Die wese van die ban

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2021-05-30
Teks: 
Nederlandse Geloofsbelydeis Artikel 32
Preek Inhoud: 

Wie van u het al die ban meegemaak?

Dalk nie self nie, maar dat jy getuie was dat iemand uit die gemeente geban is?

Ek dink daar sal nie veel van ons wees nie.

Aan die een kant gelukkig maar, wat dit is baie verdrietig as soiets moet gebeur.

Aan die ander kant, as die ban nooit meer plaasvind nie, kan dit ook ‘n slegte teken wees, kan mens begin afvra: Is hierdie gemeente wel ernstig oor die bediening van die tug, die derde merkteken van ‘n ware kerk?

 

Tema: Die wese van die ban

1 God skud sy volk wakker in die Ou Testament

2 Christus skud sy gemeente wakker in die Nuwe Testament

 

1 God skud sy volk wakker in die Ou Testament

Die artikel oor orde en tug in die kerk is ook geskryf teen die agtergrond van dit wat in die eeu van die Reformasie gebeur het.

Aan die een kant die oorregulering in die Roomse Kerk.

Aan die ander kant die gebrek aan orde onder die Wederdopers.

In die Roomse Kerk het die hiërargie hulle eie orde afgeforseer.

Die pous, die kardinale, die biskoppe het ‘n orde gehandhaaf wat in hulle belang was.

Hulle het daardie orde selfs met fisiese strawwe, met die swaard verdedig.

Daar was tye dat die pous, die kerk te Rome, en die heilige Roomse Ryk, hulle eie weermag gehad het.

In totale reaksie hierop het die Wederdopers alle orde in die kerk afgeskud.

Daar moes geen gesagstrukture meer wees nie.

Geen orde lei tot anargie.

En dit is presies wat gebeur het in die geskiedenis van die Wederdopers in die 16de eeu.

 

Teen die agtergrond van hierdie twee uiterstes is dit verstaanbaar hoekom NGB art. 32 so beklemtoon dat die orde in die kerk geensins mag afwyk van dit wat Christus, ons enigste Meester, ingestel het nie.

Ons hoor in hierdie sin die beginsel Sola Scriptura sterk deurkom.

Daar staan nie: Dit wat die Heilige Gees die mense ingee deur spesiale openbarings nie.

Maar slegs dit wat Christus ingestel het.

En dit wat Christus ingestel het, die enigste manier hoe ons dit kan weet, is deur die getuienis van die Woord.

Die gewetens mag nie deur menslike versinsels gebind word nie.

As mense hulle eie wette in die kerk maak, selfs al is dit met goeie bedoelings, dan nog steeds is dit verwerplik, sê die NGB.

Soms word daar beweer dat die kerk die belydenisgeskrifte ingestel het as ‘n ekstra wet naas die Woord van God.

Nou die NGB, wat self ‘n belydenisgeskrif is, waarsku in hierdie artikel eksplisiet daarteen.

Die bedoeling van ‘n belydenisskrif is slegs en alleen om die Skrif na te spreek.

Die NGB as belydenisgeskrif onderstreep dus eksplisiet die Sola Scriptura-beginsel.

Wat is gehoorsaamheid aan God?

Dit kan slegs op een manier gedefinieer word, naamlik in terme van dit wat die Skrif openbaar.

Enige ander manier wat mense uitdink waardeur hulle kwansuis aan God gehoorsaam is, is ‘n versinsel.

 

Nou het ons in die vorige preek oor die NGB gesien dat die gesag wat Christus in sy gemeente ingestel het, geestelik van aard is.

Daar word met woorde vermaan.

Die doel van die handhawing van orde is om eendrag en eenheid te bewaar en te bevorder, skryf die NGB, en om in gehoorsaamheid alles te onderhou wat God in sy Woord openbaar het.

En, skryf die NGB, daarvoor is nodig die ban en alles wat daarmee saamhang, toegepas ooreenkomstig die Woord van God.

 

Wat is die ban?

Dit is ‘n woord wat in ons Afrikaanse spreektaal nie baie gebruik word nie.

Ons ken wel die woord verban goed.

Iemand kan verban word uit ‘n land, wat beteken dat hy uit ‘n land weggejaag word, dat hy nie meer mag terugkom nie.

