God sluit met Adam ‘n liefdesverbond

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2021-08-01
Teks: 
Genesis 2:15-17
Preek Inhoud: 

Preek: Genesis 2:15-17

 

Met die doop word die kinders van gelowiges in die verbond opgeneem.

Lewe in die verbond is die tema wat ons hierdie jaar in die gemeente behandel.

As ons hierdie tema behandel, is dit goed om jouself ook af te vra:

Waar het die verbond begin?

 

Die eerste keer waar die woord verbond in die Bybel voorkom, is by Noag, waar die HERE voor die sondvloed vir Noag belowe dat Hy met hom ‘n verbond sal oprig – Genesis 6:18.

Tog sal dit nie korrek wees om te konkludeer, omdat die woord verbond hier die eerste keer voorkom, dat God se verbond eers hier begin het nie.

Die teks vir die preek kom uit Genesis 2, heeltemal aan die begin van die mensegeskiedenis, en dit is met ‘n rede.

Want alhoewel die woord verbond in die eerste hoofstukke van Genesis nie gebruik word nie, kan ons tog met sekerheid sê dat God juis met Adam ‘n verbond gesluit het, met die eerste mens, waaruit die ganse mensdom voortgekom het.

Dit kan ons konkludeer, as ons nie net na die woord soek nie, maar aandag skenk aan wat ‘n verbond inhoudelik is.

In sy boek, The Covenant of Love, gee Ds Clarence Stam die volgende definisie van ‘n verbond:

Die verbond is ‘n lewende liefdesverhouding tussen God en sy volk, waarin die Here verklaar dat Hy ons God is wat vir ons sal sorg, en waarin ons verklaar dat ons sy volk is, wat Hom met vreugde sal dien in ooreenstemming met sy Woord.

Hierdie definisie is baie kort en belangrike elemente kan nog hieraan toegevoeg word.

Maar dit wys wel die regte rigting.

En was dit nie ook heeltemal van toepassing op Adam en Eva nie?

 

Kom ons kyk vandag hoe God hierdie verbond met Adam en Eva gesluit het, en met hulle nageslag.

Ook vandag met bet die doop, al is dit nie outomaties dat ‘n kind in die verbond opgeneem is nie.

Want die verbond is met die sondeval verbreek, en dit slegs danksy die Middelaar Christus wat ‘n kind vandag ook in die verbond opgeneem mog word.

 

Tema: God sluit met Adam ‘n liefdesverbond

  1. Die kenmerke van hierdie verbond:

    1. God begin
    2. God stel die mens in staat
    3. God roep die mens tot ‘n spesiale diens
    4. God rus die mens toe met spesiale gawes
    5. God skenk die mens ‘n spesiale plek
    6. God stel ‘n voorwaarde waaruit die mens se liefde blyk
  2. Die aard van hierdie verbond – is dit ‘n werkverbond of ‘n liefdesverbond?

 

  1. Die kenmerke van hierdie verbond

(Voordat ons hiermee verder gaan, wil ek na een teks verwys, wat dikwels gebruik word om te staaf dat die eerste verbond met Adam gesluit is.

Dan dink ek aan die profeet Hosea, hoofstuk 6:7, waar ons lees: “Maar hulle het soos Adam die verbond oortree, daar het hulle troueloos teen My gehandel.”

As hier verwys word na Adam wat die verbond oortree het, beteken dit dat daar wel ‘n verbond moes gewees het.

Want as daar nie ‘n verbond was nie, kon dit ook nie oortree gewees het nie.

 

Tog plaas sommiges ‘n vraagteken by hierdie teks.

Word met Adam werklik die eerste mens bedoel?

Daar is Bybelvertalings wat Adam nie as ‘n mensenaam vertaal nie, maar as ‘n pleknaam.

Neem byvoorbeeld die 2020-vertaling (en daar is nog meer), waar daar staan: “Maar hulle het die verbond oortree soos in Adam; daar was hulle ontrou aan My.”

Daar was naamlik ‘n stad met die naam Adam, geleë oos van die Jordaan.

Sien Josua 3:16, waar daar staan: die water het “opgerys soos een wal, baie ver weg by die stad Adam wat langs Sartan lê”.

