Jesus Christus is ons voedsel vir ewig

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2021-08-29
Teks: 
Psalm 111:5
Preek Inhoud: 

Preek: Psalm 111:5

 

Voedsel kom en gaan.

Daar is kos wat ons oupas en oumas geëet het, wat ons nie meer ken nie.

Wie van die jeug weet nog wat kaiings is?

Of die met Hollandse voorouers: Wie weet nog wat hutspot is?

Of die met Duitse voorouers: Wie weet nog wat Himmel und Erde, hemel en aarde is?

En oor 50 jaar gaan ons kleinkinders dalk ook nie meer weet wat ons vandag gewoond is om te eet nie.

Daar is natuurlik voedselsoorte wat eeue lank saamgaan.

Dink aan melk, vrugte, groente, aartappels ...

Al het ons voorouers in Europa eers in die 16de eeu met aartappels kennis gemaak.

En mielies eers nog later.

Brood en wyn, dit is dinge wat al vir millenia deur die mensheid genuttig word.

Al het die brood van vroeër waarskynlik heel anders gelyk en geproe as vandag.

Waarskynlik is daar geen voedsel wat altyd dieselfde sal bly nie.

Tog gaan ons in vandag se preek kyk na ‘n maaltyd wat wel altyd sal bly.

Dit is die maaltyd wat ons vandag in hierdie erediens ontvang het.

 

Tema: Jesus Christus is ons voedsel vir ewig

 

Psalm 111 begin en eindig met lof:

Halleluja aan die begin.

En aan die einde: Sy lof bestaan tot in ewigheid.

Die digter – ons ken nie sy naam nie – deel met ons sy hartewens:

Ek wil die HERE loof van ganser harte.

Hy wil dit persoonlik doen, daar waar hy alleen is.

Hy wil dit ook saam met ander doen – in die kring van die opregtes, in die vergadering – daar waar God se volk saamvergader is.

Byvoorbeeld voor sy aangesig by die tempel.

Psalm 111 is veral ook ‘n loflied saam met ander.

‘n Massakoor, wat klink soos wanneer die kerk stampvol is en almal uit volle bors sing.

Kan jy invoel wat die digter se wens was?

Daardie unieke ervaring as massas mense saam tot eer van God sing.

 

Dit is die inleiding op die Psalm, vers 1, waarin die digter sy hartewens bekend maak.

Sy hart is brandende vol van verwondering en lof op die HERE.

 

Die res van die Psalm, prakties al die verse behalwe die laaste een, is vervolgens een lang lys van God se groot dade.

Dit is algemeen gestel, dus mens kan dink aan verskeie episodes uit die verbondsvolk se geskiedenis.

Indrukwekkend is die werke van die HERE.

Dit word nagespeur deur wie daarin ‘n welbehae het – wie daarin vreugde vind.

Veral sy verbondsvolk vind vreugde daarin om sy werke te bestudeer.

Sy dade is majesteit en heerlikheid.

Die werke openbaar dat ‘n groot Koning, ‘n hemelse Koning aktief is.

Sy geregtigheid bestaan tot in ewigheid.

Hierin hoor ons die belydenis dat dit wat die HERE doen reg is.

Of Hy straf of seën, wat Hy ook al doen, dit is regverdig.

As Hy die Kanaäniete se land aan die Israeliete gee, is Hy nie onregverdig besig nie.

As Hy die Israeliete straf deur vyandelike invalle, is Hy eweneens nie onregverdig besig nie.

Hy is trou aan sy verbond, ook aan die bepalings van die verbond.

Die maatstaf van wat reg en verkeerd is, waarvan Hy die oorsprong is, aan daardie maatstaf hou Hy Homself ook.

Dit skitter in al sy dade.

God slaan nie ‘n regte hou met ‘n krom stok nie, soos die uitdrukking lui.

Nee, al die werke van sy hande is trou en reg (vers 7).

So is Hy en was Hy en sal Hy vir ewig wees.

Gemeente, dit kry net nog soveel meer diepte in Jesus Christus, God se geskenk vir die sondige wêreld.

In Christus hou God se geregtigheid vir ewig stand.

Ja God se reddingswerk in Christus is sy allergrootste wonderwerk.

Ons kan dit nie deurgrond nie.

