Christus stel spesiale ampsdraers in sy gemeente aan

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2021-05-16
Teks: 
Nederlandse Geloofsbelydenis Artikel 30-31
Preek Inhoud: 

Die manier hoe ons hier vanaand in die kerk sit, is nie toevallig nie.

Die rangskikking van die kerkbanke is nie toevallig nie.

In wese sit daar twee groepe in die kerk.

Daar is banke vir die gemeentelede, en dan is daar banke vir die ampsdraers.

Verder is daar ‘n preekstoel vir die bedienaar van die Woord.

Hierdie rangskikking gaan terug op die Woord van God.

Dit is wat ons vanaand met artikel 30 van die NGB behandel.

Volgens die Woord word die kerk geregeer deur spesiale ampsdraers.

Wat egter bietjie onduidelik is in ons kerkgebou, is die onderskeid tussen ouderlinge en diakens.

Hulle sit in dieselfde banke.

Ons het net die gewoonte dat die ouderlinge voor en die diakens agter sit.

Dit is eintlik nie reg nie, want dit skep die indruk dat die diakens minder belangrik as die ouderlinge is.

In die Gereformeerde kerkargitektuur seder die Reformasie is kerkgeboue meestal so ontwerp dat die ouderlinge apart aan die een kant van die kansel gesit het, en die diakens apart aan die ander kant van die kansel.

So was die onderskeid tussen hierdie twee ampte veel duideliker.

En so is ook nie gesuggereer dat diakens minder belangrik as ouderlinge is nie; maar dat beide ‘n volwaardige amp is, wat elk op sy eie manier die bediening van die Woord ondersteun.

Ons het hierdie kerkgebou van die NG Kerk oorgekoop, en dit is my nie bekend waarom die argitek wat hierdie kerk ontwerp het, dit so gedoen het nie.

In die VGK Pretoria het mens in wese dieselfde probleem, al is daar ‘n houtbalk wat die banke van die ouderlinge en diakens onderskei.

Maar ook daar sit die diakens agter die ouderlinge.

Die ontwerp van byvoorbeeld die kerkgebou van die GK Die Kandelaar is wat dit betref meer korrek, met ouderlinge en diakens aan weerskante van die kansel.

En die feit dat ouderlinge en diakens deurgaans voor in die kerk sit, is op ‘n manier simbolies vir die feit dat hulle gesag van Christus oor die gemeente ontvang het.

Hulle vorm, soos die NGB skryf, die geestelike bestuur wat die Here in sy Woord voorskryf.

Dit is waarna ons in vanaand se preek, na aanleiding van NGB art. 30, gaan kyk.

 

Tema: Christus stel spesiale ampsdraers in sy gemeente aan

  • In sy gemeente is daar gesag
  • In sy gemeente is daar herders of bedienaars van sy Woord
  • In sy gemeente is daar ouderlinge en diakens

 

  • In sy gemeente is daar gesag

In die vorige artikel, art. 29, kan mens lees dat een kenmerk van die ware kerk is dat dit die Evangelie suiwer preek.

‘n Onderdeel van die Evangelie is ook die wyse waarop die kerk geregeer moet word.

Want daaroor doen die Evangelie duidelike uitsprake.

Verskillende kerke het verskillende bestuurstrukture of gesagstrukture.

Ons is redelik op die hoogte van die hiërargiese model in die Roomse Kerk.

Aan die einde van die dag moet alle beslissings in Rome geneem word.

U het ongetwyfeld al die Roomse kerkie gesien op die hoek van Codonia en Cunninghamlaan, teenoor Checkers.

‘n Rukkie terug het Aros ‘n aanbod gemaak om ‘n deel van hulle perseel oor te koop.

Die plaaslike priester moes wag vir ‘n beslissing uit Rome, wat toe afgekeur is.

Dis maar net een klein voorbeeld van hiërargie, dat ‘n plaaslike gemeente en ampsdraer onder die gesag van ‘n ander kerk staan, naamlik die kerk van Rome en van die pous.

 

Die ander uiterste is wat ons dikwels in Baptiste kerke vind.

Daar word die amp van alle gelowiges dikwels gelykgestel met die spesiale ampte.

Enige gemeentelid wat ‘n openbaring ontvang, word byvoorbeeld toegelaat om in die erdiens ‘n woord te spreek.

Mense sonder ‘n behoorlike teologiese opleiding word op die kansel toegelaat.

