Neem deel aan die danklied, omdat die HERE vir ons was

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2021-03-25
Teks: 
Psalm 124
Preek Inhoud: 

Psalm 124 het ‘n spesiale plek in ons hart.

Die troue HEER het self ons vrygemaak.

Hierdie woorde is gesing deur ons ouers, ons oupas en oumas in die middel van die Tweede Wêreldoorlog.

Hulle het dit nie gesing omdat die oorlog verby was en hulle weer vryheid gekry het nie.

Hulle het dit gesing omdat hulle bevry is van dwaalleer wat verplig aan die Gereformeerde Kerke opgelê is.

Daar het toe ‘n afskeiding plaasgevind, die Vrymaking.

Ons kerkverband se onlangse historiese wortels lê daar.

Dit is een van die redes hoekom ons Vrye Gereformeerde Kerke genoem word.

Ons is vry om slegs vir Christus te lewe, en ons persoonlike en kerklike lewe slegs volgens sy Woord in te rig.

Die Vrymaking wat in 1944 plaasgevind het, dit het hulle bevry van mense wat hulle dwaalleer opgelê het.

Psalm 124 is toe uit volle bors gesin: Toe mensemagte teen ons gekant was, toe het die troue Heer self ons vrygemaak.

 

Ek dink heelwat van die ouer generasie in ons midde dink nog steeds daaraan as hulle hierdie psalm sing.

Tog kan ons vanaand, tydens hierdie Dankdagdiens, aan meer dink.

Ons kan vanaand dankbaar terugkyk hoe die HERE ons die afgelope jaar, die afgelope seisoen, bevry het van verskillende gevare.

Dit is wat ons vanaand wil doen.

 

Tema: Neem deel aan die danklied, omdat die HERE vir ons was

 

In die moderne teologie is daar ‘n opvatting dat elke nuwe generasie, as hulle die psalms sing, ‘n nuwe betekenis daaraan heg.

Elke nuwe generasie herinterpreteer hierdie ou liedere, en maak dit op hulleself van toepassing.

Net soos ek nounet in die inleiding van die preek gedoen het.

Elke nuwe tyd gebruik hierdie gedig vir sy eie doeleindes.

Ook word daar soms beweer dat ons eintlik nie meer die oorspronklike betekenis van ‘n psalm kan agterhaal nie, maar dat dit nie saakmaak nie.

Nou met laasgenoemde opmerking kan ons nie saamstem nie.

Omdat Psalm 124 deel van God se Woord is, maak dit wel saak om na die oorspronklike betekenis te kyk.

En die eksegese van die psalm het as doel ons so naby as moontlik aan die oorspronklike betekenis, die oorspronklike bedoeling van die psalm te kom.

‘n Preek oor ‘n Bybelteks kan nie net daaroor gaan wat ons graag in daardie teks wil inlees nie.

God het sy Woord geopenbaar in ‘n spesifieke tyd en konteks, tydens wat ons in die teologie noem die tydperk van die openbaringsgeskiedenis.

Daarom is die eerste stap van eksegese om terug te gaan in die tyd en uit te vind wat die Heilige Gees presies bedoel het, toe Hy vir Dawid geïnspireer het om hierdie psalm te dig.

 

Die hooftema van hierdie psalm is dat die HERE vir Dawid bevry het van mense wat teen hulle opgestaan het, mense wie se toorn ontvlam het, mense wat hulle byna lewendig verslind het.

Dawid gebruik die meervoud – ons.

Hy spreek Israel aan in die psalm.

Dit laat mens wonder by watter geleentheid hy dit gedig het.

Was dit in ‘n tyd toe hulle byvoorbeeld teen die Filistyne geveg het, en ternouernood ontsnap het?

Of dink hy terug aan een van die vele episodes uit Israel se geskiedenis toe die HERE sy volk wonderbaarlik bevry het?

Soos byvoorbeeld die uittog uit Egipte?

Soos die stryd teen die Amalekiete in die woestyn?

Was dit een van die veldslae in die Rigtertyd, Otniël, Ehud, Debora, Gideon, Jefta, Simson?

Bo-aan die psalm staan nie vermeld by watter geleentheid Dawid dit gedig het nie.

Maar, soos ek genoem het, ons kan aan verskeie benoude momente dink waarop hierdie psalm van toepassing kon wees.

 

Bo die psalm staan wel dat dit ‘n bedevaartslied is.

‘n Lied vir wanneer Israel opgetrek het om voor God se aangesig te verskyn.

Met die psalm word Israel aangespoor om, soos wat hulle op reis was na Jerusalem, om te oorpeins wat die HERE vir hulle in die verlede beteken het, en ook nog vandag.

