Jesaja se roepingsvisioen gee perspektief in die moeilikste van tye!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Pretoria
Datum: 
2021-07-25
Teks: 
Jesaja 6
Verwysing: 
Profete-Projek 9
Preek Inhoud: 

Broers en susters,

Charles Dickons begin sy bekende boek A tale of two cities met die nog meer bekende woorde: “It was the best of times; it was the worst of times.” Ek dink dat Jesaja nogal met hierdie woorde sou kon assosieer. “It was the best of times” – want, soos ek al verskeie kere genoem het, was die eerste helfte van die agste eeu vC (dit is die eeu waarin ons Jona, Amos, Hosea, Miga, én nou ook Jesaja sien optree het) ‘n tyd van amper ongekende welvaart en vrede, sowel in Israel (die noordelike tienstammeryk) as in Juda (die suidelike tweestammeryk). Dit was voorwaar “the best of times!”

Maar dit was ook ... “the worst of times” – om verskeie redes! Om mee te begin, beskryf Jesaja in hoofstukke 1-5 die volk as ‘n deur-en-deur sondige volk: “Wee die sondige nasie, die volk swaar van skuld, die geslag van kwaaddoeners, die kinders wat verderflik handel!” (Jes. 1:4). Onder ‘n dun, uiterlike lagie van godsdienstigheid (wat die Here gehaat het – sien Jes. 1:11-15) het die volk owerspel gepleeg, weduwees en wese uitgebuit, gesteel en gelieg. Heidense afgode en praktyke was volop, die leiers was korrup, die vroue was net bekommerd oor hulle uiterlike, en die manne was dronk (lees maar op u eie hoofstukke 1-5). Verder was dit “the worst of times” – want in hoofstukke 7-12 beskryf Jesaja vir ons die dreiging van buite-af. Daar was die gekombineerde magte van Resin en Peka (die Arameërs en die Israeliete van die tienstammeryk) wat saam na Jerusalem opgetrek het om daarteen oorlog te voer (Jesaja 7). Maar baie gevaarliker nog as hierdie twee rokende stukke brandhout (Jes. 7:4) was daar ... die Assiriërs! Die Assiriërs wat in die tweede helfte van die 8ste eeu vC ‘n magtige ryk geword het, en soveel verwoesting en ellende onder die Here se volk gesaai het: “Die Here sal oor jou en jou volk en die huis van jou vader dae laat kom soos daar nie gekom het van die dag dat Efraim van Juda afgeval het nie – die koning van Assur!” (Jes. 7:17) Vyf keer binne 40 jaar sou die opeenvolgende Assiriese konings teen die volk van die Here optrek (sien preekblad) – die derde van hierdie militêre veldtogte het gelei tot die ondergang van Samaria en die wegvoering van die tienstammeryk in ballingskap in 722 vC. En die laaste van hierdie vyf veldtogte was Sanherib se aanval teen Jerusalem in die dae van Hiskia, waarvan u kan lees in Jesaja 36 en 37. Die Assiriërs was ‘n belangrike rede waarom dit “the worst of times” was.

Maar dan, ten slotte, was dit ook nog “the worst of times” – want die koning van die tweestammeryk was dood. Tussen die sondige dreiging wat van binne-uit gekom het (soos beskrywe in hoofstukke 1-5) én die militêre dreiging wat van buite-af gekom het (soos beskrywe in hoofstukke 7-12) vind ons die doodsklokke van hoofstuk 6:1: “in die sterfjaar van koning Ussia...” Daarmee bereik Jesaja se “worst of times” ‘n dieptepunt.

Maar, broers en susters, dít is dan ook wat hoofstuk 6 so belangrik maak! Hoofstuk 6 is reg in die middel – tussen hoofstukke 1-5 en 7-12 (sien preekblad). Chronologies sou hoofstuk 6 eintlik reg aan die begin moes gewees het – immers, dit vertel ons van Jesaja se roeping as profeet; dit is die begin van sy profetiese amp in die sterfjaar van koning Ussia in die jaar 740 vC. Toe is Jesaja as profeet geroep en het hy begin profeteer – dís die begin, dís hoofstuk 1! Maar Jesaja – gelei deur die Gees – maak van hoofstuk 1 egter hoofstuk 6; hy plaas hierdie roepingsgeskiedenis doelbewus tussen hoofstukke 1-5 en 7-12. Want dit is hierdie roepingsgeskiedenis, hierdie indrukwekkende visioen, wat aan Jesaja perspektief gee om in “the worst of times” van sonde en dreiging te kan lewe en te kan profeteer! En só vat Jesaja ons by die hand – ons wat moontlik voel dat ons óók in “the worst of times” lewe – en wys hy vir ons wat hy gesien het... sodat ons ook perspektief kan behou!

