God oordeel regverdig, maar is ook onverdiend barmhartig

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2021-09-19
Teks: 
Heidelbergse Kategismus Sondag 4
Preek Inhoud: 

Die eerste deel van die Kategismus, oor ons ellende, gaan terug na die begin, na die paradys en wat daar gebeur het.

Sondag 3 vertel hoe God die mens gesakpe het, goed en na sy ewebeeld.

Maar ook hoe die val en ongehoorsaamheid in die paradys plaasgevind het.

Sondag 4 gaan hiermee verder.

God doen die mens geen onreg as Hy in sy wet eis wat die mens nie kan doen nie.

God het hom naamlik so geskep dat hy dit kon doen.

Die mens het self onder aanhitsing van die duiwel, deur moedswillig en ongehoorsaam te wees, homself van die volmaaktheid beroof.

Die mens, nie net Adam en Eva nie, maar ook hulle hele nageslag.

 

En dan, in alle verdere hoofstukke van die Bybel, sien ons hoe waar dit is.

Hierdie woorde het vir elke mens wat daarna gebore is gegeld, elke mens wat ons in elke hoofstuk ontmoet, so ook by Nahum en die mense wat in sy tyd geleef het, Jode sowel as heidene.

Die Bybel is vol van die gevolge van die opstand en moedswilligheid van die mensheid, asook God se regverdige oordeel hieroor.

Maar, in die Bybel vind ons ook die ligstrale van God se barmhartigheid.

Regverdig en barmhartig, dit is die twee sleutelwoorde wat Sondag 4 behandel.

Twee woorde, twee realiteite wat ons ook in die profesie van Nahum terugvind.

Kom ons kyk wat die Heilige Gees ons leer oor God se regverdigheid én barmhartigheid in hierdie Bybelboek.

 

Tema: God oordeel regverdig, maar is ook onverdiend barmhartig

1 Die verskrikking van sy regverdige oordeel

2 Die bevryding deur sy onverdiende barmhartigheid

 

1 Die verskrikking van sy regverdige oordeel

Die HERE (Jahweh) het Nahum geroep vir ‘n spesifieke taak:

Hy moes die oordeel aankondig oor Ninevé.

Ninevé is vir ons ‘n bekende naam, omdat ons die stad ook vind by die profeet Jona.

Jona se profesie is ‘n illustrasie dat God se barmhartigheid groot is.

Hy het geduld gehad met die groot heidense sondige stad.

Op die prediking van Jona het hulle hul bekeer, en dit was vir God genoeg.

Wat daardie bekering ingehou het, en hoe lank dit standgehou het, dit vind ons nie in die boek Jona nie.

Maar God was die mense van Ninevé genadig.

Die beplande oordeel het Hy afgewend.

 

Jona het geruime tyd voor Nahum geprofeteer.

In Nahum se dae het Ninevé weer anders gelyk, weer teruggekeer tot hulle afgodediens.

Dit was nie dieselfde mense as in Jona se tyd nie, dit was alweer geslagte later.

Ondertussen is die tien stamme al weggevoer deur die Assiriërs.

En Nahum, saam met Juda waar Nahum was, het gebuk gegaan onder hulle arrogansie as wêreldheersers.

Nahum se profesie word gedateer in die 7de eeu voor Christus.

Die stad Ninevé is aa die einde van daardie eeu verwoes, in 612.

Die profesie moes dus voor hierdie jaar gewees het.

Verder vind ons in Nahum 3:8 ‘n verwysing na die verwoesting van die Egiptiese stad No-Amon, ook wel genoem Thebe.

Dit het plaasgevind in 663 voor Christus.

Nahum se profesie dateer dus êrens tussen 663 en 612 voor Christus.

 

In sy profesie vind ons die aankondiging van God se oordeel oor Ninevé.

Die profeet begin deur te wys op God se mag in die natuur.

Warrelwinde, wolke, seë en riviere wat opdroog, bome en plante wat verwelk as Hy nie reën stuur nie.

Hy laat selfs berge bewe, heuwels wegsmelt.

Hierdie mag van God in die natuur lei Nahum se vraag in:

Wie sal standhou voor sy grimmigheid?

 

Dan gaan Nahum verder met die oordeelsaankondiging.

God is van plan om met ‘n vloed die stad Ninevé te oorstroom, plat te vee.

Ook word die beeld van ‘n brand gebruik – soos droë stoppels sal hulle heeltemal verteer word.

Hulle beraam kwaad teen die HERE.

Nou sal dit op hulle hoof neerdaal.

Al is die stad hoe talryk aan mense, hulle sal afgemaai word.

Die HERE sal die afgode, die gesnede en gegote beelde, uitroei.

Hy sal vir hulle ‘n graf maak, want hulle is te lig bevind.

