Die HERE se huis is lieflik

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2021-05-02
Teks: 
Psalm 84
Preek Inhoud: 

Preek: Psalm 84:2

 

Ons is vanoggend bymekaar op ‘n lieflike plek.

Die woord lieflik gebruik ons veral vir ‘n baie mooi plekke, soos ‘n vakansiehuis in die bosveld of by die see, ‘n kampeerterrein in die berge, ‘n plek met asemrowende natuurskoon.

Daarvoor gebruik ons die woord: Dit is ‘n lieflike plek.

Psalm 84 leer ons dat hier, waar ons vanoggend in die kerk sit, dat dit ook ‘n lieflike plek is.

Hoe lieflik is u wonings, HEER ...

Dit is die verwondering, die ervaring, waarmee die kinders van Korag hierdie Psalm begin.

 

Tema: Die HERE se huis is lieflik

1 Jy ontvang dit as kosbaarste besit

2 Jy word van daaruit geseën

3 Jy is ‘n medebouer daaraan

 

1 Jy ontvang dit as kosbaarste besit

Wie was die kinders van Korag?

Hierdie nakomelinge van Korag is aangestel om leiding te neem oor die sang by die tabernakel en later die tempel.

Hulle was Leviete, en soos ons weet het die Leviete oor die algemeen dienswerk by die tempel verrig.

Dit is dus nie verbasend dat hulle sing dat die huis van die HERE lieflik is nie.

Dink net aan hoe Salomo die tempel gebou het.

Hy het 250 ton goud, 500 ton silwer, en 500 ton koper daarvoor gebruik.

Hy het kosbare massiewe klippe op maat laat kap.

Verder was die tempel versier met pragtige simbole van engele, palmbome, blomme.

Dit moes ‘n gebou gewees het van ongekende artistieke skoonheid, ‘n lieflike plek om te wees.

Hierdie lieflike gebou was die werksplek van die Koragiete.

 

Tog was dit nie die hoofrede hoekom die digter die tempel ‘n lieflike plek noem nie.

Maar die belangrikste rede is dat dit die woonplek van God op aarde was.

Dat die gelowiges hier vir God kon ontmoet.

Ons teks skryf HERE, met vier hoofletters, dit is hulle Verbondsgod.

Maar dit is nie ‘n God wat net aan Israel gebonde is nie.

Sy naam is HERE van die leërskare.

Mens kan ook vertaal: Heerser oor alle magte.

Daar is geen krag of mag op aarde wat nie aan Hom onderworpe is nie.

Tog het dit Hom, in sy ondeurgrondelike raad, behaag om sy aardse woning in Jerusalem te vestig, in die tempel.

 

Daar is ‘n nou verband tussen die opskrif van hierdie Psalm en ons teks.

Die digter skryf dat hy by die drumpel van die huis van sy God wil staan, veel liewer as om te woon in die tente van goddeloosheid.

Hy sê dit as ‘n Koragiet, soos ons in die opskrif van die Psalm kan lees.

En soos ek genoem het, die Koragiete se taak was om in die tempel diens te doen.

In die tempel was daar nie net priesters wat die offers moes bring nie, daar was nie net sangers en musikante nie.

Daar was ‘n verskeidenheid aan personeel by die tempel.

So was daar byvoorbeeld ook drumpelwagters.

Die drumpelwagters moes sorg dat net bevoegde mense op die tempelplein kom.

Dat byvoorbeeld geen heidene daar binnegekom het nie.

Om drumpelwagter te wees was moontlik die laagste werk by die tempel, soos ‘n ‘security guard’ vandag.

Maar die digter gee nie om om ‘n drumpelwagter te wees nie.

Veel liewer dit as om te woon in die tente van goddeloosheid.

Al swem die goddelose in die geld, al lewe hulle ‘n ‘jetset life’, al geniet hulle al die luukses in die lewe.

Dit is ‘n lewe sonder God, dit is ‘n lewe buite die verbond.

En dit is juis die hoogste goed, die grootste rykdom vir die digter.

Dat hy elke dag by die tempel mag wees.

