‘n Gebed dat die koningshuis van Dawid vir Sion sal beskerm

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2021-09-05
Teks: 
Psalm 132
Preek Inhoud: 

Preek: Psalm 132

 

In vandag se preek gaan ons sien hoe hierdie Psalm, ‘n gebed vir die huis van Dawid, nog steeds alles te make het met my en jou lewe.

Ons gaan dit sien nie deur oppervlakkig een-op-een elke vers op ons lewe te probeer toepas op ‘n – soos dit in die teologie bekend geword het – eksemplariese of allegoriese manier nie.

Ons sal eers na die konteks moet kyk waarin hierdie Psalm gedig is.

Dit noem ons eksegese, om te leer wat hierdie Psalm beteken het vir die mense wat dit eerste gesing het.

Dan sal ons ook na die konteks van die res van die Skrif moet kyk, hoe hierdie Psalm ‘n rol gespeel het in die voortgang van God se heilsgeskiedenis, tot in die Nuwe Testament toe.

En as Nuwe-Testamentiese gelowiges hoop ons dan op ‘n verantwoorde wyse hierdie Psalm op ons lewens te kan toepas.

En dan sal inderdaad blyk hoe ryk die boodskap uit hierdie ou lied nog steeds vir ons vandag is.

 

Tema: ‘n Gebed dat die koningshuis van Dawid vir Sion sal beskerm

 

Die jaartema wat ons hierdie jaar as gemeente behandel is: lewe in die verbond.

Die Psalmboek is by uitstek geskik om hierdie tema te behandel.

Die Psalms is verbondsliedere.

Ons vind daarin nie net die groot dade van die God van die verbond daarin nie.

Ons vind ook daarin talle voorbeelde hoe mense in die verbond gelewe het.

Hoe te midde van blydskap, verdriet, angs en twyfel hulle band met God sterk gebly het.

 

Net om u geheue te verfris: Die Psalmboek is eintlik ‘n bundel van verskillende boeke.

Daar is in totaal 5 boeke.

In die 2020-Bybelvertaling word hulle eksplisiet aangedui:

Psalm 1-41, 42-72, 73-89, 90-106, en 107-145.

En dan sluit die Psalmbundel af sluit af met ‘n sogenaamde doksologie, 5 lofliedere, as hoogtepunt.

 

Psalm 132 kom uit die laaste bundel.

Hierin in vind ons verskeie Psalms van Dawid, maar nie net nie.

Binne hierdie laaste bundel is daar ook nog ‘n kleiner bundel, wat bekend staan as die bedevaartsliedere.

Bo aan Psalm 132 staan spesifiek dat dit ‘n bedevaartslied is.

Dit kan ook vertaal word as ‘n pelgrimslied.

Liedere wat spesifiek gebruik is as die Israeliete na die tempel gereis het vir die groot feeste, of weer terug huis toe.

 

In hierdie Psalm is Sion, die woonplek van God, die tempel, die onderwerp waarop die pelgrimslied fokus, en dan spesifiek die verhouding tussen Sion en die koningshuis van Dawid.

Dit begin met hoe Dawid die ark na Jerusalem gebring het.

Die Psalmis beskryf hierdie gebeurtenis asof hy dit self meegemaak het, vers 6:

Ons het daarvan – dis die verbondsark – gehoor in Efrata, dit gevind in die velde van Jaär.

Dit wil egter nie sê dat die digter fisies aanwesig was nie.

Hy beleef die geskiedenis opnuut as sy eie geskiedenis.

Hy oorpeins die rede hoekom Dawid in God se oë guns gevind het, naamlik sy opregte voorneme om ‘n tempel te bou.

Die digter beskryf dit in hiperboliese taal: dat Dawid sy oë nie eers slaap gegun het, sy ooglede nie eers sluimering, voordat hy die tempel gebou het nie.

Dit het nie letterlik gebeur dat hy nooit geslaap het nie, maar Dawid se erns vir die tempelbou het wel geblyk uit die feit dat hy en die volk al begin spaar en voorberei het vir die bou.

