God is ‘n drie-enige God wat die mens verlos

Predikant: 
Ds Hannes Breytenbach
Gemeente: 
Pretoria
Datum: 
2021-04-11
Teks: 
NGB 8
Preek Inhoud: 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus

Die kerk se belydenis God volg die verlossing deur ons drie enige God soos wat Hy Hom in sy Woord aan ons geopenbaar het. In ons Drie-enige God, werk Vader, Seun en Heilige Gees saam om ons te verlos van sonde en ons te bring tot ewige heerlikheid. 

Die Skrif bevat reeds basiese belydenisse oor die wese van ons een enige God, so Deut 6:4: Hoor, Israel, die HERE onse God is ‘n enige HERE. Maar so ook oor God drie-enig. So is daar Matt. 28:19: Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het, waar die dopeling in die Naam van ons drie-enige God gedoop word en 2 Kor. 13:13: Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sy met julle almal! waar die Drie-enige God sy seën aan die gemeente skenk.

Reeds in die tweede eeu na die geboorte van ons Heiland het die grondvorm van die Apostoliese belydenis bekend geraak. Die HK het nou gedurende die sestiende eeu, die eeu van die Reformasie, die uitleg van hierdie belydenis in die tweede deel van die Kategismus oor wat ons oor ons verlossing deur God glo, ingedeel. Saam met die Apostoliese Geloofbelydenis het die belydenis van Nicea en die belydenis van Athanasius in die vroeë kerk totstand gekom teenoor die dwaalleer wat die drie-eenheid en die twee nature van Christus verwerp het. Hierdie belydenisse word die drie ekumeniese belydenisse of simbole genoem (simbool = kenmerk, herkenning). Hulle bely dat ons enige God die drie-enige God is. En dit is die grond van alles wat ons van die inhoud van ons geloof bely. Want alleen deur die genadewerk van ons drie-enige God kan ons verlossing smaak. Dit het veral in die inhoud van die ekumeniese belydenisse of simbole van die vroee kerk gegaan om die Drie-enige God, Vader, Seun en Heilige Gees en oor die Persoon van Christus, sy goddelike en sy menslike natuur en hulle samehang. Christus se verlossingswerk is eenvoudig deur hierin deur die kerk aanvaar en bely.

Die samehang van die Persoon en werk van Christus, en van die ander twee persone in die goddelike drie-eenheid  is van so ‘n aard, dat dit onmoontlik is om ‘n besondere persoon in die goddelike drie-eenheid te bely, indien dit nie van direkte betekenis is vir die wyse waarop sy werk verstaan moet word nie. En andersom, hoe die persoon se aandeel in die verlossingswerk van God gesien word in samehang met die werk van die ander persone in die drie-enige God is net so deurslaggewend vir die manier waarop hierdie persoon bely word. Die leer aangaande elke persoon het alles te make met die leer van die verlossing deur die drie-enige God. En met die leer oor die wese van die drieenige God.

Uit hierdie drie vroegste belydenisse of ekumeniese simbole is dit duidelik dat wat bely word, alles met ons verlossing te maak het:

Eerstens: Dit is alleen God wat ons kan red. Die verlosser van die mense moet God wees. Die drie-enige God.

Tweedens: Die verlossing kom in die menslike bestaan of menslike natuur totstand. ‘n Verlosser wat egte mens is kan ‘n egte verlossing vir die mensheid bewerk. Sonder die Persoon van Jesus Christus kan dit nie wees nie, maar sonder die meewerking van die ander Persone in die goddelike drie-eenheid kan dit nie wees nie.

Derdens: Die hele mensheid word as ‘n eenheid in een Hoof gesien, wat vir die hele menslike geslag betekenis het, die hele menslike geslag word betrek.

