Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2021-06-20
Teks: 
Hebreers 13:8
Preek Inhoud: 

Preek: Hebreërs 13:8

 

Om altyd dieselfde te wees word nie altyd as ‘n deug, as ‘n positiewe eienskap gesien nie.

Om steeds te vernuwe is die leuse van ons tyd.

Mense wil nie meer ‘n telefoon gebruik wat meer as tien jaar oud is nie.

Mense wil nie in klere loop van ‘n dekade gelede nie.

Mense wil nie ‘n haarstyl hê uit ouma se dae nie.

Mense wil nie steeds dieselfde bly nie.

Tog word in ons teks die feit dat Christus altyd dieselfde bly, geopenbaar as ‘n deug, iets wat ons ongelooflik bly behoort te maak!

Want as dit gaan oor dit wat werklik saak maak in die lewe, dan is dit juis die blywende dinge wat tel.

En dit is dan ook wesenlik aan die Evangelie, die feit dat Jesus Christus altyd dieselfde bly.

 

As tema vir die preek het ek geen beter of mooier woorde kon uitdink as ons teks self nie.

Dit is ‘n sin om te onthou, om te memoriseer.

 

Tema: Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid

 

Ons teks se woorde kan ons slegs verstaan en waardeer in die konteks van die hele Hebreërbrief.

In die Hebreërbrief vat die skrywer op sy beurt dit wat die hele Skrif oor Jesus Christus openbaar, heel bondig saam.

Ons weet nie presies wie die skrywer was nie.

Name wat al geopper is, is Paulus, Lukas, of Apollos.

Hierdie brief is wel primêr aan Jode geskryf.

Die vervulling van die Ou Testamentiese beloftes en simbole en offerkultus in Christus word pragtig uiteengesit.

Hy begin die boek deur na Christus se ewigheid te verwys.

Deur Hom is die wêreld gemaak.

Net soos die apostel Johannes sy Evangelie begin het:

“In die begin was die Woord, en die Woord was by God, die Woord was God.” (Joh 1:1)

En dieselfde Christus word vandag verkondig, verseker ons teks.

Jesus Christus is gister en vandag dieselfde.

Hy het verskeie name ontvang in die Bybel.

Engel van die HERE, Raadsman, Vredevors,  Woord van God, Heiland, en nog vele meer.

Maar al hierdie name verwys na dieselfde Persoon, Hy wat in die eerste jare van die Nuwe Testament persoonlik aan die mensheid geopenbaar is as Jesus die Messias, Jesus die Christus, of net kortliks: Jesus Christus.

Dit is Hy wat die priesterdiens van die ou bedeling vervul het.

Hy het Priester geword in die orde van Melgisedek.

Profeet, Priester en Koning tegelyk.

Hy het Hoëpriester geword, een wat nie sterf nie, maar wat onophoudelik versoening kan doen, gister, vandag en tot in ewigheid.

Hy sterf nie, soos die hoëpriesters van die ou bedeling nie.

Hy het as Hoëpriester nie diere geoffer nie.

Hy het nie dierebloed in die allerheiligste ingebring nie.

Hy het Homself geoffer en sy eie bloed gestort – dit wat ons vandag aan die nagmaal herdenk.

Hy het sy bloed nie net in die tempel se allerheiligste ingedra nie, maar Hy het sy offer, sy versoening tot in die hemelse allerheiligste ingedra, waar God die Vader dit aanvaar het.

Omdat Hy mens geword het, kon Hy as Middelaar die skuld dra van die mense wat gesondig het.

So het Hy die verbreekte verbond herstel.

Hy het Middelaar van ‘n ewige verbond geword.

Daarom kan ons vandag in verbondheid met Hom en met mekaar aan die nagmaal deelneem.

 

So gaan die Hebreërskrywer voort, gemeente, om die een na die ander feit te noem, die een na die ander belofte wat in Jesus vervul is.

Watter Jood sal nog nie kan glo dat Jesus die langbeloofde Messias is, nadat hy hierdie boek gelees het nie?

Uit die laaste deel van die boek blyk dat dit primêr aan Jode geskryf is wat reeds tot geloof gekom het.

Dit kan ons aflei uit die oproepe dat die hoorders gehoorsaam moet wees aan hulle voorgangers.

Daar word ook opgeroep om die onderlinge byeenkoms nie te versuim nie (Hebr 10:25).

Ook die oproep om te bid vir “ons”, staan daar in vers 18, al weet ons nie presies wie die “ons” is nie, waarskynlik die skrywer en sy metgeselle.

Verder word daar verwys na broeder Timotheüs (vers 23).

Uit hierdie opmerkings is dit duidelik dat mense aangespreek word wat al deel van Christus se gemeentes was.

 

Hierdie boek was bedoel om hulle te versterk in hulle geloof, naamlik dat Jesus waarlik die Messias is.