 

In die Gereformeerde kerkregering, soos sedert die Reformasie daar teruggegaan word na die Skrif, is egter duidelike gesagstrukture.

Dit is Christus wat aan sy kerk ampsdraers gee.

Christus stel onderherders aan wat gesag het oor ‘n gemeente.

Hy ag dit nodig vir sy kerk.

In Efesiërs 4 lees ons dat dit Christus is wat ampsdraers aanstel “om die heiliges toe te rus vir hulle dienswerk, tot opbouing van die liggaam van Christus” (vers 12).

 

Terselfdertyd beteken die feit dat daar duidelike gesag in ‘n gemeente is, nie dat daar ‘n hiërargiese struktuur is, in die sin dat die een plaaslike gemeente belangriker is as ‘n ander een, of een voorganger belangriker as ‘n ander, of een ampsdraer belangriker as ‘n ander is nie.

Die ampte in die kerk is gelykwaardig.

 

Ook word in die Gereformeerde kerkregering die gesag van ‘n ampsdraer spesifiek omskryf as ‘n geestelike gesag.

Die gesag van die owerheid, soos die polisie, kan inhou dat mense liggaamlike strawwe opgelê word, byvoorbeeld tronkstraf, of finansiële strawwe, byvoorbeeld boetes.

Die gesag van ouers is van so ‘n aard dat hulle hulle kinders kan tugtig, ook liggaamlik.

In die kerk het ampsdraers egter net geestelike gesag.

Geen boetes, geen tronkstraf of dergelike nie.

As mens na ons Kerkorde kyk, word hierdie Bybelse beginsel prakties uitgewerk.

So is die bediening van die tug slegs ‘n geestelike saak.

Daar word vermaan met woorde, gesprekke.

As die vermaan in die wind geslaan word, gaan die tug voort deur afhouding van die sakramente.

En uiteindelik, as daar geen bekering is nie, volg daar afsnyding as lid van die gemeente.

Maar selfs as ‘n lidmaat afgesny is, kan die kerkraad nie vir ‘n lidmaat fisies keer om die erediens by te woon nie.

Selfs as ‘n lidmaat die gebruik van die sakramente geweier is, kan die kerkraad daardie persoon nie fisies van die nagmaal verwyder nie.

Die kerkraad kan met klem daarop wys dat as so ‘n persoon aan die nagmaal deelneem, hy dit doen tot sy eie oordeel, soos die Skrif sê.

Die kerkraad kan, as dit in die belang van die orde en vrede in die gemeente is, as die reputasie van die gemeente op die spel staan, kan die kerkraad besluit om nie met die nagmaal voort te gaan nie, as ‘n afgesnyde persoon homself so opdring, om dit vir tyd en wyle uit te stel.

 

Om saam te vat: In die gemeente is daar gesag.

Christus het onderherders aangestel.

Gemeente, kom ons wees dankbaar met hierdie gawe van Christus.

Kom ons ondersteun die ampsdraers in hulle taak, wat dikwels ‘n las op hulle skouers is.

Kom ons bid vir hulle.

 

  • In sy gemeente is daar herders of bedienaars van sy Woord

‘n Volgende saak waaraan die NGB aandag skenk, is watter ampte daar is.

Ook hier word teruggegaan na die Skrif.

Selfs in die terminologie word so na as moontlik aan die woorde uit die Skrif gehou.

Eerstens moet daar dienaars of herders wees om die Woord van God te verkondig.

Die woord dominee het later in gebruik gekom, maar ons vind dit nie terug in die belydenisskrifte nie, en ook nie in die Bybel nie.

Hy is veral ‘n dienaar van die Goddelike Woord.

Hy is ‘n herder wat die gemeente lei na waters waar rus is, dit is die prediking van die Woord van God.

Die NGB skryf dat dit sy taak is om die Woord van God te verkondig en die sakramente te bedien.

Hierdie twee aktiwiteite is dus duidelik verbonde aan die herder en leraar.

In Openbaring sê Christus spesifiek aan Johannes:

“Skryf aan die engel van die gemeente” (Openb. 2:1; 1:20).

Engel kan ook vertaal word, soos die 2020-vertaling doen, met boodskapper.

Dit verwys na die voorganger van elke gemeente.

Aan hom is primêr die verkondiging van die Woord toevertrou.

En soos Paulus in 1 Korinthiërs 4 skryf: Hulle is “bedienaars van die verborgenhede van God” (vers 1).

Verborgenhede is in hierdie konteks ‘n pragtige woord, wat verwys na die Evangelie.

