Die bloed van die Messias is ons uitweg uit die dood.

Predikant: 
Ds DM Boersma
Gemeente: 
Pretoria
Datum: 
2021-03-07
Teks: 
Heidelbergse Kategismus, Sondag 5
Verwysing: 
2109A
Preek Inhoud: 

Inleiding:

Een (vinnige) besluit kan rampsalige en langdurige gevolge hê.
Byvoorbeeld: jy het gekuier en gedrink. Jy klim in jou motor en ry gougou huistoe. ‘Ag, dis maar ’n kort afstand…’ By ’n rooi robot hou jy nie stil nie, en jy ry ’n ander motor raak. Daardie bestuurder is in die botsing dood. Jou beslissing om dronk te bestuur het diep-ingrypende gevolge: die lewe van die ander is beëindig, die lewens van sy/haar gesinslede is permanent beskadig, en jou lewe is radikaal anders omdat jy in die tronk beland.

Die sonde van Adam en Eva is miljoene keer ingrypender. Die hele menselike ras het deur een beslissing alles verloor. Die wêreld het permanent verander, en die gevolge is vandag, duisende jare later, steeds merkbaar. Ons almal ly onder die gevolge.

Die straf is selfs swaarder as wat ons kan verstaan. Dis ’n ewige verlatenheid van God, oneindige duisternis en pyniging. Al die dinge wat vandag die lewe nog mooi maak of in tye van swaarkry vir ons hoop gee, sal dan verdwyn.

Is daar ’n pad uit? Kan ons ontsnap?
Dis die vraag wat jy vra wanneer die polisie jou van die pad af trek omdat jy te vinnig gery het. As dit binne sekere limiete is, kan jy ’n boete betaal en jy word nie verder vervolg nie.
Maar as jy dronk bestuur het en iemand doodgery het, kan jy dan nog ontsnap? Nee, om ’n boete te betaal is nie genoeg nie. Jy sal moet tronk toe gaan. 5 of 10 jaar dalk.
Kan iemand in jou plek in die tronk gaan sit, sodat jy met jou lewe kan aangaan, en as jy ’n gesin het, vir jou gesin kan sorg? Nee. Probeer maar so iemand vind. Maar die magistraat sal dit nie eers toelaat nie.

Hierdie vraag word dringender, is van lewensbelang, wanneer ons oor ewige straf praat. Hoe kan ek ontsnap? Jy kan nie soos die Guptas die land verlaat om straf vry te spring nie.
Wie kan my red?
Daardie vraag is vir ons ’n saak van lewe of dood!

Tema:    Die bloed van die Messias is ons uitweg uit die dood.
1 -    ’n Liggie in die duisternis
2 -    Versoening

1    ’n Liggie in die duisternis.

1.1    Genade?

Die woord ‘genade’ kan sy waarde verloor soos ’n munteenheid skielik kan val. Wie onthou nog die Zimbabwiese Dollar, wat op die einde banknote gehad het van miljoene en triljoene dollars. Maar jy kon nie eers ’n brood daarvoor koop nie. Dit was niks meer werd nie.

So kan die woorde genade en vergewing slytasie ondervind, omdat mense dit agteloos gebruik of dit so baie gehoor het dat hulle daaraan gewoond geraak het.
’n Sendeling in Kongo het vir iemand die evangelie gebring en probeer om hom van sy sonde te oortuig. Toe sê die man vir hom: ‘Ag, dis mos nie ’n probleem nie. God sal al die dinge wat ek verkeerd gedoen het, vergeef. C’est son métier.’ – dis God se job. Natuurlik vergeef hy!

So het ek ook mense ontmoet vir wie die begrip sonde nie ’n probleem was nie. Ek probeer verduidelik dat hulle geloof in Jesus nodig het. Daarvoor is dit nodig dat hulle hom leer ken. En hulle sê eenvoudig: ‘Dis mos nie ’n probleem nie. God sal vergeef as ek bid.’

Die woorde ‘God vergeef as jy bid’ het die waarde van die Zimbabwiese dollar as daar nie geloof en bekering is nie. 
Vir bekering is sondebesef nodig. Dit beteken dat jy jou sonde nie wegpraat asof dit net ’n foutjie is nie. Nee, dit beteken dat jy die erns van jou sonde besef: dit is ’n verwerping van God self, ’n aantasting van sy majesteit, ’n belediging van die allerhoogste God.