Tema: Jesaja se roepingsvisioen gee perspektief in die moeilikste van tye!

 

“In die sterfjaar van koning Ussia het ek die Here sien sit op ‘n hoë en verhewe troon!” As jy mooi kyk, sal dit jou opval dat ‘Here’ hier net met ‘n hoofletter ‘H’ geskryf word, terwyl die res kleinletters is. Hier het ‘Here’ ‘n ander betekenis as, byvoorbeeld, in vers 3 waar dit met vier hoofletters geskryf word. ‘HERE’ met vier hoofletters dui op die Náám van God, in Hebreeus Jahwe, sy Verbondsnaam – “Ek is wat Ek is”. Maar ‘Here’ met net ‘n hoofletter ‘H’ is ‘n vertaling van die Hebreeuse Adonai – wat nie soseer die Naam van God is nie, maar eerder ‘n aanduiding is van sy titel! En hierdie titel (Adonai) beteken: die Soewereine! Dit is só ‘n belangrike titel vir gelowiges om te onthou: ons God is soewerein – dit beteken dat niks in hierdie wêreld gebeur los van / onafhanklik van God se leiding en bestuur nie. Niks nie! Alles wat gebeur – of dit nou deur die krag van mense is, of deur die krag van die natuur, of deur die krag van masjiene – dit is alles in God se hand (soos wat ons in bely in Sondag 10). God is soewerein!

En sien u daarom die ironie hier in Jesaja 6:1? Die aardse koning, Ussia, is weg; hy is dood. Te midde van alle sonde en dreiging is hierdie koning, wat vir 52 jaar oor Israel regeer het en een van die beter konings was, nie meer daar nie. Maar op dieselfde oomblik sien Jesaja vir Adonai – die soewereine Koning! “In die sterfjaar van koning Ussia het ek die Here (die soewereine Koning!) sien sit op ‘n hoë en verhewe troon!” Dit is ‘n patroon wat ons regdeur die Ou Testament waarneem – mense sterf, maar die Here bly vir ewig! U kan dit maar nagaan: Genesis eindig met die dood van Jakob en Josef, maar die Here gaan voort. Deuteronomium eindig met die dood van Moses, maar die Here gaan voort. Die boek Josua eindig met die dood van Josua, maar die Here gaan voort. 1 Samuel eindig met die dood van Saul, maar die Here gaan voort. 1 Kronieke eindig met die dood van Dawid, maar die Here gaan voort. Jesaja begin met die dood van Ussia, maar die Here sit op sy troon! Sien u, dit is in die struktuur en wese van die Ou Testament ingebou dat mense sterf, maar dat die Here soewerein regeer!

 

Die aardse koning is dood, en dan sien Jesaja vir Adonai, die Here! Jesaja sien die Here op sy troon in die tempel. Jesaja mag dus iets sien wat totaal ongehoord was. Normaalweg was die deur na die heilige ruimte in die tempel gesluit, en verder het daar ‘n dik voorhangsel voor die allerheiligste gehang. Want dáár in die allerheiligste was God se troon, bo-op die verbondsark, tussen die beskermende vlerke van die cherubs en omring met die rook van die reukwerk. Geen mens het daar gekom nie, behalwe die hoëpriester, eenmaal in ‘n jaar. Maar nou mag Jesaja sommer so regstreeks in die allerheiligste van die tempel inkyk en God in sy troonsaal sien sit. Wat ‘n geleentheid, nie waar nie? Maar, broers en susters, wat Jesaja daar sien, is vir hom een te veel… Want God is dan so ontsagwekkend groot! Veel groter as die tempel. Net die some van sy koninklike mantel vul alreeds daardie massiewe tempel wat Salomo destyds gebou het. En as net die some van sy mantel hierdie indrukwekkende gebou vul, hoe groot is die mantel dan nie? En hoe groot is die draer van hierdie mantel nie?

