Wie sal glo dat lyding die pad na die heerlikheid is?

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Pretoria
Datum: 
2021-08-22
Teks: 
Jesaja 53
Verwysing: 
Profete-Projek 11
Preek Inhoud: 

Gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Ek vermoed ek weet wat die antwoord sal wees as ek vir die kinders die vraag sou stel: wat is vir jou lekkerder – om jou groente op te eet, of om ‘n stuk koek of droëwors te kan eet? Of wanneer ek aan die Johannes Calvyn-leerlinge sou vra: wat sou jy eerder op ‘n Vrydagmiddag wou doen – by ‘n maatjie speel, of wiskunde-huiswerk doen? Of wanneer ‘n mens aan ‘n sokker-geesdriftige sou vra: wat verkies jy – dat jou span die beker wen, of dat hulle in die laaste minuut van die einstryd verloor? En as iemand wél vir die groente sou kies, of vir die wiskunde-huiswerk op ‘n Vrydagmiddag, of vir ‘n nederlaag in die laaste minuut – dan sou jy hom waarskynlik ongelowig aankyk: wat is fout met jou?! Want wie kies nou vir die onaangename, vir dít wat nie lekker is nie? Wie kies vir die moeilike pad, die swaarkry? Wie kies vir lyding? Ook Christene doen dit nie. Niemand van ons hoop dat swaarkry vir ons voorlê nie; niemand van ons wens hierdie twee dogtertjies toe dat hulle in hulle lewens lyding sal beleef nie.

Maar, gemeente, dit wat ons nie self kies nie, is nogtans die weg wat die Here kies – die weg wat Hy self gaan, én die weg wat Hy dikwels met sy volk gaan. In Jesaja 40-66 – Jesaja se sogenaamde troosboek, waarin hoop en oorwinning die bo-toon voer – word ons skielik in hoofstuk 53 gekonfronteer met die feit dat die Here die weg van lyding gaan. Kan jy dit glo? Dit is presies Jesaja se vraag in hoofstuk 53:1: “Wie het geglo wat aan ons verkondig is?” En dit is dan ook die tema vir die preek, in die vorm van ‘n vraag:

Tema: Wie sal glo dat lyding die pad na die heerlikheid is?

 

Soos ek reeds genoem het – en soos u op die preekblad (onder punt 2) kan sien – begin Jesaja in hoofstuk 40 met ‘n nuwe gedeelte van sy profesie; ‘n mens voel sommer aan: hier is ‘n draaipunt, hier is iets nuuts. Maar om hierdie nuwe deel te verstaan, moet ons dit lees teen die agtergrond van dit wat direk daaraan voorafgaan. Direk voor Jesaja 40 vind ons in hoofstukke 36-39 ‘n historiese gedeelte, ‘n unieke paar hoofstukke binne die geheel van Jesaja se profesie – dit vertel vir ons van enkele belangrike gebeurtenisse tydens die bewind van koning Hiskia. Nou, die gebeure van Jesaja 39 speel hulle af om en by die jaar 703 vC – Hiskia was siek, hy is wonderbaarlik deur die Here genees (Jes. 38), en vervolgens daag (in hoofstuk 39:1) ‘n afvaardiging uit Babel in Jerusalem op om vir hom geskenke te bring en goeie gesondheid toe te wens. Hiskia, gevlei deur die Babiloniese belangstelling, laat geen steen onaangeroer om hierdie afvaardiging te beïndruk nie; hy wys vir hulle sy hele rykdom, hy sluit elke skatkamer oop, hy stel sy hele wapenhuis ten toon. Maar ... dan kom Jesaja op die toneel met die onheilspellende profesie: “Kyk, daar kom dae dat alles wat in jou huis is en wat jou vaders opgehoop het tot vandag toe, na Babel weggevoer sal word; daar sal niks oorbly nie... En van jou seuns ... sal hulle neem, dat hulle hofdienaars word in die paleis van die koning van Babel” (Jes. 39:6-7). Hierdie einste vriendelike Babiloniërs, tans op ‘n word-gou-beter besoekie in Jerusalem, sal uiteindelik God se volk in ballingskap wegvoer.