Dit kan ‘n buitelander wees sonder wettige papiere.

Dit kan ook ‘n burger van die land self wees, wat byvoorbeeld probeer het om die regering omver te werp.

Dit kan ‘n diplomaat of ambassadeur wees van ‘n ander land, as daar spanning tussen twee lande ontstaan het.

In elk geval, verban beteken dat jy nie meer deel mag wees van ‘n plek, of van ‘n gemeenskap nie.

 

As ons nou na die Bybel gaan, vind ons die woorde ban en verban ook daar.

Verder ook die woord banvloek.

In die Ou Testament vind ons hierdie woorde verskeie male.

Reeds in die wet van Moses beveel God dat sy volk die heidenvolke met die banvloek moes tref.

Die rede hieragter was nie dat God net van sy eie volk, van Israel, gehou het, en alle ander volke gehaat het nie.

Die rede was spesifiek dat daardie heidenvolke die afgode gedien het.

Juis daardeur het hulle verwerplik voor God se aangesig geword.

Juis daarom kon Hy hulle nie meer verdra nie.

As die banvloek slegs bedoel was om Israel te bevoordeel, dan sou dit nie sin gemaak het nie.

Want normaalweg, as een volk ‘n ander een oorwin, dan is alles buitgemaak.

Al die kosbaarhede van die volk wat hulle verslaan het.

So het die oorwinnaars hulleself verryk.

Die banvloek wat God voorgeskryf het, het egter spesifiek gestipuleer dat alles verbrand, vernietig moes word.

Selfs die goud en silwer, wat nie verbrand kon word nie, mog die Israeliete nie vir hulleself vat nie.

 

Ons het die geskiedenis van die verwoesting van Jerigo gelees.

Toe Jerigo met die grond gelykgemaak is, het Agan van die bangoed geneem, terwyl die HERE dit eksplisiet verbied het – Josua 6:18.

Silwer, en ‘n goudstaaf, en ‘n mooi mantel.

Agan het geweet dat dit verbode was, daarom het hy dit skelm gedoen, en het hy dit in sy tent in die grond begrawe.

Maar wie van die bangoed neem, haal die ban ook oor homself.

Dit het toe met Agan en sy familie gebeur, selfs met die hele Israel, soos begin blyk het toe hulle die stryd teen die stadjie Ai verloor.

Agan, en die silwer, die goudstaaf en die mantel, en sy seuns en dogters, sy beeste en esels, sy kleinvee, sy tent, alles wat aan hom behoort het, is na die dal Agor gebring, waar hulle toe gestenig is.

Alles en almal is met vuur verbrand en ‘n hoop klippe op hulle gegooi.

So ernstig was die HERE oor die afgodediens.

Israel moes die heidene in die beloofde land uitroei, omdat hulle die bedreiding van afgodediens ingehou het.

 

‘n Soortgelyke voorbeeld vind ons enkele eeue later, met koning Saul.

Samuël het die HERE se opdrag eksplisiet aan hom deurgegee, dat hy vir Amalek met die banvloek moes tref.

Die Amalekiete was ook ‘n heidenvolk, wat al vanaf die tyd van die uittog uit Egipte daarop uit was om Israel kwaad te doen.

Ons vind ‘n historiese lyn deur die Bybel wat vir ons duidelik maak dat Amalek nie net afgode gedien het nie, maar dat hulle ook ‘n instrument in die hande van Satan was, wat geprobeer het om God se volk uit te roei, juis omdat hulle die draer was van die belofte van die koms van die Messias.

In die Ou Testament het Satan vir Amalek gebruik in sy poging om die koms van Christus te dwarsboom.

Vandaar die vyandskap en die opdrag aan Saul om hulle met die banvloek te tref.

Saul was egter eiewillig, en hy was begerig na die buit.

Hy het die beste van die kleinvee en beeste, asook die naasbeste, vir homself gehou.

Net dit waarin Saul en sy manskappe nie belanggestel het nie, het hulle met die banvloek getref.

Ook het hy koning Agag gevange geneem en laat lewe.

Die res van die Amalekiete het hy wel met die banvloek getref.