Maar Jesaja sien nog meer in die troonsaal… Hy sien serafs (vers 2). Nou, ‘n seraf was ‘n soort engel, en die Hebreeuse woord ‘seraf’ beteken ‘vuur’. Vuurvlam. Serafs is dus engele vol van vuur en lig. En nou sien Jesaja hoe hierdie vlammende serafs bo die Here staan (vers 2a). Met hulle vuurvlam en ligglans omring hulle as’t ware die Here, sodat enige iets wat vuil of sondig is deur daardie vuur verteer word. Geen vuilheid of sonde mag immers naby die Here kom nie, want die Here is heilig! “Heilig, heilig, heilig is die HERE van die leërskare” – dit is wat die serafs mekaar toeroep – “die hele aarde is van sy heerlikheid vol!” (vers 3) En dan moet Jesaja vashou, want die geluid van die serafs se geroep is só hard en só kragtig dat die tempel daardeur geskud word en begin bewe. Die tempeldeure skud in hulle skarniere, en die hele tempel word gevul met rook (vers 4).

 

Maar vir Jesaja is die heerlikheid van die driemaal Heilige eenvoudig te veel. En daarom skreeu hy dit uit van angs: “Wee my, ek is verlore! Want ek is ‘n man onrein van lippe en woon onder ‘n volk wat onrein van lippe is; want my oë het die koning, die HERE van die leërskare, gesien.” Wee my – dis nie sommer net ‘n uitroep nie, maar dit is eerder ‘n soort selfvervloeking. Jesaja besef dat hy verlore is, onrein. En hy is dit saam met die hele volk waaronder hy homself bevind (onthou, in die hele eerste vyf hoofstukke moes Jesaja juis die boodskap van die sondigheid van die volk verkondig). Hoe kan ‘n sondige mens bly lewe in die teenwoordigheid van so ‘n God!? Dit is beter om te sterwe as om onder sy gewig, sy heerlikheid, verpletter te word! Maar wat gebeur dan?

Ons sien hoe een van die serafs, een van daardie vlammende engele met ‘n gloeiende kool na Jesaja toe aangevlieg kom. Dit moes vir Jesaja nog ‘n verdere skok gewees het. Want die vlammende engele was op sigself al verterend vir alle onreinheid en sonde wat in hulle nabyheid gekom het; hoeveel te meer noudat een van hierdie engele met ‘n gloeiende kool na Jesaja gekom het? Die vlammende engel kom met vuur na Jesaja – dit voorspel niks goeds nie. In die hele bybel dui vuur naamlik op gerig, op God se oordeel. Vuur wat die sondaar en die sonde verteer. Jesaja gaan sterf! Máár wat gebeur vervolgens? Met hierdie gloeiende kool raak die seraf Jesaja se lippe aan, en só word sy lippe rein gemaak. Die lippe waarmee hy sopas sy sondes bely het, word gereinig van sondes: jou skuld is weg en jou sondes versoen. Die vuur brand die sondes weg, en die sondaar mag bly lewe!

 

Hoe is dit moonlik? Hoe kan dit wees dat vuur, dat God se heiligheid, nie meer bedreigend vir mense is nie, maar eerder reinigend? Versterkend selfs? Wel, dit is moontlik omdat hierdie gloeiende kool vanaf die áltaar geneem is! Die altaar wat in daardie selfde tempel gestaan het waar God se troon ook gestaan het, die altaar waarop daar geoffer is, waarop die lammetjies verbrand is. Dáár op die altaar het die diens van die versoening plaasgevind – wanneer die lámmetjie verbrand word, dan mag die méns bly lewe! Dit is die evangelie, dit is die goeie nuus!

 

Die Lam van God het op die altaar van Golgota gebuk gegaan onder die vuurgloed van God se ondraaglike toorn; Hy het die verterende vlam van God se oordeel oor ons sondes gedra. En gebukkend onder daardie geweldige swaar las – só lees ons in Mattheus 27:50 – het Hy toe met ‘n groot stem uitgeroep. En op daardie oomblik toe Hy uitgeroep het, het die aarde begin bewe (Mt. 27:51) – net soos in Jesaja se visioen. Die aarde het sodanig geskud dat die grafte oopgegaan en die ontslape heiliges uit die dood uit opgestaan het. Hierdie aardbewing het selfs die tempel laat skud, en die voorhangsel het in twee geskeur, van bo na onder. Skielik kon priesters sommerso in die allerheiligste van die tempel inkyk. Die vuur van God se heiligheid het homself uitgewoed oor Jesus Christus daar aan die kruis op Golgota, en danksy die ‘altaar’ van die kruis het daar vir sondige mense ‘n opening gekom na God toe. Deur daardie offer het daar lewe gekom vir sondaars! Sondaars kry toegang tot die hemelse troonsaal.