Die tempel wat toe in Dawid se seun Salomo se dae gebou is.

Vir Dawid was dit ‘n prioriteit, ‘n hartewens, wat voortgespruit het uit sy liefde vir die HERE en sy diens.

Dawid het besef dat die voorspoed van sy heerskappy, en ook die voortgang en stabiliteit van sy koningsdinastie, direk verbonde was aan die huis van die HERE, op hierdie plek wat die HERE self aangewys het.

Is die voorspoed van die huis van die HERE ook vir jou ‘n hartewens?

Besef jy ook dat die voortgang, geluk, stabiliteit van jou lewe, jou werk, jou huwelik, alles te make het die huis van die HERE?

 

Die digter herinner nou die HERE aan sy spesiale verhouding met Dawid.

Sy beloftes aan Dawid.

Die Psalmis doen ‘n beroep op die HERE om daardie beloftes te hou, ook in sy tyd.

Ons weet nie presies wanneer die digter geleef het nie.

Maar die Psalm is spesifiek ‘n gebed vir die nakomeling van Dawid wat in sy tyd op die troon gesit het.

Of die HERE, ter wille van sy kneg Dawid, ook hierdie nakomeling wil beskerm.

Sy troon bestendig sal maak.

Ons lees in vers 10: “Wys u gesalfde nie af nie, ter wille van Dawid, u kneg.”

Uit hierdie vers kan ons aflei dat die gesalfde en Dawid nie dieselfde persoon was nie.

Gesalfde dui hier op een van die nakomelinge van Dawid.

Verder dui vers 7 daarop dat die tempel in die digter se tyd reeds bestaan het.

Ons lees daar: “Laat ons sy woning binnegaan en in aanbidding buig ...”

 

Nou hierdie bede vir Dawid en sy nageslag is nie ‘n bede uit nasionale belang nie.

Dit gaan nie primêre oor magsbelange nie.

Die Psalm maak duidelik dat daar ‘n onverbreekbare band is tussen die koningshuis van Dawid en die feit dat die woning van die HERE op Sion is.

God laat die dinastie van Dawid bly voortbestaan, met as hoofdoel om die tempel daar te beskerm.

Om dit so vir God se volk moontlik te maak om elke keer met die groot feeste die tempel te besoek, om daar hulle Verbondsgod te ontmoet.

Die gebed vir die welsyn van Dawid se koningshuis is dus dieselfde as ‘n gebed dat die bediening van die versoening vanuit Jerusalem kon voortgaan.

 

Dit is waaraan die digter dink, waarvan hy sing, soos wat hy oppad is na Jerusalem.

Hy reis nie daarheen om fees te vier op ‘n soort koningsdag, ‘n soort republiekdag, ‘n soort onafhanklikheidsdag of soiets nie.

Hy reis daarheen om die HERE daar te ontmoet, om daar die boodskap van verlossing te hoor van die priesters by die tempel (vers 16).

Dit is wat Jerusalem so ‘n besondere plek gemaak het, en dit is wat Dawid se koningshuis so waardevol gemaak het.

En dit is hoekom hy bid vir die dinastie van Dawid, God se gesalfde wat in sy tyd daar op die troon sit (vers 10 &17).

Want daardie koning moet die voortgang van die tempeldiens, die bediening van die versoening, beskerm.

Dit is elke koning in Dawid se huis se primêre taak.

 

Die Ou Testament leer ons dat dit nie ‘n maklike taak was nie.

Die Satan het alles daaraan gedoen om daardie hoë roeping te frustreer.

Dit het al by Dawid begin.

Toe hy die ark na Jerusalem wou bring, is dit eers vertraag deur die dood van Ussa.

En die dag toe die ark in Jerusalem aankom, het sy vrou Migal nie gedeel in Dawid se vreugde nie.

En dink net hoeveel vyande en versoekings en afgode daar deur die eeue was wat die tempel bedreig het.

In die tyd van Dawid se kleinseun Rehabeam se heerskappy is toegang tot die bediening van die versoening vir ‘n groot deel van die verbondsvolk afgesny, die 10-stammeryk.

