Maak my weer ‘n beeld van U

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2021-09-12
Teks: 
Heidelbergse Kategismus Sondag 3
Preek Inhoud: 

Het God die mens dan so sondig en verkeerd geskape?

Nee, God het die mens goed en na sy ewebeeld geskep.

Sê nou maar Michael, wat ‘n lorriebestuurder by ‘n fabriek is, kom een oggend by sy werk, maar daar staan geen lorrie nie.

Dan is hy nie in staat om sy werk te doen nie.

In hierdie geval kan Michael nie daarvoor geblameer word dat hy sy werk doen, naamlik die aflewerings van die dag, nie doen nie.

Want die lorrie waarmee hy die werk moet doen, is nie beskikbaar nie.

Maar, sê nou maar Michael kom die oggend by die werk aan en die lorrie staan gereed soos altyd, maar Michael is laat en hy ruik nog na die alkohol wat hy die vorige aand gedrink het ...

Dan is Michael nie in staat om sy werk te doen nie, en dan is hy self daarvoor skuldig.

 

Hierdie voorbeeld kom ooreen met vraag en antwoord 6 van die Kategismus.

Die feit dat die mens nie in staat is om te doen wat God van hom op aarde verlang, dit lê nie aan die Baas, aan God, nie.

God het die mens naamlik goed en na sy ewebeeld geskep, sodat hy in staat was om te doen wat God van hom verlang het.

Die mens het egter self iets gedoen, met die gevolg dat hy nou nie meer dit kan doen wat hy vroeër wel kon doen nie.

En dit wat hy wel kon doen, was om volgens die wet te lewe soos God dit voorgeskryf het – sien Sondag 2.

Maar nou is dit nie meer moontlik nie.

 

Tema: Maak my weer ‘n beeld van U

Ons gaan sien:

1 Dat die mens ‘n beeld van God was

2 Dat die mens homself van hierdie eer beroof het

3 Dat die mens weer ‘n beeld van God kan word

 

1 Dat die mens ‘n beeld van God was

God het die mens goed geskep.

In Genesis 1 lees ons telkens: “Toe sien God dat dit goed was.” (Gen 1:10,12,18,21,25)

En in vers 31 lees ons selfs: “dit was baie goed.”

Oor die mens staan daar in vers 27: “En God het die mens geskape na sy beeld”.

Wat beteken dit om beeld van God te wees?

Mens kan dit verduidelik met die voorbeeld van ‘n ambassadeur.

Hier in Pretoria, die hoofstad van ons land, woon daar ambassadeurs van amper alle lande in die wêreld.

‘n Ambassadeur verteenwoordig hier sy eie land, wat dalk ver weg is.

Hy beywer hom hier vir sy land se belange.

Ons is God se beeld in die sin dat ons God op aarde verteenwoordig en as onderkonings namens Hom regeer.

Altans, dit was die bedoeling.

Sien Genesis 1:26: “Laat Ons mense maak na ons beeld”; en nou kom die betekenis hiervan: “laat hulle heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en die vee en oor die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip.”

Beeld van God beteken dus nie dat jy as mens ‘n bietjie soos God lyk nie.

Net so min as wat ‘n pot lyk soos die pottebakker, so min lyk ‘n mens soos God.

Maar die mens is wel God se ambassadeur op aarde, sy onderkoning.

Namens God heers hy oor die voëls, visse, diere, oor die hele aarde, sy grondstowwe, sy bome en plante, sy riviere en berge, noem maar op.

Om dit te kan doen het die mens egter die vereiste vaardighede en middele nodig.

En, staan daar in antwoord 6 van die Kategismus, hy het dit tot sy beskikking gehad.

Hy het in die eerste plek goeie kommunikasie met sy Skepper gehad.

Hy kon daagliks oorleg voer ten aansien van sy taak.

Soos die Kategismus dit beskryf: Hy het God, sy Skepper, reg geken.

Ook het die mens sy Skepper van harte liefgehad.

Daar was ‘n goeie verstandhouding, die band was sterk.

En hy was in staat om met sy Skepper vir ewig te lewe, soos die Kategismus sê: in ewige saligheid.

Hiermee word nie bedoel ‘n geestelike sielebestaan in die hemel nie.

Maar ewige saligheid beskryf sy lewe as rentmeester hier op aarde.

Hierdie aarde wat die mens mag bewoon en bewerk en bewaak, as onderkoning in diens van God.

Hy is geplaas op aarde om dit te beheer, beskerm, en te ontwikkel tot God se eer, tot sy lof, en dit vir altyd.