Lees ‘n mens egter die volgende klompie hoofstukke, dan besef jy dat Jesaja ons skielik in die gees meer as 150 jaar die toekoms invat, tot by die laaste jare van die ballingskap. Vir die volk word vertel dat hulle ballingskap verby is (Jes. 40:2), en dat hulle na Jerusalem mag teruggaan. Sommer net so, vanaf Jesaja 39 na Jesaja 40 spring ons oor 150 jaar se geskiedenis. Alle rede vir mense, wat nie die gesag van die Skrif aanvaar nie, om te sê: “Daar het jy dit nou – niemand kan mos die toekoms so presies voorspel nie? Dit is daarom nie moontlik dat Jesaja hoofstukke 40-66 kon geskryf het nie. Dit moes deur iemand anders ná die gebeure geskryf gewees het – waarskynlik ‘n groep van Jesaja se dissipels. Kom ons noem hierdie hoofstukke daarom liewer Deutero-Jesaja (tweede Jesaja) – dit asem wel die gees van Jesaja, maar dit kom nie van die hand van Jesaja nie.” Maar dan vergeet hierdie mense, broers en susters, dat die hele punt, van veral Jesaja 40-48, juis is om teenoor die afgode te handhaaf dat die Here wél die toekoms kan voorspel – en om daarmee aan die volk troos en versekering te bied! In Jesaja 41 daag die Here die afgode uit om, as hulle regtig gode is, die toekoms te voorspel: “Gee te kenne dinge wat later sal kom, sodat ons kan weet dat julle gode is” (Jes. 41:23). Maar hulle kan nie; hulle kan nie eens praat nie. Daarteenoor is die Here wel in staat om die toekoms te voorspel: “Kyk, die vorige dinge het gekom, en nuwe dinge verkondig Ek; voordat hulle uitspruit, laat Ek julle dit hoor” (Jes. 42:9). “Wie het dit van ouds af laat hoor, lank tevore dit verkondig? Is dit nie Ek, die Here nie?” (Jes. 45:21). “Die vorige dinge het Ek lankal verkondig ... voordat dit gekom het, het Ek jou dit laat hoor, dat jy nie sou sê: My afgod het dit gedoen, of my gesnede beeld of my gegote beeld het dit beveel nie” (Jes. 48:3-5). Die Here het die toekoms in sy hande!

 

En die mees opmerklike bewys van die Here se vermoë om die toekoms te voorspel, was sy roeping van Kores, die koning van die Persiese ryk! 150 Jaar voordat dit sou gebeur, onthul die Here alreeds die identiteit van die persoon wat Israel uit Babel na Jerusalem sou laat terugtrek. Die Here is die Een “wat van Kores sê: Hy is my herder, en hy sal alles volbring wat My behaag deurdat hy van Jerusalem sê: dit moet gebou word, en die tempel moet gegrond word” (Jes. 44:28). En in Jesaja 45 bou die Here hierop voort, sodat ons in vers 13 lees: “... hy (Kores) sal my stad bou en my ballinge loslaat sonder koopprys en sonder geskenk.” Soos ‘n tweede Moses word Kores aan ons voorgehou as diegene wat die volk uit die land van hulle slawerny sal uitlei – die Here sal voor hom uitgaan (Jes. 45:2) soos wat Hy voor Moses uitgegaan het (Ex. 23:23); die Here sal aan hom die skatte van Babel gee (Jes. 45:3), net soos wat Hy aan Israel die skatte van Egipte gegee het (Ex. 3:22). Kores word in Jesaja 45:1 selfs die Here se ‘gesalfde’ genoem – in Hebreeus ‘Messias’, in Grieks ‘Christus’! Kores – ‘n heiden! – sal die Messias / die Christus wees om Israel uit Babel te verlos! Ons vind hier ‘n ongelooflike prentjie van die Here se vermoë om die toekoms te bepaal en só sy volk te verlos!

 

Maar is dit alles, broers en susters? Is dit die volle verhaal van die verlossing van God se volk – Kores sal kom om die volk na Jerusalem te laat terugkeer, en hy sal sorg dat die stad en die tempel herbou word? Wel, wat wil ons nog meer hê? Meer glorieus as dit kan ‘n mens seker nie kry nie – ‘n heidense koning wat op God se bevel kom om sy volk te verlos! Maar dan... uit die newels van Jesaja se Kores-voorspellings begin daar stadig maar seker ‘n ander figuur opduik – eers onduidelik, vaag, maar dan al hoe duideliker. En eintlik wil ons hom in die newels terugdruk; eintlik wil ons hê dat hy maar weer in die newels moet verdwyn – want hy bederf die prentjie, hy doen afbreuk aan die seëvierende Messias, koning Kores! Maar ons kan hom nie keer nie – die Kneg van die Here word al hoe duideliker voor ons afgebeeld. Teenoor Kores, wat die koninklike gesig op die munstuk verteenwoordig, word vir ons ook die ander kant van die munstuk geteken...