Maar tog is dit so, dat God Homself aan die hoogste en strengste eise van sy wet gehou het, toe Hy sy Seun as Middelaar na die aarde gestuur en met die swaarste straf gestraf het.

Ons kan maar net in bewondering ons koppe laat sak, beseffende hoe vreeslik, hoe ontsagwekkend sy dade is.

En dit met as doel om ons te red!

 

Dan lees ons in vers 4: Hy het vir sy wonders ‘n gedagtenis gestig.

Mens kan ook vertaal: Hy het gesorg dat sy wonders onthou word.

Dan dink ons nie net aan hoe Hy gesorg het dat sy wonders in die Bybel opgeteken is nie.

Juis omdat sy wonders so groot is, word hulle vanself onthou.

Die digter dink tien teen een terug aan die uittog uit die Egipte.

Al die wonders wat daarmee gepaard gegaan het.

En die woestyntyd.

Ons teks praat oor die spys oftewel kos wat Hy gegee het.

Hy het brood en vleis en water in die woestyn voorsien.

God se almagtige krag het veral geblyk toe hulle die beloofde land ingetrek het.

Toe het Hy aan hulle die erfdeel van die heidene gegee.

En inderdaad, die boeke Josua en Rigters getuig telkemale daarvan, dit was nie deur hulle eie swaard en eie vernuf wat hulle Kanaän verower het nie.

Veldslag na veldslag het die HERE die oorwinning gegee.

Van sy kant was Hy trou aan sy verbond.

Behalwe vir daardie spektakulêre tyd, kan nog veel meer werke van God genoem word.

Dink maar net aan sy skeppingswerk, hoe Hy alles wat bestaan in ses dae tot lewe gebring het.

 

Vanaf vers 7 verskuif die aandag meer na die kant van die volk.

Die verbond bestaan naamlik uit ‘n belofte en ‘n eis.

Die HERE het sy kant dubbel en dwars gebring.

So het Hy hulle in staat gestel om Hom lief te hê, om Hom te dien, om volgens sy wil te lewe.

En daarvan getuig die digter nou.

Hy erken dat die werke van sy hande betroubaar en reg is.

Spesifiek erken hy dat sy bevele betroubaar is.

Hy stel God se verbondswet, sy bevele, nie ter diskussie nie.

Hy bely dat hulle betroubaar is.

Dat dit die regte pad vir die volk is om op te gaan.

God se verbondsbepalings, sy wette, word ook nie ouderwets nie.

Dit het nie net vir die voorgeslag gegeld nie.

Hulle is vasgestel vir ewig, vir altyd.

Dus ook vir die tyd waarin hierdie Psalm gedig is, al weet ons nie wanneer dit was nie.

En ook in die tyd van die Nuwe Testament, toe Jesus gesê het dat voordat die hemel en die aarde verbygaan, geen jota of titteltjie van die wet ooit sal verbygaan nie (Matt 5:18).

En ook vir vandag is God se verbondswet vasgestel.

Daarom sing ons ook vandag nog steeds:

“Nimmer, nêrens het my oë

Op die wêreld iets aanskou

Wat bestendig voort kan duur nie

En sy wese kan behou.

Wat volmaak skyn, het ‘n einde,

Moet, met al wat is, verslyt;

Net u wet, in duur onendig,

Is volmaak en eind’loos wyd.” (Ps 119:36 ber.)

Dit sing ons in Psalm 119, die Psalm wat by uitstek sing oor die ewige waarde van God se verbondswet.

Dit is en bly betroubaar.

Dit is vasgestel vir altyd.

Dit word nagekom in trou en opregtheid.

Die Psalmis skryf dit hier in vers 8 nie as ‘n bevel nie, maar as ‘n stelling:

Hulle word nagekom en trou en opregtheid.

Daarmee wil hy eintlik die tydloosheid van God se wet beklemtoon.

In elke eeu weer sal daar hulle wees wat volgens sy wet lewe.

In elke eeu sal sy gebooie aktueel bly.

So lei hierdie Psalm ons om nie net God se groot dade nie, maar ook sy gebooie te besing.

Net soos ons oor sy wonderwerke sing, so sing ons oor die betroubaarheid van sy bevele.

 

Soos ek genoem het, Psalm 111 dink terug aan die woestyntyd.

Daardie tyd waar sowel God se wonders en sy wette so skitterend onder die volk se aandag gebring is.

Toe die HERE by die Horeb ‘n verbond gesluit het.

