Uit Sion seën die HERE vir die wat in sy weë wandel

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2021-03-28
Teks: 
Psalm
Preek Inhoud: 

Psalm 128 word dikwels by ‘n doopbediening gesing, en dan veral as dit nie die eerste kind is nie, maar die tweede of derde of vierde of vyfde, hoeveel ook al.

“Soos jong olyfboomplante, wat uitspruit sterk en fris,

so bloei aan alle kant jou kinders om jou dis” (Ps 128:3 ber.)

Psalm 128 straal die geluk uit van hulle wat die HERE vrees, geluk wat hulle ook hier op aarde beleef.

Om met genoegdoening die opbrings van jou handearbeid te geniet.

Om jou te verheug in jou vrou of man, dankbaar te wees vir die lewensmaat wat die HERE jou gegee het.

Om jou te verwonder oor jou kinders, soos hulle rondom jou tafel sit.

Hierdie dinge is sekerlik ‘n ongekende seën.

Dit is dinge wat die lewe glans gee en die moeite werd maak.

Dit is waaroor Psalm 128 sing.

Maar nie net dit nie.

Kom ons kyk vandag na wat hierdie pragtige lied vir ons wil leer.

 

Tema: Uit Sion seën die HERE vir die wat in sy weë wandel

1 Hy seën die vrugte van jou handearbeid

2 Hy seën jou huwelik en gesin

3 Hy seën jou vanuit Sion

 

 

1 Hy seën die vrugte van jou handearbeid

Hierdie psalm bestaan hoofsaaklik uit drie dele.

Eerstens word die geluk besing van ‘n lewe waarin die Here gevrees word en sy weë bewandel word.

Hierdie psalm herinner aan die heel eerste psalm:

Welgeluksalig is die man wat nie wandel in die raad van die goddelose nie, maar sy behae is in die wet van die HERE, en hy oordink sy wet dag en nag (Ps. 1:1-2).

 

Die eerste vers van Psalm 128 vorm ‘n parallelisme.

Die eerste en tweede deel van die sin is sinonieme, wat mekaar aanvul.

Elkeen wat die HERE vrees is welgeluksalig.

En om die HERE te vrees, beteken om te wandel in sy weë.

Weë, paaie, is sinoniem vir baie ander woorde wat ons in die Bybel vind om die HERE se gebooie te beskryf:

Getuienisse, verordeninge, bepalings, insettinge, wette, noem maar op.

God se wil soos Hy dit aan Moses geopenbaar het in die Torah.

Ons het ‘n pragtige hoofstuk gelees aan die einde van die Torah, oor die HERE se seën en vloek.

Die kort samevatting van God se wil vind ons in die tien gebooie.

Die breër uitwerking daarvan vind ons in die res van die Pentateug.

Hierdie wette het God aan sy volk gegee, nie om hulle in ‘n keurslyf te dwing nie.

Dit was bedoel om, nadat Hy sy volk uit Egipte bevry het, hulle by hierdie vryheid te bewaar.

Uit sy gebooie is duidelik dat dit nie net oor ‘n liggaamlike vryheid gaan nie, maar ook om geestelik vry te wees.

God se insettinge handel oor die persoonlike lewe, die gesamentlike lewe in die huwelik, gesin, samelewing, die politieke en juridiese aspekte van die samelewing, ook oor die erediens aan Hom by die tempel, noem maar op.

Al hierdie dinge word bedoel as Psalm 128 skryf: Welgeluksalig is elkeen wat die HERE vrees en in sy weë wandel.

 

Hierdie stelling het nie net vir Israel gegeld nie, dit geld vandag nog net so veel.

God se weë het dieselfde gebly.

In die Nuwe Testament is die eerste Christene die mense van die Weg genoem (Hand. 9:2; 19:9; 24:22).

Ook dit het op God se wil in sy Woord gedui.

