In die verbond skenk Christus tyd vir geloof, bekering, toewyding en volharding

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2021-06-13
Teks: 
Mattheus 13:24-30
Preek Inhoud: 

Hierdie jaar behandel ons as gemeente die jaartema: Lewe in die verbond.

As ons aan die verbond aandag skenk, is ‘n onlosmaaklike deel daarvan die doop.

Die doop is as ‘t ware die paspoort wat toegang gee tot die verbond.

In verlede week se preek het ons aandag geskenk aan die eksegese van Bybelgedeeltes wat met die kinderdoop te make het.

Tog, as die kinderdoop aan die orde is, is eksegese van spesifieke Bybeltekste nie voldoende nie.

Wat ook belangrik is, is dat ons aandag skenk aan die beginsels wat daar uit die hele Skrif na vore kom.

Die oorkoepelende leer van die Skrif.

En dan is veral twee leerstukke baie aktueel, naamlik verbond en uitverkiesing.

Vandag skenk ons hieraan aandag.

Ons neem ons uitgangspunt in ons teks en die gedeeltes wat ons uit die Skrif gelees het.

Maar ook ander Skrifgedeeltes sal in die preek ter sprake kom.

 

Tema: In die verbond skenk Christus tyd vir geloof, bekering, toewyding en volharding

1 Sommiges groei steeds nader na Christus toe

2 Ander groei steeds verder van Christus af weg

(Hierdie twee punte gaan ek nie die een na die ander behandel nie, maar hulle loop soos ‘n rooi draad deur die hele preek heen)

 

Kom ons begin met die gedeelte wat ons uit Exodus gelees het.

Die volk waarmee die HERE ‘n verbond gesluit het, het Hy uit Egipte bevry.

Dit was pure genade dat Hy dit gedoen het.

Israel was in Egipte ‘n gemengde geselskap.

Hoewel hulle bloedverwante was, het sommiges op die HERE vertrou, maar ander het die afgode van Egipte begin dien.

Die negatiewe reaksie van baie van hulle op Moses se inisiatiewe bewys dit.

Moses is deur die HERE na hulle gestuur, maar baie het hom nie aanvaar nie.

Ten spyte hiervan het God in sy genade die hele volk uit Egipte bevry.

Toe hulle daar aan die rand van die Rooisee gestaan het, die golwe voor hulle, en Farao en sy leër agter op hulle hakke, toe was almal desperaat.

En toe die HERE op wonderbaarlike wyse ‘n droë pad deur die see skep, het almal daardie uitvlug met beide hande aangegryp.

Die vreugde daarna, toe hulle droog en wel op die oorkantste wal staan, terwyl die see toegemaak het oor Farao en sy strydwaens, was dan ook uitbundig.

Loof die HEER, want Hy is hoog verhewe, die perd en sy ruiter stort Hy in die see!

 

Tog het spoedig daarna geblyk dat heelwat Israeliete, selfs die meerderheid, se vertroue op die Verbondsgod maar oppervlakkig was.

Die woestyngeskiedenis was een groot treurmare van geklaag, gekerm en kleingelowigheid.

Soseer dat die HERE ernstige gevolge daaraan verbind het.

Israel mog nie meer die beloofde land binnegaan nie.

Veertig jaar moes hulle in die woestyn rondswerf.

En slegs hulle wat jonger as twintig jaar was, mog die beloofde land ingaan.

Maar die jeug is die geklaag en gekerm, die kleingeloof en ongehoorsaamheid nog nie toegereken, op dieselfde wyse as die volwassenes nie.

 

Om hierdie geskiedenis saam te vat: Die HERE het die hele volk uit Egipte bevry, toe Hy vir hulle ‘n pad deur die see gebaan het.

Die seewater wat hulle graf sou word, het verander in reddingswater.

Hulle is gered, maar Farao en sy manne het daarin verdrink.

Die Doopsformulier stel tereg: Hierdeur is alreeds die essensie van die doop afgebeeld. “U het die hardnekkige Farao met al sy manne in die Rooisee laat verdrink maar u volk Israel op droë grond daardeur gelei – waardeur U toe reeds die doop afgebeeld het.”

