vader – dit is Hom wat is en wat was en wat kom.

Die Seun – dit is Jesus Christus, die getroue Getuie, Eersgeborene uit die dood, Owerste oor die Konings van die Aarde.

En die Heilige Gees – dit is die sewe Geeste wat voor sy troon is.

Hierdie benaming vir die Heilige Gees mag vir ons verwarrend wees.

Want dit gaan nie oor sewe geeste in aantal nie, maar oor die een Heilige Gees.

Hierdie benaming dui egter op sy sewevoudige werking.

Sewe is simbolies die volmaakte getal.

So is die Gees se werk volmaak in die sin dat dit allesomvattend is.

Sy invloed is alomvattend.

Dit dui ook op die alomteenwoordigheid van die Gees.

Vanaf die troon reik die Gees uit tot in die verste uithoeke van die aarde.

Niks ontgaan Hom nie, niks kan wegkruip voor Hom nie.

Dink in hierdie verband aan die oë uit Esegiël 1.

Daarom dat die Heilige Gees vir jou en my volmaak kan toerus, sodat ons ons drievoudige amp kan uitoefen.

 

Na hierdie indrukwekkende seën, volg daar in Openbaring 1 ‘n doksologie, ‘n lofprysing:

“Aan Hom wat ons liefgehad het en ons van ons sondes gewas het in sy bloed en ons gemaak het konings en priesters vir sy God en Vader ...”

Dit mag verwarrend voorkom dat hier net ons ampte as konings en priesters genoem word, en nie profeet nie.

Maar in feite word hier net na die priesteramp verwys.

Die korrekte vertaling sou hier wees: Christus het ons ‘n koninkryk van priesters gemaak.

Hierdie uitdrukking verwys terug na die verbondssluiting in die woestyn – Exodus 19:6, waar die HERE vir sy volk gesê het:

Julle sal vir My ‘n koninkryk van priesters wees, ‘n toegewyde nasie.

So hierdie vers dui veral op ons priesteramp.

In die amp van alle gelowiges was die Israeliete in die Ou Testament in sekere sin almal priesters.

In Christus is ons dit nog des te meer.

Petrus noem die gelowiges ‘n “koninklie priesterdom” (1 Petr 2:9).

 

Nie dat ons ander ampte in Openbaring afwesig is nie.

Al die hoofstukke van Openbaring rus ons juis toe om as profete getuies te wees, in navolging van die Getroue Getuie.

En Openbaring is vol van die koninklike taak van Christus se gemeente, om te stry, om oorlog te voer teen die duiwel, die draak en sy volgelinge.

Maar Openbaring laat ons ook uitsien na die toekoms as ons mag regeer saam met Christus, sien Openbaring 5:10: “en ons sal as konings op die aarde heers.”

As koning stry ons tans.

Ons is deel van die strydende kerk, dit geld vir elke eeu, dit geld vir elke generasie.

Rus en vrede is in sekere sin nie kenmerkend vir die kerklike lewe nie.

Die oorwinnende kerk is nog nie hier op aarde nie, al is ons wel verseker van die oorwinning.

Maar in die toekoms sal die stryd verby wees.

En dan gaan ons as konings heers.

 

Broer en suster, weet jy wel wie jy is?

Lewe jy wel met die besef dat jy inderdaad ‘n koning is, ‘n priester, ‘n profeet?

As jy besef jy is ‘n koning, dan sorg jy dat jy wapens het.

Nie ‘n kluis met vuurwapens nie, maar die Geestelike wapenrusting waarvan Efesiërs 6 ons op die hoogte bring.

En jy sorg dat daardie wapenrusting onderhou word, op datum bly:

  • Die gordel van die waarheid
  • Die borswapen van geregtigheid
  • Die skoene wat bereid is om daardie ekstra myl te stap vir die evangelie van vrede
  • Die skild van geloof
  • Die helm van verlossing
  • Die swaard van die Gees , dit is die woord van God
  • En veral: die gebed.

Jy kan nie sonder hierdie wapenrusting rondbeweeg nie.

As jy môre opstaan, trek dit weer aan!