1.2    Uitweg?

Sondag 4 leer vir ons: ons is skuldig. En ons sondes is só ernstig, dat ons ’n ewige straf verdien het.

Ons gaan in gedagte terug na die paradys. Adam en Eva het Gods bevel oortree. God het saam met die gebod ook die straf aangekondig: 
“die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie; want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe.” (2,17)

Tydens ’n hofsaak is dit dan klip en klaar: die beskuldigde het die misdaad gepleeg, en die bewyse is beskikbaar. Die regtig spreek uit: skuldig! Hy swaai die hamer: die saak is afgehandel! Volgende saak.
Die misdadiger is skuldig bevind en daar gaan nou ’n strafoplegging plaasvind.

Na die eerste sonde roep God Adam en Eva tot verantwoording. Hy lê die strawwe vir hulle op.
Die strawwe wys dat die dood die hele lewe op aarde begin aanvreet: die vervloeking sal merkbaar wees by die eerste begin vd lewe (geboorte), tot die einde, en tussenin: in die daaglikse stryd om te oorleef. Die geboorte van kinders sal met pyn en moeite gebeur; daaglikse kos sal hulle net deur harde werk en sweet ontvang, en tenslotte sal hulle liggame terugkeer na die aarde: die stof waaruit God die mens gemaak het. (Gen 3,17-19)
Die dood begin groewe trek in die aarde en die geskiedenis.

Maar wag. 
In die duisternis wat ontstaan het deur die eerste sonde, ontsteek God ’n klein liggie: genade!
Dit is weggesteek in die straf wat God vir die slang (die duiwel) oplê:
“Jy is vervloek” (…). “En ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hý sal jou die kop vermorsel, en jý sal hom in die hakskeen byt.”
God praat van ‘saad’: nageslag. Dit is die eerste keer in Genesis dat ons hoor dat hulle kinders sal kry. Die mensheid gaan nie ophou wanneer Adam en Eva sterf nie.
Maar watter doel dien dit dan om kinders voort te bring as dit net ellende gaan wees, hulle gaan ook ’n moeitevolle bestaan op aarde hê, en almal sal eendag sterwe?

Die belofte aan die slang is die klein liggie in die duisternis. ’n Liggie van hoop! Eendag sal iemand uit die nageslag van Eva die mag van die slang vernietig.
Mens sou nie dink dat jy opgewonde kan raak oor daardie hoofstuk met vervloekings en straf nie…!

Gen 3 en die vervolg van die genadegeskiedenis gee vir die verlore mense hoop.
Dis hoekom vraag 12 in die Kategismus gevra kan word:
‘Aangesien ons volgens die regverdige oordeel van God die tydelike en ewige straf verdien het, hoe kan ons van hierdie straf bevry en weer in genade aangeneem word?’
Dit is nie ’n abstrakte of filosofiese vraag nie. Dit kom regstreeks uit die Bybel. God het die mense hoop gegee, en daarom begin ons die vraag vra: is daar bevryding? Ons straf is regverdig, ons verdien niks anders nie, maar is daar ’n pad uit?

En ja, daar is!
Gaan lees maar in die Bybel, en verbaas jou!

Na Genesis 3 bied Gen 4 geen hoop nie: haat en moord en nog geweld. Die sonde wys die dood in sy ware gedaante. Die geweld neem sodanig toe dat God besluit om al die mense dood te maak.
Maar hy red 8 siele. Genade!
Daarna roep hy Abram. Nuwe beloftes volg. Die lig begin ’n bietjie helderder skyn. Die pad van verlossing teken duideliker af in die duister.
Israel word uit Egipte gered: Genade! Toekoms! Lewe!
In die woestynreis blyk die volk nie veelbelowend nie. Hulle harte word duidelik in die herhaalde opstand en ontrou. Maar God wys meer van sy genade: water uit die rots, voedsel uit die lug en op die grond. 
Dan voeg hy die offerdiens in die tabernakel daarby.
Dit is nie net ’n afbeelding van hoe God die straf van sondaars wegneem nie.

2    Versoening

Dit is ook ’n teken dat God by sondaars wil woon.
Hy neem nl nie net die sonde weg nie en los Israel dan op hul eie in Egipte of in die woestyn nie.
Nee, hy neem hulle aan as sy kosbare eiendom, sy eie volk, ’n koninklike priesterskap. Hy bou ’n verhouding met hulle. Hy kom woon in hul midde. Daarvan is die tabernakel met die wolk van die heerlikheid van God die sigbare teken. 
Hierdie verhouding gaan aan in die beloofde land: God woon temidde van sy volk. Later skryf Paulus dat God mense uit ander volke ook toevoeg aan sy huisgesin: Die heidene is nie meer vreemdelinge, mense sonder burgerregte nie, maar “julle is medeburgers van die heiliges en huisgenote van God.”