 

In hoofstuk 2 spreek die profesie weer vir Ninevé aan:

Die HERE stuur ‘n vyandige leër rigting hierdie groot stad.

Dit is ‘n byna oninneembare stad, maar hierdie leër het nie moeite daarmee nie.

Die mure is nie te hoog vir hulle stormramme nie.

Hulle ruk die sluise oop wat uit veiligheid toegemaak is, die sluise in die kanale wat water na die stad gelei het.

En sodra hulle binne die stad is, word alles geroof, silwer en goud, alle kosbare dinge.

Hope dooies, mens struikel oor die lyke.

Die oorlewende mense word oor die berge verstrooi, soos hulle maak dat hulle wegkom.

Die stad word met die grond gelyk gemaak, teruggegee aan die natuur.

 

So is die lot van die stad van bloed en geweld.

So word daar ‘n skouspel van hulle gemaak.

Vol verbasing sal die wêreldbewoners uitroep: Verwoes is Ninevé!

Die profesie sluit dan af met die konstatering: Daar is geen herstel vir jou nie.

Jou wond is ongeneeslik.

 

Hierdie oordeel laat mens dink aan films oor die Tweede Wêreldoorlog.

Nazi-Duitsland is met die grond gelyk gemaak.

Bombardemente het Duitse stede platgevee.

Die strate was vol puin en die oorlewendes het oor die lyke gestruikel.

Hope dooies wat in massagrawe opgestapel moes word.

Die Derde Ryk wat so magtig was, waarvoor die wêreld gesidder het, was nie meer nie.

So is daar tye in die geskiedenis, in die verlede en in die hede, waarin God se oordeel wêreldryke onverwags tot ‘n einde bring, hulle pronkstede verander in hope puin en lyke.

Ninevé, Babilon, Rome, Berlyn, Hiroshima, Nagasaki en wie weet water stede nog gaan volg.

God se regverdige oordele gaan oor die wêreld.

Ongehoorsaamheid en afval laat Hy nie ongestraf nie.

Uit Nahum blyk dat die kern van Assur se ongehoorsaamheid nie hulle oorheersing oor ander volke was nie, maar hulle afgodediens, hoe hulle gespot het met die lewende God.

En was dit nie ook die kern van Nazi-Duitsland se kwaad nie?

Dat hulle die Protestantse leer van genade vir ‘n ellendige mens, so prominent in Duitsland se geskiedenis – dink aan Marten Luther, dat hulle dit ingeruil het vir die leer van die übermensch.

Die mens, die Ariese ras, wat deur ewolusionistiese vooruitgang en ontwikkeling self ‘n paradys op aarde sou kon stig.

Hierdie afgodery het gelei tot al die ander kwaad – die vernieting van die Jode wat skynbaar ‘n laer ras sou wees, en die moorde op sigeuners en gestremdes, die anneksasie en oorheersing van ander lande, dit alles was die gevolg van die aanbidding van hulleself, die verafgoding van hulle eie ras, die absolute blindheid vir hulle eie ellende as mense wat onder die lewende God se oordeel staan.

 

Maar God se oordeel is ‘n realiteit.

God se oordele was en is regverdig.

Sy toorn is verskriklik, sowel oor die erfsonde as oor die sonde wat mense self doen.

Hy wil dit in tyd en in ewigheid met ‘n regverdige oordeel straf.

Sy oordeel in tyd, dit laat ons dink aan die val van Ninevé, waaroor Nahum geprofeteer het.

Dit was ‘n voorproefie van die ewige oordeel.

En sowel die tydelike as ewige oordeel word gevel op basis van hierdie aanklag:

Vervloek is elkeen wat nie bly in alles wat geskryf is in die boek van die wet om dit te doen nie (Deut 27:26, Gal 3:10).

En God se maatstaf daarby gaan terug na die paradys.

Destyds het Hy die mens so geskep dat hy Hom kon dien, volgens sy wil kon leef.

Die mens was egter moedswillig, hy was ongehoorsaam, hy het ingegee onder die aanhitsing van die duiwel.

En daarom het hy en sy hele nageslag sedertdien telkens en telkens weer die neiging gehad om ware God te verruil vir die afgode wat hy self uitgedink het.

Daarom is God se toorn tereg, en sy toorn is verskriklik.

Laat ons daardie woord verskriklik nie afswak nie.

Die onder ons wat die Tweede Wêreldoorlog nog meegemaak het, weet wat die woord verskriklik regtig beteken.

En dit was nog maar ‘n voorproefie van die verskrikkings van die hel.

Sondag 4 draai nie doekies om nie, dit is ook nie ‘n bangmaakstorie nie.

Dit haal die Skrif aan, en die Skrif is baie ernstig en ondubbelsinnig duidelik oor God se oordeel en hoe verskriklik dit is.

