Ook ons paaslam is vir ons geslag

Predikant: 
Ds. R Pos
Gemeente: 
Pretoria
Datum: 
2021-11-21
Teks: 
1 Korintiërs 5:7
Preek Inhoud: 

Gemeente van ons Here Jesus Christus, broeders en susters. Net nou sal ons die nagmaal vier. Beide, ons Heidelbergse Kategismus en die Nagmaalsformulire sê van die nagmaal dat ons dit geniet en dat ons deur die nagmaal gevoed en verkwik word. Maar wat beteken dit nou eintlik: om die nagmaal te geniet? Dit is klaarblyklik heeltemal anders as om 'n gewone maaltyd te geniet. Of ‘n lekker braai. Of om 'n heerlike stuk koek saam met koffie te geniet. Dis almal lekker dinge wat jou mond laat water. Maar dit geld tog nie vir daardie stukkie nagmaalbrood nie? Nee, ek dink nie so nie. Die kategismus en die formulire se “geniet”, spreek dus regtig oor iets anders as heerlike voedsel en drank. En dit is korrek: Die nagmaal se “geniet” spreek nie oor die voedsel en drank self nie. Dit handel nie oor die genotvolle tekstuur en smaak daarvan nie, maar oor die diepere betekenis van daardie voedsel en drank. En dit is natuurlik nie so moeilik om daaraan ‘n geestelike betekenis te gee nie. Brood en drank sê duidelik iets oor die offer wat die Here Jesus vir ons gebring het. En dat ons seker kan wees dat die Here ons die resultaat van sy offer beslis sal laat ontvang. 

Dit is dus duidelik dat die geniet van die nagmaal 'n geestelike saak aandui. Die woord “geniet” het nie betrekking op die eenvoudige stukkie brood en wyn self nie. Maar ons “geniet” van die diepere betekenis van brood en wyn. Maar hoe verduidelik jy dit vir jou kinders? Die gevaar is dat dit slegs teorie kan bly as hierdie geniete nie ook werkliks iets aan jou doen nie. Die sakrament moet werklik iets aan jou lewe verander. Dit moet ’n daadwerklike effek op jou lewe hê.

Nie een van ons kan vir die kinders in die laer grade presies verduidelik watter effek 'n bord gesonde spinasie op ons liggaam het nie. Of waarom 'n glas vars lemoensap goed vir jou is nie. Op watter manier dit jou liggaam beïnvloed. Maar prakties ervaar jy beslis wel ‘n gunstige effek. Dit is waarneembaar. Jy kry nuwe energie. Jou natuurlike weerstand verbeter. Maar dit geld nie vir die nagmaal nie. Die brood en wyn van die nagmaal het nie outomaties ‘n waarneembare effek wat reeds na enkele dae intree nie. Daardie klein stukkie brood en slukkie wyn het selfs geen enkele fisiese effek nie. En tog is daar wel deeglik sprake van ‘n effek. Maar dit gebeur slegs as jy baie bewus daarmee besig is. As jy baie bewus eet en drink, en as jy die volle betekenis daarvan op jou lewe laat inwerk.

Ons word deur die Here Jesus self uitgenooi om te eet en te drink en ons oop te stel vir die effek daarvan. Om dit mooi te verstaan, broeders en susters, moet ons oordink dat die Here Jesus daardie maaltyd ingestel het tydens die laaste Paasfees wat Hy self saam met sy dissipels gevier het. Die tydstip van die instelling van die nagmaal getuig van ‘n noukeurige tydsberekening. En dit het vir die volgelinge van die Here Jesus ‘n duidelike betekenis ingehou. Dit was nie 'n willekeurige tydstip nie maar die Here Jesus het só die nagmaal aan die Paasfees verbind. 

Tydens die Paasfees het die Paaslam ‘n sentrale plek ingeneem. En met die instelling van die nagmaal was die Here Jesus op die punt om die Paasfees te vervul deur Homself as Paaslam te offer. En as ons vandag nagmaal vier dan gee ons spesifiek aandag aan daardie betekenis van die Paaslam. Om ons teksgedeelte goed te verstaan moet ons dus die betekenis van die Paaslam naspeur. Die teks handel spesifiek oor die Paaslam met die veelseggende woorde: Ook ons paaslam is vir ons geslag. En dit is daardie woorde, brs en srs, wat ons ook sal naspreek deur die nagmaals-brood en wyn tot ons te neem.