Maar aan die einde van die dag was hierdie dus net ‘n gedeeltelike banvloek.

Hy het die opdrag van die HERE maar half-half uitgevoer.

Daarom moes Samuël hom namens die HERE gaan vermaan.

Saul was heel vroom en het vir Samuël gesê hy het eintlik die beste vee gespaar, sodat hy dit aan die HERE kon offer.

Maar hierdie eiewillige vroomheid is nie vir God aanvaarbaar nie.

“Het die HERE behae in brandoffers en slagoffers soos in gehoorsaamheid aan die stem van die HERE? Kyk, om gehoorsaam te wees is beter as slagoffer, om te luister beter as die vet van ramme.” (1 Sam 15:22)

Saul het later in sy eiewillige godsdiens volhard.

Sy lewe het tragies afgeloop, toe hy nie meer by die HERE en in die gehoorsaamheid aan Hom rus kon vind nie, maar hom tot ‘n waarsegster gewend het.

 

Nou uit beide die geskiedenis van Agan en Saul leer ons ‘n belangrike ding.

Sowel Agan as Saul het nie voor afgode gekniel nie.

Hulle het nie die gode van Jerigo of van die Amalekiete aanbid nie.

Maar hulle was eiewys, in die sin dat hulle die HERE op hulle eie manier wou dien.

Hierdie houding gaan in teen die tweede gebod.

Die eerste gebod verbied ons om ander gode te dien.

En die tweede gebod verbied dat ons die HERE op ons eie manier dien, in stryd met sy Woord.

In wese is dit ook afgodery, want dan maak ons ‘n eie godsbeeld in ons kop.

Ons dien God op ‘n manier wat vir ons aantreklik, gemaklik is.

Ons omvorm God in ons gedagtes sodanig dat Hy moet aanpas aan ons sondige lewensstyl.

Pleks daarvan dat ons ons sondige lewensstyl aanpas aan sy heilige wil.

 

En so sien ons deur die Ou Testament dat telkens as Israel nie meer trou God se gebooie gehou het nie, Hom nie meer met ‘n onverdeelde hart gedien het nie, dat hulle verval het in eiewillige godsdiens, en dat daardie eiewillige godsdiens op den duur gelei het tot die kombinering van die diens aan die HERE met diens aan die afgode, met as eindstasie dat die volk hulle volledig aan die afgodediens oorgegee het.

Met die gevolg dat hulle, God se eie volk, ook die banvloek oor hulle heengehaal het.

Hulle het ook ‘n objek van die ban geword.

Dus nogmaals, die banvloek in die Ou Testament was nie bedoel om Israel te bevoordeel, ten koste van die heidenvolke nie.

Dit was bedoel om alle afgodediens, alle eiewillige godsdiens uit te roei.

En mog Israel homself daaraan skuldig maak, het hulle daardie straf ook oor hulleself afgeroep.

In sekere sin was die ballingskap ‘n banvloek waarmee die HERE sy volk getref het.

Waarmee Hy sy volk wakker geskud het.

Al lees ons ook dat Hy in sy genade ‘n res bewaar het.

Net soos Hy in sy genade uit die ander heidenvolke ‘n res bewaar het.

Soos Hy beveel het in Deuteronomium 7:1: Die Hetiete, Girgasiete, Amoriete, Kanaäniete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete, met hierdie sewe nasies mog Israel nie ‘n verbond sluit nie, maar moes hulle met die banvloek tref.

Tog was daar enkeles uit hierdie heidenvolke, wat ook deur God se genade gered is.

Slegs God kom daardie reg toe om te besluit wie hy soos ‘n brandende stuk hout uit die banvloek red.

 

En wat maar enkeles in die Ou Testament was, het veel meer in die Nuwe geword.

Christus het self ‘n banvloek geword, Hy is self deur God verban, om in ons plek die straf te dra.

En so geld vir die nuwe verbond dat elkeen wat in sy Naam voor God nader, in sy Naam vergewing van sondes en die ewige lewe sal ontvang.

En so versamel Christus vir Homself ‘n nuwe verbondsvolk in die nuwe bedeling.

Maar ook geld vir die Nuwe Testament, dat hulle wat in die kerk is, nie per definisie onaantasbaar vir die banvloek is nie.