Ja, daardie hele uitrusting weeg soms swaar.

Vra vir die gewese soldate onder ons, hoe vermoeiend dit was om met volle uitrusting die hele dag deur die brandende son te stap tydens die Grensoorlog.

Maar as koning doen jy dit, want jy besef jy is in ‘n gevaarlike omgewing.

En natuurlik verlang jy na die dag as jy jou uitrusting vergoed kan uittrek.

En daardie dag sal kom!

Ja met Christus se wederkoms sal dit aanbreek.

Dan gaan ons die wapenrusting nie meer nodig hê nie.

Ons verlang baie na sy koms!

 

Broer en suster, weet jy wel wie jy is?

As jy besef jy is ‘n priester, dan help dit jou om meer geduld te hê.

Dink net hoe geduldig Christus was, toe Hy op aarde as hoëpriester gely het.

Net so gebeur dit ook met ons, Christene, wat aan Hom behoort.

Ons kry ook swaar.

Dit is nie maklik om ook die ander wang ook uit te steek vir klappe nie.

Maar as jy besef jy is ‘n priester, help dit jou.

Jy besef jy is hier op aarde om ‘n groter doel te dien.

En as dit inhou dat jy moet swaarkry, self onreg ly, maar met die vooruitsig dat daardeur ander dalk gered mag word, dan het ons dit daarvoor oor.

Ons beloning is nie hier op aarde nie.

Ons leef slegs uit genade.

Daar wag ‘n ryke beloning vir ons in die toekoms.

En om daardie prys nie mis te loop nie, is ons bereid om hier en nou swaar te kry, dit met ‘n goeie doel.

Soos Paulus skryf aan Timotheüs: “As ons verdra, sal ons met Hom regeer.” (2 Tim 2:12)

My lewe hier word ‘n lewende dankoffer vir die oorvloed van genade wat ek mog ontvang.

En as priester bid jy nie net vir jouself, vir jou eie kinders, kleinkinders of vir jou ouers nie.

As priester bid jy vir ‘n hele wêreld in nood.

 

Broer en suster, besef jy wie jy is?

Jy is ook nog ‘n profeet.

Die Kategismus sê dat jy as profeet sy Naam bely.

Daarvoor moet jy Christus se Woord ken, sy Naam ken en wat dit inhou.

En dan moet jy daarvoor die moed hê.

Maar jy het ook deel aan die salwing van die Gees.

En juis dit vul jou met moed.

Jy getuig dat die groot dag sal aanbreek!

Net soos Paulus by die Areopagus getuig het:

dat God “’n dag bepaal het waarop Hy die wêreld in geregtigheid sal oordeel deur ‘n Man wat Hy aangestel het, en Hy het hiervan aan almal sekerheid gegee deur Hom uit die dode op te wek.” (Hand 17:31)

Alles wat ons sê en doen, of nie sê en nie doen nie, gebeur met die oog op daardie naderende dag.

Ons hoop vir hierdie dag, want ons staan in diens van hierdie Man wat God uit die dood opgewek het.

En ons is bereid om van ons hoop in Hom te getuig vir elkeen wat meer daaroor wil weet, elkeen wat van ons rekenskap vra, hoekom ons leef soos ons lewe (1 Pet 3:15).

Dit is ons getuigende taak.

Broer, suster, weer eens: Weet jy wie jy is?

Jy is profeet, priester en koning!

 

Miskien het u al gehoor van die woord apologetiek.

Dit word gebruik as benaming van die teologiese vakgebied wat die Christelike geloof probeer verdedig.

Die woord apologie is afkomstig uit die vroeë kerk, toe die kerkvaders briewe aan byvoorbeeld die keiser geskryf het om die Christene se lewenswyse en hulle opvattings, te verdedig.

As profeet is jy apologeet.

Jy verdedig jou geloof in Christus.

Maar gemeente, ons verdedig nie net nie, ons is nie net defensief nie.

In die sin is apologetiek eintlik onvoldoende.

Ons is veel meer as net verdedigers van die geloof.

Ons lewe nie in die verdediging nie.

Met die wapenrusting van die Gees val ons juis aan.