Die HERE het nie eers, voordat Hy die pad in die see oopgemaak het, vir elke Israeliet afsonderlik gevra: Glo jy in My? Vertrou jy My? Belowe jy dat jy nie in die woestyn sal kerm en kla nie? En as jy hierdie vrae nie met ‘ja’ kan beantwoord nie, dan los Ek jou aan hierdie kant van die Rooisee.

Dis nie wat die HERE gedoen het nie.

Hy het almal sonder uitsondering deur die Rooisee heengelei.

Al wat hulle moes doen, was om Hom te vertrou.

Hulle moes die oë gerig hou op die wolk- en vuurkolom, op die Engel van die HERE.

So het hulle almal gesmaak hoe God se beloftes waar geword het.

Hulle is almal deur die see heengelei.

Ook in die woestyn het hulle elke dag manna en kwartels gekry en water om te drink.

So het die HERE met hulle almal ‘n verbond gesluit en hulle laat deel in die voorregte van sy huisgesin.

Maar nie almal van hulle is bevry om in die beloofde land in te gaan nie.

 

Nou hierdie geskiedenis leer ons baie oor die verband tussen verbond en uitverkiesing.

Dit is wat die Nuwe Testament uitwys.

In die woestyn het almal dieselfde seëninge ontvang – manna, kwartels en water.

Dis nie dat die wat vertrou het – dink aan mense soos Josua en Kaleb – dat hulle meer seëninge ontvang het as die ander nie.

 

Ons lees in 1 Korintiërs 10: “Want ek wil nie hê, broeders, dat julle nie sou weet nie dat ons vaders almal onder die wolk was en almal deur die see deurgegaan het, en almal in Moses gedoop is in die wolk en in die see, en almal dieselfde geestelike spys geëet het, en almal dieselfde geestelike drank gedrink het, want hulle het gedrink uit 'n geestelike rots wat gevolg het, en die rots was Christus. Maar God het in die meeste van hulle geen welgevalle gehad nie, want hulle is neergeslaan in die woestyn. En hierdie dinge was voorbeelde vir ons, dat ons nie begerig moet wees na slegte dinge soos hulle begerig was nie.” (vers 1-6)

Almal is in die verbondsgemeenskap opgeneem deur die doop van die Rooisee, skryf Paulus.

Maar nie almal is uitverkies om die beloofde land in te gaan nie.

En die rede hoekom baie nie uitverkies is nie, was hulle eie skuld, was te wyte aan hulle eie gekerm en gekla, hulle kleingeloof en ongehoorsaamheid.

Hieruit leer ons dus, en die Nuwe Testament beklemtoon dit, dat verbond en verkiesing nie identies is nie.

In elk geval nie in die Ou Testament nie.

 

Broer, suster, as jy saam met Israel deur die Rooisee sou getrek het, hoe sou jy jou in die woestyn gedra het?

Sou jy gou begin kla het?

Of sou jy lank uitgehou het, maar sou op die ou end die maat ook vir jou volgeraak het?

En as die HERE dan deur Moses water beskikbaar stel, sou jy van dankbaarheid oorgeloop het?

Of sou jy eerder gedink het dit is jou reg?

Sou jy dalk terugverlang het na Egipte, waar daar in elk geval genoeg water in die Nylrivier was?

Paulus skryf, die rots waaruit die water gekom het, was Christus.

Die woestyntyd was ‘n pedagogiese tyd vir Israel.

Hulle moes leer om op die HERE alleen te vertrou in die harde woestynlewe.

Dag na dag vertrou dat Hy genoeg sal gee.

Dit wat Hy gegee het, skryf Paulus, was ‘n voorafskaduwing van Christus.

Christus is die lewende water.

Dit wat God in die Ou Testament gegee het, het sy hoogtepunt in Christus bereik.

Dit was die Vader se grootste geskenk!

En heel die verbondsvolk in die woestyn het die water van die rots, die water van Christus gedrink.

