Die waarde van die liggaam en bloed van die Here Jesus

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2021-06-13
Teks: 
Nederlandse Geloofsbelydenis Artikel 35
Preek Inhoud: 

Vroeër toe ek ‘n kind was, het die nagmaalsdiens vir my altyd verskriklik lank gevoel.

By die eerste keer wat die dominee die wyn ingeskink het, het mens nog geïnteresseerd gekyk, by die die derde of vierde keer was daar niks nuuts meer aan nie.

As volwassene voel die nagmaalsdiens nie meer so lank nie, al bly die gewoonte om drie of vier tafels na mekaar te hê, bietjie kunsmatig.

Die mooiste sou wees as mens een tafel kon hê.

In die Covid-tyd het ons noodgedwonge moes oorgaan tot nagmaal in die banke, ook nie dieselfde as om nagmaal aan tafel te vier nie, soos Jesus dit ingestel het.

Om by Christus aan tafel te wees, het ‘n ryke betekenis.

Hy sit vir ons ‘n maaltyd voor wat ons voed vir die ewige lewe.

En dan sit ons ook saam aan tafel met ons medegelowiges, wat die eenheid van die gemeenskap van die heiliges uitbeeld.

 

Tema: Die waarde van die liggaam en bloed van die Here Jesus

1 Ondersoek jouself

2 Onderskei die liggaam

 

1 Ondersoek jouself

Die NGB verwys in artikel 35 na 1 Korinthiërs 11, die gedeelte wat ons vandag gelees het.

Hierdie hoofstuk is ‘n baie belangrike gedeelte in die Bybel, as dit oor die nagmaal gaan.

Paulus skryf aan die kerk in Korinthe, ‘n gemeente met baie gawes en talente, maar ook tekortkominge.

Eie aan die styl van die verbond begin hy sy brief om te dank vir al die seëninge wat hierdie gemeente ontvang het, al die mooi dinge wat hierdie gemeente tentoonstel.

Hoofstuk 1: “Ek dank my God altyd oor julle vir die genade van God wat aan julle in Christus Jesus gegee is, dat julle in alle opsigte in Hom ryk gemaak is, in elke woord en alle kennis ... sodat julle in geen enkele genadegawe agterstaan nie ...” (vers 4-6)

Uit soewereine genade het God ‘n goeie begin gemaak in hierdie stad:

“God is getrou, deur wie julle geroep is tot die gemeenskap met sy Seun Jesus Christus, onse Here.” (vers 9)

 

Maar in hierdie brief bly die eis van die verbond ook nie agterweë nie.

In hoofstuk 11 word die gemeente opgeroep om krities na hulleself te kyk.

Daar het ‘n kultuur van twisgierigheid in die gemeente ontstaan.

Miskien wel omdat daar soveel gawes en talente was.

Niemand wou vir ‘n ander wyk nie.

Lidmate het selfs gemeen hulle weet beter as die predikers wat Christus vir hulle gestuur het.

Daar het ‘n kultuur ontstaan dat verskillende lidmate verskillende gunsteling predikers gehad het.

Hierdie beterweterige en twisgierige kultuur het ook ‘n impak op die nagmaalsviering gehad.

Daar was skeuringe, breuklyne in die gemeente wat tydens die nagmaal sigbaar geword het.

Die samekoms aan die nagmaal is dan nie meer ten goede nie, maar ten kwade, skryf Paulus.

 

In teenstelling tot hoe die Here Jesus die nagmaal ingestel het, het dit in Korinthe heel anders daaraan toegegaan.

Christus en sy dissipels was saam aan tafel (Matt 26:20) en het saam ‘n maaltyd genuttig.

Christus het die brood gebreek en aan almal uitgedeel.

Hy het ook die beker laat rondgaan.

Daardie maaltyd was nie soos ons nagmaal, dat elkeen net ‘n klein brokkie brood en ‘n klein slukkie wyn gekry het nie.

Hierdie is ‘n tradise wat ons nog oorgehou het uit die Roomse Kerk.

Dit was ‘n gewone broodmaaltyd, bedoel dat almal aan tafel liggaamlik gevoed kon word.

In eensgesindheid het hulle saam geëet, en toe het die HERE die nagmaal ingestel, vir hulle geleer om voortaan spesifiek aan Hom te dink, sy aanstaande Middelaarswerk, hoe Hy binnekort sy liggaam en bloed aan die kruis sou offer as soenverdienste vir hulle sondes.