Gemeente, die belydenis van die drie-enige God in Sondag 8 word dus tereg ingedeel onder die tweede deel van die Kategismus: die verlossing van die mens, dit is Sondae 5-31. Dit is belangrik dat ons die benadering van die Kategismus reg verstaan. Sondag 8 is nie ‘n poging om die wese van God asof ‘n voorwerp op ‘n afstand, of op ‘n filosofiese manier te beskryf nie.Sondag 8 gee nie antwoord op die moderne mens se vrae: Wat is God? Of waar is God? Nie. Om te filosofeer oor die een God wat drie Persone is nie. Nee, as ons maar na die Skrif luister en die stem van God hoor, soos ons by Jesus se doop gehoor het, Mat 3:16,17:  En nadat Jesus gedoop was, het Hy dadelik uit die water opgeklim, en meteens gaan die hemele vir Hom oop, en Hy sien die Gees van God soos ‘n duif neerdaal en op Hom kom.  En daar kom ‘n stem uit die hemele wat sê: Dit is my geliefde Seun in wie Ek ‘n welbehae het.

Daarom vra ons hoe God is, hoe is God ten opsigte van ons. Die Kategismus antwoord die vraag: Hoe is God?, in Sondag 8. Nie uit die hoogte nie, maar nederig. Daarom is ons houding by die bespreking van Sondag 8 in afhanklikheid van God maar tog met sekerheid, want God is die God van ons heil, soos die gebed van Psalm 27:7,8,9: Hoor, o HERE, ek roep luid; en wees my genadig en antwoord my. Van U sê my hart: Soek my aangesig! Ek soek u aangesig, o HERE!  Verberg u aangesig nie vir my nie, wys u kneg nie af in toorn nie: U was my hulp! Verstoot en verlaat my nie, o God van my heil! 

Die punt waarom dit gaan is ons belydenis van ons drie-enige God, soos Hy Hom in die eenheid van sy persoon en werk in die Heilige Skrif openbaar en soos ons in die Apostoliese Geloofbelydenis bely. Dit beteken dus soos Hy Homself openbaar teen die agtergrond van sy liefde, omdat Hy God van ons heil is, dit is God wat die in sondegevalle mens verlos. Die verlossing deur God bestaan daarin dat die Vader wat ons geskep het, deur die Seun ons verlos, en dat Vader en Seun deur die Heilige Gees met die Woord dit uitwerk in ons lewe, dit is, ons heilig. 

Ons bely hoe God is. En dit help ons nie om te vra wat of wie die mens is nie, maar hoe die mens is. Die mens is so in sonde geval en doemwaardig, dat hy geregverdig moet word. God alleen kan hom regverdig. En God die Vader regverdig hom. Die regverdiging vind deur en ter wille van Jesus Christus plaas. Die Heilige Gees laat ons die boodskap van regverdiging deur Jesus Christus glo.

Wie vra na die regverdiging van die mens deur God, kom in die Skrif by die genadige God wat in die leer van die drie-eenheid die oorvloed van sy genade aan ons toon: die genade van die Vader se welbehae, die genade van die Middelaar se soenoffer, die genade van die Heilige Gees se verseëling van ons verlossing.

Hoe kan ons dan die drie-enige God ken? Daar is maar een antwoord - deur ons Here Jesus Christus. Joh. 1:18: Niemand het ooit God gesien nie; die eniggebore Seun wat in die boesem van die Vader is, dié het Hom verklaar. Matt. 3:16,17: En nadat Jesus gedoop was, het Hy dadelik uit die water opgeklim, en meteens gaan die hemele vir Hom oop, en Hy sien die Gees van God soos ‘n duif neerdaal en op Hom kom. En daar kom ‘n stem uit die hemele wat sê: Dit is my geliefde Seun in wie Ek ‘n welbehae het. 

