Ouderlinge sorg al lerende vir die kudde van die Here Jesus.

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Pretoria
Datum: 
2021-10-03
Teks: 
Efesiërs 4:11
Preek Inhoud: 

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Ons kerkorde bevat in die voorlaaste artikel ‘n baie bekende en belangrike beginsel. Hierdie artikel (artikel 83) lui soos volg: “Geen kerk mag oor ander kerke, en geen ampsdraer oor ander ampsdraers, op watter manier ook al, heers nie.” Geen ampsdraer mag op watter manier ook al oor ‘n ander ampsdraer heers nie. Dus, geen hiërargie in die kerk nie. Dit is ‘n beginsel wat vanaf die tyd van die Reformasie teenoor die Roomse hiërargie van pous, kardinale, aartsbiskoppe, biskoppe, en priesters gehandhaaf is. Om hierdie beginsel eenvoudig te maak vir ons kinders: as jy sou vra wie die baas in hierdie gemeente is, dan is die antwoord: nie een van ons nie. In die woorde van artikel 31 van die NGB: “ons is almal dienaars van Jesus Christus – die enigste algemene Opsiener en die enigste Hoof van die kerk.”

En tog, hoewel ons ampsbeskouing in beginsel anti-hiërargies is, blyk dit dat daar in die praktyk tog nog dikwels ‘n hardnekkige vorm van hiërargiese denke bestaan. Ek het reeds in die preek oor die diakens gewys hoe hiërargies ons dikwels dink wanneer dit gaan oor die verhouding tussen diakens en ouderlinge: “laat hy maar eers diaken wees, en as hy dan ‘n bietjie ervaring opgedoen het, kan hy ouderling word” – asof diakenskap ‘n trappie is op na die ouderlingskap. Maar in die verhouding tussen ouderlinge en predikant dink ons baie keer ewe hiërargies: ouderlinge rapporteer naamlik op kerkraadsvergaderings dat lidmate openlik sê dat hulle meer waarde heg aan die besoek van die predikant as aan die besoek van die ouderling.

 

Die Skrif leer ons anders, broers en susters. Die Skrif ken nie die predikant-amp as ‘n aparte amp nie, en nog minder as ‘n aparte amp wat bo die amp van ouderling staan nie. Nee, die Skrif ken die amp van ouderling – punt! En as uitvloeisel van die ouderling-amp kom die spesiale opdrag van die predikant na vore. Die vertrekpunt van die Nuwe Testament is dus die ouderling-amp. Kyk maar wat leer Paulus ons in 1 Timotheus 5:17: “Laat die ouderlinge wat goed regeer, dubbele eer waardig geag word, veral die wat arbei in woord en leer.” Veral die wat arbei in woord en leer: die klem in hierdie sin val nie op ‘woord en leer’ nie, maar op arbei – ‘n Griekse woord wat beteken “om baie hard te werk” of “om te swoeg” – dit is die enigste manier hoe vers 18 sin kan maak (want daar gaan dit oor die onderhoud en vergoeding vir diegene wat swoeg in die woord en die leer). Dus, woord en leer is die taak van alle ouderlinge, alle ouderlinge is veronderstel om deur woord en leer te regeer, maar daar is sommige vir wie dit ‘n voltydse taak is: en húlle staan onder ons bekend as predikante. Hou dit vas: die predikant is ‘n ouderling... maar dan ‘n ouderling wat afgesonder is om voltyds te arbei en te swoeg in die taak van woord en leer, van prediking en onderrig. Maar onthou dan: prediking en onderrig is nie eksklusief die predikant se taak nie, dit is ook die taak van elke ander ouderling, maar met dié verskil dat die predikant hom voltyds aan hierdie taak wy. En daarom gaan ons in hierdie kort reeks oor die ampte nie op die predikant fokus nie; ons is nie dominees-kerke nie. Dit sal vir ons baie vrugbaarder wees om ‘n gesonde begrip te hê van die amp en die taak van die ouderling. En dit is waarop ons vandag gaan fokus.

Tema: ouderlinge sorg al lerende vir die kudde van die Here Jesus.