 

(Tema: Die wese van die ban

1 God skud sy volk wakker in die Ou Testament)

 

2 Christus skud sy gemeente wakker in die Nuwe Testament

Ook in die Nuwe Testament is eiewillige godsdiens, wat in wese afgodediens is, vir God verwerplik.

Dit het ons gesien in die gedeelte uit 1 Korinthiërs 5, wat ons gelees het.

Daar was mense in die gemeente in Korinthe wat nogal ingenome was met hulleself.

Hulle het die prediking van Paulus met ‘n knippie sout geneem.

Hulle het hom nie as apostel van Christus aanvaar nie, maar self geselekteer wat hulle op hulle lewe sou toepas.

So het daar ‘n kultuur in die gemeente van eiewillige godsdiens ontstaan.

Daar was iemand wat ‘n verhouding met sy stiefma gehad het.

Hoerery, oftewel seksuele losbandigheid, van so ‘n aard wat selfs onder die heidene nie voorgekom het nie.

Dit gebeur as ‘n gemeente nie meer onder die Woord buig nie, en diegene wat die Woord bring minag, byvoorbeeld omdat hulle nou nie so welsprekend is nie.

Die gemeente het opgeblase geraak, pleks daarvan dat hulle liewer getreur het oor dit wat in hulle midde gebeur.

Maar hoe die Korinthiërs ook oor Paulus gedink het, hy het wel Christus se apostel gebly.

En dus het Paulus, net soos Samuël destyds, nie nagelaat om God se wil aan hulle te verkondig nie.

En so skryf Paulus eksplisiet dat hulle daardie broeder, Paulus noem hom selfs “daardie slegte mens”, uit hulle midde moes verwyder.

Mense wat openlik in die gemeente ‘n lewe lei wat teen God se wil indruis, hulle hoort nie in die gemeente, as hulle na meerdere vermanings net daarmee voortgaan nie.

Jy kan nie met sulke mense vriende bly, asof niks aan die hand is nie.

En dit geld ook vir familie.

Al bly die biologiese familieband, die geloofsband staan op die spel, as ‘n familielid volhard in eiewillige godsdiens.

Dit bring ons weer by die NGB, waar die laaste sin van art. 32 sê:

Daarvoor is nodig die ban en alles wat daarmee saamhang, toegepas ooreenkomstig die Woord van God.

 

Dat die ban Skriftuurlik is, dit is teen hierdie tyd wel duidelik – Agan, Saul, Korinthe – enkele voorbeelde uit die Bybel wat ons behandel het.

Deur die ban word die gemeente beskerm – dink aan die gemeente in Korinthe.

Deur die ban word die persoon wat in sy eiewillige godsdiens volhard, sowel as die gemeente, wakker geskud om die erns van die situasie te besef.

Want die ban is baie ernstig.

In die Ou Testament, waar geestelike en siviele gesag hand aan hand gegaan het, het die ban ook die liggaamlike doodstraf ingehou.

In die Nuwe Testament, waar die ampsdraers in die kerk net geestelike gesag het, is die ban net van geestelike aard.

Dit maak dit nie minder ernstig nie, want dit handel wel oor ewige lewe en ewige dood.

Soos Jesus vir sy dissipels gesê het:

“Voorwaar Ek sê vir julle, alles wat julle op die aarde bind, sal in die hemel gebonde wees; en alles wat julle op die aarde ontbind, sal in die hemel ontbonde wees.” (Matt 18:18)

Met die ban kommunikeer die kerk aan ‘n persoon wat homself verhard: As jy op hierdie pad voortgaan in jou lewe, sal jy nie die ewige lewe beërwe nie.

Hierdie sin is altyd kondisioneel – as jy ...

Die uiteindelike oordeel kom God toe.

As mense is ons nie alwetend nie, en ons weet nie of ‘n verharde sondaar hom tog, dalk op die laaste, tot God bekeer nie.

Dit lyk of Agan berou gehad het – Josua 7:20.

Dit het sy aardse straf nie opgehef nie, maar God het oor sy ewige lot besluit.

En wie berou het, al is dit op die laaste soos die moordenaar aan die kruis, vind vergewing.

