Vertrou dat jou hemelse Vader jou ‘n kwaliteitlewe kan en wil gee, nou en vir altyd

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2021-11-07
Teks: 
Heidelbergse Kategismus Sondag 9
Preek Inhoud: 

Na aanleiding van elke sin van Sondag 9 sal mens ‘n preek kan maak.

Elke sin verwys na soveel Bybeltekste, waarin ons soveel oor ons hemelse Vader leer.

Oor hoe Hy hemel en aarde uit niks geskep het.

Oor hoe Hy alles onderhou en regeer deur sy ewige raad en voorsienigheid.

Oor hoe Hy juis ook my Vader is danksy sy Seun Jesus Christus.

Oor hoe Hy my met alles versorg wat ek vir liggaam en siel nodig het.

Hoe Hy selfs die kwaad tot my beswil kan verander.

Hoe Hy dit kan doen as ‘n almagtige God, en ook wil doen as ‘n getroue Vader.

 

Vanaand mag ek u die Evangelie bring oor ons hemelse Vader, aan die hand van Jesus onderwys in die Bergrede.

 

Tema: Vertrou dat jou hemelse Vader jou ‘n kwaliteitlewe kan en wil gee, nou en vir altyd

 

Hierdie gedeelte van die Bergrede begin met Jesus se bevel dat ons nie skatte moet bymaarmaak op die aarde nie.

Hoekom maak ons skatte bymekaar op aarde?

Omdat ons onsself kwel.

Veral in hierdie land waarin ons woon, lyk die toekoms maar onseker.

Jy weet nie of jy volgende jaar nog werk gaan hê nie.

Jy weet nie of jy kinders wat opgroei werk gaan hê nie, of hulle gestudeer het of nie.

Jy weet nie of jou seuns eendag ‘n werk gaan hê, wat hulle voldoende inkomste sal verskaf om ‘n gesin te kan onderhou nie.

Jy weet nie of jy genoeg pensioen sal hê as jy jou aftree-ouderdom bereik het nie.

Jy weet nie of jy ooit in staat sal wees om af te tree nie.

Al hierdie dinge veroorsaak dat ons juis in die hede spaarsaam lewe, dat ons probeer om geld te spaar, dat ons probeer om kapitaal op te bou, juis omdat die toekoms onseker is.

En omdat die ekonomiese situasie hier in Afrika so wisselvallig is, probeer mens ook waar moontlik geld in die buiteland te spaar.

Ander probeer juis hulle eiers in verskillende mandjies te sit.

Hulle koop byvoorbeeld ekstra eiendom, sodat die huuropbrengste daaruit hulle in hulle oudag kan dra.

Ander studeer verder, om so hulle beroepsmoontlikhede te vergroot, of hulle kans om bevorder te word.

 

Nou gemeente, met al hierdie dinge, wat u sekerlik bekend in die ore sal klink, is ons met al hierdie dinge besig om skatte hier op aarde bymekaar te maak?

Is ons eintlik besig om Jesus se bevel in die Bergrede te oortree?

Het ons te min vertroue op sy sorg in die toekoms?

Moet ons nie meer by die dag lewe nie?

 

Daar is baie mense in ons land wat by die dag lewe.

Nie net omdat hulle arm is nie.

Maar ook omdat hulle opgegroei het in ‘n ander kultuur.

Is hulle eintlik meer gehoorsaam aan hierdie bevel van Jesus?

Het hulle meer vertroue in die voorsienige Vader?

Duidelik is daar baie uiteenlopende kulture in ons land.

Ek het gelees in ‘n ou dagboek van ‘n sendeling hier in Suid-Afrika, 200 jaar gelede, dat hy gekies het om liewers nie oor hierdie teks te preek nie.

Want die mense in hierdie land het te veel by die dag gelewe, terwyl hy, as Europeaan, opgevoed was om spaarsaam te wees, om iets vir jou oudag te spaar.

Was hierdie sendeling reg, of het hy bewus die bevel van Jesus verontagsaam?

Moes hy, en net so ons, nie self ook ‘n bietjie meer vertroue gehad het nie?

Vertroue dat God sal voorsien, ook op ons oudag.