Dit is wat die kerkvaders destyds ook al gedoen het.

Hulle het nie net ‘n apologie gelewer, verskoning gemaak vir wie hulle was nie.

Hulle het self ook hulle teëstanders probeer oortuig.

Dink aan hoe Paulus dit gedoen het, toe hy tereg gestaan het en homself verdedig het voor Agrippa.

Paulus het nie net homself verdedig met die doel om vrygelaat te word nie.

Hy het, as profeet, diegene voor wie hy gestaan het probeer oortuig van sy boodskap.

Agrippa het dit goed agtergekom.

Agrippa sê in Handelinge 26:28: “In ‘n kort tydjie probeer jy my oorreed om ‘n Christen te word?”

En Paulus was nie skaam daaroor nie.

Inteendeel, hy het vrymoedig aangegaan.

Hoor wat hy sê: “ek sou tot God wil bid dat nie net u nie, maar ook almal wat my vandag aanhoor, mag word soos ek, maar sonder hierdie boeie.” (Hand 26:29)

Paulus kon vrygelaat gewees het, maar hy het homself op die keiser beroep.

Ook sy reis na Rome het in die lig gestaan van sy taak as profeet.

Al moes hy die reis as gevangene onderneem, al was hy daarna in Rome in huisarres, tog het hy so juis die geleentheid gekry om as profeet in die wêreldstad van daardie tyd te getuig.

So is julle, gemeente, ook profete.

Jou drievoudige amp bepaal die keuses wat jy in die lewe maak.

Daardie keuses is nie altyd in jou direkte eie belang nie.

Dit kan keuses wees tot die beswil van ander.

Dit is keuses wat sin maak, as mens besef dat jy jouself en hierdie wêreld voorberei op die groot dag, waarop ons hoogste Profeet en Leraar sal terugkom.

 

Ons dank U, Here Jesus Christus, dat u die paradysamp vir ons terugverdien het.

Ons dank U, Vader, dat dit u behaag het, uit onverdiende genade, om ons te herstel in hierdie drievoudige amp.

En ons dank U, Heilige Gees, dat u ons toerus, sodat ons profete, priesters en konings kan wees.

Vader, Seun en Gees, ons sien uit na die nuwe aarde, as ons saam met Christus in ewigheid oor alle skepsels sal regeer.

Dan sal U, Drieënige God, deur alles en almal geprys word.

Dan sal ons en alle herskape dinge vir ewig gelukkig wees.

Amen.

 

Vrae na aanleiding van die preek:

Skriflesing: Efesiërs 6:10-24 & Openbaring 1:1-8

Teks: Nav Heidelbergse Kategismus Sondag 12

Om hierdie preek te verwerk en uit elke aspek daarvan te leer, volg hier ‘n paar vrae. Die antwoord kan in die preek gevind word, en sommige vrae vereis ook persoonlike oordenking.

  1. Wanneer het die mensheid die drievoudige amp – profeet, priester en koning, die eerste keer ontvang?
  2. Noem ‘n profeet, priester en koning in die Ou Testament. Noem ‘n voorbeeld hoe hulle gefaal het.
  3. Noem ‘n voorbeeld hoe ‘n profeet, priester en koning in die Ou Testament ‘n voorafskaduwing van Christus was.
  4. Noem ‘n voorbeeld by elk hoe Christus sy amp as profeet, priester en koning op aarde uitgevoer het.
  5. Is daar een van die drie ampte waarvoor jy ‘n voorkeur het in die alledaagse lewe?
  6. Vra vir God in jou gebed om jou sterker te maak in daardie amp wat dalk vir jou moeilik is.

 

 

Liturgie: 

Votum

Seën (Openb 1:4-5)

Ps 2:5,6

Gebed

Skriflesing: Efesiërs 6:10-24 & Openbaring 1:1-8

Ps 110:2,3,5,6

Teks: Nav Heidelbergse Kategismus Sondag 12

Preek

Sb 13:4,5,7,9

Gebed

Geloofsbelydenis van Nicea

Sb 25:4

Kollekte

Sb 8:2,3

Seën