Dink aan wat Paulus skryf aan die Kolossense: Ek het ‘n dienaar geword in julle belang van die verborgenheid wat van die eeue en geslagte af verborge was, maar nou geopenbaar is aan sy heiliges, aan wie God wou bekend maak wat die rykdom van die heerlikheid van hierdie verborgenheid onder die heidene is, dit is Christus onder julle, die hoop van die heerlikheid. Hom verkondig ons, terwyl ons elke mens vermaan en elke mens in die wysheid onderrig, om elke mens volmaak in Christus Jesus voor te stel (Kol 1:25-28).

Bedienaar van die verborgenhede beteken dus nie dat die dominee vir die gemeente sê:

Ek sien ek sien wat julle nie sien nie.

Die woord verborgenheid moet ons heilshistories verstaan.

Wat in die Ou Testament verborge was, is in die Nuwe Testament geopenbaar.

Naamlik al die beloftes oor die Messias, en hoe hulle in Christus vervul is.

En hoe die Evangelie van Jesus Christus nie net meer vir die Jode bedoel is nie.

Die rykdom van die heerlikheid van die verborgenheid, wat nou in Christus geopenbaar is, dit is ook vir die heidene.

En Paulus skryf: Dit het al posgevat onder die heidene, onder andere in Kolosse.

Dus aan elke mens, sonder onderskeid, mag en moet ‘n herder en leraar nou die hoop van die heerlikheid verkondig.

Elke mens moet met die Evangelie vermaan word, moet in die wysheid onderrig word.

Met die doel om elke mens volmaak in Christus Jesus voor te stel.

Die groot boodskap mag hy verkondig, publiek in die kerk, in die klaslokaal, op die strate, in die huise, naamlik dat God in Christus die wêreld met Homself versoen het deur hulle hul misdade nie toe te reken nie, maar die straf op sy Seun te laai.

So is elke herder en leraar ‘n gestuurde van God om hierdie boodskap aan die wêreld oor te dra, daar waar God hom ook al geplaas het.

“Ons tree dan op as gesante om Christus wil, asof God deur ons vermaan. Ons bid julle om Christus wil: Laat julle met God versoen” – 2 Korinthiërs 5:20.

Dit is die kern van elke herder en leraar se taak.

Dit is hulle taak om deur die Evangelieprediking mense se oë te open, dat hulle van die duisternis tot die lig hulle kan bekeer.

Dat hulle deur die geloof vergifnis van sondes in Christus kan ontvang.

Dat hulle ‘n erfdeel onder die geheiligdes kan ontvang, soos Paulus aan Agrippa getuig oor die taak wat aan hom en elke prediker deur God opgedra is (Hand 26:18).

 

Wat ‘n voorreg vir ‘n herder en leraar om dit te mag doen!

En dit is nie net ‘n oppervlakkige taak nie.

Die verborgenhede van die Evangelie is soos ‘n goudmyn wat gedelf word.

Al die rykdomme van die Skrif, soos dit in Christus na vore kom, mag en moet hy aan die gemeente oordra.

 

Nou die rede dat die herder en leraar spesifiek die opdrag ontvang om die Woord en sakramente te bedien, is nie omdat hy belangriker is as die ander ampsdraers nie.

Die bediening van die Woord en die bediening van die sakramente word egter direk gekoppel aan die bediening van die Woord.

Aan die herder en leraar se meerdere kennis en insig in die Woord.

‘n Herder en leraar is iemand wat hom voltyds toewy aan sy taak, waardeur sy kennis en ervaring net soveel meer is as die van die ander ampsdraers, wat naas hulle amp nog ‘n dagtaak het.

 ‘n Herder en leraar is iemand wat ‘n grondige opleiding moes ontvang, waardeur sy insig meer is in die Woord en ook in mense se geestelike lewe, hoe hulle reageer op die Woordverkondiging.

En verder, om die sakramente te bedien, gaan nie net oor die liturgiese handeling nie.

Dit gaan byvoorbeeld ook oor dit wat daaraan vooraf gaan, naamlik die geestelike beoordeling of ‘n persoon geregtig is, gereed is om aan die sakramente deel te neem.

So begelei die herder en leraar vir die jeug tydens die jare van kategese om hulle gereed te maak vir die doen van openbare geloofsbelydenis, en sodoende tot deelname aan die sakramente.

Ook in die ondersoek van sulke dooplidmate speel die herder en leraar ‘n belangrike rol.