Nog steeds is God se wil in sy Woord bedoel om ons by die vryheid te bewaar.

Die vryheid wat ons in Christus ontvang het.

 

Hierdie vryheid is nie net ‘n abstrakte begrip nie.

Dit maak die psalm vervolgens duidelik.

Nou raak die digter prakties.

Nou spreek hy die persoon wat sy gedig lees, direk aan.

As jy in die HERE se weë wandel, sal jy sekerlik die opbrings van jou hande eet.

Wat ‘n belofte!

Maar die HERE gee hierdie versekering inderdaad.

Net soos ons in byvoorbeeld Psalm 37 hoor: “Ek was jonk, ook het ek oud geword, maar nooit het ek die regverdige verlate gesien, of dat sy nageslag brood soek nie.” (vers 25)

En in Psalm 34: “Die jong leeus ly armoede en het honger; maar die wat die HERE soek, het geen gebrek aan enigiets nie.” (vers 11)
Nie dat Psalm 128, 34 en 37 ‘n welvaartsevangelie propageer nie.

In dieselfde Psalm 37 lees ons: “‘n Klein bietjie is vir die regverdige beter as die rykdom van baie goddeloses” (vers 16).

Psalm 128 belowe nie ongekende rykdom aan wie op die HERE se weë bly nie.

Wel dat hy die opbrings van sy hande sekerlik sal eet.

Ons hoor in hierdie opmerking dat God vir sy kinders sal sorg.

Toe Israel afvallig van die HERE geword het in die Rigtertyd, het die Midianiete gekom en hulle oeste gestroop en hulle vee gesteel.

“En Israel het deur die Midianiete baie arm geword” staan daar in Rigters 6:6.

Maar toe hulle na die HERE terugkeer en Hom aanroep, het Hy Gideon in staat gestel om die Midianiete te verslaan.

Die HERE beloof op aarde aan sy kinders dus nie rykdom nie, maar verseker dat hulle en hulle nageslag nie om brood sal bedel nie.

Hulle sal die opbrings van hulle hande eet.

Natuurlik gebeur daar soms erge dinge, ook met gelowiges.

Dit kan gebeur dat ’n gelowige gestremd raak, sodat hy nie kan werk en sy gesin kan onderhou nie.

Maar soos ons uit Psalm 37 gehoor het: “nooit het ek die regverdige verlate gesien”.

Dit is naamlik ook onderdeel van God se weë, sy insettinge, dat sy volk vir mekaar sorg, dat medegelowiges mekaar nie aan hulle lot oorlaat nie.

So het dit in oud Israel gebeur.

Die weduwee en wees hoef nie om brood gebedel het nie.

Deur sy wette het God voorsien.

Dink aan die geskiedenis van Rut en Boas.

Net so het dit in die eerste gemeente gebeur, waar die gelowiges hulle besittings met mekaar gedeel het, sodat niemand gebrek hoef te gely het nie.

Net so gebeur dit vandag nog steeds.

Ook vandag nog is Christus se gemeente ’n diakonale gemeente.

Psalm 128 se belofte geld dus nog steeds.

Die lewe in die verbond, die lewe in die paaie van die HERE verseker dat jy gelukkig sal wees en dat dit met jou goed sal gaan!

Wat ‘n belofte!

Wat ‘n versekering, wat ‘n gerusstelling, wat ‘n voorreg om in die verbond te mag lewe!

 

(Tema: Uit Sion seën die HERE vir die wat in sy weë wandel

1 Hy seën die vrugte van jou handearbeid)

 

2 Hy seën jou huwelik en gesin

In die tweede deel van die psalm besing die digter nog steeds die geluk van elkeen wat in God se weë wandel.

Nou verskuif die aandag egter na die gesinslewe.

Jou vrou word met ‘n vrugbare wingerdstok vergelyk.

‘n Welige wingerdstok met talle swaar druiwetrosse was in oud Israel ‘n simbool van ‘n geslaagde oesjaar, ‘n simbool van geluk.