Neem maar net die profesie van Nahum.

 

(Tema: God oordeel regverdig, maar is ook onverdiend barmhartig

1 Die verskrikking van sy regverdige oordeel)

 

2 Die bevryding deur sy onverdiende barmhartigheid

Nou vind ons in Nahum nie net ‘n oordeelsaankondiging nie.

Daar is ook sonstrale van God se barmhartigheid wat deurbreek.

Sy barmhartigheid het eintlik alles met die oordeel te make.

Oordeel en barmhartigheid staan langs mekaar.

Juis deur die oordeel oor Ninevé, ervaar Israel God se barmhartigheid.

Ek dink aan verse soos die volgende:

In Nahum 1:7 skakel Nahum ineens oor na God se barmhartigheid.

Die twee staan langs mekaar, hulle byt mekaar nie.

Die HERE is goed, ‘n toevlug in die dag van benoudheid.

Hy ken die wat by Hom skuil.

Na die strafaankondiging oor Ninevé, vind ons hier trooswoorde gerig aan Juda.

 

Ook aan die einde van hoofstuk 1 skakel Nahum ineens oor op God se barmhartigheid.

Kyk, op die berge die voete van hom wat die goeie boodskap bring, wat vrede laat hoor.

Juda kan weer sy feesdae vier, want Ninevé onderdruk hulle nie meer nie – Ninevé, as hoofstad aanduiding vir die Assiriërs.

Hulle kry nou die geleentheid om hulle geloftes te betaal, wat hulle aan die HERE beloof het, sodra Hy hulle van die Assiriërs sou verlos.

Daardie snoodaard, daardie booswigte, sê die HERE, sal nooit meer deur jou gebied trek nie.

Want hulle is uitgeroei.

 

God se regverdige oordeel en barmhartigheid het met mekaar te make.

Met sy oordeel oor Ninevé het die HERE weer barmhartigheid aan sy volk bewys.

Vir jare was hulle gebuk onder die juk van die Assiriërs.

Danksy Ninevé se verwoesting het daar vir hulle uitkoms, bevryding, gekom.

In die verte, oor die berge, het ‘n boodskapper aangehardloop gekom, met die tyding dat Ninevé geval het.

In daardie tyd was daar nog nie telefone om belangrike nuus direk oor te dra van die een kant van die wêreld na die ander kant nie.

Daar was hardlopers, by wyse van spreke langafstand atlete, wat die hele dag lank gehardloop het, om ‘n boodskap oor te dra.

As die afstand te ver was, is die een boodskapper afgelos deur die ander, en so het hulle belangrike nuus met hulle saamgedra na verre lande.

Israel het hulle vinnige voete oor die berge al sien aankom, geweet hier kom groot nuus.

Die voete van hierdie boodskappers van vrede is selfs lieflik genoem, sien Jesaja 52:7:

“Hoe lieflik is op die berge die voete van hom wat die goeie boodskap bring, wat vrede laat hoor ...”

God sy dank, dit was goeie nuus, dit was ‘n boodskap van vrede, want Ninevé het geval.

So is oordeel en barmhartigheid twee kante van dieselfde muntstuk.

God se regverdige oordeel oor Ninevé, sy barmhartige uitredding van Juda.

 

Hierdie selfde woorde uit Nahum en Jesaja oor die voete van hom wat ‘n goeie boodskap bring, ‘n boodskap van vrede, word in die Nuwe Testament deur die apostel Paulus aangehaal – Romeine 10:15.

Nou, net as agtergrond, in die Romeinebrief skryf Paulus hoe alle mense, Jode en heidene, onder die oordeel van God staan:

“Daarom, soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood, en so die dood tot alle mense deurgedring het, omdat almal gesondig het” (Rom 5:12);

“almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God” (Rom 3:23) – almal is te lig bevind;

“Want almal wat sonder wet gesondig het, sal ook sonder wet verlore gaan; en almal wat onder die wet gesondig het, sal deur die wet geoordeel word” (Rom 2:12).

Dus, God is regverdig in sy oordeel oor alle mense.

Maar God is ook barmhartig.

In die Ou Testament het Hy sy barmhartigheid getoon teenoor sy volk, toe Hy hulle – ooreenkomstig sy profesie deur Nahum – van die Assiriërs verlos het, toe Ninevé tot ’n val gekom het.

Maar hierdie keer het sy oordeel nie vir Ninevé getref nie, maar ’n nog veel groter oordeel het sy eie Seun getref, Jesus Christus.

God wou nie dat die ongehoorsaamheid en afval ongestraf sou bly nie.

Daarom was sy toorn op Golgota verskriklik.

Op Golgota het Hy sy ewige straf op sy eie Seun uitgegiet.