Dat hy elke dag naby sy God mag wees.

Wat ‘n voorreg!

Dit gee hom ‘n blydskap wat alle ander aardse vreugdes oortref.

Dit wil hy vir geen geld mis nie.

God se woninge is vir hom lieflik.

Woninge staan in die meervoud in ons teks, so staan dit in die Hebreeus.

Tog dui dit nie op meer as een huis nie, maar op die tempelkompleks.

Dit was die enigste plek waar God op aarde onder sy volk gewoon het.

 

Daar by die tempel het die versoening plaasgevind.

Die priester mog namens God vryspraak, bevryding, vrede aankondig vir diegene wat hulle offers kom bring het.

Herstel van die lewe mog elke keer weer by die tempel begin.

Dit het die HERE aan sy kinders daar aangebied.

Die bediening van die versoening, sodat die verbond elke keer weer herstel kon word.

Ja om te mag lewe in ‘n verbond met God, dit was Israel se kosbaarste besitting.

 

Die lewe in die verbond, die lewe naby jou God, is dit vir jou ook soveel werd?

Sal jy by wyse van spreke eerder ‘n skoonmaker in die kerk wil wees, eerder die tuinier, as om ‘n lewe los van die kerk te lei?

Nou is dit nie so dat ons as gemeentelede elke dag by die kerkgebou hoef deur te bring nie.

Aan die einde van die dag gaan dit nie oor die kerkgebou nie, al het ons assosiasies met die kerkgebou, kosbare assosiasies, want hier ontmoet ons vir ons Here Jesus Christus as sy Woord klink.

Aan die einde van die dag is God in die nuwe bedeling nie meer tot een gebou beperk, soos dit in die Ou Testament met die tempel was nie.

In die Nuwe Testament is Christus daar, selfs as twee of drie in sy naam bymekaar kom, rondom sy Woord.

God se huis vandag is dus daar waar die gemeente rondom die Woord bymekaar kom.

Is dit waar jy die liefste wil wees?

Is dit jou grootste skat op aarde?

Dit is waartoe Psalm 84 jou oproep.

Want jy is ook ‘n Koragiet, jy is ook ‘n priester, jy is ook deur Christus in hierdie amp gesalf.

Ja, jy is self, soos die Nuwe Testament ons leer, ‘n tempel van die lewende God (1 Kor 3:16-17).

Is die feit dat jy ‘n tempel van die Gees is, vir jou die kosbaarste?

Dit wat vir jou die kosbaarste is, pas jy ook die beste op.

Pas jy jou status op as verbondskind, as kerklid, as eiendom van Christus, gereinig in sy bloed, opgewek tot ‘n nuwe lewe, pas jy dit die beste op in jou lewe?

Pas jy dit meer op as enigiets anders?

Ons kosbaarste besittings sluit ons toe in ‘n kluis.

Ons duurste besittings verseker ons teen diefstal, brand, ongelukke.

Dis nie vanselfsprekend dat jou besittings altyd by jou gaan bly nie.

Moet ook jou status as verbondskind nie as vanselfsprekend aanneem nie.

Die duiwel, die sondige wêreld, die goddeloses, gaan jou verlei om uit die verbond uit te stap, om jou kerklidmaatskap te verwaarloos, om selfs te oorweeg om te onttrek.

Verruil jy jou verbondstatus vir die tente van goddeloosheid?

Natuurlik gaan dit in die praktyk dikwels minder drasties.

As iemand uit die gemeente onttrek, gebeur dit maar net soms dat iemand nêrens by geen ander kerk meer aansluit nie.

Maar dikwels gebeur dit wel dat iemand kies vir ‘n kerk wat – ek sê dit in menslike terme – minder veeleisend is.

‘n Kerk wat nie sal vermaan as jy slegs met nagmaal die eredienste besoek nie, of as jy nooit die aanddienste bywoon nie.

‘n Kerk wat nie sal vermaan as jy voor die huwelik saambly, of saamslaap nie.

‘n Kerk wat nie ‘n ‘issue’ daarvan sal maak as jy deur die week ‘onsigbaar’ word as kerklidmaat nie.