Die enigheid en eenheid van God het ons reeds gehoor, kom helder in Deut 6:4 tot ons: Hoor, Israel, die HERE onse God is ‘n enige HERE. Dit staan direk betrek op die een enkele gebod van God se liefde. God is liefde. Die drie-enige openbaar Homself so. In die eenheid van die liefde ken ons Hom en dien ons Hom.
Deur die doop van Jesus Christus enersyds, Matt 3:16,17 en ons doop, Matt 28:19, om gedoop te wees in die Naam van God die Vader,Seun en Heilige Gees, kom die geheim van die drie-eenheid van God by ons. Die apostoliese geloofsbelydenis het klaarblyklik sy vroegste ontstaan in die doopbelydenis. En so is dit ook verdeel in drie dele: die Vader en ons skepping, die Seun en ons verlossing en die Heilige Gees en ons heiligmaking. 
Die saak van ons doop is baie konkreet en voer ons weg van enige afstandelike abstraksie. In die doop kom ons te staan voor die werklikheid van God die drie-enige wat ons in sy liefde aanneem.
Ons word getroos deur ons doop in die Naam van die drie-enige God. En deur te let op Christus en sy volle werk van versoening, wat deur sy dood en opstanding duidelik word. So is die Vader versoen, die Seun is Hoof, die Gees laat ons deel in die heil wat Christus vir ons verkry het.

In die Heilige Skrif soek ons nie maar spore van die drie-eenheid nie, maar ons vind die direkte openbaring van God. En dit is lewensbelangrik want alleen die Skrif bied die reël van ons geloof. Ons bely dit in art 8 en art 9 van die NGB.
So NGB Art 9.: Ons word op al hierdie plekke (dit is in die Heilige Skrif) baie duidelik geleer dat daar drie Persone in een, enige goddelike wese is. Al gaan hierdie leer die menslike verstand ver te bowe, glo ons dit nou tog deur die Woord terwyl ons verwag om die volle kennis en vrug daarvan in die hemel te geniet. Verder moet ons let op die besondere ampte en op die werkinge van die drie Persone met betrekking tot ons: die Vader word ons Skepper deur sy krag genoem, die Seun is ons Saligmaker en Verlosser deur sy bloed, die Heilige Gees is ons Heiligmaker deur sy inwoning in ons hart.

Gemeente, saamgevat, wat is die saak wat die kategismus in Sondag 8 behandel?:
1.    God is ‘n drie-enige God wat die mens verlos
2.    Die werk van die drie-enige God wat die mens verlos: is agtereenvolgens die werk van die Vader, die werk van die Seun, die werk van die Heilige Gees

Ons bely ons drie-enige God op grond van die openbaring van God van Homself in die Skrif. Die vroee kerk het vasgehou aan die waarheid van die verlossing deur die drie-enige God en dit bely in die Apostoliese geloofsbelydenis, en die ander ekumeniese simbole. Die Reformasie sluit hierby aan in die NGB en in die HK en belangrik: fokus op die regverdiging van die sondegevalle mens tot verlossing, deur die drie-enige God.

Die noodsaak van ons verlossing deur Christus en van die voltooiing van ons heiligmaking deur die Heilige Gees is duidelik uit die onmoontlikheid dat ons enige heil kan verwag van die mens en sy gewete. Daarom kan ons mense alleen luister na die stem van die Gees wat in ons woon, die stem van die ewige Woord en van die afwagtende Vader. 

Daarom het Christus Homself hiervoor vrywillig onder die oordeel van God oor ons sonde gestel. Hy het sy Vader aan ons bekend gemaak. Hy het nie vanuit vae herinnering nie, maar vanuit sy eenheid met sy Vader gepraat. So Joh. 17:18-26, ons Here se gebed tot sy Vader: Soos U my gestuur het in die wêreld, het Ek ook hulle in die wêreld gestuur.  En Ek heilig Myself vir hulle, sodat hulle ook in waarheid geheilig kan wees.  Maar Ek bid nie vir hulle alleen nie, maar ook vir die wat deur hulle woord in My sal glo— dat almal een mag wees net soos U, Vader, in My en Ek in U; dat hulle ook in Ons een mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het.  En Ek het hulle die heerlikheid gegee wat U My gegee het, sodat hulle een kan wees, net soos Ons een is.  Ek in hulle en U in My, sodat hulle volkome een kan wees; en dat die wêreld kan weet dat U My gestuur het, en hulle liefgehad het net soos U My liefgehad het.  Vader, Ek wil dat waar Ek is, hulle wat U My gegee het, ook saam met My sal wees, sodat hulle my heerlikheid kan aanskou wat U My gegee het, omdat U My liefgehad het voor die grondlegging van die wêreld.  Regverdige Vader, al het die wêreld U nie geken nie, tog het Ek U geken, en hulle hier het erken dat U My gestuur het.  En Ek het u Naam aan hulle bekend gemaak en sal dit bekend maak, sodat die liefde waarmee U My liefgehad het, in hulle kan wees, en Ek in hulle. 