 

Maar in Korinthe het dit dus anders daaraan toegegaan.

Mens kry die indruk dat die gemeente nie saam aan tafel gesit het nie.

Gelykgesinde groepe het mekaar opgesoek.

Sommige groepe het meer as genoeg te ete gehad, hulle het sommer hulle eie kos saamgevat en nie met ander gedeel nie.

Hulle het genoeg te drinke gehad, selfs so dat sommiges dronk geword het.

En dan was daar ander groepies, waarskynlik die armer mense, waar daar nie eers genoeg was nie, en sommiges moes selfs met ‘n honger maag weer huis toe gaan.

Van die eenheid van die liggaam van Christus was nie veel sigbaar nie.

Geen wonder dat Paulus in die volgende hoofstuk eksplisiet hieraan aandag skenk, hoofstuk 12.

Die gemeente behoort as ‘n liggaam in harmonie saam te funksioneer.

Die hand, voet, oog, oor, almal het mekaar ewe nodig, en die een mag nie op die ander neerkyk nie.

Dit wil ook voorkom asof die gemeentelede nie werklik aan Christus en sy soenverdienste gedink het, toe hulle die nagmaal gevier het nie.

Hoe kan iemand wat dronk is, nugter nadink?

Paulus se vermaning draai nie doekies om nie:

Broers en susters, julle verag die gemeente van God! (vers 22)

Gemeente, hierdie is duidelike woorde.

Volgende week hoop ons weer nagmaal te vier.

Sal u die week wat kom hierdie woorde ter harte neem?

Want die Gees praat in 1 Korinthiërs 11 nie net met die Korinthiërs nie.

 

Paulus gaan verder deur met soveel woorde presies te herhaal hoe Jesus die nagmaal ingestel het.

Dis vir ons baie bekende woorde, omdat dit by elke nagmaal gelees word.

Maar ons moet onthou, Paulus skryf hierdie woorde aan die Korinthiërs, omdat dit in hulle geledere in die vergetelheid geraak het, op die agtergrond geraak het.

Die feit dat die brood geëet moet word tot ‘n gedagtenis aan Christus se liggaam.

Die feit dat die beker gedrink moet word tot ‘n gedagtenis aan Christus se bloed.

Christus se liggaam en bloed het alles te make met vergifnis van sondes.

Maar dit lyk of die gedagtes van die Korinthiërs nie daarby was nie.

En dit is die punt wat Paulus maak: Wie aan die nagmaal deelneem maar nie in dankbaarheid daaraan dink hoeveel sondes Jesus uit sy lewe vergewe het nie, hy eet en drink ‘n oordeel oor homself.

En weer eens, dit is ook aan jou en my geskryf.

As jy aan die nagmaal deelneem, nie met die besef dat jy ‘n sondaar is, net so groot soos alle ander sondaars in die gemeente, eet en drink jy ‘n oordeel oor jouself.

Wie aan die nagmaal deelneem, maar in sy eie groepie sit, die drink ‘n oordeel oor homself.

En dit geld natuurlik ook vir die groepies wat ons op die kerkplein maak na die erediens.

As jy aan die nagmaal deelneem, maar seker maak jy sit nie langs die en die nie, eet en drink jy ‘n oordeel oor homself.

 

2 Onderskei die liggaam

Paulus skryf: Julle onderskei nie die liggaam van die Here nie.

Nou hierdie woorde vra bietjie meer verduideliking.

Want dit word op verskillende maniere uitgelê.

Dalk onthou u uit laasweek se preek oor die doop, dat ‘n Bybelvers deur Gereformeerdes en Baptiste heel verskillend uitgelê kan word – dieselfde Bybelvers.

Nou hier is dit ook so.

Alleen is dit hier nie ‘n diskussie tussen Gereformeerdes en Baptiste nie.

Maar dit is hier ‘n diskussie tussen Gereformeerdes en – kom ons noem dit – meer liberale kerkmense.

Kom ons begin met laasgenoemde se uitleg.

Soos u weet word daar deesdae in verskeie gemeentes aan die nagmaal ook kinders toegelaat.

Hoekom mag kinders nagmaal vier in sulke kerke?

Wel, daar word benadruk dat kinders ook volwaardige lidmate is.

Hulle behoort ook in die verbondsgemeenskap.

En net soos in die Ou Testament, toe Israel uit Egipte bevry is, die kinders ook van die geslagte lam geëet het, so moet kinders in die Nuwe Testament ook van die nagmaal eet.