Tussen vertalings is daar dus onduidelikheid wat Hosea met daardie vers bedoel het.

Wat vir ons belangrik is, is om te besef dat dat feit dat God sy verbond met Adam gesluit het, nie net afhang van hierdie een Bybelteks nie.)

 

Die feit dat God met Adam ‘n verbond gesluit het, hang nie af van die feit of die woord verbond  letterlik gebruik is nie.

Ons sien naamlik die basiese elemente van wat ‘n verbond is baie mooi in die paradysgeskiedenis.

Moses, die skrywer van Genesis, gebruik by die opskryf van hierdie geskiedenis, vir God die woord HERE – Jahweh – wat by uitstek sy verbondsnaam is.

Ook dit is nie toevallig nie.

 

Kom ons kyk nou na die basiese elemente van ‘n verbond.

Kenmerkend is eerstens dat die verbond eensydig is in sy ontstaan.

Nadat God Adam en Eva geskape het, het Hy na hulle gekom en ‘n spesiale verhouding met hulle aangegaan.

Natuurlik het God met die res van sy skepping ook ‘n verhouding, maar die een met die mens is anders.

Soos die definisie hierbo al na verwys het, is dit veral ‘n liefdesverhouding.

Tipies aan ‘n liefdesverhouding is dat dit wedersyds is.

Al het een Persoon die inisiatief geneem om die verbond tot stand te bring, in die voortbestaan van hierdie verbond word dit wederkerig.

Dit is die tweede element.

Dit word ‘n liefdesverhouding, wat inhou dat elke party vrywillig trou bly aan die ander party.

Hierdie wesenlike elemente van die verbond geld vandag nog steeds.

En ouers, onthou veral om dit aan julle kinders oor te dra.

Die mees wesenlike van die verbond, van verbondsopvoeding, is nie moets en moenies, ‘n lang lys verpligtinge en dinge wat verbied word nie.

Die mees wesenlike van die verbond is liefde, troue lojale liefde, onvoorwaardelike liefde!

Soos dit in die paradys was, geld dit vandag danksy Christus nog steeds.

 

Nog ‘n basiese element in die verbond met Adam en Eva is dat God ‘n spesiale taak vir hulle gegee het.

Hy plaas hulle in ‘n amp, ‘n amptelike funksie met verpligtinge.

Hulle kry die taak om oor die res van die geskape wêreld te heers (Gen 1:26).

En juis in die manier hoe God die mens geskape het, het Hy hulle ook in staat gestel, bekwaam gemaak, om hierdie opdrag uit te voer.

Die mens ontvang spesiale gawes om sy amp te vervul.

Die mens, met byvoorbeeld sy verstandelike vermoëns, is inderdaad in staat om oor die skepping te regeer.

Al is hy nie die grootste en sterkste nie, het hy wel die verstandelike vermoëns om oor die grootste en sterkste diere te heers.

 

Maar daar is nog ‘n spesiale gawe wat die mens van die Skepper ontvang het, veel meer as enige ander skepsel.

En dit is die vermoë om direk met sy Skepper te kommunikeer.

Dit lees ons ook in die paradysgeskiedenis.

So het God dit moontlik gemaak om sy bevele duidelik aan die mens oor te dra, en so kon die mens as verteenwoordiger van God op aarde ook direk aan Hom vertel hoe Hy die opdragte uitvoer, hoe Hy in diens van sy hemelse Koning op aarde lewe.

Op daaglikse basis het God die mens in die paradystuin opgesoek.

Hy het as ‘t ware met die mens deur die tuin gewandel, en hulle het direk met Hom gepraat.

Dit is ‘n kommunikasie wat helaas sedert die sondeval tot ‘n einde gekom het.

Daardie vermoë om so met God te praat het die mens verloor – en dit was sy eie skuld.

Deur sy sonde kan hy nou nie meer so direk voor die allerheiligste God verskyn nie.

Deur Christus is die pad na God weer oopgemaak, deur gebed direk tot God in sy naam.

Verlang jy daarna om weer so direk met God te kan kommunikeer as in die paradys?

Dink net hoe wonderlik dit moet wees!

Hoeveel vrae, onopgeloste vrae het ons nie in die lewe nie ...