Toe die HERE in die woestyn sy verpligtinge in die verbond nagekom het.

Ons teks sing: Aan die wat Hom vrees, het Hy spys gegee.

Maar dan staan daar in die tweede sin van die teks:

Hy dink vir ewig aan sy verbond.

Soos ons weet, het die spys, die kos in die woestyn, die manna nie vir ewig geduur nie.

Dit het opgehou, toe hulle die beloofde land ingetrek het.

Dit beteken egter nie dat God toe opgehou het om vir hulle te sorg nie.

Dat Hy sy kant van die verbond, wat Hy beloof het om te doen, ophou doen het nie.

 

Dat dit waar is, dat Hy ewig aan sy verbond dink, en dus altyd kos sal voorsien, daarvan is ons vandag getuies.

Aan die wat Hom vrees, het Hy spys gegee.

Ja vandag hier in hierdie erediens het Hy die wat Hom vrees, gevoed.

In Johannes 6 getuig Jesus Christus dat Hy die ware manna uit die hemel is.

In die woestyn het God se volk manna geëet, maar weer honger geword.

Christus is egter die ware Brood.

Wie Hom eet, sal nooit meer honger word nie.

Johannes 6:31-35: “Ons vaders het die manna in die woestyn geëet, soos geskrywe is: Hy het brood uit die hemel aan hulle gegee om te eet. En Jesus sê vir hulle: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, dit is nie Moses wat die brood uit die hemel aan julle gegee het nie, maar my Vader gee julle die ware brood uit die hemel. Want die brood van God is Hy wat uit die hemel neerdaal en aan die wêreld die lewe gee. Toe sê hulle vir Hom: Here, gee ons altyd hierdie brood. En Jesus sê vir hulle: Ek is die brood van die lewe; wie na My toe kom, sal nooit honger kry nie; en wie in My glo, sal nooit dors kry nie.”

 

In die Ou Testament het die HERE ruimskoots sy kant van die verbond gebring, selfs ten spyte van die volk se dikwelse ontrou.

In die Nuwe Testament gaan die HERE nog soveel verder, toe Hy die ware Brood uit die hemel gestuur het.

In Christus weet ons dat Hy vir ewig aan sy verbond dink!

In Christus word hierdie Psalm vervul.

In Christus word hierdie Psalm vir ewig waar.

In die Ou Testament het God verlossing gestuur (vers 9), keer op keer vir ‘n afvallige volk.

Daardie verlossinge was egter nog maar klein vergeleke met die verlossing in Christus.

Hulle was nog maar skadubeelde wat daarheen vooruitgewys het.

Waar die mense se monde toe oopgeval het van verbasing oor hoe heilig en vreeslik, hoe ontsagwekkend sy Naam is, des te meer gebeur dit sedert Paasfees en Hemelvaart.

Ons besing vandag die vreeslike, dit wil sê die oneindig ontsagwekkende Naam van ons Koning Jesus Christus.

 

Psalm 111 sluit af met ‘n oproep, maar weer eens nie in die vorm van ‘n bevel nie, maar as ‘n stelling, ‘n stelling waarmee ‘n appèl op ons gedoen word:

Die vrees van die HERE is die beginsel van die wysheid.

Dit is die wese van wysheid.

Die vrees van die HERE is die begin van wysheid.

Dit is waar wysheid in jou lewe begin.

Vrees die HERE, dien Hom volgens sy gebooie, dan is jy ‘n wyse mens.

 

Dit is die eis van die verbond.

Maar, soos dit alreeds uit die preek duidelik geword het, hierdie Psalm impliseer nie dat ons nou op eie krag die eis van die verbond moet volbring, uit eie krag die gebooie moet hou nie.

Dit is God wat aan sy volk verlossing geskenk het.

Soos die Tien Gebooie begin met die aanhef, waarin ons lees dat God sy volk uit Egipte bevry het, en so in staat gestel het om die gebooie van harte en dankbaar na te kom.

So het die HERE aan ons die groot Exodus gegee, die groot uittog en bevryding uit die slawerny van die Satan, en dit deur die dood en opstanding van sy Seun.

Uit eie krag sal ons elke dag misluk.

Maar ons is bevry.

En uit die krag van sy verlossing kan ons nou as gehoorsame verbondskinders lewe.