2.1    Offers: versoening deur plaasvervanging

Dit het baie betekenis dat God nie ’n groot toring of ’n huis met vensters en gordyne in die midde van Israel geplaas het nie.
Sy woonplek was ’n offerplek. Dit was heel duidelik dat sondaars nie sommer na God toe kon gaan nie. Elke dag is daar diere doodgemaak en op ’n altaar verbrand. Daar was was steeds weer offers nodig.

Dit is presies wat Sondag 5 vir ons wil verduidelik.
God laat sondaars lewe en neem hulle aan; hulle mag selfs by hom woon.
Maar dit is net moontlik as daar met bloed versoening gedoen word.

Levitikus 4,1-12 wys heel mooi die twee dinge:
(1) Hoor jy die genade en die geduld van God?
“As iemand in swakheid sondig teen een van alle gebooie van die Here en een van die dinge wat nie gedoen mag word nie, tog doen, …”
En dan volg ’n komplekse prosedure wat nodig was om vergewing te kry. 
Hulle moet hul hande op die kop van die bul lê om simbolies die sondes van die volk op die dier oor te bring, en vervolgens is die bul geslag.
(2) Is daar ’n duideliker simbool dat hulle sondes die dood verdien het?
… en dat hulle tog nie self hoef te sterf nie?
Die bloed van die bul is vervolgens 7 keer voor die gordyn voor die ark gesprenkel. Dit was ook ’n simboliese handeling, dat die dood van die dier in die plek van die sondaars die verhouding met God herstel het.

Hierdie proses word ‘plaasvervangende versoening’ genoem.

2.2    Geen ander skepsel kan betaal nie

Antwoord 14: “God wil aan geen ander skepsel die skuld straf wat die mens gemaak het nie.”

Maar daar word tog diere geslag en húlle bloed word uitgegiet om versoening te kry?
Ons het ’n pragtige uitleg daarvan gekry in Hebr 10. Neem vanaand tyd om dit aandagtig te lees. Jy sal sien dat dit jou help om te verstaan dat die offers van diere onvoldoende was, en dat ons Jesus nodig gehad het.

Romeine 3 (minder bekend) sê dieselfde:
(vs. 9-20 sien jy terug in Sondag 4: almal is skuldig)
Vs. 21-26 is die moeite werd om uit jou kop uit te leer:
MAAR nou is die geregtigheid van God geopenbaar sonder die wet, terwyl die wet en die profete daarvan getuig, die geregtigheid naamlik van God deur die geloof in Jesus Christus vir almal en oor almal wat glo, want daar is geen onderskeid nie;
(23) want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God, (24) en hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is.
(25) Hom het God voorgestel in sy bloed as ’n versoening deur die geloof, om sy geregtigheid te bewys deurdat Hy die sondes ongestraf laat bly het wat tevore gedoen is onder die verdraagsaamheid van God – (26) om sy geregtigheid te toon in die teenwoordige tyd, sodat Hy self regverdig kan wees en regverdig maak wie uit die geloof in Jesus is.

God kanselleer nie sy geregtigheid wanneer hy sondaars regverdig en nie met die ewige dood straf nie.
V. 25 wys vir ons dat diere inderdaad nie gestraf kon word in die plek van die mense nie: God het “die sondes ongestraf laat bly” in die Ou Testament.
Maar God het die hele offerdiens gegee om Israel en ons die beelde te gee om die versoening te verstaan: ’n ander neem ons sondes oor en dra ons straf. Hy word in ons plek doodgemaak.

“WANT die wet, wat ’n skaduwee het van die toekomstige weldade, nie die beeld self van die dinge nie, kan nooit deur dieselfde offers wat jaar na jaar gedurig gebring word, die wat toetree, tot volmaaktheid lei nie.” (Hebr10,1)
“Maar in dié offers is daar jaar na jaar ’n herinnering aan die sondes; (Hebr 10, 3)
Hebr 10 spel dit vir ons uit: die diereoffers kon nie die sondes wegneem nie. Dit was maar net ’n skaduwee van die realiteit van die offer van Christus. Dit was duidelik deur die eindelose herhaling van die offers, dag in dag uit, eeu in, eeu uit.