Is ons dan in ‘n superkerk?

Nee, want ons ontken ten sterkste dat jy jou saligheid met geestelike aktiwiteite uit eie krag of prestasie kan verdien.

Wat wel so is, is dat ons besef hoe ryk ons in Christus is.

Hoe ‘n voorreg dit is om in die verbond te lewe.

Dat dit veel meer waardevol is, selfs om maar net ‘n drumpelwagter te wees, as om te geniet van die lewe in die tente van die goddelose.

 

(Tema: Die HERE se huis is lieflik

1 Jy ontvang dit as kosbaarste besit)

 

2 Jy word van daaruit geseën

 

Die digter gebruik nog ‘n beeld om sy punt te maak.

Iets wat selfs nog minder status het as ‘n drumpelwagter.

Die digter beny die mossies en die swaeltjies.

Rondom die tempel, by die altare, bo op ‘n pilaar, of teen die dak van die pilaargange, vind ‘n mossie en ‘n swaeltjie ‘n veilige plekkie om nes te maak.

Om eiers uit te broei, om hulle kleintjies groot te maak.

Soos wat die drumpelwagter die hele dag op sy pos staan, kan die ure soms lank duur.

Hy sien die swaeltjies wat bo die tempel sweef.

Hy sien hoe die swaeltjies afduik om in die tonneltjie van hulle nessie, sorgvuldig gebou van klei, in te kruip.

Die drumpelwagter sien hoe die mossies rondom die altaar koringkorrels oppik.

Hoe hulle wegvladder, tot by hulle nessie waar die kleintjies met oop bekkies wag.

Die tempel, die huis van die Here is hulle habitat.

Daar voel hulle tuis.

Daar vind hulle genoeg voedsel.

Daar bly hulle hulle lewe lank.

Die digter beny die mossies en die swaeltjies.

So verlang sy siel, ja smag na die voorhowe van die HERE.

Daar waar die altaar staan, daar waar vergewing van sondes aangebied word.

 

Welsalig is hulle wat woon in u huis; hulle prys U gedurig.

Hierdie vers verwys in die eerste plek na die mossies en die swaeltjies.

Hulle hoë roepgeluide is ‘n loflied tot hulle Skepper.

En dan verwys die digter ook na die priesters, die Koragiete.

Hulle hele lewe draai om die tempel.

Bedags doen hulle diens.

Snags slaap hulle in die vertrekke rondom die tempel.

Ja hulle is baie bevoorreg.

Bevoorreg veral in die oë van die gewone Israeliet, wat slegs enkele male per jaar die tempel kon besoek.

Hulle het die drumpelwagter, die swaeltjie en die mossie beny.

 

Tog was dit nie so dat die HERE net aan die tempel gebonde was nie.

Ons sing in Psalm 121: “Die HERE is jou skaduwee aan jou regterhand.” (vers 5)

“Die HERE sal jou uitgang en jou ingang bewaar” (vers 8).

Waar die Israeliet ook was, by sy huis, op sy landerye, op pad, orals mog hy weet dat sy Verbondsgod by hom was.

Wie met God deur die lewe gaan, gaan selfs van krag tot krag - vers 8.

Wie in diens van God lewe, word geseën.

Die Droë Laagte word omskep in ‘n fonteinland.

In die Hebreeus staan hier die Baka Vallei.

Die nuwe 2020-vertaling het dit so onvertaald gelaat.

Dis vandag nie meer bekend waar hierdie Baka Vallei geleë was nie.

Die bedoeling is in elk geval duidelik: In die verbond sorg die HERE vir sy kinders.

Hy sal die vroeë reëns skenk.

Hy sal die vallei oordek met seëninge, as die gewasse op die land kan groei.

 

Hierdie Psalm impliseer dieselfde as wat die profeet Esegiël in ‘n visioen sou sien.

Naamlik dat vars water uit die tempel gestroom het, rigting die dor en onvrugbare laagtes van die Doë See.

En hoe hierdie vars rivier ‘n oorvloed van lewe gebring het, ja selfs die sout Dooie See gesond gemaak het, sodat dit wemel van visse.