 

In die Nuwe Testament word die ouderling-amp, in teenstelling tot die diaken-amp (diakonos = dienaar), met ‘n verskeidenheid van name aangedui. Die mees bekende (mees voor die handliggende) is natuurlik die naam ‘ouderling’ of ‘oudste’ (presbiter in Grieks). Dit is ‘n naam wat baie sterk die kontinuïteit met die oudste in die Ou Testament beklemtoon – regdeur die Ou Testament speel die oudste ‘n prominente rol, en die ouderling van die Nuwe Testament sit daardie rol voort. Hierdie naam dui aan dat die amp van ouderling, hoewel nie noodwendig met leeftyd nie, wel met ‘n sekere lewenservaring te make het. Dan is daar die naam “opsiener” – in Grieks ‘episkopos’, wat in die loop van die geskiedenis verbaster het tot die Roomse ‘biskop’. Waar die naam ‘presbiter’ sy agtergrond in die Jodendom van die Ou Testament het, kom die naam ‘episkopos’ meer uit die Griekse wêreld, en het dit gedui op iemand wat toesig moes hou of inspeksie moes doen.

Nou, hierdie twee name (presbiter en episkopos, ouderling en opsiener) word in die Nuwe Testament dikwels as sinonieme gebruik. In Handelinge 20:17, byvoorbeeld, laat Paulus die ouderlinge (die presbiters) van die gemeente in Efese bymekaar kom, maar dan sê hy vervolgens in vers 28 dat hulle as opsieners (episkopos) oor die gemeente aangestel is. Dieselfde sien ons in Titus 1 – in vers 5 beveel Paulus vir Titus om ouderlinge (presbiters) in elke stad aan te stel, en in vers 7 wys hy vervolgens waaraan so ‘n ouderling moet voldoen, maar dan noem hy hom ‘n opsiener (episkopos). Sien u, sonder probleme wissel Paulus van presbiter na episkopos – hulle verwys na dieselfde amp.

 

Ons kom egter by die hart van die ouderling-amp wanneer ons lees hoe hulle in ons teks genoem word. In Efesiërs 4, vanaf vers 7, gaan dit oor die gawes wat Christus aan sy gemeente gegee het. In vers 11 noem Paulus dan ‘n lysie met enkele van hierdie gawes. Eers noem hy die apostels, die profete en die evangeliste. Oor al drie hierdie gawes of ampte sou ons baie kon sê, maar dit is nie nou die tyd daarvoor nie. As laaste noem Paulus in vers 11 ook nog die herders en leraars. Hierdie twee name word in die Grieks slegs met een lidwoord voorafgegaan – daaruit kan ons aflei dat dit hier oor een groep gaan. Dus nie twee aparte groepe nie: aan die kant die herders, aan die ander kant die leraars – nee, een groep: die herders en leraars. Dit gaan oor dieselfde mense. En dan dink ons waarskynlik onmiddellik aan die predikante – immers, dis juis hulle wat in die volksmond ‘herders en leraars’ genoem word. As die gemeente vakant is, dan bid ons dat die Here ‘n nuwe ‘herder en leraar’ aan die gemeente sal gee. Maar uit die res van die Nuwe Testament is dit duidelik dat herderskap (dus, die sorg vir die kudde) en leraarskap (dus, om onderrig te gee) spesifiek eie is aan die taak van die ouderlinge! Onthou: die Nuwe Testament ken nie ‘n aparte predikant-amp nie. Die ouderlinge is die herder en leraars!

Wat die herderskap betref, kan ons dink aan Handelinge 20, waar Paulus in vers 28 aan die ouderlinge sê: “Gee dan ag op julleself en op die hele kudde waaroor die Heilige Gees julle as opsieners aangestel het om as herders die gemeente van God te versorg.” Dink ook aan Petrus se vermaning in 1 Petrus 5:1-2: “Ek vermaan die ouderlinge onder julle ...: Hou as herders toesig oor die kudde van God wat onder julle is.” Die ouderlinge is die herders van hierdie gemeente, broers en susters! Maar húlle is ook die leraars – om onderrig te kan gee is immers een van die uitstaande kenmerke van die ouderlinge. Ons het in 1 Timotheus 3:2 gelees dat ouderlinge bekwaam moet wees om te onderrig. En wat in 1 Timotheus 3 baie kort aangedui word, vind ons in Titus 1:9 meer uitgebreid terug: ‘n ouderlinge moet iemand wees “wat vashou aan die betroubare woord wat volgens die leer is, sodat hy in staat kan wees om met die gesonde leer te vermaan sowel as om die teësprekers te weerlê.”

