Die werking van die wysheid van God met die Evangelie van Christus se kruis vir die kerk

Predikant: 
Ds Hannes Breytenbach
Gemeente: 
Pretoria
Datum: 
2021-11-07
Teks: 
1 Korinthiërs 1:17 - 2:5
Preek Inhoud: 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus

Die boodskap van die gekruisigde Christus, die wysheid van God, is die boodskap waarmee Christus se kerk lewe en werk (soos dit saamgevat is in 1Kor.1,18,19, wat Jesaja 29,14 aanhaal). In Paulus se eerste Brief aan die gemeente in Korinthe spreek hy die gemeente aan oor die onenigheid daar wat partyskappe tot gevolg gehad het waar sommige Paulus, ander Apollos, ander Cefas en nog ander Christus aangehang het. Paulus stel onomwonde dat hy gestuur is om die evangelie van Christus wat gekruisig is te preek. Hy is deur Christus opgedra om te evangeliseer. In die voortgaande lyn van Paulus se opdrag staan die predikant vandag as bedienaar van dieselfde evangelie, en die gemeente met die gawes van die Gees as mondige medewerkers verenig in hulle roem in God en sy evangelie vir die gemeente om mekaar op te bou en die evangelie in die samelewing uit te dra. So ontvang ons die evangelie van die apostels en dra ons dit verder, so in ons kerkverbandelike werk en in teologiese opleiding, en sending en evangelisasie.

Predikant en gemeente leef nie meer by die wysheid van hierdie wereld nie, maar by die wysheid van die kruis van Christus. Ons word deur Christus self deur die bediening van die Woord met sy Gees geleer sodat ons in sy liefde en gehoorsaamheid na Hom toe groei. Ons luister na, ons is gehoorsaam aan sy Woord.

Die reformatoriese kerk verwag alles vir ons persoonlik en vir Sy kerk van God, en van sy evangelie van Christus se kruis. 21: Dit het God behaag om deur die prediking van God se wysheid mense te red sodat hulle deur sy geregtigheid kan lewe as gemeente van Christus.

Tema:
Die werking van die wysheid van God met die Evangelie van Christus se kruis vir die kerk
1.    God se wysheid is die grondplan vir die bouwerk aan Christus se gemeente
2.    Die werking van die wysheid van die wereld staan teenoor die werking van die wysheid van God en mag nie ons kerkwerk beïnvloed nie
3.    God kies en versamel sy kerk uit hulle wat Hy roep sodat hulle alleen in Hom roem
4.    God stuur dienaars met die krag van God se Gees om die evangelie onverkort te verkondig tot geloof

1.    God se wysheid is die grondplan vir die bouwerk aan Christus se gemeente

Paulus evangeliseer met die boodskap van die gekruisigde Christus. God het in Christus tot by ons gekom, nou moet hierdie boodskap tot aan die einde van die aarde uitgedra word. Paulus sal grense oorsteek en lig bring vir mense wat in duisternis van sonde en dood verkeer het. Hy is geroep om met die evangelie die fondament van die kerk te lê sodat ander arbeiders van God daarop kan voortbou. Op hierdie fondament van die apostels bou ook die gemeente van Christus in Pretoria voort deur die evangelieverkondiging. En predikante in sendingdiens vergader en plant, as die Here dit gee, ook kerke volgens hierdie grondplan in ons omgewing.

Wat is die kenmerk van die evangelieprediking? Dit verduidelik Paulus vanaf vers 17. Die kruis van Christus is die wysheid van God en die fondament waarop sy gemeente gebou word. Dit bepaal ook die styl waarin gebou moet word. Alles lê vas in hierdie wysheid van God.

Evangeliseer is beslis nie met wysheid van woorde nie. In Korinte het hulle nie genoeg aan woorde nie gehad nie, hulle het gesoek na woorde van wysheid. Paulus het nie daarmee vrede nie. Die gemeente mag hulle nie op mense rig en die begeerde wysheid van mense nie, want dit kan nie die gemeente verenig om te leef van die verlossing in Christus nie. Waarom Paulus se lewe en werk gedraai het, was nie om homself te vestig of teenoor Apollos of Cefas te handhaaf nie, maar om die evangelie tydig en ontydig uit te lê. Om die saligheid van God in Christus aan mense te bring. Paulus het dit oor Christus (1:23, 2:2) en wat God deur Hom vir die wereld gedoen het deur sy kruisdood as die grondslag van die redding van die mense. Die prediking van die kruis is vir hulle wat besig is om verlore te gaan, ‘n dwaasheid, maar vir ons wat besig is om behou te word, ‘n krag van God, ‘n krag tot behoud (so ook Rom. 1:16). Dwaasheid en krag word in vers 18 teenoor mekaar gestel. Die prediking doen die verlorenes niks, hulle beleef dit as dwaasheid. Dit is nie God se redding nie, maar sinlose gebeure. Maar vir die geroepenes van God, die kerk, is dit ‘n krag van God tot behoud van sondaars. Hierdie fondament het Paulus vir die gemeente in Korinte gelê.

