Genade is 'n geskenk en 'n bevrydende kragbron

Predikant: 
Ds. R Pos
Gemeente: 
Pretoria
Datum: 
2021-10-31
Teks: 
Romeine 15: 7
Verwysing: 
Hervormingsdag
Preek Inhoud: 

Gemeente van ons Here Jesus Christus.

Vandag, 31 Oktober, wil ek vir u 'n spesifieke faset van God se genade uit die Woord van die Here uitlig. Genade is, soos ons weet, 'n geskenk. Maar dit is terselfdertyd ook 'n bron van krag. ʼn Bevrydende  kragbron. En daarmee bedoel ek die genade wat ons bevry van die neiging om oor mekaar te wil heers. Want ‘om oor mekaar te heers’ is 'n amper onuitwisbare neiging wat ons in feite almal het. Dit is 'n drang wat ons aanspoor om ons eie invloed te verhoog en die van 'n ander te verminder.  ʼn Tendens wat, as ons daaraan toegee, tot baie jaloesie en uiteindelik tot oorlog lei.
 
Lyk die volgende vir u bekend? Dat ons in die kerk groot klem plaas op die bevrydende werk van die Here Jesus, maar dat ons juis in dieselfde kerk tog  dikwels ʼn gevoel van onvryheid het? Dit is eintlik baie vreemd. Vandag word gelukkig nie meer van ons vereis dat ons eers iets moet doen en dat ons slegs dan eers sal kan lewe nie. Christus het ons van hierdie harde eis verlos deur self die wet te vervul. Genade is dus dat jy die ewige lewe kry sonder dat jy iets daarvoor hoef te betaal. Dit is die sola gratia van die Reformasie. Behalwe dit, beteken genade ook, dat ons van slawerny aan die sonde bevry is. Maar waarom voel ons dan tog dikwels so onvry?
 
Die manier waarop die tien gebooie geformuleer is lyk taamlik negatief. Dit gaan veral oor dinge wat jy nie mag doen nie. En dit gee vir jou die gevoel of jy beperk word. Dit beklemtoon voortdurend dat daar baie dinge is wat vir jou as gelowige, verbode terrein is. ʼn Beperking dus van jou vryheid. Dit is ten minste hoe dit voel.
Maar dit is natuurlik 'n wanopvatting. Dit is 'n giftige plant wat Satan in ons harte wil laat groei. Hy wil hê dat ons moet vergeet dat die wet begin met 'n verklaring dat ons bevry is. Daarom het al die gebooie en verbode wat op hierdie verklaring volg, slegs een doel en dit is dat ons nie meer daardie vryheid verloor nie. Dié gebooie en verbode is juis daar om ons vrye lewe te beskerm. Die wet is juis heeltemal daar ten dienste van ons vryheid. Geen saak dus van 'n beperking nie, maar eerder van verruiming. As die wet byvoorbeeld sê: tot hier toe en nie verder nie, is dit 'n woord wat beskerming bied teen die dood wat dreig as jy die grens, wat deur die wet aangedui word, sou oorsteek, na die moeras van die sonde. Die wet is niks anders nie as ʼn soliede heining rondom ʼn dam, wat mooi en aanloklik lyk, maar wat vol honger krokodille is. Is so 'n soort heining 'n beperking op jou vryheid? Nee, juis die teenoorgestelde! 
 