 

Dus, die ouderlinge is die herders en leraars van die gemeente. Maar nou moet ons mooi verstaan: hierdie twee – die herderskap en die leraarskap – is nie twee aparte take van die ouderlinge nie; hy is nie aan die een kant herder en aan die ander kant leraar nie. Nee, hierdie twee is een, hulle het alles met mekaar te make: die ouderlinge is herders juis wanneer en juis omdat hulle die skape onderrig. Al lerende sorg die ouderlinge vir die kudde van die Here Jesus. Dit is so belangrik dat ons hierdie kombinasie sal raaksien: dit is met die Wóórd dat die ouderlinge herders is. Die Woord – dis opmerklik dat Paulus in 1 Timotheus 3:1 ook daarmee begin. Nou, dit is effens jammer wat ons vertaling daarvan gemaak het; in ons vertaling lees ons: “Dit is ’n betroubare woord”, en dan volg daar ‘n dubbelpunt (:). Daardeur lyk dit asof dít wat nou gaan volg die betroubare woord is: as iemand na ‘n opsienersamp verlang, begeer hy ‘n voortreflike werk. Maar dis nie reg nie, gemeente. ‘Betroubare woord’ is ‘n vaste uitdrukking wat ons so 5 of 6 keer in die pastorale briewe (Paulus se twee briewe aan Timotheus en sy brief aan Titus) teëkom. En die heel eerste keer is in 1 Timotheus 1:15, waar ons lees: “Dit is ‘n betroubare woord en werd om ten volle aangeneem te word, dat Christus Jesus in die wêreld gekom het om sondaars te red, van wie ek die vernaamste is.” Ja, dís die betroubare woord! En elke keer daarna wanneer Paulus hierdie uitdrukking weer gebruik, dan gee hy nie die hele inhoud nie, maar hy gee net die verkorte weergawe: dit is ‘n betroubare woord. Maar dan moet die leser die inhoud van daardie betroubare woord by dink, veronderstel: Christus het in die wêreld gekom om sondaars te red! Dis die betroubare woord, dis daardie woord wat die opsienersamp so begeerlik en mooi maak, dís die woord wat die ouderlinge aan die kudde mag leer: jy is ‘n sondaar, maar jy is gered deur Jesus Christus! Broers ouderlinge, dis die woord waarvan julle self deurdronge moet wees, en wat julle aan die skape mag oordra. Só is julle waarlik herders!

 

En dit gebeur op verskillende maniere. Kyk weer na Titus 1:9: ‘n ouderling is iemand “wat vashou aan die betroubare woord” [daar het ons hom: die betroubare woord – en dink dan die inhoud daarby: die reddende genade van Jesus Christus]. Maar wat doen die ouderling met hierdie betroubare woord? Wel, kom ons lees verder in Titus 1:9: ‘n ouderling is iemand “wat vashou aan die betroubare woord wat volgens die leer is, sodat hy in staat kan wees om met die gesonde leer te vermaan sowel as om die teësprekers te weerlê.” Vermaning en weerlegging: hier het ons ten minste twee maniere waarop ouderlinge die reddende woord kan spreek. In 2 Timotheus 3:16 (nog ‘n gedeelte uit een van die pastorale briewe) brei Paulus selfs nog meer uit; daar sê hy: “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid. Sien u, hierdie betroubare woord van Christus se reddende werk vir sondaars word op verskillende maniere uitgedra. Dis nie maar altyd net: Jesus Christus het gekom om jou te red nie. Nee, wanneer ‘n lidmaat onkundig is oor hierdie boodskap, dan moet die ouderlinge dit vir hom of haar léér – wat beteken die evangelie van redding? Wwanneer iemand dreig om af te dwaal of hardnekkig in sonde volhard, dan moet die ouderling met hierdie selfde boodskap van genade vermáán – bekeer jou van jou verkeerde weg, en dan is daar vir jou vergifnis deur Jesus Christus! Wanneer dwaalleer die gemeente bedreig, dan moet die ouderling met hierdie boodskap die dwaalleer weerlê – nee, hierdie leer is teen die evangelie van vrye genade. Wanneer iemand in die gemeente ly en swaarkry, dan moet die ouderling met hierdie boodskap troos en bemoedig – onthou wat Christus vir jou gely het, moenie moed verloor nie, moenie perspektief verloor nie, hou aan! Maar op al hierdie maniere – of dit nou lering, vermaning, weerlegging, vertroosting is – gaan dit altyd oor die een boodskap: Christus Jesus het in die wêreld gekom om sondaars te red.