Die instelling van die Pasgafees dateer uit die tyd toe die Here se volk in Egipte nog aan slawerny onderworpe was. Die bevel vir die instelling van die fees het plaasgevind nadat nege agtereenvolgende plae uit die hand van die Here, Farao nog steeds nie kon oortuig om die volk te laat trek nie. Voordat die Here sy verderf-engel stuur om al die eersgeborenes, van beide mens en dier, te dood, beveel Hy sy volk om 'n spesiale en betekenisvolle maaltyd te hou. Hulle moes elk ‘n eenjarige lam slag en die bloed daarvan aan die deurkosyne van hul huise smeer. Waar daardie bloed sigbaar sou wees, sou die verderf-engel verby gaan. Paasfees, Pesach, dit beteken letterlik: verby gaan.

Hierdie Paasfees moes voortaan jaarliks gevier word. Die doel daarvan was dat die volk, selfs na die bevryding uit Egipte, sou herdenk hoe die Here hulle bevry het. Die Here het goeie rede gehad om dit te beveel. Want wat gebeur tipies by alle ander nasies? Wanneer hulle uit ’n groot gevaar gered is, dan het hulle baie vinnig ‘n heldeverhaal saamgestel wat vertel hoe hulle hulself deur hul eie dapper heldedade bevry het. Die Here wou bewerk dat sy volk nooit moes vergeet dat hulle nie deur eie toedoen bevry is nie, maar dat hulle deur die Here verlos is. Hy het redding vir hulle bewerk.

As deel van die jaarlikse fees van bevryding, is sekere kosse voorgeskryf. Dit was, behalwe bitter groente en die lamsvleis, ook ongesuurde koeke. Ons kan dit steeds vandag by spesialiteitswinkels koop as matzos. Die Here beklemtoon hiermee dat, benewens die Paaslam, die volk tydens die Paasmaal net koeke of brode mog eet waarby geen suurdeeg gevoeg is nie. Brood sonder gis. Natuurlik wou die Here met daardie opdrag iets duidelik maak. Suurdeeg of gis was basies ou bedorwe brood. Normaalweg is die Israeliete toegelaat om dit by die brood deeg toe te voeg. Maar in die Pasga-week moes dit nie aan die brooddeeg toevoeg word nie. Hulle mog selfs nie gis in hul huise aanhou nie. Die Here was hierin baie streng. En ons kan dit verstaan as ons die Here se doel daarvan in ag neem. Elke jaar met die Pasga het die Here daarmee gesê: Onthou, dit is Ek wat julle verlos het. Dit was nie jou eie bloed wat daardie verderf-engel in Egipte laat verby gaan het nie. Dit was die bloed van 'n lam wat geoffer is. Vanweë die bloed van daardie lam wat in jou plek gesterf het, mag jy lewe. Deur daardie bloed word jy van die dood bevry. En as gevolg van daardie bevryding het jy nie van een vorm van slawerny na 'n ander een verval nie. Nee, want jy sit van nature met huid en haar vas aan slawerny wat uiteindelik uitloop op die dood. Maar Ek bevry jou van daardie ellendige mag van die dood en lei jou na 'n nuwe lewe. Let op die Paasfees: tydens daardie fees is daar nie 'n enkele vorm van bederf in jou huis aanwesig nie. Alle suurdeeg ontbreek. Alle vorms van ontbinding, alle bederf, ja selfs die dood is uit jou huis verwyder. En daarom kan jy vryelik feesvier want daar is slegs 'lewe' in jou huis. Ja, slegs 'lewe.' 

En nou kyk ons na wat Paulus in sy brief aan die brs en srs in Korinte, hieroor sê. Hy sê: "Weet julle nie dat selfs 'n bietjie suurdeeg die hele deeg suur maak nie? Sit die ou suurdeeg weg en word soos 'n nuwe deeg." Hierdie geheimenis kan mens slegs verstaan teen die agtergrond van die Pasgafees. Paulus sê aan die mense van Korinte: Selfs die kleinste hoeveellheid van bederf, selfs net ‘n bietjie van die dood wat jy in jou lewe toelaat, plaas uiteindelik jou hele lewe in die ban van die bederf en lei uiteindelik tot die dood. As jou lewe nie heeltemal van die dood bevry word nie, dan sal die dood uiteindelik volle besit van jou lewe neem. Daarom, raak ontslae van daardie suurdeeg. Raak ontslae van die sonde in jou lewe.

Vandag vier ons die nagmaal. Die fees van ons verlossing deur die Here Jesus. Maar is daar vandag enige persoon wat hierdie fees kan vier sonder sonde in sy of haar lewe? Let op wat die nagmaalsformulier hieroor sê: “Ons kom tog nie na die nagmaal om daarmee te kenne te gee dat ons in onsself volmaak en regverdig is nie. Inteendeel, ons erken juis .. dat ons midde in die dood lê.”

