Die seën van Pinksterfees kom na ons toe deur bekering

Predikant: 
Ds DM Boersma
Gemeente: 
Pretoria
Datum: 
2021-06-06
Teks: 
Handelinge 2:36-41
Preek Inhoud: 

Doel:
-    Onderrig oor hoe die Gees bekering in ons harte werk
-    Oproep tot bekering vanweë die werk van Christus vir ons.

Inleiding:
Ek dink ons almal dink aan wondertekens as ons aan die Pinksterfees dink. Dit was ’n spesiale dag, die dissipels het lank daarna uitgesien!
Ons het dit laasweek gevier, en dit is ’n rede vir feesvier: alle christene raak bly deur die groot verandering van daardie een dag.
’n Nuwe tyd het aangebreek: nou woon God in ons. Wie die Gees ontvang, verander: hy gaan na God luister, sy het Jesus lief, en hy begin om van harte Jesus gehoorsaam!

Maar daar is ‘n aspek wat ons dikwels van vergeet.
Kyk na die einde van Petrus se preek:
Julle het Jesus doodgemaak. Julle is skuldig!
En die mense is in hul hart getref.
Hulle is radeloos: Hoe kan ons gered word?
Petrus: Bekeer julle!
En hy besweer en vermaan hulle: laat julle red uit hierdie verkeerde geslag.

Hy gebruik swaar woorde.
Dit lyk asof daar ’n skadu val oor die fees.

Wanneer ons nagmaal vir, is dit ook ’n fees! Jesus het vir ons sondes gesterf, God is nie meer toornig oor ons sondes nie, maar genadig vergeef hy ons. Jesus verseker ons daarvan dat ons redding seker is en hy nooi ons om met hom te eet.
Maar ook hier klink woorde wat swaarmoedig klink: (begin van die nagmaalsformulier) “Ons moet ons hart ondersoek, nadink oor ons sonde en vervloeking, en vanweë die sonde ’n afkeer van onsself kry en ons voor God verootmoedig.”

Wat dink jy / u as jy hierdie woorde hoor?
Jy wil feesvier, maar wag… nou moet jy eers deur hierdie moeilike ding: sonde, vervloeking, verootmoediging.
Dit lyk asof oor die feesmaal ook ’n skadu val!

Vandag wil ek vir julle die blye boodskap verkondig van die oproep tot bekering.

Tema:    Die seën van Pinksterfees kom na ons toe deur bekering
1.   Jesus wys vir ons ons skuld – erken dit
2.   die nie eenmalig nie, maar die Gees hou daarmee aan.

1    Jesus wys vir ons ons skuld – erken dit

•    Getuie

Petrus het ’n ander mens geword: Hy is vervul deur die Heilige Gees (v.4)
Sy preek plaas die lewe en dood van Jesus vir die Jode in ’n ander lig.
Hy bewys dat Jesus die verwagte Messias (redder) is, dat God duidelik sy goedkeuring aan Jesus gegee het.
Dan oortuig hy hulle dat Jesus opgestaan het.

V. 36 is nou die konklusie en die klimaks van die betoog / preek van Petrus op die Pinksterdag: 
die hele huis Israel moet seker weet (goed verstaan, nie twyfel nie): Jesus is Heer en die gesalfde, die redder. 
En dis juis hy wat julle gekruisig het!

•    Skuldig!

Petrus praat met klem, hy besweer en vermaan hulle.
Hy bind hulle dit op die hart! So belangrik is dit dat hulle dit regtig hoor en dat dit deurdring in hul hart!
Eintlik lê Petrus getuienis af in ’n moordsaak. Lewens staan op die spel.
Hy wys die skuldiges aan: dis julle wat hier vandag die wondertekens van Pinkster sien, julle het Jesus aan die kruis vermoor!

Lees net noukeurig v. 40: 
“En met baie ander woorde het hy hulle besweer en vermaan en gesê: Laat julle red uit hierdie verkeerde geslag.”
Hy het aangehou. Die preek wat ons lees, is ’n kort opsomming. We get the drift, om so te sê.
Petrus is dus voortdurend besig om dieselfde te sê: hy getuig, oorreed, besweer om hierdie boodskap ernstig te neem. Daar moet ’n radikale verandering in hulle harte kom.

•    Doeltreffend

Dis die boodskap.
Dis veroordelend. Dis skokkend. Dis radikaal. 
En dit is die waarheid!

Watter effek het dit op die luisteraars?
Toe hulle dit hoor, is hulle diep in die hart getref 
en het vir Petrus en die ander apostels gesê: Wat moet ons doen, broeders?

Dit tref doel!
Wat is dit, wat hulle so tref soos ’n dolk deur hul hart?

