Vader, Seun en Heilige Gees is elkeen God, en saam een God.

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2021-10-31
Teks: 
Heidelbergse Kategismus Sondag 8
Preek Inhoud: 

Kan ‘n mens regtig ‘n ander mens ken?

Ja en nee.

Ons praat elke dag so: Ek ken die en die goed.

Maar een mens kan nie ‘n ander mens se gedagtes lees nie.

Feit is dat mense mekaar nooit ten volle, omvattend, sal ken nie.

Dit neem nie weg dat mense mekaar kan vertrou nie.

 

As dit by mense die geval is, hoeveel te meer nie by God nie.

Kan ons God ten volle ken?

Nee, Hy gaan ons verstand verre te bowe.

Wat ons van Hom weet, is dit wat Hy self bekend gemaak het;

wat Hy self geopenbaar het, in sy Woord en in sy skepping.

Solank ons maar net onthou dat dit nog maar ‘n fraksie is van wie Hy regtig is.

As ons praat oor wie God is, moet ons dikwels ontkennende terme gebruik, soos:

onbegryplik, onsienlik, onveranderlik, oneindig – woorde wat die Nederlandse Geloofsbelydenis byvoorbeeld in artikel 1 gebruik.

Telkens moet die mens sy kop skud:

Nee, dit weet ek nie oor God nie.

Nee, dit verstaan ek nie.

God is net te groot vir my verstand.

Hy pas nie in die boksies wat ons op aarde maak nie.

Hy laat Homself nie in een van ons sisteme vasvang nie.

God is altyd groter, Hy is altyd heerliker, Hy is altyd oneindiger, Hy is altyd nog magtiger, Hy is altyd ... en so kan mens voortgaan.

 

Gemeente, dit is belangrik om te besef – en daarom begin ek die preek hiermee.

As ons in hierdie preek gaan fokus op sy Drieëenheid, laat ons dit nie doen met die houding asof ons nou besig is om te verklaar wie God is, en hoe Hy is nie.

Laat ons dit nie doen met die houding: Ons verstaan God, terwyl die mense buite die kerk Hom nie verstaan nie.

Juis hier in die kerk moet ons nog nederiger wees, nog meer ontsag hê, nog versigtiger wees om dinge oor God te sê.

As ongelowiges jou uitvra oor God, moet hulle in jou stem ‘n huiwering hoor, dat jy versigtig is om oor Hom te praat.

Nie dat jy aan Hom twyfel nie, nie dat jy Hom nie vertrou nie, maar dat sy grootheid en almag jou op jou plek hou.

God is in die hemel, en jy is op die aarde.

Sê liewers te min as te veel oor Hom.

 

Geliefde gemeente, dit is met hierdie houding waarmee ons vandag aandag gaan skenk aan sy Drieëenheid.

Dit is nog soiets wat ons verstand te bowe gaan.

Nog soiets wat ‘n ongelowige wêreld nie in een van hulle boksies gedruk kry nie.

Dit pas nie in hulle wiskundige boksie nie, dit pas nie in hulle filosofiese boksie nie, dit pas in geen enkele boksie nie.

 

Ons houding is egter dat ons nounet gebid het vir die verligting van die Heilige Gees.

Dat Hy ons verstand verlig, dat Hy ons hart sag maak, dat Hy ons ‘n luisterende houding gee.

Ons sit dus hier in die kerk met die intensie dat ons ons eie boksies buite die kerk gelos het, dat ons oop staan vir dit wat die Heilige Gees vandag vir ons uit Christus se Woord wil leer.

Ons is bymekaar rondom sy Woord.

Ons gaan slegs luister na wat sy Woord vir ons openbaar oor God Drieënig.

As dit nie in die Bybel gestaan het nie, sou niemand van ons op daardie gedagte gekom het nie.

Sy Woord spreek egter daarvan, en daarom moet ons ‘n luisterhouding hê.

Nederig aanvaar dat daar drie Goddelike Persone is, maar terselfdertyd een God.

Kom ons kyk hoe die Skrif dit aan ons openbaar.

 

Tema: Vader, Seun en Heilige Gees is elkeen God, en saam een God.

 

As ons bely dat Vader, Seun en Gees elkeen God is, wat bedoel ons daarmee?

Of eerder: Wat bedoel die Skrif daarmee?

Wel, die Skrif openbaar aan ons hoe God is.