Maar die ban spreek wel ‘n ondubbelsinnige oordeel uit oor iemand wat in hierdie lewe in leer of in lewe in eiewillige godsdiens volhard.

En soos ons in die Ou Testament gesien het, geld ook vir die Nuwe Testament dat eiewillige godsdiens uiteindelik lei tot afgodediens.

Afgode soos Mammon, tegniek, ras en bloed, uiteindelik jyself op die troon.

 

Nou is dit ‘n feit dat die ban ook soms misbruik word.

Die Fariseërs het die ban misbruik om byvoorbeeld die blindgebore man uit die sinagoge te verban, omdat Hy Christus bely het.

En, kan mens in Johannes 12:42 lees, daar was selfs baie owerstes wat in Hom geglo het, maar ter wille van die Fariseërs het hulle dit nie bely nie, om nie uit die sinagoge geban te word nie.

Ook het die pous die ban misbruik, tot hy 500 jaar gelede die banbul teen Marten Luther uitgereik het.

Daarom skryf die NGB eksplisiet: Die ban moet toegepas word ooreenkomstig die Woord van God.

As mens na ons Kerkorde kyk, artikels 72-76 wat oor die tug handel, is duidelik dat daar baie sorgvuldig toegesien word dat die ban, of ekskommunikasie, gebeur in lyn met God se Woord.

Iemand word nie sommer in die ban geplaas nie.

Daar is ‘n sorgvuldige prosedure, wat nie een twee drie plaasvind nie, en wat nie net deur een persoon of enkelinge gedoen word nie, maar deur beraadslaging van die kerkraad, asook met insae van naburige kerke en die klassis.

Dit alles om toe te sien dat die ban nie misbruik word nie, maar korrek gebruik word.

 

Nou is dit so dat dit deesdae dikwels ‘n gewoonte geword het dat mense hulleself uit die kerk onttrek, nog voordat dit sover gekom het dat die ban opgelê kon word.

Ook is dit so, met al die verskillende denominasies rondom ons, dat mense maklik elders kan voortgaan met ‘n eiewillige godsdiens.

Maar ons moet net onthou dat onttrekking die saak nie minder ernstig maak nie.

Met ‘n onttrekking is dalk die aanstoot uit die gemeente weg, maar die sondaar staan nog steeds voor God se aangesig.

Nêrens kan ons wegkruip voor God of weghardloop van sy wil nie.

Dan lei ons onsself om die bos.

Dit bring ons by die uiteindelike doel van de ban.

Dat dit ‘n finale appèl is op iemand om van sy dwaalweë waarin hy volhard, terug te keer.

En daarom is dit nie vir niks dat daar ook in die Kerkorde ‘n artikel is vir heropneming van geëkskommunikeerdes.

En in ons liturgieboekie is daar selfs ‘n formulier om ‘n afgesnyde lidmaat weer in die gemeente van Christus op te neem.

Lees bietjie vanaand daardie formulier.

Dit is ‘n pragtige formulier waarin die doel van tug, en die doel van die ban, pragtig na vore kom.

Ja dat dit uiteindelik ook genade is!

 

‘n Kerk waaruit die merkteken van die tug, en die ban wat daarmee saamgaan, begin te verdwyn, is ‘n kerk wat veragter in die genade.

Laat ons nie veragter in die genade nie.

Laat ons steeds buig onder die Woord, die juk van Christus.

Want sy juk is sag, en sy las is lig.

Enige ander juk wat jy in jou lewe op die skouers neem, gaan jou ondergang beteken.

Saul het die juk van gehoorsaamheid aan God se wil afgewerp, hy het ‘n juk van eiewillige godsdiens op die skouers geneem.

Dit het uiteinlik sy ondergang beteken.

Die uiteinde van sy lewe was nag, was hel by wyse van spreke.

Daardie dwaalweg waarin hy volhard het, het hom nie geluk gebring nie.

Dieselfde het gegeld vir daardie man in Korinthe wat met sy stiefma saamgeleef het.

Ook het dieselfde gegeld vir daardie lidmate in Korinthe wat met hom bevriend gebly het, en geredeneer het dat hulle beter weet as Paulus.

Ja wie buig onder die juk van Christus en sy Woord, vind die ware vryheid.