Ons heilskennis van die Vader, Seun en Heilige Gees, is basiese evangelie kennis wat Christus ons geleer het. Die leer van die drie-eenheid van God is wat Christus noodsaaklik vir ons ag om te weet. Hy het ons geleer dat daar geen verskil is tussen Vader, Seun en Heilige Gees, in hulle volkome bereidheid om ons te verlos nie. So kom die saak van die drie-eenheid en God se verbond met die mense duidelik na vore. Daar is eenheid in die werk van God. Die een se werk is nooit ten koste van die ander nie. Daar is wel onderskeid van werk van die drie Persone in die verlossing, maar altyd in verhouding met die ander. Neem byvoorbeeld die skepping deur die Vader…Die skepping is nie die verlossing nie. Maar die skepping moet verlos word omdat dit ‘n gevalle skepping is. In die verlossing kom aan die lig, hoe God dit gemaak en bedoel het. 

Deur die werk van die Heilige Gees bely ons: die Vader verkies ons, die Seun versoen ons, deur die Gees in ons is ons lewend vir God.

Die Gees skryf in ons harte die werk van die genade. En Hy wys ons altyddeur na Christus. In Christus word die volle heil van die drie-enige God geopenbaar.

Die eenheid van ons geloof in die kerk is afhanklik van die ewige waarheid van God, dit is van die waaragtige,ewige, en drie-enige God self. En in navolging van die eenheid van God, is die eenheid van die waarheid van God, want die Heilige Gees bring met die Woord die gelowiges in die belydenis van hierdie eenheid bymekaar in die gemeenskap van die kerk.

Die belydenis van Sondag 8 vorm die fondament van ons christelike geloof. Omdat dit oor die verlossing van die gevalle mens gaan, kan geen mens wat hierdie belydenis verwerp salig word nie. Want Hy verwerp God self. Die Vader het die Seun gestuur en die Vader en die Seun het die Heilige Gees gestuur. Dit is die sending van die bewoë, barmhartige God, wat die geskiedenis lei en die geskiedenis maak. Daardeur loop die pad van die heilsgeskiedenis: van Skepper en skepping reik Hy deur na die menswording van Christus, na die kruis en na die opstanding en die hemelvaart heen tot by Pinkster en die voltooiing deur die Gees.

Die vroeë kerk het reeds bely dat ons die een God aanbid wat Homself as God drie-enig, in drie persone openbaar. Dit was destyds voldoende. Maar Rome het dit toenemend aan die pous en die konsillies oorgelaat om op grond van die gesag wat hulle hulleself toegeëien het, die lewe en bestemming van die gelowige te bepaal… Die kerk het instituut van heil geword wat die heil of saligheid aan die lede uitgedeel het. Rome het daarmee nie die belydenis van die drie-enige God deurgetrek na die regverdiging en heiliging van die sondaarmens op grond van die Woord nie, maar die regverdiging en heiliging aan die verdienste van die mens oorgelaat.

Die kerke van die reformasie het daarteenoor ‘n beroep op die gesag van die Skrif gedoen en in die reformatoriese belydenisskrifte, so in die NGB, en die HK, ‘n omvattende samevatting van die leer van verlossing gegee in hulle vashou aan en deurtrek van die ou belydenis van die drie-eenheid van God. Hulle het die waarheid wat baie kort in die Apostoliese Geloofbelydenis en die ander simbole bely is, verder omskryf en hulle teenoor Rome en die Dopers verweer. Deur die prediking van die Woord word die heil geglo, word die verlossing die gemeente se deel, is die belydenis oor die werk van die drie-enige God konkreet en lewensbeslissend.