Tog het nie almal van hulle die beloofde land binnegegaan nie.

Hulle wat nie dankbaar was met die gawes van die verbond nie.

Vandag deel Christus sy gawes in die nuwe verbond uit.

Dit is oorvloedige gawes!

Hoe ontvang jy die gawes, broer, suster?

 

Dieselfde was ook die geval by Noag.

Ook aan Noag se drie seuns en hulle vroue is genade bewys.

Die hele verbondsgesin mog die ark binnegaan, en is gered deur die sondvloed heen.

Maar het Gam die voorregte van die genadeverbond bly waardeer?

Het hy dit sy eie gemaak?

 

Net so, gemeente, sluit die HERE in die Nuwe Testament sy verbond met die gelowiges en hulle kinders.

Hulle mag almal deel in die voorregte van sy verbondsgesin.

Soos die kinders groter word, word hulle toenemend toerekeningsvatbaar.

As die HERE sien dat hulle by herhaling hulle voorregte minag, kom daar ‘n dag wat Hy hulle uit sy verbondsgesin afsny.

Soos die verbondsdreiging in die Ou Testament in die woestyn geklink het, so klink dit ook in die Nuwe Testament.

Paulus waarsku die Korinthiërs juis met hierdie woestyngeskiedenis: “Maar al hierdie dinge het hulle oorgekom as voorbeelde en is opgeskrywe as ‘n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het. Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie.” (1 Kor. 10:11-12)

 

 

 

Gemeente, as ons nou by die Nuwe Testament kom, dink die meeste Baptiste egter anders.

In Christus se kerk, betoog hulle, behoort daar slegs bekeerde mense te wees.

Dus in wese is verbond en verkiesing in die Nuwe Testament dieselfde.

Is dit so?

Om ‘n antwoord hierop te vind, spesifiek wat betref die Nuwe Testament, moet ons na die gelykenis van die onkruid gaan.

Ons teks leer ons naamlik ook ‘n belangrike les oor verbond en uitverkiesing in die Nuwe Testament.

“Wil u dan hê dat ons dit moet gaan bymekaarmaak? Maar hy antwoord: Nee, dat julle nie miskien, as julle die onkruid bymekaarmaak, die koring daarmee saam uittrek nie.” Mattheüs 13:28-29

 

Om ons teks te verstaan, kom ons kyk eers na die hele gelykenis.

‘n Man het goeie saad in sy akker gesaai.

Maar op daardie selfde akker was iemand anders ook besig.

Die vyand het in die nag gekom en onkruid onder die koring gesaai.

Toe die plantjies opkom, kon mens solank hulle klein was nog nie so goed die verskil sien nie.

Maar hoe groter hulle geword het, hoe duideliker was die verskil.

Die diensknegte het dit raakgesien en die huisheer bevraag of hy nie goeie saad in sy land gesaai het nie.

Waar kom die onkruid vandaan?

Die huisheer was egter nie onkant gevang nie.

Hy het die werklikheid geken, dat daar mense is wat jaloers is, vyande van hom wat hom en sy akker nie met rus laat nie, maar soveel moontlik skade probeer aanrig.

Dan vra die diensknegte of hulle nie die onkruid moet verwyder nie.

Die huisheer se antwoord is opmerklik:

Nee, want daar is die risiko dat julle ook koring daarmee saam uittrek.

 

Nou die Baptiste kan vergelyk word met hierdie diensknegte.

In die hede probeer hulle reeds al die onkruid te verwyder, alle ongelowiges, alle onbekeerdes, alle kleingelowiges uit die kerk te weer.

Maar dit is slegs God wat die hart ken.

In hierdie bedeling het ons as mense nie sig op elke mens se diepste motiewe nie.

Ook is dinge nie van die begin af duidelik nie.

In die hede is daar dikwels nog ‘n gemengde werklikheid.

In elkeen van ons is daar nou nog ‘n oorlog gaande – die ou mens en die nuwe mens wat teen mekaar stry.

En wie gaan die onderspit delf, en wie gaan oorwin?