Ag, het dit maar so gebly!

Hoe mooi sou die wêreld dan gewees het!

Eintlik kan ons onsself dit nie indink nie.

Die aarde sou so anders gewees het, ook die wêreldbevolking.

Ons kan eintlik nie ‘n voorstelling maak van hoe die wêreld sou ontwikkel het, as daar geen sonde en opstand en dood was nie.

Maar helaas, die sonde het gekom.

Die sondeval, die historiese gebeurtenis wat in Genesis 3 beskryf word.

Dit bring ons by die preek se tweede punt:

 

2 Dat die mens homself van hierdie eer beroof het (naamlik om beelddraer van God te wees)

Waar kom die verdorwe natuur van die mens dan vandaan?

Die sondeval.

Die val en ongehoorsaamheid van ons eerste ouers, Adam en Eva, in die paradys.

Daar het ons menslike natuur so verdorwe geraak, dat ons almal in sonde ontvang en gebore word.

Ook vandag geld dit nog vir elke nuwe mens wat gebore word.

“Daarom, soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood en so die dood tot alle mense deurgedring het, omdat almal gesondig het ...” – Romeine 5:12.

“Ag, kon maar ‘n reine voortkom uit ‘n onreine  nie een nie!” – Job 14:4.

“Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang.” – Psalm 51:7.

Die Skrif is duidelik.

Die mens het homself van hierdie eer beroof, om beeld van God te mog wees – onderkoning, ambassadeur.

En hoe dit gebeur het, dit is histories aan te wys: Dit het al foutgegaan by die eerste mensepaar.

 

Hierdie feit het die apostel Paulus ongetwyfeld ook aan die Efesiërs voorgehou.

Ons het ‘n gedeelte uit Handelinge gelees, wat gehandel het oor die mense in Efese.

Ook het ons ‘n gedeelte gelees uit die brief van Paulus aan die Efesiërs.

Efese was in daardie tyd ‘n welvarende stad.

Die mense daar was welgesteld, hoogsontwikkeld, nie net ekonomies nie, ook kultureel en maatskaplik.

Hulle het onderdeel gevorm van die Griekse kultuur.

Dit was die toonaangewende kultuur van daardie era.

Nou moet u uself vir ‘n oomblik voorstel hoe daardie mense na Paulus se boodskap moes geluister het.

Paulus was afkomstig uit die Midde-Ooste, Palestina, dit is beskou as ‘n agterlike kultuur.

Paulus bring ‘n boodskap wat ook diep konfronterend is.

Jou grootste ellende is nie dat jy sterflik is, dat jy ‘n sieklike liggaam het nie, maar omdat jy saam met jou eerste voorouers in sonde geval het, en dat jy van nature in opstand teen God is.

Dit is jou geaardheid, en dit kenmerk al jou doen en late, jou kultuur, noem maar op.

Dit maak alles verwerplik in God se oë.

Kan u uself voorstel dat dit nogal konfronterend was?

Dat ‘n eintlik agterlike man hulle gevorderde kultuur bekritiseer ...

Want dit is presies wat gebeur het.

Die Evangelie wat Paulus gebring het, het hulle kultuur omgekeer.

Die mense wat tot geloof gekom het, mog voortaan nie meer die afgodstempels besoek nie.

En daardie tempels was die sentrum van hulle kultuur.

Dink aan die ou monumente wat nou nog staan, soos die Parthenon in Athene.

Offervleis mog hulle nie meer eet tydens die afgodsfeeste nie.

Seksuele losbandigheid mog hulle nie meer by die heidense tempels bedryf nie.

Silwer beeldjies van die godin Diana mog hulle nie meer koop nie.

Die Evangelie het ‘n kulturele en ekonomiese bedreiging vir die stad ingehou.

Sien Demetrius se klag:

“Manne, julle weet dat ons welvaart uit hierdie verdienste is, en julle sien en hoor dat nie alleen in Efese nie, maar byna in die hele Asië, hierdie Paulus ‘n aansienlike skare oorgehaal en afvallig gemaak het deur te sê dat dit geen gode is wat met hande gemaak word nie. Nou is daar nie alleen gevaar dat hierdie vak van ons in veragting kom nie, maar ook dat die tempel van die groot godin Diana as niks gereken word, en dat haar majesteit wat die hele Asië, ja, die wêreld vereer, ook tot niet sal gaan.” (Hand 19:25-27)

Paulus se Evangelie was dus nie net ‘n boodskap vir die hart, vir die siel, nie, dit het aanwysbare gevolge op ekonomiese, en op kultureel-godsdienstige gebied gehad.