En dan nogmaals, nie volledig nie.

Maar wat God self besluit het om aan ons te openbaar, dit staan daar.

Wat God graag wil weet ons moet oor Hom weet, dit het Hy geopenbaar.

En die Skrif se onderwys oor sy Godheid kan ons in die volgende vier hoofaspekte saamvat:

 

1 Goddelike name

2 Goddelike eienskappe

3 Goddelike werke

4 Goddelike eer

 

Kom ons kyk nou na elkeen van hulle.

 

1 Goddelike Name

God Drieënig ontvang in die Bybel Goddelike Name.

Inderdaad, dit geld vir elkeen van hulle – Vader, Seun en Heilige Gees.

In Exodus 3:6 sê God die Vader vir Moses:

“Ek is die God van jou vader, die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob. Toe het Moses sy aangesig verberg, want hy was bevrees om God aan te sien.”

In Jesaja 45 sê die HERE, dit is God die Vader, by herhaling: “Ek is die HERE, en daar is geen ander nie; buiten My is daar geen God nie.” (vers 5)

Die Vader word God genoem.

 

Maar dieselfde geld ook vir Jesus Christus:

Dink aan Johannes 1:1: “In die begin was die Woord ... en die Woord was God.”

Dink aan Johannes 20:28 waar Thomas bely: “My Here en my God.”

Dit staan nie hier as Thomas se mening nie, dit is opgeskryf in die Evangelie as synde die waarheid.

En dink aan Romeine 9:5, waar Paulus oor Christus skryf: “Hy wat oor alles is, God, lofwaardig tot in ewigheid!”

En in Openbaring 1:5 word Christus die “Owerste oor die konings van die aarde” genoem.

Goddelike name wat Christus dus ontvang in die Skrif.

 

En dieselfde geld vir die Heilige Gees.

In Handelinge 5 lees ons dat Ananias vir die Heilige Gees gelieg het.

En dan sê die apostel Petrus: “Jy het nie vir mense gelieg nie, maar vir God.” (vers 3-4)

 

Broer, suster, laat ons so na God Drieënig toegaan in ons gebed.

Nederig, want hulle is aldrie God, en ons spreek hulle aan met Goddelike name.

Aan Hulle kom toe die Naam wat bo alle name is.

Geen mens mag ons God noem nie.

As ‘n mens toelaat dat ander hom God noem, roep Hy die ware God se straf onvermydelik oor homself af.

Dink aan wat met Herodes gebeur het, toe die skare in verering hom toegeroep het:

“’n Stem van ‘n god en nie van ‘n mens nie!” (Hand 12:22)

En, lees ons in die vers daarna: “onmiddelik het ‘n engel van die Here hom getref, omdat hy die eer nie aan God gegee het nie, en hy is deur wurms verteer en het gesterwe.” (Hand 12:23)

Daarenteen het Paulus en Barnabas, toe die mense van Listre uitroep “Die gode het soos mense geword en neergedaal na ons toe”, en toe die mense vir hulle wou offer, tussen hulle ingespring en geskreeu:

“Ons is net sulke mense soos julle, en ons verkondig die evangelie dat julle jul van hierdie nietige dinge moet bekeer tot die lewende God wat die hemel en die aarde en die see en alles wat daarin is, gemaak het.” (Hand 14:11-15)

Gister, vandag en in die toekoms is daar slegs een wat Goddelike Name toekom, dit is God Drieënig.

Ons gaan verder met die Skrif se onderrig oor die Godheid van Vader, Seun en Gees.

 

2 Goddelike Eienskappe

Die Skrif noem verskeie eienskappe wat tipies is vir Iemand wat God is.

Dink aan om alomteenwoordig te wees, om ewig te wees, ongeskape, onveranderlik, almagtig, alwetend, oneindig.

Oor God se alomteenwoordigheid lees ons byvoorbeeld in Jesaja 57:15: “Ek woon in die hoogte en in die heilige plek en by die verbryselde en nederige van gees.”

God woon in die hemel, en in sy tempel, ja selfs by elke gelowige.

Dink aan God se alwetendheid in Psalm 139: “HERE, U deurgrond en ken my. U ken my sit en my opstaan; U verstaan van ver my gedagte. U deurvors my gaan en my lê, en U is met al my weë goed bekend. Want daar is nog geen woord op my tong nie – of U, HERE, U ken dit geheel en al.” (vers 1-4)

Alomteenwoordig, alwetend, dit is dinge waartoe ’n mens nie in staat is nie.