Hierdie boodskap moet die ouderling in die openbaar en in die huise bring (kyk maar na Paulus se voorbeeld in Handelinge 20:20). En dit beteken dat wanneer die ouderling in jou huis kom, dan kom hy nie maar met sy boodskappie nie. Nee, hy moet die betroubare woord bring, dis waar, maar dit moet afgestem wees op jou omstandighede! Hy moet kom luister, hy moet kom vra, hy moet jou geloof en jou lewe kom proe, hy moet julle gesinslewe kom ontdek. Hy moet jou kinders se name ken, weet watter werk jy doen, waarmee jy worstel, wat julle geniet om te doen. Sodat hy kan weet: moet ek onderrig? Moet ek vermaan? Moet ek bemoedig? Ouderlinge kan nie maar net in die lugleegte ‘n Skrifgedeelte voorberei sonder om te weet wat in daardie betrokke huis speel nie. Hulle kan nie met die betroubare woord kom vermaan asof jy huweliksprobleme het, maar intussen worstel jy met die dood van ‘n geliefde en het jy vertroosting nodig nie; hulle kan nie met die betroubare woord dwaalleer kom weerlê, terwyl jy dalk iemand is wat onderrig nodig het omdat jy die boodskap van die evangelie nog nie na behore verstaan nie. Ouderlinge moet die Skrifte so goed ken, dat hulle weet watter woord om in watter omstandighede te spreek; hulle moet die Skrifte so goed ken, dat hulle selfs aan die einde van ‘n besoek kan besluit om iets anders te lees as wat hulle aanvanklik beplan het. Dit vra van ouderlinge dat hulle goed toegerus is. Toegeruste leraars!

 

In sy brief aan die Hebreërs spreek die outeur sy besorgdheid juis hieroor uit. Hy meen dat sy lesers teen hierdie tyd al leraars (dieselfde woord as in ons teks) moes gewees het. Maar in plaas daarvan dat hulle leraars is, moet iemand weer vir hulle die eerste beginsels van God se woorde leer. Sy lesers kan nie die vaste kos hanteer nie, hulle kan slegs melk drink. En melk is vir kinders, vir suigelinge. Vaste kos is vir volwassenes, hulle wat oor die aanvoeling beskik, deur gewoonte geoefen, om te kan onderskei tussen goed en kwaad. Broeders ouderlinge, het ons hierdie vermoë, hierdie aanvoeling? Is ons volwassenes wat ook ander kan leer, of het ons administratiewe beamptes geword? Dit beteken nie dat jy alles van die Bybel hoef te weet of honderde teksverse uit jou kop hoef te kan opsê nie. Dis ook nie verkeerd om ‘n slag te sê: ek weet nie, ek gaan ‘n bietjie oplees, dan kom ek terug na jou toe. Maar weet ons hoe om met die Skrifte te werk – ken ons die lyne in die Bybel? Weet ons hoe en waar om te soek wanneer daar sekere vrae aan ons gestel word? Kan jy jou kennis van die Skrifte ook wys toepas op die situasie voor jou? Want saam met die kennis gaan natuurlik die aanvoeling – jy kan al die kennis hê, maar as jy die aanvoeling mis, as jy die onderskeidingsvermoë mis, dan gaan jy sukkel om die kudde goed te versorg. Het ons dit? Oefen ons onsself deur ‘n sekere roetine (‘deur die gewoonte geoefen’, soos die Hebreërskrywer sê)?