Goeie druiwe beteken goeie wyn, wat daardie bietjie ekstra vreugde bring op feesdae.

Verder ook ‘n gesinslewe met nie net een of twee kinders nie, maar rondom jou tafel is daar olyfboompies.

Baie olyfboompies maak ‘n boer ook ryk, sorg dat hy genoeg olie het om sy lampe brandende te hou.

Ja ‘n groot gesin verhoog die geluk.

Wie in die HERE se weë wandel, sal ‘n gelukkige en geseënde huweliks- en gesinslewe ervaar.

Wie deur die Pentateug lees, sal baie bepalings oor die huwelik en gesinslewe vind.

Wie op die pad van daardie bepalings bly, sê Psalm 128, kry ‘n gesonde huwelik en gesin.

En weer eens, gemeente, hierdie was nie net waar in oud Israel nie, dit is vandag nog net so waar.

Hoeveel ongelukkige gesinne, gebroke gesinne, enkelouergesinne, vind ons nie vandag nie.

Dit alles die gevolg van die feit dat mense afwyk van die HERE se weë.

Hoeveel huwelike is daar nie wat op die roste loop nie.

Weer eens omdat daar nie erns gemaak word met die HERE se wil nie.

Laat dit duidelik wees, om in die HERE se weë te wandel is nie altyd maklik nie.

Sy weg is nie altyd ‘n breë snelweg nie, dit is soms ‘n smal paadjie.

‘n Gesonde huwelik is daar waar daar steeds aan die huwelik gewerk word.

Daar waar paartjies bereid is om mekaar te vergewe, soos God ons sondaars elke keer weer vergewe.

Daar waar paartjies nie net aan hulleself dink nie.

Daar waar elkeen bereid is om die minste te wees, soos Christus die minste was om die verbond weer te herstel.

Maar daardie versekering staan dus:

Wie op die HERE se weë bly, wie sy huwelik, wie sy gesinslewe, wie sy opvoedingsstyl inrig ooreenkomstig God se Woord, hy sal sekerlik gelukkig wees.

 

Nog ‘n seën op die onderhouding van God se Torah, die bly op sy weë, sê Psalm 128, is dat jy jou kindskinders mag aanskou.

Ja ook dit is nie vanselfsprekend op aarde nie.

Maar wie die HERE vrees, kry daardie versekering.

Wat ‘n vreugde kan kleinkinders nie op jou oudag bring nie!

Ook dit is ‘n seën vir wie die HERE vrees.

 

Vers 4: “Kyk, so sal sekerlik geseën word die man wat die HERE vrees.”

Ja ‘n man met ‘n vrou en ‘n ry kinders was in die Bybelse tyd ‘n toonbeeld van iemand wat deur die HERE geseën is.

So was Job ‘n ryk geseënde man.

Sy welvaart was nie net in dit wat hy besit het nie, maar veral ook in sy baie kinders.

En veral ook in die feit dat daar nie onenigheid tussen ouers en kinders of tussen kinders onderling was nie, maar dat hulle saam kon feesvier, omstebeurt in mekaar se huise.

En Job se grootste beproewing, sy grootste ongeluk, was toe sy kinders van hom weggeneem is, en toe sy vrou teen hom gedraai het.

En later, na die diep dal waardeur Job moes gaan, het die HERE hom weer geseën met vrou en kinders.

 

Nie dat, as dit sleg gaan met jou huwelik, met jou gesin, dat jy die HERE daarvoor die skuld kan gee nie.

Dit maak die boek Job ons ook duidelik.

Job het dit aanvanklik gedoen, God verwyt.

Sy teenspoed was nie God se werk nie, maar van die Satan, en van Job se eie gebrek aan vertroue.