Eindeloos…! 
O nee, tog nie: hulle is beëindig toe Jesus die finale, werklike offer van sy liggaam en bloed gebring het!

In die Ou Testament het God solank die sondes vergewe, terwyl die mense en diere nie daarvoor kon betaal nie. God was geduldig en het sy regverdige oordeel uitgestel totdat dit op Jesus neergekom het.

By die nagmaal hoor ons dit ook in die onderrig in die formulier terug:
“want God se toorn teen die sonde is so groot dat Hy - eerder as om dit ongestraf te laat bly - sy geliefde Seun Jesus Christus met die bittere en smadelike kruisdood gestraf het.”

2.3    Die lydende kneg

Die wet en die profete getuig van die enigste offer van Jesus, wat plaasvervangend en finaal was.
Die Ou Testament dui reeds aan dat die offers nie genoeg was nie:
-    Die offers moes steeds weer gebring word.
-    En die profesie van Jesaja 53: 
“Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom. 
Ons almal het gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop; maar die HERE het die ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom.” (Jes 53:5–6) 

2.4    Jou reaksie?

Hoe moet ons hierop reageer?
Kan dit ons harte koud laat?

In die eerste plek is dit nie ’n filosofiese redenering of wiskundige som nie: 
‘Uhm, hoe kan ons die straf ontgaan? Wie kan ons plek inneem? Diere? Ag nee, tog nie. Ander mense? Nee, hulle is sondaars nes ons. Wie dan?? Aha, Jesus!’
Ons leer hierdie Sondag uit ons kop uit, en kinders leer dit vandag steeds.

Maar dis nodig om bewus te wees van die gevaar dat ons ons daaraan gewoond raak omdat ons hierdie dinge so dikwels hoor en uit ons kop uit geleer het. Dan raak ons nie meer daaroor verwonder nie. Dit laat ons harte koud. (veral as jy die idee het ‘ag, die vergewing is tog klaar afgehandel. Ek hoef nie meer daaroor bekommerd te wees nie.’)

Om dinge te memoriseer is goed. Maar om dit in sy diepte te verstaan is beter. En om dit steeds weer opnuut met verwagting en verwondering te lees en daaroor te dink is vir ons absoluut noodsaaklik.

Heel eerste is dit vir ons belangrik dat ons die oproep hoor wat altyd saamkom met die prediking van die genade: jy en ek word deur God geroep tot bekering en geloof.
Kyk in die spieël en sien jou verlorenheid en gebrokenheid.
Erken dit voor God. En bekeer jou van elke pad, houding, gewoonte, denkwyse wat God uitwys as sonde.
Hardloop na Christus toe en aanvaar hom in geloof.

Onthou dat hierdie nie ’n eenmalige ding is nie.
Dis ook hoekom Jesus vir ons die nagmaal gegee het. Ons moet dit reëlmatig vier, tot sy gedagtenis. 
Besef jou skuld, waarvoor Jesus gesterf het. 
Bely jou onmag en skuld, en God smeek om ons sondes te vergeef. 
Wees bly met sy genade. Aanvaar in geloof die sekerheid van jou verlossing, wat veranker is in die eenmalige offer van Jesus.
Omhels Christus as jou enigste redder.

Daarom is dit vir ons nodig om die rykdom van God se genade te bewaak. Lees gereëld daaroor in die Bybel. Mediteer oor alles wat Jesus vir ons gedoen het om ons te red.
Dan leer ons om die diepte van ons skuld én die rykdom van sy genade te verstaan. Dan kan ons inflasie van ons die woorde genade en vergewing voorkom.

Ons verwondering oor die genade van God sal wys in die manier waarop ons daaroor praat: met God, in ons gebed; met mekaar, in ons gesprekke; en ook in ons liedere: wie vol is van Christus, sal hom prys met Psalms en nuwe liedere!

Laat ons daarom op die leer van die versoening antwoord met lofprysing.

Amen

Liturgie: 

Sing: Psalm 65:2

Sing: Psalm 40:3-5

Sing: Skrifberyming 8:1.2.4.5;

Nagmaal
Sing: Psalm 51:5.8;
Sing: Skrifberyming 9:4-5

Skriflesings:
Genesis 3:6-19;
Levitikus 4:1-21;
Romeine 3:21-26

Preek: Sondag 5