Dit is dan ook baie opmerklik dat, wanneer Johannes in hoofstuk 12 kommentaar lewer op die situasie van sy dag – naamlik dat Jesus so baie tekens gedoen het, maar dat die mense nie in Hom geglo het nie – dan haal hy eers uit Jesaja 53 aan (Joh. 12:38), vervolgens uit Jesaja 6 (Joh. 12:39-40). En dan sê hy in vers 41: “Dit het Jesaja gesê toe hy sy heerlikheid gesien en van Hom gespreek het. Toe hy wie gesien en van wie gespreek het? Jesus? Dit lyk amper so! Dit wil voorkom asof Johannes sê: Jesaja het die Seun van God gesien en van Hom gespreek. Ja, want Hy is die Here – in Hebreeus) Adonai, in Grieks ‘Kurios’ – waardeur daar lewe is vir sondige mense! Ja, elkeen wat in Christus glo, hoef God se toorn nie meer te vrees nie. God se vuurgloed maak die gelowige nou eerder skoon van sy sonde, dit maak hom nuut, dit maak hom gereed en geskik tot diensbaarheid aan die Koning van die wêreld!

 

En dan hoor Jesaja die stem van die Here: “Wie sal Ek stuur? En wie sal vir ons gaan?” Die Here is dus besig om by Homself te beraadslaag wie Hy kan gebruik om die profetiese woord aan sy sondige volk te gaan oordra. En dit is nie ‘n maklike boodskap wat hierdie persoon gaan moet oordra nie; dit is nie ‘n boodskap wat die volk gaan verbly nie. Inteendeel, dit is eerder een wat die volk tot verdere verharding gaan bring. Wie moet hierdie boodskap gaan oordra? “Wel, met alle respek, maar moet in elk nie verwag dat Jesaja voor in die ry sal staan nie; die arme man het hom sopas morsdood geskrik vir die heerlikheid van die Here, en sy eie besef van onwaardigheid het hom in doodsweet laat uitslaan. Ek weet nie wie die Here gaan gebruik nie, maar verseker nie Jesaja nie.” Maar dan hoor ons tot ons verbasing Jesaja se eenvoudige en gelowige antwoord: “Hier is ek, stuur my.” Is dit nie wonderlik nie, gemeente? God se heerlikheid en God se genade het duidelik iets in Jesaja se lewe uitgewerk. Na aanleiding van die visioen van die heerlikheid van die Here en die daaropvolgende vergifnis van sy sondes, verklaar Jesaja homself nou bereid tot diens. Sy “wee my” het verander in “stuur my”!

 

Jesaja wil dus diensbaar wees hier op aarde, net soos wat die serafs diensbaar is in die hemel. Dit is mos presies wat ons bid in die derde bede, nie waar nie: laat U wil geskied, soos in die hemel, net so ook op die aarde. En dan gee die Kategismus in Sondag 49 die volgende verklaring by hierdie bede: “gee dat elkeen sy amp en beroep net so gewillig en getrou sal uitvoer soos die engele in die hemel.” Net soos in die derde bede, ontvang Jesaja die engele se hemelse voorbeeld van diensbaarheid. Kyk maar na die serafs in vers 2.

Elke seraf het ses vlerke gehad (vers 2). Met twee daarvan het hy gevlieg. Eintlik staan daar: gesweef. Ja, die serafs het voor God se troon gesweef – dit beteken hulle was gereed om uit te gaan vir diens die oomblik wanneer God hulle daartoe sou opdra. Die oomblik wanneer God se opdrag sou klink, dan was hulle gereed om tot aksie oor te gaan. Die swewende serafs is daarmee ‘n beeld van die voortdurende aandag en opmerksaamheid, die gewilligheid en gereedheid van God se diensknegte. Maar by hierdie bewegende vlerke, is daar ook nog die vlerke-sonder-beweging; dit is die vlerke van selfbedekking. Met twee vlerke bedek elke seraf sy aangesig – want hy kan nie God se skitterende majesteit aanskou nie; selfs in die hemel is God se majesteit te heerlik om te aanskou. En met die laaste twee vlerke bedek hy sy voete – want behalwe dat hy nie God kan aanskou nie, is die grond waarop hy staan ook nog heilige grond.