Want, soos Paulus skryf: “ek leef nie meer nie, maar Christus leef in my” (Gal 2:20).

Sy Gees wat in my woon en werk, leer my om die gebooie te hou.

Sy Gees gee my die vermoë om die regte koers te hou, om die regte beslissings in die lewe te neem.

Dis nie dat ek passief dit net ondergaan nie.

Die Gees werk in my, herskep in my ‘n nuwe wil, waardeur ek self aktief weer die regte keuses maak.

Die Gees gee my ‘n goeie verstand terug – dink aan die laaste vers van Psalm 111.

Die Bybel definieer ‘n goeie verstand nie in terme van IK nie.

‘n Godvresende lewe daarenteen maak jou slim, maak jou verstandig, maak jou wys.

‘n Godvresende lewe gee jou ‘n goeie huwelik, nie ‘n doktersgraad in genderverhoudings nie.

‘n Godvresende lewe leer jou korrek met geld werk, nie ‘n doktersgraad in ekonomie nie.

Ensovoorts.

Ek sê nie ‘n doktersgraad is verkeerd nie, die wat die talente daarvoor gekry het, moet daarmee woeker.

Maar sonder die vrees van die HERE maak die lewe op aarde nie sin nie, raak dit ‘n onoplosbare raaisel, en is alle geleerdheid sinneloos.

Wie sy lewe egter begin en eindig, soos hierdie Psalm, met lof aan die HERE, die kry ‘n vervulde lewe.

 

Ons leef om te loof.

Daarin vind ons lewensvervulling.

Dit is verfrissend, verblydend om ‘n mens te ontmoet wat so lewe.

Dit is aansteeklik, dit maak van hierdie wêreld ‘n beter plek.

Broers en susters, kyk om jou heen.

Vandag is daar voor en agter jou, links en regs van jou hulle wat ook lewe om te loof.

Wat ‘n voorreg om in so ‘n gemeenskap, so ‘n verbondsgemeenskap, te mag lewe.

 

Ons teks is ook in vandag se nagmaalsviering weer vervul.

Omdat Christus ook vandag weer Homself as die lewende Brood gegee het.

Jesus Christus is ons voedsel vir ewig.

Soos die nagmaalsformulier dit verwoord in die dankgebed: “Ons dank U dat U u eniggebore Seun aan ons geskenk het as ‘n Middelaar en offer vir ons sondes, en as spys en drank van die ewige lewe.”

So het Hy vandag weer aan sy verbond gedink, en die verpligtinge wat Hy aan Homself gestel het in hierdie genadeverbond, rojaal vervul.

Halleluja.

Ja, sy lof bestaan tot in ewigheid.

“Hy het sy volk bevry, bewaak,

Vir ewig sy verbond gemaak:

Sy Naam is vreeslik, hoog verhewe.

Sy vrees is wysheids-aanbegin.

Kom wandel dan die heilsweg in!

Aan Hom sy ewig lof gegewe.” (Ps 111:5 ber.)

 

Amen.

 

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 111:1,2

Wet

Ps 119:36

Gebed

Nagmaalsformulier (p.17)

Gebed (afgesluit met sing van Onse Vader)

Apostoliese Geloofsbelydenis (sing)

Viering van die Nagmaal

  • Skriflesing: Johannes 6:22-35
  • Ps 111:3

Lofverheffing & Dankgebed

Teks: Psalm 111:5

Preek

Ps 111:4,5

Gebed

Kollekte

Ps 145:2,3,5

Seën

 

Voedingsriglyne:

Om hierdie preek te verwerk en uit elke aspek daarvan te leer, volg hier ‘n paar vrae. Die antwoord kan in die preek gevind word, en sommige vrae vereis ook persoonlike oordenking.

  1. Waarmee begin en eindig Psalm 111?
  2. Hoe is Psalm 111:5 in ons Here Jesus Christus vervul?
  3. Noem ‘n werk van die HERE gedurende jou lewenstyd, wat getuig van sy majesteit en heerlikheid.
  4. Hoe verduidelik jy aan ‘n onkerklike die beeldspraak: Jesus Christus is ons voedsel?
  5. Wie het vandag voor en agter en links en regs van jou in die kerk gesit (oggend- of aanddiens)? Wat het hulle met jou in gemeen?
  6. Ken jy ‘n berymde vers van Ps 111? Indien nie, leer hierdie week een.