Vertroue dat ons kinders wel vir ons sal sorg, of dalk iemand anders.

Vertroue dat God ook in die toekoms in hierdie land vir ons nageslag sal sorg.

Hoekom kwel ons ons eintlik oor môre?

 

Gemeente, in sy Bergrede waarsku Jesus ons teen die mot en roes op aarde.

Motte eet mooi klere op.

Die Griekse woord wat met roes vertaal is, kan meer algemeen slytasie beteken.

Of, daar is ‘n klein kans dat hierdie woord verwys na ‘n sprinkaan.

In die Septuagint, die Griekse vertaling van die Ou Testament, word hierdie woord naamlik vir ‘n sprinkaan gebruik.

‘n Sprinkaan verwoes ook ‘n mens se besit op aarde, byvoorbeeld jou oes.

In elk geval, alles op aarde is aan slytasie onderhewig – huise, klere, motorkarre, noem maar op.

Jesus wys ons ook op die realiteit van diewe.

Hulle was ook daar in Jesus se tyd.

Diewe het toe ook deure oopgebreek om in te kom, hulle het soms selfs die huise se kleimure stukkend gekap om in te kom.

Vandag is dit nie veel anders nie.

Diewe breek deure en slotte stukkend, forseer hekke oop, kom in huise in deur die vensters, soms selfs deur die dak of deur mure.

Jesus ken ons menslike geneigdheid:

Normaalweg is ons aandag, ons gedagte by dit waarin ons ons geld steek.

Jesus rig egter ons hart op sy Vader en sy voorsienigheid.

Dit is sy missie op aarde, om sy Vader weer ons Vader te maak.

Laat ons hart gerig wees op ons hemelse Vader.

 

Aansluitend by die oproep dat ons hart moet fokus op Hom en sy koninkryk, is daar die beeld van die oog wat Jesus gebruik.

Die oog begeer òf die skatte op aarde òf die in die hemel.

Die oog is die lig van die liggaam.

Ons is in ons tyd gewoond om aan die oog te dink as ‘n orgaan wat lig van buite af opvang en dan na die brein kanaliseer, en dat die brein vervolgens sin maak uit die lig wat via die oog binnekom.

Dit is die hedendaagse opvatting oor hoe ‘n oog werk.

In daardie tyd het mense egter anders oor die oog gedink, en Jesus sluit daarby aan.

Die oog was self ‘n ligbron.

Of meer spesifiek, in die oog van ‘n mens straal die lig wat daar in jou hart is.

In ons alledaagse spraakgebruik hoor mens hierdie visie vandag nog steeds terug.

Die oë is die vensters van jou hart, sê die uitdrukking.

In iemand se oë sien jy die gemoedstoestand van sy hart.

Nou so gebruik Jesus ook die beeld van die oog.

As ons hart gerig is op God, dan kyk die oog na die regte dinge.

As ons hart gerig is op aardse skatte, belig die oog veral daardie dinge.

Die oog stuur ons liggaam dan in die verkeerde rigting.

Die oog is dan jaloers en begerig op skatte wat deur mot en roes geaffekteer word.

Maar die oog moet sy strale laat val op die hemelse skat.

Die hart wat sy skat in die hemel het, sal inderdaad die oog laat straal in die regte rigting.

Die hart wat sy skat hier op aarde het, is donker, en dit is ook te sien in iemand se oë.

 

Jesus maak dit nog meer konkreet met wat Hy in vers 24 sê.

Julle kan nie twee here dien nie.

Wie God en Mammon wil dien, moet in twee rigtings kyk wat nie gekombineer kan word nie.

 

Dan herhaal Jesus weer die bevel waarmee Hy die gedeelte begin het, vers 25.

Moenie julle kwel nie, oftewel moenie besorg wees nie.

Die Griekse werkwoord hier beteken: druk in die weer wees, besig besig besig wees.

Dink aan Martha, Lukas 10:41, waar Jesus vir haar sê:

“Martha, Martha, jy is besorg en verontrus oor baie dinge; maar een ding is nodig ...”

Hierdie woord word soms ook positief in die Nuwe Testament gebruik.

