Laat blydskap, gebed, en dankbaarheid uit jou hart stroom

Predikant: 
Ds DM Boersma
Gemeente: 
Pretoria
Datum: 
2021-09-12
Teks: 
1 Thessalonicense 5:16-18
Preek Inhoud: 

1 Thessalonicense  5:16-18
16    Wees altyddeur bly.
17    Bid sonder ophou.
18    Wees in alles dankbaar, want dit is die wil van God in Christus Jesus oor julle.

Inleiding:

•    kinders speel

Het jy al ooit kinders sien speel? En hoor speel?
Dis ‘n geweldige mooi klank: hulle speel, roep vir mekaar, en wys hulle uitbundigheid. Hulle lag, hardloop rond, dis die grootste pret!
Hulle speel so lekker. 
Dis heerlik om te hoor!
Dis hoe alle kinders van God mag leef en bly wees!

•    Kan ek altyd bly wees?

Maar dalk het jy ’n vraag. Of twee vrae:
-    Hoekom is dit nodig om ’n bevel te kry om bly te wees?
-    En hoe kan jy altyd bly wees?

As jy verdrietig is, help dit as iemand vir jou sê: ‘jy moet bly wees!’ ? 
En as jy depressief is?
Wanneer jy swaar trek tydens hierdie 3e golf van die virus, as jy steeds by die huis is en nie by familie/vriende kan kuier nie? 

Help dit om te hoor: “Wees altyddeur bly!”?
Of laat dit jou voel: ‘maar ek kan nie bly wees nie. En nou is ek ook nog ongehoorsaam teenoor God as ek nie bly is nie!’

•    Is Paulus ’n voorbeeld?

Ons kan eerste na Paulus se situasie kyk. 
Hy is in die tronk. En hy het soveel lyding ondergaan vir die evangelie van Jesus. As daar iemand is wat rede het om nie bly te wees nie, dis hy!
En selfs hy sê vir ons: wees altyd bly!
Ons kan dink dat dit dan wel duidelik is. Case closed.
Hy spreek met Gods gesag, en hy is ’n voorbeeld van iemand wie se lyding meestal baie swaarder was as onss’n.
Jy moet net bly wees – kyk maar na Paulus, en gehoorsaam God.

Come on. Wees bly!
Amen. Die preek is verby.

Of tog nie?

•    Geen goeie motivering nie

Want dis tog nie ’n baie goeie motivering nie. Paulus’ eie voorbeeld is nie genoeg nie.
As jy bly is omdat jy nog nie so sleg voel soos Paulus nie, dan is jy nie regtig bly nie! Jy is dan net bly omdat jy met ’n ander vergelyk. 
Hoe lang sal dit hou? 
Mense wat hulself met ander vergelyk, is nooit die gelukkigste mense nie. Meestal is hulle juis ontevrede.

Bowendien: dan gehoorsaam jy hierdie bevel om bly te wees nog steeds met teësin!
Blydskap met teësin is onmoontlik: dis geen blydskap nie!

Voorbeeld: ons leer ons kinders om dankbaar te wees en ouer mense met respek te behandel. Maar as hulle dit onwillig doen, net om ander mense happy te hou, nie van harte nie – dis nie wat jy soek nie!
Jy wil hulle leer, sodat hulle dankbaarheid wys omdat hulle van harte dankbaar is.

Wat moet ons dan met met hierdie bevel om bly te wees?
Hoekom is dit ’n bevel? Kom ons luister na die evangelie:

Tema: Laat blydskap, gebed, en dankbaarheid uit jou hart stroom
1    Want Jesus is die bron van jou nuwe lewe
2    Daarom kan dit sonder ophou bly stroom.

1    Want Jesus is die bron van jou nuwe lewe.

•    Drie bevele: ’n drieluik

Kom ons lees eenvoudig wat Paulus presies geskryf het:
16: altyddeur --- bly wees
17: sonder ophou --- bid
18: in alles --- dankbaar wees
Die drie eerste woorde is steeds sonder limiet, die tweede is telkens die bevel.
Hierdie drie verse is soos ’n drieluik / triptiek (= ’n olieverfskildery wat uit drie dele bestaan wat saam een geheel maak – soos Die Laaste Oordeel van Lucas van Leyden). (Daar is ook posseëls wat saam een posseël vorm).