En met die ballingskap is die tempel heeltemal verwoes.

Na die ballingskap het die huis van Dawid oënskynlik verdwyn.

God se opdrag aan Dawid en sy huis om die tempel te beskerm het gefaal.

Die Bybelboeke Konings en Kronieke skets ‘n geskiedenis van die nakomelinge van Dawid wat keer op keer afvallig geraak het, gefaal het in hulle hoë roeping.

Maar die HERE het sy eed aan Dawid nie vergeet nie.

Dit was die HERE se eie werk dat Dawid se dinastie weer mog opstaan, dat uiteindelik daardie Seun van Dawid gekom het wat werklik versoening, verlossing gebring het.

Want die dierebloed uit die Ou Testament was nie voldoende die, dit was slegs ‘n skadubeeld van wat nog moes kom.

En die aardse tempel was ook nie daarvoor voldoende nie.

Hierdie Seun van Dawid het sy bloed die hemelse heiligdom binnegedra om daar versoening te bewerk.

En dan praat ons natuurlik oor die Messias, Dawid se groot nakomeling.

 

Ook in die Messias se lewe het Satan alles geprobeer om sy hoë roeping te dwarsboom.

Dink aan hoe Satan Hom versoek het aan die begin van sy bediening.

Dink aan hoe die mense van sy eie dorp Hom wou stenig.

Dink aan al die spot en teenwerking deur die Joodse leiers.

Dink aan hoe sy eie volk geskreeu het: Kruisig Hom!

Dink aan sy lydensweg, wat op die kruisiging uitgeloop het.

Hierdie nakomeling van Dawid het egter standgehou.

In Hom is die digter van Psalm 132 se bede volmaak vervul:

God het hierdie Gesalfde nie weggewys nie.

Hy laat Hom vir ewig op die troon sit.

 

Wat ons in vers 17 lees, is direk op Christus van toepassing:

God het vir Dawid ‘n horing laat uitspruit – kan ook vertaal: laat uitgroei.

‘n Horing is simbool van krag en aansien, dit is ‘n metafoor vir ‘n koning.

Christus is die Horing van Dawid.

Hierdie profesie herinner ons aan wat daar staan in die loflied van Sagaria, Lukas 1:

Die Here, die God van Israel, het vir ons ‘n horing van heil opgerig in die huis van Dawid.

(vers 69)

Dit het met hemelvaart gebeur, toe Hy as Koning gekroon is.

Die kroon skitter op Hom (vers 18).

 

En vir sy Gesalfde het God ‘n lamp toeberei.

Hierdie frase uit vers 17 herinner ons aan die loflied van Simeon:

“’n lig tot verligting van die nasies en tot heerlikheid van u volk Israel.” (Luk 2:32)

 

Ja ook vers 18 het God vervul:

Sy vyande sal Ek met skande beklee.

Met Christus se opstanding moes Satan skaam afdruip as die verloorder.

En met Christus se hemelvaart is Satan uit die hemel gegooi.

Ja die duiwel en sy volgelinge is tot skande gemaak.

 

So het Christus die eeue-oue opdrag wat God aan Dawid se koningshuis gegee het, vervul.

Hy het Sion beskerm, Hy het gesorg dat die bediening van die versoening vanuit God se woning kan voortgaan.

Hy het dit selfs op ‘n hoër plan gebring.

Die tempel in Jersualem het plek gemaak vir die hemelse heiligdom.

Die versoening met dierebloed het plekgemaak vir Christus se eie Middelaarsbloed.

Die tempeldiens het oorgegaan in die erediens van die kerk van Christus, wat plaasvind verspreid oor alle lande, tot aan die einde van die aarde (Hand 1:8).

Die pelgrimstogte van die Israeliete, enkele male per jaar, het plekgemaak vir God se volk uit alle nasies en stamme en volke en tale, wat elke Sondag optrek na God se huis, daar waar Christus se Versoeningswoord bedien word.