Maar hoe is dit moontlik? Om wel dood te wees maar steeds jou bevryding uit daardie dood te vier?

Kom ons lees weer ons teks (1 Korintiërs 5:7) waar Paulus sê: “Suiwer dan die ou suurdeeg uit, sodat julle ‘n nuwe deeg kan wees—soos julle inderdaad ongesuurd is—want ook ons paaslam is vir ons geslag, naamlik Christus” Verstaan ons die betekenis van wat Paulus hier sê? Ons moet ontslae raak van die ou suurdeeg in ons lewens. Waarom? Want ons is alreeds soos ongesuurde brode. Hoe is dit moontlik? Paulus verklaar: Ons is nou reeds ongesuurd, want ons paaslam is geslag.

"Julle is alreeds soos ongesuurde brood." Is dit nie ongelooflik nie, brs en srs? Tog is dit wat die teks sê. Dit sê: "Julle is nou reeds ongesuurd". Met ander woorde, in julle is daar geen bederf meer aanwesig nie. Die suurdeeg, simbool van die dood, is reeds uit julle lewens verwyder. En daarom verstaan ons hoekom ons nie meer die dood in daardie lewe kan toelaat nie. Want op een of ander manier is die dood reeds uit jou en my lewe verwyder. Ons mag dit heel letterlik verstaan. Maak nie saak hoe sterflik jy ook al is nie. Maak nie saak in watter mate die dood reeds jou lewe binnegedring het nie. Moontlik as gevolg van siekte of ongeluk. Ons mag bely: Ons is ongesuurd. Die dood, ja natuurlik, dië is nog steeds aanwesig. Ons bly sterflik. Maar die dood kan ons nie meer beheers nie. Ons is ongesuurd. Geen bederf kan ons meer aantas nie. Want ..., want ons paaslam is geslag."

Onthou ons wat die bloed van die paaslam gedoen het, toe die doodsengel in Egipte rondgegaan het om alle eersgeborenes dood te maak? Die bloed van die paaslam, sigbaar op die deurkosyne, het veroorsaak dat die doodsengel by daardie huise verby gegaan het. Daardie huise waar die bewoners op die belofte van die Here vertrou het. Die belofte dat Hy daardie huise sou verbygaan waar reeds 'n plaasvervanger gesterf het. 'n Lam in die plek van 'n persoon. En nou sê ons teks, in aansluiting by die bevinding dat daar geen suurdeeg meer in ons oorgebly het nie. Ons mag daarom vry wees van bederf. Ons teks noem die rede - omdat ons Paaslam geslag is. Ook vir ons is daar 'n plaasvervanger, iemand wat in ons plek gesterf het. En wie dit is, is nie meer ‘n verrassing nie. Dis natuurlik die Here Jesus Christus. Hy het Homself vir ons en in ons plek laat slag. Sy bloed is op Golgota gestort. En wie op hierdie bloed vertrou, ons mag ook sê wie hierdie bloed op sy deurkosyn aangebring het, sal daardeur bly lewe. En dit is wat ons teks sê: die dood het geen seggenskap meer nie.

Het ons die bloed van die Paaslam aan ons deurkosyne aangebring? Ja, ons het. Maar wanneer dan? Ons doen dit op die oomblik dat ons daardie stukkie brood uit die skottel neem en in ons mond plaas. Ons doen dit op daardie oomblik as ons die kelkie neem en versigtig 'n slukkie neem. Op daardie oomblik sê ons, bely ons: dit is Christus wat sy liggaam vir ons gegee het. Sy bloed is gestort in ons plek. Ja, Christus is ons Paaslam. Die nagmaals¬formulier sê: So verkondig ons die dood van die Here. Ons verkondig, en ons demonstreer dat daar lewe is vir ons, slegs deur Sy dood.