En so ontmoet ons in hoofstuk 42 vir die eerste keer die Kneg van die Here wat as regter God se geregtigheid op aarde kom vestig: “Hy sal die reg na die nasies uitbring” (Jes. 42:1). En daarna ontmoet ons die Kneg van die Here sowel in hoofstuk 49 as in hoofstuk 50 as profeet, wat die Woord van die Here verkondig, nie slegs aan Israel nie, maar ook aan die nasies: “die Here HERE het My ‘n geoefende tong gegee, dat Ek kan weet om die vermoeide te verkwik met woorde” (Jes. 50:4). En ten slotte ontmoet ons die Kneg van die Here in hoofstuk 53, waar Hy as priester vir Israel intree en Homself as offer vir hulle gee: “Hy sal hulle skuld dra” (Jes. 53:11). En soos wat ons vanaf hoofstuk 42, via hoofstukke 49 en 50, by hoofstuk 53 uitkom, sien ons hoe die lyding van hierdie Kneg geleidelik toeneem. In hoofstuk 42:2 word net gesê dat hy nie sal skreeu of uitroep of sy stem op die strate sal laat hoor nie; in hoofstuk 49:4 kla die Kneg: “tevergeefs het Ek My vermoei, my krag vir niks en vrugteloos verteer”; in hoofstuk 50:6 word dit nog erger: “Ek het my rug gegee vir die wat slaan, en my wange vir die wat die hare uitpluk; my aangesig het Ek nie verberg vir smaadhede en bespuwing nie.” En dan, in hoofstuk 53, vind ons die Kneg in al sy vernedering; hier word duidelik dat die Kneg van die Here die lydende Kneg is! En nou is dit Kores wat in die mis verdwyn en word ons gedwing om hierdie lydende Kneg goed te bekyk. Kom ons doen dit...

 

“Hy het soos ‘n loot voor sy aangesig opgespruit en soos ‘n wortel uit droë grond” (Jes. 53:2a) – soos ‘n klein plantjie in die droë seisoen in Israel begin groei in ‘n rivierbedding, wat heeltemal uitgedroog en in verskillende stukke gekraak is, so word hierdie Kneg gebore in ‘n geestelik uitgedroogde nasie. “Hy het geen gestalte of heerlikheid gehad, dat ons Hom sou aansien nie, en geen voorkoms, dat ons Hom sou begeer nie” (Jes. 53:2b) – dis nie asof jy hierdie plantjie sou pluk en op julle huweliksherdenking vir jou vrou sou gee nie. Daar is niks moois aan hierdie plantjie nie. Dis droog, geen blomme nie, geen skoonheid nie, geen heerlike geur nie. “Hy was verag en deur die mense verlaat” (Jes. 53:3a) – of soos wat Johannes eeue later sou sê: “Hy het na sy eiendom gekom, en sy eie mense het Hom nie aangeneem nie” (Joh. 1:11). Meer nog, sy voorland was van die begin af een van veragting en totale verwerping. Jonathan Edwards, die 18de eeuse prediker, het ‘n slag gesê dat die menslike vyandigheid jeens God so groot is, dat as God sy lewe aan mensehande sou toevertrou, dan sou God nie vir 15 sekondes oorleef nie. En in die vleeswording van God word dit bewaarheid: Jesus is verag en deur die mense verlaat. “’n Man van smarte en bekend met krankheid” (Jes. 53:3b) – niemand in die geskiedenis het ooit die diepte-dimensie van lyding en smarte geken soos Hy nie. En wat het ons gedoen? Ons het ons gesigte vir Hom weggedraai. Dis wat ons doen met mense wat lelik is, wat nie waardig is nie, vir wie ons nie respek waardig ag nie. Dit is wat die voorland was van die Kneg van die Here.