Ons ken nie die toekoms nie, en dus ken ons ook nie daarop die antwoord nie.

Ons kan nie in ander se harte kyk nie.

Feit is, dat sommiges steeds nader na Christus toe groei, maar dat ander steeds verder van Christus af wegbeweeg.

En dit leer ons uit die opdrag wat die huisheer aan sy diensknegte gee:

Moenie oorhaastig wees nie.

Gee mense tyd.

Want in die verbond skenk Christus tyd om te groei in geloof, bekering, toewyding en volharding, soos ons tema sê.

Baptiste is geneig om bekering as ‘n enkele gebeurtenis te beskou, dikwels met dag en datum.

As Gereformeerdes lê ons klem op daaglikse bekering.

Om te beweer dat jy in een dag bekeer kan word, en dan is dit verby, is baie pretensieus.

Hoogstens kan sommiges bely dat hulle op ‘n spesifieke dag bewus vir Christus begin volg het, bewus op die smal pad begin loop het en nie meer op die breë weg nie.

Dink aan Paulus en daardie spesifieke dag toe Christus aan hom verskyn het.

Maar bekering moet steeds meer verdiep.

En daar is dae wat ons agteruit gaan, wanneer ons, soos die uitdrukking sê, veragter in die genade.

Dan is daar opnuut konkrete bekering nodig uit daardie spesifieke situasie.

Nou in sy verbond skenk Christus ons die geleentheid, so lank as wat ons lewe, om te groei en te verdiep in ons geloof, bekering, toewyding en volharding.

Die geknakte rietstok sal Hy nie verbreek nie, die walmende vlaspit nie uitdoof nie.

 

Hierdie werklikheid leer ons daarom dat verbond en verkiesing nie identies is nie.

In die verbond is daar hulle wat steeds nader na Christus toe groei.

En daar is hulle wat steeds verder van Christus af weggroei.

En die verbond in die Nuwe Testament is Christus se gemeente.

Deur die doop word mense ingelyf in sy gemeente, en kry hulle deel aan al die voorregte, al die geskenke wat in die verbond uitgedeel word.

Sommiges maak, deur die genade van Christus en aangevuur deur die werking van die Gees, gebruik van hierdie geskenke, en groei so nader na Christus toe.

Ander verag die geskenke, en word eerder verlok deur die glitter en glamour van die wêreld.

Weer ander verhard hulle in selftrots, waardeur Christus en sy geskenke steeds meer uit hulle lewens wegkwyn.

Net vir die duidelikheid: Wat is Christus te geskenke?

Laat ek enkeles noem: Vergewing van sondes; bevryding van jou sondige verlede, blydskap, vrede, lewensvervulling, ook die kerkgemeenskap self is ‘n geskenk van Christus, en die Heilige Gees en sy werking is ‘n geskenk van Christus.

En dan is daar nog geskenke waarna ons gretig uitsien, soos ‘n kind uitsien na sy verjaarsdag:

Die hemelse heerlikheid na ons sterwe, die opstanding van die liggaam, die ewige lewe, die herskape aarde.

Broer en suster, waardeer jy hierdie geskenke?

Is hulle vir jou waardevol?

Verkies jy Christus se geskenke bo dit wat die wêreld te biede het?

Onthou, hierdie rykdom kan nie van jou afgevat word nie.

Alle aardse rykdom moet jy agterlaat as jy begrawe word.

Christus se geskenke bly by jou, kan jy saamvat, tot in die ewige lewe.

 

Gemeente, kom ons pas dit wat ons vanoggend uit die Bybel geleer het, nou toe op die doop, asook die verhouding tussen verbond en uitverkiesing.

In die Skrif word verbond en uitverkiesing nie gelykgestel nie.

As ouers byvoorbeeld ‘n baba kry en in die kerk laat doop, maar daarna slegs sporadies in die kerk kom, dan groei daardie kind vir alle praktiese doeleindes nie in die verbond op nie, maar in die wêreld.

As daardie kind as jongman later onverwags in ‘n motorfietsongeluk sterf, kan hy dan begrawe word asof hy ‘n gelowige was en nou in die hemel is, omdat hy ooit in die kerk gedoop is?