Die kruis is die kern in die woord van die prediking. Met die begrip van die kruis van Christus omvat Paulus die werk van Jesus Christus vir ons. So ook Fil. 2:6-8: Hy, wat in die gestalte van God was, het dit geen roof geag om aan God gelyk te wees nie, maar het Homself ontledig deur die gestalte van ‘n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk geword; en in gedaante gevind as ‘n mens, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis. En Rom. 8:3: Want God het wat vir die wet onmoontlik was, omdat dit kragteloos was deur die vlees deur sy eie Seun in die gelykheid van die sondige vlees te stuur, en dit ter wille van die sonde, die sonde veroordeel in die vlees…

Gemeente, Ons weet Christus het nie gekom as ‘n lewensafrigter of ‘n rolmodel of ‘n passiewe lydingsaktivis nie, of ‘n partyleier met ‘n agenda vir ‘n beter samelewing nie. Hy het gekom as ‘n dienskneg tot God se beskikking om alles te ly wat vir die mense se sonde gely moes word. Deur as vervloekte aan die kruis te hang. Hy het sy lewe kom gee as ‘n losprys vir sondaars.

Watter weg gaan God wanneer hy sy heil op aarde bring? Daar is geskrywe (en dit kom van Jesaja 29:14): Ek sal die wysheid van die wyse mense vernietig en die verstand van die verstandige mense tot niet maak. Die profeet Jesaja keer hom hier teen die wat meen dat Juda hulleself kan verdedig deur ‘n bondgenootskap met Egipte. Maar God het hulle dwase planne verhoed. 

God sal die wysheid van die wyses tot niet maak, want wat hulle as redding vir die mense beskou is hulle ondergang. Daarom gee die evangelie van Christus se lyding en dood aanstoot. Van Adam af streef die mens om self God te wees, self te bepaal wat goed en kwaad is. 

Die lewe van die uitverkore geroepenes van God rus egter in die orde van God se geregtigheid en sy verbond want God is genadig en die geroepenes word deur Hom begenadig, Hy is die redder en die geroepenes die gereddes, Hy alleen is wys en die geroepenes word deur Hom onderwys. En daarom oordeel en toorn Hy wanneer die mense Hom in eiewysheid afwys. Vir mense is daar alleen uitkoms, lewe, vrede, toekoms, behoud en vryheid binne die handhawing van God se geregtigheid.

Omdat Hy mense red sorg Hy daarvoor dat die wysheid van die mense tot niks lei nie. Hy staan terselftertyd verhef Hy die lydende Jesus Christus. Hy laat Hom nie beskaamd staan nie maar gee Hom ‘n Naam bo elke naam. Fil. 2:9.

2.    Die werking van die wysheid van die wereld staan teenoor die werking van die wysheid van God en mag nie ons kerkwerk beïnvloed nie

Paulus vra aan die gemeente in Korinthe: Waar bly die wyse? Waar bly die skrifgeleerde? Waar die redetwister van hierdie eeu? Het God nie die wysheid van hierdie wêreld dwaas gemaak nie? 

Die punt is: die wereld het God nie geken nie.

Kennis dui in die Ou Testament op die verhouding tussen God en sy volk. Israel leer God uit sy heilsdade in Egipte ken. Om God te ken, te dien, lief te hê, vertrou en eer is waarom dit in hierdie verhouding gaan. So is dit dan vir ons moontlik om God deur die Seun te ken. Joh. 17:3: En dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het. 

Die heidene ken God nie, Galasiers 4:8,9. Al die werk van Christus en die Gees op aarde is daarop gerig om God kenbaar te maak. Die wereld het buite die heil van God gebly. En dit word hulle as skuld toegereken. Wie nie vir God ken nie erken hom ook nie. Waar God se wysheid was, sy openbaring en werk, Rom. 1, het die wereld hom doelbewus van God afgewend. 