So het Paulus “daaglikse bekommernis”, “sorg vir al die gemeentes.” – 2 Korinthiërs 11:28.

Die probleem waaroor Jesus dit hier het, is nie die besorgd wees as sulks nie.

Besorgd wees as sulks is nie verkeerd nie.

Eintlik moet ons besorgd wees oor ons liggaam en siel.

Maar daardie besorgdheid moet nie as fokus hê kos en klere nie.

Ons besorgdheid vir liggaam en siel moet oor iets anders gaan.

Ons daaglikse bekommernis oor liggaam en siel moet nie die heeltyd draai om kos en klere nie.

Dit is die verkeerde rigting waarin jou oë dan kyk.

Ons besorgdheid oor liggaam en siel moet nie vassteek in die minder belangrike dinge, terwyl ons vergeet van die grote sake wat des te meer in belang van liggaam en siel is nie.

Liggaam en siel is hier die aanduiding wat Jesus gebruik vir die mens as geheel, jou hele menswees.

Wie net vir sy materiële welvaart sorg op aarde, gaan juis sy liggaam en siel verloor in die ewigheid.

Laat jou sorg vir liggaam en siel fokus op wat soveel belangriker is.

Kyk op met jou oë na die hemelse Vader.

Soek in jou lewe sy koninkryk.

Wy jou lewe aan sy koninkryk.

Laat dit die fokus van jou lewe wees.

En dan mag jy dit doen in vertroue dat Hy, Hy wat jou voorsienige Vader deur Jesus geword het, dat Hy vir die res sal sorg.

Ons dink soms, laat ek meer tyd bestee aan met skoolwerk, aan my studie, ook as dit beteken dat ek nie Bybelstudievereniging toe kan gaan nie.

Ook as dit beteken dat ek Sondagaand nie kerk toe kom nie, omdat ek Maandag ‘n groot eksamen het.

Jesus bedoel nie dat ons ‘n ‘kannie-worry’-houding moet hê en niks vir ons eksamens moet voorberei nie.

Maar as dit die een en al word, dan vergeet ons wat daarbo uitgaan.

Dan is ons besorgd oor minder essensiële dinge vir liggaam en siel.

Laat ons eerder besorgd wees oor wat meer essensieel is.

En dit in vertroue dat God ons sal voed, net soos Hy die voëls voed.

Wie werk en leer en spaar asof alles daarvan afhang, sal sy liggaam en siel verloor.

 

Niemand kan immers ‘n el by sy lengte voeg nie.

Hierdie opmerking van Jesus word verskillend uitgelê.

Òf dit verwys na die lengte van jou lewensduur.

Dis nie jy wat dit bepaal of wat jou eie lewe kan rek nie.

Òf dit verwys na jou fisiese lengte.

Dis nie jy wat, danksy jou voortreflike sorg vir jou kinders, en die klere en kos wat jy vir hulle verskaf, dis nie jy wat hulle laat groei, dis nie jy wat hulle volwasse kan laat word nie.

Beide verklarings is moontlik, beide dui op dieselfde.

Dit is naamlik my hemelse Vader wat my met alles wat vir liggaam en siel nodig is, sal versorg.

My en my kinders.

 

Dieselfde les leer die blomme van die veld ons.

Dink aan die blomme van Namakwaland, wat lê en wag totdat die Vader reën stuur.

Dink aan die miljoene der miljoene jakarandablommetjies.

Geen mens kan dit skep nie.

Tog bars die jakarandabome elke jaar weer uit in hulle pers prag.

So was dit ook met die veldblomme op die grasvlaktes van Palestina.

En om dan te dink dat daardie gras môre in die oond gegooi word.

Dieselfde geld vir ‘n mens.

Hy is net so sterflik, net so verganklik as gras.

Die apostel Jakobus skryf, spesifiek verwysende na hulle wat ryk is op aarde:

Laat die ryke roem in sy geringheid, “want soos ‘n blom van die gras sal hy verbygaan. Want die son gaan op met sy hitte en laat die gras verdor, en sy blom val af, en die sierlikheid van sy gedaante vergaan; so sal die ryke ook in sy weë verwelk.” (Jak 1:10-11)

 

Die ryk boer wat sy klein skure afgebreek het en groteres gebou het, en vir sy siel gesê het:
“Siel, jy het baie goed wat weggesit is vir baie jare; neem rus, eet, drink, wees vrolik” – daardie ryk boer het juis nie goed vir sy liggaam en siel gesorg nie.