Dit is ‘n voorbeeld waar verbond en uitverkiesing prakties gelykgestel word: Asof solank iemand gedoop is, hy in die hemel sal kom, maak nie saak hoe hy gelewe het nie ...

Dit kan mens die dwaling van verbondsoutomatisme noem.

As ‘n kind opgroei in so ‘n gesin, behoort die kerk sulke ouers te tugtig, want hulle verwaarloos die verbondsopvoeding van hulle kind.

Elke verbondskind is dus nie uitverkies nie!

Sien in hierdie verband Romeine 9:6-13.

 

Aan die ander kant kan verbond en uitverkiesing ook op ‘n ander manier inmekaar geskuif word.

As Baptiste byvoorbeeld eers wag dat die baba opgroei en self persoonlik sy geloof kan bely, voordat hy gedoop mag word.

Op hierdie manier word die verbond versmal tot slegs die wedergeborenes, slegs die uitverkorenes.

Ook dit is nie Bybels nie.

 

Baptiste verwyt Gereformeerdes soms dat hulle kerke vol onbekeerdes sit.

Hierdie stelling is oordrewe, maar wat wel waar is, is dat in Gereformeerde kerke binne die kader van God se verbond daar ruimte bestaan vir sondaars om steeds verder te groei in geloof en bekering.

Die gelykenis wat ons vanoggend gelees het, gaan oor die kerk, oftewel die kring van die verbond.

Die kerkgemeenskap bestaan nie net uit bekeerdes nie.

Dit is juis die akker waar sondaars kan groei na steeds dieper bekering en die dra van steeds meer vrugte.

Dit is die akker waar die duiwel ongelukkig ook nog onkruid saai.

As Mattheüs skryf oor die saailand as die wêreld, dan bedoel hy nie die heidense wêreld ver weg nie, maar konkreet die Joodse samelewing, waarin die dissipels gelewe het, dit is die verbondsvolk.

Die verbondsvolk is ‘n saailand waar die Satan ook aktief is.

Dit was juis die Fariseërs en wetgeleerdes wat die onkruid gesaai het, die lastersaad teen die Evangelie.

 

Die Gereformeerde leer wil die Skrif ernstig neem, waaruit blyk dat God se verbond nie net met die uitverkorenes gesluit word nie.

In die huisgesin van God se verbond gee die HERE mense die kans om te groei onder die bediening van die evangelie.

Hulle wat nog onbekeerd is mag, bemagtig deur Christus se Woord en Gees, groei na opregte geloof en wedergeboorte.

Maar in die verbond is daar ook die wat hulle toenemend verhard, en wat ten spyte van alle voorregte wat hulle in God se huisgesin geniet en reeds by die doop aan hulle toegesê is, tog uiteindelik daaruit stap.

Dit is baie hartseer, maar wel ‘n Bybelse realiteit.

So is die kerkgemeenskap die akker waarop die saad van die Woord gesaai word.

Maar die saad val nie by almal in vrugbare grond nie.

Broer, suster, val die saad by jou in vrugbare grond?

Groei jy steeds nader na Christus toe?

Gebruik jy sy genadegawes, sy geskenke maksimaal?

 

Om saam te vat, verbond en uitverkiesing is nie identies nie.

In sy kerk, die verbondsgemeenskap, deel Christus sy gawes uit.

Die kerk se deure staan oop.

Die kerk se samestelling wissel steeds, dis nooit ‘n vaste groep mense nie.

In die kerk gee Christus, deur sy Woord en Gees, die geleentheid om te groei na die volmaaktheid toe.

In sy kerk berei Christus die uitverkorenes, die wat die Vader aan Hom toevertrou het, voor op die ewige lewe.

Die getal uitverkorenes is nie per definisie identies aan die name wat in die kerk se adresboekie staan nie.

Die kerkhandboekie gee die name van hulle wat behoort aan die plaaslike verbondsgemeenskap, hulle wat geniet van Christus se skatte en gawes wat Hy in sy kerk uitdeel.