Paulus ontken nie dat die wereld wysheid het nie. Maar die wereld se tipiese wysheid is selfgeldend, roep nie die mense op om God se genade af te wag nie maar om hulleself te red of te handhaaf deur eie vermoëns, eie berekenings, regte keuses volgens skerp insigte, oorgaan tot aksie op die regte tydstip.

Die mense misluk steeds om die opdrag na te kom om tot kennis van God te kom. Die reformatore het reg gesien dat God kan alleen reg gedien word wanneer ons Hom ken. Wat God van die mense vra is die erkenning van Hom in dankbare gehoorsaamheid, die dien en liefhê van Hom, onbeperkte vertroue en verwagting van Hom, eerbied en aanbidding van Hom. 

Menslike selfbekwaamheid en buite Skrifkennis word verpletter deur God se optrede en God se openbaring in Christus. Deur die werk wat God deur Jesus Christus in sy lyding en vernedering gedoen het, sy kruis, het die wyses van hierdie wereld hulleself as dwase bekendgestel. Hulle vertel leuens en is skuldig. Paulus verkondig triomfantlik hulle einde.

God het die lig in ons harte laat skyn om ons te verlig met die kennis van die heerlikheid van God in die aangesig van Christus. 2 Kor. 4:6. 

Hoe dwaas die kruis is vir die wat verlore gaan, in feite red God deur die middel van die prediking van Christus se kruis die gelowiges. Hom behaag dit om so te doen. Hierdie is die welbehae (of raadsbesluit)van God, dit sluit alle verdere redenering hieroor uit. Die kruis van Christus mag nie verydel word nie, mag nie gering geag word nie. Hierdie middel van die prediking van die evangelie waarin God behae het, is heeltemal in ooreenstemming met die grondstruktuur, van die oorspronklike verhouding tussen God en sy skepping. Vir hierdie verhouding is kenmerkend dat God die liefde gewende en die mens die ontvangende is. Die evangelie van Jesus Christus is die redmiddel van die ontvangende mens. Toe Jesus sy lewe as losprys gegee het, het God daarin behae gehad om ons so te red. Hy is die lewegewende, reddende God.

Gemeente nooit mag ons kerkwerk deur die wysheid van die wereld beïnvloed word nie. Nie die inhoud waarmee ons mekaar opbou en bemoedig nie, nie die wyse waarop ons die gemeente stuur nie, nie die werkwyse van ons ampsdiens nie, nie ons opleidings en sendingstrategie nie, nie ons gemeente opbou nie. In al ons aankyk van sake in die kerk, bespreking en beplanning, styl van optree, kerkdiens, moet dit uitgaan van die evangelie van Christus se kruis wat Hy gebruik in die krag van Sy Gees om sy werk te doen.

Jode en Grieke was die twee groepe aan wie die Apostel die evangelie verkondig het, en met wie hy voortdurend in gesprek was.

Met die prediking van Paulus se evangelie as redmiddel van God staan Paulus midde in wereld van Jode en Grieke. Die Jode soek ‘n teken by mense. Jesus voldoen nie aan hulle voorwaarde nie want die inhoud van die Paulus se prediking is die gekruisigde Messias. Die Jode volg die mens wat deur sy tekens bewys dat God met sy mag daaragter staan.

Die Grieke soek wysheid. Iemand is deur hulle nagevolg indien hy dinge kan deursien. Op die regte oomblik regte besluite kan neem en leiding gee. 

Aan beide groepe het Paulus nou die evangelie gebring, [23] Maar ons verkondig ‘n gekruisigde Christus, ‘n aanstoot of struikelblok vir Jode en dwaasheid vir Grieke. Nadruk is op gekruisigde. Struikelblok of in Grieks Skandalon is in werklikheid ‘n valstrik wat iemand in die moeilikheid bring. 

God wat uitverkies roep mense na Hom toe. Paulus kan skryf: Hulle wat geroep is uit Jode en heidene, (en wat dus gelowig geword het)(preek ons) Christus, die krag van God en die wysheid van God. Die geroepenes kyk heeltemaal anders na Jesus Christus as die ongelowige Jode en Grieke. Geroepenes sien in die nuwe Testament op mense by wie God se roep werk tot geloof deurdat die Gees met die prediking van die evangelie, hulle beweeg tot geloof. Dit is hulle wat die gekruisigde Christus ontmoet en ervaar as ten volle deur God gesalf en gestuur. 