 

Maar dit geld nie net vir die Vader nie.

Ook oor die Seun openbaar die Skrif dat Hy Goddelike eienskappe het.

Dink aan die feit dat Hy ewig is, byvoorbeeld Johannes 8:58: “Voorwaar, voorwaar, Ek sê vir julle, voordat Abraham was, is Ek”

Op daardie stadium was Abraham al tweeduisend jaar gelede oorlede.

As Jeus net ’n mens was, sou Hy dit nie kon sê nie.

Dink ook aan wat Christus aan Johannes in Openbaring openbaar:

“Ek is die Alfa en die Omega, die begin en die einde, sê die Here, wat is en wat was en wat kom.” (Open 1:8)

En daar kan nog veel meer Goddelike eienskappe van Christus genoem word.

Ook Hy is alwetend, ongeskape, onveranderlik, ensovoorts.

 

En dan kom ons weer by die Heilige Gees.

Is Hy net ’n verlengde van, ’n krag wat van God uitgaan?

Nee, ook Hy is ’n Persoon met Goddelike eienskappe.

Ons keer terug na Psalm 139, waar die digter vra:
“Waar sou ek heengaan van u Gees en waarheen vlug van u aangesig? Klim ek op na die hemel, U is daar; en maak ek die doderyk my bed, kyk U is daar! Neem ek die vleuels van die dageraad, gaan ek by die uiteinde van die see woon, oor daar sou u hand my lei en u regterhand my vashou.” (vers 7-10)

Ja ook die Gees is alomteenwoordig.

 

Broer, suster, is dit nie ’n heerlike gedagte nie?

Die Heilige Gees se regterhand hou jou vas, tot aan die einde van die aarde, tot aan die uiteinde van die see.

God bly mét jou waar jy ook mag gaan ...

Die Gees kan met jou saamgaan, met elkeen van ons, want Hy is alomteenwoordig, dit is sy eienskap, want Hy is God.

Juis Vader, Seun en Gees se Goddelike eienskappe maak ons rustig.

Hulle laat ons besef dat daar Iemand is wat net soveel groter as ons is, wat ons in ons menslike nietigheid kan beskerm.

 

Ons gaan verder met die Skrif se onderrig oor God Drieënig:

Vader, Seun en Gees verrig Goddelike werke.

 

3 Goddelike Werke

Goddelike werke is dinge wat ons weet wat gebeur het of gebeur, maar wat geen mens kan doen nie.

Hoewel die mensheid daardie wete verdring, bly dit knaag aan hulle.

Iemand moes hierdie wêreld geskape het.

Dit is te groots vir ‘n mens om te gedoen het.

Dit is te goed beplan om toevallig te kon ontstaan het.

Elke ouer wat ‘n baba kry, sien met sy eie oë ‘n wonder gebeur, ‘n nuwe mens wat ontwerp en geskape is.

Ja God is Skepper.

Om te skep, om te skep uit niks, is ‘n Goddelike werk.

 

Nog ‘n Goddelike werk is al die wonders waaroor ons die Bybel lees.

Dink aan die 10 plae van Egipte.

Geen mens kan in ‘n oogwink alle riviere in bloed laat verander nie, en daarna dit terugverander nie.

Geen mens kan ‘n pad deur die see baan, en dit daarna weer op die regte oomblik toemaak nie.

Geen mens kan die son en maan laat stilstaan nie.

Geen mens het mag oor lewe en dood nie.

Geen mens kan ‘n dooie terugbring na die lewe nie.

Dit is alles Godswonders waaroor ons in die Ou Testament lees – Goddelike werke.

Daaruit blyk dat Hy, die Vader, God is.

Dink aan wat Darius bely het, nadat hy met sy eie oë gesien het hoe God die leeus se monde toegesluit het, en Daniël ongedeerd uit die leeukuil gekom het – Daniël 6:27:
“Deur my word bevel gegee dat hulle in die hele magsgebied van my koninkryk moet bewe en sidder voor die God van Daniël, wat Hy is die lewende God en Hy bestaan in ewigheid en sy koninkryk is een wat nie vernietig kan word nie en sy heerskappy duur tot die einde toe.”

As ‘n heiden dit sê in reaksie op God se wonders, hoeveel te meer nie ons, sy kinders, nie!