Christus se liggaam en bloed is mos ook vir hulle geoffer.

Hulle is volledig deel van die liggaam.

Om die liggaam van die Here te onderskei, beteken dus volgens hierdie kerke dat ons moet besef wie almal aan die liggaam van Christus behoort, en dat ons niemand mag uitsluit nie.

Rykes mag nie armes uitsluit nie, maar volwassenes mag ook nie kinders uitsluit nie.

En so word 1 Korinthiërs 11:29 dus gebruik as bewysteks vir kinders aan die nagmaal.

Die Korinthiërs het gesondig omdat ryk en arm nie saam gevier het nie.

Ons sondig as ons kinders nie laat saamvier nie.

Tieners, kleuters, ook babas moet saamgeneem word na die nagmaalstafel.

 

Gemeente, is hierdie uitleg van 1 Korinthiërs 11:29 korrek?

Nou kan mens redeneer: Toe Jesus die nagmaal ingestel het, was daar nie kinders aanwesig nie, net die dissipels.

Daar is verder in die Nuwe Testament ook nie ‘n voorbeeld van ‘n kind wat nagmaal gevier het nie.

Daar is ook nie ‘n eksplisiete bevel, of aan die ander kant ‘n eksplisiete verbod, dat ‘n kind mag nagmaal vier nie.

Maar soos ons in verlede week se preek gesien het, hierdie argumente kan nie beslissend wees nie.

Want daar is in die Nuwe Testament ook nie ‘n bevel of voorbeeld van ‘n vrou wat nagmaal gevier het nie.

Tog vier volwasse vroue nagmaal, en niemand het ‘n probleem daarmee nie.

 

Ons sal dus na hierdie teks noukeurig moet kyk, dit eksegetiseer, ook binne die konteks.

Ook sal ons na die beginsels van die Skrif moet kyk.

 

Voordat ons by die eksegese van hierdie hoofstuk doen, kom ons gaan net eers na die argument dat soos kinders in die Ou Testament aan die pasga deelgeneem het, en so moet hulle nou ook nagmaal vier.

Hierdie analogie tussen die Ou en Nuwe Testament moet versigtig gedoen word.

By die uittog uit die Egipte lees ons inderdaad dat die hele gesin deelgeneem het aan die paasmaaltyd.

Maar in alle eeue wat Israel in die beloofde land gewoon het, het dit deurgaans nie plaasgevind nie.

Normaalweg het slegs die gesinshoof na die tempel opgetrek, ‘n paar keer per jaar, om te offer.

Hoewel kinders nie uitgesluit is nie, was daar dus nie ‘n verpligting op die kinders nie.

Die omstandighede waartydens die nagmaal in die Nuwe Testament ingestel is, was egter anders.

As rooi draad deur die Nuwe Testament vind ons die klem daarop dat diegene wat nagmaal vier, hulleself moet ondersoek, in die lig van dit wat Christus se liggaam presies beteken.

 

Kom ons gaan na nou na die eksegese van 1 Korinthiërs 11:29.

Die Griekse woord vir onderskei in vers 29 het die betekenis om sorgvuldig te evalueer.

Paulus gebruik dieselfde woord in hoofstuk 1:15: “die geestelike mens beoordeel ... alle dinge”.

Alles word deur hom sorgvuldig geëvalueer.

Paulus gebruik die woord ook in hoofstuk 14:29: “Laat twee of drie profete spreek en die ander dit beoordeel.”

Ook hier is die betekenis: om sorgvuldig te evalueer.

Nou wat word in hoofstuk 11 daarmee bedoel dat die liggaam van die Here onderskei, sorgvuldig geëvalueer moet word?

Eerstens dat Christus sy liggaam opgeoffer het tot versoening van ons sondes.

En dan tweedens kan ons ook dink aan die beeldspraak wat in hoofstuk 12 gaan volg, naamlik dat Christus se liggaam die gemeente is.

Wie almal aan die liggaam van die Here behoort – hand en voet, oog, oor, neus ensovoorts.

Soos ons dit in die teologie noem: Eerstens onderskei ons die liggaam soteriologies, tweedens ook ekklesiologies.

Soteriologies beteken: ons fokus op die feit dat Christus se liggaam aan die kruis versoening vir sondes gebring het. Dit is die kern van die Evangelie.

En dan beteken ekklesiologies: ons fokus op die feit dat die uitwerking van die Evangelie is dat daar ‘n kerk ontstaan, wat die liggaam van Christus genoem word, en wat ‘n eenheid behoort te wees.