En so word geroepe Jood en Griek ingelyf by ‘n nuwe gemeenskap deur en in Jesus Christus. Die gemeenskap van die geroepenes van God. Saam kan hulle nou voor Hom die gekruisigde, buig, in Hom, die wysheid van God, een. Daar is geen plek vir partyskappe nie. Geroepenes gee hulleself prys wanneer hulle Jesus Christus die gekruisigde vir hulle lewe en dood omhels.

Niemand kan daar verbykom nie [vers 25] wat dwaas is by God, is wyser as die mense; en wat swak is by God, is sterker as die mense. 

Dus wyser as die mense met al hulle wysheid, swakker as die mense met al hulle krag. Sowel die Jode as die Grieke het hulle met God in Christus vergis. Eindelik staan dit vas dat die selfverloëning van Christus geen dwaasheid en swakheid was nie maar juis die enigste daad is waardeur in sonde gevalle mense die heerlikheid en lewe geskenk word. Sy kruisdood is nie demonstrasie van swakheid of onvermoë nie maar die enigste weg wat God aan ons skenk om van sonde en skuld verlos te word en in ‘n herstelde verhouding met ons hemelse Vader te leef. 

3.    God kies en versamel sy kerk uit hulle wat Hy roep sodat hulle alleen in Hom roem

Die swakheid en dwaasheid van die gekruisigde Christus vind ons in die eenvoud en eenheid van die kerk in Christus. Julle is nie baie wyse en magtiges nie. Paulus het die gemeente in Korinte opgeroep om God wat hulle geroep het te ag. Deur die prediking van die evangelie het God julle harte geraak en alles wat julle gebind het ontbind. Julle word met julle eie aard opgeneem in Christus se kerk. Uit watter stand, geslag, ouderdom, bevolkingsgroep julle ookal is. Die prediking van Christus bind julle aan Christus.

Elke versameling van geroepenes word op ‘n bepaalde plek op ‘n bepaalde tyd vergader. En dit is die voortgaande werk van Christus vir sy kerk. Hy vergader sy gemeente in ‘n bepaalde konteks, hier spesifiek Korinte. Hulle was hoofsaaklik uit die Grieke. Daar was nie veel wyses nie….dit was grootliks mense uit die laer samelewingsstande. 

Ons kan nie sê die armes neem makliker die evangelie aan nie. Die evangelie is ook vir armes as sodanig nie aantreklik nie. Maar God kies en voeg saam. Wat dwaas en onedel by die wereld is, word deur God uitverkies…Nie jou slimheid of geld of iets kan jou iets wen voor God nie. Ons kan nie uit onsself ‘n kerk plant of opbou nie. Dit is God se werk waarin ons middele of instrumente mag wees.

Die gemeente kan alleen lewe van wat God vir hulle in ons gekruisigde Jesus Christus is. Ons verhef ons nie deur besit, of prestasie, of wysheid nie. Ons is arm om ons deur God ryk te laat maak. ‘n Gemeente bestaan alleen op grond van God se reddingsdade. God se krag word openbaar in swakheid, 2 Kor 12:7. Sodat ons nie oor onsself voor God roem nie.

Hoe is ons gemeente voor God se aangesig? Beslis nie as mense vol van onsself nie wat net ‘n bietjie bystand nodig het, ‘n bietjie genade, ‘n hupstootjie om sy goedkeuring te verkry nie. God wil ons redder wees en lewe en heerlikheid in oorvloed aan ons gee. Hy gee dit vir ons in die evangelie van Christus se kruis.

So ontvang ons alles wat Christus verwerf het vir ons. Dit is wysheid, regverdigheid, heiliging en verlossing. Christus het vir ons geword wysheid, regverdigheid, heiliging en verlossing van God. Die volle heilsplan het van God uitgegaan. Maar ook ons gehoorsaamheid om in Christus te glo. Van God opgedra, het Hy alles vir ons saligheid gedoen. Ons ontvang van Hom alles wat ons ontbreek. 

Hy leer ons nie ‘n paar dinge nie, Hy is vir ons die wysheid in persoon. Hy leer ons nie hoe om voor God regverdig te kan word nie, maar hoe om deur Sy persoon en werk regverdig te wees. As regverdige te lewe. Hy is ons regverdiging. Hy het God se reg nie verdraai nie, maar God se geregtigheid laat geskied toe Hy aan die kruis onder die vloek oor ons sonde gehang het.

