Die HERE bewaar sy oogappel

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2021-10-03
Teks: 
Psalm 17
Preek Inhoud: 

Preek: Psalm 17

 

Wie is jou oogappel?

Oogappel, dit het ‘n spreekwoord geword, vir iemand wat baie spesiaal, baie dierbaar, vir jou is.

Iemand wat jy met ‘n valkoog beskerm.

In hierdie Psalm vra Dawid vir die HERE om sy oogappel te wees.

Het jy dit al aan die HERE gevra – dat jy sy oogappel mag wees?

Of voel jy dalk te onbelangrik om dit te wees?

Dink jy, daar is sekerlik ander mense wat meer kans staan om God se oogappel te wees ...

Hoeveel oogappels het God eintlik?

Dit is klaarhelder, natuurlik, dat sy eie Seun, Jesus Christus, God se oogappel is.

Maar het hy, behalwe vir Hom, nog meer oogappels?

 

Kom ons kyk vandag, gemeente, na Psalm 17, en watter boodskap die HERE daarin vir ons het.

Ek verkondig vir u die Evangelie uit Psalm 17 met die volgende tema:

 

Tema: Die HERE bewaar sy oogappel

 

Psalm 17 is een van die sogenaamde onskuldpsalms.

Dawid probeer die HERE oortuig dat hy onskuldig is.

Hoekom doen hy dit?

Dit lyk of Dawid wanhopig is.

Sien God hom nog wel raak?

Maak hy wel saak vir die HERE?

Het jy soms ook hierdie vrae?

Maak ek wel saak vir die HERE?

Daar is soveel duisende der duisende mense op aarde ...

Sien God vir my nie oor die hoof nie?

Moet Christus nie duisende der duisende gebede verhoor nie?

Is daar iets besonders in my wat sy aandag sal trek, sodat Hy na my gebed sal luister en dit verhoor?

 

In vers vers 1-5 lê Dawid sy onskuld aan die HERE voor.

Doen hy dit as ‘n skynheilige mens, asof hy regtig sonder sonde is?

Nee, gemeente, dit gebeur in die konteks van die verbond.

Dawid roep God aan op sy verbondsnaam – HERE – Jahweh.

Toe die HERE sy verbond met sy volk in die Ou Testament gesluit het, was dit ‘n genadeverbond.

God het vantevore al geweet Hy sluit sy verbond met sondige mense.

Dit sou nie sin maak as Dawid nou probeer voorgee dat hy sonder sonde is nie.

Dan sou hy skynheilig wees, en God om die bos probeer lei, wat in elk geval nie moontlik is nie.

Maar waaroor dit gaan in die verbond, is dat God op integriteit aandring.

En daarop wys Dawid die HERE.

Hy beweer nie dat hy sondeloos is nie, maar wel dat daar integriteit in sy hart is.

 

Wanneer het Dawid hierdie Psalm, hierdie gebed, gedig?

Ons kan dink aan ‘n episode soos 1 Samuël 24, toe Saul vir Dawid agtervolg het.

Saul het vir Dawid gehaat en wou hom om die lewe kon bring.

Of ons kan dink aan die tyd toe Dawid reeds koning was.

 

En dan vanaf vers 6, die tweede deel van die Psalm, smeek Dawid die HERE om hom te red.

Tot drie keer herhaal hy dit.

Die HERE moet in sy hart kyk.

Dit waarvan die vyand hom beskuldig, is nie waar nie.

Dink aan 1 Samuël 24.

Hoewel Saul hom probeer vermoor het, het Dawid nie vir Saul gedood nie, selfs al kon hy daardie een nag.

Maar Dawid laat die straf in God se hande.

En toe hy koning was, al was hy sondig en nie volmaak nie, het hy tog met integriteit sy taak as koning probeer uitvoer, hy het onpartydig probeer regspreek.

Die HERE kan maar in sy hart kyk, daar is niks wat hy wegsteek nie.

Wat die mense teen hom het, dit is onbillik.