En nou gaan ek dit alles baie konkreet voorstel. En dan kyk ek na twee kante toe. Eers kyk ek in die rigting van die sonde. Ons besef dat sonder Christus selfs die kleinste sonde ons dood beteken. Ons hoef slegs een keer aan die Heilige God ongehoorsaam te wees en dit plaas ons reeds in die dodesel. Ons oorblywende lewe is in werklikheid niks anders as ‘n wagtyd voor die voltrekking van die doodstraf nie. Maar, sê Paulus in opdrag van die Here Jesus: Selfs al bestaan daar in jou lewe selfs baie meer as net 'n paar geringe sondes, dan steeds is die mag van die sonde (die suurdeeg) uit jou liggaam en lewe weggeneem. Jou lewe mag reeds vandag ongesuurd wees. Vry van bederf. Wanneer 'n engel op die jongste dag uitgestuur word om God se straf oor sondaars te voltrek, dan sal blyk dat daar bloed aan jou deurkosyn aangebring is. Die bloed van ons Paaslam. Die bloed van ons Here Jesus Christus. En dan gaan die verderf-engel by jou verby. En jy staan verstom, want daar is by jou vele sondes. Dit sou tereg wees dat jy ook gestraf sou word. Maar dit gebeur nie. Daar is lewe vir jou in plaas van die dood. Ons lees dit in Jesaja 1. Al is jou sondes soos skarlaken, dit word wit soos sneeu. Skarlaken is 'n helder-rooi kleur. Dit is 'n kleur wat jy eenvoudig nie kan miskyk nie. As daar so 'n helderrooi vlek op jou wit hemp is, wel, dan kan jy daardie hemp maar weggooi. Jy sal nooit daardie vlek kan verwyder nie. Diep ingebed in ons lewens is daar ook sulke kolle. Dis dinge wat ons self gedoen het. Maar die Here was hulle weg. Ons word wit soos sneeu. Deur Sy bloed.

En dan kyk ek na die anderkant toe. Ek kyk nie meer na die kant van sonde nie, daardie vernietigende krag wat sonder die bloed van Christus ons dood sou beteken. Nou kyk ek na die kant van siekte en dood. Siekte wat kan vernietig. Siekte, ja, ouderdom is immers ook 'n siekte. Die aftakeling van jou liggaam. En dan word jy bepaal by wat gaan kom. Die liggaam kan nie meer veel verder nie. Die einde is naby. Maar selfs dan kan ons uitroep: die suurdeeg is weg uit ons lewe. Siekte en ouderdom kan nie meer my lewe bedreig nie. Die dood wat eersdaags oor ons sal kom is nie meer 'n straf nie. Ja, dikwels is dit moeilik. Want ons moet afskeid neem. Maar selfs daardie dood kan nie meer ons lewe wegneem nie. Ons lewe is immers soos ongesuurde brood. Daar is geen bederf  meer nie. Omdat ons paaslam geslag is. Ons bely dit op daardie oomblik dat ons die stukkie brood in ons mond plaas. En 'n slukkie wyn uit die beker neem. Christus is ons Paaslam. Hy het sy lewe afgelê om aan ons die lewe te gee. En daarom, brs en srs: laat ons ontslae raak van die suurdeeg uit ons lewens. Van alles wat die Here kan bedroef en van alles wat na die dood toe lei. Dit is nie meer deel van ons lewe nie. Want ons besit 'n lewe wat verbonde is aan ons verheerlikte Verlosser. Ons mag selfs lede van sy liggaam wees. En dit is om werklik te geniet. Om 'n lewe te geniet wat deur die dood heen lei na die ewige lewe saam met Hom wat ons uitermate liefgehad het; en nog steeds liefhet. Sodat ons mag geniet van die warmte van Sy liefde. Om te geniet van alles wat Hy ons gee terwyl ons op pad is na die bruilof. Die bruilof met Hom. Om die lewe te geniet saam met Hom wat ons paaslam wou wees. Ja, brs en srs, dit is die effek van ons feesviering vandag. Sodat ons die week weer met ware vreugde mag begin. Want ons het weer opnuut die lewe ontvang. Ons sien dit met ons eie oë. Ons proe dit met ons eie mond: Ons paaslam is geslag. Maak julle oë wyd oop, brs en srs, en sien in hierdie sakrament hierdie waarheid van die blye evangelie: Die lewe bied ons, selfs in hartseertyd, weer ‘n vreugdevolle perspektief. Ja, die dood wat ons vandag nog pla, is reeds oorwonne en gaan verslind word deur die lewe.

Amen.

Liturgie: 

Votum & Seengroet
Psalm 118: 1
Lesing van die wet (Deut 5)
Skrifberyming 26: 10,11
Gebed
Lesing van die Nagmaalsformulier 2
Psalm 84: 1,2
Skriflesing: Exodus 12: 1-20
Psalm 115: 1,9
Tekst: 1 Korintiers 5: 7
Preek
Skrifberyming 8: 4,5
Gebed
Psalm 51: 4
Hartverheffing
Viering van die Nagmaal
Lofverheffing en gebed
Psalm 103: 1,2
Kollekte
Psalm 32: 1,6
Seën