Sy oog was vasgenael slegs op tydelike besorgheid.

Die ewige sorg vir liggaam en siel het hy verwaarloos.

Daarom het God aan hom gesê: “Jou dwaas, in hierdie nag sal hulle jou siel van jou afeis ...”

En dan sê Jesus: “So gaan dit met hom wat vir homself skatte vergader en nie ryk is in God nie.” (Luk 12:21)

 

Ons rolmodelle op aarde is dikwels hulle wat in finansiële opsig suskselvol is.

Die Bill Gates, Steve Jobs, Warren Buffet’s van hierdie wêreld.

Of nader aan huis, daardie gemeentelede wat finansieel suksesvol is ...

Laat ons eerder fokus op hulle in wie se oë dit sigbaar is dat hulle skatte in die hemel het.

Dit hoef nie mekaar uit te sluit, finansieel welaf wees, en die regte prioriteite in die lewe te hê nie.

Maar ons beoordeel iemand nie op sy finansiële sukses nie.

Ons rolmodelle is hulle wie se harte brandende is vir die koninkryk van die hemel, en of hulle arm of ryk is, maak nie saak nie.

In die wêreld werk dit so dat mense luister na hulle wat welvarend is.

Hulle woord het gesag.

Laat dit in die kerk nie so wees nie.

Jongmense, laat hulle wat ‘n groot vertroue het in die hemelse Vader, laat hulle julle rolmodelle wees.

 

Dus weer eens, moenie hier op aarde jou kop breek, heeltyd bekommerd wees oor jou materiële behoeftes nie.

Wees besorgd oor iets belangrikers:.

Soek eers die koninkryk van God.

Wees besorgd oor of jou liggaam en siel dit gaan beërwe.

Dat liggaam en siel daardie onverganklike lewe sal binnegaan.

Want daar sal liggaam en siel veel heerliker bekleed wees as Salomo, heerliker as die mooiste blomme.

 

Moenie kleingelowiges wees nie, sê Jesus in vers 30.

Ook hierdie dui op ons verwagting van die toekoms.

Verwag jy regtig dat die toekoms veel heerliker, veel ryker gaan wees as wat jy hier op aarde sal kan bereik?

Die koninkryk wat op koms is, hou dit jou besig hier op aarde?

Hou die besef jou besig dat juis dit alle verwagtings sal oortref?

Moenie kleingelowig wees, dit wil sê, moenie te min glo oor wat ons in die hemelse koninkryk te wagte staan nie.

Ons geloof is dikwels slegs besig met ‘n klein stukkie van dit wat ons beloof is.

Ons geloof moet meer besig wees met alles wat God toegesê het, ook dit wat ons nog nie op hierdie huidige aarde gaan ontvang nie.

Want as jy dit besef, sal dit alle rykdom op aarde relativeer.

 

Nogmaals, Jesus verbied nie dat ons glad nie besorgd mag wees nie.

Ons moet egter besorgd wees oor dit wat saak maak.

En dan staan kos en klere, inkomste en dies meer onder aan die lysie, nie bo-aan nie.

Dit wat regtig saak maak in die lewe, is nie kos en klere nie.

Bo-aan moet staan die kommer of ons liggaam en siel wel die koninkryk sal beërwe.

Vers 33: Soek eers, oftewel, wees eers besorgd oor die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.

Julle sal dit in elk geval ontvang, met daardie vertroue mag jy leef, as jou oog in die regte rigting kyk.

Ja sorge oor kos en klere is daar soms, maar dit beheers nie ‘n gelowige se lewe nie.

 

Jesus sluit hierdie gedeelte af met die opmerking: “Elke dag het genoeg aan sy eie kwaad.”

Nou hierdie opmerking word meestal so verstaan dat daar elke dag weer genoeg erge dinge gebeur.

Elke dag vind daar wel êrens op aarde ‘n ramp plaas.