So is die drie instruksies een. Dit is die lewenshouding van ’n gelowige.

•    Wat is die rede / motivering?

Die laaste van die 3 verse gee die rede, die motivering vir die drie instruksies:

want… dit is die wil van God in Christus Jesus vir julle.

God wil, dat almal wat aan Jesus behoort, hom só benader. Dit gaan dus oor die houding van almal wat deur Jesus gered is teenoor God. 
Dit is hoe God jou verhouding met hom wil hê: jy beoefen die verhouding met hom, jy leef met hom deur aanhoudend bly te wees, te bid en dankbaar te wees. Dit droog nie op nie, maar dit hou aan.

•    Die bron van blydskap: Jesus!

Wat is bron v vreugde vir christene?
Hy sê mos heel duidelik: ‘wil van God in Christus Jesus’ vir julle.
Jesus is die sleutel, hy is die bron!

Paulus het sy brief daarmee begin:
1 Thessalonicense 1,1: Paulus skryf aan die kerk wat in God en Jesus Christus is.
Soos Paulus in Efésiërs 1 gesê het: in Christus sit hulle in die hemele.
So staan christene in Christus voor God, leef ons in sy aanwesigheid.
Dink net: wat ’n oorweldigende werklikheid!

Die hele brief is eintlik vol van die seëninge wat christene in Christus ontvang het, en watter roeping daarmee saamkom.

In die brief is hy heeltyd besig om hulle te herinner aan die evangelie wat hy in Tessalonika gebring het (dat hulle deur die evangelie van Christus gered is) en hy roep hulle nou roep om vir God te leef tot Jesus se terugkoms.

Hoofstuk 1,4: “ons weet van julle verkiesing, broeders wat deur God bemin word.”
Hoofstuk 4,3: “dit is die wil van God: julle heiligmaking.”
“Ons het betuig dat julle waardiglik moet wandel voor God wat julle tot sy koninkryk en heerlikheid roep.
die woord van God wat ook werk in julle wat glo.”
(1 Thessalonicense 2,12-13)

Hoofstuk 5 is dan vol met kort instruksies: hoe hulle heilig moet lewe tot die terugkoms van Jesus.
En dan heel aan die einde vd brief sê Paulus:
En mag Hy, die God van die vrede, julle volkome heilig maak, en mag julle gees en siel en liggaam geheel en al onberispelik bewaar word by die wederkoms van onse Here Jesus Christus!
Hy wat julle roep, is getrou; Hy sal dit ook doen.
(1Tess5,23-24)

•    God het hulle dus uitgekies in Christus
•    Die doel van hulle en ons lewe is om heilig gemaak te word
•    En God self beloof om dit in hulle en ons te doen.
Die God wat ons in Christus geroep het, sal ons heilig maak.

Daar ook: alles, almal, niemand, altyd, elke vorm van …
God se genade in Christus maak die wortel van jou lewe nuut! 
Uit die wortel groei dan ’n boom met vrugte wat nuut is: heilige houdings, heilige dade, heilige woorde.

Vers 16-18 is deel van daardie vrugte
Daarom spuit die vreugde op uit jou hart, sonder ’n stopkraan.
Jou nuwe hart gaan uitroep na God.
Dankbaarheid groei as ’n vrug uit jou hart as jy Jesus leer ken het en in hom leef.

Wie leef vanuit Christus, die bron van vernuwing en heiliging, sal bly, dankbaar en biddend voor God leef. Nie maar net nou en dan nie, as die omstandighede goed is of voel nie, maar altyd, want jou wortel is Christus.

Jy sien dieselfde in Filipense 4: 4 en 6: verbly jou in die Here!
Verbly julle altyd in die Here; ek herhaal: Verbly julle!
Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God.

Dit is die geheim.
Verbly jou omdat jy in Christus is. Jy behoort by hom, en jy leef en bestaan. Hy maak die wortel van jou lewe nuut. 