Vanuit die tempel seën die HERE.

Die goeie lewe begin vanuit die huis van die HERE.

Soos ons in vers 6 lees: “Welsalig is die mens wie se sterkte in U is, in wie se hart die gebaande weë is.”

 

Hierdie is vandag nog nie anders nie.

Broer, suster, dit is op sig al ‘n seën as jy dit besef.

En dit is een van die belangrikste doelstellings in die verbondsonderrig van ons jeug.

Dat hulle hulle kerklidmaatskap nie as ‘n straf, nie as net ‘n tradisie beskou nie, maar as ‘n geweldige voorreg.

Ons lewe in ‘n land waar ons aan alle kante kan sien watter lewe hulle lei wat nie in die verbond is nie.

En dan bedoel ek nie net die armes wat op die strate loop en bedel, wat in die spiraal teregkom van diefstal, drank, dwelms en prostitusie nie.

Hulle beslis ook.

Maar ek bedoel ook die welvarende mense, wat in die gegoede woonbuurte bly, maar wat van die HERE se gebaande weë afgewyk het, wat as gevolg daarvan ook geteister word met gebroke huwelike, gebroke gesinne, ‘n gevoel van leegheid in hulle bestaan, al het hulle genoeg.

Die lewe in die verbond, as kerklid, in diens van ons Hoof Christus, sorg dat jou lewe sin maak.

Dit sorg dat jy geen honger hoef te ly nie, dit sorg dat jy geen eensaamheid hoef te ken nie, dit sorg dat jy met ‘n doel lewe.

 

Die Psalm sluit af met die woorde: “HERE van die leërskare, welgeluksalig is die mens wat op U vertrou!” (vers 13)

Dit vat dit in ‘n neutedop saam.

Op die HERE vertrou is nie net ‘n teoretiese, abstrakte saak nie.

Dit maak mens gelukkig.

‘n Geluk wat aardse geluk nie uitsluit nie, dit bring juis geluk op aarde.

Maar dit is ook ‘n geluk wat nog meer is as aardse geluk.

In Christus is ons die gelukkigste van alle mense.

Want ons het begin met ‘n ewige lewe wat nooit sal ophou nie, en wat net mooier en mooier in die toekoms gaan word.

‘n Lewe wat volmaak gaan word op ‘n herskape aarde.

Dit is ‘n toekomstige lewe wat ons gaan deel met die drumpelwagters uit die Ou Testament.

Ons gaan hulle op die nuwe aarde ontmoet.

Daar gaan nie meer ‘n tempel wees nie, maar die HERE gaan persoonlik in ons midde wees.

Ons gaan hierdie toekomstige lewe deel met die mossies en die swaeltjies.

‘n Tempel gaan daar nie meer wees om hulle nessies te bou nie, maar die hele aarde sal vol wees van die heerlikheid van die HERE.

Die paradys met al sy ryke verskeidenheid aan dierelewe en plantegroei sal herstel word, sal selfs nog mooier wees.

Ons sal herstel wees in ons posisie as rentmeesters van die aarde.

In Christus is ons selfs al vandag herstel as rentmeesters.

Ons beywer ons vandag al vir die herstel van hierdie gebroke aarde, sowel fisies as geestelik.

Ons word gevoed deur die lewende rivier wat uit God se huis uitstroom.

Daar waar ons ons taak vervul op aarde, as rentmeesters, word die aarde weer ‘n fonteinland.

Ons lewe nie met ‘n doemvooruitsig nie, maar met hoop.

As Christus môre terugkom, plant ons vandag nog ‘n boom, om ‘n bekende spreuk uit die kerkgeskiedenis aan te haal.

 

God se woning is lieflik ...

Dit is waarmee die Psalm begin.

Dit geld ook vir God se woning in die Nuwe Testament, die kerk.

In hierdie preek is daar inderdaad lieflike dinge oor God se woning gesê.

 

(Tema: Die HERE se huis is lieflik

1 Jy ontvang dit as kosbaarste besit

2 Jy word van daaruit geseën)

 

3 Jy is ‘n medebouer daaraan

 

Nou mag u miskien dink: Ja, maar die kerk is nie net lieflik nie.