Die wet soos die Here dit in die Nuwe Testament aan ons voorhou, kan ons in die kerk dus nooit 'n gevoel van onvryheid gee nie. As ons dan tog in die kerk ʼn gevoel van onvryheid ervaar, kom dit blykbaar van êrens anders vandaan. Die gevoel kom uit onsself. En hiermee kom ek nou presies by die punt wat ek vandag in die besonder wil uitlig. Juis in die kerk ervaar ons soms 'n gevoel van onvryheid omdat ons 'n drang het om 'n wet op ander lidmate af te dwing wat wel baie soos die wet van die Here lyk, maar wat dit tog nie is nie. Omdat daar iets ontbreek. En wat ontbreek, is opregte liefde vir die ander. Ons is steeds maar weer geneig om onsself in ʼn dominante posisie te plaas. Maar dié soort superieure houding beteken natuurlik wel dat jy ʼn oordeel koppel aan alles en almal om jou heen. Die neiging om te oordeel, dit lyk asof ons nie daarsonder kan klaarkom nie. Om te beoordeel, is eintlik om iets of iemand anders 'n spesifieke plek in jou brein te gee. Jy herrangskik al die verskillende items in sekere vakkies in jou kop. Dit kan baie onskuldig wees. Kyk maar wat jy doen as 'n baba gebore word. ʼn Nuwe mens. Die nuwe persoon is nog nie in jou brein se liasseerstelsel nie. Dit het nog nie 'n plek in jou kop nie. En daarom gaan ons ooreenkomste soek. Ag, sy lyk soos tannie Veronica. O, dit het sy pa se oë. Nee man, dit is uitgeknip sy ma. Op dié manier kry so 'n nuwe mensekindjie ʼn plek in ons kop en is ons gevoel van onrus weer weggewerk. Ja, want dit voel nie goed as jy iets of iemand nie in ʼn vakkie kan plaas nie. Dit is ook die rede waarom ons nie weet hoe ons met moderne kuns moet omgaan nie. Ons probeer om dit, wat ons daar sien, met iets te vergelyk, maar daar is niks in ons breinvakkies, wat daarmee vergelykbaar is nie. Wat maak ons met die skilderye van Bernett Newman met die titel "wie is bang vir rooi, geel en blou"? Een groot rooi gebied met 'n dun strepie blou of geel. Wel, sê ons dan: my kind kan dit ook doen en dan het ons dit weer onder beheer. Ons beheer onsself deur beheer van ons omgewing te neem. Kom ons kyk na ʼn voorbeeld daarvan, net om weer prakties te raak. Dit is dalk ʼn bietjie veralgemenend, maar juis daarom waarskynlik wel herkenbaar. 

Baie vroue kyk hoe ander vroue aangetrek is. As sy sien dat 'n vroulike kollega mooier lyk, dan moet daar iets gedoen word. Dalk onmiddellik nuwe klere koop, dit gee weer meer selfvertroue. Dit laat jou in elk geval weer meerderwaardig voel. 

Die meeste mans is eers gerusgestel nadat ʼn rekensommetjie uitgewys het dat hulle beslis nie minder ure as hulle kollegas gewerk het nie. Om op te som: altyd is ons weer besig om onsself met ander mense te vergelyk. En die uiteindelike doel daarvan is om onsself weer stewig in ons dominante posisie te plaas. So is ons almal gedurig besig om ʼn oordeel oor ons omgewing te vorm. En, let maar op, dit is gewoonlik ook die hoofonderwerp van ons gesprekke as ons by vriende kuier of tydens verjaardagpartytjies. Ons oordeel en beoordeel het slegs een doel en dit is om ons eie posisie te versterk. Ons probeer almal erkenning kry as iemand wat dinge reg doen. Iemand wat goed is. Kom, ek gee 'n voorbeeld uit die Bybel, dan sal dit duidelik word dat ek nie besig is om 'n les in sielkunde te gee nie, maar om aan te toon hoe ons as mense na die sondeval in mekaar steek en funksioneer. En dan vervolgens ook hoe die genade ons juis daarvan bevry.

Ek dink aan die verhaal van Marta en Maria. U onthou waarskynlik nog wel dat Marta baie omgekrap was omdat haar suster Maria haar maar laat swoeg en sweet het met die versorging van al die gaste. Ja, want dit was nie net die Here Jesus wat by hulle op besoek was nie, maar ook sy leerlinge en op daardie tydstip was daar regtig baie meer as net 12. Marta het regtig gesukkel om al die gaste ordentlik te bedien. En dan kla sy by die Here Jesus dat haar suster maar net daar sit en niks doen nie. Maria wil blykbaar net van die geleentheid geniet, maar vergeet van die nodige versorging van die gaste. Sien julle, broers en susters, wat hier gebeur? Marta begin vergelyk en sy vorm ʼn oordeel. En dit is: Ek is trou besig om my taak te verrig, maar my suster skram vir haar verantwoordelikheid weg. En dit is nou presies daardie denkwyse wat deur die Here Jesus op 'n verrassende manier aangespreek word. Hy sê nie dat dit, wat Marta doen, nie reg is nie en dat sy daarom net soos Maria moet gaan sit en luister nie. Nee, Hy wys Marta daarop dat, selfs al doen Maria iets anders as wat sy doen, dit nog nie beteken dat Maria daarom verkeerd besig is nie. Marta mag haarself nie as die  standaardnorm stel nie. Uit die gedeelte wat ons saam uit die brief aan die Romeine gelees het, blyk duidelik dat hierdie situasie nie as 'n groot uitsondering in 'n klein en onbekende dorpie beskou moet word nie.