Laat Israel dit sê, tot twee keer toe roep Dawid die volk op.

As die HERE nie vir ons was nie! Laat Israel dit sê!

 

Dawid gebruik in hierdie psalm beelde, metafore uit die natuur, maar uiteindelik is dit mense wat die vyand is.

Mense het teen hulle opgestaan.

Mense se toorn het teen hulle ontvlam.

Mense was van plan om hulle lewendig te verslind.

Maar op wonderbaarlike wyse het hulle ternouernood daaraan ontkom.

Dawid vergelyk dit met waters wat hulle byna byna oorstroom het.

Dawid dink waarskynlik aan die droë rivierlope wat daar in die woestynagtige gebiede in Israel is.

Dit word in Israel wadis genoem.

As daar reën uitsak, kan daar onverwags ‘n bulderende stroom ontstaan.

Die reën kan ver weg uitsak, en salig onbewus kan jy in die droë rivierloop wees, en dien skielik kom daar ‘n muur van water op jou af.

Ons het hierdie verskynsel ook die afgelope maande hier in Suid-Afrika gesien.

Rivierlope in die Noord-Kaap wat vir jare drooggelê het.

Maar met die sikloon en die groot reëns wat uitgesak het, het hulle skielik in kolkende riviere verander, en ver oor hulle oewers gestroom.

Soos ons op die nuus en op ons fone kon sien, is baie mense daardeur oorval.

Verskeie voertuie is van laagliggende brûe afgespoel en die mense het verdrink.

Die gevaar van te veel reën op een slag, dit het die mense in Israel ook maar al te goed geken.

Dawid vergelyk dit met die mense wat skielik, niksvermoedend, op hulle toegesak het, met maar een doel, om hulle te vermoor.

 

Dan gebruik Dawid nog ‘n beeld.

Hy vergelyk hierdie mense met ‘n roofdier se slagtande.

‘n Roofdier wat op ‘n niksvermoedende skaap toesak en dit as buit wegsleep, wat dit lewendig verslind.

Dit is nogal iets, om mense met so ‘n roofdier te vergelyk.

Ek weet nie of u al ooit naby ‘n leeu gestaan het nie, maar hy kan regtig vir jou so ‘n kyk gee asof hy jou wil opvreet sodra hy die kans kry.

Ken jy ook sulke mense, wat so na jou kyk?

In Dawid, in die volk Israel se bestaan was daar sulke mense wat net een ding gewens het, en dit was hulle vernietiging.

Wat niks liewerste sou wou doen as om hulle lewendig af te maai nie.

Maar geloofd sy God, sing Dawid dan, wat daarvoor gesorg het dat hulle nie aan sulke mense se tande as buit oorgegee is nie.

 

Nog een beeld gebruik Dawid om hulle onverwagse bevryding mee te vergelyk.

‘n Voël wat vrygeraak het uit die vangnet van die voëlvangers.

Vroeër was daar nog nie gewere om ‘n voël vanaf ‘n afstand te skiet nie.

Vroeër is daar veral van vangnette gebruik gemaak.

‘n Vangnet is in die bosse of struike opgestel, op die regte plek is daar korrels of saad uitgestrooi, en dan was dit wag tot ‘n voël niksvermoedend daarin geloop het.

Die voëlvanger het ‘n toutjie getrek dat die vangnet toevou, oor die voël heen val, of dat die deurtjie toeklap.

Geen wegkomkans meer vir die voël nie, hoe dit ook al rondfladder.

Maar, dig Dawid, om een of ander rede was daar ‘n swakplek in die vangnet.

Dit het gebreek en die voël was skielik vry, met al sy kragte klap hy sy vlerke om so vinnig as moontlik weg te kom.

Net so het ons vrygeraak, dig Dawid.

Ons was op die randjie van die dood, dit het nie veel geskeel of die vyand het ons gehad nie.

 

Drie beelde – vloedwaters, roofdier en vangnet – maar tog is hulle vry.

Hierdie drie beelde benadruk God se almagtige ingrype.

Maar hierdie drie beelde benadruk ook Israel se swakheid en hulpeloosheid.

Nie deur hulle eie planne het Israel uit Egipte ontsnap nie.

Nie deur hulle eie militêre vermoë het hulle die Amalekiete in die woestyn verslaan toe Moses sy hande heeltyd in die lug moes gehou het nie.

Nie deur getalsoormag het Gideon die Midianiete verslaan nie.

Israel se geskiedenis laat telkens dieselfde sien.

Hulle is onmagtig, maar hulle Verbondsgod almagtig!

 

Dawid sluit sy psalm op ‘n hoogtepunt af:

Ons hulp is in die Naam van die HERE wat hemel en aarde gemaak het.