Calvyn skryf by Psalm 128:

As die aardse geluk wat in hierdie Psalm beskryf word nie altyd die lot van die godvresendes is nie, as dit soms gebeur dat jou lewensmaat ‘n slegte humeur het (hy gebruik hier ‘n sterker woord wat ek liewer nie vanaf die kansel sal noem nie), as jou lewensmaat trots is, of slegte waardes het, of as jou kinders losbandig is, niksnutte, as hulle skande op die huis van hulle ouers bring, besef dat om God se seën van ‘n gelukkige huwelik en gesinslewe nie te geniet nie, dat dit die gevolg is van jou eie toedoen. As elkeen eerlik sy eie ondeugde oorweeg, sal hy moet erken dat God se aardse seëninge tereg van hom weerhou word.

Tot sover Calvyn.

 

Weer eens, gemeente, in die Bybel vind ons ook wat betref huwelik en gesin nie net die mooi prentjie nie, maar ook die skadukant.

Ook in die Bybelse tyd was daar hulle wat kinderloos gebly het, wat graag ‘n groot gesin wou gehad het maar net een kind ontvang het, was daar hulle wat ongetroud gebly het, of wat vroeg weduwee geword het, was daar ook wese, was daar ook hulle wat verlaat is.

Tog het hulle ook in die verbond gelewe met al sy rykdom.

En juis in God se volk het hulle ook die vreugde gesmaak van saamwees.

Die las van alleenwees hoef hulle nie alleen te gedra het nie.

Die kinders in die verbond was ook hulle kinders.

Ons sing in Psalm 113: Die HEER verhef geringes uit as en stof.

Hy skenk onvrugbares sy troos en maak hul moeders van ‘n kroos.

Dit het die HERE soms gedoen deur onvrugbares tog hulle eie biologiese kinders te skenk:

Dink aan Sara, dink aan Hanna, dink aan Elisabet.

Maar die HERE het dit ook gedoen in die kring van sy verbond, deur aan weduwees, wedunaars, alleenstaandes ‘n rol te gee in die opvoeding van die kinders in die verbond.

En net so is dit vandag nog steeds.

Die kinders in die verbond is die hele gemeente se kinders.

By elke kind se doop moet die hele gemeente belowe:

Broers en susters, deur die doop word hierdie kind ook ingelyf in die gemeente van Christus. Ontvang hierdie kind met liefde in die gemeente. Laat ons die ouers ondersteun met ons voorbede en voorbeeld. Wees bereid om, as dit nodig en moontlik is, te help dat hierdie kind groei in geloof, in genade en in die kennis van die Here Jesus Christus.

Is dit in ons gemeente ook so?

Julle wat alleenstaande is, weduwees, kinderloos, is julle werklik betrokke by die jeug?

Vertel julle vir hulle hoe ‘n voorreg dit is om in die verbond te lewe?

Nooi julle hulle soms uit?

En ouers, laat julle die ongetroudes, alleenstaandes, weduwees, kinderloses ook toe om betrokke te wees?

As hulle julle of jou kind aanspreek, wat onverskillig is, of wat hardekop is, wat nie Bybelstudie bywoon nie, wat die eredienste versuim, neem julle dit ter harte?

In Christus se gemeente mag ons mekaar vashou.

Juis hier gee God sy seën.

 

Dit bring ons by die derde deel van die psalm.

 

(Tema: Uit Sion seën die HERE vir die wat in sy weë wandel

1 Hy seën die vrugte van jou handearbeid

2 Hy seën jou huwelik en gesin)

 

3 Hy seën jou vanuit Sion

Die psalm eindig met ‘n direkte seënbede.

Mag die HERE jou seën.

Aan hierdie seën word daar iets belangriks toegevoeg.

Mag die HERE jou seën uit Sion.

Vir Israel was die HERE se seën onafskeidelik verbonde met Sion.

Die seën oor jou persoonlike lewe was onafskeidelik verbonde met die voorspoed van Jerusalem.