Dit klink eintlik so uitbundig:
•    altyddeur bly wees: Die vreugde hou aan stroom!
•    sonder ophou bid: om te bid word só deel van jou, soos asemhaal.
•    in alles / alle omstandighede dankbaar: dankbaarheid raak alle dele van jou lewe.

As jy aan Jesus behoort, as sy Gees in jou woon en sy krag in jou werk, word jou hart verander, en gaan hierdie dinge uit jou hart stroom, nee… spuit!

2    Daarom kan dit sonder ophou bly stroom.

•    Hoe intensief?

Hierdie drie dinge: moet jy dit 24/7 doen? Elke sekonde, 24 uur per dag, 7 dae per week?
Kom ons dink nog ’n bietjie dieper hieroor.

•    Sonder hom: onmoontlik!

In die eerste plek moet ons eerlik wees:
Hierdie drie bevele klink radikaal en veeleisend:
16: altyddeur     bly wees
17: sonder ophou     bid
18: in alles     dankbaar wees.

En dit is onmoontlik 
•    as jy Jesus nie ken nie
•    as sy krag nie jou nuut gemaak het nie
•    as sy Gees nie in jou woon nie
•    of as jy in naam ’n christen is maar nie uit hom leef nie.
Ja, dan is dit onmoontlik! Dis teveel gevra; onredelik, nie haalbaar nie.
Sonder hom gaan ons omstandhede bepaal hoe ons voel. Dit gaan ons gemoed heen en weer swaai. Dan verdamp die dankbaarheid as ons steeds weer teleurgestel word, lang siek is en magteloos voel, en as die dood ons lewe aanraak.
Sonder Christus is dit net ons teen die magte van die wêreld. En ons kan dit nie baasraak nie.

Maar wat by mense onmoontlik is, is moontlik by God!
Christus maak jou lewe nuut. Sy Gees gee jou ’n nuwe hart.

•    Altyd vrolik?

Maar nog steeds kan ons vra:
Is dit dan ’n kenmerk van ’n christen dat jy altyd vrolik is, dat jy nie mag kla nie omdat jy dankbaar moet wees, en dat jy elke uur, elke minuut in gebed is?

Ek kry dit nie reg nie… Jy wel?

Blydskap is nie die enigste emosie wat ’n christen ken nie.
Die Psalms leer ons klaagsange, selfs met woorde waarvan jy dink: ‘kan jy dit vir God sê?’
Die boek Prediker het ’n hoofstuk wat ons help: hoofstuk 3.
Dit is so realisties, so menslik.

Daar is ’n tyd om te ween en ’n tyd om te lag, ’n tyd om te weeklaag en ’n tyd om van vreugde rond te spring,
’n tyd om klippe weg te gooi en ’n tyd om klippe bymekaar te maak, ’n tyd om te omhels en ’n tyd om ver te wees van omhelsing,
(Prediker 3:4-5)

Dit is die lewe hier op aarde, die lewe wat aangetas is deur die sonde en die dood.

Ons het juis ’n begrafnis gehad van ’n geliefde broeder, vir wie ons gebid het dat God hom sou genees. Vir Marjan, Hermien, Maryke, vir Wolter en Annamarie en hulle kinders, die ander broers en susters, vir oom Dirk en tannie Lorraine was dit ’n skok en is dit verdrietig.
Dit het ons hele gemeente geslaan en dit laat jou wonder: hoekom? Wat wil God vir ons sê? Dit maak ons almal verdrietig om so plotseling hierdie broeder van ons te verloor.
Ons kan hierdie woorde dan op ’n insensitiewe manier gebruik as ons sê: jy moet net bly en dankbaar wees.
God gee vir ons ruimte, hy maak plek vir ons om te rou, om te huil, om verdriet met mekaar te deel.
Ons moenie vir mekaar sê ‘droog jou trane, wees net bly’ nie.
Jesus self het by die graf van ’n vriend geween.

Die Bybel help ons dus.

•    Net bid?

Dieselfde kan jy sê vir gebed.
Paulus self sê in 2Tim1,3 dat hy
   onophoudelik nag en dag aan Timoteus in sy gebede dink

en 1Tess2,13:
   “ons dank God sonder ophou dat julle die woord van God aangeneem het.”