Maar nogtans, Hy het ons krankhede op Hom geneem, en al ons smarte het Hy gedra – dit beteken dat al die pyn en lyding wat aan ons behoort, op sy rug oorgedra is. Hy het toegelaat dat die las van smarte op Hom gekom het. “Maar óns het Hom gehou vir een wat geplaag, deur God geslaan en verdruk was” (Jes. 53:4) – ons het gesien hoe hy vooroor gebuk sy kruis moes dra, en ons het Hom gespot: Kyk na Hom, die arme drommel. “Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, wat op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom” (Jes. 53:5) – wat, dink jy, sou Job se vriende se gevolgtrekking gewees het as hulle dit gelees het? Wel, Hy moet vir seker die grootste sondaar van almal wees – immers, Hy is verbrysel, die straf was op Hom; dit beteken dus dat Hy skuldig is! En tog... dit was alles vir ons; vir óns vrede, vir óns genesing. Vir óns! Ja, want ons is soos skape, dom en eiesinnig. Ons loop elkeen ons eie pad, volg ons eie kop. Maar die Here laat ons ongeregtigheid op Hom kom (Jes. 53:6) – en intussen het Hy sy mond nie oopgemaak nie: “Hoe kan U dit aan my doen? Dis nie regverdig nie! Ek het U dan hoor sê: ‘Dit is my geliefde Seun in wie Ek ‘n welbehae het’, en is dít nou wat ek daarvoor terugkry?” Nee, geen woord van protes nie.

 

Broers en susters, die weg van die Kneg van die Here – van Jesus Christus – was ‘n weg van lyding, van onbeskryflike swaarkry. En dit was nie sy weg omdat Hy die Kneg van Satan is nie; dit was nie sy weg omdat Hy die Kneg van die Noodlot is nie; dit was nie sy weg omdat Hy die Kneg van omstandighede is nie. Nee, dit was sy weg omdat Hy die Kneg van die Hére is. Hy – die Here self! – het Hom geslaan en verdruk; Hy het ons ongeregtigheid op Hom laat neerkom; Hy het Hom krank gemaak; dit het Hom selfs beháág om sy Kneg te verbrysel (Jes. 53:10). Behaag – dit beteken nie dat die Here met ‘n soort duiwelse plesier na sy Seun se swaarkry gekyk het nie, maar dit beteken dat die weg wat die Vader en die Seun en die Heilige Gees reeds voor die grondlegging van die wêreld afgespreek het as die antwoord op die probleem van sonde en lyding en pyn, dat daardie weg deur die Seun uitgevoer word. En dít behaag die Vader. Die Seun se wonde behaag die Vader, dit gee vir Hom die mees intense vreugde – want Hy weet waarvoor dit is! Dit is vir die nakroos – sy siel het ‘n skuldoffer aangebied, en daarom sal Hy ‘n nakroos sien (Jes. 53:10)! Die Here ken die besluit wat van ewigheid af geneem is, Hy ken ook die uiteinde en die uitwerking van hierdie besluit; Hy weet watter toekoms hierdie wonde en verbryseling en verdrukking van sy Seun vir die gelowiges oopmaak. ‘n Toekoms wat seker is, want – onthou die Here se hofsaak met die afgode! – die toekoms is immers in die Here se hande!

Dank die Here daarom vir sy lydende Kneg! Dank die Here dat Jesaja nie net by Kores – die oorwinnaar-koning – vasgehaak het nie, maar dat Jesaja deurgedruk het, nagespeur het, ondersoek het, en getrou was om die figuur wat uit die newels opgedoem het, vir ons te beskryf. Die Lydende Kneg. Vir Jesus Christus was daar geen ander weg na die heerlikheid nie. En vir ons wat deur Hom genesing gekry het, is daar ook geen ander weg nie. Ja, ons vermy dit vir al wat ons werd is – ons wil nie swaarkry nie, ons wil nie ly nie. Wie is daar wat die lyding vrywillig opsoek? Niemand nie, so het ons reeds in die inleiding gekonstateer! En ek sê ook nie dat die gelowige dit hoef op te soek nie – ons hoef nie onsself as martelaars te gaan aanbied nie; ons hoef ons nekke nie vrywillig onder die swaarde van die Taliban te gaan neerlê nie. Maar die lyding gaan nogtans kom. Dit is eie aan die kerk, dit is eie aan elkeen wat vrygekoop is deur die bloed van die Kneg, dat daar lyding gaan wees. En dit is deur hierdie lyding dat die wêreld sal glo, broers en susters. Dit is deur die wonde en die lyding van die kerk – nie deur die kroon van die kerk nie, nie deur die krag van die kerk nie, nie deur ons groot kerkgeboue of deur ons mooi sang nie – maar deur die wonde en die lyding van die kerk (en hoe ons dit dra!) dat die wêreld sal glo. Ook vir hierdie pragtige babadogterjies is dit hulle voorland – ons harte krimp inmekaar om daaraan te dink, maar dit is die werklikheid.