Soos ons weet, in die Ou Testament was Jerusalem en Sion – die berg waarop die tempel gebou is – die plek waar Israel hulle God ontmoet het.

Dit was die plek van waar die wet van die HERE uitgegaan het.

As die volk van die HERE se weë afgedwaal het, het dit ook sleg met Sion gegaan.

Dink aan die ballingskap, toe die stad en tempel verwoes is.

Maar wie in die HERE se weë bly wandel, sal die voorspoed van Jerusalem aanskou al die dae van sy lewe.

Net so, broers en susters, is ook vandag die voorspoed in jou persoonlike en gesinslewe direk gekoppel aan die voorspoed van die plek waar jy die HERE ontmoet.

Die kerk bewaar jou by die weë van die HERE.

Die kerk is die plek in die Nuwe Testament van waar die wet van die HERE uitgaan.

Die kerk is die plek waar jy die seën van God Drieënig ontvang, wat jou in staat stel om in die wette, in die weë van die HERE te bly.

En daaruit sal geluk volg, dit is die verskering wat God vandag gee met hierdie psalm.

Welgeluksalig is julle, almal wat lidmate is van die gemeente van die Here Jesus Christus.

 

Nou het ons nog een woord uit die Psalm nie behandel nie.

Dit is die woord wat heel bo-aan staan.

Psalm 128 is ‘n bedevaartslied.

Dit was bedoel om te sing as die gelowiges van die ou verbond op pad was na Jerusalem.

‘n Paar keer per jaar het elke Israeliet opgetrek om die groot feeste by die tempel te vier.

En terwyl hulle op pad was, dit was ‘n reis wat vir sommige dae kon duur, het hulle liedere oor Sion gesing.

Psalm 128 het hulle herinner waarom hulle telkens weer die reis na die tempel onderneem het.

Met die woorde van hierdie psalm het hulle gesing van die waarde, die groot seën, wat daar van Jerusalem uitgaan, op hulle persoonlike lewe, op hulle gesinslewe, op die lewe van hulle hele samelewing.

Hierdie psalm het hulle laat verlang om in Jerusalem te wees.

Dit het hulle laat verlang na daardie oomblik as die hoëpriester by die tempel sy hande uitgesprei en die volk geseën het:

Die HERE sal jou seën en behoed. Hy sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees. Hy sal sy aangesig oor jou verhef en jou vrede gee.

Daardie seën het hulle in staat gestel om met blye harte weer die terugreis huis toe te onderneem.

Wetende dat die HERE se seën met hulle gaan.

Die HEER sal jou uit Sion

jou lewe lank bly seen.

Sy seën sal met jou wees

Na waarheen jy ook mag gaan.

Jerusalem sal vir jou

sy goedheid steeds verleen.

 

En weer eens gemeente, dit geld vandag nog onverminderd.

As nounou aan die einde van die diens die voorganger sy hande uitsprei en die HERE se seën op u lê, dan kan u met ‘n blye hart huis toe gaan.

Met die vaste belofte dat wie in sy weë bly wandel, wie Hom bly vrees, inderdaad geseën sal wees.

Inderdaad die opbrings van sy hande sal geniet.

Inderdaad geluk sal bly vind in sy huwelik en gesin.

Ja, ‘n lewe naby die huis van die HERE is ‘n vervulde lewe.

Ook vir die weduwee, wees, wedunaar, alleenstaande.

Ons mag deel in die voorspoed van Jerusalem.

“soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word” (Matt. 6:33).
Ja in Christus se gemeente bly die lewe goed, vir elkeen wat daar sy toevlug neem.

 

Amen.

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 113:1

Wet

Ps 119:20,60

Gebed

Skriflesing: Deuteronomium 30

Ps 113:2,3

Teks: Psalm 128

Preek

Ps 37:2,10,11,12,13,15,16,17,23

Gebed

Kollekte

Ps 128:1-4

Seën