Ook u, ook julle het vandag opgetrek na God se huis.

 

So styg die rykdom van die Nuwe Verbond ver uit bo die van die Ou Testament.

En dit sal uitloop op die groot menigte wat niemand kan tel nie, uit alle nasies en stamme en volke en tale, wat staan voor die troon en voor die Lam, bekleed met wit klere en met palmtakke in hulle hande; en wat in ’n massakoor sing: Heil aan onse God wat op die troon sit, en aan die Lam!” (Openb 7:9)

Ja Christus, die Lam, beskerm Sion.

Hy vergader, beskerm en onderhou vir Hom ’n gemeente uit die hele menslike geslag, en dit deur die bediening van sy versoening in Sion, sy kerk (Hk 21 v/a 54).

So bou hierdie groot nakomeling van Dawid vir Sion.

Ja die nuwe Jerusalem wat uit die hemel gaan neerdaal (Openb 21), sal die ou Jerusalem verdwerg in alle opsigte.

 

Ook vandag skyn die lamp van God se Gesalfde (vers 17), die lig van Christus oor jou en my lewe.

Sy verlossing maak dit moontlik dat ons ‘n bevryde lewe kan lei, vry van elke vorm van slawerny.

Sodat ons ons taak trou op aarde kan verrig.

In die ou bedeling was dit spesifiek Dawid en sy koningshuis se taak om die tempel en die versoening wat daar plaasgevind het, te beskerm.

In die nuwe bedeling is elkeen van julle konings.

En soos ons bely met die woorde van die Heidelbergse Kategismus:

In hierdie lewe stry ek as koning met ‘n vrye gewete teen die sonde en die duiwel.

Hierdie stryd het as doel, net soos destyds by Dawid se huis, om Sion te beskerm, daar waar die versoening uitgedeel word.

Eerstens Christus se versoening in jou eie persoonlike lewe.

As koning sorg jy daarvoor dat die Satan nie weer vastrapplek in jou lewe kry nie.

Jy stry dat geen sonde of verslawing van watter aard ook beheer oorneem in jou lewe nie.

Tweedens stry jy vir die voortgang van die versoening in jou huwelik, in jou gesin, in die gemeente.

Jou taak is ook om die voortgang van die Evangelieverkondiging te beskerm.

Eerstens deur jou voorbeeld, deur trou die eredienste by te woon, elke Sondag weer die ‘bedevaart’ na God se huis te onderneem, saam met jou gesin.

God se woning, die voetbank van sy voete (vers 7), is nou nie meer die tempel nie, maar daar waar Christus se Woord klink.

Dan ook deur jou insette, jou gawes en talente, jou tyd en geld vir Sion, Christus se gemeente.

En derdens stry jy as koning vir die verdere uitbreiding van die bediening van die versoening, dat dit bekend mag word onder elke nasie, stam, volk en in elke taal.

So mag ons as onderkonings ons taak op aarde vervul, in diens van ons hemelse Koning.

En ons mag uitsien na die dag waarop ons saam met hom in ewigheid oor alle skepsels sal regeer (HK 12 v/a 32).

 

So het Psalm 132 ook ‘n direkte boodskap vir jou en my lewe.

Die digter se bede vir Dawid se nasaat op die troon, en dat hy trou mag bly aan sy hoë roeping, is deur Christus ook ‘n bede vir jou en my lewe.

Dat jy en ek ook trou mag bly in ons hoë roeping as onderkonings.

En dit is nie net ‘n bede vir Sondae nie.

Dit het met elke uur van elke dag te make: watter keuses jy maak in jou lewe, hoe jy regeer oor jou eie lewe, oor jou huis, dat jy en jou huis die HERE sal dien, dat jy stry dat die sonde nie jou optrede beheers nie, dat jy bid vir jouself en die mense om jou heen, dat jy bid vir die vrede van Jerusalem, dit is die gemeente van Christus, dat jy bid vir ‘n wêreld in nood.

 

Wie so lewe in gehoorsaamheid aan sy hoë roeping, mag ook seën van die HERE verwag.