En dit alles kan beantwoord word, direk deur God, as ons nog die vermoë gehad het om so direk met Hom te praat.

Christus belowe dat dit wel weer sal gebeur vir die wat aan Hom behoort.

 

In die verbond is daar dus ‘n bepaalde taak, ‘n diens, wat die HERE wil hê die mens op aarde moet vervul, en waarvoor Hy hom toegerus het.

Hy stel hulle aan as sy beelddraers, sy verteenwoordigers op aarde.

As onderkoning kry hulle die taak om namens God op aarde te heers.

In Psalm 8 lees ons: “U het hom ‘n weinig minder gemaak as ‘n goddelike wese en hom met eer en heerlikheid gekroon.” (vers 6)

Die res van die skepping – diere en plante – kyk as ‘t ware op na die mens as ‘n god, wat oor hulle heers en na hulle belange omsien.

En die mens is inderdaad ook so geskape, met uitsonderlike kwaliteite, om dit te kan doen.

Broer, suster, het jy al ooit so oor jouself gedink – dat die skepping na jou opkyk amper asof jy ‘n god is?

Dit is inderdaad so.

Neem een van die mees tipiese voorbeelde, ‘n hond.

Geen dier is so trou en lojaal as ‘n hond nie.

‘n Hond vra nie of jy reg of verkeerd is nie.

‘n Hond kyk in bewondering en afhanklikheid na jou op, asof jy byna ‘n god is.

En so geld dit vir heel die skepping.

Is ons in staat om daardie groot verwagtinge wat die skepping in die mens het, waar te maak?

Ons was in staat, Adam was in staat!

Maar die sondeval het alles anders gemaak ...

Nou stel die mens gruwelik teleur in sy rol as onderkoning op aarde.

Die skepping groei en bloei nie meer onder die mens se heerskappy nie, die skepping ly.

Verlang jy om soos ‘n verantwoordelike rentmeester op aarde weer oor alle diere en plante te heers?

Dit was die oorspronklike opdrag wat God vir die mens in sy verbond gegee het.

Ons verlang na Christus se belofte, dat dit op die herskape aarde weer so mag wees!

 

Ons kyk nou na ‘n volgende tipiese kenmerk van die verbond, soos ons dit in die Bybel vind.

En dit is dat wanneer God met Adam en Eva ‘n verbond sluit, Hy ook vir hulle ‘n woonplek voorberei.

‘n Woonplek waar hulle kan lewe en hulle taak in die verbond kan uitvoer.

In Genesis 2 word die pragtige paradystuin beskryf waar Adam en Eva kon lewe, hulle taak kon uitvoer, van waaruit hulle oor die hele aarde kon uitbrei.

 

Hierdie tuin was God se geskenk.

God het hulle deur hierdie geskenk in staat gestel om te kan lewe en hulle taak uit te voer.

Daar was bome in oorvloed, waarvan hulle die vrugte kon eet.

Hieruit het God se liefde geblyk, sy spesiale sorg in die verbond.

As God iets verlang, naamlik om ‘n taak uit te voer, maak Hy dit vir hulle ook moontlik om dit te kan doen.

 

Maar, en dit bring ons by die volgende kenmerk van die verbond, soos ek reeds genoem het, vir ‘n verbond om optimaal te funksioneer, moet dit ‘n wederkerige liefdesverhouding wees.

Al het die verbond eensydig ontstaan, vanuit God se soewereine besluit en onbeperkte liefde, funksioneer die verbond nou tweesydig.

Beide partye leef in liefde met mekaar.

Nie ‘n gedwonge liefde nie – ‘n liefde wat afgedwing word is nie ‘n liefde nie.

Nee, ook van Adam en Eva word verwag om te kies om God van harte lief te hê.

En juis om dit te laat blyk, stel God ‘n spesiale voorwaarde in sy verbond.

Ons teks: “Van al die bome van die tuin mag jy vry eet, maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie; want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe.” (Gen 2:16-17)

Weer eens, hierdie voorwaarde staan nie op homself nie.

God het die mens eers in staat gestel om die voorwaarde te kan volbring.

Daaraan herinner die boom van die lewe.

Waarskynlik het hierdie twee bome naby aan mekaar gestaan, in die middel van die tuin.