Die hele samelewing word onderstebo gekeer deur ‘n in hulle oë agterlike Jood.

Sy boodskap was nie sag nie.

Hierdie boodskap vind ons ook terug in Efesiërs 2:

Ook julle was dood deur die misdade en die sondes waarin julle tevore gewandel het volgens die loop van hierdie wêreld.

Julle het in die begeertes van julle vlees gewandel.

Julle was van nature kinders van die toorn (Ef 2:1-3).

Wat Paulus hier skryf, daardie boodskap vind ons ook in antwoord 7 van die Kategismus:

Die mens het ‘n verdorwe natuur gekry as gevolg van ons eerste voorouers, Adam en Eva, se val en ongehoorsaamheid in die paradys.

Daar is ons natuur so verdorwe, dat ons almal in sonde ontvang en gebore word.

Dit het ook vir die welvarende hoogsontwikkelde mense in Efese gegeld.

Ook hulle moes weet hoe groot hulle sondes en ellende was.

Baie mense het hierdie boodskap Paulus nie in dank afgeneem nie.

En, gemeente, dieselfde spanning, irritasie, is vandag nog steeds aan die orde van die dag.

Om ons te beperk tot ons eie kultuur waarin ons lewe: die Westerse kultuur, die sogenaamde beskawing, is deur en deur bedorwe as gevolg van die sonde.

Abortusklinieke, nagklubs, lieg en bedrieg, skending van die sabbat – op Sondae is Codonialaan en Waverley winkelsentrum ‘n besige gedoente van inkopies doen.

Sondagaande – kerktyd – is die snelweë terug na Pretoria oorvol van mense wat terugkeer van hulle naweek in die bos.

Christene, kerke wat ‘n punt daarvan maak, word meewarig aangekyk.

In sonde ontvang en gebore.

Hoe waar is dit vandag nog steeds.

Ek en jy, alle mense is deur en deur sondig, op pad na die ewige dood.

 

‘n Agterlike Jood het hierdie boodskap kom bring vir die welvarende Efesiërs.

Hulle wat ‘n bloeiende ekonomie gehad het.

Hulle wat op kulturele gebied hoogs ontwikkeld was.

Hulle wat ek weet nie hoeveel gode gedien het.

Hulle hele lewenswys (Ef 2:2) moes oorboord, toe Paulus met die waarheid gekom het.

Die waarheid, die historiese feite, soos dit vir eeue lank in die Bybel van die Jode bewaar gebly het:

Die feite oor die oorsprong van die kwaad, en die oorsprong van die dood.

 

Mens kan jouself afvra: Hoe het Paulus gedurf?

Dit was nie uit homself nie.

Hy moes van Godsweë spreek.

Deur die Gees van God aangedryf het hy die hoogsontwikkelde Efesiërs in die oë kon kyk en sê:

Ook julle is dood deur julle oortredinge en sondes, waarin julle wandel.

Op julle ongehoorsaamheid rus die toorn van die ware, die lewende God.

Ook julle in Efese stam van Adam en Eva af.

Ook julle is vir die sondeval aanspreeklik.

Julle is nie meer God se beelddraers, sy onderkonings op aarde nie.

Julle woon wederregtelik in julle eie stad, in julle eie huis, op julle eie erf, al het julle dit gekoop.

Julle verdien geen burgerskap op aarde nie.

Nie in Efese nie, nêrens op aarde nie.

Julle het julleself van hierdie voorreg beroof, laat staan die reg.

 

Geliefdes, dieselfde waarheid geld ook vir ons vandag.

Julle woon wederregtelik in Suid-Afrika.

Jy het geen reg op jou huis en erf hier in Waverley, of waar jy ook woon nie, al het jy dit gekoop en al jy die eiendomspapiere.

Julle het niks meer regte in die land as die ID-lose Zimbabwiërs wat julle vullis ‘recycle’ nie.

Ook waar julle voorouers vandaan kom in Europa, ook daar het ons geen enkele regte nie.

Ons behoort nie eers in die see ingejaag te word nie, ons behoort van die aarde af te verdwyn!

Ja, broers en susters, hierdie boodskap moet ons hoor, en hierdie boodskap moet alle mense hoor.

Maak hierdie boodskap jou nederig?

Maak dit jou verdraagsaam, ook teen ander mense, wat dalk minder ontwikkeld, minder welvarend as jy is?

Ons sit almal in dieselfde bootjie.

Deur die sondeval het ons al ons regte op aarde verspeel.