 

Net soos by Dawid, kan dit ook in ons lewe voorkom dat mense ons haat.

Jy kan ook haat ervaar juis omdat jy die HERE wil dien volgens sy Woord.

Mense beskuldig jou dat jy die Woord verdraai.

Maar jy is oortuig jy is onskuldig aan dit waarvan hulle jou beskuldig.

Jy is oortuig dat dit ontereg is.

Hulle beskuldig jou, sonder dat hulle bewyse het.

Dan roep jy in jou gebed:

HERE, kyk in my hart, ek verberg niks vir U nie.

Laat U my oordeel!

Daardie erge beskuldigings is nie waar nie.

HERE, beskerm my teen hulle haat!

 

Ook vers 7 is pragtige woorde in die konteks van die verbond.

Wees ‘n verlosser vir elkeen wie by u regterhand skuil vir teëstanders.

Die HERE het mos belowe dat hulle wie Hy in sy verbond opgeneem het, dat Hy hulle met sy regterhand sal beskerm.

 

En dan vers 8 – dit het seker die bekendste vers uit hierdie Psalm geword:

HERE, bewaar my soos ‘n oogappel.

‘n Mens se oog is baie kwesbaar – Dawid vergelyk homself daarmee.

God moet hom juis daarom ekstra beskerm.

Ons kom later weer terug by hierdie pragtige beeldspraak.

Dan, die tweede deel van die vers gebruik die sprekende beeld van vleuels.

Soos ‘n arend sy vleuels sprei oor sy kleintjies, om hulle teen die brandende son te beskerm.

Pragtige beelde waarmee Dawid op God se gevoelens inspeel.

 

Dan vanaf vers 9 kom die volgende deel van die Psalm.

Dit gaan oor teen wie die HERE hom moet beskerm.

Dit is die goddelose wat Dawid geweld aandoen.

Die term goddelose moet ons ook in die konteks van die verbond lees.

Die dui op hulle wat òf buite die verbond leef, òf hulle wat die verbond skend, wat dit geringskat, wat die oproep tot gehoorsaamheid aan die verbondsbepalings bewus oortree.

So dit gaan hier nie net oor Dawid se persoonlike vyande nie.

Dit gaan ook oor die HERE se vyand, hulle wat brutaal is teen die HERE, en vir die wat by die HERE skuil, teiken.

Daaroor kla Dawid:

Doodsvyande wat my omring.

Hulle het geen gevoel meer nie, hulle skrik nie daarvoor terug om ‘n moord pleeg nie.

Hy – hier gebruik Dawid enkelvoud – is soos ‘n leeu begerig om te verskeur.

 

Dan vanaf vers 13 kom die laaste deel van die Psalm: ‘n hernude oproep van Dawid dat die HERE moet opstaan, naamlik om te red en om te straf.

Om hom te red van die goddelose.

Laat God se swaard, sy almagtige hand, hom red van hierdie manne.

En laat God se straf op hulle neerdaal.

Vers 14, soos dit in ons Bybelvertaling staan, is moeilik om te begryp: vul U hulle buik met u verborge skat ...

Die 2020-vertaling is hier duideliker:

Vul hulle mae met u verborge straf ...

Dit gaan dus oor God se straf oor die vyande.

Laat daardie straf selfs die kinders en kleinkinders bereik.

Dit laat ons aan die bewoording van die tweede gebod dink: aan die derde en aan die vierde geslag van die wat My haat ... (Ex 20:5)

Dis nie dat die kinders en kleinkinders vir die ouers se sondes gestraf word nie.

Maar, as kinders en kleinkinders in dieselfde pad voortgaan as hulle goddelose ouers, laat dieselfde straf op hulle neerdaal.

Dis wat Dawid van die HERE vra.

Ons weet dat daar in die geval van Saul ‘n uitsondering was.

Want Saul se seun, Mefiboset, het nie voortgegaan op sy pa se pad nie.

En aan Mefiboset is genade bewys.

‘n Duidelike bewys dat God nie kinders vir hulle ouers se sondes straf nie.