Die HERE troon bo die kragte van die natuur.

Die HERE hou die wreedheid van die roofdiere in toom.

Die HERE beheer die vangnet van die voëlvanger.

In sy almag sorg Hy vir die wat Hy liefhet.

En ja, Hy het hulle lief, Hy is aan hulle kant!

So het Dawid sy psalm begin:

As die HERE nie vir ons was nie – laat Israel dit sê!

Die hele psalm basuin dit uit dat die HERE wel vir hulle was!

HERE – vier hoofletters – Israel se Verbondsgod.

In sy verbond is Hy hulle goedgesind!

In sy verbondstrou beskerm Hy hulle teen die vele gevare.

Op basis van die verbond kan die volk telkens weer bely:

Ons hulp is in die Naam van die HERE wat hemel en aarde gemaak het.

 

Hierdie laaste vers van die psalm klink ons bekend in die ore.

Dit is die votum wat ons aan die begin van elke erediens uitspreek.

Elke Sondag spreek ons dit weer uit.

Ons wat ook in hierdie verbond lewe.

Elke Sondag, as ons terugdink aan die week wat was, spreek ons dit uit.

As die HERE nie vir ons was nie, sou ons nie die afgelope week deurgekom het nie.

Ook aan die begin van vanaand se erediens het ons hierdie woorde bely.

Op Dankdag dink ons terug aan die afgelope seisoen.

As die HERE die afgelope jaar nie vir ons was nie, ja wat dan?

Daar was baie vyande wat gereed gestaan het om ons te verslind.

Die feit dat dit die afgelope seisoen so baie gereën het, is ‘n bewys dat die HERE vir ons was.

Die feit dat ons elke week weer kos in die winkel kon koop, is ‘n bewys dat die HERE vir ons was.

Die feit dat ons gespaar is te midde van die Covid-19 pandemie, is ‘n bewys dat die HERE vir ons was.

Die feit dat ons lewe nie tydens ‘n inbraak, roofoorval of hijacking geneem is nie.

Die feit dat ons nie in ‘n verkeersongeluk oorlede is of blywend gestremd geraak het nie.

Die HERE wat hemel en aarde gemaak het, Hy het in sy voorsienigheid sy beskermende hand oor ons gehou.

 

Nou is hierdie die risiko’s wat ons uitwendige welstand en gesondheid bedreig nie die enigste vyande wat ons in die lewe ontmoet nie.

Die Skrif openbaar aan ons ons aartsvyande:

Die duiwel, die sondige wêreld, ons eie sondige ou mens.

In Dawid en die volk Israel se bestaan was hulle ook meer as aanwesig.

Aan die einde van die dag is die grootste skade aan die lewe van Dawid, en aan die bestaan van God se volk aangerig nie deur natuurrampe, of vyande wat hulle landsgrense bedreig het nie.

Die grootste skade is aangerig deur interne afval.

Dink hoe Dawid se ou mens dinge stukkend gemaak het in sy eie familie.

Dink aan die voortdurende suigkrag van die afvallige wêreld, wat hom nie aan God se gebooie gesteur het nie.

Dink aan die duiwel se aanslag op die verbondsvolk met gebruikmaking van die afgode.

Die voortdurende verleiding van afgode soos Baäl en Astarte.

Die aanvalle van vyandige buurvolke was nie net gemik op Israel se grond en besittings nie.

Daaragter was Satan besig, met sy haat teen die ware God, wat Homself juis deur hierdie volkie aan die wêreld wou bekendmaak.

Agter die begeerte om hierdie volkie uit te roei, was die aanslag op die ware godsdiens, die aanslag om die koms van die Messias te stuit.

Desnieteenstaande het God sy volk goedgesind gebly, en hulle ternouernood uitgered.

Sy plan met hierdie volkie het standgehou.

 

En gemeente, kan ons nie ook dieselfde bely nie?

Het die HERE ons nie soveel keer van die rand van die afgrond af teruggetrek nie?

Ons eie ou mens is in staat om ons lewe te verwoes, jou gesinslewe te verwoes.

Die sondige verlokking van die wêreld kom soms soos ‘n vloedgolf op ons af.

Die duiwel span sy strikke daagliks, en hoeveel keer het dit al gebeur dat ons op die laaste nippertjie soos ‘n voël uit ‘n vangnet daaraan ontsnap het nie.

Laat ons eerlik wees, hoe dikwels het ons nie soos ‘n dom voël self in die vangnet ingeloop, aangetrek deur die saad wat die vyand vir ons gestrooi het nie?