Mense wat egter kindernagmaal propageer, verklaar hierdie gedeelte uitsluitend ekklesiologies, hulle verwaarloos die soteriologiese aspek.

 

Die fout van die Korinthiërs was dat hulle beide nie gedoen het nie.

Soos daar in vers 29 staan, hulle het op onwaardige wyse geëet en gedrink.

En met “onwaardige wyse” dui Paulus op die gemeentelede se houding, hulle onbekeerde houding, waaruit ‘n gebrek aan sondekennis geblyk het, waaruit selfsug voorgespruit het, waaruit slegs liefde vir hulleself geblyk het, en nie vir hulle medemens nie.

Daardeur het hulle skuldig geword aan die liggaam en bloed van die Here.

Ja, ‘n kerklidmaat kan sondig teen die kruis, skuldig staan teenoor die kruis.

Juis ‘n volwasse kerklidmaat, wat behoort te weet hoe ‘n groot offer Jesus se liggaam en bloed aan die kruis was, maar desnieteenstaande so ‘n selfingenome houding het soos die Korinthiërs gehad het.

Daarom, skryf Paulus in vers 28, moet die mens homself beproef, oftewel ondersoek, homself toets.

Slegs in so ‘n hoedanigheid kan hy van die brood eet en uit die beker drink.

Slegs as hy onder die indruk is van sy eie sondes, en hoe baie hy die liggaam van Christus nodig het.

Deelname aan die nagmaal kan nie plaasvind as iemand oningelig is, of as iemand nie goed besef hoeveel hy die kruis nodig het nie.

Hulle wat dit vier, moet op ‘n gelowige wyse dit waarvoor die nagmaal staan, hulle eie maak.

Hulle moet, soos vers 24 sê en waar Paulus vir Jesus aanhaal, dit “tot my gedagtenis” doen.

Dit wil sê, wie nagmaal vier, moet in staat wees om dit te onthou, dit homself toe te eien, en daarvan te getuig.

Wie hierdie selfondersoek nie na behore doen nie, wie die liggaam van Christus nie onderskei nie, eet en drink selfs ‘n oordeel oor homself.

Dit is ernstige taal.

Dit is taal gerig aan volwassenes, nie aan kinders nie.

Dit is te verstane dat ‘n kind homself nog nie na behore kan ondersoek nie.

‘n Kleuter nie, en selfs ‘n tiener nie.

Slegs in die weg van toegewyde geloofsopvoeding leer ‘n opgroeiende kind om skuldbewus te wees, in staat te wees om homself te ondersoek, na aanleiding van die maatstaf van God se wil.

Kortom, hierdie vereiste wat die Skrif hier stel, is nie vir kinders nie.

Dit is vereiste wat hoort by ‘n volwasse geloof, geloof wat inhou betroubare kennis en vaste vertroue.

‘n Kind kan die brood en wyn nog nie met die ‘mond van geloof’ nuttig nie, soos die uitdrukking lui.

 

Dit is dan ook in lyn met hierdie beginsel dat in Gereformeerde kerke van opgroeiende kinders verwag word om eers openbare belydenis van hulle geloof af te lê, voordat hulle aan die nagmaal toegelaat word.

Dis nie dat die kinders niks aan die nagmaal het nie.

As nagmaal in die kerk gevier word, vier hulle passief saam, deur te kyk en te luister.

Maar dit is net die belydende lidmate wat aktief vier.

 

Dus om saam te vat:

In 1 Korinthiërs 11 word daar twee vereistes gestel vir wie aan die nagmaal deelneem:

Een: Hy moet homself ondersoek.

Twee: Hy moet die liggaam van die Here onderskei, besef hoeseer hy die kruis nodig het.

Hierdie vereistes het nie net vir die Korinthiërs gegeld nie, hulle geld ook vir ons.

Paulus begin die hoofstuk deur eers die Korinthiërs direk aan te spreek, met die voornaamwoord “julle”, maar vanaf vers 27 gebruik hy meer algemene woorde.

Hy maak dit wat hy skryf, bewus van toepassing op alle gemeentes.

En daarom het ons ook vandag nog steeds die gebruik om onsself te beproef, te ondersoek voorafgaande aan die nagmaal.

Ons kan nie onwetend, onbewus, outomaties nagmaal vier nie.