En ook in die beoordeling of die doop bedien mag word, speel die herder en leraar ‘n belangrike rol.

Die doop is nie net ‘n gewoonte wat outomaties plaasvind as daar ‘n baba gebore word nie.

Daar kan situasies wees waar een van die ouers byvoorbeeld nie lid van die kerk is nie.

Daar kan situasies wees waar een of beide ouers onder die tug staan.

Daar kan situasies wees waar ‘n persoon eers op volwasse leeftyd lid van die kerk word en gedoop word.

 

Nou is hierdie bediening van die versoening deur Woord en sakrament nie net ‘n voorreg nie, maar dit is ook ‘n swaar las op ‘n prediker se skouers.

Jesus het aan sy apostels gesê: “As julle die mense hulle sondes vergewe, dan word dit hulle vergewe; as julle die mense hulle sondes hou, dan is dit gehou.” (Joh 20:23)

Nadat die apostels te sterwe gekom het, het die herders en leraars hierdie taak van die apostels oorgeneem en voortgesit.

Hierdie taak wat ‘n herder en leraar ontvang, berus nie op sy eie voorkeure en afkeure, op sy simpatie of antipatie nie.

Dit het alles te make met sy bediening van die Woord, en sy insig in die Woord.

Van daaruit kom hy tot die insig dat iemand, wat sy sondes bely en vir vergifnis vra, opreg is, dat sy sondes vergewe word.

Vanuit die Skrif het hy die insig in wat sonde is en wat nie.

Vanuit die Skrif leer hy ook om te onderskei tussen hulle wat opreg is en hulle wat hipokriet is.

Vir laasgenoemdes geld dat die herder en leraar aan hulle duidelik moet oordra dat hulle sondes nie vergewe kan word nie.

Oordra dat ‘n mens nie vir Christus kan flous met ‘n oppervlakkige berou nie.

‘n Berou wat net daarop gemik is om die skade van die sonde aan jou eie reputasie so min moontlik te maak, maar nie ‘n berou wat uit die hart kom nie.

Dus voorwaar ‘n swaar las herders en leraars se skouers, want dit gaan oor sake wat bepalend is vir mense se ewige lewe of ewige dood.

Soos Christus aan sy dissipels op die hart gebind het: “Wie na julle luister, luister na My; en wie julle verwerp, verwerp My; en wie My verwerp, verwerp Hom wat My gestuur het.” (Luk 10:16)

 

Paulus het soms swaar gebuk gegaan onder die las van sy bediening aan die gemeente van Korinthe.

Hy skryf in 2 Korinthiërs 2:

“Want uig groot verdrukking en benoudheid van hart het ek aan julle geskrywe, onder baie trane, nie dat julle bedroef mag word nie, maar dat julle mag weet van die liefde wat ek oorvloedig vir julle het. Maar as iemand droefheid veroorsaak het, dan het hy my nie bedroef nie, maar – ek wil nie oordryf nie – min of meer julle almal.”

 

Weer eens, kom ons bid vir die herders en leraars.

Kom ons bid dat hulle las nie te swaar word nie.

Kom ons doen alles in ons vermoë om hulle las ligter te maak.

 

  • In sy gemeente is daar ouderlinge en diakens

Nou is dit nie so dat die herder en leraar oor al hierdie dinge alleen besluit nie.

Die NGB skryf: Daar moet ook ouderlinge en diakens wees om saam met die herders die kerkraad te vorm.

Ouderlinge en diakens se ampte is nie identies nie.

Elkeen van hulle staan die herder en leraar by in verskillende aspekte wat betref die kerklike lewe.

So ondersteun die ouderlinge die herder en leraar in alle geestelike sake.

Die woord wat in die Nuwe Testament vir ouderling gebruik word, is letterlik oudste.

Al is dit nie ‘n wet nie, is dit deurgaans wel so dat die ouderlinge oftewel oudstes broeders van meer gevorderde leeftyd behoort te wees.

Al beteken dit ook nie dat alle bejaardes in die gemeente bekwaam is vir die amp van ouderling nie.

Dit moet broeders wees wat vir jare die Skrif ondersoek het, wat belese is, wat lewenservaring opgedoen het, ervaring met mense, en hoe die Woord van God land in mense se lewens, en veral, wat gegroei het in wysheid, insig maar ook nederigheid.

Juis hulle moet die herder en leraar bystaan in die geestelike sy van die gemeentelewe.

Soos die NGB skryf, op geeestelike wyse die gemeente en spesifiek die oortreders vermaan en in toom hou.