Onthou jy hoekom die Jode Jesus doodgemaak het?
Jesus het beweer dat hy God se Seun was. ‘Dis Godslastering!’ het die Sanhedrin gesê! Die leiers het gemeen dat hulle Gods wet gehoorsaam het: godslastering verdien die doodstraf (Lukas 22,70-71). Vervolgens is die volk opgesweep en het geskreeu: ‘kruisig hom, kruisig hom!’

En nou getuig Petrus: God self het vir Jesus gestuur. Hy is wel sy Seun! Hy is die gesalfde wat Israel verwag het!
Hulle skrik hulle dood.
Hulle het gedink hulle dien God, maar hulle het juis teen God opstandig geword en sy Seun verwerp en doodgemaak!
Hulle godsdiens is niks werd nie.
Dit skok hulle hele wêreld.
Dit tref hulle soos ’n dolk deur hul hart.

Hulle vra: wat moet ons doen, broeders?
Hulle aanvaar dus die gesag en getuienis van die apostels 

•    Oortuiging van sonde is onmisbaar om gered te word

Hier sien ons duidelik die krag van die evangelie.
Dit is doeltreffend.
Dit oortuig die hart van ’n mens van sonde.
Want dis die Gees van Christus wat dit doen. (Johannes 3,18)

Maar… dit was toe, 2000 jaar gelede.
As jy dit vandag lees, kan jy dink: ‘Hmm, natuurlik het daardie mense skuldig gevoel: hulle het Jesus gekruisig. Dit was baie erg!
Geen wonder dat hulle skuldig gevoel het.
Maar ek – ek het Jesus tog nie gekruisig nie?
Ek was nie daar in die menigte wat geroep het: ‘Kruisig hom, kruisig hom!’ nie.

Gaan dit hier ook oor ons?
Word ons ook van sonde oortuig en tot bekering geroep?

Ons kan díe vraag beantwoord as ons Petrus se preek vergelyk met die opdrag wat Jesus vir die apostels gegee het.

Ons vind in Lukas 24,46-48 die missie wat Jesus vir sy apostele gegee het:
“So is dit geskrywe, en so moes die Christus ly en op die derde dag uit die dode opstaan, en bekering en vergewing van sondes in sy Naam verkondig word aan al die nasies, van Jerusalem af en verder. En julle is getuies van hierdie dinge.”

Verkondig “bekering en vergewing van sondes in sy Naam aan al die nasies”!

Na die Jode in Jerusalem het Kornelius in Handelinge 10 dieselfde boodskap gehoor en tot bekering gekom.
Handelinge 10,42-43:
“En Hy het ons bevel gegee om aan die volk te verkondig en met krag te betuig dat dit Hy is wat deur God bestem is as Regter van lewende en dode. Aangaande Hom getuig al die profete dat elkeen wat in Hom glo, vergifnis van sondes deur sy Naam ontvang.”

Paulus en sy span het in baie stede in Klein Asië dieselfde boodskap gebring vir Jode en heidene.
Dit was die evangelieboodskap. Dit was breër as net die sonde dat die Jode God se Seun gekruisig het.
Dit was die onderrig wat altyd voor die doop gegee is:
-    Jesus het opgestaan. God het hom aangestel as regter van almal. 
-    En Hy is die redder. Glo in hom vir die vergewing van jou sondes.
-    Bekeer jou van jou sondes: Jode moet hulle bekeer van hul opstand teen God, hulle verwerping van Jesus en hulle redding nie meer van hul gehoorsaamheid aan die wet verwag nie.
-    Heidene hoor ook oor Jesus die regter, en word geroep om hulle af te keer van hulle afgode en om die lewende God te aanbid.
-    Elkeen wat hom bekeer en in Jesus glo, sal gered word.

•    Ons het dit nodig

Ek dink vir ons lê die gevaar daarin, dat ons dink dat ons met groot sondes en ’n goddelose lewe gebreek het – en dit is vir die meeste van ons selfs moeilik om te dink hoe ’n volledig goddelose lewe eintlik lyk. Jy ken God al so lank… En daar is tans nie publieke sondes in jou lewe nie.
Die gevaar is, dat ons eintlik nie ’n groot noodsaak sien om ons te bekeer nie, en as jy daardie woord gebruik, klink dit baie swaar.

Maar ons het dan nie ’n bybelse begrip van sonde en bekering nie.

Maar ons kan ook sê: bekering duur jou hele lewe. Jy moet elke dag jou bekeer.
Maar die vraag is dan: van watter konkrete sondes het jy jou gister en laasweek bekeer? Van watter sonde moet jy jou vandag bekeer?
(Bekering is dan so dun uitgesmeer dat ons dit nie meer sien nie. Jy sien nie meer konkrete bekeringsmomente (soos punte) nie, maar bekering word dan soos ’n baie dun lyn, ’n lang proses wat eintlik nie meer konkreet is nie. Dis vaag.