 

Moenie vir hierdie werklikheid terugdeins nie; moet ook nie hierdie werklikheid probeer verdoesel of met versierpapier toeplak nie – dit is wat die tydsgees ons dikwels voorhou, nie waar nie? Vestig die begraafplase buite die stad, dan hoef ons dit nie te veel te sien nie; maak hospitale aanloklike plekke, sodat siekte mooi gemaak kan word; kry versekering, sodat jy vir elke gebeurlikheid voorsiening kan maak. Dit is nie die werklikheid nie, broers en susters! Nee, die weg na die heerlikheid is langs die via dolorosa, die weg van lyding.

Dit is wat Petrus nie verstaan het nie. Ná sy pragtige belydenis in Mattheus 16 (“U is die Christus, die Seun van die lewende God”), vertel Christus vervolgens vir sy dissipels dat Hy baie moet ly en moet sterf. En dan neem dieselfde Petrus nogmaals die woord, hierdie keer nie met ‘n belydenis nie, maar met ‘n bestraffing: “Mag God dit verhoed, Here, dit sal U nooit oorkom nie.” Hoor u die ironie? Mag God dit verhoed, Hére! Laat ek vir U vertel wat U moet doen, Hére; laat my toe om U te adviseer oor die regte weg na die verlossing, Hére. Mag God dit verhoed, Hére! Hier vind ons die eerste pouslike bul – onthou, Petrus word deur die Roomse kerk beskou as die eerste pous. Maar hierdie eerste pous maak lelik droog wanneer hy vir die Here Jesus wil vertel wat moet gebeur – gepraat van pouslike onfeilbaarheid! Maar vir Petrus was dit ondenkbaar dat die Een wat Hy as die Christus (die Messias!) bely het, moes ly en sterf. Petrus het vergeet dat die Messias die Kneg van die Here was, die lydende Kneg!

En hoe dikwels vergeet óns dit nie? Ons sien ons Koning op sy troon, maar ons vergeet hoe Johannes in Openbaring 5 Hom gesien het: “kyk, in die middel van die troon ... staan daar ‘n Lam asof Hy geslag is”. Selfs in die hemelse troonsaal is daar nog steeds die tekens van lyding. Om ons daaraan te herinner dat lyding die pad na die heerlikheid is! Gemeente, wanneer die lyding kom – en dit gaan kom, indien ons dit nie alreeds beleef nie – laat ons mekaar dan herinner aan die weg van die Kneg. En laat ons mekaar daaraan herinner dat ons nie groter as Hom is nie – wat Hy beleef het, is ook ons voorland. Siekte gaan ons beproef. Die dood van geliefdes gaan ons tref. Finansiële swaarkry is geensins vreemd aan kinders van die Here nie. Depressie en slapeloosheid kom ook op die gelowiges se pad. Huweliksprobleme, vervolging, bespotting, diep hartseer – al hierdie dinge is nie vreemd of onverwags nie. Pynlik? Vir seker. Bring dit trane? Ongetwyfeld. Laat dit ons ook verlang na die heerlikheid?

In sy laaste hoofstukke (60-66) beskryf Jesaja vir ons hierdie heerlikheid: “Want soos die nuwe hemel en die nuwe aarde wat Ek maak, voor my aangesig sal bestaan, spreek die Here, so sal julle nageslag en julle naam bestendig wees” (Jes. 66:22). Dit is waarmee Jesaja sy profesie afsluit. Dít... en die hel: “En hulle sal uitgaan en die lyke sien van die mense wat teen My opgestaan het” (Jes. 66:24). Ja, ook die hel. Sodat ons sal besef dat geloof óf ongeloof in die Lydende Kneg gevolge het tot in ewigheid. Laat ons gelowig die weg van lyding agter ons Heiland aangaan; laat ons mekaar op daardie weg bemoedig, dra, ondersteun. Laat ons op daardie weg vir mekaar bid. Want dít is die weg na die heerlikheid – die Here wat die toekoms bepaal, het dit gesê!

Amen

Liturgie: 

Votum Ps. 124:4

Seëngroet: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.

Sing Ps. 43:3 en 4

Wetslesing + genadeverkondiging (1 Joh. 2)

Gebed

Doopsbediening

  • Formulier + vrae
  • Doopsbediening
  • Dankgebed
  • Sing Ps. 139:6 & Skr. 14

Lees & teks: Jesaja 52:13-53:12

Sing Skr. 22:1-3

Preek

Amenlied Skr. 7:3, 4, 9 en 10

Gebed

Kollekte

Slotsang Ps. 66:3, 4, 7 en 9

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen. / Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.