Onthou, hierdie gelowiges het nog baie Joodse familie gehad.

Daar was gereeld gesprekke, debatte binne families.

Sommiges het Jesus as Messias bely, ander het Hom verwerp.

Hierdie brief het die gelowiges gehelp in hulle debatte.

Hierdie brief is voorgelees aan al die Jode wat gewonder het oor Jesus.

En weer eens, wie sou nog kon twyfel dat Jesus die Messias, die Christus is, na die hoor van hierdie brief?

Tog was baie Jode se harte verhard, sodat hulle horende doof was, en siende blind.

Dit was die antitese wat reg deur die Joodse volk van daardie dae geloop het.

 

Ook vandag, 21 eeue later, het dit nie verander nie.

Daar is ‘n deel van die mensdom wat Christus se Naam bely, daar is ‘n deel wat Hom nog steeds verwerp.

Maar wat ook nie verander het nie, is dat Jesus Christus dieselfde bly, gister en vandag.

Ons dien nog steeds dieselfde Persoon.

En elke woord wat oor Hom geskryf is in hierdie Hebreërbrief, was nie een te veel nie.

Elke sin is nog heeltemal waar, vandag nog steeds

Die kerk van vandag glo nog steeds in die Christus van die Hebreërbrief, die Christus van die hele Skrif.

En so sal Hy bly, dieselfde, tot in ewigheid.

 

Wat op aarde ‘n feit is, is dat niks dieselfde bly nie.

Die mode van vandag is anders as die van 10 of 20 jaar terug.

Of ons nou oor klere praat, haarstyle, motorkarre, huise, mense se gewoontes.

Mense kom en gaan.

Elke nuwe generasie word oor ‘n aantal dekades weer begrawe.

Selfs die aarde bly nie dieselfde nie.

Selfs die berge bly nie ewig dieselfde nie.

Uiteindelik, soos die skrywer in hoofstuk 1 gesê het, uiteindelik sal alles en almal soos ‘n kleed verslyt.

Maar in teenstelling tot al hierdie tydelikheid, is Jesus Christus dieselfde tot in ewigheid.

Sy Woord word nooit gewysig nie.

Sy bloed verloor nooit sy krag nie.

Sy arm word nooit swak nie.

Juis omdat dit so is, is Hy geloofwaardig.

As iets vandag sus is en môre so, is dit nie geloofwaardig nie.

As iemand vandag teen iets is, maar oor ‘n jaar vir iets is, dan is hy nie meer geloofwaardig nie.

Geen mens op aarde, in hede, verlede of toekoms sal ooit volledig geloofwaardig kan wees nie.

Geen mens sal ooit as ‘n onveranderlike maatstaf kan funksioneer nie.

Maar Christus bly dieselfde, gister, vandag en altyd.

Christus is nie net ‘n herinnering nie.

Hy was nie net die stigter van ‘n godsdiens in die verlede nie.

Hy is vandag nog steeds daar, en in die toekoms nog steeds.

Christus is volledig net soos God die Vader, verseker die Hebreërskrywer sy Joodse hoorders, naamlik ewig.

Die skrywer haal hier Psalm 102:28 aan, waar die volgende oor God, Jahweh, geskryf word:

“U is dieselfde, en U jare het geen einde nie.” – Hebreërs 1:12.

Hierdie Psalm het ook al oor Christus geprofeteer.

Jesus Christus is gelyk aan God, in ewigheid, in overanderlikheid.

Hy is die Alfa en die Omega, die begin en die einde, die Een wat is, wat was en wat kom, die Almagtige – Openbaring 1:8.

 

Daarom, gemeente, vier ons die nagmaal nie net as ‘n gedagtenismaaltyd nie, maar ook as ‘n voorsmakie.

Ons dink nie net terug aan die stigter van ons godsdiens nie.

Ons aanbid Hom wat ewig lewe, van ewigheid af en tot in ewigheid.

Ons vier die nagmaal ook vol verwagting.

Want ons sien uit na sy wederkoms, as die ewige bruilof gaan aanbreek,

as Hy die wyn met ons nuut gaan drink.

Ons ontmoet Hom in verlede, hede en toekoms.

Daarom is Hy geloofwaardig, werd om geglo te word.

 

As ons na die direkte konteks van die teks kyk, die voorafgaande en daaropvolgende vers, handel hulle ook oor dinge wat nie standvastig is nie, maar verander.

Vers 7: Die oproep om julle voorgangers te gedenk, wat aan julle die Woord van God verkondig het.

Die hoorders word opgeroep om te kyk na die uiteinde van hulle lewenswandel.

Voorgangers is voorbeelde van geloof en vertroue, van deursettingsvermoë, van standvastigheid, soms selfs deur martelaarskap heen.

In tye van vervolging word die voorgangers dikwels eerste geteiken.