Dieselfde wil ek vra vir die jonger broeders, wat dalk nou vir die eerste keer op tal is, of wat dalk binne die volgende paar jaar op tal gaan wees. Deur die gewoonte geoefen – het jy die gewoonte om jouself so te oefen? Bestudeer jy op ‘n gereelde basis die Bybel? Lees jy goeie ekstra materiaal? Besoek jy op ‘n gereelde basis die Mannevereniging of ‘n ander Bybelstudie? ‘n Gewoonte ontstaan nie deur dit een of twee keer te doen nie; ‘n gewoonte kom deur roetine en herhaling. En jy kan nie wakkerskrik die dag wanneer jy op tal kom nie. Dit is iets waarmee jy nou alreeds moet begin. Want as die ouderlinge – die herders en leraars – nie meer met die Woord die kudde kan versorg en lei nie, wat gaan van die kudde word?

 

Sien u, broers en susters, hoeveel klem ek plaas op die betroubare woord? Want dis die wapen van die ampsdraer; dis sy gereedskap. Wanneer Paulus in 1 Timotheus 5:17 praat van die ouderlinge wat goed ‘regeer’, dan gaan dit nie oor manne wat goeie besluite kan neem oor watter kleur die mure moet wees of hoe laat die katkisasies moet begin nie. Nee, die ‘regeer’ van die eerste deel van vers 17 het alles te make met die ‘woord en leer’ van die tweede deel. Ouderlinge regeer deur die Woord! En daarin lê dan ook die gesag van hulle amp. Slegs vanuit hierdie perspektief kan ons verstaan wat die Hebreërskrywer in die laaste hoofstuk van sy brief sê. Hebreërs 13:7: “Gedenk julle voorgangers wat die woord van God aan julle verkondig het...” Hier gaan dit veral oor voorgangers uit die verlede – laat ons hulle eer vir hulle arbeid. Maar vers 17 van Hebreërs 13 trek ons na die hede: “Wees gehoorsaam aan julle voorgangers en onderdanig...” Dis moeiliker – gehoorsaam en onderdanig aan ‘n man (ook al is hy ‘n ouderling) wat tien of twintig jaar jonger is as ek? Moet ek na hom luister wanneer hy my vermaan, wanneer hy my aanspreek oor my huwelik, oor my optrede, oor my woorde? Maar onthou dan, broers en susters, die gesag van die amp lê nie in die eerste plek in die amp as instelling nie, maar in die Woord! Wanneer jou ouderling met die Woord van die Here kom, dan vra dit van jou om jouself daaronder te stel, om daardie gesagvolle woord vir jou lewe te aanvaar – ook al is daardie ouderling in baie opsigte gebrekkig, en ook al is hy nie jou gunsteling nie.

 

Só, broers en susters, wil die Here sy gemeente bou. Nie deurdat alles glad verloop nie, nie deurdat alles in die gemeente professioneel gedoen word en daar nie foute gemaak word nie. Nee, deur die Woord! En daarin speel jou ouderling ‘n sekere rol. Verlang na sy koms – hy waak immers oor jou siel. Eis van hom die Woord – dis waarop jy reg het. Wees geduldig met hom – hy is net soos jy deel van die kudde. Bid vir hom – hy het dit nodig. Die ouderling-amp is ‘n kosbare skat wat ons almal saam mooi moet oppas. En as jy wil weet wat die taak van die predikant is? Gaan lees dan weer hierdie preek oor die ouderling-amp – want hy is uiteindelik niks anders as dit nie: ‘n ouderling.

Amen

Liturgie: 

Votum Ps. 121:1

Seëngroet: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.

Sing Ps. 75:1, 2 en 4

Wetslesing

Gebed 

Sing Ps. 32:1-3

Lees:    1 Timotheus 3:1-7

            Titus 1:5-9

            Hebreërs 5:11-14

Sing Ps. 119:37 en 48

Teks: Efesiërs 4:11 (lees Ef. 11-16)

Preek

Gebed

  • Sluit gebed af met Skr. 49:5-7

Kollekte

Slotsang Ps. 80:1, 2, 10

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen. / Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.