Kyk gemeente: die verskil van die reformasie in die Heidelbergse Kategismus met Rome is veral oor die uitwerk van die derde artikel of derde onderdeel van die Apostoliese Geloofbelydenis, dit is die werk van die Heilige Gees. Die derde artikel omvat die geloof in die Heilige Gees en sy werk in die kerk, dit is die volgende: die gemeenskap van die heiliges, die vergewing van sondes, die opstanding van die vlees en die ewige lewe. 

Daar is nie verskil met Rome oor die belydenis van die Vader of die Seun nie. Maar oor die belydenis van die Heilige Gees en sy werk, en die verband van die werk van die Gees met die werk van die Vader en die Seun gaan die Reformasie die pad van die Skrif teenoor Rome.

Vir die reformasie is die kerk nie ‘n mistieke liggaam of ding wat tussen God en die mense staan en die heil aan die mense uitdeel deur middel van die ampte en die sakramente soos die roomse leer nie. Vir die reformatoriese kerke is die verlossing die werk van Christus wat die Heilige Gees in ons lewens indra en bevestig en voltooi deur die Woord aan ons te verkondig. 

Die mens moet verlos word. Hy moet geregverdig word. Hy kan nie self nie. Wat bely ons van God? God maak die sondaarmens regverdig. So die HK art. 8: God is die een wat regverdig maak. Christus is die een ter wille van wie regverdiging plaasvind. Die Heilige Gees is die een wat aan ons die boodskap van regverdiging uitdra en laat glo.

In die belydenis van die drie-eenheid en sy werk word die vraag na die genadige God beantwoord. In die leer van die drie-eenheid is die genade wat verleen word deur God voor ons: Dit is genade van die Vader se welbehae, die versoening deur die Seun, die verseeling deur die Heilige Gees. En ons word geleer hoe om God te ken: alleen deur die genade in en deur Jesus Christus. Joh. 1:18: Niemand het ooit God gesien nie; die eniggebore Seun wat in die boesem van die Vader is, dié het Hom verklaar.

Vir die reformasie was dit net so belangrik as vir die vroeg Christelike kerk om vas te hou aan die belydenis aangaande die Drie-eenheid van God en die twee nature van Christus: dat dit God self is wat in die vlees tot ons gekom het. Maar Rome het gedwaal en daarmee het ‘n proses van vergoddeliking van die mens totstand gekom wat op sy verlossing moes uitloop. Maar vir die Reformasie is dit dat God self in die Persoon van Christus, in die vlees, die vloek van die sonde van die sonde gevalle mens weggeneem het en uit genade die verlossing volledig bewerk het. So vir die reformasie, op grond van die Skrif, kan die gevalle mens in hierdie lewe deur God se beloftes (sonder ‘n besondere openbaring), dus op grond van die Skrif sekerheid van sy verlossing hê.

By Rome is dit die mens se voorneme om God te behaag, God omhaal deur goeddoen, deur offerkultus, dat Hy aan jou diepste wense voldoen. Ek gee sodat U kan gee. Dit is omdat vir rome deur gebruik te maak van die aanvangsgenade wat God aan alle mense sou skenk, is mens in staat om saam te werk met die genade wat die kerk in die sakrament uitdeel, sodat hy in ‘n proses van regverdigwording herstel kan word om weer gemeenskap met God te hê. Redding is dan op grond daarvan dat die mens deur innerlike verandering in homself heilig genoeg word om die hemelse heerlikheid waardig te wees.