In die gemeente in Rome was daar mense wat nie dieselfde oortuiging gehad het oor wat om te eet en oor watter vakansiedae om te vier nie. Hulle het dus verskillende keuses gemaak. En dit het spanning in die gemeente veroorsaak. En hulle het daar in Rome gedink, en dit is glad nie so 'n vreemde gedagte nie, hulle het gedink dat hierdie spanning net sou verdwyn as die ander lidmate oortuig kon word dat hulle verkeerd was. Daar was dus 'n groot behoefte dat almal dieselfde antwoord sou gee op die probleem wat daar konkreet aanwesig was.

Paulus wil help in die naam van die Here. Maar as ek nou vir julle sou vra om vir my te sê wat die antwoord was wat Paulus aan die broers en susters in Rome geskryf het, dan dink ek dat die meeste sou sê: Paulus sê dat ons geduldig moet wees met die swakkes. En ja, op 'n manier is dit so. En as ek en u in sulke gevalle as sterkes beskou sou word, dan sien ons waarskynlik ook nog wel kans om geduld te hê met mense wat duidelik nog nie so ver soos ons gevorder het nie. Dit hoor ons ook wel in ons kringe, byvoorbeeld as dit gaan oor veranderinge in die liturgie: "Wees maar net 'n bietjie geduldig, dit gaan regtig wel kom. Sommiges is net nog nie so ver nie." Natuurlik wonderlik as jy so geduldig is met jou broers en susters, maar dit is wel ʼn hoogmoedige soort geduld. Sien julle wel raak dat die brandstof, wat hierdie soort van geduld voed, die gevoel is dat jy wel reeds so ver is en hulle nog nie. Die gevoel dus dat jy een van die sterkes is. Dat jy eintlik al 'n stap verder gevorder het as hulle. Maar vergeet dit maar, gemeente. Dit is beslis nie wat Paulus bedoel nie. Hoewel hy wel oor sterkes en swakkes praat, ontneem Paulus ons duidelik alle moontlikhede om onsself meer of beter as ander te ag. Kyk byvoorbeeld na vers 1 van hoofstuk 15, waar hy sê: "op ons, wat sterk is, rus die verpligting om die swakhede te dra van die wat nie sterk is nie, en nie onsself te behaag nie." Die swakkes is dus nie daar om jou te laat voel dat jy sterk is nie, maar hulle is daar om deur jou gedien te word. Die sterkes moet dus eintlik 'n tree terugstaan. En dan is dit ook nog so dat Paulus doelbewus nie sê nie: ja, daar is 'n meningsverskil, 'n betreurenswaardige feit wat ons voorlopig ongelukkig moet aanvaar, maar in die weg van baie geduld en oortuiging moet ons uiteindelik al die swakkes op ons vlak kry. Want daar kan tog regtig net een mening wees. 

Laat ons maar eerlik wees, brs en srs, dié soort mentaliteit is moontlik by ons wel enigsins aanwesig. Dit lyk soms of daar nie veel ruimte is om anders oor sekere sake te dink as wat van ons medelidmate daaroor te sê het.

Onthou julle nog hoe vroeër gepraat is oor lidmate wat 'n TV gekoop het? Maar is dit dan nie opvallend dat Paulus in die eerste vers van hoofstuk 14 sê: "neem hom aan wat swak is in die geloof, nie om oor sy gevoelens te oordeel nie." Dit wat Paulus eerste noem wil ons wel probeer probeer, om 'n swakke te aanvaar, maar dan wil ons tog ten minste die ruimte hê om die verkeerde opinies van die ander persoon te bestry. Dit gaan tog sekerlik nie oor ondergeskikte en onbelangrike sake nie? Inderdaad: daar in Rome het dit regtig wel oor baie belangrike sake gegaan. Sake wat alles te doen het met hoe jy jou geloof vorm gee en hoe die vorm van die eredienste moet wees. Mag vleis van die tempelslagtery geëet word of nie? Belangrike beginsels is hier ter sprake. Moet christelike feesdae onderhou word of nie?  Ons het sulke sake selfs in ons kerkorde gereël. As dit nie belangrike beginselsake is nie, wat is dan wel belangrik?