Elke dag vind daar ongelukke plaas.

Elke dag is daar teenslae.

Elke dag ... noem maar op.

Tog is dit nie die regte uitleg nie.

Dit sluit ook nie aan by wat ons vanaand uit Christus se onderwys geleer het nie.

Die woord “kwaad” in vers 34 dui naamlik nie op moeites of teenslae in die algemeen nie.

In die Nuwe Testament word hierdie woord spesifiek gebruik vir dit wat sleg is, dit wat verdorwe is.

Kwaad staan hier in teenstelling tot geregtigheid.

Kwaad is dus ongeregtigheid.

En dan is die betekenis van hierdie vers:

Elke dag is daar genoeg ongeregtigheid, genoeg dinge wat die hemelse Vader toornig maak.

En dit geld ook vir jou lewe.

As God jou lewe kom oordeel, sal Hy in elke dag genoeg kwaad, genoeg ongeregtigheid vind om jou liggaam en siel ewig te straf.

Hoe kom jy dan onder hierdie oordeel uit, hoe ontsnap jy aan hierdie oordeel wat by jou kop hang?

Nie deur heeltyd besig te wees, elke dag te laat opgaan in die strewe na kos en klere en aardse besittings nie.

Maar, soos Jesus in die vorige vers opgeroep het, deur eers die koninkryk van God te soek en sy geregtigheid.

Span jou in om volgens sy wil te lewe.

Laat dit jou hoofprioriteit wees elke dag.

Soek sy geregtigheid.

Soos ons uit die Skrif weet, ons eie geregtigheid is totaal onvoldoende.

Maar Hy, wat my Vader geword het deur Jesus Christus, Hy skenk my sy geregtigheid.

Laat Christus daarom elke dag oor jou lewe heers, laat Hy jou hooffokus wees, elke dag.

Beklee jou nie met die pragtigste en duurste besittings op aarde, terwyl Christus op die agtergrond verdwyn nie.

Beklee jou met Christus en sy geregtigheid, en alles wat jy nodig het op aarde, sal jou geskenk word.

Daardie vertroue mag jy hê, moet jy hê.

Ook in hierdie land van ons met sy onvoorspelbare toekoms.

 

Laat die woorde van Sondag 9 in jou hart en op jou lippe wees:
Op Hom, my Vader in Christus, vertrou ek so dat ek nie twyfel dat Hy my met alles wat vir liggaam en siel nodig is, sal versorg nie.

Hy sal selfs die kwaad tot my beswil verander.

En ja in hierdie land gebeur daar baie kwaad.

En nie net in hierdie land nie, in elke land op aarde.

En elke dag het genoeg aan sy eie kwaad.

En dan weer eens, nie eerstens kwaad in die sin van teenslae en ongelukke en rampe en diefstal en dies meer nie.

Veel meer nog kwaad in die sin van ongeregtigheid, dinge wat die potensiaal het om my liggaam en siel vir ewig verlore te laat gaan.

Ja die Vader is selfs in beheer van die Satan se versoekings, die kwaad wat Satan in ons lewe probeer aanrig.

Maar vir God se kinders is dit beproewings wat Hy oor hulle bring, om hulle aandag opnuut te vestig op dit wat regtig saak maak.

Laat ons sy Gees nie bedroef deur in die versoeking te bly lê nie.

Laat ons opnuut ons lewe, ook in die week wat kom, van harte toewy aan die koninkryk van God.

Uit sy Vaderhand ontvang ons alles, vir hierdie tydelike lewe, ja ook vir die ewige lewe.

Uit sy Vaderhand ontvang ons ware kwaliteit van lewe.

Vertrou jou hemelse Vader, dat Hy jou ‘n kwaliteitlewe kan en wil gee, nou en vir altyd.

Soek eers sy koninkryk.

 

Amen.

 

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 89:11

Gebed

Skriflesing: Mattheüs 6:19-34

Ps 103:7-9

Teks: Nav Heidelbergse Kategismus Sondag 9

Preek

Sb 17:1-6

Gebed

Apostoliese Geloofsbelydenis (sing)

Kollekte

Ps 33:11 

Seën