En so is die tirannie van Satan tot ’n einde gebring.

Met dien gevolge dat daar nou ’n vrede-, ’n vreugdeboodskap kan uitgaan, beginnende by die leë graf, en vanuit Jerusalem, en Judea, en Samaria, en tot aan die uiterste van die aarde (Hand 1:8).

Ja, in die Nuwe Testament reik God se barmhartigheid nog veel verder.

In Christus het God ’n boodskap van barmhartigheid aan die hele wêreld.

Die boodskap dat die sonde wat teen sy allerhoogste majesteit gepleeg is, op Golgota met die swaarste straf gestraf is, die ewige straf aan liggaam en siel.

Christus het daardie ewige straf gedra, Hy het dit voltooi, en daarom is daar nou vryspraak deur Hom.

Hierdie boodskap van vrede kan nou die wêreld ingedra word deur die voete van die boodskappers, in alle rigtings:

Elkeen wat sy Naam aanroep, sal gered word (Rom 10:13).

En wat dan van die wat nog nie sy heerlike Naam ken nie?

Wel, skryf Paulus, die boodskappers is oppad, in alle rigtings.

Paulus was self so ’n boodskapper, uitgestuur na die heidene.

En dan verwys Paulus na Jesaja en Nahum: Hoe lieflik is die voete van hierdie boodskappers.

Hulle rats voete wat oor die berge aangehardloop kom met die goeie tyding, die evangelie van vrede.

So bewys God sy barmhartigheid in die Nuwe Testament aan Jode en heidene, aan almal wat sy heerlike Naam aanroep.

 

Weer eens, net soos in die dae van Nahum, bevat die boodskap sowel oordeel as bevryding.

Dit is die twee kante van dieselfde muntstuk.

God se regverdige oordeel oor sy eie Seun.

God se ewige straf oor die Satan.

Maar juis daarom kan die boodskappers die tyding van vrede bring, van bevryding uit tirannie, die tyding van barmhartigheid, vir almal wat hulle toevlug neem tot die regverdige Middelaar tussen God en mense, sy Seun Jesus Chrsitus.

 

Sien u, gemeente, hoe God se regverdigheid en barmhartigheid hand in hand gaan?

Hy, God Drieënig, het redes in Homself gevind, het self ’n plan beraam, om aan die eis van sy regverdigheid te voldoen.

Sodat Hy barmhartigheid kan bewys aan ’n wêreld in nood.

In Christus is daar ontsnapping aan die ewige oordeel, wat ek en jy verdien het, wat bo die wêreld hang en al nader kom.

Deur Christus word God se regverdige straf oor my en jou lewe weggeneem.

Deur Christus ervaar jy nou God se barmhartigheid.

Ja laat ons, net soos God se volk destyds in die tyd toe Nahum se profesie werklikheid geword het, laat ons ook nou ons feesdae vier.

Daar is rede om fees te vier, want Christus het oorwin, en die tirannie en oorheersing van Satan is beëindig.

Laat ons ons geloftes betaal.

Ons geloftes, dit is ’n lewe van dankbaarheid, vanuit die verlossing, bevry uit elke vorm van slawerny.

Daardie snoodaard, daardie booswig, Satan, sal nie meer Baas oor my lewe wees nie.

Want Hy, my getroue Verlosser, het my uit alle heerskappy van die duiwel verlos.

 

Amen

 

Voedingsriglyne:

Om hierdie preek te verwerk en uit elke aspek daarvan te leer, volg hier ‘n paar vrae. Die antwoord kan in die preek gevind word, en sommige vrae vereis ook persoonlike oordenking.

  1. Wat hou dit in dat God die mens so geskep het dat hy in die ewige saligheid met Hom kon lewe?
  2. Hoe is dit moontlik dat Nahum ‘n oordeel oor Ninevé aankondig (wat ook plaasgevind het), terwyl die profeet Jona getuie was van God se genade oor dieselfde stad?
  3. Adam en Eva het deur die aanhitsing van die duiwel in sonde geval. Noem ‘n voorbeeld waar jy die aanhitsing van die duiwel ervaar het.
  4. Hoe kan oordeel en barmhartigheid twee kante van dieselfde muntstuk wees?
  5. Was die oordeel op Golgota net so verskriklik as die oordeel oor Ninevé?
  6. Is die straf wat Christus vir ons moes dra, ewig of tydelik?

 

 

Liturgie: 

Votum (Ps 121:1)

Seën

Ps 9:4,5,12

Gebed

Skriflesing: Nahum 1-2

Ps 18:17-19

Teks: Nav Heidelbergse Kategismus Sondag 4

Preek

Ps 18:1,12,13

Gebed

Geloofsbelydenis van Nicea

Ps 53:5,7

Kollekte

Ps 97:5-7

Seën