Maar dan is dit tog baie snaaks dat Paulus blykbaar glad nie so bekommerd is oor die feit dat die mense binne die gemeente verskillend oor hierdie punte gedink het nie. Dat hulle dus nie dieselfde oortuigings gehad het nie. Waaroor hy wel bekommerd is, is hoe gemeentelidmate die verskille hanteer. Let in dié verband op die vraag wat hy in vers 4 van hoofstuk 14 stel: "Wie is jy wat die huiskneg van ʼn ander oordeel?" Dink maar net weer aan Marta, vir wie ons almal baie simpatie en begrip het. Maar tog maak die Here Jesus dit in sy antwoord baie duidelik dat Marta 'n oordeel oor haar suster gehad het, 'n oordeel wat eintlik 'n veroordeling was. Sy het gedink sy weet hoe haar suster op daardie oomblik moes optree. En wat presies was dit? Dit sal u nie verbaas nie: Marta was van mening dat Maria presies dieselfde moes doen as wat sy gedoen het. Maar dan sê die Here Jesus, vergeet dit maar. En Paulus sê: om 'n oordeel te kan vorm, het jy 'n standaardnorm nodig. En waar het jy die norm gekry? Dalk in jouself? Of dalk in die Bybel? Maar is dit werklik so dat die Bybel duidelik aantoon dat die manier waarop jy dinge doen, die regte of selfs die enigste regte manier is, ook vir die broer of suster wat 'n ander oortuiging het?

Ek verstaan dit baie goed, broers en susters, want dit is presies hoe ek ook voel: ons het ʼn behoefte daaraan dat ons eie mening as korrek bevestig moet word. Dit laat ʼn mens goed en veilig voel. En hoeveel keer het ons nie so deur die Bybel geblaai nie? Nie in die eerste plek om die wil van die Here vir ons lewens te leer ken nie, maar veral om bevestiging te soek vir ons eie standpunte? Maar dit is wel die agterstevoor manier. Ek noem dit nou ook maar in verband met besprekings, wat ongetwyfeld oor covid inentings gevoer sal word. Ook vir ons geld, dat ons nie argumente moet soek, met die bedoeling om ons eie mening te versterk nie, maar ons moet probeer om die Woord van die Here te laat spreek. Want ook ons mening moet ondergeskik wees aan die Woord van die Here.

Ons gaan toenemend te doen kry met verskillende menings en oortuigings. Dit maak die lewe nie makliker nie, ook nie die gemeentelike lewe nie. Maar dit vereis wel die regte reaksie van ons. Paulus sê nie dat ons nie mag probeer om mekaar te oortuig nie. Natuurlik mag dit wel. Paulus sê eintlik dat ons nie op ʼn hoogmoedige manier die, van ons eie menings afwykende, oortuigings van ʼn medebroer of –suster mag veroordeel nie, in die sin dat ons dié oortuigings probeer uitroei. Ons probeer ongedierte en vreeslike siektes uitroei. Ons probeer ketterye, wat ons van Christus aftrek, uitroei. Maar tog nie 'n oortuiging van 'n broer of suster wat saam met jou na die Here wil luister nie?
ʼn Goeie oefening in die geval van meningsverskille sou kon wees om vir jouself die vraag te vra wat Paulus vir ons voorhou: het Christus die broer of suster, wat ʼn ander mening as ek oor ʼn sekere saak het, het Christus daardie broer of suster aanvaar? En nou kom ons by 'n baie belangrike punt. Want voordat ons die vraag beantwoord of Christus die ander aanvaar het, is dit goed om eers te kyk hoe Christus ons eintlik aanvaar het.