Hierteenoor hou die belydenis van die Heidelbergse Kategismus Sondag 8 in dat die Gees na die sondaar kom vanuit die welbehae van die Vader en met die belofte van God aangaande die verlossing in Christus, met die heil wat vir jou bedoel is, en dit word aan jou persoonlik toegesê. Die mens ontvang die heil deur die belofte van God drie-enig te glo. Sien u: die gepredikte Woord word die eintlike heilsmiddel. Die Woord en Gees is hierin ten nouste aan mekaar verbind. Die Gees is die lewende God self wat in vryheid sy verlossingswoord tot die mens persoonlik spreek en jou hart open sodat jy dit deur die geloof ontvang. Die Gees spreek en red deur die Woord.
Die grondvraag van die reformasie is na ons persoonlike heilsekerheid en daarom bring ons belydenis van ons Drie-enige God direk vrae oor regverdiging, heiliging, sakramente en kerk, vrae oor hoedat die heil deur ons Drie-enige God bemiddel of geskenk word, en hoedat die heil deur die mense toe geëien of aangeneem word, na vore. U kan sien hoedat hierdie vrae vir die gereformeerde geloof betrekking het op die drie persone van God drie-enig en elkeen se besondere werk, en die werk van die Heilige Gees kom hier op ‘n konkrete manier na vore.

Die HK staan nou nie net teenoor rome nie, maar ook teenoor die baptistiese of doperse gedryf met die Gees asof hy losstaande van Christus sou werk, terwyl Hy tog die Gees van Christus is. Rom. 8:9: En die wat in die vlees is, kan God nie behaag nie; julle is egter nie in die vlees nie, maar in die Gees, as naamlik die Gees van God in julle woon. Maar as iemand die Gees van Christus nie het nie, dié behoort nie aan Hom nie. 

Die geesdrywers of sogenaamde Dopers het die uitwendige woord van God teenoor die inwendige lig van die Heilige Gees gestel wat in die harte sou werk. Dit is duidelik dat hulle die inwendige lig nagestreef het en nie die Woord van God in die Skrif nie. Die punt is egter nou, wanneer die Gees van die woord losgemaak word, word hy in beginsel van Christus losgemaak en van God se openbaring van die verlossing vir die mens in Christus. Die reformasie het bely dat juis die Gees dra die evangelie aan ons oor. Evangelie soos in Christus openbaar, is afgesluit en word in die kanon van die Heilige Skrif eens en vir altyd betuig. Die Gees voeg niks openbaringe toe nie maar neem uit wat aan Christus behoort en deel dit aan die gelowiges mee. Joh. 16:7-16:…. Joh 16:13,14:  Maar wanneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei; want Hy sal nie uit Homself spreek nie, maar alles wat Hy hoor, sal Hy spreek en die toekomstige dinge aan julle verkondig. Hy sal My verheerlik, omdat Hy dit sal neem uit wat aan My behoort, en aan julle verkondig. 

Verbondenheid van Gees en Woord word dus gegee met verbondenheid van die Gees en Christus. Christus is die enigste Middelaar, maar ons vind Hom in die Skrif. Die skrif is deur die Gees geinspireer. Die Gees buite die Woord om is dus ‘n verbreking van die eenheid van Christus en die Gees.

Deur die Woord red Christus die sondaarmens en skenk hom sy geregtigheid en sy heiligheid. Dit is die lewende Woord van God waardeur Hy self tot die mens spreek. Sakramente is sigbare woorde wat beteken en verseel wat in die Woord belowe word. Die Gees word bely as lewende God self wat in vryheid Homself van hierdie middels bedien om met die mens ‘n lewende verhouding te stig.

So word met die Reformasie die Heilige Gees reg bely ten opsigte van sy werk om die heil van God te bemiddel of te gaa en te werk dat ons die heil vir onsself toe eien of omhels. Hy roep die mens onweerstaanbaar tot die heil, Hy open die mens se hart vir die Woord, Hy wek die geloof in hom, Hy verbind die mens aan Christus.

Met hulle klem op die Woord maak die reformasie duidelik dat die verhouding tussen drie-enige God en mens ‘n persoonsverhouding is wat ewig bly.