Onder die indruk van hoe baie sondes ons het, moet ons ons toevlug neem tot die soenoffer van Christus.

Ons moet besef dat ons dit so nodig het.

Ons moet verstaan dat sy soenoffer, sy liggaam en bloed, inderdaad my sondes kan wegneem.

Dat sy kruisoffer my persoonlik reinig, my verhouding met God.

En vervolgens ook my verhouding met my medemens.

Soteriologies dus eerstens.

En dan tweedens het dit ook ‘n invloed op my posisie in die kerk, en hoe ek na my mede broeders en susters kyk.

Hoe ek saam met hulle nagmaal wil vier, saam as arme bedelaars by Christus kom haal alles wat ons nodig het.

Die kinders is ook by hierdie viering betrokke, passief, nog nie aktief nie.

Net soos kinders passief by die doop betrokke is, maar nog nie aktief ‘n belofte kan aflê nie.                                                            

 

Geliefde gemeente, kom ons berei ons hierdie week op passende wyse voor op volgende week se nagmaal.

Dit begin by jouself, as belydende lidmaat.

En as daar kinders in jou huis is, is hulle nie by die voorbereiding uitgesluit nie.

Natuurlik moet die nagmaalsvoorbereiding nie beperk bly net tot die week vooraf nie.

Terselfdertyd is dit nie verkeerd om hierdie week ekstra aandag daaraan te skenk nie.

Saam met hierdie preek ontvang u ‘n paar vrae, wat met u voorbereiding kan help.

  1. Wat was die oorsaak van die wantoestande in Korinthe tydens hulle nagmaalsvierings? Is dit iets wat vandag ook nog gebeur?
  2. Hoe kan kinders baat by die viering van die nagmaal?
  3. Wat doen jy normaalweg om jouself op die nagmaal voor te berei?
  4. Wat beteken dit om skuldig te wees aan die liggaam en bloed van die Here (1 Kor 11:27)?
  5. Is daar lidmate in die gemeente langs wie jy liewers nie wil sit tydens die nagmaal nie?
  6. Het die viering van die nagmaal in hierdie Covid-tyd vir u ‘n ekstra betekenis?
  7. Lidmate wat nie met swart broeders of susters saam wil nagmaal vier nie, onderskei hulle wel die liggaam van Christus (sowel soteriologies as ekklesiologies)?

Mag hierdie vrae ons help in die week wat kom.

Mag hulle ons aanspoor om na die kruis van Jesus Christus gaan.

Aan die voet van die kruis besef ons hoe groot ons skuld is, en terselfdertyd hoe oneindig sy vergifnis is.

Dit maak ons so dankbaar.

En as ons dan volgende week nagmaal toe kom, doen ons dit nie alleen nie.

Daar sal baie ander ook wees.

Saam mag ons vier in onderlinge harmonie.

Die vrug van die nagmaal sal wees dat net soos ons Saligmaker ons eerste so uitnemend liefgehad het, ons ook liefde aan mekaar begin bewys, met woorde en met die daad.

 

Amen.

 

Voedingsriglyne:

 

Om hierdie preek te verwerk en uit elke aspek daarvan te leer, volg hier ‘n paar vrae. Die antwoord kan in die preek gevind word, en sommige vrae vereis ook persoonlike deurdenking en meditasie.

  1. Wat was die oorsaak van die wantoestande in Korinthe tydens hulle nagmaalsvierings? Is dit iets wat vandag ook nog gebeur?
  2. Hoe kan kinders baat by die viering van die nagmaal?
  3. Wat doen jy normaalweg om jouself op die nagmaal voor te berei?
  4. Wat beteken dit om skuldig te wees aan die liggaam en bloed van die Here (1 Kor 11:27)?
  5. Is daar lidmate in die gemeente langs wie jy liewers nie wil sit tydens die nagmaal nie?
  6. Het die viering van die nagmaal in hierdie Covid-tyd vir u ‘n ekstra betekenis?
  7. Lidmate wat nie met swart broeders of susters saam wil nagmaal vier nie, onderskei hulle wel die liggaam van Christus (sowel soteriologies as ekklesiologies)?

 

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 122:1

Gebed

Skriflesing: 1 Korinthiërs 11:17-34

Ps 4:3

Teks: Nederlandse Geloofsbelydenis Artikel 35

Preek

Tussensang: Sb 13:1-3

Preek

Sb 13:4-6

Gebed

Apostoliese Geloofsbelydenis (sing)

Kollekte

Ps 66:6,7

Seën