In hierdie kerkgebou kan gereëld, na die viering van die Heilige Nagmaal, die volgende indrukwekkende woorde gehoor word: "Aangesien God reeds sy liefde vir ons daarin bewys het dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was, soveel te meer sal ons deur Hom van sy toorn gered word noudat ons in sy bloed geregverdig is.” Hier het ons genade op sy beste. Totale  genade: God se liefde stel geen voorwaardes nie. God se liefde is letterlik onvoorwaardelik. Die liefde hoef ons nie te verdien nie. Gelukkig ook maar, want as dit wel die geval was, kon ons nou maar ophou. Paulus sê in ons teks: Christus het jou aanvaar. Dit is wat hy sê vir die Romeinse gelowiges. Was dit dan sulke goeie gelowiges? Het die lesers van hierdie brief almal slaagsyfers vir gedrag en werkywer gehad? As ons die brief noukeurig lees, kry ons ʼn heelwat minder positiewe beeld. Tog het Christus hierdie mense aanvaar. Aanvaar, op grond van wat? Omdat hulle vas daarvan oortuig was dat vleis uit die tempelslaghuis absoluut skadeloos was? Omdat die gode waaraan  die vlees gewy was nie bestaan nie? Die oortuiging was inderdaad 100 % korrek. Maar was dit nou die rede waarom Christus hulle aanvaar het? As dit so was, sou dit tog heeltemal logies wees om te dink dat Christus die ander mense, wat wel moeite met die eet van offervleis gehad het, nie kon aanvaar nie. Want dit is natuurlik die een of die ander. Dit is dan hoe ons dink. Maar Paulus sê: Juis dié mense, wat anders oor daardie punt dink, moet julle aanvaar, net soos Christus julle aanvaar het. Die aanvaarding mag dus nie gegrond wees op hulle menings, nie op politieke voorkeure, nie op hulle voorbeeldige manier van omgaan met die TV, nie op grond van hulle ruimhartige kerklike bydraes of hulle kennis van professor K. Schilder se boeke nie.Want ons is immers self ook slegs op grond van niks anders nie as genade aanvaar. Op grond van onverdiende liefde. Liefde sonder enige vooraf gestelde voorwaardes. En as jy daarvan baie deeglik bewus is, van die feit dat dit slegs genade was wat ons ontvang het, dan kan dit tog nie so wees dat ons wel skielik voorwaardes gaan stel vir die aanvaarding van brs en srs nie en dan veral ook nog dié voorwaarde, dat hulle dieselfde oortuiging as ons moet hê. Nee, aanvaar hulle soos Christus jou aanvaar het.

Roep Paulus ons daarmee op om ʼn gemeente te vorm waar elkeen maar kan dink wat hy/sy self wil en almal maar kan doen wat hulle self wil? Ek vermoed dat dit die vraag is wat dan by ons opkom. Maar dit is natuurlik nie die geval nie. Dit gaan immers oor ʼn gemeente waar nie ons, die lidmate, bepaal wat reg of verkeerd is nie, maar waar Christus die laaste sê het. ʼn Gemeente waar daar volgens Paulus se woorde ook ruimte is vir 'n oortuiging wat nie deur my gedeel word nie. En ook al lyk dit vreemd, verhinder dit nie die eensgesindheid onder ons nie. Die eensgesindheid wat ons saam, as gemeente, biddend van God mag verwag. Blykbaar beteken eensgesindheid dus nie, dat almal dieselfde oortuiging as ek moet hê nie. Nee, eensgesindheid is dat ons saam na dieselfde doel op pad is. Aan die hand van dieselfde Verlosser. Saam deel in sy liefde.  Dié liefde is soos olie wat verhoed dat ons mekaar stukkend skuur deur voortdurend koppe te stamp. Eensgesind, dit is letterlik: een van sin. Een in ons strewe na dieselfde doel. As gemeente beweeg ons nie eers eensgesind vorentoe, as ons soos soldate marsjeer nie. Almal dieselfde voet tegelykertyd vorentoe en moet dit nie waag om uit pas uit te wees nie. Nee, juis op dié punt is daar baie vryheid. Nie eenvormig marsjeer nie, maar wel as groep in dieselfde rigting beweeg. Dit is eensgesindheid. Dit sê meer oor hoe ons na mekaar kyk en hoe ons met mekaar in liefde omgaan. In die kerk hoef ons nie met mekaar te wedywer nie. Gee vir jou medegelowiges die ruimte om in hulle omgang met die Here tot ʼn eie oortuiging te kom. Gee ook vir die Here die ruimte om in sy omgang met allerlei verskillende mense sy wondermooie werk te voltooi.