Elke keer as Adam en Eva is hulle herinner dat al mag hulle nie van hierdie boom eet nie, daar ‘n oorvloed bome was waarvan hulle wel mog eet.

So was dit nie moeilik om die verbondsvoorwaarde te volbring nie, naamlik om hierdie boom uit te los.

Dit was die boom wat die wedersydse liefde in die verbond juis geaksentueer het.

Die reg om te besluit wat goed en kwaad is, het die mens aan God oorgelaat.

Hulle het nie daarmee begin peuter nie.

Soos God alles geskape het, so was dit goed.

Soos God alles bepaal het, was dit volmaak.

Waarom dan vraagtekens plaas by wat goed en wat kwaad is?

 

In hierdie verband is daar ‘n belangrike opdrag wat God vir Adam gegee het.

Ons teks: “Toe het die HERE God die mens geneem en hom in die tuin van Eden gestel om dit te bewerk en te bewaak.” (vers 15)

Ek het al kortliks verwys na die taak om te bewerk.

Na hartelus mog die mens in die tuin werk, dit verken, dit ontgin, aan die diere name gee, ensovoorts.

Dit was sy opdrag in die verbond.

Maar daar was nog ‘n opdrag: Hy moes die tuin ook bewaak.

Die woord bewaak wys daarop dat daar ‘n gevaar was.

En dit kom uit in die naam van hierdie boom: kennis van goed en kwaad.

Die kwaad het dus bestaan.

 

Dis nie so, gemeente, dat toe die duiwel in die gedaante van ‘n slang op ‘n goeie dag aan Eva verskyn, dit totaal onverwags was nie.

Dis nie so dat Eva en Adam totaal onkant betrap is nie.

God het hulle terdeë bewus gemaak van die gevaar.

Ons kan daarvan uitgaan dat God aan Adam en Eva vertel het van die engele-opstand, van die Satan, die gevaar wat hy ingehou het, die risiko dat hy juis ook die kroon van die skepping sou teiken.

Die werklikheid dat daar kwaad is, die werklikheid dat daar teen God gekies kan word, dit het God aan hulle geopenbaar, juis ook deur hierdie boom.

En die opdrag om die tuin te bewaak onderstreep die werklikheid dat daar ‘n kwaad was wat bestaan het, en wat die mens uit die tuin moes weghou – die mens wat God volmaak sonder sonde en volledig toegerus geskape het.

Dit was dus ook ‘n belangrike opdrag in die verbond.

En die boom van kennis van goed en kwaad was ‘n oproep, ‘n voorwaarde wat God stel om in hierdie volmaakte tuin te mag woon en werk.

Dit het die mens opgeroep tot ‘n vrywillige keuse vir sy Skepper.

Om saam te vat, gemeente, die wesenlike elemente van ‘n verbond is ook hier in die paradysgeskiedenis aanwesig.

God begin.

Uit soewereine liefde sluit Hy die verbond.

Hy begin die liefdesverhouding, wat vervolgens wedersyds word.

God stel die mens in staat om ‘n volwaardige verbondspartner te wees.

God roep die mens binne die verbond tot ‘n spesiale diens, ‘n amp, ‘n opdrag.

God stel die mens ook in staat om dit te doen, Hy rus hom toe met spesiale gawes.

Hy berei vir hom ook ‘n spesiale plek voor, waar hy sy amp kan uitoefen.

En binne die verbond stel Hy ‘n voorwaarde, waaruit juis die vrywillige wedersydse liefde moet blyk.

Dit is, in kort, die hoofelemente van ‘n verbond.

Die Doopsformulier vat dit nog korter saam deur te sê dat die verbond bestaan uit ‘n belofte en ‘n eis.

Die belofte kom altyd eerste, maar die eis is ook nie afwesig nie.

 

En gemeente, al leef ons vandag in die Nuwe Testament, is hierdie wesenlike elemente van die verbond nog steeds aanwesig.

Danksy Christus het God ook ongevraagd uit soewereine liefde met jou ‘n verbond gesluit het.

En Hy het jou ook in staat gestel om ‘n volwaardige verbondspartner te wees.

En ook aan jou gee Hy ‘n spesiale opdrag, ‘n amp.