 

Maar, weer eens, gemeente, dit is nie net die Vader wat Goddelike werke verrig nie.

Die Skrif openbaar ook die Goddelike werke van die Seun.

Ook die Seun is Skepper.

Deur die Seun het God die wêreld gemaak – Hebreërs 1:2.

En die Bybel is vol van Christus se wonderwerke, dinge wat mense nie in staat is om te doen nie.

Hy het op die water geloop, en ander op die water laat loop.

Hy het mag gehad oor die visse in die See van Galilea.

Hy het op onverklaarbaar wonderlike wyse voedsel verskaf, vyf brode en twee vissies oneindig vermeerder.

Hy het mag oor siektes en bose geeste.

Verlamdes laat Hy weer loop, blindes laat Hy sien.

Net soos die Vader het Hy mag oor lewe en dood.

Verskeie mense het Hy uit die dood opgewek.

Ja Hy het self uit die dood opgestaan.

In die lig van al sy wonderwerke, wie sal dan nog twyfel?

Johannes sluit sy Evangelie soos volg af:

“Nog baie ander tekens het Jesus voor sy dissipels gedoen wat in hierdie boek nie beskrywe is nie; maar hierdie is beskrywe, dat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God; en dat julle deur te glo die lewe kan hê in sy Naam.” (Joh 20:30-31)

 

En dan laastens weer, bewys ook die werke wat die Gees doen, dat Hy God is.

Ook die Gees is Skepper.

Sy skeppende aktiwiteit word reeds in Genesis 1:2 genoem.

In Psalm 33 sing ons oor die Skepper Gees:

“Deur die Woord van die HERE is die hemele gemaak, en deur die Gees van sy mond hulle hele leër”, waarmee hier bedoel word die son, maan en sterre.

 

En dan, behalwe vir sy skeppende werk, is daar nog ‘n werk wat die Skrif spesifiek oor die Gees openbaar.

Dit is sy herskeppende werk.

Die Gees is die Vernuwer van die aarde.

Dit is Hy wat die gelaat van die aarde nuut maak, elke lente weer (Ps 104:30).

Die Gees is by uitstek die Een wat nuut maak.

En dan nie net die jaarlikse seisoene nie.

Die toekomstige herskepping van hierdie sondige en stukkende aarde is in sy bekwame hande.

 

En dan, nog ‘n laaste Goddelike werk wat ek wil noem, en ook dit geld vir Vader, Seun en Heilige Gees, is om te seën.

Seën is iets wat net God kan doen.

Wat beteken dit, as een mens vir ‘n ander sê: Ek seën jou?

Wel, dit het nie veel om die lyf nie.

‘n Mens ken nie die toekoms nie.

Hy weet nie of sy seënwoord enigsins iets in die toekoms sal beteken nie.

Maar God, wat die toekoms ken, wat almagtig is, wat self die toekoms laat gebeur soos Hy dit wil, Hy is in staat om te seën.

Hy seën en dit geskied.

Daarom mag ons elke Sondag weer in geloof, in vaste vertroue, God Drieënig se seën ontvang, wetende dat Hy dit waar kan en waar sal maak.

2 Korinthiërs 13:13: “Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sy met julle almal!”

Hierdie Bybelvers is seker, as mens nou ‘n vers en kapittel soek as bewysteks vir die Drieënheid, seker een van die duidelikstes.

Al drie Persone word hier saam genoem, al Drie wat saam ‘n Goddelike werk verrig, al Drie saam seën ons.

 

Die feit dat Vader, Seun en Gees, Goddelike werke doen, maak ons ook rustig.

As mense is ons onmagtig, ons is tot soveel dinge nie in staat nie.

Maar ons het ‘n troue Held, wat ons tersyde staan, wat sy kinders tegemoet kom, telkens weer uitred deur sy Goddelike werke.

 

Ons kom nou by die laaste punt, maar geensins die mins belangrike nie:

Vader, Seun en Gees ontvang Goddelike eer.

 

4 Goddelike Eer

Daar is te veel voorbeelde om op te noem waar die Vader in die Bybel Goddelike eer ontvang.

Dink aan al die Psalms.

“Nie aan ons, o troue God, aan u Naam alleen gee eer! (Ps 115:1)

“Prys die Naam van onse HEER! Hef tesaam die lofsang aan! Loof sy goedheid, gee Hom eer” (Ps 135:1)

“'k Sal met my ganse hart, o HEER, U loof en eer, u hoogheid huldig” (Ps 138:1)

 

En wat vir die Vader geld, geld ook vir die Seun.