Kinders staan wel direk onder invloed van hulle ouers se sondes.

En so sien mens dikwels, as God dit nie genadiglik verhoed nie, gaan kinders so dikwels verder in die sondige gewoontes van hulle ouers.

 

Dawid sluit die Psalm af met hoe hy uitsien na die uitkoms, die uitredding, nadat God ingegryp het.

Ek sal u aangesig in geregtigheid aanskou.

Ek sal versadig word met u beeld as ek wakker word.

Die laaste sin dui daarop dat hierdie moontlik ‘n gebed van Dawid kon wees, voordat hy gaan slaap het.

Angstig het hy die nag tegemoet gesien.

Moontlik was hy op die vlug, en moes sy kop êrens in die woestyn op ‘n klip neerlê.

Wat sou daardie nag met hom gebeur?

Sou ‘n roofdier hom kom wegsleep?

Nog erger, sou sy vyande soos ‘n roofdier hom onverwags uitoorlê?

Dawid lê sy lewe in God se hand.

Hy sien uit na die volgende dag, dat hy mag wakker word, en dankbaar versadig word met God se beeld – die bewys van God se teenwoordigheid in die feit dat hy gesond en uitgerus mog wakker word, sonder dat sy vyande iets aan hom gedoen het.

 

Hy jy dit soms, broer en suster, dat jy nie aan die slaap kan raak nie?

Ons het slaappille, wat ons verdoof, wat ons aan die slaap maak.

Ons het alarminstallasies om ons gerus te stel.

Maar onthou jy om te bid voordat jy gaan slaap, jou lewe in God se hande te lê?

Nie dat pille en alarms verkeerd is nie.

As ons dit maar as gawes van God sien, besef dat ons uiteindelike beskerming in God se regterhand lê.

Nie elke nag van sy lewe het Dawid in sulke omstandighede moes gaan slaap nie.

Maar daar was ‘n aantal waar hy regtig baie kwesbaar was – menslik gesproke – en tydens een van hulle is hierdie Psalm, hierdie gebed, uit sy hart gebore.

So het die Heilige Gees hom gebruik om hierdie juweel van ‘n lied te dig.

Dit is ‘n Bybellied wat bedoel is om ook vir ons te troos.

Veral as ons die Psalm sing.

In ons Psalmboek is ‘n pragtige beryming, en ‘n pragtige melodie.

“Net soos die appel van die oog,

Bewaar my so. Getrou’ en Sterke!

Oordek my met u eewge vlerke,

...” (Ps 17:4 – berymd)

 

Dawid wil weet of hy saak maak vir die HERE.

En dit wil jy en ek ook weet.

Maar ek wel saak vir die HERE?

Daar is soveel duisende der duisende mense vir wie Hy moet sorg ...

Sien Hy my nie oor die hoof nie?

Is daar iets besonders in my wat sy aandag sal trek?

 

Gemeente, wat Dawid hier doen, dit moet ons ook doen, elke keer as ons onseker raak.

Dawid gaan terug na God se eie woorde.

Met die uitdrukking “appel van die oog” herinner Dawid vir God naamlik aan sy eie woorde.

In Deuteronomium 32 lees ons oor die HERE:

“Hy het hom [dis sy verbondsvolk] omring, op hom ag gegee, hom bewaak soos sy oogappel.” (vers 10)

Die uitdrukking oogappel verwys na die pupil van jou oog.

As jy van baie naby in iemand se pupil kyk, sien jy jou eie refleksie.

En dis wat met die uitdrukking bedoel word.

Dawid moet op God se netvlies wees, hy moet in God se pupil wees.

So naby moet die HERE aan hom wees om hom te beskerm.

 

Is dit nie ‘n pragtige uitdrukking nie?

Ja, daar is tye in ons lewe wat hierdie woorde soos salf op wonde sal wees.

Daar is tye waarin ons haat en vyandskap ervaar.

En jy vra jouself dan af:

Is die HERE besig om my te tugtig?