Die Hebreërskrywer roep die lesers op om op hulle einde te let.

Maar selfs voorgangers bly ook maar mense, sterflike mense.

As jy aan hulle heg, val jou fondament weg sodra hulle sterf.

Volg nie die voorganger na nie, maar hulle geloof.

Soos daar ook oor Abel geskryf is in Hebreërs 11:4:

“deur dieselfde geloof spreek hy nog nadat hy dood is”.

Mense kom en gaan, die geloof bly bestaan.

Want die geloof rig homself op Jesus Christus, wat gister en vandag en tot in ewigheid dieselfde is.

Vir Jesus Christus sal die gemeente nooit aan die dood hoef af te staan nie.

En daar kom ook by dat sommiges van die voorgangers nie die eindstreep haal nie.

Sommiges gooi vroeër handdoek in, hulle raak afvallig.

Die hoorders moet nie die voorgangers as mense navolg nie, hoe meeslepend en inspirerend hulle mag wees.

As voorgangers van die geloof afvallig raak, in woord of in daad, kan hulle nie meer nagevolg word nie.

Daarenteen is daar die ware Leidsman en Voleinder van die geloof – Jesus - Hebreërs 12:1.

Op Hom moet ons die oog gevestig hou.

Dus, in teenstelling tot voorgangers wat kom en gaan, wat soms selfs afvallig raak, is daar die ware Leier – Leidsman.

As ons in geloof na Hom kyk, dan sal ons standhou, want Hy is dieselfde, gister, vandag en tot in ewigheid.

 

En nie net voorgangers kan afvallig word nie, elkeen van ons.

Daarom volg die oproep in die vers na ons teks, vers 9:

“Moenie rondgeslinger word deur allerhande en vreemde leringe nie”.

Om rondgeslinger te word is die teenoorgestelde van standvastig dieselfde bly.

Die woord rondgeslinger herinner hier aan ‘n bootjie wat ankerloos op die golwe dobber.

Daarenteen het ons Jesus Christus as die anker van die siel – Hebreërs 6:19.

Nie een van ons kan standvastig bly, as ons nie op ‘n vaste rots staan nie.

Bou jou lewenshuis op Christus, dan staan dit vas.

Hy is nie net van gister of eergister nie, maar van ewigheid af is Hy reeds almagtig.

Die woord gister in ons teks verwys na die hele tyd van die Ou Testament, ja die hele verlede.

En die woord vandag in ons teks verwys na die tyd waarin die Hebreërs gelewe het, die tyd waarin die boeke van die Nuwe Testament opgeskryf het.

En Christus, soos geopenbaar in daardie boeke, sal dieselfde bly ook in die toekoms, ja tot in ewigheid.

Dus moet nie rondgeslinger word deur enige nuwe perspektiewe op Christus en sy Evangelie nie.

Want dit bly dieselfde tot in ewigheid, verseker ons teks ons.

 

Soos ek aan die begin genoem het, kon ek aan geen beter of mooier tema dink as die woorde van die teks self nie.

Dit is woorde om te onthou, om te memoriseer.

Pappas en mammas, oupas en oumas, leer dit vir julle kinders en kleinkinders, sommer vanmiddag, dat hulle dit kan opsê.

Dalk kan die musikante onder ons ‘n melodie uitdink, waarop die kinders dit kan sing.

Laat ons getuig van die anker van ons siel, die rots van ons lewe, in alle tale:

Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid!

Jesus Christ is the same yesterday and today and forever!

Kriste Jesu ke wa maabane, le wa lehono; mme e tlo ba yena wa neng le neng!

UJesu Kristu nguyena izolo nanamuhla, yebo, naphakade!

Watter tale u ook ken, roep dit uit, getuig daarvan op die strate, in die winkels en restaurante, by die werk of met vakansie.

Sit hierdie woorde op jou status.

Ons dien Een wat dieselfde is, was en sal wees.

Ons bou op die ewige Rots van ons behoud.

Ons eet en drink aan sy tafel die voedsel wat ons ook voed tot die ewige lewe.

Ons prys Hom saam met die kerk uit hede, verlede en toekoms, die kerk op aarde en die kerk in die hemel.

Want aan Hom, Jesus Christus, kom die heerlikheid toe tot in alle ewigheid!

 

Amen.

Liturgie: 

Votum

Seën (Openb 1:4-5)

Ps 102:10-12

Wet

Ps 119:33,36

Gebed

Nagmaalsformulier 

Gebed (afgesluit met sing van Onse Vader)

Viering van nagmaal

          Skriflesing: Hebreërs 1 & 13:1-19

          Ps 116:1-3

Lofverheffing & Gebed

Teks: Hebreërs 13:8

Preek

Ps 90:1,9

Gebed

Kollekte

Ps 89:17

Seën