 

Die mens het homself van die eer, die voorreg beroof, om op aarde te mag woon, om beelddraer van God te wees, rentmeester, onderkoning.

Dit is die mens se ellende.

Dit is waaroor die eerste deel van die Kategismus handel.

Maar hoe donker en somber en konfronterend hierdie eerste deel ook is, tog is daar lig aan die horison.

Dit geld ook vir Sondag 3.

Dit gaan ons in die derde punt sien – vraag en antwoord 8.

 

(Tema: Maak my weer ‘n beeld van U

Ons het gesien:

1 Dat die mens ‘n beeld van God was

2 Dat die mens homself van hierdie eer beroof het)

 

3 Dat die mens weer ‘n beeld van God kan word

Vraag 8 van die Kategismus is die vraag van iemand wat desperaat is.

Onderstebo en depressief van die diagnose van die dokter dat hy ongeneeslik siek is, dat jy die ewige dood gaan sterf.

Wanhopig roep jy dan uit: Maar kan daar dan niks gedoen word nie?

Is ons so verdorwe dat ons glad nie in staat is om iets goeds te doen nie, dat ons tot alle kwaad geneig is?

Ons Dokter, ons Heiland, se antwoord is dan:

Ja, dit is so.

Maar God sy dank is daar tog lig aan die einde van die toneel.

Antwoord 8 bevat die woord: “behalwe”.

Hierdie woord maak ‘n deur oop: “behalwe as ons deur die Gees van God weergebore word”.

 

Tydens sy besoek aan Efese het Paulus die mense nie net met die waarheid oor hulle ellende gekonfronteer nie.

Hy het nie gekom om hulle te kwets nie.

Hy het die waarheid vertel met die doel om hulle te wys op genesing.

In navolging van sy Heiland was hy met ontferming bewoë oor die lot van al die mense in die groot stad Efese.

Daardie mense wat geen gebrek gely het nie, nie aan welvaart, nie aan kultuur, nie aan godsdienstigheid nie.

Maar tog was hulle op pad na die ewige dood.

Met ontferming bewoë, dit het Paulus na Efese gebring.

Die onferming van sy Here Jesus Christus.

Daar is redding moontlik: om op nuut gebore te word, weergebore te word, deur die Gees van God.

Hierdie woorde klink in Efese:

“uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God” (Ef 2:8).

As jy deur die Gees weergebore is, is jy nie meer verdorwe nie.

Dit is die tweede geboorte, waaroor Jesus met Nikodemus gepraat het.

Die Efesiërs moes leer dat hulle nog ‘n keer gebore moes word.

Dit moet ons vandag ook leer.

Dit moet alle mense vandag ook leer: jy, jou bure, alle inwoners van Waverley, van Pretoria, alle stedelinge, alle boere, alle welvarende mense, alle arm mense.

Almal moet ‘n tweede keer gebore word.

Jou ou mens moet aan die kruis gehang word.

Die Heilige Gees moet jou ‘n nuwe lewe gee.

Daar is geen ander pad na die toekoms nie.

Maar hierdie pad, al is dit ‘n smal pad, is die enige pad wat wel na ‘n toekoms lei.

Dat jy as mens weer herstel word in jou oorspronklike taak as rentmeester, beelddraer, onderkoning van God.

So bid ons dan elke keer opnuut: O Here God, stuur u Gees, maak my weer steeds meer ‘n beeld van U.

Ek erken dat ek uit myself dood is in sonde.

Hoewel my hart klop, is ek dood.

Hoewel ek aan welvaart geen gebrek het nie, is ek arm, ‘n bedelaar voor U.

Hoewel ek op skool was, dalk op universiteit, ja geleerd is, in u oë is ek ‘n dwaas.

Ek het alle regte verloor om op aarde te wees.

Maar, Here Jesus, maak my deur u Gees ‘n nuwe mens.

Laat u Gees werk in my.

Maak my weer ‘n beeld van U.

Hervorm my na u beeld.

Geliefde gemeente, so hoor ons in hierdie deel van die Kategismus, wat handel oor die ellende van die mens, ook die Evangelie.

 

Amen.

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 55:7,8

Gebed

Skriflesing: Handelinge 19:10-28

Ps 55:9,10

Skriflesing: Efesiërs 2:1-10

Ps 49:4,5,7

Preek nav: Heidelbergse Kategismus Sondag 3

Preek

Ps 49:6

Gebed

Apostoliese Geloofsbelydenis (sing)

Kollekte

Sb 24:6,7

Seën