Al die vyandskap teen my, stuur die HERE dit op my af omdat ek skynheilig is, omdat ek iets verkeerd doen?

Maak jou hart oop voor die HERE.

As daarin integriteit is, dan mag jy Hom ook oproep om jou te beskerm.

Integriteit is nie dat jy sondeloos is nie.

Maar dat jy op Christus vertrou, dat jy al jou sondes bely, en daarvoor vergewing vra in sy Naam.

As jy so vir Christus lewe, dan is jy onskuldig, net soos Dawid.

Sy onskuld word jou onskuld.

Danksy Jesus Christus is jy spesiaal vir God.

 

Uit jouself is jy nie onskuldig nie.

Maar Christus het dit vir ons moontlik gemaak.

Lewe vir Hom, maak elke dag gebruik van sy vergewing.

Ja danksy Christus mag jy en ek ook God se oogappel wees.

So naby is ons aan Hom, so fyn hou Hy ons dop.

Hy en elke verbondskind mag met hierdie troos deur die lewe gaan, soos die HERE deur die profeet Sagaria verseker:

“wie julle aanraak, raak sy oogappel aan.” (Sag 2:8)

En dan nie net in die hede nie, maar vir altyd.

 

Die Psalm sluit af met die bede:

Ek sal u aangesig in geregtigheid aanskou.

Ek sal versadig word met u beeld as ek wakker word.

Hierdie verse dui op die gevoel van dankbaarheid wat Dawid ervaar het, toe hy die volgende oggend sy oë oopgemaak het.

Maar nie net dit nie.

In Christus het hierdie verse ‘n nog soveel dieper betekenis gekry.

Vir Dawid, en vir elkeen van ons.

Daar kom ‘n dag dat ons liggaam ook uit die doodslaap sal wakker word.

En dan sal ons met ons eie oë die HERE se aangesig in geregtigheid aanskou.

Christus se geregtigheid waarborg dat ek rustig die doodslaap kan ingaan, met die seker wete:

As my liggaam eendag op God se tyd wakker word, sal ek met my eie oë sy aangesig aanskou, en dit in geregtigheid!

Sonder om vir Hom bang te wees, vir die hemelse Regter bang te wees, omdat Christus my geregtigheid is!

Ek sal versadig word met God se beeld, of mens kan oor vertaal: ek sal versadig word met God se verskyning.

Dit dui op die ewige volmaakte vreugde, as ons by God, en God by ons, sal wees, vir ewig.

Dit sal die volmaakte gevoel van versadiging gee.

Die dag as Christus na die aarde terugkom, alles herskep, en my uit my doodslaap wakker maak, my uit die graf laat opstaan.

As ek dan die oë oopmaak, mag ek weet: Al my vyande het verdwyn.

Hy, Christus, het hulle oorwin.

En ek is my God en Vader, my HERE, se oogappel, danksy my Heiland en Saligmaker.

Amen.

 

Voedingsriglyne:

Om hierdie preek te verwerk en uit elke aspek daarvan te leer, volg hier ‘n paar vrae. Die antwoord kan in die preek gevind word, en sommige vrae vereis ook persoonlike oordenking.

  1. Ken jy ‘n episode uit Dawid se lewe, waarby hierdie gebed (Psalm 17) goed sou gepas het?
  2. Wat word bedoel met ‘n sogenaamde onskuldspsalm?
  3. Twyfel jy of jy God se oogappel is?
  4. Is daar sondige gewoontes wat jy by jou ouers oorgeneem het?
  5. Watter diep betekenis kry die laaste vers van Psalm 17 danksy Jesus Christus?
  6. Bid vir die Here dat, as jou dag kom, jy rustig en getroos die doodslaap in mag gaan, met die vertroue dat jou siel direk by Hom sal wees, en jou liggaam eendag weer sal opstaan.

 

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 147:1,2

Wet

Ps 17:1

Gebed

Skriflesing: Psalm 17

Ps 17:5,6

Teks: Psalm 17

Preek

Ps 17:2,4

Gebed

Kollekte

Ps 17:3,7

Seën