Heilsbemiddeling = gee van die heil en heilstoeeiening = aanneem van die heil is verbind aan die persoonlike werk van die Heilige Gees en is kenmerk van die genade wat sy werk stempel. Dit maak duidelik dat die verlossing van begin tot einde ons drie-enige God se werk is, en alleen genade waartoe die mens uit eie krag niks kan bydra nie. In die middeleeue is daar ook oor die genade gepraat, maar dan nie oor God se vrye guns, sy daad van onverdiende goedheid (sy beloftes is die Woord) teenoor die sondaar nie, maar dan geskape genade, wat ‘n onpersoonlike krag is tussen God en mens, en in die vorm van inwendige ingestorte genade die mens se natuur verhef tot ‘n hoër staat of orde. Dit bring die natuurlike kragte van die mens, sy vrye wil, in beweging om met die genade saam te werk en genesend in te werk op die mens se sondige natuur. Die mens se verdienstelike bydrae tot sy eie verandering om God ter wille te wees word dus bevorder. 

Maar gemeente hierteenoor: vir die reformasie is verlossing van sonde en dood die herstel van ‘n verbroke verhouding. Die mens se grootste nood is sy sondeskuld voor God. Die wese van sonde is hoogmoed, selfregverdiging, weier om jouself enkel op God se genade te werp. Vandaar die vraag: Waar vind ek ‘n genadige God? Hoe is God vir my? Moenie jou vastigheid soek in jou eie ervaring nie maar soek jou vastigheid in die Woord van God, nie in jou sielsingesteldheid of jou geloof as iets wat jy van jouself het nie, maar in die werk van die drie-enige God wat ons liefhet soos in die evangelie aan ons verkondig en in ons belydenis.

Daarom in die geloof sien ons die ontvangs van God se beloftes wat Hy gee, die instemming met wat God gee, die oorgawe aan wat God doen. Geloof is nie menslike werk wat uit jouself voortkom nie, maar gawe van die Heilige Gees, alles wat Hy in ons doen kan onder geloof saamgevat word. Dit is totale afsien van onsself maar dit is ons totale gerigtheid op God en sy beloftes. Dit is die weg waarlangs die heil deel van mens word, die instrument waardeur dit ontvang word.

Die geloof is soos ons in Sondag 7 bely ‘n vaste en seker kennis van God en sy beloftes soos Hy Hom in sy Woord openbaar het. Dit dra die kenmerk van vertroue op die waarheid van hierdie kennis. Die Heilige Gees gee dit deur middel van die prediking. Hy werk dit in die mens sodat die mens homself oorgee aan die beloftes van God. Die geloof as menslike houding en daad is heeltemaal gawe van God.

Die sondaar gee so God gelyk daarin dat Hy oor ons oordeel, ons veroordeel en Christus se geregtigheid en heiligheid aan ons toereken. Christus ontvang die mens se skuld en oordeel en die mens ontvang sy geregtigheid. Dit is onmoontlik dat die geregtigheid van Christus wat aan ons toegereken is, ons laat bly soos ons is. As God ons regverdig verklaar, is ons regverdig in Christus en word ons geheilig in Christus. In ons lewe van aanvegting en stryd groei ons in die verbond van God met ons na Christus toe en is gelykvormig met Hom in sy dood en opstanding. 

Daarvoor het ons die teken en die seël van ons Drie-enige God in ons doop ontvang. En in die lewe in die verbond, deur die worsteling van die Gees met die menslike vlees deur die bediening van die Woord, word die gelowige omvorm deur Christus vir die volkome vernuwing met die voleinding.

Amen

Liturgie: 

Votum
Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde gemaak het.

Groet
Gemeente, genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue getuie, die eersgeborene uit die dode en die Owerste oor die konings van die aarde! Amen.

Lofsang: Psalm 89:1

Gebed

Skriflesing:
Johannes 16:7-16,
Johannes 17:18-26

Sing: Psalm 89: 6,7,11

HK Sondag 8, NGB art. 8

Preek

Amenlied: SB 18:1,2,3,4

Dankgebed

Belydenis: Staande Belydenis van Nicea

Sing: SB 20:6,7,8

Kollekte

Slotsang: Psalm 115:1,6

Die Here sal u seën en u behoed
die Here sal sy aangesig oor u laat skyn en u genadig wees
die Here sal sy aangesig oor u verhef en aan u vrede gee.
Sing Amen