Ook vir jou rus Hy toe met gawes.

En ook aan ons klink die voorwaarde, die oproep tot wedersydse lojale liefde.

 

2. Die aard van hierdie verbond

Nou is daar nog een punt waaraan ons moet aandag skenk.

Daar is mense wat die verbond met Adam ‘n werkverbond noem.

Daar word geargumenteer dat Adam en Eva uit eie krag die eis van die verbond kon volbring.

Is dit korrek?

Kan mens oor God se verbond met Adam en Eva as ‘n werkverbond praat?

 

Die mense wat van ‘n werkverbond praat, is in die sin reg dat daar nog nie ‘n sondeval was, dat die verbond nog nie verbreek was en dat ‘n middelaar nog nie nodig was nie.

Al het Christus al bestaan, was Hy nog nie as Middelaar geopenbaar nie.

‘n Genadeverbond in die sin soos wat ons in die res van die Skrif lees, dit was nog nie ter sprake nie.

Tog is die woord werk, werkverbond, nie op sy plek nie.

Want dit was nie wat kenmerkend was aan God se verbond met Adam en Eva nie.

Die werke is nie vooropgestel nie, maar die liefde.

Dit was voor alles ‘n liefdesverbond.

Om mekaar van harte lief te hê, is dit gepas om dit as ‘n werk te beskryf?

 

Wat ook belangrik is om te besef, is dat die verbond met Adam en Eva nie ‘n ander verbond was as waarin ons mag lewe nie.

Dit is en bly dieselfde verbond.

Adam en Eva het dit verbreek, en in hulle ook hulle nageslag.

Maar uit sy onbeperkte liefde en genade het God ‘n Middelaar gestuur om die verbond te herstel.

En nou is hierdie liefdesverbond ook uit en uit ‘n genadeverbond.

Waar dit alreeds by Adam gegeld het, dat God alles gegee het om die verbond op te rig en in stand te hou, so geld dit vandag net nog soveel meer!

Want ons kan bely dat God daarna ook nog alles gegee het, ja selfs sy eie geliefde Seun as Middelaar, om die verbond te herstel.

 

Kort na ons teks kan ons in Genesis lees hoe alles in ‘n stroomversnelling geraak het.

Die slang, die duiwel wat Eva omgepraat het, Eva wat Adam omgepraat het, die sondeval, die wegkruip vir God wat in die tuin met hulle soos gewoonlik wou kom praat ...

Skielik het ‘n donker skaduwee geval oor alles wat so mooi was.

Die verbond is verbreek.

Maar ook alreeds in hierdie eerste hoofstukke van die Bybel bewys God hoe lojaal Hy self is aan die verbond.

Reeds daar, met die sondeval nog maar pas ‘n feit, belowe Hy herstel, gee Hy al die eerste belofte oor ‘n Middelaar om die verbond te herstel – die moederbelofte – Genesis 3:15.

 

In hierdie selfde verbond, wat in Christus herstel is, word kinders van gelowiges vandag opgeneem.

Dit is ‘n genadeverbond, dit is nog steeds uit en uit ‘n liefdesverbond.

Gemeente, laat ons so oor die verbond dink!

Laat die woorde liefde en dankbaarheid in jou hart opwel.

Ons kan net in verwondering staan voor so ‘n God.

So ‘n God, wat uit soewereine liefde so ‘n skitterende verbond gesluit het.

So ‘n God, wat uit ondeurgrondelike genade sy eie Seun as Middelaar gegee het om die verbond, wat van die mens se kant verbreek is, weer te herstel.

 

Die woorde uit Romeine 11 is hier volledig van toepassing:

“O, diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele en onnaspeurlik sy weë! Want wie het die gedagte van die Here geken, of wie was sy raadsman gewees? Of wie het eers iets aan Hom gegee, dat dit hom vergeld moet word? Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (vers 33-36)

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 111:1

Wet

Ps 81:11,12

Gebed

Doopsformulier

Bediening van doop

Ps 8:1,2

Skriflesing: Genesis 2

Ps 8:3-7

Teks: Genesis 2:15-17

Preek

Sb 35:1-3 (beryming van Romeine 11)

Gebed

Kollekte

Ps 111:3,5

Seën