Julle ken waarskynlik almal die kinderspeelgoed, die boks met verskillende soorte blokke. Die verskillend gevormde blokke moet dan deur een van die verskillend gevormde gate in die deksel weer binne in die boks geplaas word. Elke kind leer baie vinnig dat 'n vierkantige blok nie deur 'n ronde gat gedruk moet word nie. Maar omdat dit nie deur ʼn ronde gat pas nie, is die vierkantige blokkie immers nog nie verkeerd nie? Die blokke is eintlik net soos mense. Ons is almal verskillend. En daarmee is niks verkeerd nie. Binne die grense van die liggaam van Christus is daar is 'n sekere vryheid. Dit is vir ons soms moeilik om te aanvaar. En daarvan is ons almal deeglik bewus. Maar dit het wel alles te doen met diversiteit. ʼn Bos rooi rose is pragtig, maar 'n gemengde bos is regtig nie minder mooi nie. Verskillende kleure en vorms, maar wel met die een doel om almal saam vir die Here te skitter.

Terselfdertyd sal dit duidelik wees dat elkeen van ons verstandig moet omgaan met die vryheid wat Christus gee. Ons vryheid mag nooit die val van 'n mede -broer of suster veroorsaak nie. Laat ek 'n voorbeeld gee: jou oudste kind het verjaar en van nou af mag die kind 'n uur later gaan slaap. U gee dit dus 'n bietjie meer vryheid as die jonger broers en susters. Maar van die kind mag dan wel verwag word, dat dit die vryheid goed sal gebruik. En dit is misbruik, iets wat u seker ook nie sal aanvaar nie; as die ouer kind vir die jonger boeties en sussies sou sê: "jy is nog klein. Jy moet om 7:00 gaan slaap. Maar ek mag lekker nog tot 8 uur wakker bly." Vryheid vereis wysheid. 'n Saak om saam van die Here te vra, of jy nou swak of sterk is.

Deur middel van Paulus sê die Here in ons teks: Aanvaar mekaar. Dit is dus nie dieselfde as: vorm mekaar totdat julle almal presies soos ek dink nie. Gee iemand anders die ruimte wat jy self ook graag wil hê. Dit is nie 'n los ruimte waarbinne jy maar kan doen wat jy wil nie. Nee, dit is ruimte in die omgang met die Here. En net so min as wat ons ons manier van doen in ons huwelik, vir ander mag voorskryf nie, net so min mag ons ons manier van omgang met die Here op ander mense afdwing nie. Want net in voldoende ruimte kan liefde blom. Meningsdwang bevorder nie liefde nie. Meningsdwang lei maar net tot gehoorsaamheid uit vrees. Dan lyk dit of daar eenheid is, maar dit is slegs ʼn skyneenheid. En die gevolg is dat gemeentelede stilweg die kerk deur die agterdeur verlaat.

Maar die genade van Christus wil ons werklik vry maak. Vry om na die Here te luister. Vry om in eenheid met Hom te leef. Om lede van sy liggaam te wees. In alle rus en vrede. En dan is daar ruimte om God die eer te gee, nie met woorde nie, maar met 'n lewe as 'n gemeente waar Hy met sy Woord woon. Want dit is wat ons bevry. Sonde en dood word dan in ons gemeentelike lewe al hoe meer na die agtergrond gedryf, totdat daar alleen nog maar ruimte vir die liefde is. Dit is: saam leef met Hom wat ons vrygemaak het en met Hom wat ons nou ook wys en lok na die wonderlike lewe saam met Hom en met mekaar, die feestlewe wat nooit meer sal eindig nie.

Amen.

Liturgie: 

Votum & Seëngroet
Psalm 145: 1,5

Lesing van die wet
Psalm 145: 10,12

Gebed

Skriflesing: Romeine 14: 1 – 15: 6

Psalm 89: 6

Tekst: Romeine 15: 7
Preek
Psalm 133

Gebed

Kollekte

Psalm 46: 1,6

Seën