Petrus wys ons daarop dat die werk van die Gees begin met bekering.
Die nagmaal en die selfbeproewing druk ons neus op ons sondige hart en herinner ons daaraan dat ons moet aanhou ons bekeer van ons sondes. 
Die evangelie moet gepreek word met die oproep tot geloof en bekering, en ek as prediker mag nooit aanvaar dat ons almal al klaar ons bekeer het en dat dit afgehandel is nie.

Die eerste gawe van die Gees is wedergeboorte en bekering: gebrokenheid oor jou sondes, en ’n totale omkeer van jou wil en jou waardes.

Daarna gaan die Gees van Christus aan met sy werk in die hart van almal wat aan Christus behoort. Hy laat ons meer en meer leef vanuit Christus.

God plaas ons voor die kruis.
Dit wys die straf op ons sonde. Hy oortuig ons daarvan dat Christus vir die sondes betaal het. Nou mag ons nie meer toelaat dat die sonde in ons heers nie!

Daarom het die Nuwe Testament so baie oproepe om uit Christus te leef:
Want die sonde skuil steeds in ons hart. Ons sondige natuur is nog nie doodgemaak nie.
Wat ons van Christus af wegtrek en weer na die sondige vlees laat verlang.
Die kruis van Christus wys vir ons  N
Dit is die voortgaande werk van die Gees in die heiliging.

Die lewens van gelowiges in die Bybel wys ons dat dit nodig is dat ons aanhou om ons te bekeer.

•    Dawid

Dawid het gesondig teen God, teen Batseba en haar man. Hy was ’n gelowige wat God geken het en wou dien.
Nog steeds het sy sondige natuur hom op die pad van die sonde getrek. Die eerste begeerte het hom tot die daad van owerspel gebring, en daarna het hy al die ander gebooie van God oortree.

Toe kom die profeet Natan by hom. Hy het vir hom sy sonde gewys op ’n manier wat Dawid, die skaapherder kon verstaan: hy het ‘n gelykenis vertel oor ’n ryk man wat die ooilam van sy arm bure toeëien.
- Sy regverdigheidsgevoel en gewete is geprikkel: die man wat die ooilam van arm mense steel, moet met die dood gestraf word!
- so veroordeel hy homself. Natan: jy is die man!
- die Gees het die wet gebruik om tot sy hart deur te dring en hom tot regte berou en bekering te lei.

Die wet bring egte berou oor sonde, maar wêreldse ‘berou’ kan ten hoogste ‘n gevoel of emosie van teleurstelling of ‘jammer wees’ oproep, maar nie bekering van die hart nie: 2Kor7,10:
“Want die droefheid volgens die wil van God werk 'n onberoulike bekering tot redding, maar die droefheid van die wêreld werk die dood.”

Net die kerk wat gebroke is oor hulle sondes, wat hulle sondes en sondige natuur raaksien en streef na ’n dieper bekering en aanhou om hulle te bekeer, is die kerk wat met die Gees van Christus vervul is.
Ons moet daarom nie met ’n frons op ons gesig na die nagmaalsformulier luister en dink ‘dis negatief, en dis agter my, ek het dit nie nodig nie.’

Die Gees van Christus gee in ons hart opregte liefde vir Christus en ’n diep dankbaarheid vir sy offer in ons plek.
Dit is ons motivering om ons hart en ons dade na te gaan, om die sonde op te spoor en te bely. 
(lees ook Dordtse Leerreëls hs 5, veral art 1-4)

Die Gees van Christus wys dit uit en gee vir ons onderskeidingsvermoë om die sonde raak te sien.
So doen ons alhoe meer wat Kolossense 3:5 sê:
“Wanneer Christus, wat ons lewe is, geopenbaar word, dan sal julle ook saam met Hom in heerlikheid geopenbaar word. Maak dood dan julle lede wat op die aarde is, naamlik hoerery, onreinheid, hartstog, slegte begeertes en gierigheid, wat afgodediens is,”

Die Gees laat ons uit Christus leef en gee ons die verlange om ons met die nuwe mens te beklee. So deel ons elke dag in die lewe van Christus.

Amen
 

Liturgie: 

Psalm 96:1,5-7

Skriflesings:
Handelinge 2:14-41
Lukas 24:44-49
Kolossense 3:1-14

Psalm 2:1,4-6

Preek: Handelinge 2:36-41

Skrifberyming 44:2-4

Gebed

Skrifberyming 33