Ja hoe dikwels gebeur dit nie dat ons uit eie beweging ons in vyandige gebied begewe, waar ons drommels goed weet dat die sonde daar op die loer lê?

Gelok deur die genietinge wat die sondige wêreld aanbied.

Net soos Israel kan ons ook uit ons eie lewe leer dat ons ons vryheid nie aan ons eie krag of slimheid te danke het nie.

Ja inderdaad, ons hulp is slegs en alleen in die Naam van die HERE wat hemel en aarde gemaak het.

Skuldbewus bly ons, maar tog ook diep dankbaar.

Sy hulp is inderdaard werd om elke keer weer van Hom afgebid te word.

 

Hierdie dankbaarheid oorheers vanaand se Dankdiens.

Die lewe in die verbond met hierdie God is goed.

In die verbond is daar ‘n belofte en ‘n eis.

As ons na die afgelope seisoen kyk, moet ons bely dat God sy beloftes nagekom het.

Ons is dikwels geneig om terug te kyk na dit wat verkeerd gegaan het.

En inderdaad, in die afgelope jaar het baie dinge verkeerd gegaan.

Was dit ‘n annus horribilis?

Was dit ‘n horribale jaar?

Dit was ‘n jaar wat ‘n geweldige impak op ons as gemeente gehad het.

Vir geruime tyd kon ons nie fisies bymekaar kom nie.

Die grootste deel van die jaar kon slegs ‘n deel van die gemeente die eredienste fisies bywoon.

Die nagmaal kon ons minder as gewoonlik vier.

Daar was lidmate wat siek was as gevolg van Covid-19.

Daar is lidmate wat oorlede is, al was dit nie aan Covid nie.

 

Maar kom ons dink op Dankdag ook aan dit wat wel goed gegaan het.

Tot dusver is inderdaad niemand van ons aan Covid-19 oorlede nie.

Tot dusver het die meeste gemeentelede hulle werk behou.

Tot dusver was daar middele waarmee die diakens kon voorsien.

Tot dusver kon die gemeente selfs rojaal gee aan mense buite die gemeente wat in nood verkeer.

Is dit nie ‘n rede tot dankbaarheid nie?

Dan kan ons dink aan die reën van die afgelope seisoen.

As ek reg onthou was die Vaaldam in Desember 30% vol.

In Februarie het die oorgestroom.

As ons daarby stilstaan, is daar inderdaad – te midde van alle teenspoed en sorge – tog soveel om die Here voor te dank.

Daarom slaan ons hierdie jaar Dankdag nie oor nie.

Daarom het die kerkraad u opgeroep om hierdie erediens by te woon.

 

Die Here kom steeds rojaal sy beloftes na.

En dan dink ons nog aan hoe Hy ons teen ons aartsvyande beskerm het.

Psalm 124 is vervul toe God sy Seun na die aarde gestuur het.

As ons aan Hom dink, kan ons eers hierdie danklied uit volle bors sing, omdat die HERE vir ons was.

Deur sy lyde en sterwe het Hy ons bevry.

Slegs sy kruis kan ons uit die vangnet van die hel bevry.

Geloofd sy ons Here Jesus Christus.

As ons Middelaar is Hy in ons plek aan die tande van die roofdier, die verskeurende leeu, die Satan, oorgegee.

Die vloedgolf van die haat en nyd van die wêreld het oor Hom heengespoel.

Selfs die haat van die verbondsvolk.

Dink net hoe dit vir Hom moes gevoel het toe die verbondsvolk geskreeu het: Kruisig Hom, kruisig Hom!

En dit terwyl die wêreldlike regter geen skuld in Hom gevind het nie.

Wat is ons ryk bevoorreg dat Hy ons met sy dure bloed gekoop het!

Dat Hy sy Heilige Gees aan ons gegee het.

 

Deur sy krag kan ons nou lewe in die verbond, en die eis van die verbond nakom.

So neem ons onsself op hierdie Dankdag voor om die toekoms dankbaar in te gaan, vertrouende in te gaan.

Hoe sal Hy wat ons sy eie Seun geskenk het, ons nie ook in Hom alle dinge skenk nie?

Daarom het ons die vaste vertroue dat lower en gras, reën en droogte, vrugbare en onvrugbare jare, voedsel en drank, gesondheid en siekte, rykdom en armoede en alles ons nie per toeval nie, maar uit sy Vaderhand toekom.

 

Amen.

Liturgie: 

Votum

Seën

Sb 17:1-3

Gebed

Skriflesing: Psalm 124

Ps 124:1,2

Teks: Psalm 124

Preek

Ps 124:3,4

Gebed

Geloofsbelydenis (Sondag 10)

Ps 30:3

Kollekte

Ps 17:4-6

Seën