In beide gevalle gebruik hy gebruik presies dieselfde woord: sonder ophou, as in v. 17.
Beteken dit dat hy net gebid het en niks anders gedoen het nie?
Nee.
Paulus het meer gedoen as om net te bid en aan Timoteus te dink: hy was op pad, hy het geskryf, gepreek, tente gemaak.

Hy was nie 24/7 besig om te bid nie, maar … bid was wel sy houding, hy het daarmee aangehou, en dit nie versuim as hy lyding ondergaan het of in tye dat sy werk baie suksesvol gelyk het nie. Hy het altyd gebid. Dit was deel van sy lewe, van sy bediening. Jy lees dit steeds weer in sy briewe: lofprysing, dankbaarheid, voorbede. Dis orals.
Hy was ‘on speaking terms’ met God. Bid was nie die enigste wat hy gedoen het nie, maar dit het wel deur sy lewe gestroom. Hy was aanhoudend in gesprek met God.

Ons kan nou na twee kante afdwaal.
Ons kan gebed, blydskap en dankbaarheid só oorweldigend super-geestelik maak, dat ons dink dat net super-christene dit kan regkry. Dit voel dan onbereikbaar en voel onbekwaam – nie geestelik genoeg nie. En jy gaan nie eers probeer nie.
Die ander ekstreem is, dat ons dit kleiner maak om dit vir ons hanteerbaar te maak, en: ‘Ag dit beteken natuurlik nie dat jy elke dag en elke uur moet bid en dankbaar moet wees nie…’ 
Dan het ons die radikaliteit afgewater.

In beide gevalle verstaan ons nie die radikale lewenshouding wat Paulus hier van praat nie.

•    Leef vanuit Christus

Leef vanuit Christus.
Hierdie drieluik van die wil van God: blydskap, gebed, en dankbaarheid is nie iets wat ons doen as ander mense druk op ons plaas. God soek nie dat ons dit uit verpligting of met teësin doen nie.
Hierdie drie bevele roep jou steeds weer na Christus terug.

Wie is hy vir jou, vir ons?
Die geskiedenis van ons wêreld is soos ’n boek. Jy kan vorentoe blaai en jy lees die einde: Ah, dit gaan goed eindig!
Die uitkomst is seker. Jesus het die sonde versoen en het uit die dood opgestaan. Die oorweldigende vreugde en heerlikheid van Christus wag vir almal wat op hom vertrou.
Dan gaan blydskap jou hart regeer, want hy het die eindpunt van die dood weggeneem en vir jou ’n toekoms gegee. Die regte, blywende en blye lewe van God se erfgename!

God het vir ons ’n deur geopen en die lig stroom uit, na ons toe.
Daarom kan ons vertroue hou wanneer ons ly onder die gevolge van die sonde en dood.
Net soos kinders onbekommerd, uitbundig en luidkeels speel. So mag ons in God se wêreld staan: uitbundig, hoopvol, bly.

Namate jy meer en meer en aandagtiger na Jesus kyk, sal dankbaarheid nie moeilik wees nie. Jy sien alhoe beter raak hoe jy jou vrygemaak het, en dat hy self in jou leef.
Die wortel van jou lewe het hy nuut gemaak.
Die lig van sy genade skyn oor ons lewe. Die lewe van God stroom deur ons are. Die asem van sy Gees is in ons.
Dit maak jou bly en dankbaar.

Dan begin ook jou gebede uitbundiger word. God self wil na jou luister! Hy buig hom na jou toe, soos ’n pa of ma graag hul kinders se stemme hoor: of hulle nou met trane na hom toe kom, of met vrae, met teleurstelling, met versoeke, of met opwinding. God wil jou hoor. Gaan na hom toe, elke dag, in alle omstandighede!

Amen
 

Liturgie: 

Psalm 47:1.4

Gebed

Lees: 1 Thessalonicense 1 & 5

Psalm 118:1,2,7,10

Preek: 1 Thessalonicense 5: 16-18

Skrifberyming 24: 1,3,6

Gebed & Sing Skrifberyming 28

Geloofsbelydenis

Kollekte

Skrifberyming 9:3-5