Jesus Christus is ons heiliging. Hy stimuleer ons nie maar omdat Hy ons regverdig gemaak het, om nou self sonde te vermy of te verminder nie en nou maar op ons eie stoom toegewy aan God te lewe. Nee Hy is ons heiliging, sonder smet of rimpel. Ons mag nou voor God se heilige aangesig bestaan. In Hom het ons hierdie heiligheid by God verkry.

Jesus Christus is self ons verlossing. Hy volvoer kragtig en volhardend die stryd totdat alle magte aan Hom onderworpe is, en al ons vyande oorwin is. In Hom is ons bevryding.

[31] So is die gemeente in sigself arm maar ryk in Christus. Ons roem is Christus. wie roem roem in die Here. Reeds Jer 9:23

4.    God stuur dienaars met die krag van God se Gees om die evangelie onverkort te verkondig tot geloof

Paulus het die evangelie nie met voortreflike woorde of wysheid gebring nie. Hy was nie so welsprekend nie, het nie so goeie indruk op mense gemaak nie. Hy het sy eie swakheid en vrese geken. 

Maar Hy het getuienis aangaande God en sy evangelie van Christus se kruis gebring. Hy het nie allerlei middele ingespan om mense te wen nie. Hy het verwag dat die evangelie van Christus se kruis mense sal wen. Hy het die evangelie gepreek. So kan ons bely dat Christus met sy Woord en Gees vir Hom ‘n gemeente vir die ewige lewe vergader.

Dit gaan nie om metodes as sodanig nie. Paulus weet egter baie goed wat hy doen, Hy wil niks anders weet as Christus die gekruisigde in die gemeente in Korinte nie. Christus sy Heer is sy lewe en sy sterwe. Christus is sy verhaal. Vir Christus wil Hy behaag. 

In die lydende en sterwende Jesus Christus is God se genade vir sondaars ‘n seker werklikheid. Hy gee sy lewe as versoening. In diepte van vernedering en selfverloening het Jesus getoon dat Hy koning van God se ryk van genade is. Hy het plekke met ons geruil. Hy het arm geword om ons ryk te maak. 1 Kor 8:9.

Paulus skryf: Ek het in swakheid en vrees en bewing na julle gekom. Dit sê tog alles van iemand wat nie geskik is vir die evangelieprediking nie? Ja?....Nee! Paulus kom nie as veroweraar nie. Nie as ‘n strateeg nie. Hy kom onkapabel in homself. Maar hy kom in die krag van Christus se Gees. Met die beloftes van God. In eie swakheid maar in Naam van sy Heer. Dienskneg van die dienskneg van God, Jesus Christus die Gekruisigde.

Hy het nie oorredende woorde van menslike wysheid gepreek nie. Hy het geen wonderlike betoog gelewer nie. Hy was ‘n geleerde, magtig in die Skrifte, maar terselftertyd ‘n eenvoudige man, wat ‘n eenvoudige verhaal vertel, van wat deur God in Christus gebeur het, besig was om te gebeur, voltooi word. Hy het die (vir hulle) onbekende God se liefdedaad, wat uitgeloop het op die lyding en sterwe van Christus, uitgelê.

God het die gepredikte evangelie deur Paulus gebruik om in die lewens van sy uitverkorenes in Korinte omkeer te bring. So lees ons ook in sy eerste brief aan die gemeente in Tessalonika, 1Tes 1:5: Want ons evangelie het tot julle nie gekom in woord alleen nie, maar ook in krag en in die Heilige Gees en in volle versekerdheid, soos julle weet hoedanig ons onder julle om julle ontwil gewees het. 

Die geroepenes moet weet hulle is deur God geroep, en dat alleen sy wysheid vir hulle die weg tot saligheid is. Hulle en ons vandag hier word opgeroep tot geloof in God want daarsonder is daar vir ons geen saligheid nie.

Amen

Liturgie: 

Votum
  Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en aarde gemaak het.

Seën
  Gemeente genade vir u en vrede van God ons Vader en die Here Jesus Christus. Amen.

Psalm 122:1,2

Lees van die wet

Psalm 16:1,2

Bid om skuldbelydenis en die Here se seën op die diens.

Teks: 1 Korintiers 1:17-2:5

Skrifberyming 33:1,3

Preek

Amenlied Psalm 111:1,2,5

Dankgebed en voorbidding

Kollekte

Slot Psalm 125:1,2,3,7

Uitspreek van die seën:
Die Here sal u seën en u behoed
Die Here sal sy aangesig oor u laat skyn en u genadig wees
Die Here sal sy aangesig oor u verhef en aan u vrede gee.

SING Amen