 

En dan is daar die diakens.

Hulle moet die herder en leraar bystaan in praktiese sake in die gemeente.

Dat die armes en bedroefdes volgens hulle nood gehelp en getroos word.

Ook hulle is volgens die NGB deel van die kerkraad.

Die praktiese liefdediens is ook kerkraadswerk.

Ouderlinge en diakens kan mekaar onderling adviseer, hulle moet saamwerk, omdat geestelik en prakties nie geskei kan word nie.

Terselfdertyd moet die twee ampte onderskei word.

Veral die diakenamp is ‘n ondergewaarde amp.

Wie die Skrif goed lees, besef hoe omvattend die taak van diakens is.

Hoe hulle die hele gemeente as diakonale gemeente moet lei in die praktiese liefdediens, om so werklik in die alledaagse lewe ook een gemeente, een liggaam te wees.

 

In 1 Timotheüs 3 – die NGB verwys eksplisiet na hierdie hoofstuk – vind ons die spesifieke vereistes vir sowel ouderlinge as diakens.

Met hierdie voorskrifte sorg Christus dat alles in die kerk behoorlik en ordelik geskied, wanneer betroubare broeders gekies word ooreenkomstig die voorskrif wat die apostel Paulus in die brief aan Timotheüs daarvoor gee (1 Tim 3).

 

Dit bring my weer by die punt wat ek al eerder genoem het.

In die Gereformeerde kerkreg onderskei ons tussen die amp van alle gelowiges en die drie spesiale ampte.

Daar is oorvleueling.

In die amp van alle gelowiges is elke gemeentelid ‘n profeet, priester en koning.

In hierdie hoedanigheid het elke gemeentelid ook ‘n geestelike taak, in die sin dat gemeentelede ook geestelik na mekaar moet omsien.

Tog maak dit nie van elke gemeentelid ‘n herder en leraar of ‘n ouderling nie.

En so ook het elke gemeentelid ‘n diakonale taak, in die sin dat ons, elkeen in die gemeente na mekaar moet omsien dat niemand ongetroos lewe onder die las van armoede, eensaamheid, siekte of ouderdom nie.

Tog maak dit ook nie van elke gemeentelid ‘n diaken in die spesiale amp nie.

Wat betref die spesiale ampte geld dat dit broeders moet wees wat nie net hulleself aanbied of opdring nie, maar dat hulle ook objektief deur die gemeente voorgedra word, geïdentifiseer word as persone wat daardie gawes besit, en wat offisieel deur die kerkraad benoem en in hulle amp bevestig word.

 

Om saam te vat, Christus het die eindverantwoordelikheid, die gesag in die kerk aan die spesiale ampte toevertrou.

Christus stel spesiale ampsdraers in sy gemeente aan.

En daarom roep Christus ons ook op om aan die ampsdraers gehoorsaam te wees.

Hebreërs 13:17: “Wees gehoorsaam aan julle voorgangers en onderdanig, want hulle waak vir julle siele”.

 

Inderdaad, in Christus se gemeente is daar gesag.

Daardie gesag berus nie op die meerderheid nie, dis nie ‘n demokrasie nie.

Daardie gesag berus op die Woord van God, op Christus se gesag.

En om te sorg dat sy Woord die botoon voer in die gemeente en eerbiedig word, stel Christus bedienaars van die Woord aand.

En om te sorg dat sy Woord sowel geestelik en prakties ingang vind in die mense se harte en lewens, stel Christus ouderlinge en diakens aan.

So is sy uitmuntende en liefdevolle sorg vir sy gemeente.

Gemeente, wat ‘n Saligmaker het ons nie!

Lof sy Christus.

As gemeente is ons sy liggaam.

Ons behoort aan Hom.

Ons lewe vir Hom.

Mag sy Naam verheerlik word vanuit hierdie gemeente.

Vanaf die kansel.

Vanuit die banke van die gemeentelede.

Vanuit die banke van die ouderlinge.

Vanuit die banke van die diakens.

Liturgie: 

Votum: Ps 121:1

Seën

Ps 31:3-5

Gebed

Skriflesing: 1 Korinthiërs 4:1-5 & Kolossense 1:24-2:3

Sb 22:1,5,11

Teks: Nederlandse Geloofsbelydenis art. 30-31

Preek

Sb 49:5-7

Gebed

Apostoliese Geloofsbelydenis (sing)

Kollekte

Ps 103:9,11

Seën