God het aan Dawid se koningshuis beloof dat daar seën sal rus op hulle regering.

Neem byvoorbeeld vers 15: Sion se voeselvoorraad sal Ek ryklik seën; haar behoeftiges sal Ek met brood versadig.

Ja dit beloof die HERE ook vandag vir elkeen wat trou sy hoë roeping vervul.

En nog ‘n groter seën, vers 16: Haar priesters sal Ek met verlossing beklee, sy gunsgenote sal vrolik jubel.

In die Ou Testament mog die priesters by die tempel namens God verlossing vir die volk aankondig, vergifnis van sondes.

In die Nuwe Testament het Christus as Ewige Hoëpriester in die plek gekom van alle priesters en hoëpriesters van die Ou Testament.

En elke dag mag ons die hande ophef in gebed na sy hemelse heiligdom, vanwaar Hy verlossing uitdeel.

Dit maak ons lewe vrolik en vry, dit gee ons lewe die karakter van ‘n uitbundige loflied.

 

Gemeente, in vandag se preek het ons gesien hoe hierdie Psalm, ‘n gebed vir die huis van Dawid, spesifiek om Sion te beskerm, nog steeds alles te make het met my en jou lewe.

Ons tema – ‘n Gebed dat die koningshuis van Dawid vir Sion sal beskerm – is verhoor.

Dit is ‘n feit.

Christus doen dit as die Horing uit die huis van Dawid, ons ewige Koning.

Tegelyk is ons tema ook ‘n opdrag.

Dat ons as onderkonings ook vir Sion sal bly bid.

Dat ons as onderkonings ook vir Sion sal bly beskerm.

Dat ons gebede die gemeente van Christus op die hande sal bly dra.

Kom ons sing dan ook hierdie Psalm, nie net as ‘n ou lied nie, maar as ‘n lied wat geïnspireer is deur die Gees en boordevol bemoediging vir ons lewe.

Want dit is in Christus vervul.

En onder sy heerskappy weet ons dat dit goed sal gaan met Sion.

En laat ons voete elke Sondag weer die pad vind na Sion, Christus se kerk.

Broers en susters, moenie die plek onderskat wat Sion in jou lewe het nie.

Moenie die noodsaak daarvan onderskat nie.

Moenie met vuur, ja met die ewige vuur speel, deur gemaklik te raak in jou kerkbywoning nie.

Daarsonder, ja buite die kerk – om Cyprianus die ou kerkvader aan te haal – is daar geen saligheid nie.

Leer vir jou kinders om Sion lief te hê.

Moenie lelik praat oor Sion nie.

Want van daaruit word ons lewe verlos, genees, ook ons huwelike, ons gesinne, ja ‘n ontelbare menigte uit elke nasie en stam en volk en taal.

Amen.

 

Voedingsriglyne:

Om hierdie preek te verwerk en uit elke aspek daarvan te leer, volg hier ‘n paar vrae. Die antwoord kan in die preek gevind word, en sommige vrae vereis ook persoonlike oordenking.

  1. Wat was die primêre taak wat die HERE aan die koningshuis van Dawid gegee het?
  2. Vir watter rede het die digter na Jerusalem gereis?
  3. Wat is eksemplariese prediking?
  4. Hoe het Christus die primêre taak van Dawid se koningsdinastie vervul?
  5. Watter opdrag is daar in hierdie Psalm vir jou as Nuwe-Testamentiese gelowige?
  6. Die tempel was die middelpunt van Jerusalem. Wat sal die middelpunt van die nuwe Jerusalem wees?

 

 

 

Liturgie: 

Votum (Ps 121:1 - bedevaartslied)

Seën

Ps 132:1,4

Wet

Ps 132:5,6

Gebed

Skriflesing: Lukas -1:67-79

Sb 2:1,2,5

Skriflesing: Lukas 2:25-32

Sb 3:1,2

Teks: Psalm 132

Preek

Ps 132:7-9

Gebed

Kollekte

Ps 132:10-11

Seën