Maar, hulle wat in die verbond is, is nie per definisie identies aan hulle wat uitverkies is nie.

 

Broer, suster, maak dit jou onseker?

Maak dit jou angstig?

Wonder jy nou of jy wel uitverkies is?

Dit hoef nie.

Want Christus gee in sy kerk die versekering dat almal wat trou die genademiddele bly gebruik, almal wat daagliks nederig vergewing vra deur sy bloed, met sekerheid mag uitsien na die ewige lewe.

Kyk dus elke dan na Christus! Dan behou jy sekerheid!

Wat ‘n gerusstelling: In sy verbond skenk Christus tyd vir geloof, bekering, toewyding en volharding.

In hierdie verband kan mens die vraag vra of ons gewoonte hier in die kerk dat daar in groot groepe openbare geloofsbelydenis afgelê word, of dit wel verstandig is.

Want as daar een ding ook op katkisasie duidelik is, is dat nie almal in dieselfde tempo groei nie.

Nie elkeen kom op dieselfde ouderdom tot ‘n volwasse geloof nie, dat hy homself kan ondersoek en die liggaam van Christus kan onderskei, dink aan die voorwaardes vir die viering van die nagmaal – 1 Korinthiërs 11.

Om in groot groepe geloofsbelydenis af te lê, wek die indruk dat verbond en uitverkiesing dieselfde is, en dit is nie korrek nie.

Laat ons as Gereformeerdes nie bang wees nie om ons gewoontes en tradisies te verander, daar wat dit noodsaaklik is.

Hoe lank gaan ons nog met hierdie oppervlakkige en volkskerklike tradisie voort dat jongmense in een massa geloofsbelydenis aflê?

Dit sou veel beter wees as katkisante self, elkeen op sy eie oomblik, die kerkraad nader met die versoek om geloofsbelydenis af te lê.

 

Ek sluit af: Die doop is die Rooisee van die nuwe verbond.

Nie almal wat deur die Rooisee heen bevry is, het die beloofde land binnegegaan nie.

Nie almal wat deur die doop in die kerk ingelyf is, sal die ewige lewe beërf nie.

Die kerk maak nie salig nie, maar ‘n lewende geloof in die Here Jesus.

Die doop is nie ‘a ticket to heaven’ nie.

Maar dit is wel die enigste pad daarheen!

Wie daarom sy oë gevestig bly hou op Christus en bly skuil in sy kerk, kry in Hom sekerheid van sy eie uitverkiesing, ja sekerheid van die ewige lewe!

 

Amen.

 

 

 

Voedingsriglyne:

Om hierdie preek te verwerk en uit elke aspek daarvan te leer, volg hier ‘n paar vrae, een vir elke dag van die week. Die antwoord kan in die preek gevind word, en sommige vrae vereis ook persoonlike deurdenking.

 

1 Wat is jou paspoort as burger van Christus se koninkryk?

2 Vir watter Skriftuurlike leerstellings staan die volgende geskiedenis simbool:

  • Die bevryding van die hele volk uit Egipte
  • Die intog van ‘n deel van die volk in die beloofde land

3 Wat is vir jou persoonlik die moeilikste: geloof / bekering / toewyding / volharding?

4 Kan jy aan gemeentelede dink wat volgens jou besig is om van Christus af weg te groei? Kan jy iets daaraan doen?

5 Wanneer sal die oestyd wees (Matt 13:30)? Is daar meer as een oestyd?

6 Vir belydende lidmate: Voel jy dat jou openbare geloofsbelydenis of die regte oomblik was, of was dit dalk te vroeg?

 

 

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 107:1

Wet

Ps 119:62

Gebed

Skriflesing: Exodus 13:17-22; 14:10-15:1 & 1 Korinthiërs 10:1-6

Ps 106:3,4,5,6,19,20

Skriflesing: Mattheüs 13:24-30 (teks) & 36-43

Teks Mattheüs 13:24-30

Preek

Ps 107:2,3

Gebed

Kollekte

Ps 107:16,17,20,21

Seën