Tydens sy lewe op aarde het Hy al Goddelike eer ontvang.

Mense het voor Hom gekniel, en Hy het hulle nie verbied om dit te doen nie.

Want Hy het dit verdien.

En soveel te meer eer ontvang Christus noudat Hy opgevaar het na die hemel.

Hy word aanbid en toegesing as Koning van die konings.

Dink aan die Loflied aan die Lam in Openbaring 5:

“elke skepsel wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde en wat op die see is ... het ek hoor sê: Aan Hom wat op die troon sit, en aan die Lam kom toe die lof en die eer en die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid!” (vers 13)

Eer aan die Lam, wat Christus is.

 

En wat vir Vader en Seun geld, geld ook vir die Gees, wat eweneens Goddelike eer ontvang.

Net om nog een voorbeeld te noem.

Elke kind in die kerk word gedoop in die Naam van die Vader, Seun en Heilige Gees.

Om in iemand se naam gedoop te word, is ook ‘n eer wat ‘n mens nie toekom nie.

Ek weet, daar was tye in die ZCC – die grootste godsdienstige groepering in Suid-Afrika – dat mense gedoop is in die naam van die stigter van hierdie beweging, in die naam van Lekganyane.

Dit is aanmatigend, dit is ‘n eer wat geen mens toekom nie.

 

Geliefde gemeente, ek kom tot ‘n finale konklusie.

Die Skrif openbaar aan ons ‘n viervoudige getuienis oor Vader, Seun en Heilige Gees se Godheid.

Hulle Goddelike name, eienskappe, werke en eer.

Laat ons in eerbied voor God Drieënig buig.

Lê jou lewe in sy hande.

Dien Hom met alles wat jy is en het.

Ons kan Hom nie verstaan of deurgrond nie.

Maar ons ken Hom soveel as wat Hy Hom in sy Woord en skepping kenbaar maak.

Dit is vir ons genoeg, oorgenoeg.

 

Vandag se Kategismuspreek was inderdaad ‘n leerpreek uit die Skrif.

Die Skrif leer ons dat Vader, Seun en Heilige Gees elkeen God is, en ook saam een God is.

Dit is egter nie dorre waarhede wat ons geleer het nie.

Want ons het geleer van daardie God wat ons ken, liefhet en vereer.

Daardie God, waar elke Persoon in aksie gekom het en kom vir ons saligheid.

Ja in hierdie preek het die Vader sentraal gestaan.

Hierdie preek was Patrosentries.

En in hierdie preek het die Seun sentraal gestaan.

Hierdie preek was Christosentries.

En in hierdie preek het die Gees sentraal gestaan.

Hierdie preek was Spiritosentries.

En die bedoeling is natuurlik dat deur die prediking jou lewe ook so word.

Nie sy Drieëenheid bevraagteken, omdat dit nie in jou boksies pas nie.

Maar vervuld van verwondering, Hom aanbid, Hom dien en eer.

Amen.

 

Voedingsriglyne:

Om hierdie preek te verwerk en uit elke aspek daarvan te leer, volg hier ‘n paar vrae. Die antwoord kan in die preek gevind word, en sommige vrae vereis ook persoonlike oordenking.

  1. Hoekom wil mense altyd alles in hulle eie boksies inpas?
  2. Watter viervoudige getuienis gee die Skrif dat Vader, Seun en Gees God is?
  3. Noem ‘n Goddelike eienskap wat Vader, Seun en Gees het.
  4. Noem ‘n Goddelike werk wat Vader, Seun en Gees doen.
  5. Noem ‘n Bybelvers waarin sowel Vader, Seun as Gees Goddelike eer ontvang.
  6. Hoe bewerk Vader, Seun en Gees, elkeen op unieke wyse, jou saligheid?

 

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 139:1,2,3

Gebed

Skriflesing: Jesaja 45:5-8; Psalm 139:1-12; Johannes 20:26-31; Openbaring 5:9-14

Ps 139:4,6

Teks: Nav Heidelbergse Kategismus Sondag 8

Preek

Ps 115:1 & Ps 135:1 & Ps 138:1

Gebed

Geloofsbelydenis van Athanasius

Ps 104:17,18,20,21

Kollekte

Ps 138:3,4

Seën