En dit is dieselfde Woord, wat vandag ook weer aan u verkondig is.

 

Nou is ons geneig om seksuele sondes erger te vind as erger sondes.

Maar in 1 Korinthiërs 5 word ook ander sondes genoem, wat banwaardig is.

Om ‘n gierigaard te wees.

Is dit nie iets wat in ons tyd so baie voorkom nie?

Bill Gates, Elon Musk, Warran Buffet is rolmodelle in die wêreld.

Is hulle vir ons ook?

Verder om ‘n afgodedienaar te wees.

Vandag se afgode is Mammon, en die tegniek.

‘n Afgod is iets waarvan jy alles verwag vir die toekoms.

Is dit by jou ook so?

‘n Kwaadspreker ...

Dit het nie verduideliking nodig nie.

Hoe dikwels gaan Christus se gemeente nie gebuk onder kwaadsprekery nie?

Praat oor ‘n ander op so ‘n manier dat daardie persoon dit as kwetsend sal ervaar.

Rower ...

Dronkaard ...

Is ons gebruik van verslawende middele net soos die wêreld, of is ons baas oor verslawende middele?

Paulus skryf: Met so iemand moet julle selfs nie saam eet nie.

Broers en susters, die konklusie is duidelik.

Vir elkeen van julle, vir my, ons verdien elkeen om met die banvloek getref te word.

Want ons voel, elkeen van ons, die trekkrag van die sonde in ons lewe, om in die sonde te bly leef.

Dank aan Christus, wat ons deur sy Gees die krag gee om, as ons struikel, uit die sonde op te staan, om nie in die sonde te bly lê nie, om nie van die sonde ‘n lewenswyse te maak nie.

Want sodra dit gebeur, word ook ons banwaardig.

 

Het jy al ooit die ban meegemaak?

Aan die een kant hoop ons dat ons dit nooit hoef mee te maak, òf self òf as getuie dat dit met ‘n ander gebeur nie.

Aan die ander kant, die ban is ook ‘n genademiddel.

En dit is ons grootste begeerte, dat Christus se gemeente gesond bly, elke lidmaat, ook al moet dit met behulp van die ban.

 

Amen.

 

Voedingsriglyne

Om hierdie preek te verwerk en uit elke aspek daarvan te leer, volg hier ‘n paar vrae, een vir elke dag van die week. Die antwoord kan in die preek gevind word, en sommige vrae vereis ook persoonlike deurdenking.

1       In eerste instansie roep die geskiedenis van Agan, hoe hy en sy familie gestenig en verbrand is, weerstand by ons op. Kan jy sover kom om – ook gevoelsmatig – in te stem met hoe die Bybel hierdie geskiedenis beskryf? Wat was die doel van hierdie so ingrypende straf?

2       Dink jy dat Agan en sy familie die ewige lewe ontvang het? Kan iemand wat in die ban geplaas is, tog nog gered word.

3       As Paulus skryf (1 Kor 5:13): “Verwyder tog dié slegte mens uit julle midde uit”, wat het dit konkreet ingehou? 

4       As iemand, terwyl die kerkraad en gemeente besig is om ‘n pad van vermaan met hom/haar te stap, hom/haar uit die gemeente onttrek, beteken dit dat die persoon aan die ban ontspring?

5       In wat en in watter situasies ervaar jy in jou lewe die trekkrag van die Satan? Kan jy jouself voorstel, dat as jy nie deur die krag van die Gees daarteen stry, jy ook banwaardig sal word?

6 Lees die formulier om ‘n afgesnyde lidmaat weer in die Gemeente van Christus op te neem. Watter boodskap is daar in daardie formulier vir jou?        

 

 

 

 

Liturgie: 

Votum: Ps 121:1

Seën

Ps 1:1,3

Gebed

Skriflesing: Josua 6:17-19; 7:1-15

Ps 106:11,19

Skriflesing: 1 Korinthiërs 5

Ps 83:3,4

Teks: Nederlandse Geloofsbelydenis artikel 32

Preek

Ps 79:5,6,9

Gebed

Apostoliese Geloofsbelydenis (sing)

Kollekte

Ps 105:3,4,5

Seën