En ook die tempel was nie altyd lieflik nie.

Daar was tye toe God sy tempel verlaat het.

Daar was tye toe die Here Jesus rowers van die tempelplein moes afjaag.

Ook in die kerk gebeur daar dinge wat verre van lieflik is.

In die kerk is daar mense wat nie lieflike, maar juis baie lelike dinge teen mekaar sê of doen.

In die kerk is daar mense met ‘n houding wat net as negatief bestempel kan word.

In die kerk gebeur dit soms dat ‘n mens baie diep gekwets word.

Hoe kan die kerk dan nog ‘n lieflike plek wees?

Dalk is daar mense in ons gemeente wat nie uitsien nie, maar opsien daarteen om Sondag na die kerk te kom.

Dit is natuurlik nie iets wat so mag bly nie.

Dit moet uitgepraat word.

Terselfdertyd is dit nie verwonderlik dat dinge in die kerk nog nie volmaak is nie.

Toe Salomo besig was om die tempel te bou, toe dit nog ‘n bouterrein was, was alles ook nog nie mooi nie.

Hier en daar het die toekomstige glorie al begin sigbaar word, maar nog nie orals nie.

In die Nuwe Testament lees ons dat die kerk ook ‘n bouprojek is wat nog aan die gang is.

Julle word ook saam opgebou tot ‘n woning van God in die Gees – Efesiërs 2:22.

En 1 Petrus 2:5: “laat julle ook soos lewende stene opbou, tot ‘n geestelike huis, ‘n heilige priesterdom, om geestelike offers te bring wat aan God welgevallig is deur Jesus Christus.”

Aan die een kant sien ons al hoe mooi die kerk gaan word.

Die hoeksteen is al gelê, dit is Jesus Christus.

En pragtige mure, pilare, deure, selfs versierings is al sigbaar.

Maar daar is ook nog baie wat onvoltooid is.

Soms gebeur dit dat die satan ‘n deel van die bouwerk omgooi, waarna dit opnuut opgebou moet word.

So laat ons dit onthou, veral in tye wat ons – soos sommige dit omskryf – ly aan die kerk.

Ons is nie net in die kerk as kliënte, as konsumente nie.

Ons self is medebouers.

En soos ander se bouwerk soms van lae kwaliteit is, so geld dit ook vir ons.

Laat ons nie al te krities op ander wees, sonder om krities op onsself te wees nie.

As ouderlinge by u op huisbesoek kom, en al wat u kan doen is kla oor dinge in die kerk, kla oor almal behalwe oor uself, dan is dinge nie reg nie.

Aan die einde van die dag is ons almal arbeiders, bouers, wat deur Christus in diens geneem is, en wat deur die Heilige Gees toegerus word.

En daartoe word jy en u vandag weer opgeroep, en met die Woordbediening uit Psalm 84 weer toegerus.

As ons om ons heen kyk, sien ons nie altyd die groter prentjie nie.

As ons na die plan van die Argitek kyk, soos Christus dit in sy Woord openbaar, dan sien ons dit wel.

En dan word ons weer toegerus en dan word ons weer lus om aan te gaan met die bouwerk.

Dan kan ons weer, saam die Koragiete, en saam met die mossies en die swaeltjies, uit volle bors sing:

“Hoe lieflik is u wonings, HEER der leërskare!

Hoe begeer my siel en hunker van verlange,

om na Gods woning op te gaan en in u tempelpoort te staan,

met jubelende lofgesange.

My hart en vlees, o God, roep luid tot U wat leef, verlangend uit.”

Kom ons sing dit nou as ons amenlied.

 

Amen.

Liturgie: 

Votum: Ps 121:1

Seën

Ps 121:2,3

Wet

Ps 89:12,13

Gebed

Skriflesing: Psalm 84

Ps 27:2

Skriflesing: 1 Petrus 2:1-10

Ps 118:11

Teks: Psalm 84:2

Preek

Ps 84:1-3

Gebed

Kollekte

Ps 84:4-6

Seën