Dus, enersyds die diensbaarheid (met die vlerke wat sweef), en andersyds die ootmoed (met die vlerke van selfbedekking). Sowel die diensbaarheid as die ootmoed het elkeen sy eie vlerke, maar sonder om teen mekaar in te werk. Die bewegende vlerke is nooit sonder die bedekkende vlerke nie, en die bedekkende vlerke is nooit ‘n verhindering vir die bewegende vlerke nie. Hierdie twee stelle vlerke werk saam om elke seraf te bring tot ware diensbaarheid aan die Koning op sy troon.

 

En wat vir die serafs geld, geld ook vir mense; die hemel is die voorbeeld vir die gelowiges op aarde. En dit is presies wat Jesaja geleer het: deur die Here se heerlikheid klein gemaak (“ek is ‘n man onrein van lippe”), en deur die Here se genade skoon gemaak (“jou skuld is weg en jou sonde versoen”), is Jesaja tot diens gereed gemaak (“hier is ek, stuur my”). Die ootmoed en die diensbaarheid vind mekaar in die ontmoeting met die lewende God! Hierdie ontmoeting maak jou baie klein: wie is ek, Here? Maar hierdie ontmoeting bring jou ook in beweging: hier is ek, Here, stuur my!

-------------------------

Gemeente, dít is die perspektief wat Jesaja in hoofstuk 6 vir ons bied. Draai jy vanaf hoofstuk 6 jou kop links, dan sien jy in hoofstukke 1-5 sonde en afval – genoeg om jou moedeloos te maak. Draai jy vervolgens jou kop regs, dan sien jy in hoofstukke 7-12 dreiging en gevaar – genoeg om jou bang te maak. Kyk jy in hoofstuk 6:1 af, dan sien jy: die koning is dood. So is dit in ons tyd ook. Draai jy vandag jou kop links, dan sien jy siekte en dood; draai jy jou kop regs, dan sien jy armoede en plundery; kyk jy af, dan sien jy dat die regering verlam is deur sy eie onvermoë en korrupsie.

Maar lig jy, saam met Jesaja in hoofstuk 6, jou kop op, dan sien jy die Koning op sy troon – magtig, ontsagwekkend, heerlik – heilig, heilig, heilig! En dan val jy op jou knieë en roep: Wee my! Dít is wat ons nodig het in “the worst of times”, in tye wanneer sonde en dreiging ons oorweldig, in tye wanneer siekte en dood en ellende ons omring. Dan het ons nodig om met die heerlikheid van die Soewereine gekonfronteer te word. En ons het nodig om te sien wie óns – wie ék is! – in hierdie ellende. Só kry ons toegang tot die altaar, tot die bloed van die Lam!  

Jesaja 6 staan reg in die middel tussen hoofstukke 1-5 (sonde) en 7-12 (dreiging). Deur die plasing van hoofstuk 6 in die sentrum van hierdie 12 hoofstukke, maak die Heilige Gees hierdie hoofstuk tot die bepalende werklikheid, die deurslaggewende aktualiteit. Ons dink soms die sonde en die ellende om ons heen is die mees aktuele werklikheid. Ons dink soms dat dit die sonde en ellende om ons heen is wat ons lewens bepaal – dat die onrus in ons land, dat covid, dat die moeilike ekonomiese tye en stygende voedselprys, dat dít die mees aktuele van ons lewens is. Nee! Kyk saam met Jesaja omhoog – ons lewe voor die aangesig van die driemaal-heilige Koning. Dít is die bepalende werklikheid van jou en my lewe! Só kom daar perspektief. En met dáárdie perspektief word ons tot diens bereid – hier is ek, stuur my! Die blindes en die dowes van Jesaja 6:10 wil hierdie boodskap nie sien en hoor nie, maar die kinders van die Here word deur hierdie boodskap klein gemaak, skoon gemaak en tot diens bereid gemaak.  

Amen

Liturgie: 

Votum en Seëngroet: Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.

Sing Ps. 138:1 en 3

Wetslesing

Sing Skr. 14

Gebed

Lees:   Johannes 12:37-50

            Mattheus 27:50-52

Sing Ps. 95:4 en 5

Teks: Jesaja 6

Preek

Amenlied Ps. 93

Gebed

Kollekte

Slotsang Ps. 99:1, 2, 4 en 5

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen. / Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.